Anker jou lewe in Hom wat dieselfde bly

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Pretoria en Maranata
Datum: 
2023-12-31
Teks: 
Psalm 102:25-29
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 102:25-29

 

Broer, suster, voel u weer ‘n jaartjie ouer?

Al die 365 dae van 2023 is nou verby.

En al is daar soms jare in jou lewe waarin jy veel beter kan voel as in voorgaande jare, feit bly dat, soos ons teks sê, ons liggaam soos ‘n kleed is wat verslyt.

Die lewensjare eis sy tol, vroeër of later.

Dit is ‘n onomkeerbare proses.

Verandering, in besonder verslegtering, afbraak, veroorsaak dat ‘n mens stabiliteit soek.

Die behoefte vir houvas op ‘n afdraende pad.

Ons soek ‘n anker.

Elke mens verlang na ‘n ankerplek, vastigheid onder die voete.

Maar hoe en waar kry ons dit?

 

 

Tema: Anker jou lewe in Hom wat dieselfde bly

 

Dis nie bekend wie Psalm 102 gedig het nie.

Uit vers 1 is wel duidelik dat dit iemand is wat op ‘n baie slegte plek in sy lewe was.

Hy is in benoudheid.

Hy roep wanhopig tot die HERE.

Hy voel hoe sy dae weggly.

Hy vergelyk sy hart met plante wat platgeslaan is.

Soos onkruid wat uitgetrek is en plat op die grond lê en verdor in die son.

Sy gebeente kleef aan sy vlees.

Dis ‘n Hebreeuse uitdrukking vir iemand wat vel oor been is.

Onder die vel sien mens elke ribbebeen, elke stukkie van die skelet, so uitgehonger is hy.

Hy vergelyk homself met ‘n pelikaan in die woestyn (mens kan ook vertaal: ‘n kraai), of ‘n naguil op puinhope.

Soos ‘n eensaam voël wat slapeloos op die dak sit.

Hy is duidelik in ‘n toestand van rou.

Hy eet as soos brood ...

Iemand wat gerou het, het as op sy kop gestrooi.

Soos die spreekwoord sê, hy was in sak en as.

En, sê hy, as hy iets drink, is dit gemeng met al sy trane wat hy onophoudelik huil.

Wat sy situasie nog vererger het, is dat daar mense is wat hulle in sy toestand verlekker.

Sy vyande spot, hulle skeer gek, hulle sleep sy naam deur die modder.

 

Gemeente, hoekom is die digter eintlik in rou?

Hoekom is hy vel oor been?

Bo-aan hierdie Psalm het die vertalers die opskrif gesit: ‘n Gebed vir Sion.

Dis ‘n goeie samevatting.

Die oorsaak van al hierdie ellende is naamlik dat Sion in puin lê – vers 15.

En soos ons weet, toe Sion verwoes is, is God se volk in ballingskap gevoer.

Nie net die geboue van Sion was in puin nie, die mense se lewens ook.

So ook die mens wat hierdie Psalm gebid het.

Die ellende van die bidder gaan saam met die ellende van Sion.

Beide is ‘n puinhoop.

 

Tog is hierdie Psalm nie net donkerte nie.

Dit getuig van die krag van gebed.

Al is Sion nog in puin, al is die persoon wat hier bid net vel oor been, tog skyn daar die lig van hoop.

Die lig breek deur sodra hierdie mens in sy gebed op die HERE begin fokus.

Dit is die draaipunt in hierdie Psalm – vers 13:

“Maar U, o HERE, U bly tot in ewigheid, en u gedenknaam van geslag tot geslag.”

God is dieselfde, gister vandag en vir altyd.

Maar as dit so is, besef hy, dan sal die HERE Hom mos oor Sion ontferm.

Die tyd om genadig te wees, sal dan mos weer kom.

So is God mos!

As Hy in die verlede geluister het, sal Hy mos in die hede ook.

Die digter raak ‘n gevoelige snaar as hy oor Sion sê:

“u knegte het sy klippe lief en het medelyde met sy puin.” (vers 15)

Dit kan God mos nie onberoerd laat dat sy huis so ‘n puinhoop is nie?

En nog meer moet dit sy hart raak as Hy hoor dat sy knegte ook so daaroor dink, ja dat hulle sy huis mis, dat hulle die samesyn met Hom mis!

