Dit is die dae wat God ons skenk

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2024-04-21
Teks: 
Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 9
Preek Inhoud: 

Daar is dae wat deursnee is en ander dae wat besonder is.

Hoe sou u vandag tipeer?

Is vandag ‘n deursnee dag?

Aan die een kant kan mens sê: Ja, dit is maar net nog ‘n gewone Sondag, ons gaan kerk toe soos gewoonlik, ons vier nagmaal soos altyd, dalk het u soos altyd gekuier met familie of vriende, dalk het u soos gewoonlik ‘n middagslapie gehad  ...

‘n Deursnee Sondag ...

Aan die ander kant, mens kan natuurlik ook redeneer dat vandag ‘n besondere dag is.

Sondag is die eerste dag van ‘n nuwe week.

En meer nog, ons het vandag nagmaal gevier, wat ons nie elke week doen nie.

So, dit hang maar af uit watter oogpunt mens daarna kyk.

 

Tema: Dit is die dae wat God ons skenk

1 Die ses skeppingsdae

2 Die sewende dag

3 Elke dag tot die laaste dag

 

1 Die ses skeppingsdae

Ons het vanaand ‘n Bybelgedeelte gelees waarin die woord dag herhaaldelik voorkom.

Ons lees dit veertien keer.

Die woord dag het duidelik ‘n spesiale betekenis so aan die begin van die Bybel.

Dit begin met dat God self die dag geskape het.

Hy het lig geskep en dit dag genoem.

Die duisternis, die omgekeerde van die dag, het Hy nag genoem.

En vanaf hierdie oomblik skop die patroon in, dag en nag, dag en nag, en dit tot vandag toe.

 

Vervolgens word aan ons die eerste ses dae van die geskiedenis beskryf.

Die mensheid het toe nog nie bestaan nie, maar God was aktief.

Elke dag het Hy geskep.

Die manier hoe Hy geskep het, word beperk tot die opmerking: God het gesê ...

Die HEER se Woord is skeppingskragtig ... soos ons in Psalm 33 sing (Ps 33:5 berymd).

Dit gebied lewe uit die dood.

En ook, hier in Genesis, die HERE se Woord bring dinge uit niks te voorskyn wat vervolgens bestaan.

 

Hierdie waarheid kom tot ons, nie net in Genesis 1 en 2 nie, maar uit die hele Skrif.

Dit bely ons, dit spreek ons as kerk daarom dankbaar na in ons belydenis:

Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus hemel en aarde met alles wat daarin is uit niks geskep het.

Met hierdie belydenis bely ons as gelowiges natuurlik God se almag.

Dat Hy slegs ses dae nodig gehad het.

Elke ding het verskyn sodra Hy gespreek het.

En wat Hy gespreek het, was nie ‘n lang verhaal nie, maar ‘n enkele sinnetjie, soos:

“Laat daar lig wees ...” (vers 3)

Of:

“Laat die waters wemel met ‘n gewemel van lewende wesens, en laat die voëls oor die aarde vlieg ...” (vers 20)

Of:

“Laat die aarde lewende wesens voortbring volgens hulle soorte ...” (vers 24)

Ses dae wat getuig van God se onbeperkte skeppingskrag – sy almag.

Maar ook ses dae wat getuig van God se onbeperkte wysheid.

Want, dit blyk tot vandag toe, alles was haarfyn beplan.

Nie net elke spesie en organisme op homself nie, maar ook die balans tussen alle geskape dinge, ‘n stelsel ontwerp om gesamentlik te funksioneer soos ‘n simfonieorkes.

En ses dae wat getuig van God se onbeperkte goedheid.

Aan die einde van elke dag hoor ons die konklusie dat dit goed was.

Daar was geen fabrieksfoute nie.

Op die sesde hoor ons selfs dat dit baie goed was – alles wat Hy gemaak het (vers 31).

Dus, ses dae van ongeëwenaarde almag, wysheid en goedheid.

 

Dit is die hoogtepunt waarop die geskiedenis van hemel en aarde begin.

Tussen hakies, met hemel word bedoel alles bo ons koppe.

