Die ware kerk word bestuur deur ‘n geestelike orde wat uit die Woord van God vloei. Daar is drie ampte wat hier genoem word: die dominees of predikante, die ouderlinge en die diakens.
Ons het onlangs sinode gehou. Daar is ook die klassis. Hierdie dinge word nie hier genoem nie. Hoekom nie? Want die Here Jesus Christus regeer nie sy kerk in die eerste plek deur middel van klassisse of sinodes nie, maar deur die plaaslike kerkraad. Deur die ouderlinge en die diakens. Sodat alle dinge deeglik en in orde kan geskied.
Vanaand wil ek kortliks praat oor die beginsel van aanbidding, ampte van die kerk, en dan volgende keer oor die kerklike tug.
Die ware kerk word bestuur deur die Woord:
1. Die beginsel van aanbidding
2. Die mense wat volgens die Woord gekies is
1. Die beginsel van aanbidding
Ware aanbidding is ’n innige uitdrukking van liefde, verering, bewondering, bekoring, verwondering en feesviering. Carson definieer aanbidding op die volgende manier:
“Alhoewel alle ware aanbidding op God gerig is, is Christelike aanbidding nie minder op Christus gerig nie. Bemagtig deur die Gees en in ooreenstemming met die bepalings van die nuwe verbond, word dit openbaar in ons hele lewe, en vind dit sy krag in die evangelie, wat ons verhouding met ons Verlosser-God herstel en daarom ook met ons mede-beelddraers, ons mede-aanbidders.”
Aanbidding staan sentraal in ons lewe saam; dit is die hartklop van die kerk. Dit is meer as net die prediking; dit is die sigbare familie van God, die liggaam van Christus, die tempel van die Heilige Gees, wat in eenheid saamkom om God te ontmoet onder leiers wat deur God aangestel is. In aanbidding is ons rondom die Woord vergader.
Ons vergader onder die heerskappy van die Here Jesus en volgens sy bevel. Die leierskap wat deur Koning Jesus aangestel word, lei met sy gesag. Veral wat openbare aanbidding betref. Dit is waarom ons oor die algemeen hou by die sogenaamde ‘Vasgestelde Beginsel van Aanbidding’: Die aanbidding van God moet gebaseer wees op spesifieke aanwysings uit die Skrif en ons doen slegs dit wat in die Skrif beveel word. God beveel die volgende vir aanbidding: lees van die Woord (1 Tim. 4:13), prediking (2 Tim. 4: 2), sang (Ef. 5:19; Kol. 3:16), gebed (Matt. 21:13), die doop en die nagmaal (Matt. 28:19; Hand. 2: 38–39; 1 Kor. 11: 23–26; Kol. 2: 11–12).
In al hierdie dinge is die Woord die fokus. Ons lees uit die Woord, verkondig die Woord, sing die Woord, bid in antwoord op die Woord, sien die Woord geïllustreer in die sakramente. Die Woord van Christus vul dus ons harte en gedagtes. Dit gaan hier oor Christus en sy Woord. In hierdie kerk probeer ons in alle opsigte gelei word deur die Woord. En die leiers moet dus ook in goeie orde gekies word, soos die Woord van God leer.
Dit is hoekom dit alles vir Paulus so belangrik is. Dit gaan nie daaroor dat hy omgee oor die slordigheid van hul aanbidding nie. Hy is ontsteld omdat hy weet dat ’n aanhoudende en hardnekkige weiering om die gesag van die apostoliese Skrif te erken, om voor die gesag van Christus te buig, sal lei tot meer as net verwarring, chaos en frustrasie op ’n Sondagoggend in Korinte. En chaos is die duiwel se speelplek.
As daar ’n aanhoudende lewenspatroon is van hardnekkige weiering om die knie te buig voor die gesag van God wat in sy Woord spreek, sal dit daartoe lei dat dié mens nie erken word nie, selfs nie deur die Here Jesus Christus self as Hy kom om die lewendes en die dooies te oordeel nie.
Geliefde gemeente, laat ons ons knieë buig vir sy goeie orde. Dit is iets waarmee ’n samelewing sukkel wat in opstand is teen God, maar dit is die mooiste ding as dit goed gedoen word. Dit bring eenheid, liefde, vreugde en gemeenskap.
2. Die mense wat volgens die Woord gekies is
Die slordigheid kom veral voor as die kerk hulle nie meer aan hulle leiers in die Here onderwerp nie. Hierdie woorde “in die Here” is van uiterste belang. Die leiers se gesag is afgelei van Jesus se gesag. Hulle is geroep om in Christus na Christus te lei.
Die kerk van Jesus Christus behoort aan Hom, en Hy bepaal wat in die kerk moet gebeur en hoe dit moet gebeur. Die ampsdraers kan nie die kerk vra om na hulle te luister nie, maar om na God te luister. In woord en daad moet hulle dus die wil van God, of die ware godsdiens soos Calvyn dit noem, voor die gemeentes stel. Hulle moet dit doen op ’n manier wat dit vir die kerk duidelik maak dat, as iemand hulle nie aan die tug van die kerk onderwerp nie, hulle hul nie aan Christus onderwerp nie.
