Die Drie-eenheid soos in die Skrif geopenbaar, is die enigste ware God

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2019-12-01
Teks: 
NGB artikel 9
Preek Inhoud: 

Net om dit aan die begin reeds duidelik te maak: Hierdie preek sal die Christelike leer van die Drie-eenheid teenoor die ander gode van vandag stel. Niemand wat die Drie-eenheid ontken, kan ’n Christen genoem word nie. Selfs al noem sulke mense hulleself christene, is hulle wolwe in skaapsklere.

Maar net om seker te maak dat ons op dieselfde bladsy is: Hierdie preek se doel is nie dat jy daardie mense moet slegsê en as jou vyand verklaar nie. Die doel is eerder dat jy vir hulle kan bid en betekenisvolle gesprekke met hulle kan voer. Soos die NT sê: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”

Dus, laat ons hierdie preek gebruik wanneer ons die stryd betree, nie teen ander mense nie (ons bid vir hulle en het hulle lief) maar teen die gees van hierdie bose eeu. Kom ons bewys ons liefde teenoor ander, luister na dit wat hulle sê en reageer daarop.

 

Die Drie-eenheid soos in die Skrif geopenbaar, is die enigste ware God.

  1. Ander god?
  2. Ander gode?
  3. Die Kruis

Absolute eenheid? Of Drie-enig?

Sommige gelowe fokus op die eenheid van God, ander fokus weer op die pluraliteit van God. Byvoorbeeld, die wêreld se twee grootste gelowe, Judaïsme en Islam, fokus op die eenheid van God. Daar is egter baie groot verskille tussen die konsep van wie God is, maar oor die algemeen stem hulle saam dat daar nie pluraliteit in God kan wees nie.

Ander gelowe soos Boeddhisme, Hindoeïsme en ander oosterse gelowe glo in ’n groter pluraliteit van gode, sonder enige noemenswaardige eenheid. Mormone glo ook dat ons gode en godinne kan word in die hiernamaals.

God is dit waardeur jy alles moet definieer. Selfs naturalisme en materialisme het ’n god. Meestal is dit evolusie. Hulle definieer alles wat ons is en wat ons doen deur daardie lens.

Maar daar is geen god soos ons s’n nie. Een God in drie Persone: Vader, Seun en Heilige Gees. Die enigste ware God. Die God wat Homself deur Jesus Christus geopenbaar het, wat ook God is, en wie se geboorte ons vier.

Hy het Jesus Christus persoonlik in ons harte aan ons geopenbaar deur sy Woord met die krag van die Gees; die waarborg van ons aanneming as seuns en dogters van God die Vader. Ons glo daar is een God. Een Wese. En drie Persone. Eenheid in diversiteit. Hoe staan Hy teenoor ander gode? Kom ons kyk.

Eerstens, vir dié wat fokus op die eenheid van God, soos die Islam of Judaïsme, kom jy voor groot probleme te staan met die konsep dat God liefde is, of die feit dat Hy dinge vir sy eie glorie sal doen. Laat ek verduidelik.

As daar geen pluraliteit van persone in die godheid was nie, wie het Hy dan voor die grondlegging van die aarde liefgehad? Liefde vereis ’n ontvanger. Ware liefde moet gedeel word. Eieliefde bestaan natuurlik ook, maar dit is nie die soort liefde wat ons ken as self-opofferend, ewig-gewend nie.

Anders as hierdie gelowe, glo ons dat God nie apaties is nie, maar Hy is liefde (1 Johannes 4:8). Liefde is die mees kenmerkende eienskap van die Heilige Drie-eenheid: Die Vader (Judas 1:1), Seun (Romeine 8:35) en die Gees (Romeine 15:30). Daar kan nie liefde sonder die Drie-eenheid wees nie. God is nie apaties teenoor diegene wat Hy geskep het nie; Hy het ons só lief dat Hy vir ons gesterf het (Johannes 3:16).

Dit sou onmoontlik wees indien God nie ’n Drie-eenheid was nie. God sou nie liefde kon wees nie, en inderdaad sê die Moslems dit ook nie. Boonop glo ons ook dat God dinge vir sy eie glorie doen. As daar geen pluraliteit in God was nie, sou dit nogal selfsugtig en egoïsties gewees het. Maar in die pluraliteit verheerlik hulle mekaar. Hierdie verheerliking word al van ewigheid af gedeel. Elkeen verheerlik die ander.

Maar die Islamitiese geloofsbelydenis beweer dat daar geen god behalwe Allah is nie. Om enige deelgenoot by Allah te plaas, is ’n onvergeeflike sonde (Qu’ran 31:13). Hulle glo dat enigiets minder as volkome eenheid minder as God moet wees.

En omdat daar geen Drie-eenheid binne die Godheid is nie, is Hy verwyder en geheel en al onkenbaar op ’n persoonlike manier. Hy is heeltemal en absoluut bosintuiglik sonder enige manier om Homself te openbaar.

