Christus stort sy Gees in oorvloed uit

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2024-04-28
Teks: 
Handelinge 2:1-13
Preek Inhoud: 

Preek: Handelinge 2:1-13

 

Ons vier vandag Pinksterfees.

Behalwe vir Kersfees, is Goeie Vrydag, Paasfees, Hemelvaart en Pinksterdag die groot feeste van die Christelike kerk.

Die feit dat Hemelvaart en Pinkster nie publieke vakansiedae is nie, veroorsaak dat mense daarvan begin vergeet.

Selfs Christene.

Kom ons gebruik hierdie Sondag om almal uit te nooi om hierdie fees saam met ons te vier!

 

Tema: Christus stort sy Gees in oorvloed uit

 

Op Pinksterdag gaan God se ou belofte in vervulling.

Die Heilige Gees word uitgestort.

Die geluid van ’n kragtige stormwind het die huis gevul waar hulle bymekaar was.

Daar was vuurvlamme sigbaar op die koppe van die apostels, sonder dat dit hulle geskroei het.

In vuur en vlam begin hulle te praat.

Almal was buite hulleself van verwondering toe hulle dit hoor.

Vers 11: Ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God praat!

 

Die mense wat daar bymekaar was, was vernaamlik Jode, al het hulle verskillende tale gepraat.

Hulle het naamlik van oraloor in die wêreld na Jerusalem gereis, spesifiek om die groot feeste by te woon.

Sedert die ballingskappe van die Ou Testament het daar baie Jode in die buiteland gewoon, selfs meer as in Israel.

Al was hulle Jode, het hulle die tale van hulle geboorteland gepraat, lande soos Mesopotamië, Kappadocië, Pontus, Asië, Libië, Pamfilië, Egipte, ensovoorts.

 

Nou hoor hulle skielik hoe die apostels in hulle eie taal praat.

Hoekom?

Die Heilige Gees wou hê dat elkeen daar aanwesig die nuus hoor in hulle eie taal.

Die apostels self het waarskynlik van huis uit Aramees gepraat.

Dit is ’n taal wat baie naby aan Hebreeus lê.

Die Hebreeus wat in die Ou Testament gepraat is, byvoorbeeld in die tyd van koning Dawid, was in die tyd toe Jesus op aarde was nie meer in gebruik nie.

Dit was net nog bekend uit geskrewe tekste, soos die boeke van die Ou Testament.

Net soos byvoorbeeld Afrikaans en Nederlands ook naby aan mekaar lê, maar Nederlands nie meer in Suid-Afrika gepraat word nie.

In Jesus se tyd op aarde het die Jode dus Aramees gepraat.

Daarnaas kon baie mense ook Grieks praat, wat die internasionale taal van daardie tyd was, soos Engels vandag is.

Maar die ander tale waarvan ons hier lees was vir hulle volledig onbekend.

As die apostels dit sou wou praat, moes hulle dit aanleer, wat jare sou duur.

’n Vreemde taal aanleer is ’n proses wat tyd en uithouvermoë verg, dis nie iets wat mens sommer tjop tjop kan doen nie.

Wat ’n wonder is dit daarom dat die apostels nou ineens al hierdie vreemde tale kon praat!

Die een het skielik Egipties gepraat,

Die ander een Libies, of Kappadosies, of Mesopotamies.

Maar almal het in elke taal dieselfde boodskap gebring.

Dit was die Evangelie, die goeie nuus!

Al die omstanders het die Evangelie, die goeie nuus oor Jesus se opstanding uit die dood, in hulle eie taal gehoor.

 

Daar was egter sommiges wat ’n grap daarvan gemaak het.

Sommiges, staan in vers 13, het gespot.

Hierdie apostels het heeltemal uitgehak, hulle is vol soetwyn!

En dis nog maar oggend!

Inderdaad, as iemand te veel wyn gedrink het, kan jy nie verstaan wat hy sê nie.

Maar hier was dit allermins die geval.

Want in alle nugterheid het die apostels vertel oor die groot dade van God.

En dit nie net in hulle eie moederstaal nie.

Dit was nou juis die groot wonder.

Die Heilige Gees het aan hulle die vermoë geskenk om die Evangelie te verkondig in meerdere tale.

Soos gesê, daar was ook baie feesgangers uit die buiteland.

Verder het sommige buitelandse Jode vir hulle oudag in Jerusalem kom woon.

Maar hulle het dan nog hulle eie taal bly praat.

Dit is bekend dat daar in die stad Jerusalem verskillende sinagoges was.

In die boek Handelinge (6:9) word byvoorbeeld melding gemaak van ’n sinagoge van die Cireneërs, ’n sinagoge van die Alexandryne, ’n sinagoge van die Jode uit Cilicië, en ’n sinagoge van die Jode uit Asië.

Al hierdie verskillende mense is deur die apostels toegespreek in die taal van hulle geboorteland.

Die Heilige Gees het na hulle uitgereik in hulle eie moedertaal.

Want, dit is die belangrikste van ons teks:

Hier doen die Heilige Gees ’n wonder!

Hy word deur Christus uitgestort, Hy aktiveer die apostels.

Hulle is getaak om die Evangelie te versprei.

Dit is die kader waarbinne hierdie wonder plaasvind.

Die Heilige Gees verrig ’n wonder met die doel sodat die Evangelie kan versprei.

Nie sommer net ’n wonder nie, maar ’n baie effektiewe wonder!

Want watter wonder kon die Heilige Gees op daardie oomblik beter verrig het as hierdie wonder!

 

Want nogmaals, wat het die apostels eintlik gesê in al daardie tale?