In die Bybelse tyd is hierdie woord gebruik vir die lug waar die volke is, en die hemelliggame daarbo.

Dit is alles deur God geskape.

Die woord hemel word natuurlik ook in die Bybel gebruik vir God se woonplek.

Dit is nie in hierdie eerste ses dae geskape nie.

God is ewig, en so ook sy hemelse troonpaleis.

God bewoon ‘n ontoeganklike lig (1 Tim 6:16).

Hy is nie van die lig van die son afhanklik nie.

 

Kom ons fokus nou nader op die woordjie dag.

Hoekom het God die aarde in ses dae geskep?

Hy kon dit ook in nog korter tyd gedoen het.

Hy kon al sy Laat-daar-dit-en-laat-daar-dat-wees-uitsprake in minder as ‘n uur voltooi het.

Hy het nie ‘n minimum produksietyd nodig gehad soos ‘n masjien in ‘n fabriek wat tyd nodig het om sy taak af te handel nie.

Maar skynbaar kies God bewus vir hierdie tydsbestek van ses dae, met die sewende dag van rus daarna.

 

Deur die eeue is daar al heelwat gespekuleer oor hierdie vraag.

In teenstelling tot vandag, waar mense aan God se almag twyfel en daarom kritiek het op die ses dae, en dan beweer dat dit miljoene jare en geologiese tydperke moes gevat het vir alles om te ontwikkel soos dit nou lyk, in teenstelling hiermee was daar ook mense wat vroeër kritiek gehad het op die ses dae, maar met ‘n omgekeerde rede.

Hulle het beweer God het alles in ‘n oogwink geskape, Hy het ses dae nie nodig gehad nie.

Hulle het ook gesê, net soos die ewolusioniste vandag: Genesis 1 is maar net ‘n storie.

Nou gemeente, of mense vind ses dae was te kort of te lank, ons aanvaar die boodskap soos dit tot ons kom uit Genesis 1.

God het gekies om dit in ses dae te doen.

Natuurlik kon Hy dit anders gedoen het, niks keer sy almag nie.

Maar Genesis 1 se boodskap is duidelik.

Ses dae.

Nie ses miljard jaar, ook nie net ‘n oomblik nie.

Gewoon ses dae.

 

Die woord dag kom in die res van Genesis gereeld voor, nie net in hoofstuk 1 nie, maar ook in die latere hoofstukke.

En dan is dit in Hebreeus, in die grondteks, presies dieselfde woord.

Om maar ‘n willekeurige voorbeeld te noem:

Genesis 15:18: “Op dié dag het die HERE met Abram 'n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land”.

In die boek Genesis is daar geen enkele rede om ‘n ander betekenis aan die woord dag te gee in hoofstuk 1 as in die res van die boek nie.

 

God het gekies om alles in ses dae te skep.

So is die boodskap van hoofstuk 1.

Aan die een kant was die HERE nie gedruk vir tyd nie.

Soos ons weet uit elders in die Skrif, Hy kan ‘n dag langer maak as Hy dit nodig ag.

Dink aan Josua 10 tydens die groot veldslag van Gibeon.

Aan die ander kant was God ook nie verveeld nie.

‘n Duisend jaar is vir Hom soos een dag.

Genesis 1 is ook nie ‘n wetenskaplike artikel oor die presiese lengte van ‘n dag, in terme van 24 uur en soveel minute en soveel sekondes en soveel millisekondes nie.

Natuurlik weet God dit, maar dit was nie sy bedoeling om dit in hierdie hoofstuk te kommunikeer nie.

Selfs vandag word daar nog navorsing gedoen oor hoe lank ‘n dag eintlik regtig is, en ook of dit altyd dieselfde bly.

Daar is ondersoeke wat daarop dui dat as die aarde opwarm, die lengte van ‘n dag verander.

Met minder ys op die pole sou die aarde teen ‘n ander spoed om sy as draai.

Dit is egter nie aan die orde in hierdie hoofstuk nie.

 

Duidelik het God dus bewus ses dae gekies.

