Vanuit die hemel skenk Christus ‘n lewe wat geheel anders is

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Pretoria en Maranata
Datum: 
2024-05-09
Teks: 
Efesiërs 4
Preek Inhoud: 

Preek: Efesiërs 4:20

 

Na Christus se hemelvaart het die apostels sy opdrag begin uitvoer.

Paulus is later by die apostels bygevoeg, nadat Christus vanuit die hemel aan hom verskyn het.

Hulle het die Evangelie gepreek aan Jode en heidene, dit moes gaan, soos Christus beveel het, tot die uiterste van die aarde.

Want vanuit die hemel is Hy besig om ‘n koninkryk sonder grense te vestig.

Alles is aan Hom gegee, en eendag sal alles aan Hom onderwerp wees.

 

Ons het ‘n gedeelte uit Handelinge gelees oor die impak wat die Evangelie in Efese gehad het.

Daar het ‘n gemeente van Christus ontstaan, te midde van ‘n oormag van heidendom en afgodsdiens.

Tog het Christus sy gemeentetjie beskerm.

Hulle mog met nuwe oë na die lewe kyk, naamlik dat eendag hierdie tempel van die godin Diana tot niet sal gaan, maar die gemeente van Christus vir altyd stand sal hou.

Wie vandag in Turkye kom, daar waar die stad Efese ooit was, sal op die plek waar Diana se tempel gestaan het, slegs een of twee pilare vind wat oorgebly het.

            

Tema: Vanuit die hemel skenk Christus ‘n lewe wat geheel anders is

  • Hy deel geskenke uit
  • Hy beveel om die geskenke te gebruik

 

  • Hy deel geskenke uit

Die eerste deel van Efesiërs 4 verwys na Christus se hemelvaart.

Met sy hemelvaart het Hy nie net verdwyn nie.

Dit het direk geblyk dat Hy in die hemel ‘n baie invloedryke posisie het.

Met die gevolg dat sy volgelinge baat vind daarby.

Paulus beskryf dit deur na Psalm 68 te verwys.

Vers 8: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee.

Psalm 68 verwys hier na ‘n ou gebruik in die tyd van die Ou Testament.

As ‘n koning oorlog gevoer het en die veldslag gewen het, het hy die gevangenes saam met alles wat hy buitgemaak het, teruggevat na sy stad.

Die stede was vroeër altyd bo-op ‘n berg of heuwel gebou.

Daarheen het hy met al sy buit opgegaan (Ps 68:19), waarna hy dit onder sy onderdane verdeel het.

So het almal, ook vroue en kinders, gedeel in die skatte wat hy buitgemaak het.

Psalm 68 pas dit op die HERE toe, wat oorwinnend is in die stryd.

En Paulus pas dit nou op die Here Jesus toe, spesifiek sy hemelvaart, as hy skryf:

“Hy wat neergedaal het, is dieselfde as Hy wat opgevaar het bokant al die hemele, sodat Hy alles tot volheid kan bring.” (vers 10).

Sy hemelvaart was ‘n oorwinningstog.

En toe Hy plaasneem op die troon, het Hy van daar sy skatte begin uitstort op sy onderdane.

Dink aan 10 dae later – die uitstorting van die Heilige Gees.

Die Gees is een van daardie skatte.

Dink ook aan die kerk, waarvan ons in Handelinge lees hoe dit ontstaan het, in Jerusalem, Judea, Samaria en tot die uiterste van die aarde.

Die kerk is ook ‘n skat, ‘n geskenk van Christus.

Ook die apostels, profete, evangeliste, herders en leraars – skryf Paulus – is skatte van Christus.

Hy skenk hulle om die heilige toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus (vers 11-12).

Nog ‘n hemelse geskenk wat Christus deel met sy onderdane is die vergewing van sondes.

As ons in Christus se naam tot die Vader bid, dan sal Hy verhoor en vergeef.

Dit is ook ‘n skat, ‘n geskenk van Christus.

En dink ook aan die nuwe lewe in Christus, wat die Gees in ons werk.

Ook dit is ‘n geskenk van Christus.

 

As ons aan skatte dink, is ons geneig om eerste aan aardse goed te dink.

Goud, silwer, juwele, huise, plase, motors, karavane, klere, ensovoorts.

Hierdie tipe skatte is egter minder werd.

Dit is tydelike skatte.