Dit is wat vers 11 beskryf: Ons hoor hulle oor die groot dade van God praat in ons eie taal!

’n Bietjie later sien ons, vanaf vers 14, hoe die leier van die geselskap, Petrus, alleen die woord begin voer.

Petrus hou dan ’n preek oor die groot dade van God.

Dus, nogmaals, wat het die apostels in die vreemde tale gesê?

Presies dieselfde as wat Petrus in sy Pinksterpreek gesê het, en dit kan ons lees hier in die Bybel.

Dit het gegaan oor die groot dade van God, wat Hy hier op aarde deur sy Seun Jesus Christus gedoen het.

 

‘n Wonder, sodat elkeen aanwesig elke woord kon verstaan.

Daarna kon hulle in hulle eie taal hulle geloof bely en gedoop word.

So het die verhoogde Christus gesorg vir die verspreiding van die Evangelie.

Met hierdie wonder het dit sommer vinnig momentum opgetel.

Christus het deur sy Gees sy kerk gebou, beginnende in Jerusalem.

Met die doel, soos wat Jesus vir sy dissipels gesê het kort voor sy hemelvaart, dat die getuienis sal uitgaan, vanaf Jerusalem, deur Judea, Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.
Die feit dat ons vandag hier in die kerk sit aan die suidpunt van Afrika, is ’n bewys daarvan dat dit gebeur het.

En die feit dat mense hierdie erediens in hulle eie taal oor die radio kan volg.

 

Nou is daar mense wat vra: Kom hierdie taalwonder nog steeds voor?

Gebeur dit vandag nog steeds?

Wel, ek was ’n sendeling en dit het my ’n paar jaar gevat om Noord-Sotho te leer, en nog steeds praat ek dit nie soos my moedertaal nie.

Kom ek deel met u wat die kerkvader Augustinus hierdie gesê het.

Hy het ongeveer 400 jaar na Christus geleef.

Die kerkvader Augustinus het die volgende gesê.

In elke tyd gee Christus wat nodig is vir sy kerk.

Die Pinksterwonder van die praat in baie tale het oorgegaan in die werklikheid van ‘n veelheid van tale in die kerk.

Kom ek herhaal dit.

Die Pinksterwonder van die praat in baie tale het oorgegaan in die werklikheid van die veelheid van tale in die eenheid van die kerk.

Wat het Augustinus hiermee bedoel?

Dit: Op Pinksterdag was daar net ’n klein klompie apostels.

Christus het hulle in staat gestel om vanaf dag 1 te begin preek in allerhande tale, sodat hulle so gou moontlik op pad kon gaan.

Maar in Augustinus se tyd was die kerk al gevestig in baie lande.

En in elke land se taal was daar al predikers wat elke Sondag die Evangelie verkondig het.

 

Dit is vandag natuurlik nog steeds die geval.

Vandag werk die Heilige Gees nog steeds kragtig.

’n Veelheid predikers, wat elkeen in sy eie taal die Evangelie bedien.

Christus se kerk is nou in die bevoorregte posisie dat dit bestaan uit duisende der duisende, miljoene mense.

Elkeen glo in sy eie taal.

Daar is predikers in elke taal.

Daar is ook mense wat steeds nuwe tale aanleer, juis om met die Evangelie uit te reik na nuwe groepe.

Die feit dat daar veral die afgelope twee eeue duisende sendelinge na die Afrika kontinent gekom het,

die feit dat die Bybel in die tale van Afrika vertaal is,

dit is alles ’n voortsetting van die Pinksterwonder.

Ons in Afrika kan Christus nie genoeg hiervoor dankbaar wees nie.

Die Bybel was byvoorbeeld in Xhosa en Zoeloe vertaal al lank voordat dit in Afrikaans vertaal is.

So het Christus Hom ook oor Afrika ontferm.

Die Gees werk, Christus se kerk brei steeds uit.

 

Broer, suster, is jy deel van die Pinksterwonder?

Leef jy jou geloof met woorde en dade?

Bely jy jou Heiland, praat jy vrymoedig oor Hom, in jou gesin, familie, met jou kinders en kleinkinders, op jou werk, op skool, in die winkel, by die petrolstasie, waar jy ook al is?

Die Heilige Gees werk ook deur jou!

En ook vandag werk die Gees in mense se harte om nuwe tale te leer.

Dit was nog maar redelik onlangs – in 1997 – toe die Bybel die eerste keer volledig in elkeen van Suid-Afrika se amptelike tale vertaal is.

En nog steeds word die Bybel elke jaar weer in nuwe tale vertaal.

Hier in Afrika, en in ander dele van die wêreld.

Plus, soos ons weet, tale bly nooit dieselfde nie.

Afrikaans vandag is heel anders as ’n eeu gelede.

Dis ook ’n geskenk van die Gees as die Bybel na soveel jaar opnuut in ’n taal vertaal word.

 

Ons vier Pinksterfees.

Ons vier die uitstorting van die Heilige Gees.

Ons vier dankbaar sy voortgaande werk, ook vandag.

Deur die Evangelie werk Hy ook in ons tyd, doen Hy wonders in sondaars se lewens.

 

Kom ons sing nou in antwoord op die prediking:

“Ek geloof, met stil’ aanbidding,

in die Heil'ge Gees wat my

in my sondedood gewek het,

my as Trooster leer en lei.”

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 96:1

Wet

Gebed

Skriflesing: Handelinge 2:1-13

Sb 14:1,2

Teks: Handelinge 2:1-13

Preek

Sb 27:4

Gebed

Kollekte

Seën