As ek jou oor Christus se werk sou vra, waaraan sou jy dink? Jy dink waarskynlik aan sy lewe, dood, opstanding en hemelvaart. Maar het jy al ooit gedink oor wat Hy nou doen? Op hierdie oomblik? Baie van ons dink dat die werk van die Here Jesus afgehandel is. Maar dit is nie die geval nie. Jy weet mos ons het in die laaste artikels gepraat oor sy geregtigheid? Daardie werk is klaar. Nou pas Hy die voltooide werk op elkeen van sy kinders toe.
Dink byvoorbeeld aan die leer van die regverdigmaking. Dat ons ten volle gered is, en volmaak is deur die bloed van Jesus en dat daar nou geen veroordeling is vir diegene wat in Christus is nie. Glo jy dit? Wel, jy kan nou ja sê. Maar wat van môre, wanneer jy voel asof jy nie aan die verwagtinge voldoen nie, of as jy in sonde verval? Dit lyk asof die leer van die regverdigmaking weersprekend is, soos een skrywer sê: “Ons word met God reg verklaar nie wanneer ons ons sake agtermekaar kry nie, maar wanneer ons ineenstort in eerlike erkenning dat ons nooit sal kan nie.” Dit is hier waar Christus se voorbidding inkom. Dit is sy voortdurende smeking by die Vader, om Hom daaraan te herinner dat ons syne is, en om ons te verseker dat ons syne is.
Die belydenis sê: “Ons glo dat ons geen ander toegang tot God het nie as net deur die enigste Middelaar en Voorspraak, Jesus Christus, die Regverdige.”
Jesus Christus is ons Bemiddelaar en Voorspraak:
1. Hy is ons Tussenganger / Bemiddelaar (Hebreërs 7:25)
2. Hy is ons Voorspraak (1 Johannes 2: 1)
Hy is ons Bemiddelaar
Ja, Jesus Christus tree in vir elkeen wat in Hom glo. Maar wat beteken dit? Dit beteken dat 'n derde party tussen twee ander kom en namens die een party ‘n saak pleit by die ander party.
Gebed word dikwels voorbidding genoem. As jy vir iemand bid, tree jy ook vir hulle in. Maar nou is dit nie net jou vriend nie, maar Jesus self wat Hom verbind om namens jou tot die Vader te bid. Vir jou in te tree.
En Hy hou nooit op nie. Nie vir een oomblik nie. As jou gebedslewe nie is soos dit moet wees nie, is daar iemand in die kamer langsaan wat nooit ophou om vir jou in te tree nie. As jy sondig, bid Hy. As jy in die kerk is, bid Hy. As jy by die huis is, tree Hy vir jou in. By die skool, by die werk, tree Hy vir jou in. vir ewig en altyd. En hierdie gedagte kom sterk deur in die teks wat ons gelees het. Vers 16 praat van 'n “onvernietigbare lewe”. Vers 17 sê: "U is priester vir ewig." Vers 21 sê weer: "U is priester vir ewig." Vers 24: “maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit 'n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie.”
Daarom, as gevolg van dit alles, “kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.”
Jesus is nooit klaar om jou life te hê nie. Hy het jou nog steeds net so lief as toe Hy aan die kruis gesterf het. Jesus se werk op aarde het nie gestop nie; Hy is nou in die hemel en herinner ons en die Vader voortdurend aan sy voltooide werk.
Hy lewe. Nou. Hy werk. Nou. As die groot Hoëpriester. Aangestel as priester deur 'n eed. Met ander woorde, die Skrif wil nie hê dat jy enigsins die werk van hierdie Priester moet betwyfel nie. Hy is die groot Middelaar van die verbond. Die Een wat tussen God en mens inkom, wat volkome versoening bring. Hy verenig hemel en aarde. Sy werk vir jou is heeltemal voldoende. Dit is absoluut volledig. Dit is heeltemal perfek. En dit is op grond van sy eie werk dat Hy nou vir jou intree. Nie joune nie.
