Die werk van die Seun van God onder die mense

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2024-08-18
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 21
Preek Inhoud: 

Christus is op aarde besig om die kerk te versamel.

Die metode wat Hy gebruik is sy Gees en Woord.

In Sondag 20 het dit oor die Heilige Gees gegaan.

Hy lei mense na die kerk toe om daar verlossing te vind.

Daarvoor gebruik Hy twee ‘boeke’, soos ons in laasweek se preek gehoor het.

Die boek van die skepping – metafories bedoel – en die Bybel.

Uit hierdie laaste boek leer ons ons Here Jesus Christus persoonlik ken.

Ons gaan vanaand in Sondag 21 kyk na wat Christus op aarde doen.

Hy bring mense saam om ‘n kerk te vorm – v/a 54.

Hy maak van hulle ‘n eenheid – v/a 55

Hy leer hulle om te lewe uit vergewing van sondes – in hulle persoonlike lewe, en in hulle groepslewe as kerk – v/a 56.

Dit is waaroor Sondag 21 gaan.

Ons het vanaand enkele gedeeltes uit 1 Korinthiërs gelees.

Daarin sien ons iets van hoe Christus in die Griekse stad Korinthe vir Hom ‘n gemeente versamel het.

Hierdie gemeente kan as ‘n goeie illustrasie dien by wat ons in Sondag 21 leer.

 

Tema: Die werk van die Seun van God onder die mense

1       Hy roep mense saam in die kerk

2       Hy verbind hierdie mense tot ‘n hegte eenheid

3       Hy leer hierdie mense om uit die vergewing van sondes te lewe

 

1       Hy roep mense saam in die kerk

Wat glo jy van die kerk? is ‘n ander vraag as: Wat is jou mening oor die kerk?

Onderaan hierdie Kategismusantwoord staan talle Bybeltekste.

Hier word dus nie net ‘n mening van iemand oor die kerk gegee nie.

Hier word deurgegee wat die Bybel ons openbaar oor die kerk.

 

Gee die Bybel ons ‘n ideaalbeeld van hoe ‘n kerk moet wees?

Allermins.

Neem byvoorbeeld die kerk in Korinthe.

Eerlik lê die apostel Paulus, in opdrag van die Here, die vinger by die vrot plekke in hierdie gemeente.

Die gemeente in Korinthe was nie uit hulleself ‘n eenstemmige gemeenskap nie.

Dit blyk nie net uit die feit dat hulle onderlinge konflikte gehad het nie, maar ook uit die manier hoe hulle dit probeer oplos het.

Dit blyk uit die feit dat elkeen tydens die gesamentlike byeenkomste sy eie styl soos hy dit van huis uit gewoond was wou voortsit, sonder om die moeite te doen om bietjie meer met ander te integreer.

Groepsvorming.

Uit wat ons in hoofstuk 11 gelees het, blyk dat dit in Korinthe ‘n groot probleem was.

Dit is die teleurstellende realiteit in die kerk van Christus.

Tog kan mens die kerk ook uit ‘n ander hoek benader.

Die kerk, hoewel onvolmaak, is tog ‘n realiteit in hierdie gebroke wêreld!

Die feit dat daar ‘n kerk is, is al ‘n wonder op sig!

Die Kategismus skryf daarom heel bewus: die Seun van God vergader.

Hy is die onderwerp, die handelende Persoon, in v/a 54.

 

In 1 Korinthiërs 6 staan hoe gemeentelede hulle onderlinge geskille voor die wêreldlike regter gebring het.

Dit was die stand van sake in Christus se kerk in Korinthe – diep beskamend.

Het iemand wat tot geloof en bekering gekom het, dan nie juis van Christus die vaardigheid ontvang om elke geskil in liefde op te los nie?

Seker as dit maar net oor alledaagse dinge gaan ...

Het ‘n gelowige wat vergifnis vir al sy skulde ontvang het, omdat Christus in ons plek gesterf het, dan nie van Christus geleer om minste te wees en desnoods onreg te dra nie?

 

Ook vandag kan ons dit ter harte neem.

Die realiteit, nie net van die kerk in Korinte nie, maar van elke kerkgemeenskap is dikwels teleurstellend.

Maar juis daarom roep Sondag 21 ons op om nie in die eerste plek op ons eie ervarings met die kerk te fokus nie, maar op dit wat die Bybel leer oor die kerk.

Dit is Jesus, die Seun van God, wat vir Hom ‘n kerk uit die hele menslike geslag vergader, beskerm en onderhou.

Christus werf mense vir sy kerk wat jy nie direk sou verwag lidmate van sy gemeente kan wees nie.

Christus werf ook mense vir sy kerk by wie jy dalk ‘n onbehaaglike gevoel kry.

Ook met hulle is Christus besig.

