...dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense...

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2019-02-24
Teks: 
Matthéüs 11:25
Preek Inhoud: 

Waarom gaan julle eintlik skool toe, seuns en dogters? Om allerlei dinge te leer raaksien, wat al lankal daar was, maar wat jy nog nie so raakgesien het nie. Die onderwysers en juffrouens help jou om dit te ontdek. In die natuur, in de Bybel, in die geskiedenis, maar ook in rekensomme en in die taal lesse…

Maar ook as jy al lank uit die skool uit is, bly daar nog steeds allerhande dinge om te ontdek in hierdie wêreld. So het God dit gemaak, al by die skepping. Ons het nou byvoorbeeld, krag en as gevolg daarvan orals ligte, computers, tv, slimfone... Toe ek so oud was soos julle nou is, het heelwat van die dinge nog nie bestaan nie. Dit was nog nie ontdek nie. Ek onthou nog toe die eerste ruimteskip met mense in gelanseer is.  En ek was al ongeveer 37 jaar oud en in my derde gemeente, toe ek my eerste rekenaar gekry het. Hier in Pretoria. Van hierdie gemeente.

God se wêreld het steeds nuwe verrassings. Al vanaf de skepping. En de mense mag steeds maar nuwe dinge ontdek, uitvind en ontwikkel.

As jy nog in de laerskool is, dink jy miskien: om allerhande goed in hierdie wêreld te ontdek, moet ’n mens eers 'n grootmens wees. Om ontdekkingsreise te kan onderneem, of uitvinder te word, daarvoor is ek as ‘n kind nog veels te klein. Daarvoor het ek ook nog te min geleerd.

En dit is in ’n sekere sin ook so.

Maar weet jy, en weet u, grote mense in de kerk, dat daar iets baie belangriks is wat kinders soms vroeër kan ontdek as groot mense? En mense wat maar min verstand van God gekry het om te kan studeer, selfs mense met 'n aansienlike verstandelike beperking sien dit soms nog vroeër as mense met 'n baie goeie verstand en 'n hele klomp diplomas.

Die Here Jesus sê in ons teks: God laat dit juis maklik ontdek, terwyl Hy dit vir geleerde mense verberg. Waaroor gaan dit dan?

Oor die pad terug na ons hemelse Vader. Oor die Here Jesus Self en oor wat Hy hier op aarde vir ons kom doen. Hoe ons deur Hom vergewing van ons sonde ontvang, weer God se kinders mag wees en eendag met Christus op 'n nuwe aarde mag leef. Dit is mos die allerbelangrikste voor ons? Al die ander dinge die wat mens in God se skepping ontdek het – dit bring ’n mens niks in die sak as God nie ons skuld wil vergewe nie, as ons sy kind nie meer mag wees nie. Dan loop ons vandag al in ’n doodloopstraat wat uiteindelik in die hel uitkom. Maar danksy die Here Jesus is ons op pad, via die hemel, naar en nuwe aarde.

Dit is mos die mooiste wat 'n mens in die lewe mag ontdek? Ook vir u? Vir jou? Nou maar goed, daaroor gaan dit in die Bybelteks wat ek vir vanoggend gekies het.

Ons hoor Christus hier hardop bid. Dit is opvallend. Dit doen Hy nie so baie nie. Meestal trek Hy Hom terug as Hy die kontak soek met sy Vader. In die berge byvoorbeeld. Hy het dit ook aan ons geleerd: moenie ’n vertoning voor die mense daarvan maak nie: as jy wil bid, doen dit allereers vir jouself, agter toe deure in jou eie kamer.

Maar 'n enkele keer het Christus tog hardop gebid voor die ore van die mense: soos die lang gebed in die Pasga vertrek, kort vóórdat die lyding tot 'n hoogtepunt gekom het. U kan ook maar dink aan sy kort gebede toe Hy gekruisig is.

Ook nou bid Christus hardop. Dit mag die mense hoor. Hulle moét dit hoor. Dit moet die leerlinge later maar in hulle Evangelie beskrywing vaslê, sodat ook ons vandag daar nog naar sou kon luister.