Calvyn skryf in hierdie verband in sy Kommentaar op Genesis 1:5:

“Laat ons veel eerder konkludeer dat God self die ruimte van ses dae vir Homself geneem het, met die bedoeling om sy werke te akkomodeer aan die bevattingsvermoë van die mens. Ons is so maklik geneig om die oneindige heerlikheid van God, wat hier tentoongesprei word, oor die hoof te sien.”

Inderdaad, die manier hoe God die wording van sy eie skepping beskryf in Genesis, is met die oog op die mens.

Kyk, hierdie hoofstuk gee natuurlik nie ’n volledige in detail omvattende beskrywing van die skepping nie.

Dit is ’n baie kort samevatting.

Hoe die aarde byvoorbeeld lewende wesens voortgebring het – sien vers 24 – word nie beskryf nie, maar wel dat dit gebeur het.

Tog maak dit die kort samevatting in hierdie hoofstuk nie minder betroubaar nie.

 

Dit geld ook vir die volgorde van die ses dae en wat God daarop geskep het.

Vir diegene wat die 2020-Vertaling vanaand gebruik het dit dalk opgeval dat daarin nie gepraat word oor die eerste dag, die tweede dag, die derde dag nie, maar oor ‘n tweede dag, ‘n derde dag, ‘n vierde dag, ensovoorts.

Nou hoekom hierdie verskil tussen die ou en nuwe vertaling?

Wat sê die grondteks?

As mens na die Hebreeus gaan, is dit inderdaad so dat die bepaalde lidwoord nie voorkom by dag 1 tot 5 nie.

Net by dag 6 en 7.

Tegnies grammatikaal het die 2020-Vertaling dus nie verkeerd vertaal nie.

Al is daar geen betekenisverskil nie, tog sou dit – my persoonlike mening – egter beter gewees het om te vertaal soos die 2020-Vertaling in vers 5 gedoen het: dag een, en vervolgens: dag twee, dag drie, ensovoorts.

Al ontbreek die bepaalde lidwoord, die telwoord dui duidelik daarop dat daar ‘n vaste volgorde was.

 

En na ses dae was daar ‘n volledige omvattende en vir die mens veilige leefwêreld wat voltooi was.

En daarin het alle plante en diere en mense wat vandag op aarde bestaan, hulle oorsprong gehad.

 

Kom ons kyk nou na die sewende dag.

 

2 Die sewende dag

 

Die sewende dag

Inderdaad, daar kom nog ‘n dag.

Maar dis ‘n dag met ‘n ander invulling.

‘n Dag met ‘n doel.

’n Toekomstige doel wat met die funksionering van God se skepping te make het.

Want veelbetekend kom daar ’n dag by waarop God gerus het.

God het geen rus nodig gehad nie, maar tog neem Hy rus.

Ek dink mens kan in elk geval twee redes noem hoekom God dit gedoen het.

Rus beteken geniet.

God het tyd gevat om te geniet van dit wat Hy gemaak het.

Ook staan daar: Hy het hierdie dag geseën en geheilig.

Nie dat die eerste ses dae nie geseënde dae was nie, maar tog was die sewende dag spesiaal, spesiaal apart gesit, spesiaal toegewy aan iets anders as die werksdae.

Dit in die eerste plek.

Nog ‘n rede hoekom Hy rus neem, is omdat Hy bewus ‘n voorbeeld gee, ‘n patroon skep vir sy skepping.

In teenstelling tot Hom gaan sy skepping wel rus nodig hê.

Hierdie patroon word vir die mens ingestel.

En dit gaan heel die skepping ten goede kom as die mens as heerser oor die skepping dit in praktyk bring.

Dink aan die vierde gebod:

“Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy geen werk doen nie.”

Dit geld vir jou en alle mense, maar dit geld ook vir jou vee.

Ook hulle het die rus van die sewende dag nodig.

 

So was geeneen van daardie eerste sewe dae toevallig nie.

Elkeen was haarfyn beplan.

Elke ding, plant, boom, vis, voël, dier en mens het nie toevallig ontstaan nie.

Daar was ‘n meesterbrein daaragter.

En die oomblik toe hulle geskape is, was planne ook al in plek dat hulle op aarde sal kan oorleef, selfs kan floreer.

