Die doop van Jesus bied jou die Heilige Gees

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2024-05-19
Teks: 
Handelinge 19:5-6
Preek Inhoud: 

Preek: Handelinge 19:5-6

 

Ons vier vandag Pinksterfees.

Dit is die laaste in ‘n ry van bekende Christelike feesdae wat die een op die ander volg.

Dit het begin met Goeie Vrydag en toe Paasfees.

Veertig dae later het ons Hemelvaart gevier.

En vandag, nog tien dae later, is dit Pinkster.

Omdat Hemelvaart en Pinkster nie meer publieke vakansiedae is nie, vergeet baie mense daarvan.

Mense werk gewoon op Hemelvaart, wat altyd op ‘n Donderdag val, dis ‘n dag soos elke ander.

En Pinkster is ‘n gewone Sondag en daar word nie meer stilgestaan by wat op hierdie dag destyds in Jerusalem gebeur het nie.

 

Nou is daar in ons teks iemand wat ook nie van Pinkster geweet het nie, maar dit was vir ‘n heel ander rede.

Ons kyk vandag, op Pinksterdag, na Apollos en ander gelowiges in die stad Efese, en hoe hulle ook die Heilige Gees ontvang het.

 

Tema: Die doop van Jesus bied jou die Heilige Gees.

1 Jesus se doop oortref Johannes se doop

2 Jesus se doop is voldoende

                  

1 Jesus se doop oortref Johannes se doop

Johannes die Doper was die grootste profeet van die ou verbond.

Geweldig baie mense het hom gevolg en is deur hom gedoop.

Tog weet ons eintlik baie min oor hierdie man.

Dit het te make met sy hooftaak.

Hy was naamlik die wegbereider vir die Messias.

Soos hy self gesê het:

Die Here Jesus moet groter word en ek minder.

Jesus moes op die voorgrond tree.

Maar eers was Johannes op die voorgrond, veral by die Jode.

Duisende mense is deur hom gedoop.

Baie mense het hom as ‘n groot profeet beskou.

En hy het – soos u weet – skielik aan die einde van sy lewe gekom.

Soos dit dikwels gebeur, as ‘n volksheld onverwags te sterwe kom, rys sy ster net nog vinniger.

Kortom, Johannes was ‘n groot en gerespekteerde profeet, selfs onder die Jode in die buiteland.

Byvoorbeeld in die Egiptiese stad Alexandrië, waar daar in daardie tyd baie Jode gewoon het.

Een van hulle was Apollos, oor wie ons vanoggend gelees het.

 

Apollos was ‘n geleerde man.

Hy het die boeke van die Ou Testament beter geken as meeste ander Jode.

Hy was iemand wat ‘n ruk gelede gedoop is deur Johannes, of dalk deur een van sy dissipels.

Die prediking van Johannes die Doper het daaruit bestaan dat hy die mense op die koms van die Messias gewys het.

Apollos het belangrike werk gedoen, veral in die diskussies met die Jode.

In die stad Efese het daar in daardie tyd ook baie Jode gewoon.

Vanuit die Ou Testament was Apollos onophoudelik besig om sy volksgenote te oortuig dat Jesus die langverwagte Messias is.

 

Tog was daar bepaalde leemtes in Apollos se prediking.

U moet onthou dat daar in daardie tyd nog nie moderne kommunikasiemiddele bestaan het nie.

Nuus het nog nie so vinnig versprei nie.

Apollos was waarskynlik goed op die hoogte met die lewe van Christus.

Maar wat daarna gebeur het, veral alles rondom Pinkster, daarvan het hy nog nie geweet nie.

Ons lees in vers 26 dat Aquila en Priscilla, ‘n egpaar wat medewerkers van Paulus was, Apollos apart geneem en hom die een en ander vertel het.

Soos daar staan:

Hulle het hom die weg van God noukeuriger uitgelê.

Die weg van God, daarmee word bedoel: dit wat God in die onlangse verlede alles gedoen het.

