Die geskenk van ‘n nuwe hart

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2024-06-09
Teks: 
Esegiël 18:31-32 & 36:26
Preek Inhoud: 

Preek: Esegiël 18:31 & 36:26

 

In ons tyd is die woord hart sinoniem vir emosies.

As ‘n meisie verlief is op ‘n seun, dan laat hy haar hart vinniger klop.

Kies jy met jou hart, of kies jy met jou verstand, dit word gesien as teenoorgesteldes.

As ‘n man ‘n motor met sy hart koop, is dit dalk nie ‘n verstandige keuse nie.

As iemand hartlik is, dink ons aan iemand wat sy emosies wys.

Dit is hoe ons oor hierdie organe, ons hart en ons verstand, praat in die algemene spraakgebruik.

Dit is nie noodwendig wetenskaplik nie.

Daar is nie harde anatomiese bewyse dat jou gevoel uit jou hart uit kom nie.

Verder is daar wel anatomiese bewys dat daar nie net breinselle in jou kop is nie, maar byvoorbeeld in jou derms is daar ook heelwat breinselle.

Maar dis nou maar eenmaal ons samelewing se persepsies.

‘n Hartjie-teken op whatsapp het ‘n betekenis wat direk vir elkeen duidelik is.

 

Tema: Die geskenk van ‘n nuwe hart

1 Die nuwe hart is ‘n absolute noodsaak

2 Die nuwe hart is ‘n suiwer geskenk

 

1 Die nuwe hart is ‘n absolute noodsaak

In lyn met ons jaartema – die nuwe lewe in Christus – kyk ons vandag na die geskenk van ‘n nuwe hart.

Ons lees daaroor pragtige dinge by die profeet Esegiël.

In die destydse samelewing in Esegiël se tyd was dinge egter nie outomaties dieselfde as vandag nie.

Persepsies was anders, en uiteraard was die anatomiese kennis nie wat dit vandag is nie.

Nou hoekom noem ek dit?

Omdat dit belangrik is om vandag se teks te kan verstaan.

‘n Belangrike beginsel by Bybeluitleg is dat ons eers teruggaan na daardie tyd, om uit te vind wat die betekenis in die konteks van daardie tyd was, hoe die eerste hoorders die profesie van Esegiël verstaan het.

In God se openbaring het Hy naamlik aangepas by die spraak en ook denke van die tyd waarin Hy sy profesie geopenbaar het.

Nie dat God beperk was tot daardie denke nie.

God is mos die Skepper van die menslike liggaam.

As geen ander weet Hy hoe die liggaam werk, wat die funksie van die hart is, wat die funksie van die verstand is, waar die gevoel vandaan kom, waar die denke gesetel is.

God se Woord is egter nie ‘n anatomiese handboek nie, maar dit is ‘n boek waarin God Homself openbaar, sodat ons Hom kan ken en dien.

 

So die vraag is dus eerstens, wat het God presies bedoel toe Hy deur Esegiël gesê het:

“Werp al julle oortredinge ... van julle af weg en maak vir julle ‘n nuwe hart ...” Esegiël 18:31.

En: “Ek sal julle ‘n nuwe hart gee ... en Ek sal die hart van klip ... wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.” – Esegiël 36:26?

 

Die woordelys agter in die 2020-Vertaling help ons hiermee.

By die woorde hart en niere staan daar: “Dit verwys in die Bybel na die diepste gedagtes en emosies van die mens ... Die hart is die setel van die intellek, waar die gedagtes en wilsbesluite gevorm word ... Die niere is beskou as die setel van die emosies en gewete ... Wanneer God hart en niere toets ... beoordeel Hy die diepste gedagtes, planne, begeertes en emosies van ‘n mens.”

Gemeente, dat jou gedagtes in jou brein gevorm word, dit het die mense toe nog nie geweet nie.

Hulle het byvoorbeeld gedink die brein is die verkoeler van die liggaam, in Engels, die ‘radiator’ van die liggaam.

