Preek: Exodus 20:8-11
Die tema hierdie jaar is die nuwe lewe wat ons van Christus ontvang.
Sy Gees leer ons om ‘n nuwe lewe van toewyding aan ons Heiland te lei.
Nou kom die vraag op: Hoe lyk daardie nuwe lewe?
Ons weet dat die Heilige Gees daarvoor met name die Woord gebruik.
Maar, as ons die Bybel lees, vind ons daarin soveel riglyne en bevele.
En om eerlik te wees, sommiges kry baie aandag, terwyl ander vir ons gevoel oor die hoof gesien word.
Die vraag hou baie van ons dus besig: Waaraan moet ons ons hou, en wat hoef nie?
En dan gaan dit veral oor al die gebooie, die bevele, instruksies, instellings van die Ou Testament.
Die eerste boeke in die Bybel staan vol daarvan.
God het aan Moses sy wil geopenbaar.
Dit is kort saamgevat in die tien gebooie.
Maar wie verder lees in Exodus, Levitikus, Numeri, Deuteronomium, vind daar ‘n wye verskeidenheid aan gebooie.
Verskillende daarvan ken ons amper, verstaan ons amper, en die vraag is of ons hulle wel nakom.
Wie besluit eintlik watter gebooie hulle tyd gehad het, en watter nog steeds belangrik is?
Tema: Die vierde gebod in ons nuwe lewe in Christus
- Die waarheid en inhoud van die Ou Testamentiese wette
- Die eerste dag is die gedenkdag van Christus se opstanding
- Die waarheid en inhoud van die Ou Testamentiese wette
As kerk het ons ‘n riglyn in hierdie opsig geformuleer in ons belydenis, spesifiek in die Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 25.
Ek dink dis goed om dit gou saam te lees.
“Ons glo dat die seremonies en heenwysings van die wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot 'n einde gekom het. Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word. Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan: in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling. Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.”
(Dan word daar ’n paar Bybeltekste uit die Nuwe Testament as verwysing genoem: Rom .10:4; Gal. 3:4; Kol. 2:17; 2 Pet. 1:19; 3:2,18.)
Hierdie laaste sin is belangrik: Die Ou Testament gebruik ons nog steeds om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.
Die Ou Testament het nie irrelevant geword vir die nuwe bedeling nie.
Terselfdertyd is dinge ook nie meer identies aan die tyd van die Ou Testament nie.
Christus se koms het alles daarmee te make.
Daar is seremonies en heenwysings van die wet wat in Christus vervul is en derhalwe afgeskaf moet word.
Dis nie opsioneel nie, dit moet afgeskaf word!
Die bekendste voorbeeld is natuurlik die offerkultus.
Daar is nie meer ‘n tempel nie.
Diere word nie meer op ‘n altaar voor die kerk geslag nie.
Christus het die laaste en finale offer gebring.
Tog is, soos die NGB sê, die waarheid en inhoud nog vir ons belangrik.
Daarom praat ons byvoorbeeld nog steeds van offergawes, as ons na die kollekte verwys.
Die wese is dieselfde, ons bring ons tiendes vir die diens van die Here by sy huis.
Die Nuwe Testament praat ook oor ons nuwe lewe in Christus as ‘n lewende dankoffer: “dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer”, staan daar in Romeine 12:1.
Uiteindelik was die belangrikste in die Ou Testament ook nie die rituele nie, maar die hart, die toewyding uit die hart van die persoon wat sy offer kom bring het.
Daardie toewyding is net so relevant vandag.
Nog ‘n voorbeeld is die besnydenis.
Die Nuwe Testament maak met soveel woorde duidelik dat die besnydenis nie meer nodig is nie.
Dit is deur die doop vervang.
Dat binne die Joodse volk deesdae die besnydenis nog plaasvind is ‘n tradisie, maar dit het nie meer dieselfde betekenis as in die ou verbond nie.
Kerke of groeperings wat dinge soos offers bring en besnydenis vandag verpligting stel, is sektaries.
In Afrika pas dit aan by baie mense se tradisionele godsdienste, en dus vind offers en besnydenis nog steeds plaas onder baie mense wat hulleself Christene noem.
Ook is daar groeperings wat die godsdienstige belang van die etniese Joodse volk in die nuwe bedeling so sentraal stel, dat Outestamentiese seremonies en bepalings heringevoer word.
Ook dit is sektaries.
Dit lei daartoe dat Christus nie meer in die absolute middelpunt van die geloof staan nie.
En dit is vir ons as kerk van Christus ononderhandelbaar.
