Hoekom kon Jesus nie baie kragtige dade in Nasaret verrig nie?

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2024-07-14
Teks: 
Mattheüs 13:58 & Markus 6:5
Preek Inhoud: 

Preek: Mattheüs 13:58 & Markus 6:5

 

Oor Jesus se jeug weet ons nie veel nie.

Wel dat Nasaret die dorp was waar Hy opgegroei het.

In Mattheüs 2:23 staan dat Josef en Maria, nadat hulle uit Egipte teruggekeer het, in Nasaret gaan woon het.

Josef was bang om na Judea te gaan, omdat koning Herodes se seun Archelaüs daar na sy dood koning geword het.

In Nasaret het Josef as timmerman gaan werk.

Jesus het daar broers en susters gekry, wat saam met Hom opgegroei het.

Jesus het eers op 30 jaar met sy amptelike werk begin, die gebruiklike ouderdom vir priesters in die Ou Testament om met hulle amptelike werk te begin.

Waarskynlik het Jesus ‘n groot deel van die eerste 30 jaar van sy lewe in Nasaret gebly.

Dus uiteraard het die mense Hom daar goed geken.

Nasaret was nie ‘n groot dorp in daardie tyd nie.

Skattings loop uiteen van 500 tot dalk 1500, maar in beide gevalle is dit maar ‘n klein dorpie.

Jesus het saam met die mense van Nasaret elke sabbat die sinagoge besoek.

Hy het in dieselfde strate geloop en gekuier.

Hy het dieselfde kos geëet, klere gedra, noem maar op.

Toe Jesus later volwasse was, weet ons uit die Bybel, het Hy in Kapernaüm gaan woon.

Maar in vandag se teks lees ons hoe Hy na sy tuisdorp teruggekeer het.

 

Tema: Hoekom kon Jesus nie baie kragtige dade in Nasaret verrig nie?

 

Nasaret en Kapernaüm was so 30-40 km uit mekaar.

As mens te voet moet reis, was dit nie ‘n afstand wat mense gereeld afgelê het nie.

Maar toe Hy daar aankom, het die mense Hom vinnig herken.

Verbaas het hulle gevra, veral in die lig van sy wysheid en wonderkragte:

Maar is dit nie die seun van die timmerman nie?

En is sy ma nie Maria nie?

En sy broers ken ons.

En al sy susters – hulle is mos hier by ons?

 

Ons weet uit die Bybel dat Nasaret nie die mees gewilde dorp was nie.

Natanaël het skepties gevra: “Kan daar uit Nasaret iets goeds wees?” (Joh 1:47)

Dit was moontlik die spreekwoordelike Brakpan of Benoni van daardie tyd.

Maar nie net om hierdie rede was die mense uit die staanspoor skepties teenoor Jesus nie, gewoon ook die feit dat hulle Hom geken het as seun, Hom sien opgroei het.

Dalk ‘n soort jaloesie ...

Dit is eintlik heel menslik om nie iemand met wie jy opgegroei het, op te hemel nie.

In elk geval, daar was om die minste te sê, gemengde gevoelens toe Jesus in Nasaret opdaag, nou as ‘n rabbi wat in die einste sinagoge voorgaan waar Hy destyds opgegroei het.

Kort hiervoor het Jesus veel geloof gevind in ‘n ander dorp se sinagoge, toe Jaïrus, wat die owerste van daardie sinagoge was, Jesus ontbied het omdat sy dogtertjie so siek was.

Maar hier in Nasaret beleef Jesus die omgekeerde.

Geen verwondering, geen groot verwagtings nie, inteendeel.

Die mense probeer Jesus af te trek – moenie jouself te veel verbeel nie!

Onthou, in Jesus se prediking het Hy daarop gehamer dat die hemelse Vader Hom gestuur het, dat sy boodskap uit die hemel kom, ja dat Hy self van die Vader kom!

Maar hierdie uitsprake ontmoet in Nasaret skeptisisme.

Ag man, jy is maar ‘n timmerman se seun!