Ook in Judaïsme glo hulle, “God word verstaan as die absolute een, onverdeelbare, en onvergelykbare wese wat die uiteindelike oorsaak van alle bestaan is.” Oor die algemeen beklemtoon tradisionele interpretasies van Judaïsme dat God persoonlik, maar ook bosintuiglik is. Maar weer eens, hoe kan God enigsins Homself openbaar? Ek bedoel dat Hy Homself op só ’n manier openbaar dat mense Hom persoonlik kan ken. As Hy die bosintuiglike en absolute een is, dan kan daardie bosintuiglikheid nie inherent sowel as persoonlik wees nie.

In teenstelling met die siening van ’n enkele God, het ons ’n drie-enige siening van God. Drie Persone. Een God. Daar was perfekte en oorvloedige liefde voor die begin van tyd. En dit was in die oorvloed van daardie liefde dat God die wêreld geskep het, nie omdat Hy iets nodig gehad het nie, maar omdat Hy wou gehad het dat die wêreld hierdie liefde met Hom moet deel. Die Drie-eenheid benodig niks nie en is volkome in Homself, in perfekte gemeenskap en liefde.

En so ook staan die god van die Moslems teenoor die Christelike God wat baie persoonlik is in sy Vaderskap. In die Moslem-geloof is God onkenbaar op ’n persoonlike vlak, en die aanvaarding of verlossing van ’n mens deur God is nooit heeltemal verseker nie – dit hang van Allah af. Soos een predikant in ’n gesprek met ’n Moslem vertel terwyl hy op ’n vliegtuig was. Die predikant het gevra: “Jy is ’n Moslem. Het Moslems sonde?” Hy het geantwoord: “Oooo, ons het baie, baie sonde. Ons het so baie sonde dat ek nie eers al die sonde kan opnoem nie.” Die predikant het voortgegaan: “Kan ek jou nog ’n vraag vra? Doen jy al daardie sonde?” “Ek doen dit die heeltyd,” was sy antwoord. “En hoe voel God oor jou sonde?” “O, dis erg. Baie erg. God is baie ongelukkig daaroor.” “Wel, wat kan gebeur? Sal jy hel toe gaan en daar vergaan? Watter hoop het jy?”

En dit was die Moslem se woordelike antwoord: “Ek hoop die God sal my vergewe.” Die predikant het geantwoord en gesê: “Ek ken Hom persoonlik en Hy sal nie.” Die predikant het toe die evangelie van die gekruisigde Jesus Christus vertel – dat slegs in Hom alle sondes vergewe kan word. En nie net kan vergewe word nie, maar jy ontvang ook die waarborg dat dit vergewe is, en dat jy in Hom ’n persoonlike verhouding met God die Vader van hemel en aarde kan hê. Dat God Homself in Jesus geopenbaar het. Dat Jesus God was en is.

Sien u, as God nie drie-enig is nie dan staan jy skielik voor baie probleme. Soos hoe Hy homself openbaar. Wat beteken liefde? Wat beteken gemeenskap? Hoe kan ons op enige manier verseker wees van ons verlossing? Dit is alles vrae wat jy vir jou Moslem of Joodse vriende kan vra. Maar God het Homself duidelik as drie-enig in die Skrif geopenbaar. Neem hulle tot by die Woord en wys vir hulle die glorie en die majesteit. Die bosintuiglikheid en inherensie van hoe God Homself as drie in een geopenbaar het.

Pluraliteit van God of een God?

Daar is ook baie gelowe wat in veelvoudige gode glo. Die meeste van hulle het ’n rangorde van sterkste tot swakste. Kyk byvoorbeeld na die oosterse gelowe. In Hindoeïsme is die groot god Bramham, maar hulle glo ook dat alles Bramham is. Op hierdie manier word god geopenbaar en is hy in alles. Daar is geen onderskeid tussen skepper en skepsel nie. Daar is nie een god nie, maar duisende verskynsels van god. Daarom die aanbidding van die skepping, want god is in die skepping.

In sommige oosterse gelowe kry jy ook ’n sterk dualisme tussen die spirituele en die materiële. Dat die doel van die lewe niks is nie, of nirvana: om ingesluit te word in die ewige groot gees.

Hierdie dualisme is vergelykbaar met die kettery van Marcion. Hy het geglo dat Jesus net die liggaam bewoon het, maar steeds spiritueel was. Jesus se liggaam was slegs ’n namaaksel van ’n materiële liggaam. Gevolglik is Jesus se fisiese en liggaamlike geboorte, dood en opstanding ontken. Hy het ook gesê dat daar minstens twee gode is: die een van die Ou Testament wat geneig was om meer materialisties en materialisties georiënteerd te wees en daarom ook ’n minderwaardiger wese as die God van die Nuwe Testament was, wat ons in Jesus sien.