In die kort gebed sê Christus veral dankie vir sy Vader. Hy loof Hom. Dit is 'n bly gebed. En dit is nog meer opvallend. Want mens sou dit nie hier verwag nie. Die teks begin: “In daardíe tyd sê Jesus….”. Maar watter tyd was dit? Ons het iets daaroor gelees. Jesus moes vasstel dat heelwat mense negatief, afwysend gereageer het op die blye boodskap wat Hy namens God kom bring: dat Hy hulle Verlosser was. De mense het daarvoor nie vir God dankie gesê nie. Hulle het gesê: “Nee dankie! Nie vir my nie”. Selfs deur al die wonders, waarmee Jesus sy boodskap onderstreep het, het die mense nie werklik tot geloof en oorgawe gekom nie. Die inwoners van Kapernaüm byvoorbeeld, die plek waar die Heer Jesus gewoon het in 'n eie huis. Hoe veel wonders het hulle die Here Jesus sien doen: die verlamde man wat deur sy maats deur ’n gat in die dak aan Jesus se voete neergelê is..., die voorbeelde van mense wat deur hom op wonderbaarlike maniere genees is, loop daar daagliks op straat. Nogtans…

Die Jode gedra hulle soos ontevrede kinders wat nie hul sin kry nie. Jesus se herout, Johannes die Doper het met sy waarskuwende prediking alte swaar op hul stert kom sit: “Moet dit nou, so negatief? Soveel nadruk altyd op die Sonde?”. En toe kom Jesus Self, wat gewys het dat Hy die lewe weer tot 'n fees mag maak, omdat Hy vir ons vergewing by God kom bewerk het: Hij eet met tollenaars en sondaars! Maar dít was ook nie goed nie: as dit by die sonde van ánder mense gekom het was hulle sommer weer streng: “Die Jesus is heeltemaal te ligsinnig en te oppervlakkig! Veels te evangelies”. En hulle het uitgesit.

Selfs Johannes die Doper, wat inmiddels gevange geneem is deur Herodes, weet nie meer wat om van Jesus te dink nie. Is Hy wel die beloofde Verlosser, of kom daar tog nog iemand anders?

Dis in hierdie tyd dat Jesus vir sy Vader hardop dánkie sê en Hom loof! In die Grieks – maar dit kom weer uit die oorspronklike Hebreeus waarin die Jood Matthéüs sy Evangelie geskryf het staan daar selfs met soveel woorde dat hierdie dankgebed 'n direkte reaksie was op hierdie, in ons oë, maar treurige gebeurtenisse. Die 1953 Vertaling het probeer om dit ook weer te gee deur te vertaal: “In daardie tyd het Jesus gespreek en gesê”. Dit lyk na ’n onnodige herhaling. Dis beter om te vertaal: “In daardie tyd het Jesus gereageer en gesê...”

Maar is dit nie ’n vreemde reaksie nie? Probeer jou indink: ‘n sendeling wat geduldig vir baie jare sukkelend probeer om God se blye boodskap van verlossing aan die mense te bring, en wat steeds maar op onwil, ongeloof en negatiewe reaksies bly stuit? Sal so ‘n man dan hardop die Here in die hemel daarvoor dank??

As julle as ’n ouderling of ‘n diaken, maar net negatiewe en kritiese reaksies op jou huisbesoeke ontvang, sal jy dan God daarvoor dank?

Hoekom doen Christus dit dan? Sou ons nie eerder 'n klaagsang aan God se adres verwag nie, soos by Elia toe daardie profeet die gevoel gehad het dat al sy werk pure verniet was?

Ja, as jy  maar net met menslike oë naar die resultaat op jou werk kyk, sou jy inderdaad geneig wees om handdoek in te gooi. Of die stuur om te gooi. Want jy wil die mense tog beryk? Vashou? Miskien moet dit dan tog maar op ’n ander manier geprobeer word. Jy moet dalk tog maar bietjie meer rekening hou met wat die mense nou maar graag wil hoor.