Hoe kom jy aan hierdie geleerdheid terwyl jy nie eers onderwys ontvang het nie?? (Joh 7:15)

Die evangelis Johannes beskryf hierdie reaksie en haal die mense aan: “Is Hy nie Jesus, die seun van Josef, wie se vader en moet ons ken nie? Hoe sê Hy dan: Ek het uit die hemel neergedaal?” (Joh 6:42)

Jesus vat dit saam deur te sê: ‘n Profeet is nie ongeëerd nie, behalwe in sy vaderland en in sy huis.

Die woord vaderland kan hier beter vertaal word as tuisdorp – sien die 2020-Vertaling.

Dit gaan spesifiek oor ‘n plek waar die mense Hom persoonlik geken het, iets waarvoor vaderland te groot is.

 

Maar hoekom moet hulle nou na sy wysheid luister?

Hoe kan Hy, wat in dieselfde omstandighede as hulle opgegroei het, nou ineens meer wysheid hê?

En daardie kragtige dade wat Hy kwansuis verrig, die mense was bietjie skepties en agterdogtig ...

Om die minste te sê, hulle het nie direk van sy goeie bedoelings uitgegaan nie.

 

Gemeente, is dit nie maar algemeen menslik nie?

Iemand wat tussen ons opgegroei het, moet homself nie te veel verbeel nie.

En indien wel, sal ons hom wel ‘n koppie kleiner maak ...

Dit lyk vir hulle ondenkbaar dat Hy die Messias kan wees ...

 

‘n Koel ontvangs dus, met as gevolg, skryf Mattheüs en Markus, dat Hy daar nie baie kragtige dade gedoen het nie.

Wat ‘n kontras met wat direk na ons teks volg.

Sodra Jesus Nasaret weer verlaat, verrig Hy een van sy mees opsienbarende wonders, naamlik die vermeerdering van vyf brode en twee visse sodat ‘n skare van minimaal vyfduisend tot versadiging toe kon eet en daar nog twaalf mandjies vol brokstukke oorgebly het.

 

Nou hoekom het sulke dinge nie in Nasaret gebeur nie?

Gemeente, dis opvallend dat daar in die Bybel ‘n korrelasie is tussen die wonders wat Jesus gedoen het en die geloof van die mense.

Waar daar geen geloof was, waar mense op Hom neergekyk het, daar het geen wonders plaasgevind nie.

Die evangelis Markus sê dit selfs nog indringender as hy hierdie gebeurtenis beskryf:

“En Hy kon daar geen krag doen nie.” (Mark 6:5)

‘n Opmerklike uitspraak in die lig van die feit dat Jesus God is.

‘n Kenmerk van sy goddelikheid is mos dat Hy almagtig is, dat Hy alles kan doen!

Hoe is dit dan moontlik om te sê Hy kon daar geen wonders verrig nie ...?

Nou vertel Markus wel dat Hy daar ‘n paar siekes die hande opgelê en hulle gesond gemaak het.

Hy het dus wonders in Nasaret verrig, maar nie baie nie.

Dit is wat ook deur Mattheüs bedoel word as hy skryf: Hy het nie baie – dit wil sê in numeriese sin – nie ‘n groot aantal kragtige dade daar gedoen nie.

By verre nie soveel vergeleke met wat Hy in ander dorpe gedoen het nie.

 

Wat was dan aan die hand?

Hier onmag, die feit dat Hy dit nie kon doen nie, het dus nie aan Hom gelê nie.

Maar dit het gelê aan die feit dat amper niemand na Hom gekom het nie.

By wyse van spreke, die spreekkamer het leeg gebly.

Mense het nie veel van hierdie dokter verwag nie.

Hulle was nie soos Jaïrus nie, of soos die vrou wat al twaalf jaar aan bloedvloeiing gely en al by hoeveel geneeshere was.

Sy het soveel van Jesus verwag dat sy gedink het: Selfs net om sy klere aan te raak sal my gesond kan maak! (Mark 5:28)

Maar in Nasaret, nee, die mense het Hom nie in vertroue geneem nie.

