God se Geregtigheid

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2020-11-01
Teks: 
NGB artikel 23
Preek Inhoud: 

Ecclesia reformata, semper reformanda (die kerk reformeer, is altyd besig om te reformeer)!  Die kerk is altyd besig om te groei en om deur die Woord van God gevorm te word.  Dit staan nooit stil, asof dit reeds sy doel bereik het nie.  Vanaand vier ons die Reformasie.  En ons kyk na verse uit die Woord van God wat die Gees gebruik het om die kerk weer terug te bring van haar eiewysheid om haar weer aan die Woord te onderwerp.

Deur die voorsienigheid van ons Vader kom ons vanaand by artikel 23, op die dag dat ons die Reformasie vier.  En vanaand wil ek in die besonder kyk na die teks wat die kern hiervan is.  Romeine 3:21 en volgende.

Martin Lloyd Jones, een van die groot predikers van die vorige eeu, het gesê dat hierdie verse die belangrikste verse in die hele Bybel is oor die Evangelie van Jesus Christus.  Dit is nogal ‘n sterk stelling om te maak.  Toe hy sy enorme werk oor Romeine geskryf het, het Lloyd Jones begin deur sy boodskap te skryf nie met hoofstuk een vers een nie, maar met hierdie verse.  Hy het geglo dat hierdie paragraaf só belangrik is vir die boodskap van die hele boek Romeine.  Ek stem saam.

Die eerste gedeelte van Romeine is Rom 1:18 – 3:20.  Hier het Paulus sy saak gestel vir die veroordeling van die hele sondige menslike geslag.  Die apostel het ‘n verdoemende saak aangevoer wat die mensdom aankla.  Tot op hierdie punt was alles wat hy in sy brief aan die gelowiges in Rome geskryf het, ‘n voorbereiding op hierdie buitengewone waarheid van regverdigmaking.

En dan is die eerste twee woorde van vers 21 “Maar nou”, wat ‘n dramatiese wending in die vloei van hierdie brief aandui.  Martin Lloyd Jones het gesê: “Prys die Here vir die ‘maars’ in die Bybel”.  “Maar nou” draai die veroordeling van die hele menslike geslag om na die regverdiging van alle gelowiges in Jesus Christus deur die genade van God.

God se Geregtigheid:

  1. God se geregtigheid
  2. Toegeëien deur geloof
  3. Christus vir ons

God se geregtigheid, nie ons s’n nie

Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo.

Om te verstaan waar ons vandag is, is dit belangrik dat Paulus tot op hierdie punt daarop gewys het dat alle mense in dieselfde bootjie is.  En daardie bootjie is op die bodem van die see.  Ons almal het in ons eie sonde en ellende verdrink.  Geskei van God, sonder hoop in hierdie wêreld!  Daar is nie een goeie siel nie. Nie een regverdige siel nie.  Hy maak dit duidelik: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.”

Ons is nie basies goed nie.  Ons is basies dood.  Luther het twee begrippe gebruik om hierdie toestand te verduidelik.  Hy het die Latynse term vir ‘wortel’ gebruik om te verduidelik dat ons vanuit ons wortels sondige wesens is.  Alhoewel ons ‘n vrye wil het, gebruik ons dit om te sondig.  Luther het ook die Latynse term ‘incurvitas’ gebruik om te verduidelik dat ons sonde ons na onsself laat draai.  Ons raak behep met onsself ten koste van die liefde vir God en ons naaste.  En dit is wat die gehoorsaamheid aan die wet doen.  Dit vra altyd: “Is ek goed genoeg om gered te word?”

Dit was Luther se dilemma.  Hy het nooit gevoel of hy goed genoeg was nie.  Hy het altyd gelees dat die regverdigheid van God sy geregtigheid was, waardeur Hy regverdigheid straf en beloon.  Maar hoe meer hy probeer het om in gehoorsaamheid aan die Wet te leef, hoe meer het hy die kennis van die sonde gevind.  Sy ervaring weerspieël Paulus s’n wanneer hy skryf:  “Aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.”  Ons is wetteloos.  Onregverdig. Goddeloos.

