Die wet. Wat is dit? Wat is die doel daarvan? Deur die kerkgeskiedenis heen was dit ’n groot onderwerp. Vandag het ons ’n artikel wat praat oor die vervulling van die seremoniële wette, maar ek wil dit net verder deurtrek en sê dat die hele wet vervul is. Wanneer ons Matthéüs 5 lees, word dit baie duidelik.
Christus is die vervulling van die wet:
- Die vervulling
- Die doel
- Die gevolg
Die vervulling van die wet
Seremonies, simbole en wette, insluitend die feesdae, Sabbatte, die tempel, priester, koning, profeet, die rein en onrein wette, die tien gebooie en soveel meer wys na, profeteer van of simboliseer die werk en persoon van Jesus Christus. En dit is nie net hierdie seremonies en simbole nie, maar al die geskrifte: narratief, profeties, poëties, wysheid en apokalipties, in die wet, die psalms en die profete wys ook na Hom en sy werk.
Dit is sy skaduwee en sy werk wat lig werp op die verlede sodat ons regdeur die hele Ou Testament die vorm van die evangelie van Jesus kan sien. Dit is asof die Nuwe Testament die lig is wat op die Here Jesus en sy werk in die Ou Testament skyn en daardeur die presiese vorm van sy werk vir ons wys. In daardie opsig is dit vir ons belangrik om te besef dat daar geen skeiding tussen die Ou en die Nuwe Testament is nie, asof dit twee heeltemal afsonderlike, onverwante verhale is. Nee, dit is een en dieselfde verhaal. Tog is daar iets betekenisvol wat anders is. Baie verskillend. Net soos wat daar ’n enorme verskil tussen jou en jou skaduwee is. Jy is nie jou skaduwee nie. En tog is jou skaduwee in ’n sekere sin wel jy.
Daarom sê die skrywer van die boek van Hebreërs: “want die wet, wat ‘n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie...” (10:1). Of terwyl hy praat van die onderhouding van sekere feesdae, sê Paulus vir die Kolossense dat hierdie feesdae “ ’n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.” (2:17)
Of weer in Hebreërs 8:5: “hulle wat ’n afbeeldsel en skaduwee van die hemelse dinge bedien, soos Moses ’n goddelike bevel ontvang het toe hy die tabernakel sou voltooi; want Hy het gesê: Kyk dat jy alles maak volgens die voorbeeld wat jou op die berg getoon is.” Hier sien ons dat God wou hê dat die skaduwee by die werklikheid moes pas, selfs as dit by die tabernakel gekom het. Dit is asof die Ou Testament die boukundige tekening is wat presies uiteensit hoe die gebou gebou sou word en dat die Nuwe Testament die gebou self is.
Om hierdie rede is die Ou Testament met groot sorg en volkome gehoorsaamheid aan die Gees geskryf, want hulle het eintlik die verlossing wat ons in Christus sou ontvang, ondersoek. Petrus sê: “Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors, en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna. Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is—dinge waarin die engele begerig is om in te sien.” (1 Petr. 1:10-12)
Christus en sy werk is die werklikheid van dit waarop die Ou Testament wys. Die einddoel van die wet was nie die wet nie, maar Christus. Dit was Hy wat die perfekte beliggaming van God se wet vir sy volk was. Dit was Hy wat die vervloekinge van die wet op Hom geneem het en van God se teenwoordigheid verban is deur aan die vervloekte hout te hang. Daardeur het Hy ons van die wet bevry. Van sy krag van verdoemenis. Hy het gekom om die wil van die Vader te doen! Wat was die wil van die Vader? Dit is in die Ou Testament geopenbaar.
Dus, om op te som: die hoofdoel van die Ou-Testamentiese wet was om God se volmaakte heiligheid te openbaar, deurdat dit uiteengesit het wat Hy vereis, beide in terme van hoe gehoorsaamheid lyk: volmaak, en wat ongehoorsaamheid verdien: die dood en die ewige verbanning van God se teenwoordigheid. Jesus het albei vervul: in sy lewe was Hy volmaak, in sy dood het Hy die ewige toorn van God ontvang. Sodat die nuwe verbond nuut is, maar nie omdat dit iets heeltemal anders is nie. Nee, dit beteken eenvoudig wat die wet van Christus vereis het om te doen. Sodat Hy die einde van die wet kan wees, en sodat ons nie meer onder die wet hoef te leef nie, maar in vryheid.
Met dit in gedagte, verstaan ons ’n bietjie beter wat dit beteken dat Christus die vervulling van die wet is. Dit is nie asof Hy die wet afgeskaf het en iets in die plek daarvan gestel het nie. Nee. Hy het dit vervul in die sin dat Hy die einde of telos daarvan is.
Watter doel het die wet en die profete dan vir ons?