En, soos ek genoem het, daar is ‘n korrelasie tussen sy wonders, sy kragtige dade, en die mense se geloof.

Wie nie die begeerte het om genees te word nie, ontvang dit ook nie.

Wie nie enigsins iets van Jesus verwag nie, sal ook nie na Hom toe kom nie.

Jesus het daardie vrou met bloedvloeiing nie kwalik geneem nie.

Hy’t vir haar gesê: “Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered.” (Matt 9:22)

Sy het geglo Hy kan dit doen, selfs deur net sy klere aan te raak.

Dit is wat Jesus wil sien: geloof.

Soos Hy net daarna vir twee blindes wat Hom gevolg het vra:

Glo julle dat Ek dit kan doen? Hulle antwoord Hom: Ja, Here. Toe raak Hy hulle oë aan en sê: Laat dit vir julle wees volgens julle geloof. En hulle oë het oopgegaan.” (Matt 9:28-30)

 

Broers en susters, kan Jesus kragtige dade hier in ons gemeente verrig?

Nou is Jesus nie meer liggaamlik in ons midde nie.

Ons kan ook nie die situasie in Nasaret een-op-een vergelyk met ons situasie nie.

Wat in Nasaret gebeur het, was simptomaties vir wat later die hele volk van God sou doen – naamlik om hulle Messias te verag, te verwerp, selfs te kruisig.

Dit is ‘n periode uit die heilsgeskiedenis wat verby is.

Tog kom Jesus vandag ook na ons, besoek Hy ook ons ‘dorp’, ons gemeenskap.

Maar dit doen Hy deur sy Woord.

Want dit is wat ons wel het: sy Woord.

In die eerste fase van die Nuwe Testament het daar wonders plaasgevind.

Jesus het wonders gedoen, en Hy het aan die apostels ook die vermoë gegee om wonders te verrig.

Maar daarna, toe sy Woord op skrif gestel is, en die kanon voltooi is, het Christus aan sy volgelinge nie meer die vermoë gegee om wonders te verrig nie.

Voortaan was daar die krag van die Woord.

As ek dus nou vra: Kan Jesus kragtige dade hier in en deur ons gemeente verrig?, dan fokus ons dus op sy Woord.

Kan sy Woord wonders hier verrig?

Jesus sê oor sy Woord: “wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.” (Joh 5:24)

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie sien nie.” (Joh 8:51)

God se Woord bring lewe, ewige lewe.

Dit geld vir jouself, dit geld vir elkeen aan wie die Woord verkondig word.

Ons kan vandag nie meer wonders op bestelling verrig, soos verlamdes of siekes genees nie.

Die ultieme doel van daardie wonders wat Jesus gedoen het was destyds om die mense se aandag te trek vir sy Woord, sy blye boodskap van die ewige lewe.

Dink aan die vermeerdering van die brode, die wonder wat na Jesus se besoek in Nasaret gebeur het.

Na hierdie wonder het Jesus gepreek: Moenie hierdie gewone brood bly soek nie, maar soek My, wat Ek is die brood van die lewe!

 

Christus se Woord is lewenskragtig, dit doen wonders van geloof, bekering, toewyding, volharding, verheerliking – ja dit verwek die ewige lewe.

Die HEER se Woord is lewenskragtig, wat lewe uit die dood gebied (nav Ps 33:5 berymd).

Hierdie was dus destyds die doel van die wonders.

Vandag het ons die skeppingsmagtige Woord van Christus nog steeds.

Christus het, nadat Hy na die hemel opgevaar het, sy Heilige Gees uitgestort.

Die Heilige Gees werk in ons deur Christus se Woord!

Laat ons dit gebruik!

Laat ons nie te min daarvan dink nie!

 

Wat uiteindelik die probleem in Nasaret was, is dat die mense nie in sy Woord belanggestel het nie.

Hulle het op Hom neergekyk.

Hoekom sy prediking ernstig neem?