Dit kan jy nie in die graf saamvat nie.

Christus se skatte is ewig, jy vat dit met jou saam tot in die ewige lewe.

Ja die ewige lewe self is ook ‘n skat van Christus.

Dit alles deel Hy uit noudat Hy die oorwinning behaal het op die duiwel en die dood, noudat Hy opgevaar en plaasgeneem het op die troon in die hemel.

 

  • Hy beveel om die geskenke te gebruik

Vandag se teks, wat Paulus hier skryf, staan dus op hierdie heilsfeite.

“Maar julle het Christus nie so leer ken nie”.

Hierdie teks is ‘n appèl op die Efesiërs.

‘n Bevel om al hierdie skatte, geskenke te gebruik.

Hoe het julle Christus leer ken?

Julle het Hom mos leer ken as die Een op die troon in die hemel!

Dat Hy van daaraf sy oorwinningsbuit, sy skatte, uitdeel.

Julle het mos die Heilige Gees van Hom ontvang.

Julle het mos die geskenk van nuwe lewe van Hom ontvang!

Julle ontvang mos ook die geskenk van vergewing van sondes.

Julle het ook die geskenk van die kerk ontvang, met apostels, herders en leraars, ensovoorts.

 

Ja, gemeente, dit is ‘n geskenk dat ons anders mag lewe!

Julle geheel anders, omdat julle Christus leer ken het!

In die wêreld, maar nie van die wêreld nie.

So het God sy ou verbondsvolk Israel alreeds opgeroep.

Te midde van ‘n heidense wêreld mog en kon en moes hulle anders lewe, ‘n nuwe soort lewe lei.

Hulle offers was nie soos die heidense offers nie.

Hulle het byvoorbeeld nie die bloed van die offerdiere gedrink nie.

Dit was ‘n bygelowige heidense gewoonte.

Want die heidene het gedink dat ‘n dier se lewenskrag in sy bloed sit, en wie daardie bloed drink, word versterk deur die dier se lewenskrag.

Maar die HERE het gesê: Moenie jou lewenskrag daarvan verwag nie, verwag dit van My alleen!

Eis van my vrymoedig, en jy sal dit ontvang.

 

Hierdie selfde lyn sien ons in die Nuwe Testament voortgaan.

Ook Christus se kerk word opgeroep om heeltemal anders te lewe.

Nou wat het dit ingehou?

Wel, as mens wil weet hoe dit anders was, moet mens natuurlik weet hoe dit eers was.

Iets daarvan lees ons in Handelinge 18 en 19.

Paulus skryf hierdie brief mos aan die Efesiërs, en in daardie hoofstukke in Handelinge beskryf Lukas wat daar in Efese gebeur het, toe Paulus die eerste keer met die Evangelie daar gekom het.

 

Ons lees dat die stad Efese ‘n godin gehad het waarop hulle baie trots was – Diana, ook wel genoem Artemis.

Ons lees oor ‘n sekere Demetrius wat ‘n silwersmid was, wat beeldjies van hierdie godin se tempel gemaak en dit verkoop het.

Maar Paulus se Evangelieverkondiging het veroorsaak dat sy winste begin krimp.

Tussen hakies, opvallend dat ons hierdie verwyt meer dikwels vind in die geskiedenis van die vroeë kerk.

So het Keiser Severus (geregeer van 193-211 AD) ‘n wet uitgevaardig dat niemand meer Christen mog word nie.

Die priesters het naamlik gekla dat die heidense tempel verlate gestaan het, geen inkomste meer gehad het omdat amper nie meer kom offer het nie, omdat so baie mense Christen geword het.

Daardie vrees was daar dus ook in Efese.

Dus het daar ‘n oproer ontstaan.

Toe die skare hoor dat daar kritiek op hulle godin is, het hulle die hele tyd geskreeu:

Groot is Diana van die Efesiërs!

 

Maar diegene wat hulle tot Christus bekeer het, het nie meer hieraan deelgeneem niet.

Hulle het hulleself afgeskei van die heidense tempelkultus.

Daardie tempelkultus, daardie verering van Diana, het op ‘n manier die mense se hele lewe beheers.

Hulle het by die tempels geoffer, geëet, feesgevier.

Die voorspoed van hulle stad het hulle van hulle gode verwag.

 

Maar vir die gelowiges het dinge drasties verander.