Daarna verwys Sondag 9 ook, en ons hoop om in Sondag 10 meer in detail hierop te fokus, naamlik God se voorsienigheid.

Die gevolgtrekking is dus duidelik: Niks was toevallig nie.

En daarom volg ‘n pragtige persoonlike belydenis in antwoord 26:

Daarom vertrou ek op Hom en twyfel nie daaraan dat Hy my met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie.

 

Dit bring ons by die laaste.

Die tema is: Dit is die dae wat God ons skenk

 

Ons het gekyk na die ses skeppingsdae, die sewende dag.

Maar ook elke dag tot die laaste dag is sy geskenk.

 

3 Elke dag tot die laaste dag

 

En inderdaad, sedertdien het geen dag verbygegaan waarop God nie vir sy skepping gesorg het nie.

Vandag is dit nie anders nie.

Dankbaar bely ons dat ek op God kan vertrou.

Ek hoef van dag tot dag nie daaraan te twyfel dat Hy my met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie.

Selfs die kwaad wat nog daar is sal Hy tot my beswil verander.

Ek is veilig in sy hande.

Soos God ‘n doel gehad het met die eerste ses dae, en met die sewende dag, so is elke daaropvolgende dag vir Hom ook uniek, en het Hy beplan wat Hy op daardie dag in sy skepping wil laat gebeur.

Elke dag word daar nuwe baba’s gebore, die unieke dag wat hulle hulle verjaarsdag gaan noem.

Dit is nie toevallig nie, God se beplanning lê daaraan ten grondslag.

Jou verjaarsdag is natuurlik vir jou ‘n spesiale dag, dit vergeet jy minder gou as al die ander dae van die jaar.

Vir God is elke dag ‘n spesiale dag, want elke dag is Hy skeppend besig, en nie een daarvan sal Hy ooit vergeet nie, en nie een daarvan sal Hom oorval nie.

Inteendeel, in sy skeppingskrag en voorsienigheid bring Hy elke nuwe dag te voorskyn en alles wat daarop sal gebeur.

 

Natuurlik is daar vir God ook dae in die geskiedenis wat nog meer spesiaal uitstaan.

Dit word uit die Skrif wel duidelik.

Dit het veral te make met die koms van sy eie Seun na die aarde.

Daardie dag – die Messias se koms – is keer op keer in die Ou Testament aangekondig.

Duidelik is dit haarfyn beplan en voorberei.

“Dit is die dag deur God geskenk” – dink aan die bekende Kersgesang (Gesang 106).

En dan die dag wat ons vandag aan die nagmaal herdenk.

Toe God se Seun aan die kruis gesterf het.

Dit was die verdrietigste dag in die geskiedenis.

Maar ook daardie dag was nie ‘n mislukking nie, dit het sy doel gedien, juis daardie dag.

En drie dae later het Christus in heerlikheid uit die graf opgestaan.

En nie lank daarna het die dag gekom – ons gaan dit binnekort herdenk – dat Christus na die hemel opgevaar het, dat sy Vader Hom gekroon het as Koning oor alle konings.

“dit is die dag van grote dinge, dit glorieteken van u mag” (Ps 118:12 berymd)

En ons sien nog uit na die laaste dag.

In die Bybel word dit die “dag van Christus” genoem (2 Thess 2:2).

As God die eerste sewe dae van die geskiedenis so haarfyn beplan het, reken maar Hy doen dit ook met hierdie laaste dag.

En wie by Hom skuil, sal Hy bewaar en veilig hou tot op daardie dag.

Soos Paulus skryf aan die Filippense: “omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat 'n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (Fil 1:6).

Hy sal julle “bevestig tot die einde toe, om in die dag van onse Here Jesus Christus onberispelik te wees.” (1 Kor 1:8)

Aan Hom hou ons vas, Hy wat  beloof het:

“kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.

Amen.” (Matt 28:20)

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 19:1,2

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met sing van die Onse Vader)

1e Tafel: Genesis 1:1-2:3; Ps 33:5,11

Lofverheffing & Gebed

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 9

Preek

Ps 118:11-14

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Sb 34:1-3

Seën