As Hy nog werk, was sy aardse werk dan nie genoeg nie? Nee. Dit was genoeg, en sy hemelse voorbidding bewys dit. Christus se hemelse voorbidding namens ons weerspieël die volheid, oorwinning en volledigheid van sy aardse werk. Dit beteken nie dat daar enigiets in sy aardse werk ontbreek het nie.
Soos een skrywer dit stel: “In 'n eenvoudiger taal praat Jesus nou oor wat Hy toe gedoen het.” Daarom is regverdigmaking en voorbidding so ingewikkeld verbind. Kyk byvoorbeeld na Romeine 8:33-34: “Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” Verstaan jy dit? Hy gaan direk van God wat regverdig maak, na Christus wat gesterf het en intree. Hy tree weens sy eie dood in.
Dit wys ook hoe persoonlik ons verlossing is. Dit is nie asof Hy die oorwinning behaal het in sy dood en opstanding, maar dan huiwerig is om die werk met sondaars soos ons te deel nie. Glad nie! Sy voorbidding toon dat Hy inderdaad gretig is om dit met ons te deel. Soos Bunyan sê: "niks behaag Hom meer as om dit wat Hy het, weg te gee nie...(en) dit te skenk aan die armes en behoeftiges." Die hart wat Hom aan die kruis gedra het, is die hart wat nou namens ons voor die Vader pleit.
En so kan ons ontsaglike troos vind in daardie pragtige vers: “daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.”
Red. Ons het gedurig redding nodig. Dit is nie in een keer klaar nie. Elke Christen wat enige tyd geleef het, het die bloed van Christus nodig. Van Jesus se voorbidding. Redding van wat? Alles. Hy sal tot die uiterste red. Geen litteken nie. Geen gevoelloosheid in die agtergrond nie. Geen vrees vir oordeel nie. Geen trauma nie. Hy sal tot die uiterste red. Die Griekse woord "tot die uiterste" of “volledig” is 'n woord met die betekenis: omvattend, volkome en tot die uiterste.
Wie sal Hy tot die uiterste red? Hulle wat tot Hom nader. Net omdat dit alles sy werk is, beteken nie dat jy net kan terugsit nie. Jy word opgeroep om tot God te nader, deur Hom. Bid jy? Nader jy nog tot Hom in aanbidding? Soek jy nog die gemeenskap met Hom in Sy Woord? Jy het Hom nodig. Tot die uiterste.
Ons is volkome sondaars; ons het 'n volkome Verlosser nodig. Ons is uiterste sondaars; ons het 'n uiterste Verlosser nodig. Een wat nie tou opgooi met ons na een sonde nie. Of na baie sondes nie. Een wat aanhou intree. Wat aanhou om sy werk op ons van toepassing te maak. Dag na dag. Week na week. Liewe gemeente, Hy help ons nie net nie. Nee! Hy red ons. Die verlossing wat Hy bring, is totaal. Dit is nie asof Hy gesterf het en toe gewag het dat mense sy werk sou aanvaar nie. Nee, Hy het gesterf, is opgewek, het opgevaar en het dadelik begin om sy werk op sy kinders van toepassing te maak.
Soos een skrywer dit stel: “Hy ken ons tot ons uiterste, Hy red ons tot die uiterste, want sy hart is gerig op ons tot die uiterste.”
Wie dan beter om vir ons in te tree as hierdie Een, wat “heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het”? Vir Jesus om 'n Priester te wees, moes Hy volmaak wees. Ons het so 'n Hoëpriester. Perfekte mens. Volmaakte God. God en mens is versoen in en alleen in Hom. Die Vader het niemand meer volkome lief as die Seun nie, en die Seun het diegene vir wie Hy gesterf het, volkome lief.