Maar die hart was die setel van jou intelligensie, van jou gedagtes.

Dink byvoorbeeld aan Jesus se vraag aan die skrifgeleerdes:

“Waarom bedink julle slegte dinge in julle harte?” – Mattheüs 9:4.

En Maria het, lees ons in Lukas 2:19, alles wat met haar Seun gebeur het, in haar hart oordink.

Hierdie idee het nog lank voortgeduur.

In die Engelse taal vind ons nog ‘n oorblyfsel hiervan in die uitdrukking, ‘to learn something by heart’, wat beteken om iets uit jou kop te leer.

 

In elk geval, met hierdie besef dat woorde vroeër iets anders beteken het, moet ons nou teruggaan na die teks.

Esegiël 18:31: “Maak vir julle ‘n nuwe hart”.

Dis ‘n oproep wat sinoniem is aan wat in die vorige vers gesê word:

“Bekeer julle en wend julle af van al julle oortredinge”.

Hierdie is nie net ‘n gevoelsaak nie.

Die hart is die sentrum van jou besluitneming.

Bekering is dat jy besluit om fisies om te draai, fisies terug te keer na die HERE.

Bekering is dat jy met ‘n sonde breek, al hunker jou gevoel nog sterk daarna.

‘n Nuwe hart is dus ‘n nuwe wilsbesluit, ‘n totale omkering van jou lewe.

En as dit gebeur het, dan sal jou niere ook volg.

Daarmee bedoel ek, dan sal jou gevoel ook bytrek.

Na verloop van tyd sal jou liefde vir die sonde weg-eb, en sal jou liefde vir die HERE en sy diens sterker word.

 

Geliefdes, die feit dat u hier aan die nagmaal sit, was ‘n wilsbesluit.

Altans, dis soos dit hoort.

Nie net uit tradisie nie, nie net uit groepsdruk nie, nie net omdat die oë van jou ouers en jou familie jou dophou nie.

Dit is ‘n saak tussen jou en God, soos ons in Esegiël 18 gelees het.

“die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie ongeregtigheid van die seun help dra nie” (vers 20).

Dis ‘n eie wilsbesluit, vanuit jou hart, dit wil sê vanuit jou verstand, dat die beste lewe ‘n lewe is in diens van jou Heer, Jesus Christus.

So ‘n ingesteldheid, so ‘n nuwe hart, is absolute noodsaak.

Dat jou hart vol is van jou Heiland.

Hy wat jou met sy kosbare bloed gekoop het.

En uiteraard hoort die gevoel ook daarby, dit wat die Bybel met die woord niere beskryf.

Soos ons sing: “in die nag ... wek opnuut my niere die verlange om God te dank” (Ps 16:3 ber).

Pragtig hoe Dawid sy gevoel uitdruk.

Saamgevat, jy dien die HERE met hart en niere.

Jy dien Hom met jou denke, met jou wilsbesluite, en met jou gevoel.

So vier ons vandag nagmaal.

Ons het besluit om vir die Here Jesus te lewe, en ons is lief vir Hom.

In die tweede punt gaan ons na nog ‘n vers uit Esegiël kyk, in hoofstuk 36, spesifiek waar hierdie denke, hierdie wilsbesluit, hierdie gevoel vandaan kom.

Dat hierdie absoluut noodsaaklike nuwe hart uiteindelik ‘n suiwer geskenk is.

 

 

(Tema: Die geskenk van ‘n nuwe hart

1 Die nuwe hart is ‘n absolute noodsaak)

 

2 Die nuwe hart is ‘n suiwer geskenk

 

“Ek sal julle ‘n nuwe hart gee ... die hart van klip ... wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.” (Es 36:26)

Pragtige woorde, wat klink na die ernstige vermaning in hoofstuk 18, waarna ons nounet gekyk het.

Die HERE het sy volk se elledinge situasie gesien, Hy het hulle jammer gekry, omdat hulle nie self kon doen dit wat Hy hulle beveel het nie.