Elke gebod in die Ou Testament, hoe klein ook, benader ons in die nuwe bedeling deur Christus.
Ons vra onsself steeds af watter implikasie Christus se werk op daardie gebod het.
‘n Baie ingrypende implikasie van sy werk is dat die posisie van die Joodse volk verander het.
Die verbondsvolk val nie meer saam met die volk Israel nie.
Daar het ‘n geweldige verbreding plaasgevind.
In die lig hiervan moet mens heelwat wette afskaf, al bly hulle betekenis wel relevant.
In die hermeneutiek, dis die wetenskap wat nadink oor hoe die Bybel uitgelê moet word, word daar die volgende onderskeid gemaak.
In die Ou Testament is daar morele, seremoniële en siviele wette.
Siviele wette het te make gehad met die burgerlike organisering en regering van die volk Israel.
Wette vir die koning, wette met betrekking tot die indeling van die beloofde land, wette wat betref openbare orde, regspraak, en dies meer.
Hierdie wette kan nie blindweg na vandag gekopieer word nie.
Christus se kerk bestaan nou uit mense van alle volke, tale en nasies.
In die lig hiervan is hulle nie meer relevant nie, al is die bedoeling daaragter wel nog relevant.
So geld dit ook vir al die offerwette, oftewel die sermoniële wette.
Al die instruksies hoe die tabernakel en tempel gebou moes word, die altaar, hoe die offers geslag moes word, watter offers daar was, en en en, is afgeskaf danksy Christus se offer.
Maar by elke instruksie kan ons nog steeds vra na die hoekom daaragter, en dan blyk dat dit wel steeds relevant is.
Dit bring ons by die morele wette, oftewel etiese wette, en dit is blywend.
Nou is hierdie driedeling – siviel, sermonieeel en moreel – op ‘n manier kunsmatig.
Dit word ook nie deur die NGB gemaak nie.
Mens sou eerder kon sê dat elke wet ‘n komponent van elkeen van hierdie drie gehad het.
Sommige van hierdie aspekte is nou afgeskaf, ander bly steeds geldig.
Om die eerste punt saam te vat:
Die waarheid en inhoud van die Ou Testamentiese wette is steeds relevant.
Dis vir ons baie kosbaar om ons te verdiep in die wet van Moses, en uit te vind hoekom die HERE elkeen van daardie bepalings gegee het.
Ons gaan nou verder om dit spesifiek toe te pas op al die bepalings wat met die vierde gebod te make het, oor die rusdag wat God ingestel het.
- Die eerste dag is die gedenkdag van Christus se opstanding
Ons fokus in vandag se preek veral op wat dit alles beteken vir die rusdag, ons tweede punt.
Daar is baie wette en bepalings in Moses se boeke oor die rusdag, almal saamgevat in die vir ons so bekende vierde gebod: “Gedenk die sabbatdag ...” (Ex 20:8)
Die woordjie gedenk beteken dat daar iets is om aan terug te dink, iets om te vier.
Inderdaad, daaraan herinner die HERE sy volk, en dit is die skepping van hemel en aarde.
Op die sewende dag het die HERE gerus en teruggedink aan en geniet van dit wat Hy geskape het.
Om iets te gedenk beteken om daarby stil te staan.
Die uitdrukking sê dit al: Jy staan daarby stil.
Waar jy ander dae besig is om te beweeg, dalk te hardloop om alles gedoen te kry, kom jy nou tot rus, jy staan stil, jy gedenk.
Hierdie gebod hoor ons elke week weer.
En die wese van hierdie gebod bly onveranderd van toepassing.
Elke sewende dag mag, ja moet die mens rus.
God het hierdie patroon self reeds by die skepping so ingestel.
Volgens sy oordeel is dit die beste vir sy skepping.
In Exodus 20 word spesifiek hierna terugverwys as begronding vir hierdie gebod.
Wat ook onveranderd gebly het, is dat die vierde gebod vir alle mense geld.
Ook vir jou dienskneg en diensmaagd, ook vir die vreemdeling, selfs vir die diere.
Kwetsbare mense wat maklik uitgebuit kan word, kan op grond van hierdie gebod aanspraak maak op presies dieselfde regte.
Tog het daar by die nalewing van die vierde gebod ook iets verander.
Hoewel daar sommiges is wat dit nie doen nie, rus die kerk van Christus in die nuwe bedeling nie meer op die sewende dag nie, maar op die eerste.
Is dit wel reg, as daar met soveel woorde in die vierde gebod staan: “in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus.” (Ex 20:11)
As dit so duidelik daar staan, dan moet daar wel ‘n baie groot rede wees om dit te verander.
