Ons moet aan God se genade herinner word. Ons moet ook aan die evangelie herinner word. Ons geloof moet voortdurend deur God se goedheid en genade onderhou word, omdat dit altyddeur aangeval word. Die Christen roep uit: “Ek glo, kom my ongeloof te hulp!”
Daar is ’n rede hoekom die vroeë kerk bymekaar gekom het vir meer as om net die Woordverkondiging te hoor elke week, maar ook om dit deur die nagmaal geïllustreer te sien. Die sakramente vorm ons tot die liggaam van Christus, dit herinner ons aan die evangeliebeloftes, dit ondersteun ons geloof, bevestig die verkondigde Woord aan ons en verenig ons as een liggaam in Christus. Nie op ’n magiese manier nie, maar op ’n geheimsinnige manier deur die Heilige Gees. Ons het Christus nodig, en Christus beloof om deur die sakramente werklik onder ons teenwoordig te wees.
Kom ons kyk vandag na hierdie sakramente soos dit in die Nederlandse Geloofsbelydenis verduidelik word.
Die Sakramente:
- Hoekom het ons die sakramente nodig?
- Na wie wys die sakramente?
- Vir wie is die sakramente?
- Hoeveel sakramente is daar?
Hoekom het ons die sakramente nodig?
Ons bely: “Ons glo dat ons goeie God, omdat hy met ons stompsinnigheid en swakheid rekening hou, die sakramente ingestel het om sy beloftes aan ons te beseël, om tekens van sy goedheid en genade teenoor ons te wees en om ons geloof te voed en in stand te hou.” Het jy dit verstaan? Die belydenis noem jou en my stompsinnig en swak. Dominee Guido, wat dit geskryf het, was ’n eerlike dominee. Dit is nie juis hoe ons onsself gewoonlik sou beskryf nie. Maar as sondige mense is dit presies wat ons is. En deel van die rede waarom ons as Christene lief is vir die sakramente, omdat ons erken dat ons swak en stompsinnig is. Dat ons eenvoudig nie altyd alles verstaan nie. Dat ons twyfel. Dat ons onseker word. Dat ons wel sukkel. Dat ons wel wonder.
Het twyfel ingesluip? Het die sonde al so gevestig geraak dat jy skaars die wil het om te veg? Liewe kind van God, ons Here ken uit eie reg die verskriklike stryd wat moet plaasvind om versoeking en swaarkry te oorkom. En Hy wil hê dat ons Hom moet sien en sy teenwoordigheid in ons lewe sal ken. Hy is genadig en goed, onthou jy?
Dus, wil jy opstaan en weer versterk word in die geveg? Wil jy graag ‘n meer moedige Christen wees? 'n Meer uitgesproke Christen? ‘n Meer gegronde Christen? Dan moet jy jou geloof versterk! Hoe doen jy dit? Kyk na Christus. Ontvang Christus. Hoe groter jou visie van Christus is, hoe groter sal jou geloof wees. Die vraag kom dan neer op: waar bied Christus Homself aan sy mense aan? En die antwoord is: deur die prediking en die sakramente.
Staan dus op, o Christen, en let op die prediking en die sakramente. Jy het dit nodig. Berei jou hart voor om Christus te ontvang, mediteer oor sy werk vir jou en in jou tydens die prediking en sakramente, en word gevoed. Leef uit sy lewe wat in jou gevorm is. Want dit is nie outomaties nie, dit verg geloof – 'n onfeilbare kennis en vaste vertroue.
Sien jy nou waarom ons die sakramente nodig het? Die menslike natuur betwyfel natuurlik die wonderlike. Dink net aan Abraham wat 'n belofte ontvang het dat hy 'n seun sou kry op die ouderdom van amper 100. Jy kan jouself indink dat dit moeilik sou wees om te glo, nie waar nie? God het geweet dit sou moeilik wees om te glo. Daarom het God hom meer as net ‘n belofte gegee. Hy het hom ook 'n teken gegee.
Net so sê God vir jou dat jy vergewe, geregverdig, geheilig en aangeneem is as 'n seun en dogter wat die ewige lewe in Christus gekry het. God sê vir jou dat Hy jou uit die dood sal opwek soos Hy sy Seun opgewek het. Wanneer Hy hierdie ryke beloftes maak, en ons die wêreld rondom ons sien, dan sluip twyfel dikwels in ons harte, om eerlik te wees. Daarom het God in Christus vir ons die middele van genade, die Doop en die Nagmaal, gegee.