 

In vers 16 skakel die Psalm na ‘n hoër rat.

Dink net, sê hy vir die HERE, dink net wat sal die heidene sê as U Sion weer herbou, as u heerlikheid weer oor die stad skyn!

U Naam, net soos die Naam van u knegte, sal dan nie meer as ‘n vloekwoord gebruik word nie.

Die heidene sal selfs u Naam vrees!

Gemeente, is dit nie ‘n baie gepaste bede ook vir vandag nie?

Dink net as in ons tyd die ongelowiges sal ophou met vloek.

As in films geen lastering van God se Naam meer gehoor sal word nie.

En dit omdat die HERE Sion weer opgebou het.

Hierdie dinge het dus met mekaar te make.

Sion het ‘n puinhoop geword, omdat God se volk gestraf moes word.

Hulle het self die HERE se Naam verag.

En toe Sion ‘n puinhoop geword het, het die heidene net nog meer gespot.

Dieselfde geld vandag ook, gemeente.

Hoekom word daar so baie gevloek?

Dit begin by die HERE se kinders, sy kerk, wat die HERE se Naam begin verag het.

Wat sy Woord aan die kant geskuif het.

Wat soos die wêreld begin lewe het.

Daarom het God toegelaat dat die kerk ‘n puinhoop word.

Laat ons dit nie ontken nie, maar die kerk is ‘n puinhoop.

Veral in die Weste.

Dalk mooi onderhoude geboue, maar die kerkbanke is leeg.

Psalm 102 maak ‘n konneksie wat ons al te maklik vergeet.

Dat God se eer op aarde beïnvloed word deur hoe sy kinders op aarde leef.

Soos ons in die Kategismus bely: Laat u Naam nie om ons ontwil gelaster nie, maar geëer en geprys word (Sondag 47).

 

Psalm 102 bid vir ‘n nuwe begin.

Noudat Sion ‘n puinhoop is, sê die digter, kan ons dit nie herstel nie, al het ons sy klippe hoe lief.

Wil U tog ingryp!

Wil U weer vir U ‘n nuwe volk skep wat U gaan loof!

Wil u die gevangenes, die ballinge, bevry, sodat hulle weer in Sion u Naam kan vermeld.

 

Maar dan, in vers 24 beleef die digter weer vir ‘n oomblik ‘n insinking.

Waar sy blik boontoe was na die HERE, kyk hy nou weer na homself.

Hy sien as ‘t ware sy rimpels, dit wat van sy eens so sterk en mooi liggaam oorgebly het ...

Ag, kla hy, die HERE het my krag gestroop, my dae verkort.

Ag, kerm hy, my God, moenie my wegneem in die helfte van my lewensdae nie.

Ons kan maklik met die digter identifiseer – as jy oud geword het, of as ‘n siekte jou onverwags tref.

Soos ons maar alte goed weet, en ook hierdie afgelope jaar sien gebeur het, ‘n siekte kan nie net ‘n bejaarde, of ‘n middeljarige nie, maar selfs ‘n jong man in die krag van sy lewe sloop.

Ag, HERE, moet my nie nou al wegneem nie, soebat die digter.

 

Maar dan dink die digter weer aan God.

Na die insinking kry hy weer sig op God.

Sy God wie se jare van geslag tot geslag is.

Hy wat lank gelede die aarde gegrondves het, al die hemelligame gevorm het.

Hoe onwankelbaar die berge ook lyk, uiteindelik sal hulle vergaan, soos ‘n kledingstuk verslyt, uiteindelik sal hulle verdwyn.

Maar U bly die selfde, u jare het geen einde nie.

 

Gemeente, om op die HERE te fokus, dit bring nuwe lig in jou lewe.

Dit sien ons by die digter, dit geld vir ons ook.

As jy in die nuwe jaar ‘n insinking beleef, kyk op!

Dink aan wie Hy is.

Verwonder jou oor sy ewigheid!

As Hy al die een geslag na die ander onderhou het, kan Hy dit met jou ook doen!

Met jou en met jou nageslag.

 

Dis met hierdie belofte wat Psalm 102 afsluit, vers 29:

“Die kinders van u knegte sal woon, en hulle nageslag sal voor u aangesig bly bestaan.”

Met knegte verwys die digter na God se volk, hulle wat op daardie stadium in ballingskap was.

Maar God sal herstel gee.

