Geloof kom tot uitdrukking in liefde

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2020-11-15
Teks: 
NGB artikel 24
Preek Inhoud: 

Geloof kom tot uiting in liefde.  Die resultaat van geloof kan niks anders wees nie as gehoorsaamheid aan die groot gebod om God en ons naaste lief te hê.  Soos Johannes sê: “Niemand het God ooit aanskou nie.  As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword.” (1 Joh. 4:12)  Ons het ‘n paar weke gelede geleer dat slegs Christus ons geregtigheid voor God is, en dat ons die geregtigheid slegs deur geloof ontvang.

Maar wat van goeie werke?  Christus regverdig niemand vir wie Hy nie ook terselfdertyd heilig nie.  Goeie werke kom voort uit geloof.  Of beter, goeie werke maak dit duidelik dat Christus in ons woon.  Dit kom voort uit Christus.  Dit is nie ‘n manier om Christus te verkry nie.  Ware liefde kom slegs nadat jy Christus leer ken het.  Ons het lief omdat Hy ons eerste liefgehad het.  Iemand bekeer hom nie om te glo nie.  Jy glo, en daarom bekeer jy jou.  Liefde vloei vanself voort uit ‘n Christus-vervulde persoon. Dit kom uit ‘n hart van vreugde en dankbaarheid wat spruit uit die ontvangs van die genade van God.

Geloof kom tot uitdrukking in liefde:

  1. Die bron van jou liefde
  2. Die rede vir jou liefde
  3. Die aanvaarding en resultaat van jou liefde

Die bron van jou liefde

Ons glo dat hierdie ware geloof in die mens voortgebring word deur die hoor van die Woord van God en deur die werking van die Heilige Gees, dat die geloof hom weergebore laat word en tot 'n nuwe mens maak.

Dit is nie maar net verbetering nie, maar transformasie wat God in ons bewerk.  Hy het jou nuut gemaak.  Jy is opgewek met Christus, en dan is dit onmoontlik om aan te hou met dit waarmee jy besig was voordat jy nuut gemaak is.  Jou dade bewys wie jy is.  Hulle maak jou nie wie jy is nie.

Dit is hoekom ons versigtig moet wees om te sê dat goeie werke dieselfde is as heiligmaking.  Goeie werke is die resultaat van heiligmaking.  Heiligmaking is die werk van die Heilige Gees binne-in ons wat uiterlik vrugte voortbring.  Daar is geen ware liefde buiten sy liefde nie.  Dit beteken dat as jy nie met die Gees van Christus vervul is nie, jy nie waarlik die wet kan gehoorsaam nie, wat opgesom word in liefde tot God en liefde vir ons naaste.

En Hy het dit gedoen.  Die werk van herskepping is die eerste werk wat God in die hart van ‘n mens doen.  Voordat hy hom bekeer, voordat hy glo.  God verander jou hart sodat jy in staat is om te glo.  In staat om jou te bekeer.  Sonder die nuwe geboorte sou dit hopeloos wees.  Jy het niks bygedra tot jou eerste geboorte nie, en ook nie tot jou tweede geboorte nie.  Die bron is God en God alleen.

Daardie nuwe lewe is gebore uit die lewe-gewende baarmoeder van die Woord van God, verwek deur die Heilige Gees.  Met ander woorde, die nuwe lewe is die produk van Christus se voltooide werk wat toegepas word op die gelowige deur die Heilige Gees.

Ons glo dat hierdie geloof “hom 'n nuwe lewe laat lei en hom van die verslawing aan die sonde bevry.

Die geloof wat deur die Heilige Gees bewerk is, bevry ‘n mens van die slawerny van sonde.  Dit beteken dat jy glo dat jou sondes geen mag het om jou te veroordeel nie.  Dit beteken dat jy na die kruis kan gaan met al jou skande en skuld en laste in jou lewe.  Dit beteken dat jy in Hom die krag het om nie te sondig nie.  Om dit te oorwin.  Om dit te beveg.  Christus vergewe jou, gee jou sy lewe, en rus jou toe met elke geestelike wapen wat jy nodig het, vir aanval en verdediging, om ‘n heilige lewe te lei.

Dit is nuwe lewe, kinders van God.  Jy is bevry uit die gevangenis om jou identiteit te vind in wat ander van jou dink, of in jou familie, jou werk, jou kerk.  Jy is vry van die slawerny om vir jouself te lewe, jou oor jouself te bekommer, aan jouself te dink, jammer te voel vir jouself.  Jy is vry!  Bevry om ‘n nuwe lewe te lei deur die krag van God.  Slegs in en deur die krag wat Hy voorsien, omdat jy jou kragteloosheid om die eerste stap te neem, bely het.  Jy sien, heiligmaking is net soveel genade as regverdiging.  In werklikheid is jou regverdiging die motivering vir heiligmaking.

Christus los niemand waar hy is die oomblik as Hy hom red nie.  Hy neem jou by die hand en lei jou soos ‘n kind van die Vader.

Die rede vir jou liefde

Daarom is daar geen sprake van dat hierdie regverdigende geloof die mens vir 'n vroom en heilige lewe onverskillig sou maak nie; inteendeel, hy sou daarsonder nooit iets uit liefde tot God doen nie, maar slegs uit liefde vir homself en uit vrees vir die verdoemenis.

As jy nie volkome gered is nie, as Christus nie alles gedoen het nie, dan sou jou goeie werke nie uit suiwer liefde wees nie, maar sodat jy iets kan verdien.  Dit is ‘n verskriklike manier van lewe.  Geen kind behoort ooit te voel dat hy sy vader se liefde moet verdien nie.  ‘n Vader het sy kind lief van die eerste dag af.  Onvoorwaardelik.  En die kind kan niks doen om daardie liefde te verdien nie.  Daardie onvoorwaardelike liefde sal, as die Here wil, die kind vorm, en die motivering tot gehoorsaamheid wees.