Christus het Homself verbind tot hierdie middele van genade. Daardeur belowe Hy ons dat Hy vir ons is, en dat Hy sy werk in ons sal voltooi. En Hy wil dit vir jou dubbel duidelik maak. Daarom sê die belydenis: “Hy het dit (die sakramente) by die Woord van die evangelie gevoeg om vir ons uitwendige sintuie des te beter voor te stel wat Hy aan ons deur sy Woord te kenne gee en wat Hy inwendig in ons hart doen.” Hy het die sakramente by die Woord gevoeg. Dit beteken dat die prediking eerste kom en die sakramente uit die Woord vloei.
En dit is inderdaad hoe God nog altyd gewerk het. Hy roep sy mense om eers die beloftes te glo, en voeg dan 'n uiterlike teken by sodat ons seker kan wees van die beloftes. Hy het vir Noag gesê dat daar nooit weer 'n vloed sou wees nie, en toe die reënboog as 'n waarborg vir die beloftes gegee. Hy het aan Abraham die belofte gemaak dat hy ‘n groot nasie sal word voordat hy die teken van besnydenis gegee het. Hy het bevryding uit Egipte belowe voor die teken van die Paasmaaltyd. Die Woord van God gaan altyd die uiterlike teken en seël vooraf. Dit is dieselfde met die prediking. Die Woord van God kom tot ons – en die inhoud van die Woord is Christus! Daarna word die Woord wat verkondig word voor ons oë sigbaar uitgebeeld, sodat ons in ons swakheid versterk kan word!
Hierdie sakramente kom direk van Jesus self af. Dit is asof God sê: “Oukei, so jy sê jy is nie seker oor hierdie hele ding nie. Laat ek dit vir jou illustreer en deur hierdie illustrasie met my Gees werk; laat ek ook jou geloof versterk.”
Waarom het ons dan sakramente nodig? Omdat ons die uiterlike bevestiging nodig het van die innerlike werklikheid van wie ons is. Maar net omdat dit 'n illustrasie is, beteken dit nie dat dit net soos 'n skildery teen die muur is, wat jou net aanmoedig, nie. Nee, God in Christus is werklik teenwoordig in hierdie sakramente, soos ons in die volgende punt sien.
Na wie wys die sakramente?
“Sakramente is sigbare tekens en seëls van 'n inwendige en onsigbare saak, en deur middel daarvan werk God in ons deur die krag van die Heilige Gees. Die tekens is dus nie sonder sin en sonder inhoud nie om ons te bedrieg of te mislei nie; hulle waarheid is juis geleë in Jesus Christus, sonder wie hulle geheel en al betekenisloos sou wees.” God werk in ons met die sakramente deur sy Heilige Gees. Sy teenwoordigheid is baie werklik deur geloof. Geliefdes, wil jy daar wees waar God werk? Gee aandag aan die prediking en die sakramente. Die openbare aanbidding word dikwels die Gees se werkswinkel genoem. 'n Aanbidding waarin Hy die sondaar met God in Christus deur geloof verenig.
Die sakramente is tekens en seëls van iets inwendig en onsigbaar. Met ander woorde, jy kan nie sien dat jy vergewe, geregverdig, geheilig en aangeneem is nie. Maar hierdie illustrasies wys vir jou dat jy in Christus is. En hulle wys dit nie net vir jou nie, maar hulle verseker jou en maak daardie waarheid ‘n werklikheid in jou hart.
Op hierdie manier wys die sakramente na dieselfde ding as waarna die prediking wys. Die prediking is nutteloos as Christus nie verkondig word nie, en die sakramente is nutteloos as Christus nie verkondig word nie. Want vergifnis, regverdiging, heiligheid en aanneming vind slegs in Christus plaas.
Kolossense 1:14 sê: “in wie ons die verlossing het deur sy [Christus se] bloed, naamlik die vergifnis van die sondes.” Romeine 8:1 sê: “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie.” Kolossense 1:21b-22 sê: “het Hy nou versoen in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel.” Efesiërs 1:5 : “deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as kinders sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil.”
Dit gebeur alles terwyl ons deur geloof met Christus verenig is. Dit is nie net dat Christus in die prediking en in die sakramente verkondig word nie, maar Christus is eintlik in beide teenwoordig deur geloof. Hy word in beide aangebied. 'n Verwerping of minagting van die sakramente is in 'n sekere sin dieselfde as om jou rug op Christus en sy offerande te draai.
