Preek: Mattheüs 2:15b
Daar is net twee evangeliste wat oor Jesus se geboorte skryf.
Al vier evangeliste beskryf uitvoerig die laaste drie jaar van sy lewe, met as hoogtepunt sy kruisiging en opstanding uit die dood.
Die laaste drie jaar was Christus se openbare bediening, vanaf 30 jarige leeftyd.
Dit was die allerbelangrikste fase van sy lewe op aarde, en die Heilige Gees het dit so gelei dat ons ‘n viervoudige verslag daarvan het.
Tog het die Gees ook besluit om vir ons iets oor Jesus se geboorte te vertel.
Mattheüs en Lukas skenk daaraan aandag.
En so mog ons die afgelope weke tydens die Kerstyd weer dankbaar hierdie eerste hoofstukke uit hulle Evangelies lees.
Vanaand se teks kom ook uit hierdie tyd toe Jesus nog ‘n baba was.
Tema: Jesus Christus se uittog was suksesvol
- Inspirasie van die evangeliste
- Die betekenis van Jesus se uittog uit Egipte
- Inspirasie van die evangeliste
Maar wat opvallend is, is dat hulle nie presies dieselfde skryf nie.
Aan die een kant is daar dinge wat duidelik ooreenstem.
Beide beskryf die maagdelike geboorte, dat Jesus deur die Heilige Gees verwek is, dat Josef nie sy biologiese pa was nie.
Beide beskryf dat die geboorte in Betlehem plaasgevind het.
Aan die ander kant is daar gebeurtenisse wat net in een van die twee beskryf word.
Maar as mens Mattheüs en Lukas so deurlees, al vertel hulle verskillende gebeurtenisse, is dit tog baie duidelik dat dit oor presies dieselfde tyd en Persoon gaan.
Mense het al probeer verklaar hoekom Mattheüs ‘n paar ander gebeurtenisse as Lukas beskryf.
Dit lyk of Lukas bietjie meer aandag skenk aan dinge wat redelik publiek bekend was, terwyl Mattheüs inligting opskryf uit die binnekring van Jesus se familie.
Ons kan aanneem dat Mattheüs later, na die hemelvaart, lid was van die eerste gemeente in Jerusalem.
Maria, Jesus se ma, en Jakobus sy broer, was ook daar lidmate.
Mattheüs het dinge by hulle gehoor wat minder by die algemene publiek bekend was, en van dit het hy ‘n plek gegee in sy Evangelie.
En ons kan daarvan uitgaan dat Mattheüs ook by die Here Jesus self baie gehoor het.
Op hierdie punt is dit goed om vir ‘n oomblik by die inspirasie van die Heilige Gees stil te staan.
Hy het vir Mattheüs en Lukas geïnspireer om die Evangelies te skryf.
Hoe Hy dit gedoen het, kan verskil.
Daar is voorbeelde in die Bybel, en dit word dan ook eksplisiet daarby genoem, dat God direk met profete of apostels gepraat het.
Dink aan hoe God aan Jesaja verskyn het (Jes 6), of aan die profeet Jona.
Hy het direk met hulle gepraat.
Dink aan hoe God aan Petrus verskyn het, om hom daarop te wys dat die Mosaïese voedselwette nie meer sou geld soos in die Ou Testament nie.
Maar naas hierdie direkte verskynings, direkte inspirasie, is daar ook wat ons noem organiese inspirasie.
Want in baie Bybelboeke staan nie dat God direk met iemand gepraat het nie.
Dit staan ook nie in Mattheüs of Lukas nie.
Lukas skryf selfs dat hy eers sy Evangelie begin skryf het nadat hy alles wat gebeur het, self eers noukeurig ondersoek het (Luk 1:3).
Organiese inspirasie beteken dat die Heilige Gees die Bybelskrywer ingespan het soos hy was, met sy talente, met sy persoonlikheid, met sy agtergrond, met sy voorbereidingswerk, ensovoorts.
Die Gees het dit gelei dat Lukas by sy noukeurige ondersoek op bepaalde feite afgekom het, wat hy in sy Evangelie opgeskryf het.
Dieselfde het die Heilige Gees met Mattheüs gedoen.
Binne sy omstandighede, met die kennis en kontakte wat hy gehad het, het die Heilige Gees vir Mattheüs gebruik om sy Evangelie te skryf.
So het daar onafhanklik twee Evangelies tot stand gekom, wat albei oor Jesus se geboorte berig, maar elkeen uit ‘n eie invalshoek.
Vandag se teks, oor Jesus se verblyf in Egipte, is inligting wat ons slegs in Mattheüs vind, dinge wat hy gehoor het, in die eerste plek van Jesus self, en tweedens van sy direkte familie op aarde.
