God vestig ‘n heilige vergadering. Sluit aan

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2021-02-21
Teks: 
NGB artikel 28
Preek Inhoud: 

Vandag praat ons oor die kerk. Wie ons is, wie s’n ons is en hoe belangrik dit is om by die kerk aan te sluit. In 2017 het die Barna-groep, ‘n gesiene ondersoekende firma in Amerika, ‘n studie gedoen oor die groeiende aantal mense wat “Jesus liefhet, maar nie kerk toe gaan nie”. Die einste ding waarteen hierdie artikel in die Nederlandse Geloofsbelydenis waarsku. En met goeie rede. Die studie het geëindig met hierdie woorde: “[Hierdie mense se] spiritualiteit is ten diepste persoonlik – selfs privaat – met baie wat verkies om spirituele dinge vir hulself te hou.”

Die vraag is: is Christenskap privaat of openbaar? Hoort dit in die openbare sfeer, of is dit iets wat jy slegs in die privaatheid van jou eie huis praktiseer? Is Christus regtig Koning oor alles, of nie? En indien wel, het alle mense die plig om by ‘n kerk aan te sluit? Hierdie mense wat “Jesus liefhet, maar nie kerk toe gaan nie”, dink blykbaar nie so nie.

Die artikel stel: “Minder as 3 uit 10 van die “het Jesus lief, maar nie die kerk nie”-groep stem saam dat hulle ‘n verantwoordelikheid het om te evangeliseer (28%). Terwyl ‘spirituele’ onderwerpe meer of minder ter sprake kom, is die daad om mense te probeer bekeer, ‘n lae prioriteit vir hierdie groep.”

Het die Christen en die kerk ‘n morele plig teenoor die wêreld en het ALLE mense ‘n plig om by die kerk aan te sluit? Ek bedoel dan spesifiek hulle wat sê dat hulle Jesus liefhet. Ek sou so sê.

 

God vestig ‘n heilige vergadering. Sluit aan.

  1. God red ‘n heilige vergadering
  2. Elkeen se plig teenoor hierdie vergadering
  3. Elkeen se plig om toegewyd te wees

 

God red ‘n heilige vergadering

Voordat ons na die begin van die artikel gaan, wil ek julle aandag vestig op ‘n reël in die tweede paragraaf wat van kritieke belang is en uit artikel 27 vloei. Hier lees ons dat “.. dit die plig van alle gelowiges is om hulle by dié vergadering aan te sluit, waar God dit ook al gevestig het.” Dit is ‘n instelling wat God gevestig het. Die VGK Bellville is nie hier vanweë die mens se vindingrykheid of die leierskap van ouderlinge en diakens nie. Ons is hier omdat God toegelaat het dat die Evangelie van Jesus Christus wortel geskiet het in die harte van mense in hierdie plek en dat daardie Woord in mense gewerk het en geboorte gegee het aan die kerk in Bellville. En nou word die beloftes van die evangelie deurgegee van geslag tot geslag.

Hierdie is nie die kerk van die Johan nie. Of die kerk van die mense nie, dit is die Kerk van God. Dit is wat Paulus aan die kerk van Korinthe sê: “aan die gemeentes van God wat in Korinthe is, aan die geheiligdes, saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep, hulle sowel as onse Here: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!”

Dit is nie net ‘n klub nie, maar ‘n heilige vergadering. Mense wat toegewyd is aan God. Wanneer Paulus sê: “die geheiligdes”, bedoel hy hulle wat geroep is om heilig te wees. As jy heilig wil wees, moet jy aan hierdie liggaam behoort, want dit is die werkswinkel van die Een wat mense heilig maak, naamlik die Heilige Gees.

En Hy red nie net heilige individue nie, maar ‘n heilige vergadering. God red ‘n gemeenskap! Dit is uiters belangrik en glashelder deur die hele Skrif. En in ons individualistiese wêreld moet dit gepredik word. Hy red mense. Nie in die eerste plek individue nie, maar ‘n liggaam.

Die kerk is ‘n sigbare liggaam waarby jy kan aansluit. Dit is nie ‘n aanlyn gemeenskap nie. Dit is nie virtueel nie. Die kerk word sigbaar gemaak as sy vergader vir openbare aanbidding. Dit beteken nie dat sy nie die kerk is wanneer sy oor die wêreld versprei is nie. Sy bly die kerk. Net soos wat die Stormers die Stormers bly ook wanneer hulle nie in ‘n wedstryd saamspeel nie. Maar tydens die wedstryd kan jy na hulle wys en sê dat hulle die Stormers is.