As jy die evangelie ontvang en dit in sy hart glo, is dit onmoontlik om nie anders te lewe nie. Dit is die beeld wat die Here so mooi in Johannes 15 skets as Hy sê: “Ek is die wynstok, julle die lote.  Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug”.  As jy aan die wingerdstok geheg is, gaan jy nie dieselfde bly nie.  Dit is onmoontlik om dan nie te groei nie.

Dit is belangrik dat jy die rede agter jou liefde verstaan.

Wat is die rede dat jy doen wat jy doen?   As ek kinders grootmaak en my diepste begeerte is dat hulle goed moet wees, sal ek die kinders laat ly en enorme druk op hulle plaas.  As my diepste rede om kinders groot te maak is dat hulle hul glorie in God vind, dan sal ek vir hulle Jesus wys in alles wat ek doen.  As my grootste rede om te werk is om vir my familie te voorsien, maak ek myself die voorsiener en nie God nie.  As my grootste rede om te werk gewoon is om God te verheerlik in die taak wat Hy my gee en Hom dank vir die middele wat Hy voorsien, sal ek my werk heeltemal anders beskou.  Nie as 'n plig nie, maar as 'n geleentheid om Jesus te wys.  Ek het niks om hier te bewys nie, maar ek kan in alles wys Wie en wat Christus is.

In werklikheid is dit die hele rede waarom ons geskape is.  ‘Goeie werke’ is die kern van God se doel met die redding van sy skepsels. "Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel." (Ef. 2:10)   Hulle behoort tot die telos - die Griekse woord vir “einde” of “doel” – van wat dit beteken om ‘n Christen te wees.  Ons is in Hom geskape vir goeie werke!

Elke aspek van ons lewe, wat verdorwe geword het in Adam, is nuut gemaak in Christus.  Daarom, as ons dit in die praktyk wil toepas, moet ons doelgerig daarna soek om te doen wat reg en behaaglik is in God se oë. Met hart, verstand en wil vernuwe deur die Heilige Gees in ons eenheid met die Seun.  Inderdaad, hoe meer ons die Woord van God hoor, hoe sterker word ons geloof en hoe meer motiveer en rig die Woord ons op 'n nuwe lewe, 'n lewe as God se kinders.

Ons bely in Sondag 32, Vraag 86:  Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is?

Antwoord:  Omdat Christus ons, nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe sodat ons met ons hele lewe bewys dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys word.  Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry, en ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus kan wen.

 

Die aanvaarding en resultaat van jou liefde

Hierdie werke is, as hulle uit die goeie wortel van die geloof voortspruit, goed en vir God welgevallig omdat hulle almal deur sy genade geheilig is.

As Christus alles gedoen het, is daar niks wat ons kan byvoeg of wegneem van sy werk nie.  Van enige goeie werke wat ons doen, kan ons slegs sê: "Ons het maar net ons plig gedoen."  En as ons werke enigsins goed genoem kan word, is dit omdat hulle voortspruit uit die Gees wat in ons woon.  Dit is dus nie nie ons wat in ons goeie werke behoort te rus nie, maar God wat bly is met ons goeie werke.

God aanvaar ons werke en beloon hulle in soverre hulle uit sy liefde voortvloei. Op ‘n manier is dit sy liefde wat terugvloei na Hom toe.  Ons het lief omdat Hy ons eerste liefgehad het.  Hy aanvaar nie ons werke as dit van ons kant af 'n poging is om sy liefde te ontvang nie.

Dit is hoekom dit so belangrik is om te verstaan dat God die bron van jou liefde is en die rede vir wat jy doen.  Soos ons belydenis sê: Op hierdie manier sou ons altyd in twyfel verkeer, heen en weer geslinger sonder enige sekerheid; en ons arme gewete sou altyd gekwel word as dit nie op die verdienste van die lyding en sterwe van ons Verlosser kon steun nie.”

Heiligmaking op sigself is niks anders nie as navolging van Christus. Ons lewe word vernuwe deur die genadige, vrye, voortdurende werk van die Heilige Gees in ons wat ons vernuwe na die beeld van Christus. En hoe meer ons soos ons Here Jesus lyk, hoe meer word Hy verheerlik.

Skuldgevoelens kom wanneer ons van Christus af wegdwaal.  Ons moet besef dat dié gevoelens 'n geskenk is wat jou na die evangelie toe dryf.  Na Christus toe.  Dit is nie bedoel dat ons vertroosting soek in ons goeie werke van kerkbywoning, Bybellees en gebed nie.  Dit dissiplineer ons sodat ons na Christus toe gedryf word, nie na onsself nie.  En ons doen dit deur ons toe te wy aan die genademiddele: die Woord, gebed en die sakramente.

Wanneer die bron van die goeie werke God is, en die rede hiervoor die evangelie is, dan sal die resultaat wees dat God hierdie goeie werke met sy gawes sal bekroon.  Ons kan nooit meer gee as wat God ons skenk nie!  In werklikheid is alles wat ons gee, reeds gegee.  En God gee nog daar bo-op as ons reageer op dit wat Hy ons reeds gegee het!  Sowel in hierdie lewe, as ons die vreugde en seën ervaar wat daarmee saamgaan as ons die werk van God doen, en in die toekomstige lewe as Hy ons binnenooi en sê: "Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel.  Gaan in in die vreugde van jou heer.” (Matt. 25:21)

Amen.