Elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2024-06-23
Teks: 
Joël 2:32
Preek Inhoud: 

Preek: Joël 2:32

 

Die boek Joël begin met ‘n baie ongewone ding.

Daar was ‘n sprinkaanplaag in die land met verwoestende gevolge.

Deesdae hoor mens nie meer so baie van sprinkaanplae nie.

Die sprinkane word met gif in bedwang gehou.

Maar soms gebeur dit nog.

Ons het ‘n paar jaar gelede deur die Karoo gery toe daar ‘n wolk sprinkane verbykom.

Jy moes jou ruitewissers en ligte aansit, mens kon beswaarlik daardeur kom.

Toe ons kampeer, was die sprinkane orals.

As jy vir ‘n oomblik van jou kampstoel opstaan, moes jy eers ‘n dosyn sprinkane afklap voor jy weer kon gaan sit.

‘n Onderwyser het destyds vir ons vertel dat toe hy kind was op die plaas, daar soms wolke en wolke sprinkane verbygekom het.

As hulle in ‘n boom gaan sit, het die dik takke van die boom afgeskeur, so swaar was hulle almal saam.

In hoofstuk 1 en 2 beskryf Joël die natuurramp.

Hy noem die verskillende metamorfoses waardeur hierdie insekte gaan: afknyper, treksprinkaan, voetganger en kaalvreter.

As die eerste klomp nog iets oorgelos het, het die tweede of derde of vierdes alles kaalgevreet.

Nie net die graan nie, ook al die gras, selfs die bas van die boomstamme.

Hulle laat ‘n land soos ‘n woestyn agter.

In daardie tyd was ‘n sprinkaanplaag katastrofies, dit het direk gelei tot hongersnood.

 

 

Tema: Elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word

Die HERE bring die straf

Die HERE bied ‘n plek van veiligheid

Die HERE roep die vrygeraaktes

 

Die HERE bring die straf

Nadat Joël hierdie natuurramp beskryf het, kom hy tot ‘n opmerklike uitspraak.

Dit was nie net ‘n natuurramp nie, preek hy vir die volk, dit was die HERE wat hierdie sprinkane gestuur het.

Hulle was ‘n leër – Joël beskryf hulle asof hulle soldate is – wat God se weermag is.

Dit was ‘n direkte straf van die HERE.

Hy sluit dan af met die oproep:

“Maar selfs nou nog, spreek die HERE, bekeer julle tot My met hulle hele hart ... skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil; wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy ‘n seën sal agterlaat” (Joël 2:12-14).

 

Dit was skokkend dat Joël hierdie natuurramp ‘n straf van God genoem het.

Tog was dit die boodskap wat hy moes bring namens die HERE, al het dit hom baie ongewild gemaak.

Gemeente, beleef ons nog dat teenslae van die HERE kom?

Ons bely met die Heidelbergse Kategismus dat nie net reën nie, maar ook droogte, nie net vrugbare nie, maar ook onvrugbare jare, nie net gesondheid nie, maar ook siekte, nie net rykdom nie, maar ook armoede ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom (Sondag 10).

As jy besef dat God in beheer van alles is, sal ‘n terugslag jou tot verootmoediging bring.

God het alle reg om te straf, nie net die wêreld nie, maar my ook.

Daar is alle rede vir verootmoediging.

 

Maar die feit dat die straf van die HERE af kom, is iets wat ook vertroostend is.

Want as dit inderdaad van die HERE kom, mag jy vertrou dat Hy die straf ook weer sal wegneem, asook jou die krag sal gee om daardeur te kom.

 

So mag Joël nie net God se strawwende hand aan die volk wys nie, maar ook die berig dat daar weer beter tye sal kom.

Die HERE sal weer ‘n seën agterlaat (Joël 2:14).

Die HERE sal weer koring en mos en olie gee, sodat julle versadig kan word (Joël 2:19).

Koring, mos en olie, dit was die vernaamste landbouprodukte in daardie tyd.

Mos is druiwe.