Die doel van die wet
Een van die primêre gebruike van die wet is dat dit die sondigheid van die sonde en die behoefte aan ’n verlosser duidelik maak. Of dit nou die tempel of offers is, of die wette. Hulle almal wys op die behoefte aan ’n middelaar, ’n perfekte priester en ’n perfekte offer. Ons bely dit aan die heel begin van die Kategismus in Sondag 2, waar ons gevra word: “Waaruit ken jy jou ellende?” En die antwoord is: “Uit die wet van God.” Paulus beaam dit in Romeine 3:20: “... want deur die wet is die kennis van die sonde.” Ook in Romeine 5:20, waar hy sê: “Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word...” En in Galasiërs 5:18 verklaar hy nog sterker dat die wat onder die wet is, nie onder die Gees is nie.
Toe die wet in werking getree het, het die sonde die aard van opsetlike ongehoorsaamheid aangeneem, ’n opstand teen ’n God wat Homself aan mense verbind het. Die doel van die wet was enersyds om die volkome heiligheid van God uit te lig en andersyds om die totale sondigheid en verlorenheid van die mensdom te beklemtoon. Beide dryf ons na die behoefte aan Christus.
Volkome gehoorsaamheid aan die wet was ’n vereiste vir verlossing. Dit was Paulus se twis met die Jode van sy eie tyd. Hulle het die wet veels te vlak geag. Vir hulle het dit gegaan oor die uiterlike. Dit het nie vir hulle gegaan oor die innerlike begeertes nie. Hulle het nie die diepte van God se bevele vir hulle lewens verstaan nie. Dit is wat die wet moes wys.
Ek dink ons kan met vertroue sê dat dit vandag nog steeds die geval is. Mense dink steeds dat uiterlike gehoorsaamheid genoeg is. Maar Paulus sê: nee, daar is slegs een gehoorsaamheid wat genoeg is, en dit is die gehoorsaamheid wat deur geloof in Christus kom. Of die gehoorsaamheid van Christus. Dit is vir my wonderlik dat Romeine met hierdie stelling begin en eindig. In Romeine 1:5 sê hy dat hy gestuur is “om geloofsgehoorsaamheid te verkry”. En heeltemal aan die einde in 16:26 gee hy eer aan Jesus, wat gekom het “tot gehoorsaamheid van die geloof”.
Dus, as ons na die Ou-Testamentiese wet kyk, sou ons meer korrek daarna kon verwys as die wet van Christus. Want dit is nie meer die wet van Moses nie, maar die wet van Christus wat ons gehoorsaam. In Jesaja 42:1-4 lees ons dat God se uitverkore dienskneg eendag reg op die hele aarde vestig en “die eilande wag op sy leer.” As ons hierdie gedeelte gebruik om na die Messias te verwys, kan ons dit omskryf deur te sê dat die Christus, wanneer Hy kom, God se wet aan die heidene sal leer. Jeremia 31:31-34 voorspel op dieselfde manier die koms van ’n tyd wanneer die ongehoorsame Israel ’n nuwe verbond sal ontvang, bestaande uit ’n wet wat op die hart geskryf is en daarom gehoorsaam sal word. Dit gaan daaroor dat die wet dan nie meer buite ons staan om ons te veroordeel nie, maar deur die Gees op ons harte geskryf is om ons heilig te maak. Op hierdie manier is die wet nog steeds ons riglyn, maar as iets wat binne ons is om ons te lei en nie meer as iets wat buite ons staan om ons te veroordeel nie.
Daar is ’n gehoorsaamheid onder die wet wat jou sal veroordeel, en ’n gehoorsaamheid van geloof in Christus wat jou sal red. Hoe is die twee verskillend? Hoe kan jy die verskil sien? Wel, van buite af sal jy miskien nie dadelik die verskil kan raaksien nie. Dit kan wees dat iemand wat onder die wet leef dieselfde doen as iemand wat die Gees van Christus het. Maar die een doen dit omdat Christus in hom woon, die ander uit eiegeregtigheid.
Die gevolg van die wet se vervulling in ons
Wat die wet betref, is die vraag eenvoudig: “Is dit reg of verkeerd? Is dit sondig of nie sondig nie?” En dan handel jy daarvolgens. Dit is wat die wet van ’n land doen. Daar is geen verhouding wat jou dwing om gehoorsaam te wees nie. Dit is doodeenvoudig die beloning of die straf wat jou dwing. Die polisiebeampte is nie daar om jou lief te hê nie; hy is daar om seker te maak dat jy die wet gehoorsaam. Dit is in ’n sekere sin die manier waarop die wet gedeeltelik gefunksioneer het. Ons lees hieroor in Galasiërs 3. Die langtermyn-voordele daarvan om die wet in die algemeen te gehoorsaam, is meestal goed. Net soos wat dit in die Ou Testament was. Die probleem was dat hierdie wet so hoog en volmaak was dat die mense gedurig tekort geskiet het, en dat die skuldgevoelens opgehoop het asook die skande wat daarmee gepaard gegaan het. Maar eerder as om die realiteit van hulle eie verdoemenis in die gesig te staar, het hulle die wet aangepas sodat hulle dit kon nakom, en die trots en eiegeregtigheid het toegeneem.