Die HERE kom sy kinders tegemoet.

Hy sal doen wat hulle nie kan nie.

In die volgende hoofstuk, hoofstuk 37, lees ons die pragtige visioen hoe die HERE die dorre doodsbeendere lewendig maak.

Hy herskep sy volk uit die dood.

En dit is presies waaroor vers 26 ook gaan.

Die HERE doen wat sy kinders nie kan doen nie.

Hy verwyder die hart van klip.

Hy gee ‘n nuwe hart.

 

Klip en vlees – dit is teenoorgesteldes hier.

Die HERE haal die klipharde hart uit ons liggaam uit.

Dis ‘n metafoor vir opstandigheid, hardnekkigheid, ongehoorsaamheid, onwil.

Weer eens gaan dit hier nie primêr oor die gevoel of die afwesigheid daarvan nie, maar dit gaan oor die hele lewenspad van jou lewe wat van die HERE weggedwaal het.

Die keuse om nie meer kerk toe te kom nie.

Die keuse om nie meer Bybel te lees en te bid nie.

Die keuse om dinge in jou lewe te begin doen wat jy weet nie volgens sy wil is nie, maar dit tog te doen.

Dit is afvalligheid, en dit kom uit die hart uit, uit ‘n hart van klip.

Soos die HERE kla oor sy kinders in Jesaja 6:

Met hulle hart verstaan hulle nie en hulle bekeer hulle nie en hulle word nie gesond nie (vers 10, Joh 12:40).

Jesus sê: “Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.” (Mark 7:21-23)

En uiteraard volg dat die gevoel – in die Bybel die niere – dan ook afkoel, die liefde vir die HERE.

Maar hierdie hart van klip verwyder die HERE.

In die plek daarvan gee Hy ‘n hart van vlees.

Hierdie verwys na die hart waarmee God die mens geskape het – Adam en Eva – voor die sondeval.

Die opstand en sonde het hulle harte hard gemaak.

Maar die HERE belowe dat Hy ons hart weer sal sagmaak.

Christus skenk ons ‘n “edele en goeie hart” wat “met volharding vrug dra.” – Lukas 8:15.

Hy het ons harte deur die besprenkeling van sy bloed gereinig, soos ons in Hebreërs 10:22 lees.

 

Ons herdenk vandag aan die nagmaal dat God sy belofte waargemaak het.

Ons voel hoe die Heilige Gees aan die werk is in ons harte, in ons hele menswees – ons denke, ons wil, ons gevoel, ons alles.

Christus het die Gees as onderpand in ons harte gegee – 2 Korinthiërs 1:22.

Hy open ons hart, soos by Lydia die purperverkoopster destyds, om ag te gee op die Evangelie (Handelinge 16:14);

“sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon” – Efesiërs 3:17.

Hy reinig ons harte deur die geloof – Handelinge 15:9.

Hy laat die vrede van God in ons harte heers – Kolossense 3:15.

Dit is alles sy werk, die nuwe hart is ‘n suiwer geskenk, en daarvoor dank ons Hom vandag!

 

En ons kyk ook vooruit, want Christus het beloof dat Hy sal terugkom.

Hy het beloof dat Hy sy dissipels se harte gaan bly maak, as Hy hulle weer sal sien – Johannes 16:22.

Daaraan herinner ook ons Hom, ons hou Hom daaraan.

Kom terug, Here Jesus.

Maak ons harte bly!

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 9:1,7

Wet

Ps 119:22,29

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met die sing van die Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

1e tafel: Skriflesing: Esegiël 18:20-32; 1e punt van preek se teks: Esegiël 18:31-32); Ps 16:3

2e tafel: Skriflesing: Esegiël 36:16-38); 2e punt van preek se teks: Esegiël 36:26; Ps 16:4

3e tafel: Lofverheffing; Ps 16:5

Dankgebed en voorbede

Kollekte

Sb 14:1,2

Seën