En inderdaad, gemeente, die kerk in die nuwe bedeling het tot die oortuiging gekom dat dit wat met Christus gebeur het – sy opstanding uit die dood op die eerste dag – dat dit dieselfde gewigtigheid dra, dat dit dieselfde impak het as die destydse skepping van hemel en aarde.
Met Christus se opstanding op die eerste dag het ‘n nuwe skepping plaasgevind, die begin van die herskepping.
Dit is iets om voortaan te gedenk, iets wat net so ‘n groot impak het as die destydse skepping.
Daarom, waar in die Ou Testament die rusdag gepaard gegaan het met die erediens – dink byvoorbeeld aan die erediens in die sinagoges – kom die kerk voortaan saam in erediens op die eerste dag van die week.
Dis opvallend dat Pinksterdag, die uitstorting van die Heilige Gees, op die eerste dag van die week plaasgevind het.
En dat, soos ons in Handelinge 2:1 lees, die gelowiges toe “eendragtig bymekaar” was.
Mens kan ook vertaal: hulle was almal “op een plek bymekaar”.
En op daardie Sondag is daar toe drieduisend mense gedoop en aan die kerk toegevoeg (Hand 2:41).
En na Pinkster sien ons in die boek Handelinge dat die gelowiges op Sondag begin saamkom.
Soos in Troas: “En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek” (Hand 20:7).
“Eerste dag van die week” staan nie toevallig hier nie.
En Paulus skryf aan die Korinthiërs: “Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is” (1 Kor 16:2).
Ook hier staan die woorde “elke eerste dag van die week” nie toevallig nie.
Dit dui op die patroon wat van die begin in die Christelike gemeentes posgevat het, naamlik om op die Dag van die Here bymekaar te kom in ‘n erediens.
In Openbaring 1 verskyn Christus se Gees aan Johannes op die eerste dag van die week.
Opvallend word dit daar die “dag van die Here” genoem.
In die Bybel vind ons nie die woord Sondag nie, maar dit word genoem die Dag van die Here.
Die vir ons bekende name vir die weeksdae het eers later gekom.
Ironies genoeg is hulle vernoem na afgode.
Byvoorbeeld Sondag na die songod.
Maandag na die maangod.
Saterdag na Saturnus, ‘n planeet wat ook as god vereer is.
En Woensdag, Donderdag en Vrydag na die ou Germaanse afgode: Wodan, Donar en Frya.
Die woord Sondag kom nie in die Bybel voor nie.
Wel eerste dag van die week, of meer spesifiek: Die Dag van die Here, verwysende na die feit dat die Here Jesus op hierdie dag uit die graf opgestaan het (Joh 20:1).
So klink daar ‘n pragtige belydenis in hierdie naamgewing.
Ons nuwe lewe in Christus hou daarom in dat ons op die eerste dag rus bymekaar kom, dat ons op Sondag rus.
Ons volg hier in die voetspore van die eerste gemeentes in die Nuwe Testament.
Net soos hulle is ons diep onder die indruk van Christus se opstanding op die eerste dag.
Wat toe gebeur het was net so groot soos die destydse skepping van hemel en aarde.
Dit was die begin van die herskepping.
Al is die rus en erediens nie meer op die sewende maar op die eerste dag, word die waarheid en inhoud – soos die NGB dit verwoord – van die vierde gebod daarom onverminderd in die nuwe bedeling gehandhaaf.
Juis ook hierdie kombinasie van rus en erediens.
Al is daar destyds by die tempel elke dag offers gebring, was die sabbat tog spesiaal.
Dan is daar meer offers gebring (Num 28:9-10; 1 Kron 23:31).
Ook is daar elke sabbatdag nuwe toonbrode en wierook in die tempel reggesit (Lev 24:8; 1 Kron 9:32).
En na die ballingskap, die saamkom van die verbondsgemeente in die sinagoge vir erediens het ook op die rusdag plaasgevind.
So vind ons dieselfde kombinasie van rus en erediens op die eerste dag in die nuwe bedeling.
Daar is kontinuïteit tussen ou en nuwe verbond.
Terselfdertyd is daar dinge wat verskillend is.
‘n Opmerklike verskil is byvoorbeeld die behandeling van iemand wat die rusdag oortree.
Ons het in Exodus gelees dat so iemand gedood moes word.
In Numeri 15 is daar ‘n voorbeeld van ‘n man wat op die sabbatdag hout bemekaar gemaak het (Num 15:32).