En olie verwys na olyfolie, wat natuurlik van olyfbome kom.

Daar was baie olyfboere.

Die sprinkane het die olyfbome, die wingerde, die koringvelde vernietig.

Maar die HERE beloof weer herstel, selfs oorvloed.

 

Gemeente, dit is ‘n seën as mens so deur die lewe mag gaan.

Om naby die HERE te lewe.

Om alles wat met jou gebeur, God se voorsienige hand te sien.

En as dit slegter gaan, na die HERE te vlug, enersyds skuldbewus, maar andersyds ook met vertroue.

Soos ‘n kind bang is vir sy pa as hy stout was, maar dit neem nie weg dat hy sy pa steeds vertrou nie.

Hy weet dat, al kry hy ‘n pakslaag, sy pa hom nie sal doodslaan nie, dat sy pa hom daarna weer sal troos.

 

So is Joël ‘n pragtige boek.

Dit begin met die donker sprinkaanwolke, die donker wolke van God se straf.

Maar dit vervolg deur op die HERE se redding te wys, soos in ons teks:

“En elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word”.

 

Die HERE bied ‘n plek van veiligheid

Die teks vervolg met aan te dui waar daar redding sal wees: “want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees”.

Nie dat die berg Sion so besonder was nie, maar die tempel van die HERE het daar gestaan.

Daar kon die volk heengaan met hulle skuldoffers, daar kon hulle berou gaan toon vir die HERE.

En, daar kon hulle vergewing van Hom ontvang.

Daar kon die priester wat deur die HERE aangestel is, versoening vir hulle doen.

 

Die woord “ontkoming” dui op ontvlugting.

Die HERE gee ‘n plek om heen te vlug as die oordeel losbars.

Daar, by die HERE se huis, kan jy skuil totdat die oordeel verby is.

Soos destyds die HERE ontvlugting gegee het vir Noag in die ark, toe die sondvloed gekom het.

 

Ja dit sal jou lewe red om die pad na die HERE se huis te ken.

Dit is besonder dat ouers hulle kindjie vanoggend saam kerk toe gevat het om gedoop te word.

En hulle het belowe dat hulle, as sy groter word, haar sal leer om self die pad na die kerk te vind.

Want ook vandag is God nog direk betrokke by alles wat op aarde gebeur.

En ook vandag is daar nog strawwe en oordele wat Hy oor die wêreld laat kom.

Selfs ook oor sy kinders, soos Hy destyds gedoen het met sy ongehoorsame en afvallige volk.

Maar desnietemin gee Hy ook ‘n ontsnappingsplek.

 

In die Nuwe Testament word baie duidelik gemaak dat, al is daar nou nie meer ‘n tempel op die berg Sion nie, die HERE nog steeds ‘n plek van veiligheid bied.

In Handelinge staan: “En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Hand 2:21)

Petrus haal hierdie woorde direk aan uit Joël se profesie.

En in Romeine 10 skryf Paulus: “Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Rom 10:13)

Hierdie twee verse uit die Nuwe Testament gaan egter verder.

Waar Joël se uitnodiging eerstens gerig was aan Israel, die HERE se verbondsvolk destyds, is die uitnodiging nou wyer.

Joël het reeds die tippie van die sluier gelig, nou gaan dit in vervulling.

Paulus skryf: “Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie” (vers 12)

Griek is hier ‘n algemene term vir die heidene, elke mens wat nie deel was van God se volk nie.

Petrus en Paulus maak duidelik: In die nuwe bedeling verbreed die grense van God se volk.

Daar is nou ‘n direkte uitnodiging aan die heidene: Julle mag ook by die Here kom veiligheid vind.

Die plek van ontvlugting staan ook vir julle oop.

 

Nou waar kan hulle dan die HERE ontmoet?

Dit maak die Nuwe Testament ook duidelik.

Toe die apostels op hulle sendingsreise was, het hulle die heidene nie opgeroep om op pelgrimsreis na Jerusalem te gaan nie.