Is Hy nie die seun van daardie timmerman nie?

Sy ma is Maria, sy broers Jakobus en Joses en Simon en Judeas.

En ons ken sy susters ...

Ag nee wat, waar kry Hy hierdie dinge vandaan?

Kortom, hulle het aanstoot aan Hom geneem.

Wat verbeel Hy Homself?

En wat opvallend is, hulle het oor Hom gepraat, hulle het nie met Hom gaan praat nie.

En so blokkeer hulle self dat iets pragtigs met hulle gebeur.

Hulle kom nie tot geloof in Hom nie.

Hulle ervaar nie dit wat Hy vir hulle kan bied nie.

 

Nou behaag dit God vandag nog steeds om sy Woord tot ons te bring deur mense.

Deur ampsdraers, predikante, sendelinge, preeklesers, noem maar op.

Dit is oor die algemeen mense wat ons goed ken, met wie ons dikwels saam opgegroei het.

Sê nou maar daar word ‘n broeder tot ouderling bevestig wat saam met jou in die klas was.

Sê nou maar iemand word ouderling aan wie jy destyds as juffrou klas gegee het.

Sê nou maar daardie ouderling of diaken het as klein seuntjie nog saam met jou kinders gespeel.

Jy onthou nog al sy streke van vroeër.

Is dit nie eintlik logies dat die mense van Nasaret so gereageer het nie?

Het ons nie maar ook die neiging om dieselfde te doen nie?

Moet daai diakentjie by my op besoek kom en met my geldsake inmeng?

Hy is ‘n seun van die en die, en dit is nou ook nie – jy weet wel – die beste familie nie ...

Mens kan die nodige aanmerkings op hulle maak.

En, daardie jong ouderling, gaan hy my hiet en gebied?

Of ook wat betref bejaarde ouderlinge.

Daardie ou oom, hy kom nog uit die prehistorie, ek gaan nie met hom die dinge deel wat my as student besig hou nie.

Kan u verstaan, gemeente, dat as ons so ‘n houding het, dat die ampsdraers in hulle skulp kruip?

Kan u verstaan dat dit hulle kan belemmer om vrymoedig die Woord te bring?

En dat so ‘n houding u self gaan verhinder om dit wat hy sê ernstig op te vat?

Laat ons steeds onthou, hulle kom met die Woord.

Die Woord is lewenskragtig, dit is wonderkragtig.

As jy jou oopstel, as jy buig voor die Woord, sal dit in jou werk.

Moenie jou afsluit, moenie skepties wees, net omdat die Woord na jou kom deur iemand wat jy goed ken, of iemand wat veel jonger of veel ouer as jy is nie.

Moenie net oor die ampsdraers praat nie, praat met hulle!

 

Omdat Jesus in sy tuisdorp was, het die mense nie veel van Hom verwag nie.

Hulle het Hom in hulle raamwerk probeer inpas, hulle persepsies het oorgeneem.

Hulle het oor Hom gepraat, geskinder, maar hulle het nie met Hom gaan praat, laat staan gevra dat Hy hulle genees nie.

Wat verwag ons vandag van die Woord van Christus en die kragtige werking van die Gees deur sy Woord?

Hoe benader ons die ampsdraers wat deur Christus met die Woord oppad gestuur word?

Aan ons die oproep vandag: Al ken jy hulle van kleintyd af, al is hulle dekades jonger of ouer as jy, besef dat Christus hulle geroep het om met sy Woord op pad te gaan.

En daarom, verwag veel van hulle.

Neem hulle in vertroue.

Gaan na hulle met jou probleme, omdat jy glo dat Christus deur sy Woord wonders kan doen!

Moenie te min daarvan verwag nie!

Moenie hulle aftrek nie, al het hulle hulle gebreke en is hulle net so sondig so iedereen.

Sien Christus, bewys agting vir sy Woord.

Laat Christus se werk in ons midde nie aan bande gelê word deur so ‘n tipe houding nie.

 

Soos ek genoem het, daar was ‘n korrelasie tussen die wonders en die geloof van die mense.