Apollos moes noodsaaklike byskoling ontvang, omdat God ondertussen belangrike nuwe ontwikkelinge laat plaasvind het in die heilsgeskiedenis.

 

Ons lees dat Apollos vervolgens uitgestuur is na Korinthe, in Griekeland, oorkant die see.

Hy is uitgestuur om ook daar die Evangelie te preek en bystand te verleen in die groot debatte met die sinagoge.

Mens kan moeilik onderskat hoe ‘n belangrike rol mense soos Apollos gespeel het.

Want hulle het ‘n maklike ingang by die Jode gehad.

Die Jode was baie minder vyandig teenoor hulle as teenoor die apostels.

Die volgelinge van Johannes die Doper kon op baie simpatie reken onder die Jode.

Johannes was naamlik vir hulle ‘n groot profeet.

Soos ons uit die Evangelie van Mattheüs weet, was ook die owerpriesters en ouderlinge skrikkerig vir al sy volgelinge.

Toe Jesus ‘n keer vir hulle vra of Johannes se doop uit die hemel of uit mense was, het hulle onder mekaar beraadslaag: “as ons sê: Uit mense – dan moet ons oppas vir die menigte, want almal hou Johannes vir ‘n profeet.” (Mattheüs 21:26)

Al hierdie volgelinge van Johannes die Doper het nog vir baie jare onmisbare werk verrig, met name onder die Jode in die Diaspora, om hulle harte gereed te maak vir die Evangelie wat die apostels kom bring het.

 

So het Paulus in Efese aangekom, nadat Apollos daar al gearbei het.

Paulus was op die oomblik al besig met sy derde sendingsreis, en hierdie keer bly hy langer in Efese, twee jaar.

Daar was al ‘n Christelike gemeente in Efese.

Ons lees oor “die broeders”, ‘n aanduiding vir die gemeente.

Tydens hierdie periode ontmoet hy dan ‘n aantal leerlinge – ongeveer twaalf manne – waarmee eintlik dieselfde aan die hand was as met Apollos.

Hulle was ook mense wat die doop van Johannes ontvang het.

Maar vervolgens is hulle nie op datum gebring met die verdere verloop van God se heilsdade nie.

Want wat daar in Jerusalem op Pinksterdag gebeur het, daarvan het hulle duidelik nog nie gehoor nie.

Ons lees dat Paulus, wat skynbaar al meer dikwels met sulke mense in aanraking gekom het, aan hulle die vraag vra:

Het julle wel die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?

Waarop hierdie twaalf manne toe antwoord:

Ons het selfs nie eers gehoor dat daar ‘n Heilige Gees is nie.

 

Hierdie opmerking moet ons in die konteks verstaan.

Uiteraard het hierdie manne van die Heilige Gees geweet.

Want ook in die Ou Testament lees ons baie oor die Gees van God.

En uiteraard het Johannes die Doper ook die Heilige Gees geken.

Het hy nie met sy eie oë gesien hoe die Gees van God soos ‘n duif op Jesus neergedaal het toe Hy gedoop is nie? (Matth 3:16)

Maar die gebeurtenis van die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag, en ook die opdrag van Jesus aan sy apostels net voor sy hemelvaart: Doop die mense in die naam van die Vader, die Seun én die Heilige Gees; dit was nog vir hierdie twaalf manne onbekend.

Vandaar dat Paulus na sy eerste vraag aan hulle dadelik deurgevra het:

“Met watter doop is julle dan gedoop?” (Hand 19:3)

Waarop hulle geantwoord het: “Met die doop van Johannes.”

 

Wat hierdie manne alles wel en wat hulle nie geweet het nie, is nie duidelik nie.

Hulle is destyds deur Johannes gedoop.

Maar van die doop van Jesus, naamlik die doop in die naam van die Drieënige God – Vader, Seun en Heilige Gees – Mattheüs 28:19 – daarvan het hulle nog niks geweet nie.

 

En dit mog Paulus toe aan hulle verduidelik.

Waarna hulle gedoop is met die doop van Jesus.

