Die mens sonder Christus is nie ‘n sondaar omdat hy sondig nie. Hy sondig omdat hy ‘n sondaar is. Dit is wat die mens van nature is. 'n Sondaar. 'n Sondaar sondig. Dit is al wat hy kan doen. Hy doen niks tot eer van God nie. As julle hierdie begrip verstaan, dan verstaan julle die leer van die erfsonde. Daar word gesê dat dit een van die gewigtigste en moeilikste onderwerpe van die Christelike teologie is.
Maar dit verklaar baie, van kleins af. Daarsonder kan ons onsself nie regtig verstaan nie, want ons weet dat daar groot fout is. Maar hoe ons nou presies in die sonde van Adam deel het, is inderdaad 'n raaisel. Baie teoloë het dit probeer beantwoord, met verskillende mate van sukses. Wat ons wel weet, is dat daar 'n solidariteit – 'n eenheid – onder die menslike geslag is. Dit is fisies en organies, maar ook verteenwoordigend.
Maar die beste manier om erfsonde te verstaan, is om ervaringskennis daarvan te hê – 'n eksistensiële kennis dat boosheid nie net iets daar buite is nie, maar dat dit in die hart is. Ons almal het dit. Elke mens wat nog ooit geleef het, weet dat hy dinge gedoen het wat hy nie moes gedoen het nie. Wat hy nie eens wou gedoen het nie.
Dit is deel van die sondige vlees. Dit beheer die ongelowige en klou vas, selfs as 'n mens 'n Christen word, tot die dag van sy dood. Dit was nie weens 'n soort intellektuele kennis nie, maar weens 'n persoonlike ervaring dat Dawid dit uitgeskree het: “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.” (Ps. 51:7)
Maar dank God! Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie (Ps 103). Maar Hy, in sy genade en barmhartigheid, vergewe die sondes in Christus en gee vryheid van die slawerny daarvan om in die vryheid van Christus te leef.
Erfsonde:
- Ons slawerny
- Ons vryheid
Ons Slawerny
In Romeine 1:16-17 gee Paulus vir ons 'n kort opsomming van sy basiese evangelie. Paulus skryf: “Want Ek skaam my nie vir die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek. Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.”
In vers 18 begin hy dan met sy argument. Die eerste ding wat Paulus uiteensit, is die sondigheid van die sonde – hy verwyder elke vierkante duim van selfgeregtigheid. Hy ontneem die mensdom van alle hoop om uit hul eie na God te gaan. Daar is geen manier waarop die kerk in Rome die evangelie ooit sou verstaan nie totdat hulle die werklikheid van die mens se sondigheid verstaan het nie. Daar is geen manier waarop enigeen van julle die boodskap van die evangelie sal verstaan nie, tensy julle die sondigheid van die menslike sonde verstaan. Die diepte van jul eie duisternis.
Die sonde deurdring elke kultuur, elke volk, elke man, vrou en kind wat nog ooit geleef het, vanaf bevrugting tot die dood. Dit is die grootste virus – en dit is oorerflik. As jou ouers dit het, is dit vir 100% seker dat jy dit gaan kry. Dit was waar van Adam en Eva se kinders en dit is waar van my kinders.
Die feit dat sonde en kwaad so algemeen is, is so duidelik dat selfs nie-gelowiges dit gereeld opgemerk het. Sommige mense dink dat die lewe 'n spel is, maar almal wat die morele lewe ernstig nastreef, loop hul vinnig vas in 'n muur van hul eie sondige begeertes. Alle godsdienste is gebaseer op die veronderstelling van sonde. Ons sien dit in aanhalings soos: "Om te sondig is algemeen vir alle mense." "Niemand word sonder gebreke gebore nie." "Daar sal foute wees solank as wat daar mense is." “Om te dwaal is menslik.” “Mislukking is algemeen vir almal.” Soos Muggeridge opgemerk het: “Die verdorwenheid van die mens is tegelyk die mees empiries-verifieerbare werklikheid, maar terselfdertyd die feit wat intellektueel die meeste weerstaan word.”
En dit is die prentjie wat die Skrif vir ons uitlê, veral hier in Romeine. Paulus neem ons na die hart van die sonde in Romeine 1-3. En dan maak hy in Romeine 5 die stelling dat die kern van dit alles daardie eerste sonde is, die sonde van Adam. Elke sonde daarna is net 'n uitwerking hiervan – opstand teen God. Hy gebruik nie beskrywings, veralgemenings of clichés nie. Hy sê die kern van die sonde is totale en volkome opsetlike verwerping van dit wat reg voor ons is – die werklikheid van God. Dit wat vir ons duidelik is. Ons onderdruk die waarheid wat ons ken. Daar is niemand wat op die oordeelsdag sal staan, sy skouers sal optrek en sal sê: ek het nie geweet het nie. Dit geld vir elke persoon sonder Christus. Dit het gegeld vir Abraham - Ghandi - moeder Teresa – Johannes Calvyn.