In die verse net daarvoor word verduidelik dat daar ‘n verskil is tussen sondes wat uit swakheid begaan is en wat moedswillig gepleeg is.
Die swaarte van die straf het ook daarvan afgehang.
Hierdie man het moedswillig gekies om hout bymekaar te maak op sabbat, terwyl hy geweet het dis nie geoorloof nie.
Moontlik het hy dit gedoen vir ekonomiese redes, om dit te verkoop.
Hy is in die gevangenis gesit en daarna is hy gestenig.
Die oortreding van die vierde gebod was nie ‘n middelmatige saak nie.
Vandag is oortreding van die vierde gebod steeds ‘n ernstige saak.
Die kerk het egter nie die siviele gesag soos die owerheid om die doodstraf op te lê nie.
Die kerk het in die nuwe bedeling nie die bevoegdheid om die doodstraf op te lê nie.
Maar met sy geestelike gesag word die vierde gebod steeds gehandhaaf.
Oortreding van die vierde gebod is steeds tugwaardig.
As ons in Hebreërs 10:25 opgeroep word om ons onderlinge byeenkoms nie te versuim soos sommige die gewoonte het nie, hoor ons hierin die geestelike gesag wat Christus aan die ampsdraers geskenk het, om ook die vierde gebod te handhaaf.
By die uitoefening van hierdie gesag hou ons daarmee rekening dat God se strengheid nie sy barmhartigheid ophef nie.
Dit het Christus baie duidelik gemaak tydens sy bediening op aarde.
Die kalf wat op Sabbat in die put geval het, moes uitgehaal word.
Gereeld het Jesus op Sabbat siekes genees.
Sy dissipels wat are gepluk het op Sabbat het nie teen die waarheid en inhoud van die vierde gebod ingegaan nie.
So het Christus dikwels in botsing gekom met die Fariseërs oor die nalewing van hierdie gebod.
In lyn met hierdie onderrig van Christus pas ons vandag die vierde gebod toe.
Die waarheid en inhoud van hierdie gebod is steeds die doel wat ons voor oë het.
Daar is gemeentelede wat noodsaaklike arbeid verrig op sabbat, en wat barmhartigheid bewys.
Dit is in lyn met die wese van die rusgebod.
Maar as gemeentelede bewus kies, dalk vir eie finansiële voordeel, sonder noodsaak of barmhartigheid, om op Sondag arbeid te verrrig, soos die man wat destyds hout gaan bymekaarmaak het, dan moet hulle vermaan word, dan moet die ampsdraers hulle geestelike gesag uitoefen en tugtig.
Die kerklike tug is nie minder ernstig as die doodstraf nie.
Inteendeel, afsnyding uit die gemeente gaan nie net oor die liggaamlike dood nie, maar selfs oor die ewige dood.
Of as gemeentelede die onderlinge samekomste versuim, omdat daar ander dinge is wat vir hulle belangriker is, of dit nou die daaglikse arbeid is, of dalk ‘n stokperdjie, of sport, of wat ook al.
Wat dit betref het geen jota of tittel van die wet in die nuwe bedeling verander nie.
Om saam te vat, die vierde gebod neem ‘n belangrike plek in in ons nuwe lewe.
Die waarheid en inhoud daarvan is onverminderd aktueel.
Dit is ‘n ernstige saak, tegelyk is dit ‘n pragtige saak.
Ons sien elke week weer uit na die Sondag.
Die dag is goed, die dag is genesend vir liggaam en siel.
In ons nuwe lewe in Christus is die eerste dag van elke week ‘n baie spesiale dag.
Ons dink nie net terug aan die skepping van hemel en aarde nie, ons dink terug aan die herskepping wat begin het met Christus se opstanding uit die dood.
Ons gedenk dit op die rusdag.
Ons mag hierdie dag gebruik om weer op kragte te kom.
Ons gebruik hierdie dag om saam te kom in die erediens, ons dankoffers aan Hom te bring.
Ons gebruik hierdie dag om onsself toe te rus sodat ons kan groei in ons nuwe lewe in Christus.
Soos die Kategismus sê, ons begin die ewige sabbat reeds in hierdie lewe.
Amen.
Votum (Ps 121:1)
Seën
Ps 92:1,2
Wet
Ps 119:6,53
Gebed
Skriflesing: Exodus 31:12-18; Johannes 20:1-10; Handelinge 20:6-7; 1 Korinthiërs 16:1-4
Ps 84:1,5
Teks: Exodus 20:8-11
Preek
Ps 116:7-10
Gebed
Kollekte
Ps 118:11,12
Seën