Mattheüs skryf oor die vlug na Egipte, die kindermoord, en die terugkeer uit Egipte.
Lukas skryf nie daaroor nie.
Voordat ons nader hierop fokus, is dit nuttig om vir ‘n oomblik aandag aan die verloop van dinge te skenk.
Dinge het in ‘n bepaalde volgorde gebeur, en ons teks pas daarbinne.
Kom ons kyk vinnig daarna.
Beide Mattheüs en Lukas skryf oor die verskynings van die engel Gabriël.
Lukas skryf daarna oor toe Josef en Maria nog in Nasaret was en vandaar na Betlehem gereis het.
Mattheüs nie, hy begin direk in Betlehem by die geboorte.
Lukas vertel oor die stal en die engeleverskyning aan die herders.
Hy vertel ook oor besnydenis en voorstelling van Jesus by die tempel, en Simeon en Anna wat hulle daar ontmoet het.
Mattheüs skryf nie hieroor nie.
Hy skryf oor die wyse manne uit die Ooste.
Hulle het waarskynlik aangekom nadat Jesus besny en daarna met sy ouers die tempel beskoek het.
Soos ons weet het die wyse manne met ‘n ander pad na hulle land teruggekeer, nadat hulle in ‘n droom ‘n goddelike waarskuwing ontvang het.
Nie lank daarna nie het Herodes besef dat hy om die bos gelei is.
Hy stuur toe sy soldate na Betlehem, maar ondertussen het Josef met sy gesin al rigting Egipte gevlug.
‘n Engel van die Here het Josef betyds gewaarsku en opdrag gegee om dit te doen.
Lukas vertel nie oor die kindermoord in Betlehem en die periode in Egipte nie.
Hy skryf dat nadat sy ouers al hulle wetlike pligte nagekom het, hulle met Jesus na hulle stad Nasaret teruggegaan het (Luk 2:39).
Lukas maak hier ‘n sprong in die tyd.
Dis nie ongebruiklik nie, ons sien dit meer in die Evangelies.
Of Lukas, die oomblik toe hy sy Evangelie geskryf het, nog nie op die hoogte was van die verblyf in Egipte, dit weet ons nie.
Maar, en dis belangrik om te noem, Lukas se Evangelie sluit nie ‘n verblyf in Egipte uit nie.
Tot sover oor hoe die Heilige Gees die evangeliste geïnspireer het.
Kortliks om saam te vat.
In die Skrif sien ons direkte onmiddelike inspirasie, sowel in die Ou as Nuwe Testament.
Maar in die Skrif sien ons ook organiese inspirasie, en hierby was die Heilige Gees van begin tot end betrokke.
Al vier evangeliste skryf uitgebreid oor die einde van Christus se lewe op aarde.
Dit was die belangrikste, die hoogtepunt van sy Middelaarswerk.
Mattheüs en Lukas skryf ook oor sy geboorte, elkeen uit eie perspektief.
So het die Heilige Gees gesorg dat ons verskillende ooggetuieverslae het van Jesus se lewe op aarde.
(Tema: Jesus Christus se uittog was suksesvol
- Inspirasie van die evangeliste)
- Die betekenis van Jesus se uittog uit Egipte
Hoekom Mattheüs aan die verblyf en terugkeer uit Egipte aandag skenk, word duidelik in wat hy daaroor skryf.
‘n Steeds terugkerende tema in sy Evangelie is dat Christus die beloftes en profesieë van die Ou Testament vervul het.
In die hele episode van die kindermoord en die vlug na Egipte was daar verskillende gebeurtenisse waarby Mattheüs duidelike lyne uit die Ou Testament trek.
Telkens wys hy daarop dat die Skrifte in Hom vervul is.
Herodes het dubbel seker gemaak dat die potensiële nuwe koning van die Jode vermoor word.
Alle kinders van twee jaar en jonger moes gedood word.
Hoe kon die soldate weet of ‘n kind twee jaar oud was?
Ek twyfel of die ouers dit vir hulle sou vertel het.
Wel, in elk geval kinders wat nog nie kon loop nie, moes om die lewe gering word.
‘n Kind leer mos meestal in sy tweede jaar om te loop.
Herodes vat geen risiko nie.
En dit het ‘n ongekende tragedie in hierdie dorpie veroorsaak.
Maar, dit was nog nie Jesus se tyd om te sterf nie.
God sorg dat hy en sy ouers betyds vlug na Egipte.
Mattheüs vertel oor die verblyf in Egipte.
Dit mag vir ons ‘n vreemde plek lyk om na toe te vlug.
Dit was te voet ook nie naby nie – 150 tot 200 km.
Makliker sou gewees het om na die ooste te vlug oor die Jordaan om in ‘n gebied uit te kom waar Herodes nie geregeer het nie.