En, daar is ook ‘n korrelasie tussen die krag van die Woord in ons midde en ons opstelling teenoor die Woord, en teenoor die wat die HERE aangestel het.

As ons hulle verag soos die mense van Nasaret vir Jesus verag het, dan word die Woord kragteloos.

Dis nie dat die ampsdraers nou met Jesus gelykgestel word nie.

Jesus het met sy eie Woord gekom, Hy het gesag in Homself gehad.

Ons ampdraers kom met die Woord van Christus.

 

Christus is nie dood nie.

Hy het opgestaan, Hy regeer in die hemel.

Hy het sy Gees uitgestort.

Ook vandag kan Hy wonders doen.

Maar laat dit nie ooit van ons ‘dorp’ gesê moet word: Daar kon Hy geen kragtige dade verrig nie.

Want dan sal dit nie aan Hom lê nie, maar aan ons wat nie die Heiland, die Heelmeester, opgesoek het nie.

Wat ‘n voorreg was dit vir Nasaret dat Jesus hulle dorp besoek het – al het hulle self nie besef hoe groot voorreg dit was nie.

Wat ‘n voorreg dat Jesus ook ons keer op keer besoek met sy Woord.

 

Die jaartema hierdie jaar is: Ons nuwe lewe in Christus.

Hierdie nuwe lewe word verwek deur die Heilige Gees, wat daarvoor die Woord gebruik.

Doen die Woord wonders in jou lewe?

Maak dit jou lewe nuut?

As jy laagdunkend doen oor die Woord wat tot jou kom, dan gaan dit ook nie iets regkry in jou lewe nie.

Dan gaan die vrugte van die Gees nie in jou lewe aanwesig wees nie.

Vrugte soos vriendelikheid, geduld, verdraagsaamheid, behulpsaamheid, gasvryheid, noem maar op.

Die Woord doen hierdie dinge.

Die Woord is kragtig, dit kan konflikte oplos, verhoudinge verbeter, dit kan die swakpunte van jou karakter aanspreek, dit kan jou lewenspatrone ombuig.

Die wonders van Christus se Woord in jou lewe sal nie onsigbaar bly nie.

Dit sal jou kollega’s en jou familielede en mede-gemeentelede opval.

 

Deel van ons jaartema is ook dat die nuwe lewe aansteeklik is.

Aansteeklik nie danksy onsself nie.

Maar aansteeklik danksy Christus se werk in ons midde, in sy gemeente.

Dat ons bereid is om voor sy Woord te buig, ook as dit tot ons kom deur mense met hulle beperkings en gebreke.

Dan is ons ‘n gesonde liggaam – dink aan hoe Paulus die kerk vergelyk met ‘n gesonde en goed funksionerende liggaam (1 Kor 12).

 

Jesus kon nie baie kragtige dade in Nasaret verrig nie.

‘n Kerk sal homself nie sommer na hierdie dorp vernoem nie.

Nasaret het nie ‘n goeie reputasie gehad nie.

‘n Kerk sal eerder ‘n naam kies soos Filadelfia, waaroor ons in Openbaring lees.

Jesus sê oor hulle:

“Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou 'n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie.” (Openb 3:8)

Of ’n gemeente sal ’n naam kies soos Berea, waaroor ons in Handelinge lees:

“hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.” (Hand 17:11)

Gemeente, Laat ons nie as ‘n Nasaret bekend staan nie, maar as ‘n Filadelfia, of ‘n Berea!

Laat ons ons eie Naam gestand doen – Maranata – dat ons gretig die wederkoms van Christus verwag, deurdat elke dag sy Woord kragtig in ons werk.

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 147:6,7

Wet

Ps 33:3,5

Gebed

Skriflesing: Mattheüs 13:53-58 & 14:14-21 & Markus 5:21–6:6

Ps 89:6

Teks: Mattheüs 13:58 & Markus 6:5

Preek

Sb 43:2,4

Gebed

Kollekte

Ps 138:2,3

Seën