Sy volk sal voor sy aangesig bly bestaan.

Vandag, in die Nuwe Testament, het ons steeds hierdie belofte.

Sy volk, sy kerk, sal voor sy aangesig bly bestaan.

Ja die kerk sal geslagte sien kom en gaan.

Maar die kerk self sal nie soos ‘n kleed verslyt nie.

Wat ‘n wonder!

Die rede is dat die kerk groei uit ‘n saad wat nie van hierdie wêreld is nie.

Alles wat opkom uit saad van hierdie skepping, sal verslyt, ook die oudste bome.

Maar die kerk groei uit saad wat behoort aan die herskepping.

Die Heilige Gees laat die kerk ontkiem, orals waar die Evangelie van Christus gebring word.

Daarom is die kerk ‘n voorbode van die nuwe skepping, die herskepping.

‘n Ou skepping, wat sug onder die las van die sonde (Rom 8:22), wat besig is om te verslyt, sien in die kerk dat daar nuwe hoop is, dat die herskepping op pad is!

God sy dank!

 

God sal die wat by Hom skuil, nie in die steek laat nie.

Ek en jy, ons lewens vlieg verby.

Ons kan nie beloftes vir die toekoms maak as ons nie meer daar sal wees nie.

Maar Hy wat dieselfde bly en wie se jare geen einde het nie, Hy kan wel sulke dinge belowe.

Dit is die troos wat ons kry, as ons vanaand, op hierdie Oujaarsaand, na Hom opkyk.

Wie na homself, of die wêreld om hom heen kyk, beleef ‘n insinking.

Wie opkyk, ontvang nuwe krag.

As jy stabiliteit soek, as jy ‘n anker in die lewe soek, kyk op na Hom!

Calvyn sê dit so mooi: Jy moet jou anker boontoe uitgooi na die hemel.

Skepe gooi hulle anker af ondertoe, in die see, om vastigheid te kry.

Gelowiges gooi hulle anker op boontoe.

Hy, Christus, is ons anker.

Hy is ons anker te midde van die tyd wat vlieg.

Ons is nou nog gewoond om 2023 te skryf, maar vanaf môre kan ons dit nie meer doen nie, dan moet ons die gewoonte weer afleer.

Dan moet ons gewoond raak om 2024 te skryf.

Die een jaar tuimel oor die ander, dit voel soms of mens nie grondvat nie.

Een ding gebeur, en voordat ons dit kon verwerk het, is daar weer iets nuuts.

Op hierdie oujaarsaand dink ons terug aan alles wat die afgelope jaar gebeur het.

Dinge wat ‘n impak sal bly hê.

In ons gemeentes is daar mense oorlede.

Dit is iets om te verwerk, verwerking wat nie aan die einde van die jaar verby is nie.

As iemand naby ons sterf, verander die struktuur, die inrigting van jou lewe onvermydelik.

Die afgelope jaar was daar ook gemeentelede wat deur ernstige siektes of operasies is.

As hulle herstel het, mag ons die Here dank vir die lewensverlenging wat Hy skenk.

Nie net bejaardes nie, daar was ook jong lidmate wat deur ernstige siektes is.

Dit was dae van beproewing vir hulle en vir hulle ouers.

Dikwels het die gebed opgestyg: “HEER, verkort tog nie my dae!” (Ps 102:10 berymd)

Nou, aan die einde van die jaar kyk ons terug.

Die HERE het ons gedra.

Die HERE het groot dinge gedoen.

Elkeen van ons kon met al ons persoonlike behoeftes vir die afgelope 365 dae na Hom gaan.

In sy almag en ontferming het Hy gewaak.

En nie net oor ons nie, so ook oor elke skepsel op aarde wat tot Hom sug.

 

Psalm 102 se digter staan verstom oor wie God is.

Teenoor ons, ons wat spreekwoordelike eendagsvliegies is, staan Hy as die ewige.

Alles is in sy hand.

Ook of ons ‘n nuwe jaar gaan ontvang.

Of Hy vir ‘n nuwe 365 of 366 dae die huurkontrak in ons aardse liggaam gaan verleng.

Ons aardse tentwoning gaan ‘n keer afgebreek word.

Elkeen van ons, selfs die aarde self, sê ons teks, is soos ‘n kleed, soos ‘n tentseil wat na soveel tyd verslyt.