Ek hou van wat ons belydenis sê: “Maar hierdie Middelaar wat die Vader tussen Homself en ons aangestel het, moet ons nie deur sy verhewenheid laat terugdeins sodat ons 'n ander middelaar na ons eie insigte sou soek nie. Want daar is niemand in die hemel of op die aarde onder die skepsels wat groter liefde vir ons het as Jesus Christus nie... wie sou ons dan kon vind wat groter liefde vir ons sou hê as Hy wat sy lewe vir ons afgelê het, selfs toe ons nog sy vyande was? ... En wie sal eerder verhoor word as die eie, geliefde Seun van God?”
Een van die wonderlike dinge is dat Christus vir ons bid, selfs as dit met ons eie gebedslewe nie goed gaan nie. Dink net daaraan, soos jy hier sit, is Hy besig om vir jou te bid.
Een ding voordat ons verder gaan. Dit moet uitgewys word dat sy voorbidding nie weerspieël dat die Vader niks met ons te doen wil hê nie. Maar dit weerspieël eerder die intense liefde van die Seun. Hy is soos die ouer broer by die wedloop, wat nooit sal ophou luidkeels aanmoedig nie, maak nie saak hoe ver voor of agter sy jonger boeties of sussies is nie.
Hy is ons Voorspraak
1 Johannes 2: 1: “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.” (1983-vertaling)
“My liewe kinders”. Jy kan die liefde aanvoel. Kinders is geliefd. Maar dit is nie net kinders nie, maar liewe klein kindertjies. Kinders wat liefdevolle beskerming en sorg nodig het. En wat doen klein kindertjies soms? Hulle sondig. Maar wat doen 'n vader as sy kinders sondig, draai hy weg? Nee, hy het hulle lief, en sy hart reik uit na hulle. Hy volg hulle na die donkerste agterstrate om hulle terug te bring.
“Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie.” As hy daar sou stop, sou dit geldig wees. Maar dit sal ons verpletter. “Dat julle nie moet sondig nie.” Dit sal enige kind verpletter. Want dit is die oproep tot volmaaktheid. Die Bybel laat sak nie die standaarde wanneer dit by heiligheid kom nie. Maar terselfdertyd wys dit ook vir ons die pad na hoe om op te hou sondig, deur na Jesus te kom en vergifnis te ontvang in ons tyd van nood.
Ons het hierdie vermaning nodig om op te hou sondig. 'n Prediker moet gereeld vir die mense en ook vir homself sê dat hulle moet ophou sondig. En in die krag van die Heilige Gees wat Christus op ons van toepassing maak, kan ons 'n begin maak in heiligheid. Maar dit is net die begin. En sonde bly ons steeds teister. Ons het dus ook bevryding nodig vir wanneer ons dit doen. Ons het Christus nodig as Koning, wat absolute gehoorsaamheid vereis, maar ons het Hom ook nodig as ons Voorspraak, wat vir ons intree by die Vader wanneer ons nie gehoorsaam is nie. Ons het Hom nie net bo ons nodig nie, maar ook langs ons.
Die Griekse woord hier is parakletos. Dit klink miskien vir sommige van julle bekend. Dit is dieselfde woord wat die Heilige Gees in Johannes 14:16 gebruik, waar Jesus sê: "En Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Trooster [Advokaat, Voorspraak] gee om by julle te bly tot in ewigheid.” Hierdie woord kan ook vertaal word as berader, helper of metgesel.
En vir wie is Hy 'n Voorspraak? 1 Johannes 2:1: “... en as iemand gesondig het...” En wie is die iemand? Dit is ons almal, soos 1 Johannes 1:10 sê: "As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot 'n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.” Dus, as jy sondig, as jy hierdie week tot ‘n val kom, weet dat daar 'n Voorspraak is wat jou saak na die Vader sal neem. En Hy sal sy eie lewe op jou van toepassing maak. En sê: “Ek het vir hom gesterf. Ek leef vir hom. Hy is myne.”