MAAR!  MAAR!  Daar is hoop en daardie woord gee dit vir ons!  MAAR NOU!  Ja, nou, sê Paulus.  In die tyd waarin ons leef het God aan ons die geregtigheid van God geopenbaar!  “Die geregtigheid van God is geopenbaar sonder die wet...” Dit is buiten enige werke van die wet wat ons ooit sou kon hoop om te verrig of te bereik.  Hierdie geregtigheid kan nie behaal word deur die Tien Gebooie te onderhou nie.  Om regverdig voor God te staan is iets geheel en totaal anders as om sy voorskrifte, wat God in sy geskrewe Woord bekend gemaak het, na te kom.  Glo jy dit?  Ons bring absoluut niks na die tafel nie.  Dit behoort jou vry te maak.  Soos wat Paulus sê, dit is vir vryheid dat Christus jou vrygemaak het!  Ons lewer geen bydrae tot ons eie saligheid nie, behalwe ons sonde.  Soos wat die ou gesang sê: “Ledig en met skuld belas, klem ek aan U kruishout vas.”  Wanneer ons dit diep in ons hart voel, bly daar niks anders oor as danksegging nie. Vreugdevolle absolute danksegging.  Lofprysing.  Dit is nie ek nie, maar Christus in my!

Regverdiging staan afsonderlik van die Wet.  Maar dit beteken nie dat dit onverwags is of dat die Woord van God nie daaroor praat nie.  Nee, hy sê: “terwyl die wet en die profete daarvan getuig”.  Kyk net na Genesis 15:6 waar Abraham eenvoudig geglo het en “Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.”  Of in Psalm 32 waar ons gesing het: “Welsalig wie van skuld en straf onthewe, die woord mag hoor: Jou sondes is vergewe. Want God wat groot is in barmhartigheid, het hom vergewe en skeld die skuld hom kwyt!  Welsalig, wie die HEER geen enkel stonde toereken wil die boosheid van die sonde en wie se gees van alle valsheid vry, voor God ootmoedig al die skuld bely.”  Of lees Jesaja 53.  In vers 11 staan daar: “Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hy sal hulle skuld dra.”

Geloof

Vers 22  gaan verder: “Die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo!”  Almal wat glo.  “Selfs vir my?”  Ja, vir jou.  “Maar,” sê jy, “jy weet nie wat ek gedoen het nie!” Ek gee nie om wat jy gedoen het nie, dit gaan nie oor wat jy gedoen of nie gedoen het nie.  hou op om so baie op jouself te fokus.  Dit gaan oor wat Hy gedoen het!  Dit gaan oor wat God in Christus gedoen het.  En dit is joune deur die geloof.  Glo jy dit?

God maak NET die goddeloses regverdig.  Hy regverdig nie hulle wat na Hom toe kom geklee in hul eie goeie werke nie.  Hy red hulle wat van alle hoop gestroop is.  Of jy nou ‘n morele lewe of ‘n immorele lewe lei, of jy die evangelie gehoor het of dit nog nooit gehoor het nie, of jy in die kerk opgegroei het of nog nooit by ‘n kerkdeur ingestap het nie, of jy godsdienstig of nie-godsdienstig is, dit maak nie saak wie jy is nie, jy het gesondig en dit ontbreek jou aan die heerlikheid van God.  Jy het die geregtigheid van God broodnodig om reg met God te wees.

Slegs die geloof wat jou verenig met die werk en persoon Jesus Christus kan aan ons die geregtigheid van God gee.

Wat is reddende geloof?  Dit is om jou lewe geheel en al aan Jesus Christus en sy werk toe te vertrou.  Dit is totale selfverloëning.  Om jouself te verneder.  Om op te hou probeer en eenvoudig te rus.  Dit verenig jou met Hom.  Sodat jy in Hom vir die sonde sterf en met Hom opgewek word in ‘n nuwe lewe.  Dit is meer as net kennis van God, Jesus Christus en verlossing.  Dit is meer as net emosionele gevoelens van die oortuiging van sonde en toegeneentheid tot Christus.  ‘n Halwe vertroue gaan nie help nie. Jy moet met jou hele siel totaal op Jesus Christus vertrou.