Vir hierdie taak sê Paulus vir Titus: “Om hierdie rede het ek jou in Kreta agtergelaat, dat jy nog verder sou regmaak wat oorgebly het, en van stad tot stad ouderlinge sou aanstel soos ek jou beveel het.” (Tit. 1:5)
Die uitdrukking hier “van stad tot stad” laat nogal ’n indruk. Kreta was ’n klein eilandjie. Dit was ’n gunsteling oord in Paulus se tyd en sou uit baie verskillende mense bestaan het. Ons weet nie presies hoeveel dorpe die eiland in Paulus se tyd gehad het nie. Miskien ’n paar duisend of selfs ’n paar honderd. Maar Paulus dink aan elke siel wat gered moet word. En elke verloste siel moet op die pad gelei word. Groot of klein, die evangeliese lig sou daar gevestig word deur ’n plaaslike kerk wat deur ouderlinge en diakens gelei word. Dit blyk dat hier reeds weer gepraat word van die idee van ’n “kampuskerk”, waar verskillende kerke op verskillende plekke almal deur die gesentraliseerde regering bestuur word. En die mense het min dienste wat regstreeks op hierdie verskillende plekke beskikbaar is.
Hier is die titel “ouderlinge” ’n Bybelse term vir ’n geestelike leier. Oor die algemeen ouer. In werklikheid is dit ook wat die woord beteken, en dit sou die kerk goed doen om aandag daaraan te gee. Nie alle ou mense is verstandig nie en nie alle jongmense is dwaas nie, maar die waardering van die ouderdom in die Bybel word vandag grootliks verwaarloos. Ons leef in ’n kultuur van jeug. Soos een skrywer sê: “Die Bybel en selfs ander Oosterse godsdienste respekteer ouderdom omdat die ouderdom wysheid meebring.” Maar, soos ’n ander skrywer sê: “Die Westerse wêreld vandag gee oor die algemeen krediet aan die jeug wat betref wysheid en beskou die ouderdom as korrup, kortsigtig of agter die tyd.” Maar die term “ouderlinge” het “ouer mense” beteken en dit sou nie heeltemal verkeerd wees om die term as “bejaardes” te vertaal nie. Die Bybelse idee is dat ouderdom en wysheid ooreenstem. As dit die geval is, en dit is dikwels so, moet die bejaardes in ons kerk geraadpleeg word, hulle moet raadgewers wees, en hulle moet wees wat hulle is—ouderling—en as sulks kan hulle ’n raad van wysheid vorm.
Dit is waarom bejaardes so behulpsaam kan wees, want dit gaan oor die behoud en deurgee van geloof deur die geslagte heen. Deesdae dink ons minder aan behoud en meer aan vernuwing en groei. Maar in die koninkryk van Christus kom groei wanneer ons ons wortels diep in die Skrif ingrawe en die geloof, wat eens en vir altyd aan die heiliges gegee is, bewaar en daarvoor veg. Dit is nie ’n organisasie van tegnologie nie, dit is die kerk van die lewende God. Die pilaar en sturmuur van waarheid in die samelewing.
God het predikante, ouderlinge en diakens aangestel. In die Grieks was die woord vir episkipos en presbyter verwisselbaar. Daar was basies ouderlinge (episkipos/presbyter) en diakens (diakonos/dienskneg). Sommige ouderlinge het die rol van prediking aangeneem, terwyl ander meer ’n regerende rol aangeneem het. Soos Paulus vir Timoteus sê: “Laat die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer.” (1 Tim. 5:17)
En hoe word hierdie manne gekies? Hulle word gekies deur die wettige verkiesing van die kerk. Wanneer die kerkraad name voorstel, en u name indien wat vir die amp oorweeg moet word, en die verkiesing plaasvind, dan is dit nie net ’n praktiese prosedure nie, maar ook geestelik, deurdat ons glo dat God self op hierdie manier werk om hierdie manne in hierdie amp aan te stel. Ek is so dankbaar vir julle jong manne wat verlang om in die amp te dien en daarop voorberei. Ek is so dankbaar vir julle wat elke jaar ’n brief aan die kerkraad skryf om name vir die amp te oorweeg! Dit is ’n belangrike proses. Belangrik omdat die lewe van die kerk op die spel is. Valse lering en leiers wat nie in Christus is nie, kan ’n kerk doodmaak. Waar daar geen leiers is nie, raak die skape in die verstrooiing.
Dit is die rede waarom die manier waarop jy stem ook ’n saak van gebed moet wees. Ons kies nie ons vriende wat soos ons dink, vir die kerkraad wanneer ons stem of name voorstel nie. So dikwels kan ons stem vir die persoon wat volgens ons meer van ons opinies sal hou as die ander persoon. Maar dit gaan oor wie die beste pas by die dinge wat in 1 Timotheüs 3 beskryf word. Sien jy Christus in daardie persoon? Is daar wysheid wat met die ouderdom kom? Staan hy uit as ’n navolger van Christus?