Ons is na God se beeld geskape. Ons is geskape as sosiale wesens, verweef met die lewe van ander en met die dinge van hierdie wêreld, op so ‘n besondere wyse dat dit dikwels moeilik is om te weet waar die een eindig en die ander een begin. Vanweë die manier waarop die mens gemaak is, beskadig sonde ons verhoudings met mekaar en die wêreld eweveel as wat dit ons verhouding met God beskadig. As sondaars gebruik ons al ons gereedskap nie om ons skeppingsmandaat uit te voer en te bou nie, maar eerder om te vernietig.

In die lig van hoe God ons gemaak het, moet die redding vir die mens ‘n sosiale vorm aanneem, die vorm van ‘n gemeenskap. Omdat dit juis die manier is waarop ons geskape is. As Hy net enkele individue gered het en nie ‘n gemeenskap nie, sou Hy nie mense gered het soos wat Hy hulle geskape het nie. Hy sou “ego’s” gered het, maar nie skepsels wat kon praat van “ons” nie. As Hy ons van individuele sondes sou red, sonder om ons te red van die sondige manier waarop ons ander en die wêreld behandel, sou Hy ons nie gered het van die sonde nie. As God die mens tot sy reg herstel, dan moet Hy ‘n samelewing of gemeenskap vorm van dié wat gered is. En dit is presies wat Hy in die kerk gedoen het.

Dit word kragtig geïllustreer by die uitstorting van die Heilige Gees. Daar waar die mense daagliks bymekaar gekom het, het “die Here daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.” Wie is “die gemeente”? Dit is die mense wat as ‘n sigbare gemeenskap vergader het.

Hierdie wêreld vier die eie ‘ek’. Ek doen wat ek wil. Niemand kan vir my vertel wat ek moet doen nie. Daar is geen ‘ons’ nie, net ‘ek’. Dit is die breinkind van die vroeë 20ste eeuse filosowe soos Jean Paul Satre wie se filosofie “rus op die totale ontkenning van ‘ons’ as ‘n onderwerp, die totale ontkenning van gemeenskap.”

Maar God roep alle mense: nee, Hy gebied alle mense om hulle te voeg by hierdie heilige vergadering. Hy sê dit is die enigste manier om jou ware self te vind as mens wat die beeld van God reflekteer en verenig is in Christus Jesus. Nie langer ‘n strewe om God te wees nie, maar om verenig te wees in een God. Nie langer ‘n geklim op die leer van populariteit met die hulp van aanlyn platforms nie, maar om ander beter as jouself te ag. Geen mens is ‘n eiland nie. Soos Calvyn kort en kragtig gestel het: “Vir dié vir wie God ‘n vader is, moet die kerk ook ‘n moeder wees.”

Of in die woorde van ons belydenis:  Ons glo – aangesien hierdie heilige vergadering ‘n versameling is van hulle wat verlos word en daarbuite geen saligheid is nie.” Net ‘n vinnige opmerking voor ons verder gaan. Wanneer dit sê dat daar buite die kerk geen saligheid is nie, beteken dit nie dat niemand ooit gered sal word wat nie ‘n kerk besoek het nie. Maar dit beteken dat die kerk die vaartuig van redding is. God het die kerk georden om die redding vir almal beskikbaar te maak. Om die goeie nuus te predik. Wanneer jy dus gered wil word, gaan jy nie na die bos, die strand of die kudde van ‘n valse herder nie. Jy gaan na die plek waar die stem van die Goeie Herder gehoor word.

Dit is net soos wanneer jy ‘n inenting teen ‘n dodelike siekte kry. Jy gaan nie na die casino of die strand of die bos nie, jy gaan na die apteek of die dokter. Net so voeg jy jou vir die woorde van ewige lewe by die liggaam van Jesus Christus se heilige vergadering wat deur God gestig is.

 

Elkeen se plig teenoor hierdie vergadering

Ons lees: “Inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar deur hulle almal – as lede van een en dieselfde liggaam – aan sy leer en tug e onderwerp, die nek onder die juk van Jesus Christus te buig en volgens die gawes wat God aan elkeen gegee het, die broers in die opbou van hulle geloof te dien.”