Dit is dus niet wat Jesus doen nie. Want Hy kyk nie slegs maar na ménse; en hoe hulle op sy prediking reageer nie. Hy sien allereers sy Vader in de hemel. Hy kyk ook verder as stadjies soos Kapernaüm en Betsaïda, verder as Kanaän. Sy horison is so wyd soos God se skepping groot is. (6) “Heer van hemel en aarde” noem Hy sy Vader. Jesus weet: wat daar in hierdie wêreld gebeur, gaan nooit buite God om nie. Hy het sy hand in alles. Aarde en hemel is van Hom en Hy het My tog naar hierdie wêreld gestuur om aarde en hemel vir ewig te red? Die negatiewe reaksie van baie mense nou op my blye boodskap - dit ruk vir Hom werklik nie handuit nie. Ook dit pas in sy reddingsplan.

Ons kan van die rust van Christus nog heelwat leer, broeders en susters. Hoe vinnig raak ons van stryk as ons slegs kyk na wat ménse doen; hoe ménse reageer. In die kerk. Of in ons persoonlike lewe. Met die gevolg dat ons self weer paniekerig daarop reageer. Knaend. Of moedeloos. Asof dit van óns afhang. Asof dit ons is, wat die kerk moet red. Asof ek my lewe op die spoor moet probeer hou. Waarom dink ons nie daaraan dat ons 'n magtige Vader in de hemel het, wat die Heer van hemel en aarde is? En dus ook de Heer van sy kerk, die Heer oor my lewe, en oor die lewe van my kinders. Laat ons in ons eie kleinheid en beperktheid tog steeds weer besef hoe groot en almagtig ons God is, gemeente!

Slegs dan verval ons nie al te gou tot klaagsange nie, maar kan ons 'n lofsang bly sing, ook as dit op die oog af heeltemal mis gaan.

Tussensang: Psalm 147: 4

Maar hét dit dan nie handuit geruk toe baie mense hulle begin vererg het aan God se Seun en van Hom af padgegee het nie? Heeltemal nie: Jesus het daarin nog steeds God se hand gesien. 'n Hand wat juis die mense se ore toegemaak het. God Self het sy hand voor hul oë gehou, sodat hulle nie kón ontdek waar hulle juis met hul neus op gestaan het nie. God het dit vir hulle verberg, het Christus begryp. Hoe wys en verstandig die mense ook al was, geleerd en gekonfyt in de boekrolle van het Ou Testament: hulle het daarin nie ontdek dat in hierdie Mens, wat hulle opgeroep het om Hom as die deur God beloofde Redder te aanvaar, God Self in menslike gedaante voor hulle gestaan het nie. God wat as ‘n Mens vir de sonde kom boete doen het.

Sien julle, seuns en dogters,  ek het sopas mos al gesê: al het jy ook hoeveel verstand, al is jy ook hoe wys in die oë van ander mense, al het jy ook by’ n universiteit gestudeer, beteken dit nog glad nie dat jy nou ook soos vanself, as een van die eerste die allermooiste ontdek wat ‘n mens in hierdie wêreld kan ontdek nie, te wete: God se genade vir sondaars. Al die geleerdheid en 'n baie goeie verstand kan selfs ‘n verhindering wees om dit te ontdek. Want as jy ‘n hoë dunk van jou eie ‘gesonde verstand’ het, gaan jy gou allerhande kritiese vrae stel aan die boodskap van die Bybel:

* “As God dan so almagtig is, waarom het Hy dan toegelaat dat die mense aan Hem ongehoorsaam word?” 

* “Dit is tog skreeu snaaks: dat 'n Vader sy eie liefste Seun laat doodgaan om so de wêreld te red?”

* “God is mos 'n God van liefde? Hoe kan Hij dan soveel ellende in hierdie wêreld laat gebeur?”

* “Ek kan nie glo, dat God sommige mense uitkies en ander verwerp. Dit sou mos oneerlik wees?”

* “Is daar nou één God, of tog drie?”

Ek het al baie met die soort vrae te doen gekry. Ook wel van kerklidmate. Van slim katkisante. En onthou, seuns en dogters: ook jy kan maklik hierdie soort van vrae begin vra, as jy bietjie ouer word en as jy dieper oor dinge begin nadink. As jy al hoe meer wil ontdek hoe die dinge in die lewe presies in mekaar steek.