Maar hulle het in elke stad en dorp waar hulle gekom het, ‘n kerk van die Here Jesus Christus geplant.

Dit is die plek van veiligheid in die nuwe era.

Die berg Sion is nou die kerk.

 

Die doopouers het hulle baba ook na die plek van veiligheid gebring.

Nie ‘n pelgrimsreis na Jerusalem nie.

Maar hier, waar Jesus Christus sy gemeente vergader, waar sy Woord verkondig word, waar sy sakramente bedien word.

Ons is histories ook afstammelinge van die heidene, ons is nie afstammelinge van die Joodse volk nie, net so min as die res van die mense hier in Suid-Afrika.

Maar net so kragtig klink God se uitnodiging aan ons: “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.”

En dan gaan Paulus verder deur te verduidelik hoe die heidene die Here kan leer ken.

Hoe kan hulle Hom aanroep in wie hulle nie geglo het nie?

En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie?

En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?

Maar Christus stuur sy dienaars om die evangelie van vrede te verkondig.

En so is daar tot vandag in die 21ste eeu ‘n plek van ontvlugting, ‘n plek van veiligheid, en dit tot aan die uiterste van die aarde.

En dit sal daar bly tot die einde van die tyd, tot die dag waarop Christus terugkom.

Hy sal sy kerk – sy Jerusalem – bly vergader en beskerm en uitbrei.

Hy is ‘n Koning wat nooit sonder onderdane sal wees nie.

Daar sal altyd die spreekwoordelike sewe duisend wees, wat hulle knie voor Baäl buig nie.

Die plek van veiligheid sal nie leeg wees nie, steeds kom daar nuwe vlugtelinge aan om hulle redding daar te vind.

Want ook in ons tyd bly Christus mense uit alle rigtings roep om hierdie veiligheid te vind.

 

Die HERE roep die vrygeraaktes

Dan is daar nog ‘n woord in ons teks wat aandag vra: “vrygeraaktes”.

Vrygeraaktes, mens kan ook vertaal, oorlewendes.

En daar word bygesê: die wat die HERE sal roep.

In sy genade gee die HERE aan sommiges oorlewing, Hy roep hulle na die berg Sion.

As hulle tot inkeer en berou kom, is Hy bereid om met hulle ‘n nuwe begin te maak.

Ons kan dink aan die ballingskap wat na Joël se tyd plaasgevind het.

In sy genade het God sommiges deur die oordeel heen bewaar en vir hulle die kans gegee om weer terug te keer na Jerusalem.

Hy het hulle uit die ballingskap teruggeroep.

Dit was nie hulle eie skranderheid wat hulle laat oorlewe het nie.

Soos ons sing in Psalm 124: “Die troue HEER het self ons vrygemaak” (vers 4 berymd).

Om ‘n oorlewende te wees, is genade.

Die HERE gee nuwe lewenskanse.

Die HERE bied jou die kans om uit die kloue van die duiwel, van ‘n sondige wêreld, los te kom.

Die HERE roep ook vir hierdie kindjie wat gedoop is.

In sy genade skenk Hy haar gelowige ouers wat haar vandag laat doop het.

Sy is gedoop in die Naam van haar God, Vader, Seun en Heilige Gees.

Sy is ook onder daardie mense waaroor Joël geprofeteer het:

Ek sal my Gees uitgiet op alle vlees – julle seuns en dogters, julle ou mense, julle jongelinge, selfs op die diensknegte in diensmaagde.

Hierdie laaste dui op die slawe, wat mense uit ander nasies was – die heidene.

Die 2020-Vertaling vertaal: slawe en slavinne.

Heilshistories is ons afstammelinge van hierdie slawe – die heidene.

Maar ook ons ontvang nou die Heilige Gees in die nuwe bedeling.

Ook ons word deur Hom gesalf om te staan in sy diens, as profeet, priester en koning.

 

Uit alle vlees – dit wil sê vir heel die mensdom staan die deur van die kerk vandag oop.