Vers 5: “En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus.”

Daarna het Paulus hulle die hande opgelê, staan daar in ons teks.

Hande oplê is dikwels in die boek Handelinge ‘n aanduiding vir ‘n amptelike aanstelling.

Vergelykbaar met hoe iemand in die Ou Testament gesalf is tot ‘n bepaalde taak.

Die olie was simbool vir hoe die Gees oor iemand vaardig geword het.

So word in Handelinge 6:6 die eerste diakens die hande opgelê.

En in Handelinge 9:17 word Saulus die hande opgelê deur Ananias, wat gehandel het in opdrag van Christus, om Paulus tot die apostelskap te roep.

En in Handelinge 13 word die hande opgelê aan Paulus en Barnabas in Antiochië.

Hierdie keer was dit hulle aanstelling om op sendingsreis te gaan.

Net so kry hierdie twaalf manne nou die handoplegging.

Die amptelike aanstelling, waarna die bekwaammaking deur die Gees direk gevolg het.

Die Heilige Gees het op hulle gekom en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.

 

Wat hier gebeur, is identies aan wat daar vir die eerste keer op Pinksterdag gebeur het.

Die apostels het in allerhande buitelandse tale begin praat en die Evangelie verkondig.

So het al die anderstaliges die Evangelie in hulle eie taal gehoor.

Hier, in Efese, gebeur nou iets soortgelyks.

God die Heilige Gees bestem hierdie twaalf manne om in sy diens te staan, om die Evangelie in Klein-Asië te gaan verkondig aan al die mense, in hule eie tale waarin hulle gewoond was om te praat.

Miskien was dit mede danksy hierdie twaalf broeders dat daar in so ‘n kort tydjie bloeiende gemeentes aan die weskus van Klein-Asië ontstaan het.

‘n Paar jaar later, as die apostel Johannes sy Openbaring skryf, adresseer hy die boek aan maar liefs sewe gevestigde kerke in Efese en omstreke.

Efese (Openb 2), Smirna, 50 km noord van Efese, Pergamum, nog ‘n 50 km na die noorde, Thiatire, 100 km noordoos van Efese, Sardis (Openb 3), 50 km noordoos van Efese, Filadelfia, 100km oos van Efese, en Laodicea, 150 km oos van Efese.

Vanuit Efese is die Evangelie dus versprei in die wye omgewing en bloeiende gemeentes het ontstaan.

Presies dit was die bedoeling van die Heilige Gees.

Sonder om opgehou te word deur taalgrense kon die Woord versprei.

So het die Heilige Gees met hierdie talewonder brûe gebou tussen mense.

Christus se Naam het in vele tale geklink.

En so het dit voortgegaan, tot vandag toe.

 

 

2 Jesus se doop is voldoende

 

Nou is daar nog ‘n aspek waarna ons moet kyk.

Want oor hierdie Bybelgedeelte bestaan daar deesdae baie misverstand.

Die sogenaamde Charismatiese teologie baseer naamlik een van hulle belangrike leerstellings op hierdie Bybelgedeelte, naamlik die sogenaamde vuurdoop met die Heilige Gees.

Die doop met die Gees, wat ‘n lewende Christen behoort te ontvang, nog bo-op die gewone doop, as ‘n ekstra.

Daar word geredeneer: Jy is nie ‘n lewende Christen as jy nie ook die doop met die Heilige Gees ontvang het nie.

As jy die gewone doop ontvang het – dis nou die doop in die Naam van God Drieënig – as jy net dit ontvang het, dan het jy nog nie genoeg nie.

Jy het hierdie vuurdoop ook nodig, die doop met die Heilige Gees.

Eers as jy hierdie doop gekry het, het jy regtig die Heilige Gees ontvang.

Dan kan jy ook profeteer, in tonge praat, ensovoorts.

In beginsel word daar dus gesê: Die ‘gewone’ doop is nie genoeg nie.

Eers nadat mens ook hierdie doop ontvang het, is jy ‘n lewende Christen.