Nee, dit is as sulks nie verkeerd om oor die soort dinge na te dink nie. Dit is selfs goed. Dit word in die katkisasieklas ook gedoen. Jy hoef, as jy in God glo, regtigwaar nie jou verstand uit te skakel nie.

Maar jy draai vas as jy jou eie verstand belangriker ag, as wat God sê. En as jy dus eintlik jou sélf belangriker ag as God: “EK dink… EK glo…., na MY mening…”

Dán kan dit gebeur dat God sy hand ook voor jou oë gaan hou. Sodat jy met al jou sogenaamde slimheid nie ontdek wat reg voor jou neus lê nie; dat jy nie sien wat op elke bladsy van die Bybel aan jou voorgehou word, waarop jy in elke preek gewys word, waaroor dit in elke katkisasie les weer gaan nie. Jy het daar geen oog voor, omdat God dit vir jou verberg het.

Maar bly dit dan tog nie vreemd dat Jesus hiervoor dánkie sê vir sy Hemelvader nie? Hoe kan 'n mens God vir so iets loof?

Natuurlik is Christus nie bly met die ongeloof van die mense nie. Hy sal net nou in trane uitbars wanneer Hy vir die laaste keer na Jerusalem kom, en besef dat God hierdie mooi stad tot 'n puinhoop sal moet maak vanweë hul ongeloof. Direk na hierdie gebed hier in Matthéüs 11, doen Hy ook 'n dringende oproep dat almal (nie maar net sommiges nie) wat vermoeid en belas is (ook met die las van hul eiewysheid) na Hom toe sal  kom. Want slegs by Hom gaan jou oë oop en kom jy met al jou vraë tot rus.

Nietemin verstaan Hy ook de werkwyse van sy Vader, en kan Hy Homself daarmee vereenselwig. Hy weet: “So was dit u welbehae, Vader. So het U dit goedgevind”. Dit is nie maar net God se grillerige manier van doen nie, nee, Hy doen dit weloorwoë so. Dit is goed so: dat eiewyse mense vasdraai in hul eiewysheid, en dat net by eenvoudige mense die oë oop gaan vir God se reddingswerk in die Here Jesus. Dat slegs mense wat teenoor God eers weer ‘n kind wil word, die pad na Hom terug vind.

Die Here Jesus het geweet dat dit altyd al God se werkwyse was.

Ons sal net nou Psalm 138 sing: “God slaan, hoewel oneindig hoog, op hul die oog wat  nederig lewe. Maar sien van ver die kleinheid aan van grootheidswaan wat hoog wil strewe”.

Jesus se moeder Maria het dit gesing toe sy nog met haar goddelike Seun in verwagting was: “Soos stoppels voor die wind dryf God die mensekind met al sy trotse planne. Wie klein is voor sy oog het God in eer verhoog.”.

Wie die grote geskenk van God aan hierdie in sonde gevalle wêreld wil ontdek, moet eers weer klein word.

En dit is mos nie vreemd nie? Het dit nie skeefgeloop in God se skepping toe die mens homself heelwat begin verbeel het nie? Toe hy gemeen het hy kan self wel besluit oor wat goed en wat kwaad is? Dat Hy wel self aan ‘n toekoms kon bou? Toe hy homself so wys en verstandig geag het, dat hy gemeen het dat hy net soos God kan wees?

Solank mense so bly dink, hou God sy hand voor hul oë sodat hulle die weg terug na Hom toe, nie ontdek nie. Hy laat hulle met hul sogenaamde groot verstand eers op die rotse loop.

Eers as jy leer insien dat jy self in die lewe totaal en al vasdraai, solank as wat jy God buite jou lewe laat. Eers as jy leer om te aanvaar, dat God jou slegs nog op sý weg, genadig na Hom toe moet bríng - self terug kóm is uitgesluit - eers dan gaan jou oë oop vir die baie besondere weg terug, wat God in Christus oop gemaak het.