Wanneer ek dit lees is daar vier dinge wat vir my uitstaan. Jy moet aansluit, verenig, onderwerp en dien, en hulle hou almal verband met mekaar. Kom ons kyk kortliks hierna. Eerstens moet jy die eerste stap in hierdie proses neem en dit is om eenvoudig aan te sluit. Hoe weet jy of jy by die heilige vergadering aansluit? Hieroor praat ons ‘n ander keer. Al wat ek nou wil sê is dat jy so lank daaroor kan nadink dat jy nooit aansluit nie. Satan wil jou graag op jou eie hê. Hy hou van skape wat nie saam met die kudde vergader nie. Hulle is maklike prooi. Hoe langer ‘n mens sonder geestelike voedsel bly, hoe meer ondervoed sal jy wees.

Daar is so baie mense wat sê dat hulle ‘n Christen is, maar nie kerk toe gaan nie. Ek is nie seker wie se definisie van ‘n Christen hulle gebruik nie, maar een van die maniere hoe Jesus sy volgelinge gedefinieer het, is dat hulle alles wat Hy beveel het, sou gehoorsaam, of dit ten minste wil doen. Om by ‘n kerk aan te sluit is die eerste stap om Jesus te volg, om ‘n dissipel te wees. Dit is die eerste stap om jouself te verloor en daardeur jouself te vind as deel van iets groters en baie mooiers.

Wanneer jy aangesluit het, kan jy begin met die proses van eenwording. En ek gebruik opsetlik die woord ‘proses’. Jy voel nie met die kerk verenig op die dag wat jy aansluit nie. Vra maar vir iemand wat onlangs by hierdie gemeenskap aangesluit het. Selfs met die beste bedoelings neem dit tyd. Dit is nie verniet dat 1 Korinthiërs 13 geduld as een van die eerste kenmerke van die liefde noem nie. Eenwording vereis ook nederigheid. Die ‘ek’ staan nie langer sentraal nie, maar die ‘ons’ – die liggaam van Christus staan sentraal. Haar welstand is onlosmaaklik verbind tot my welstand. Haar pyn word nou my pyn.

Om te verenig is ‘n proses net soos wat onttrekking ‘n proses is. Niemand onttrek sy lidmaatskap amptelik binne ‘n dag nie. Baie gebeurtenisse lei hiertoe. Net soos wat eenwording ‘n proses is, so is onttrekking ‘n proses. Dit gebeur stadig. Soos wanneer jy besef dat jou vriende aanbeweeg het en jy jou identiteit nie soseer in die gemeenskap as in jou vriende gevind het nie. Of jou verhouding met ‘n paar mense het skipbreuk gelei en julle het nooit versoen nie. Of jy voel dat jou stem nie gehoor word nie. Of jy dink dat jy nie raakgesien word nie. Waaroor het jou keuse dan in die eerste plek gegaan? Was dit om na jou voorkeure te luister, om gemeenskap met jou soort mense te geniet, om gehoor te word, óf om die stem van die Herder te hoor en jou lewe vir ander neer te lê en om hulle wat nie soos jy is nie, lief te hê?

Om jou te onttrek begin met daardie klein besluite wat jy maak. Dit kom met daardie klein gedagtetjies soos dat jy te moeg is om Bybelstudie toe te gaan. Dit is te veel moeite om mense oor te nooi. Dit is nie die moeite werd nie, want niemand let op en niemand daag op nie.

Liewe broer en suster. Daardie mense by die Bybelstudie voel ook so en hulle het jou nodig om hulle te bemoedig. Om te sê dat dit die moeite werd is. Dit is die lewe. Dit gaan nie oor my nie. Dit gaan oor Christus. Hy is my lewe. Moenie na daardie stem luister nie. Wees getrou, kom gereeld. Daar is niks wat ‘n ouderling of predikant meer opgewonde maak nie as wanneer mense teenwoordig is en hulle talente aktief gebruik. Wanneer jy voel dat jy niks het om by te dra nie, praat asseblief met jou diaken of ouderling. Jy het talente. Elke liewe een van julle. Nie om uit te staan op TV se ‘SA’s Got Talent’ nie, maar om die naam van Jesus helderder te laat skyn in hierdie gemeenskap.

Wanneer jy jouself onttrek, dan sê jy dat jy nie deel wil wees van die ewige familie, die heilige vergadering, die liggaam van Christus, die tempel van die Heilige Gees, die pilaar van waarheid nie. En daardie sentiment is in teenstelling met die verordening van God.