Daar is draadsitters.  Hulle wil geloof in Christus hê en hulle doop.  Of geloof in Christus en hulle kerk- lidmaatskap.  Of geloof en werke.  Of....  Jy moet al hierdie brûe agter jou verbrand, dan eers kan jy waarlik op Jesus Christus vertrou om jou te red.  Jy moet wegdraai van al hierdie ander dinge en Jesus Christus alleen omhels.

En geloof is daardie omhelsing.  Paulus maak hierdie stelling weer en weer.  Hy is ‘n herhalende prediker as dit by hierdie punt kom.  Hy wil regtig hê dat die kerk van Rome dit moet verstaan.  Hy lê die klem op geloof alleen, nie geloof en nie, maar geloof alleen.

In vers 25 skryf die apostel: “as ‘n versoening deur die geloof”.  Aan die einde van vers 26 skryf hy dat die een wat regverdig is, is ”wie uit die geloof in Jesus is.”  In vers 27 hou hy vol dat regverdiging ontvang word “deur die wet van die geloof”.  In vers 28 bevestig hy: “dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet”.  In vers 30 benadruk hy dat dit “een God is wat die besnedenes sal regverdig uit die geloof en die onbesnedenes deur die geloof”.  In vers 31 herhaal hy: “Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof?  Nee, stellig nie!”  Hierdie punt word so goed gestel dat dit nie verkeerd verstaan kan word nie.

 

In Christus

Vers 22b-24:  “Want daar is geen onderskeid nie; want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.”  Almal het gesondig.  Daar is geen onderskeid nie, ons is almal in dieselfde bootjie, onthou jy?  En elkeen in hierdie bootjie het dieselfde geleentheid om geregverdig te word deur die geskenk van sy genade.  Wonderlik!  Geregverdig deur die geskenk van sy genade!  Regverdig verklaar, deur sy volkome onverdiende guns.  Dit is ‘n geskenk.  God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het sodat elkeen (geen onderskeid nie) wat in Hom (ons geregtigheid) glo (geloof), nie verlore mag gaan nie (regverdig geoordeel word onder die toorn van ‘n volmaakte, heilige God), maar die ewige lewe kan hê (die gevolg van geregtigheid). (Joh. 3:16).

Dit alles deur die verlossing wat daar is in Christus Jesus.  Om iemand te verlos beteken om iemand teen ‘n prys te koop.  Dit is die taal van slawerny.  Dit is wat Jesus aan die kruis gedoen het; Hy het dié wat aan Hom behoort, vir ewig gekoop.  Hy het hulle verlos van slawerny.  Sy bloed is die prys wat betaal moes word vir my en jou om hierdie geskenk te ontvang.  Dit was die bloed van sy eie Seun.  Die lewe is in die bloed!  Sy bloed is ons lewe! Soos vers 25 sê: “Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof.”

Versoening is die “daad om die guns of welwillendheid van iemand of iets te verkry of te herwin”.  In hierdie geval: GOD.  Dit beantwoord een van die grootste vrae in die hele evangelie.  Hoe kan ‘n sondaar weer in God se guns aanvaar word?  Dit is ‘n goddelike dilemma.  Ons lees in vers 23: “almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.”   En in die volgende vers lees ons: “en hulle word geregverdig!”   Dit is verkeerd.  Dit kan nie wees nie!  Kyk na Spreuke 17: “Hy wat die goddelose regverdig verklaar en die regverdige skuldig verklaar, hulle altwee is vir die HERE ‘n gruwel.”   God kan nie die skuldiges ongestraf laat bly nie!  Sal die Regter van die hele aarde nie reg laat geskied nie?  Hy kan nie die goddeloses ongestraf laat bly nie, want Hy kan nie sy eie natuur ontken nie!