Dit is in die sakramente dat ons eenheid met Christus ervaar. Dit is die rede waarom die doop in Christus byna elke keer genoem word wanneer die Nuwe Testament oor die doop praat (Galasiërs 3:17, Romeine 6: 3). Dit is 'n teken van ons eenheid met Hom in sy dood en opstanding. Dit is ook 'n belofte dat Hy vir ons is, en dat Hy ons uitgekies het. As dit by die nagmaal kom, is dit ook 'n teken van eenheid met Hom; soos die brood en water deel word van ons, so woon Christus in ons. Ons sal in baie meer detail hierna kyk in die volgende paar preke, maar dit is vir nou voldoende om te sê dat die inhoud van hierdie sakramente Christus is. Christus is die Een wat ons red – nie die sakramente nie, soos die Rooms-Katolieke glo. Sonder Christus sou dit niks beteken nie!
Aangesien hierdie sakramente 'n herinnering aan ons eenheid met Christus is, is dit slegs vir diegene wat deur geloof in Christus ingeënt is. Want net soos wat die sakramente niks is sonder Christus nie, so is hulle ook niks sonder 'n Geesverwerkte geloof.
Vir wie is die sakramente?
Vir wie is hulle bedoel? Hulle is vir die verbondsvolk. Die sakramente is tekens (illustrasies) en seëls (waarborge) van 'n vorige belofte van God wat 'n toekomstige vervulling het, wat totale vertroue in die hede gee. In die Ou Testament kan ons dus baie meer tekens sien, wat ons ook eintlik sakramente kan noem, want daar was baie beloftes wat nog nie vervul was nie. In 'n sekere sin was die hele tempel en die offerstelsel 'n sakrament gebaseer op beloftes uit die verlede, met 'n toekomstige vervulling wat vertroue in die hede gee. Maar dit het alles vervulling in Christus gevind. En in Christus is die beloftes van God vervul, en daarom het daar ‘n einde gekom aan die tekens van daardie beloftes. Daarom, wanneer Christus terugkeer, sal ons die sakramente nie meer nodig hê nie, want ons sal dan alles ontvang het wat daarin beloof word.
Hierdie sakramente is dus vir almal met wie God 'n verbond gesluit het. Verder is dit kenmerkende tekens van God om in die openbaar te wys wie innerlik aan Hom behoort. Die doop onderskei jou van die wêreld, en plaas jou in die verbondsgemeenskap van God. Dit identifiseer jou as verbondskind en as een wat geroep is om 'n dissipel van Christus te wees. Op hierdie manier is dit 'n uiterlike identifisering van 'n innerlike werklikheid.
Die Nagmaal is 'n openbare maaltyd wat ons Verlosser te midde van ons vyande voorberei het. Te midde van hierdie wêreld van sonde, gebrokenheid en swaarkry nooi Hy ons uit om in Hom te rus, om van Hom te geniet. Weer eens, dit definieer die kerk. Dit gaan oor die verkondiging aan die wêreld dat ons 'n afgesonderde volk is, en dit is 'n uitnodiging aan hulle om te glo en aan te sluit by hierdie gemeenskap van gelowiges wat deur die sakramente geïdentifiseer word.
Die doop onderskei ook gelowiges en hul kinders van die wêreld. Dit onderskei hulle nie net nie, maar definieer hulle en vorm hulle hopelik vir die res van hul lewe – sodat hierdie beloftes meer ‘n werklikheid word.
Die nagmaal is veral vir diegene wat selfondersoek kan en gedoen het. Vir diegene wat geloof het. Nie net vir die sterkes in die geloof nie, maar vir almal! Dit is inderdaad veral vir julle wat sukkel. Onthou die sakramente word gegee as gevolg van ons swakheid en stompsinnigheid. Twyfel. As jy midde-in die geveg staan en voel dat jy besig is om te verloor, moenie jouself onthou van die sakramente nie, maar neem deel daaraan! As jy voel dat jy die eenheid verloor wat jy vroeër met die heiliges gehad het, kom dan en word versterk in Christus. Jy sal nie op enige ander manier eenheid vind as in die bywoning van die prediking en die sakramente nie. Dink na oor wat Jesus Christus vir jou gedoen het. Weet wie jy is in Hom! God wil hê dat jy seker moet wees van die werklikheid, so seker as wat jy die brood neem en eet, proe van die wyn, en sien hoe die water gesprinkel word.
Hierdie sakramente is bedoel vir jou, liewe broer en suster, die gewone, worstelende, vegtende soldaat van Jesus Christus. Die een wat deur sy lewe gaan en herinner moet word waaroor dit alles gaan. Die een wat die krag nodig het om voort te gaan. Die sakramente is daar om hierdie geloof deur geloof te versterk. Want jy moet geloof hê om daardeur versterk te kan word.
Hoeveel sakramente is daar?