Want sien, Christene lees Romeine 1-3 soms op so ‘n manier asof dit oor iemand anders gaan. Dit gaan oor heidene en Jode. Ons val nie in daardie kategorieë nie, mag jy dalk dink. Maar dit is wel die geval. Dit gaan nie oor iemand anders nie. Dit is jou verhaal. Dit is my verhaal. Dit is die mens se verhaal. Dit is die agtergrond van die evangelie waartoe ons gered is.
En omdat dit in die aard van die mens sonder God is om te sondig, sondig ons nie net nie, maar is ons ook rasionaliseerders van die sonde. Ons sê dit is net wat ons doen; ons ontwikkel ongelooflik uitgebreide filosofiese teorieë om dit weg te verklaar. Maar God word nie bespot nie. Ons het die kennis van Hom vervals. Ons steek dit weg, ons wil dit nie weet nie. Ons ignoreer dit, en is daarom sonder verskoning.
Romeine 1 sê drie keer dat God ons oorgegee het. Sommige sê dat dit is wat sal gebeur as mense op die verkeerde pad gaan, maar dit is nie 'n waarskuwing van wat kan gebeur nie, dit is 'n verklaring van wat gebeur het – van die begin af – gaan lees net die boek Genesis vanaf na die sondeval. Dit is die beeld van die menslike sondigheid van alle mense orals. God het hulle oorgegee. God het hulle oorgegee. God het hulle oorgegee.
Dan, in vers 29, is daar 'n hele lys van sondes. Hierdie lys is nie 'n katalogus om te sien of die sondes wat jy pleeg, daarin is of nie. Hulle is daarin. Jy is hierin. Dit is is vol van alle vorms van boosheid, slegte hebsug en verdorwenheid. Sien jy jouself? Sonder Christus? Sien jy jou behoefte nog? Dit is vol van afguns, moord, twis, bedrog en kwaadwilligheid. Sien jy jouself? Sien jy die toestand waarvan jy verlos is?
Dus begin hoofstuk 2 as volg, vers 1: “Daarom is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder verontskuldiging; want waarin jy ‘n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge.” Let op hoe reguit hy is. Julle is sonder verskoning. Hy het met die kerk in Rome gepraat. Ons sien almal die gedrag van sonde en ons veroordeel veral die wêreld. Maar sodoende beoordeel ons onsself, want dit wat hulle doen, doen ons ook, wat hulle is, is ons ook. As ons oordeel, sê ons dat ons oordeel verdien! En as ons dit besef, dan kan ons tot God roep! Red ons!
En die oorsprong van al hierdie sonde is die erfsonde, soos die belydenis sê: “Dit is hierdie wortel wat in die mens allerhande sondes laat uitspruit.”
Maar die heerlike evangelie skyn in die duisternis van die sonde in ons hart in hoofstuk 3:21 en in hoofstuk 4. Dit is wonderlik dat God deur Jesus ons gered het, en net soos wat die eerste man geval en die vloek veroorsaak het, so het die tweede man gestaan en ons van die vloek verlos.
Ons Vryheid
As jy gedink het dat die nuus oor sonde slegter is as wat jy jou ooit kon indink, maak vas jou sitplekgordel vir die goeie nuus. Want die goeie nuus is by verre beter as wat die slegte nuus ooit sleg kan wees. Die Goeie oorwin altyd die bose en ons sien dit hier. In Romeine 5:12 en daarna tref Paulus ‘n vergelyking tussen Christus en Adam. En in vers 12 en daarna sê Paulus dat die genade en die lewe van Christus die sonde en dood van Adam ver oortref. Die idee van oorvloedige genade tree op die voorgrond. Kom ek verduidelik: deur een mens het die sonde, as 'n kragtige, allesoorheersende beginsel, in die wêreld gekom; op dieselfde manier het die dood na alle mense versprei, omdat almal gesondig het. In Adam is almal dood. Dit is nie net asof jy weens jou sonde gesterf het nie. 1 Korintiërs 15:22 sê dat almal in Adam gesterf het. Vanaf die oomblik dat jy gebore is, was jy dood in die sonde.
Of, soos die belydenis sê: “Dit is ‘n verdorwenheid van die hele natuur en ‘n oorgeërfde gebrek waarmee selfs die klein kindertjies in die moederskoot besmet is.” In Adam het die sonde en die dood dus, in hul verbondenheid, heerskappy oor die mensdom bereik sodat, as gevolg van die sonde van Adam, alle mense persoonlik sondaars word en almal afsonderlik sterf.
Dan vergelyk hy die manier waarop sonde gekom het met die manier waarop die genade deur Christus gekom het. Die manier waarop dinge gaan in die geval van sonde en dood, is ook die manier waarop dit gaan in die geregtigheid en lewe wat Christus verkry. Dit word aan ons toegereken. Daar is wel 'n verskil in intensiteit: die genade is meer volop en die lewe is meer kragtig, maar die manier waarop albei aan ons gegee word, is dieselfde.