En reken maar dat dit ‘n groot impak gehad het op hulle alledaagse lewe, en op die verhoudings binne hulle families, met hulle kollegas, ensovoorts.

Ek het al genoem van die gewoontes om bloed te drink.

In Handelinge 15 kan mens die duidelike oproep aan die gelowiges uit die heidene lees, dat hulle hulle voortaan moes onthou van afgodsoffers en bloed en van wat verwurg is en van hoerery (Hand 15:29).

Tussen hakies, ‘n dier wat verwurg is se bloed het in sy lyf bly sit, in teenstelling tot ‘n dier wat se keel afgesny is, sodat die bloed kan uitloop.

Daarom hierdie verbod met betrekking tot diere wat verwurg is.

Voortaan het die Christene se lewe nie meer rondom hierdie tempels gedraai en alles wat daar gebeur het nie.

 

Wat ook daar by die tempels gebeur het, was hoerery.

Ook daarvan moes die Christene uit die heidene hulleself onthou.

Tempelprostitusie.

Seksuele losbandigheid.

En, ek weet nie of u weet nie, maar die afgodsbeeld van die godin Diana was ‘n pornografiese beeld.

Sy was in daardie tyd ‘n ware seks-ikoon.

Op haar bolyf was daar nie net twee borste nie, maar baie.

Sy was die vrugbaarsheidsgodin.

Geen wonder daar het by haar tempel prostitusie plaasgevind nie.

Dit was deel van die daaglikse lewe vir hulle wat by die tempel kom offer het.

By wyse van spreke, Vrydagaand het jy en jou vriende en familie tempel toe gegaan, om te offer, om fees te vier, lekker te eet, baie te drink, en ook om van seksuele losbandigheid te geniet.

 

Maar, Paulus skryf vir die Christene:

Julle is nou heeltemal anders.

Julle het Christus nie so leer ken nie.

Julle is in hierdie wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie.

Julle is in hierdie samelewing, julle woon nog op dieselfde plek, julle doen nog julle dagtaak, julle het nog bande met julle familie, maar tog is alles nou anders.

Julle lewe het nuut geword.

 

Paulus noem enkele aspekte van hierdie nuwe lewe.

Julle het die waarheid lief.

Julle laat die son nie meer ondergaan oor julle toorn nie.

Julle steel nie meer nie, julle doen trou julle arbeid.

Julle praat opbouend, nie meer afbrekend of enige vuil woorde nie.

Bitterheid, woede, toorn, geskreeu, lastering, boosheid, dit bepaal nie meer julle lewe nie.

Inteendeel, julle staan nou bekend as vriendelike mense, mense wat omgee, mense wat mekaar vergewe.

Kortom, julle gee die duiwel nie meer ‘n voet in die deur van julle lewe nie.

Julle het julle met die nuwe mens beklee.

Julle gemoed het nuut geword, dit wil sê, julle het nuut leer dink oor die lewe, oor alles.

 

Broers en susters, net soos die kerk in Efese, geld dit ook vir julle.

Julle is heeltemal anders, want julle het Christus leer ken.

Julle is gewone mense, maar terselfdertyd anders as die deursnee.

Julle is nie beter uit julleself nie, maar Christus regeer nou in julle, en dit maak die verskil.

 

Ja, dit is ‘n geskenk dat ons anders mag lewe ...

Lewe ons anders?

Ja ons doen!

Ons sit vanaand in die kerk, want ons vier Hemelvaart.

Rondom ons doen die mense dit nie.

Die meeste weet nie eers dit is vandag Hemelvaartsdag nie.

Vandat hierdie dag as publieke vakansiedag afgeskaf is, het dit gou in die vergetelheid geraak.

Maar ons aanbid vandag vir Christus, ons herdenk die groot gebeurtenis.

Want dit is sy kroningsdag.

Ja dit is Koningsdag!

 

En vanaand se erediens wat ons bywoon staan ook nie net op homself nie.

Gister en eergister het ons anders gelewe, en môre en oormôre gaan ons ook weer anders lewe, anders as die wêreld rondom ons.

Christus se hemelvaart bepaal ons lewe.

Dit bepaal wat ons doen, en wat ons nie doen nie.

Dit bepaal wat ons aantrek, wat ons sê, wat ons met ons geld doen, wat ons kyk op ons fone en televisies.

En ja, hierdie nuwe lewe is ‘n geskenk.