Die sogenaamde doop met die Heilige Gees.

 

Wat antwoord ‘n mens nou daarop?

Dit kan onverwags gebeur dat iemand dit vir jou sê – ‘n familielid, of ‘n kollega, ‘n vriend of vriendin.

Daardie persoon sê vir jou: Jy kort nog die doop met die Heilige Gees.

Wat antwoord jy dan?

 

Gemeente, nie vir niks kyk ons vandag werklik in detail na hierdie Bybelgedeelte nie, ook in sy historiese konteks.

Dit het ek nounet in die eerste punt verduidelik, hoe hierdie twaalf manne Johannes se doop ontvang het, maar daarna nog nie van Jesus se doop gehoor het nie.

Want juis as mens na die historiese konteks kyk, dan word duidelik dat dit nie sin maak om dit op hierdie nuwe manier uit te lê nie.

Hierdie gedeelte kan nie los van sy historiese konteks gelees word nie.

Want dan begin mens dinge in die teks inlees, wat glad nie eers daar staan nie.

As jy vinnig en oppervlakkig lees, en jy doen nie die moeite om dit met ander Bybelgedeeltes te vergelyk nie, en jy hou nie rekening met hoe die geskiedenis verloop het nie, dan kan mens dit daarin lees en meen dat dit waar is.

Maar dit noem mens inlegkunde.

Dis nie eksegese nie.

En dit is presies wat die geval is by die sogenaamde vuurdoop met die Heilige Gees of hoe dit ook genoem word.

By nader insien sê die teks eintlik iets totaal anders.

 

Want ons het hier nie te make met ‘n tweede doop, wat bo op die normale doop wat ons ken en hier in ons kerk bedien word – die sogenaamde Geestesdoop nie.

Nee, dis juis andersom.

Die nuwe doop, waarvan ons in hierdie gedeelte lees, wat hierdie twaalf manne van Paulus ontvang, dit was ons doop, gewoon die doop wat ons vandag ken en ook ontvang.

En die eerste doop wat daardie twaalf manne ontvang het, dit was die destydse doop van Johannes die Doper, ‘n doop wat nog nie ‘n doop was in die naam van die Drieënige God nie.

Dis ‘n doop wat vandag nie meer bestaan nie.

Daardie destydse doop van Johannes was onvoldoende.

Hulle moes ‘n nuwe doop ontvang – die doop van Jesus waarvan ons in Mattheüs 28:19 kan lees, ek haal Jesus se woorde aan: “doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.”

Dit is Jesus se doopopdrag, dit is sy doop.

Dit is die doop met die Heilige Gees.

En dit is die doop wat ons dus ken.

 

Die gevolgtrekking is daarom: Wie gedoop is in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees, het ALLES ontvang.

Daar hoef niks aan toegevoeg te word nie.

Geen vuurdoop met die Gees nie.

Die doop van Jesus bied jou mos die Heilige Gees!

Die feit dat die dissipels van Johannes oorgedoop is, kan nie toegepas word in die sin dat ons vandag ook nog ‘n doop moet ontvang nie.

Dit is ‘n oppervlakkige en onkorrekte toepassing.

En die feit dat die twaalf dissipels toe in tale begin praat het, die taalwonder, dit is deur God geskenk juis vir daardie tyd, toe die kerk nog in sy kinderskoene gestaan het, toe die Evangelie so vinnig as moontlik versprei moes word.

Dis nie dieselfde as die sogenaamde tongetaal wat sommiges vandag ‘n teken van die Gees noem nie.

Afgelope week vind ek dit nog op ‘n webwerf van ‘n bekende charismatiese ‘kerk’ hier in Pretoria.

Maar tongetaal is ‘n verskynsel wat mens ook in ander godsdienste kry, dis nie ‘n gawe van die Gees nie.

Dis allermins ‘n taalwonder.

 

Waaroor ons teks praat, dit was ‘n groot wonder, wat ons vandag op Pinksterdag herdenk!