En ’n leier in hierdie kerk het hom nog nooit voorgestel om verkies te word nie. Hy word deur die kerkraad voorgestel en daaroor word gestem. Op hierdie manier word ook bevestig dat dit nie hulle was nie, maar God self wat hulle tot die heilige amp deur die kerk en haar leierskap geroep het. Dit is belangrik, veral as daar moeilike tye in die amp is; hulle kan terugkyk en verseker wees dat God ook die krag sal gee vir die amp waartoe Hy hulle geroep het.
Ons is nie allereers hier omdat ons dit wou hê nie, maar omdat God dit wou hê. En dit geld vir al die manne wat as diakens of ouderlinge dien. Dit is nietemin lofwaardig om die amp te begeer en gewillig te dien onder die heerskappy van Christus. Soos Petrus sê: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde. En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang.” (1 Petr. 5:2-4) Jy doen dit nie omdat jy gedwing word nie. Jy doen dit uit vreugde vir die geleentheid om jou Koning te dien. Jy doen dit nie vir geld of eer nie, maar gretig. Nie op ’n veroordelende manier nie, maar as voorbeeld. Dit geld vir die leiers.
Wat van die gemeente? Wel, Hebreërs sê: “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.” (Hebr. 13:17) Dit is belangrik vir die gemeente om dit te besef. Sien julle Christus se leierskap in hierdie manne, of sien julle slegs die mense? As julle die mense sien, sal dit maklik wees om te mor en te kla as ’n besluit nie volgens jou sin is nie. As jy Christus sien, sien jy dat die besluit ook van Hom kom.
Gehoorsaamheid is ’n term waarvan ons selde hou. Of ons nou kinders of volwassenes is. Maar dit is sentraal aan Christen-wees. Gehoorsaamheid gee eenheid. Ignatius, wat moontlik ’n dissipel van Johannes was, skryf aan die kerk in Efese: “Geliefdes, let daarop om onderdanig te wees aan die biskop en die predikers en die diakens. Want hy wat aan diegene onderdanig is, is gehoorsaam aan Christus wat hulle aangestel het; maar hy wat diegene ongehoorsaam is, is ongehoorsaam aan Christus.” Dit weerspieël die woorde van Jesus: “Wie na julle luister, luister na My; en wie julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.” (Luk. 10:16)
Deur hierdie manne word die ware godsdiens bewaar. Soos ons lees: Hierdie manne moet “sorg dra dat die ware godsdiens onderhou, die ware leer oral versprei, die oortreders op geestelike wyse vermaan en in toom gehou en die armes en bedroefdes ook volgens hulle nood gehelp en getroos word.” Ouderlinge is hoofsaaklik verantwoordelik daarvoor om die kerk te onderrig en te regeer. Die predikant is een van die ouderlinge met ’n spesiale taak.
Die diakens gee hande en voete aan die ouderlinge se onderwysing. Hulle moedig die kerk aan om die evangelie in hulle alledaagse lewe prakties uit te leef. Sodat die kerk ’n liggaam kan wees waar elke lidmaat hulle gawes gebruik, waar mense gasvryheid betoon en vrygewigheid voortvloei uit die harte gevul met die evangelie. Hierdie oorvloed van vrygewigheid sal in die gemeenskap oorspoel. Dit gaan daaroor om nie net die goeie vir die kerk te soek nie, maar ook die goeie vir die stad! God het ons hier as bywoners geplaas om die lig van Christus in ’n donker wêreld te laat skyn. Die geskenke wat aan die kerk gegee is, is gegee sodat die kerk in die gemeenskap kan skyn!
Die ouderlinge en diakens neem saam die besluite in gebed voor die Here. Die kerkraad is nie die baas van die kerk nie; die predikant is nie die baas nie; dit het net een Here – Jesus Christus.
Verder, geliefde gemeente: Onderwerp jul aan hulle as manne van God. Luister na hulle as manne wat deur God gekies is. Wanneer hulle as ouderling of diaken na jou huis toe kom, kom hulle nie eerstens as vriend, familielid of die persoon saam met wie jy grootgeword het en van wie jy alles weet nie; hulle kom as die verteenwoordiger van die lewende Here Jesus Christus, die hoogste Koning van die wêreld. Die Hoof van die kerk.
Julle sien dat ons God nie net moet aanbid nie, maar ons moet ook God aanbid op die manier wat Hy beveel het, en Hy het ons ’n sekere orde en struktuur gegee waarin die evangelie die beste in die gemeenskap uitgeleef kan word. En dit is deur ouderlinge en diakens.
Ek eindig met ’n aanhaling van ’n man wat Paulus waarskynlik ontmoet het en aan die gemeente in Korinthe geskryf het. Dit kom van ’n predikant genaamd Clement, wat rondom die jaar 97 geskryf het: “Dit pas ons om alle dinge te doen in die regte orde, wat die Here ons beveel het ... sodat alle dinge wat vroom vir sy welbehae gedoen word, vir Hom aanvaarbaar mag wees.”
Amen.