En dan maak dit nie saak of jy nog maar in die laerskool is, of professor. Laerskoolkinders kan soms al baie eiewys wees! Hulself al baie dapper hou. So is daar ook mense met 'n buitengewone hoë Intelligensie kwosiënt, terwyl hulle steeds eenvoudig en kinderlik gelowig gebly het voor God. Slegs wie soos 'n kind wil wees vir God, laat Hy die weg na die nuwe aarde vind.

Dit is vanoggend die les vir ons almal, uit die dankgebed van Christus, broeders en susters, seuns en dogters. Om die belangrikste in hierdie lewe te ontdek, hoef jy nie eers groot en geleerd te word nie. Jy moet eenvoudig bly, ja, eers weer soos 'n kind word om die weg naar Vader terug te vind.

Miskien lyk ook u en ek, nog effens te veel op daardie kinders wat Jesus as voorbeeld noem: kinders wat nooit tevrede is nie. Miskien kom jy – of ek, wanneer ek nie self op die preekstoel staan nie, maar 'n kollega hoor preek - ook gereeld uit die kerk, nie dankbaar en verwonderd oor die ontmoeting met die lewende God en sy gemeente nie, maar vol kritiek op die predikant, die preek lees, die liturgie, die orrelis…  En dit lê natuurlik nooit aan jouself nie. Dit lê altyd aan die ander.

Dan moet ons besef dat ons daardeur, geleidelik aan, blind kan raak vir al die mooi wat God ons elke Sondag kom gee. Dis beter om jouself te dwing om in elke diens eers ‘n slag op die positiewe te let, en dan by die huis daaroor verder te praat en God daarvoor te dank.

En as hier ook vanoggend broeders en susters is wat met allerlei vrae oor de Bybel worstel, oor God se doen en late in hierdie wêreld, of jongmense wat dalk dreig om in hul twyfels en ‘waaroms’ vas te draai – dwing jouself dan vir ‘n ruk om jou verstand die swye op te lê, en maar net eenvoudig gehoorsaam te luister na wat God se Seun Self oor sy Vader, oor Homself, oor God se reddingsplan vir hierdie wêreld en so aan, aan ons vertel. Vergeet maar ’n rukkie hoe ander mense na jou kyk, na jou opkyk dalk, en besef weer wie jy voor God is: 'n nietige en boonop skuldige skepsel wat geen been het om op te staan nie.

Dit mag gebeur dat jou oë dan ineens werklik oopgaan, jou twyfels verdwyn en jy jou handen uitstrek na daardie geweldige present van redding wat God al lank reg voor jou neus neergelê het, maar wat jy eenvoudig nie gesien het nie, omdat je veel in- en met jouself besig was.

Die kans is nie denkbeeldig nie, dat je dan so bly soos ‘n kind word dat God deur sy hemelse Seun ook vir jou 'n weg terug na Hom toe, oop gemaak het.

En dan gaan jy ook, net soos Christus, vir Vader in die hemel dankie sê. Dat ook jy Hom selfs kan dank vir hierdie eienaardige, maar juis baie goeie manier van werk: dat nie ons met ons gesonde en grote verstand 'n weg na die Paradys terug gevind het nie, maar dat God in sy wysheid die weg al lankal geken het. En op 'n, in mense oë, juis dwase manier die weg oopgemaak het: deur sy Seun, mens te laat word, en Hom in ons plek 'n weg van diep vernedering te laat gaan, tot in die dood aan 'n kruis paal. Om so vir ons sonde, ons hoogmoed boete te doen.

Nog steeds haal baie waanwyse mense met hul groot verstand hul neus op vir die reddingsplan van God.

Maar eenvoudiges breek in sangstem uit; ’n lof geluid klink God dan teë. Hierdie loflied:

Hoe groot is God in heerlikheid,
sy majesteit in al sy weë”

Amen

Liturgie: 

Teks: Matthéüs 11:25,26

Voorsang: Gesang 239:1, 2, 3

Votum en seën
Psalm 147:1a+2b (1 vers)

Skrifberyming 26: 1
Lees God se wet
Skrifberyming 26: 10, 11

Gebed
Lees: Matthéus 11:15-30
Psalm 131:1-3

Preek Mathéüs 11: 25-26
Psalm 147:4
Psalm 138:3
Gebed

Kollekte

Skrifberyming 24:4

Seen