Hy tree altyd vir ons in. Maar Hy pleit in die besonder vir ons as ons sondig. Een skrywer stel dit baie mooi as hy sê: “Christus as Offerlam het vir ons die prys van bloed gegee, maar dis nie al nie; Christus as Kaptein het die dood en die graf vir ons oorwin, maar dis nie al nie; Christus as Priester tree in die hemel vir ons in, maar dis nie al nie. Sonde is nog steeds in ons, en by ons, en dit meng met alles wat ons doen, of dit nou godsdienstig of burgerlik is; want nie net ons preke, en alles wat ons hoor en verkondig nie, maar ook ons huise, ons winkels, ons handelsware en ons beddens is besoedel met sonde. Die duiwel, ons vyand elke dag en nag, versuim ook nie om ons slegte dade aan ons Vader te vertel nie, en dring daarop aan dat ons hiervoor vir ewig deur Hom onterf moet word... Wat sou ons doen as ons nie ‘n Voorspraak gehad het nie; ja, as ons nie iemand gehad het wat vir ons sou pleit nie; ja, as ons nie iemand gehad het wat sou kon heers nie, en wat daardie amp getrou vir ons sou uitvoer nie? Wanneer ons sou moes sterf?”
Liewe gemeente, jy het 'n Advokaat. Dit beteken dat jy nie jou sonde hoef weg te steek nie. Of allerhande verskonings daarvoor hoef te maak nie. Of dit onder die mat invee nie, weggesteek diep in jou hart. Nee, moenie verskonings maak nie. Moenie jouself verdedig nie. Jy het ‘n Voorspraak. Jy het 'n Verdediger. Die Regverdige. Hy is jou verdediging. Neem dit na die Een wat reeds daar is. Hy het die bewyse in sy hande en voete dat Hy jou Verdediger is. Laat jou eie ongeregtigheid, in al jou duisternis en wanhoop, jou dryf na Jesus, die Regverdige.
Hy is vir jou, liewe kinders, nie as jy sonde oorwin nie, maar te midde daarvan! Satan het miskien die eerste woord, maar Christus het die laaste. As ons vasgevang is in sonde, moet ons bid. Ons moet uitroep na ons Voorspraak. Hy is nie net bereid om ons saak te pleit nie. Hy is werklik die enigste Een wat dit kan pleit.
Dit hou groot gevolge vir gebed in.
In die eerste plek kan ons weet dat ons gered sal word weens Jesus Christus. Wie in Hom glo, sal nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe hê.
Toe Jesus vir Petrus sê dat Hy Hom sal verraai, het Hy gesê: “Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid ... ” En toe Petrus val, vertroos Hy hom deur hom te verseker dat hy nie sy geloof sou verloor nie. En die rede hoekom hy nie sy geloof sou verloor nie, was dat Jesus vir hom gebid het.
Jy sien, kinders van God kan in ernstige sondes verval, maar as Jesus bid en sy werk op hulle van toepassing maak, sal hulle nie hul geloof verloor nie. In werklikheid sal dit groei namate hulle die krag van sy liefde vir hulle ervaar, en so kan ons ook ons broers en susters versterk in hul tyd van swakheid.
Indien jy 'n Christen is, bid Jesus vir jou. Ons het 'n lewende Hoop en 'n lewende Verlosser, een wat elke dag by die troon van God bid dat ons nie ons geloof sal verloor nie.
En uiteindelik moet dit ons tot gebed dryf. Moenie Hom vermy as jy skuldig en skaam voel nie. Moenie Hom vermy as jy oorweldig word deur die storms van die lewe nie. Moenie Hom vermy as jy voel dat die wêreld gebroke is, en jy nie verder kan gaan nie. Moenie Hom vermy selfs vir ‘n oomblik van ‘n enkele dag nie. Wanneer jy seergemaak voel, gefrustreerd, of gespanne, of lus voel om te skree. Bid. Bid. Totdat jy Hom sien en vrede in jou siel ervaar. Hy is daar en wag om van jou te hoor. Jou Broer, die Regverdige, die ewige Priester, die groot Middelaar van die verbond sit op die troon vir jou. Hy werk namens jou, self nou.
Gaan na Hom toe.
Amen.