Maar God se opdrag is duidelik.
Wat ons dalk nie weet nie, is dat daar in daardie tyd baie Jode in Egipte gewoon het.
Josef en Maria kon maklik daar in die Joodse gemeenskap ‘n plek vind om te bly.
En hulle het daar gebly totdat Herodes dood was.
Die presiese lengte kan ons moeilik bepaal, maar dit was in elk geval ‘n jaar.
Egipte as land het baie assosiasies by elke Jood opgeroep.
God se volk het ‘n lang pad deur die eeue met hierdie land gestap.
Mattheüs sien ‘n duidelike parallel tussen wat nou met Jesus gebeur, en dinge wat in die verlede gebeur het.
En dit is ‘n werklikheid wat nie uit die oog verloor moet word nie – dit is waarop Mattheüs sy eerste Joodse lesers se aandag vestig.
Alles wat met Jesus gebeur is naamlik vervulling van die Ou Testament.
Dis die doel van sy Evangelie, om dit vir hulle te bewys.
Dat Jesus die Messias is, waaroor die Ou Testament geprofeteer het.
Nou hoe het die Ou Testament geprofeteer oor hierdie verblyf in Egipte?
Wat bedoel Mattheüs as hy spesifiek verwys na die profeet Hosea, wat geprofeteer het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep” (Hosea 1:11 – Matt 2:15)?
Gemeente, om Mattheüs se bedoeling te verstaan, moet ons eers terug na die tyd van Hosea, en wat die konteks van hierdie uitspraak in daardie tyd was.
Die profeet Hosea verwys in sy prediking dikwels terug na die uittog uit Egipte.
Hoe God op wonderbaarlike wyse sy volk bevry het.
Hulle was spesiaal vir Hom.
“Toe Israel ‘n kind was,” skryf Hosea, “het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.” (Hos 11:1)
Met die bevryding het God hulle ‘n nuwe toekoms gegee in die beloofde land.
Maar, sê Hosea ook aan die verbondsvolk, in die lig van hoe julle deesdae lewe in die beloofde land, moet mens jouself eerlik afvra of daardie bevryding uit Egipte enige nut gehad het ...
Julle dien nou nie meer die HERE nie, maar elke ander god wat die heidene dien.
Eintlik, sê Hosea, moet die volk maar weer terugkeer na Egipte.
En nie net het die HERE destyds sy volk uit Egipte geroep nie.
Deur die eeue het Hy, in sy groot genade, hulle keer op keer teruggeroep na Hom toe, weg van die afgode af.
Was dit alles tevergeefs?
Want, ironies genoeg, hoe meer Hy hulle geroep het, hoe meer het hulle afgedwaal, en aan die Baäls en gesnede beelde hulle offers gebring.
Daarom, waarsku Hosea, sal die volk teruggestuur word na Egipte.
Hulle verlang mos na die kospotte van Egipte.
Wel, hulle kan maar gaan.
Gemeente, hierdie agtergrond moet mens ken as jy die baie kort aanhaling van Mattheüs uit Hosea wil verstaan.
Want hoe is juis hierdie Ou Testamentiese woorde vervul in Jesus?
Wel, destyds het God nie sy doel bereik toe Hy sy seun Israel uit Egipte geroep het nie.
Israel het hulle bevryding nie gebruik om Hom dankbaar en trou te dien nie.
Hulle wou maar net terugkeer na die kospotte van Egipte.
Hulle hart het soos ‘n punt getrek na die afgode, nie na die HERE hulle Bevryder nie.
Ja Hy het hulle bevry, geroep uit Egipte, maar dit was tevergeefs, kla Hosea.
Maar nou, skryf Mattheüs, nou gebeur dit weer: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.”
En dis waar die vervulling van hierdie woorde inkom, nou was dit nie tevergeefs nie!
Nou het die HERE wel sy doel bereik.
Want hierdie Seun dien God wel trou.
Nou kom daar wel ‘n gehoorsame Seun.
Agteraf gesien was die exodus onder leiding van Moses vrugteloos, nutteloos.
Maar onder Jesus, die ware Messias, kom daar weer ‘n exodus, en hierdie een is wel effektief!
Dit herinner mens aan die eerste woorde uit God se wet: “Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.” (Ex 20:2)
Daardie bevryding was agteraf ‘n mislukking.
Israel het bly terugverlang na die kospotte van Egipte, en met die uittog het hulle hulle afgode saamgedra na die beloofde land.
En die messias van destyds, Moses, kon hulle nie eers tot in die beloofde land vergesel nie.
Maar Christus se uittog uit Egipte was nie ‘n mislukking nie.
Nadat Hy uit Egipte teruggekeer het, het Hy in Israel die Messias geword.