Stel jou voor jy gaan huis toe en jou hele familie is vermoor.  En jy sien die moordenaar weghardloop met bloed aan sy hande.  Woedend gaan jy hom agterna, jy bind hom vas en bel die polisie.  Hulle kla hom aan, neem hom hof toe. Jy gaan na die hofsaak en die regter sê: “Ek is ‘n gawe en vrygewige regter, ek gaan hom net vergewe.”  Wat sal jou reaksie wees?!  Jy sal woedend wees!  Dit is verkeerd!  ‘n Regter moet oordeel volgens die wet!  Jy gaan doen wat jy kan, jy bel die media, skryf in die koerante, appèlleer teen die besluit.  Hierdie regter is ‘n slegte en korrupte regter wat die reg verdraai.  Die samelewing kan nie so ‘n onreg verdra nie.  As dit is wat ons van aardse regters verwag, sal die Regter van die hele aarde nie reg doen nie?!

Hoe kan God regverdig wees en reg doen aan die goddelose?  Dit is die sentrale deel van die evangelie. Geen prediker mag ooit sê: “God kon regverdig wees teenoor jou, maar in plaas daarvan is Hy vol liefde.” Asof sy liefde nie regverdig is nie!  Sy liefde is volmaak en daarom is dit volmaak in geregtigheid.  Hy is REGVERDIG en doen reg aan hulle wat in Hom glo!

Hoe?  Geregtigheid moet betaal word.  Gepaai word.  Dit vereis ‘n mens met ‘n perfekte offer.  Dit vereis meer as ‘n mens om daardie geregtigheid te dra.

Dit het die Vader behaag om sy eie Seun in ons plek te verbrysel.  Die heilige Seun van God is verlaat en verbrysel deur die regter.  Neem ‘n dam wat duisend kilometer hoog is en duisend kilometer breed en breek dit!  Dit sou niks wees in vergelyking met die gewig van ons sonde wat op Hom geplaas is nie.  Wat Hom verbrysel het en nie ‘n druppel van daardie toorn teen die sonde het ons geraak nie.  Dit het die Vader behaag om Hom te verbrysel, sê Jesaja 53!  Sodat Hy regverdig kan wees en regverdig maak.

Ons lees in vers 25b: “om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God – om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is.”

Jesus Christus het dit alles gedoen.  Ons goeie werke is soos vuil vodde.  Sy geregtigheid is perfek.  En dit maak ons nederig en neem al ons roem weg, behalwe ons roem in God.

Jesus het baie oor bekering van sonde gepraat, maar Hy het net so baie oor die bekering van vertroue op goeie werke gepraat.  Bekering is om op te hou om jouself te probeer regverdig en na Jesus toe te draai.

Ek wil op niks anders vertrou nie.  As ek nou sterf, sal ek hemel toe gaan.  Nie omdat ek die nagmaal gebruik nie, of omdat ek ‘n predikant is, of omdat ek my Bybel lees nie.  Maar vanweë Hom.  En as Hy nie goed genoeg is nie, kan ek nêrens anders heen gaan nie.  Hy en Hy alleen is al waaraan ek vashou.  Verlossing kom geheel en al van God af!  Hy laat die dooies lewe.  Hy kan my verander.  Totaal!  En ek sal Hom ewig daarvoor prys.  In Christus mag ek in ‘n nuwe lewe wandel.

Hy het gesterf sodat ek hierheen kon kom om my eie begrafnis en my eie sterwe te vier, en te vier dat dit nie meer ek is wat lewe nie, maar Christus wat in my woon.  Of in die woorde van die Kategismus: Ek behoort nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, wat met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal het.

Daarom... die lewe wat ek nou leef, leef ek uit die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my gegee het!

 

What gift of grace is Jesus my Redeemer
There is no more for Heaven now to give
He is my joy, my righteousness and freedom
My steadfast love, my deep and boundless peace
 

To this I hold, my hope is only Jesus
For my life is wholly bound to His
Oh, how strange and divine, I can sing, "all is mine"
Yet not I but through Christ in me
 

The night is dark but I am not forsaken
For by my side the Savior He will stay
I labor on in weakness and rejoicing
For in my need His power is displayed
 

To this I hold, my Shepherd will defend me
Through the deepest valley He will lead
Oh, the night has been won and I shall overcome
Yet not I but through Christ in me

 

Amen.