Ons het twee, en daar is goeie redes hiervoor. Hulle vloei voort uit die bevel van Christus. Hy het ons beveel om die nagmaal te vier toe Hy gesê het: “Doen dit tot my gedagtenis.” En Hy het ons ook beveel om te doop: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.” Hulle wys ook albei op die evangelie van Jesus se dood, opstanding en hemelvaart.
Dit is waarom ons twee het: want ons glo eerstens dat die sakramente deur Jesus self ingestel moet word, en tweedens dat daar ‘n opdrag moet wees dat ons dit moet vier, en derdens moet dit simbole wees wat die evangelie openbaar.
Daar is 'n verskil tussen Gereformeerde kerke, en die Rooms-Katolieke Kerk of selfs die Anglikaanse en Lutherse kerke. Ons hou ons aan 'n vorm van wat die regulerende beginsel in aanbidding genoem kan word, wat sê dat ons in aanbidding slegs mag doen wat direk in die Skrif beveel word. Aan die ander kant argumenteer ander kerke dat ons alles in aanbidding mag doen wat nie streng verbied word nie.
Daarom was daar teen die dertiende eeu Rooms-Katolieke teoloë wat geargumenteer het vir enigiets tussen twee en sewentig sakramente, alhoewel ons geen bevel van Christus daaroor het nie. Die Rooms-Katolieke Kerk het uiteindelik op sewe besluit. Maar nêrens lees ons dat Christus die sakrament van bevestiging, belydenis, uiterste salwing, huwelik en heilige bevele instel nie – die ander vyf sakramente wat die Rooms-Katolieke Kerk bygevoeg het. Katolieke teoloë erken ook die feit dat dit nie so direk in die Skrif staan nie, maar onthou dat hulle die kerk en Woord saam as gesaghebbend beskou.
Dit is baie duidelik dat twee en slegs twee sakramente deur die Here ingestel en deur die kerk in die Nuwe Testament gevier word. Hierdie twee kom telkens terug in die boek Handelinge en die vroeë kerk. Hulle kom voor in Paulus se briewe en elders. Dit geld nie vir enige van die ander wat mense beweer dat dit sakramente is nie.
Nou kan 'n mens sê: "Wat van die was van mekaar se voete?" Miskien voeg kerke dit as 'n derde sakrament by, omdat Jesus ons mos beveel om dit te doen wanneer Hy sê: "Julle moet ook mekaar se voete was." Daar is 'n paar redes waarom ons nie die was van voete as sakrament het nie. Eerstens gaan Jesus voort en sê: “Ek het julle 'n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.” Hy sê nie: “sodat julle kan doen wat Ek gedoen het” nie, maar: soos ek gedoen het. Hierdie verskil, wat ook in die Grieks verskyn, wys ons dat Jesus nie sê dat die was van voete 'n opdrag is nie, maar 'n voorbeeld wat sy dissipels moet navolg. Verder sien ons hierdie praktyk nie in Handelinge nie. Of op enige ander plek nie. Of dat dit in die vroeë tyd as sakrament beoefen word nie.
Verder kom dit nie terug as 'n gewone gebruik in die kerk nie. Die enigste ander keer waar ons dit sien, is in Timotheüs, waar Paulus praat van weduwees wat die voete van die Here se volk gewas het. Dit is nie 'n opdrag aan Timotheüs om die sakrament te bedien nie, maar 'n voorbeeld van iets wat 'n weduwee gedoen het deur haar lewe in haar eie huis, nie in openbare aanbidding nie. Dit is dus nie 'n sakrament wat aan die kerk gegee is om te bedien nie, maar as 'n voorbeeld van wat ons almal aan mekaar moet doen. Om mekaar se dienaars te wees.
Liewe gemeente, in hierdie twee sakramente het ons Christus. Laat ons daaraan vashou, en hulle benut elke keer wanneer ons die kans kry.
Bavinck sê: “As jy hulle in geloof aanvaar, besit jy die hele Christus, die volle skat van sy verdienste, volmaakte geregtigheid en heiligheid en onbreekbare gemeenskap met God. Jy is bevry van alle skuld, vrygespreek van alle straf. Hiervan is jy verseker in die Doop en word jy voortdurend versterk en bevestig in die geloof deur die Nagmaal ... deur die Woord, die Doop en die Nagmaal ontvang jy die genade wat jy nodig het in die lewe en in die dood vir tyd en ewigheid...”
In die sakramente ontvang jy die genade wat jy nodig het in lewe en dood vir tyd en ewigheid. Ontvang hulle deur geloof. Ontvang Christus.
Amen.