Daar gaan ‘n dag kom, vir elkeen van ons, dat God gaan sê:

Nou gaan Ek jou aardse huis sloop.

By die een doen Hy dit bo 90, by die ander as hy of sy nog maar ‘n kind is, soos ons ook afgelope jaar beleef het.

As Hy dit doen, bly daar van jou liggaam niks meer oor nie.

Die huis word gesloop, sy staanplek ken hom selfs nie meer nie.

 

Maar vir die “kinders van u knegte” (vers 29) is dit nie die einde nie.

Hulle sal, sê vers 29, bly woon.

Wat hiermee bedoel word, het Christus duidelik gemaak.

Dink aan wat Hy sê in Johannes 14:

“In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” (Joh 14:2,3)

Die Here Jesus sê hier diep dinge.

Daar is baie wat ons hieruit kan leer.

Ons kan leer dat as ons te sterwe kom, Hy vir ons ‘n huis by Hom en sy Vader in die hemel het waar ons kan gaan inwoon.

Maar Hy sê ook dat Hy sal weerkom.

Hy sal sorg dat ons altyd sal wees daar waar Hy is.

Ja die Skrif openbaar ook aan ons die werklikheid van sy wederkoms, die werklikheid van die herskepping, danksy sy Middelaarswerk.

Dit sal ‘n moment wees waarop alles ingrypend sal verander.

Dit wat ons in die teks lees, gaan dan nie meer waar wees nie.

Die teks sê dat alles vergaan, selfs die aarde self is soos ‘n kleed wat verslyt.

Ons ken in natuurwetenskap die term entropie, die wet van entropie.

Dit is basies gebaseer op wat hier staan.

Al vat dit veel langer, gebeur met die aarde ook maar dieselfde as met elkeen van ons se liggame.

Dit verslyt.

Dit is, soos die Skrif sê, aan die verganklikheid onderworpe.

Maar, en dit profeteer die Heilige Gees in die Skrif, daar kom ‘n toekomstige oomblik as alles ingrypend gaan verander.

En nadat dit gebeur het, gaan ons teks nie meer waar wees nie.

Dan gaan hemel en aarde, en ook die skepsels daarop, nie meer soos ‘n kleed verslyt nie.

 

Ja, ons teks gaan dan nie meer waar wees nie.

Altans, ek bedoel vers 26 en 27.

Dit geld nie vir die ander verse nie.

Vers 29 juis wel.

Hierdie laaste vers is ‘n profesie van die nuwe hemel en aarde.

“Die kinders van u knegte sal woon, en hulle nageslag sal voor u aangesig bly bestaan.”

 

Wel, as God soos ons teks sê, ewig is, as sy jare geen einde het nie, dan moet dit vir ons ook waar wees, ons die nageslag, die kinders van sy knegte.

Daarom, anker jou lewe in Hom wat dieselfde bly.

 

In Hebreërs 1 lees ons oor die Here Jesus:

“U, o Here, het in die begin die aarde gegrondves en die hemele is werke van u hande. Hulle sal vergaan, maar U bly; en hulle sal almal soos 'n kleed verslyt, en soos 'n mantel sal U hulle toerol, en hulle sal verander word, maar U is dieselfde, en u jare het geen einde nie.” (Hebr 1:11-12)

Woorde wat die Hebreërskrywer uit Ps 102 aanhaal.

Ja ons teks gaan oor ons Here Jesus!

“Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (Hebr 13:8)

Anker jou lewe in Hom!

Hy sal jou elke jaar weer nuwe krag gee.

Daarom ervaar ons as gelowiges twee dinge in ons lewe.

Ons ervaar aan die een kant dat ons besig is om soos ‘n kleed te verslyt, ons dae is getel, ons dae is nie oneindig hier op hierdie aarde nie.

Maar aan die ander kant ervaar ons ook die saad van die herskepping wat in ons lewe ontkiem.

Christus werk dit in ons deur sy Gees.

Mag die jaar wat môre begin, DV – Deo Volente – 2024, daardie herskepping nader bring.

Maranata, kom gou, o Here Jesus!

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 116:1,2,5,9

Gebed

Skriflesing: Psalm 102

Ps 102:1,3,5,6

Teks: Psalm 102:25-29

Preek

Ps 102:8-12

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Sb 23:1-4

Kollekte

Sb 30:1-6

Seën