Dit is iets wat Christus uit die hemel aan ons gee.

Hy werk dit in ons deur sy Gees.

Dis nie op ons eie krag, ons eie meriete, dat ons so ‘n eersteklas lewe kan lei nie.

Want uit onsself, ons ou mens, is ons geneig om weer terug te val in ‘n ander sleur, ‘n laerklas lewe, ‘n lewe van slawerny aan tydelike dinge, ‘n lewe van slawerny aan die duiwel self.

 

Daarom het Paulus ‘n appèl op die Efesiërs gedoen.

Julle het mos vir Christus leer ken!

Nou maar hoekom is daar dan nog sulke dinge in julle lewe aanwesig?

Hoekom is daar nog allerhande onreinheid?

Hoekom is daar nog seksuele losbandigheid?

Hoekom is daar nog dwase of lawwe praatjies?

Hoekom is daar nog hebsug?

Want dit is mos nie soos julle Hom leer ken het nie!

Kom dan nou, keer terug na julle eersteklas lewe.

Moenie die Gees se werk in julle bedroef nie.

 

Broer, suster, dink jy op hierdie nuwe manier?

Lewe jy vanuit die besef dat Christus na die hemel opgevaar het?

Dat Hy regeer, dat sy koninkryk sal kom?

Lewe jy vandag as burger van sy koninkryk?

Verwag jy Hom terug?

Oefen jy jouself in die oordenking van die toekomstige lewe?

Dink jy op ‘n nuwe manier?

Kan jy bose gedagtes die swye oplê?

Het jy jou naaste en selfs jou vyande lief?

Is jy baas oor jou humeur?

Het jy jou lewe gesuiwer van ekstremiteite, van verslawings?

Dit in teenstelling tot die wêreld wat Vrydag- en Saterdagaand te veel drink,

die wêreld wat geniet van losbandige kuierplekke.

Moenie die duiwel ‘n voet in die deur van jou lewe gee nie.

Hy gaan die deur ooptrap en jou lewe verwoes.

Wees julle geheel anders.

Julle het Christus nie so leer ken nie.

Bly nugter.

Bly oefen.

Bly fiks in hierdie nuwe lewe.

Vriendelikheid, barmhartigheid, selfbeheersing, geduld, vergewingesindheid, omdat Christus ons soveel vergewing skenk.

En die ouer broers en susters, gee aan die jeug die voorbeeld wat dit is om positief te wees, toekomsgerig.

Woorde wek, voorbeelde trek.

Wys vir hulle hoe julle Christus leer ken het, wat die impak daarvan is op u lewe wat al baie dekades oud is.

Hoe sy geskenk jou lewe verander het.

 

En die jeug, geniet jou jonkheid, maar dan wel op die standaard van hierdie eersteklas lewe.

Moenie afsak na ‘n laerklas bestaan van slawerny nie.

So het julle Christus nie leer ken nie.

Julle is opgevoed in die geloof, op die Gereformeerde skole wat die meeste van julle besoek het, het julle Christus anders leer ken.

Julle is in die waarheid onderrig (vers 21).

Julle het Hom leer liefhê, julle het julle geloof in Hom bely.

Bly toekomsgerig lewe.

Kyk boontoe, bid elke dag van harte tot die hemelse troon wat Christus is.

Om te bid, is om met geloofsoë boontoe te kyk na waar Christus troon oor hemel en aarde.

 

Wêreldgelykvormigheid is die spyker in die doodskis van ‘n afvallige kerk.

Christus-gelykvormigheid hou ‘n kerk jonk en gesond.

‘n Wêreldgelykvormige lewe is die spyker in jou eie doodskis.

Maar as jy jou met Christus beklee, is jy voorgesorteer vir die ewige lewe.

Wie wil nie aan Hom behoort wat Koning is oor hemel en aarde nie!

Geniet jou eersteklas lewe, wat Christus jou vanuit die hemel skenk!

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 24:4,5

Gebed

Skriflesing: Handelinge 19:23-40

Ps 81:10,12

Skriflesing: Efesiërs 4

Sb 38:1-3

Teks: Efesiërs 4:20

Preek

Ps 68:1,8

Gebed

Geloofsbelydenis: Heidelbergse Kategismus Sondag 18 & 19

Ps 68:9

Kollekte

Ps 113:1,2

Seën