Die HERE roep.

Mense mag kom skuil in hierdie plek van veiligheid, ingelyf by die gemeente van Jesus Christus.

Hier leer mense om weg te bly uit die kloue van die sonde, van die Satan, van ‘n afvallige wêreld.

Ons word hier nie ‘n paradys op aarde beloof nie.

God se regverdige oordele tref steeds die aarde.

Die vyand is nog baie aktief.

Maar elke keer kan ons na hierdie plek van veiligheid vlug.

Hier ontvang ons vryspraak.

Want self het ons dit net so nodig.

Soos die Doopsformulier dit saamvat: Elkeen van ons word in sonde ontvang en gebore.

Ons moet ook ontvlug, bevry word, van ons ou mens.

Met die doop beloof God vergewing, bevryding, elke keer as ons dit in Christus se Naam vra.

Hy sal verhoor, Hy sal versoening skenk.

Hy het sy eie Seun gegee, wat die ergste oordeel ondergaan het, om ons te kan vryspreek.

 

Broers en susters, julle is vrygeraaktes.

Die HERE roep julle hierheen.

Geroep is nie sinoniem aan salig maak nie.

Daarom klink die oproep: Bly by julle vryheid!

Moenie die bande deursny met hierdie veilige plek nie.

En aan die ouers klink die oproep: Neem jou kinders hierheen, maak hulle gewoond om elke Sondag hierheen te kom.

Gaan hulle voor, maar let ook daarop dat hulle later uit eie wil hierheen kom, dat hulle hulle Verlosser self leer vertrou, die Naam van die HERE self leer aanroep.

Om die Naam van die HERE aan te roep, soos die teks sê, is nie ‘n enkelmalige noodkreet, ‘n soort skietgebed nie.

Die Naam van die Here aanroep is ‘n uitdrukking vir om die HERE te dien, volhardend, op die lang termyn aan Hom toegewyd te wees.

So sal daar vir hulle ook ontkoming, redding, wees wat in sy huis bly skuil, hulle lewe lank.

 

En dan dink ons veral aan die grootste oordeel wat die aarde nog te wagte staan.

Paulus bied die ontkoming aan hierdie oordeel aan vir die mense in Athene as hy hulle oproep:

“God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.” (Hand 17:30-31)

Ja, daar is ‘n ontsaglike oordeel op koms, dis soos ‘n onweersbui, gitswart wolke wat op die horison hang en stadig maar seker naderkom.

Ons ken hierdie tipe storms in die somermaande, die broeierige stilte voor die storm, dan ineens die wind wat verskriklik begin waai.

So verskyn die groot oordeel reeds aan die horison van die wêreldgeskiedenis.

Joël kondig dit aan: “Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die HERE kom.” (Joël 2:31)

As gelowiges leer ons om daarop te let, die horison dop te hou, en betyds voorbereidings te tref.

Betyds op ‘n veilige plek te wees, voor die blitse begin rondslaan.

Ons kan skuilplek soek hier in die plek van veiligheid, by hierdie Man wat reeds deur die oordeel heengegaan het, wat die oordeel deurstaan het, wat uit die dood opgestaan het.

 

Broer, suster, elkeen wat vandag hier is, hierdie boodskap is ook vir jou bedoel:

Elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word.

Moenie hieraan twyfel nie, die HERE bied dit jou ook aan.

Christus se vergewing bied Hy jou ook aan.

Hy roep jou.

Sommigs roep Hy reeds as ‘n baba.

Ander eers later in hulle lewe.

Hy bly roep, deur die eeue heen.

En vir seker, die plek van veiligheid wat Hy bied, sal altyd vol vrygeraaktes wees.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 87:1,2

Wet

Ps 24:2,3

Gebed

Doopsformulier

Gebed

Doop

Ps 105:5

Dankgebed

Skriflesing: Joël 2

Sb 13:7-9

Teks: Joël 2:32

Preek

Ps 124:2-4

Gebed

Kollekte

Ps 87:3-5

Seën