Sy taak het Hy trou vervul, en so het Hy dit reggekry om die verbondsvolk nie net uit die Egiptiese slawehuis te bevry nie, maar ook uit die slawehuis van die sonde.
Daarom, elke Sondag as ons die aanhef van die wet hoor, dink ons nie net terug aan Moses nie, maar veral aan Jesus Christus, wat ons uit die slawehuis van die sonde bevry het.
God het hierdie Seun uit Egipte geroep, en dit was nie tevergeefs nie.
Hy het deur sy Messiaswerk die troue diens aan God in die beloofde land gewaarborg, moontlik gemaak.
En dan dink ons nie net aan Israel as beloofde land nie, maar aan die hele aarde, die herskape aarde.
Dit is die Messias se einddoel, dat die hele aarde beloofde land word, waar ieder en elk wat daarop woon die HERE trou sal dien.
Gemeente, wat ‘n ryk boodskap agter een sinnetjie, een terugverwysing na die Ou Testament!
Alles wat in die Ou Testament skeefgeloop het, alles waarin God se volk gefaal het, dit gaan hierdie Messias regstel.
Dit is, gemeente, Mattheüs se boodskap vir sy eerste Joodse lesers.
En natuurlik vir ons ook.
Wat Hosea in hoofstuk 11:11 sê, mag ons daarom op onsself betrek, dankbaar vir Christus se bevryding.
Hosea skryf daar: “Hulle sal sidderende aankom soos ‘n voëltjie uit Egipte en soos ‘n duif uit die land Assur; en Ek sal hulle laat woon in hulle huise, spreek die HERE.”
Agter die Messias aan word ons bevry.
Jesus tel jou op, soos ‘n bewende voëltjie, en Hy dra jou uit die huis van slawerny van die sonde uit.
Jesus gaan voor, Hy maak ‘n grootpad vanuit Assur na die beloofde land, en jy mag dankbaar agter Hom aangaan, bevry uit die ballingskap.
Hy bou vir jou ‘n huis, eers in die hemel en dan op die nuwe aarde, en jy mag daarin woon.
Gemeente, alles wat Mattheüs skryf oor Jesus se geboorte en daardie eerste tyd, dit is dus nie toevallig nie.
Dit staan in die lig van sy Messiastaak, soos wat Hy dit later in sy lewe baie spesifiek sou uitvoer.
Met sy terugkeer uit Egipte wag daar vir Hom ‘n groot taak.
Hy het Homself daarop begin voorberei as opgroeiende kind, dit het ons in vanoggend se preek gesien.
En toe Hy dertig geword het, het Hy die volk begin lei op die ware uittog.
Toe Hy aan die kruis gesterf het, het Hy die wat die Vader aan Hom toevertrou het, deur die Rooisee gelei, meer spesifiek in sy geval, nog veel meer.
Hy het hulle die donker oseaan van dood en hel gelei.
Hy het gesorg dat ons droogvoets daardeur kan trek.
Ons dood is nie meer ‘n betaling nie, maar ‘n deurgang na die ewige lewe, na die beloofde land.
Agter Hom aan kan ons anderkant uitkom.
Omdat God sy Seun uit Egipte geroep het, en dit nie tevergeefs nie, daarom kan ons Egipte, meer nog, die slawehuis van die Satan, nou ook vergoed agter ons laat.
Broer, suster, gaan hierdie jaar uitsluitlik agter Christus aan.
Sy exodus is suksesvol.
Moenie omkyk nie.
Moenie terugverlang na die kospotte van Egipte nie.
Moenie links of regs kyk, jou steun soek by die afgode waarop die wêreld steun nie.
Kyk vorentoe, daarheen waar Christus jou lei.
Dis soms diep en donker, soos wat Hy ons deur die Rooisee, die doodsoseaan heenlei.
Maar kyk vorentoe, kyk op na Hom.
Hy is die ligkolom.
In sy Lig sien ons die lig.
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Hosea 11 & Mattheüs 2:13-23
Teks: Mattheüs 2:15b
Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.
- Watter evangeliste skryf oor Jesus se geboorte? Watter evangeliste skryf oor Jesus se kruisiging en opstanding?
- Beskryf kortliks die manier hoe die Heilige Gees die evangeliste geïnspireer het.
- Was Israel se destydse uittog uit Egipte ‘n sukses?
- Hoe het Jesus in sy lewe die destydse uittog uit Egipte vervul?
- Wat beteken Christus se uittog uit Egipte vir jou?
Votum
Seën
Sb 26:1,2
Gebed
Skriflesing: Hosea 11
Ps 106:8-11
Skriflesing: Mattheüs 2:13-23
Ps 80:1,5,10
Teks: Mattheüs 2:15b
Preek
Ps 77:7-10
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Ps 89:3,11
Seën