Om te verenig is sterker as om aan te sluit. Om te verenig beteken om jou eie voorkeure eenkant toe te skuif. Jou voor- en afkeure. Jou soort mense. Dit is ‘n eenheid waar jy die proses moet begin om jou lewe te verloor, sodat jy jou lewe kan wen. Hier sal jy mense ontmoet wat so anders as jy dink en wat jy andersins nooit sou ontmoet of  mee gepraat het nie. Mense wat jy nou sal dien en liefhê. Dit gaan nie langer oor wat ek wil hê nie, maar wat God, wat hierdie instelling gestig het, van ons verwag.

En hierdie proses van eenwording hou verband met onderwerping. Hoe word die eenheid sigbaar gemaak? Deur gehoorsaamheid aan Jesus Christus deur die instruksie en tug van die kerk. Dit is wat dit beteken om jou nek te buig onder die juk van Jesus Christus. Dit is om van Hom te leer, om die eredienste by te woon, om die gesamentlike Bybelstudie by te woon en klasse wat deur die kerk aangebied word. Dit is om die ouderlinge in jou huis toe te laat en na hulle te luister en jou laste met hulle te deel, omdat hulle oor jul siele die wag moet hou. Dit is om jou aan die ouderlinge te onderwerp, in soverre hulle Jesus navolg. Selfs as jy nie saamstem nie.

 

En laastens moet jy die talente wat God jou gegee het, gebruik. Nie langer vir jouself nie, maar ter wille van die gemeenskap. God het elkeen van julle met gawes geseën. En hierdie gawes is aan jou gegee met ‘n spesifieke doel – om gebruik te word. Nie net vir enige iets nie, maar vir die kerk. Om jou talente te kan gebruik, is dit nodig dat jy aansluit, verenig en jouself onderwerp. Jy kan nie jou talente gebruik as jy nooit in die kerk is nie.

Die kerk, ja hierdie kerk van Bellville is die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ‘n pilaar en grondslag van die waarheid. Dit is wat Paulus aan Timótheüs, wat ‘n prediker in Efése was, geskryf het, en net soos dit waar was vir die kerk in Efése, so is dit waar vir ons.  Wanneer weeskinders aangeneem word, bly hulle nie in die weeshuis woon nie, hulle kom bly by hulle familie. So is dit met ons wanneer ons aangeneem word in die huis van God, dan trek ons in by die familie. En net soos wat jy nie jou familie kan kies nie, so kan jy ook nie die familie kies waarby jy aansluit nie.

En dit maak nie saak wie jy is nie – jy word beveel om aan te sluit. Dit maak nie saak watter struikelblokke op jou pad is nie. In De Bres se tyd was dit die dood wat in die pad kon staan om aan te sluit en te verenig met die kerk. Dit is hoekom hy skryf: “hulle behoort dit te doen selfs al is die heersers en edikte van prinse daarteen en mag dood en fisiese straf dalk volg.”

En om aan te sluit is dit dalk nodig dat jy ander lojaliteite moet laat staan. Soos wat ons hierbo opgelet het, is ons almal sosiale wesens. Ons het almal ons konneksies, ons gemeenskap. Wanneer ons ons bekeer, is daar sekere bande wat verbreek moet word, sekere lojaliteite wat losgelaat moet word. Dit is wat Jesus bedoel as Hy sê: “Wie is my moeder? En wie is my broers? En Hy steek sy hand oor sy dissipels uit en sê: Daar is my moeder en my broers. Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.”

En ons belydenis eindig hierdie artikel met nog ‘n sorgvuldig bewoorde waarskuwing. Almal wat hulle van hierdie ware kerk afskei of nie daarby aansluit nie, handel in stryd met die bevel van God.

Liewe broer en suster, luister. Ja. Hierdie gemeenskap is gebroke. Dit is ver van perfek. Dit is morsig. Maar mag ek jou in alle nederigheid vra: Is dit nie die plek waar jy inpas nie? Tussen die gebroke, onvolmaakte heiliges van God, wat heilig gemaak word? Miskien is jy seergemaak in die einste plek waar jy gedink het jy genesing gaan vind. Maar daardie pyn kan nie genees word deur weg te bly nie. Dit gebeur deur gekonfronteer te word met en ander te konfronteer met daardie seer in Christus, sodat daar genesing en herstel kan wees. Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, sê die Goeie Herder. Sal jy vandag na sy stem luister en na Hom toe kom? Vandag?

 

Amen.