Toe het Christus gekom en die wet vir ons vervul. In Hom gehoorsaam ons nie die wet vanuit ’n motivering van skuld of skaamte nie, of aan die ander kant uit eiegeregtigheid nie. Dis slegs ‘n reaksie van liefde en dankbaarheid. En hoe het ons Hom lief? Deur sy gebooie te gehoorsaam. Hoe meer iemand jou lief het en hulle liefde aan jou bewys, hoe meer leef jy daaruit, en dit gee jou krag.
Daarom is die wet van God meer as net: is dit reg of verkeerd? Die vraag is eerder: Sal dit die ander persoon help om Jesus Christus beter te sien en beter te ken? Dit gaan oor die gedagte wat in dade oorgaan.
Jou eerste motivering waarom jy die pak tjips koop waarvan jou vrou so baie hou, is nie sodat jy nie skuldgevoelens sal hê as jy dit nie doen nie, maar omdat jy haar liefhet. Geloof in Christus beteken dat dit Christus is wat ons motiveer om te gehoorsaam, nie die wet nie. Ek kan die wet ’n miljoen keer lees en steeds nie daaraan gehoorsaam wees nie. Tensy jy Christus daarin sien, sal jy misluk.
Jy mag dalk vra hoekom die predikant die gehoorsaamheid aan die gebooie nie meer beklemtoon nie. Dit is omdat ek weet dat, as ek die werk van Jesus as die telos van die wet beklemtoon, jy in gehoorsaamheid sal lewe. Nie omdat dit jou plig is nie, maar uit vreugde. Nie omdat jy moet nie, maar omdat dit jou diepste begeerte is.
En jou begeertes sal duidelik word in jou dade. Want ons almal doen altyd wat ons wil. Jy sal geken word aan dit wat jy doen. Maar dit is nie jou vrugte wat jou definieer nie. Dit is Christus. Hy wil vreugdevolle gehoorsaamheid hê! Het jy jouself al ooit afgevra waarom die Nuwe Testament ons so dikwels beveel om “dankbaar” te wees of om “bly” te wees? Want as ons nie dankbaar of bly is nie, verstaan ons eenvoudig nie die evangelie nie.
As jou hele lewe dus ’n las is wat jy moet dra omdat dit van jou verwag word, is dit miskien tyd om tou op te gooi. Dan moet jy miskien opgee om werke van geregtigheid te doen wat jou leeg, twyfelend en seergemaak laat voel, en jou eerder na Jesus keer.
Sien jy hoe maklik dit is om ’n slaaf van eiegeregtigheid te word? Om gevul te wees met skuldgevoelens en skaamte dat jy nie goed genoeg is nie, of nie genoeg doen nie. Of dat jy aan die ander kant gevul is met trots dat jy goed is, of dat jy beter is as die sondaar wat drie banke voor jou sit. Of dat jy ‘n slaaf word van jou sondige natuur waar jy net jou instink volg en jou behoeftes bevredig, eerder as om vry te wees van albei hierdie dinge. Vry van alle twyfel, vry van alle skuld, vry van ons werke, want jy is in Christus, vry van die behoefte om die sonde te bevredig. Terwyl jy terselfdertyd vry is om heiligheid na te streef, vry is om Christus te volg, vry is om “nee” te sê, want die Gees verenig jou met Christus en dit is ’n Gees van selfbeheersing.
Soos 2 Timoteus 1:7 sê: “Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” Met die Heilige Gees binne-in ons is ons in staat om selfbeheersing te hê en die vrugte van die Gees te wys. As gevolg hiervan kan ons op ’n manier leef wat aan God die eer gee.
Ek verkondig aan julle gehoorsaamheid – absolute gehoorsaamheid aan die Here God; God vereis niks meer en niks minder nie. Waar vind jy dit? In Christus. Hy het vir jou gesterf, maar woon ook in jou. Ek verkondig die gehoorsaamheid van ’n kind, nie die gehoorsaamheid van ’n slaaf nie; die gehoorsaamheid van liefde, nie van angs nie; die gehoorsaamheid van die geloof, nie van vrees nie. Ek moedig jou aan tot ’n dieper geloof. Want dit sal tot gehoorsaamheid lei. Elke keer wanneer ons vader Abraham gehoorsaam was, was dit omdat hy die belofte geglo het! Is jy gehoorsaam omdat jy in Christus glo? Elke keer wanneer ek en jy ware gehoorsaamheid wys, sal dit die produk van ons geloof wees. As dit nie uit die geloof voortvloei nie – maak nie saak of jy die wêreld se grootste daad doen nie – dan is dit nie goed in die oë van God nie.
As enigeen van julle nou ongehoorsaam is, of was, dan is vertroue in God die pad na ’n beter toestand. Jy kan nie hoop om gehoorsaam te wees deur jou gedrag in ’n sekere groef of gewoonte te forseer nie; of deur ’n persoonlike, selfstandige poging om dinge op te los nie. Daar is ’n pad van vrye genade na gehoorsaamheid, en dit is om deur die geloof die Here Jesus te ontvang, wat die gawe van God en ons heiligmaking is. Ons aanvaar die Here Jesus deur die geloof, en Hy leer ons gehoorsaamheid en skep dit in ons. Hoe meer geloof jy in Hom het, hoe meer gehoorsaamheid aan Hom sal jy openbaar.
Amen.