Vandag sien ons hierdie wonder nie meer nie.

Nie dat die Here geen wonders meer doen of kan doen nie.

Maar ons kan dit nie van Hom afdwing nie.

Mense wat destyds toe Jesus op aarde was, net na Hom gekom het om ‘n wonder te sien, hulle het niks gekry nie.

Sal God hierdie taalwonder ooit weer in die toekoms herhaal?        

Ons weet nie, Hy sal self besluit wat noodsaaklik is vir sy kerk.

Die Here gee vandag wel aan sy kerk soveel moontlikhede wat betref taalstudie en Bybelvertaling, soveel bedienaars van sy Woord, soveel sendelinge.

 

Met die doop van Jesus, dis die doop in die naam van God Drieënig, ontvang elke persoon wat hierdie doop ontvang, die Heilige Gees.

Soos ons in die Doopsformulier bely: As ons in die naam van die Vader gedoop word, word aan ons beloof dat Hy ons sal versorg en alle kwaad van ons sal afweer of tot ons beswil beskik.

As ons in die naam van die Seun gedoop word, word aan ons beloof dat Hy ons in sy bloed sal reinig van ons sondes, elke keer as ons in sy naam vergewing vra.

En as ons in die naam van die Heilige Gees gedoop word, word aan ons beloof dat die Gees ons lewende lidmate sal maak, ons lewe daagliks sal vernuwe.

Hierdie werk van die Gees in jou lewe kom op gang, sodra ‘n klein kind se geloofsopvoeding begin.

Die werk van die Gees begin nie eers later met ‘n sogenaamde vuurdoop van die Gees nie.

Die doop bied reeds alles, en ons mag hierdie rykdom wat in die doop aan ons toegesê word deur God Drieënig, steeds meer ons eie maak.

 

Destyds op Pinksterdag is daar drie duisend mense gedoop.

Daarna in die boek Handelinge is daar nog duisendes gedoop.

Sommiges het ook die handoplegging ontvang, die spesiale opdrag om uitgestuur te word en die Evangelie te verkondig, en dit in allerhande tale – soos hierdie twaalf manne in Efese.

Vandag word daar steeds nuwe mense gedoop met hierdie kragtige doop.

God Drieënig maak steeds sy beloftes waar.

Ook die Heilige Gees.

Wie beweer dat dit nie genoeg is nie, onderskat, onderwaardeer, beledig selfs Jesus se doop.

Want sy doop is voldoende.

 

Vandag op Pinksterdag dank ons Christus dat Hy sy Gees destyds uitgestort het.

Ons dank vandag ook Christus vir sy doop.

Daardeur ontvang ons ook die Heilige Gees.

Ouers, leer vir jou kinders wie die Heilige Gees is, soos wat hulle groter word.

Vertel vir hulle dat die Gees ook in hulle woon.

Dit is Christus se geskenk by die doop.

Vertel vir hulle wat die Gees in hulle lewens doen.

Roep hulle op om nie die Gees se werk teen te gaan nie, maar dit dankbaar te aanvaar.

Uit onsself, ons ou sondige natuur, wil ons nie sy werk in ons aanvaar nie.

Maar die nuwe mens wat Hy in ons werk, leer al hoe meer besef hoe ‘n voorreg dit is.

Ons sien steeds meer raak watter pragtige uitwerking die Gees het in ons lewe, en ons kinders s’n, en almal wat gedoop is met Christus se doop en in die verbond mag opgroei onder die prediking van die Woord.

Mag ons so voortgaan om ‘n Geesvervulde gemeente te wees, jong en oud, seuns en dogters, mans en vroue, elkeen van ons (Hand 2:17).

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 93:1 (almal), 2 (mans), 3 (vroue), 4 (mans)

Wet

Ps 143:1,2,8

Gebed                    

Skriflesing: Handelinge 18:1 – 19:8

Sb 43:1,6

Teks: Handelinge 19:5-6

Preek

Sb 13:3-7

Gebed

Kollekte

Ps 150:1,2

Seën