In albei gevalle het dit met die oordeel van God begin. Die dood vir die sonde van die eerste Adam. Die dood vir die vloek van die sonde vir die tweede Adam. Albei het begin met die regverdige oordeel van God. Adam het nie die wet van geregtigheid volgens die wet nagekom nie, daarom is 'n regverdige, buite die wet, beskikbaar gestel. Die eerste dood was verdien, die tweede dood was onverdiend in die plek van diegene wat dit verdien het. Die een het die dood gebring, die ander geregtigheid, en die lewe word gegee. Dit is juis daarom dat ons kan bely dat: “Dit word die kinders van God ewenwel nie tot verdoemenis toegereken nie, maar deur sy genade en barmhartigheid vergewe.”
Of, in die pragtige woorde van die apostel Paulus: "… en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword; sodat, soos die sonde geheers het in die dood, so ook die genade kan heers deur die geregtigheid tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here." (Rom. 5:20-21) Dus: die genade heers!
Maar wat beteken dit? Beteken dit dat ons kan aanhou sondig? Die belydenis sê nee: "God vergewe nie sodat die gelowiges in die sonde gerus sou slaap nie, maar wel sodat die besef van hierdie verdorwenheid hulle dikwels sou laat sug in die verlange om van hierdie liggaam van die dood verlos te word.” Die apostel Paulus stem saam; net nadat hy 'n vergelyking getref het waarin hy die genade van God verklaar het in die lig van die oorspronklike sonde, gaan hy verder in hoofstuk 6 en vra: "Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word?" Hy antwoord op die sterkste moontlike manier in die Grieks. GEENSINS. GLAD NIE. Alhoewel die belydenis sê: “Dit [die erfsonde] word selfs nie deur die doop geheel en al tot niet gemaak of volkome uitgeroei nie”, beteken die doop in Christus egter die begin van die nuwe lewe. Die begin van die ewige lewe nou. Dit beteken dat diegene wat saam met Christus begrawe is (of gedoop is), ook saam met Hom opstaan in die nuutheid van die lewe.
Paulus gaan verder in Romeine 6:6-7: “aangesien ons dit weet dat ons oue mens [dit is die sondige natuur wat van Adam geërf is] saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde.” Hy gaan verder in verse 11 en 12: “ So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.”
Inderdaad, as gevolg van die werk van Jesus Christus in ons, is ons nie meer dood deur die misdade nie. Ons is lewend gemaak! Dit is waarom ons belydenis Paulus weerspieël as dit sê: “… sodat die gelowiges in die sonde gerus sou slaap nie, maar wel … sou laat sug in die verlange om van hierdie liggaam van die dood verlos te word!” Ons bely dat “die sonde aanhoudend uit hierdie verdorwenheid opborrel soos water uit ‘n giftige fontein.” En inderdaad, dit is ook waarby Paulus uiteindelik uitkom wanneer hy verder gaan in Romeine 7 en daar aan die einde sê: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!”
Dank die Here! Hy het ons nie in ons sonde laat bly nie! Hy het na ons gekom en aan ons die lewe gegee! Sy lewe! Sodat ons vir Hom kan lewe.
Dus, ten slotte: Wat is die praktiese implikasies hiervan?
- Ons is nie slagoffers van die sonde nie. Ons is oortreders van die sonde. Sonde is nie nabootsing nie, dit kom van binne. Dus, vir elkeen van ons begin die stryd binne-in ons. Moenie verskonings maak nie. Kyk na Christus, woon in Hom. Doen alles in jou vermoë om die sonde by die bron te stop – jou hart. Moenie voorgee dat jy heilig is nie, maar vra vir God om jou heilig te maak. Jou emosies en jou optrede sal verander.
- Jy is nie meer 'n slaaf van die sonde nie. Staan dus op en stry in sy opstandingskrag. Sommige mense dink dat Christenskap inhou dat jy moet ophou met alles wat jy graag doen, en dat jy alles moet doen wat jy haat. Dit is nie so nie. Dit is die ou Adam. Christenskap is 'n nuwe lewe. Nuwe begeertes. Sodat ons begin om werklik lief te hê en vreugde te vind in diens aan Christus in die alledaagse dinge. As ons gered is, sal ons stry en groei, en dan sal die heerskappy van Christus in ons meer en meer sigbaar gemaak word. Mag dit waar wees in die hele lewe.
- Solank as wat jy na Christus kyk, sal jy groei in heiligheid en terselfdertyd in kennis van die diepte van jou sonde. Op hierdie manier sal jy meer nederig, en meer heilig, word, eerder as meer eiegeregtig.
- Die erfsonde beantwoord baie van die Woord se vrae oor die kwaad. Ons het die antwoord. Jesus. Laat ons hierdie week die antwoord gee.
Amen.