In ’n sekere sin laat materialisme en naturalisme ook baie gode toe, soos in Hindoeïsme. Net soos Hindoeïsme die groter god Bramham het, wat die bron van alle dinge is, so het materialisme en naturalisme ’n groter god: evolusie. Hieruit ontstaan baie ander gode soos vooruitgang, geluk, of die skepping. Maar al hierdie dinge is immateriële, onpersoonlike kragte en meestal ook apaties.

Een finale punt oor die gelowe wat meer as een god het, is dat hulle konsep van goed en sleg bloot gelyke opponerende kragte in die wêreld is. In naturalisme kan mens dalk sê dat daar nie eers goed en sleg is nie; al wat daar is is evolusie, en die goed en sleg is nie gevolge daarvan. Daar is geen bosintuiglike goeie nie.

“Hoor, Israel, die HERE onse God is ’n enige HERE.” Hier word God uitgebeeld as apart en afsonderlik van sy skepping. Hy is nie deel daarvan nie, maar het dit binnegekom deur Jesus Christus. Ons sien nie die materiële as die slegte en die spirituele as die goeie nie. Maar die materiële is ook goed, want dit is deur God, wat goed is, geskape.

God vereis dat alle mense Hom loof, en Hom alleen (Exodus 34:14; Matthéüs 4:10). Die meeste oosterse gelowe vereis nie dat jy slegs een god dien nie, maar laat jou toe om ’n onbeperkte hoeveelheid gode te dien. Dit is ook waar van Naturalisme. Dit is slegs wanneer jy die stelling maak dat daar net een God is deur die Seun Jesus Christus dat jy in die moeilikheid sal beland. Ons glo dat die Seun die enigste manier is om die ewige lewe in die hemel te verkry (Joh 14:6; Hand 4:12). Hindoeïsme aanvaar ’n onbeperkte hoeveelheid van maniere en paaie waarop jy die ewigheid kan verkry wat, soos hierbo genoem, die vergetelheid is en nie die hemel nie.

God wil hê dat ons ons ware, unieke, ewige identiteit gee, en verwag nie dat ons in die nietigheid geabsorbeer word nie. Ons verloor nie ons identiteit in Christus nie; ons word uiteindelik – volledig en ewig – die persoon wat God ons geskape het om te wees. Ons sal ons ware identiteit – ons “nuwe naam” – in die hemel ontvang (Openbaring 2:17). Die doel is nie om in die nietigheid óf in God geabsorbeer te word nie. Die doel is dat elke fisiese materialistiese wese, vlees en bloed, ’n perfekte bestaan in die nuwe hemel en aarde kan hê.

Hierdie een sowel as ontelbare ander kenmerke van ons drie-enige God en Verlosser vorm die vaste, glorieryke realiteit wat die vae mis van onsekerheid laat verdwyn, wat deur die oosterse en ander nie-Bybelse gelowe van die wêreld gebied word. Dus, of die geloof nou een god of meer gode voorhou, is ons God heeltemal anders. Want Hy is drie in een! Een God in drie Persone!

Die kruis

Die grootste struikelblok is die kruis. Aan die een kant kan die monoteïstiese gelowe hulle nie voorstel dat God so ver sou gaan dat Hy sy Seun sou stuur om aan die kruis te ly nie. En die oosterse gelowe beskou nie die fisiese stoflike as goed nie.

En vir al dié gelowe is die doel dieselfde: Wees so goed soos wat jy kan om die hemel of nirvana, of watter bestemming ook al, te bereik.

Die kruis is ’n reaksie op beide.

Die kern van die Christendom is ’n struikelblok, en die dwaasheid van ’n skandelike, dwase grusame en volkome glorieryke werklikheid van die gekruisigde Godsmens – Jesus Christus.

In Hom sien ons die openbaring van God.   Drie in een. Die Vader het die Seun gestuur en sáám het hulle die Heilige Gees gestuur.

As drie-enige God kan Hy homself openbaar.

As drie-enige God is Hy ewig en altyd opofferende liefde. As drie-enige God beklemtoon Hy die waarde en waardigheid van die skepping pleks om daarvan te vlug.

As drie-enige God staan Hy heeltemal bo die skepping en tog betree Hy dit.

As drie-enige God is Hy volmaak, en wys Hy dat gemeenskap ’n refleksie is van wie Hy is.

As drie-enige God is Hy regverdig en maak Hy regverdig.

As drie-enige God is Hy volkome goed en sal Hy die bose oorwin. As drie-enige God het Hy mens geword en aan die kruis gesterf sodat Hy deur die Seun alle dinge deur sy Gees met die Vader kon versoen.

Die Drie-enige God gee betekenis aan die lewe.

Vir sommiges is God een en kan ons hom nooit werklik persoonlik ken nie, vir ander gelowe word ons deel van god of is ons die gode.

Maar vir Christendom het ons gemeenskap met God deur die Here Jesus Christus in die krag van die Gees.

Ons God is nie soos enige ander god nie.

Vertel die wêreld van Hom wat alle dinge versoen, ook wesenlik met Homself.

Amen.