Christus het in sy kerk mense wat ryk is, en wat arm is.

Christus het in sy kerk mense uit die stad, en van die platteland.

Christus het in sy kerk mense wat van karakter baie vernuwend is, en mense wat liefs altyd wil vashou aan wat oud en vertroud is.

Of hierdie mense van mekaar hou of nie, is nie ter sake nie.

Christus is skynbaar in staat om oor mure wat mense gebou het, heen te beweeg.

Hy hou nie rekening met die voorkeure van mense nie:

Vir Christus is dit irrelevant.

Christus gooi hulle as’t ware ons almal op een hoop in dieselfde kerk, die dokter langs die petroljoggie, die professor langs die sekuriteitswag, die tiener langs die bejaarde, die getroude langs die ongetroue, die kinderlose langs die ma van ses, en Hy sê vir ons: Sorg dat julle ‘n eenheid word.

Ek het julle aan mekaar verbind, Ek het hierdie groep saamgestel, dus is daar nie ‘n ander opsie as om na eenheid toe te werk nie.

Lewer jou eie voorkeure maar in.

Julle gaan saam verder, bestudeer my Woord, leer daarin om kerk van My te wees.

En as julle rusie kry, los dit in gebed voor my aangesig op, moenie net mekaar begin vermy nie.

My Gees doen wonders met mense, stel jou hart daarvoor oop.

Ek stuur my Gees na wie Ek wil.

Hy is in staat om in al die verskillende mense dieselfde geloof te werk.

Jesus versamel vir Homself, deur sy Gees en Woord – een kerk uit die hele menselike geslag.

 

So red Christus baie mense uit alle volke en tale wat anders vir ewig verlore sou gegaan het.

In die kerk word die goud van die Evangelie uitgedeel.

Ons is saam een liggaam.

Ons mag deel in die goud van die Evangelie.

 

2       Hy verbind hierdie mense tot ‘n hegte eenheid

Ons behoort vandag tot dieselfde wêreldwye kerk van Chritus as die mense in Korea en Canada, Australië en Argentinië, of waar ook al op aarde.

Elke gelowige het persoonlik deel aan die skatte van die Here Christus.

As gelowige het jy ‘n persoonlike verhouding met die Here Jesus.

Al het jy die Here Jesus leer ken deur jou ouers, of jou dominee in die kerk, is dit nie so dat jy net deur hulle met Jesus kontak kan maak nie.

Die pad na Jesus loop nie deur die dominee, jou ouers, of die maagd Maria, of wie ook al nie.

Jy het hom dalk deur hulle leer ken, maar vervolgens het jy direkte persoonlike kontak met Jesus.

Daarom is daar in die kerk van Christus ook nie lede wat belangriker is as ander nie.

Daarom het Jesus sy dissipels bestraf toe hulle die kinders by Jesus vandaan wou hou.

 

Maar gemeente, die volgende is net so waar:

Jou geloof bestaan nie net uit ‘n persoonlike verhouding met Jesus nie.

Naas hierdie vertikale band bestaan die geloof ook uit horisontale bande.

Antwoord 55 sê: Elkeen is verplig om sy gawes tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.

En dit met ‘n blye hart.

Dit gaan hier nie net oor geestelike gawes nie ...

Juis ook dinge soos tyd, aandag, geld, besit – alle gawes wend ons gewillig en met vreugde aan tot verdere opbou en uitbou van die gemeenskap.

Daar is niks beters as om in te belê in die kerk van Christus nie.

En dan dink ek nie net aan ons gemeente, of aan die VGK in SA nie, maar ook aan die kerk in die res van Afrika, of waar ook ter wêreld.

Toe Paulus op sy sendingsreise in Klein-Asië en Griekeland kerke geplant het – hierdie was destyds baie welvarende gebiede – het hy die gegoede Christene opgeroep om te kollekteer vir die gemeente in Jerusalem, ‘n baie armer gemeente.

Die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie, of die kop vir die voete: ek het julle nie nodig nie (1 Kor 12:21).

Baie konkreet adviseer Paulus die Korinthiërs:

“Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie. En wanneer ek aangekom het, sal ek die persone wat julle goedkeur, met briewe stuur om julle gawe na Jerusalem te bring.” (1 Kor 16:2-3)

So roep God u op om van u materiële seëninge aan te wend vir sy kerk plaaslik en elders.

 

Dat Jesus mense tot ‘n hegte eenheid verbind, is iets waarin elke gemeente moet groei.

Dit het ons gesien ten opsigte van Korinthe.

Die Heilige Gees lê die vinger by die swak plekke.

Dit het in Korinthe veral uitgekom tydens die nagmaalsviering.

Dit was ‘n gesamentlike maaltyd, waarby elkeen saamgevat het wat hy tuis gehad het.

Om dit konkreet te skets:

Al die kos en koeldrank is nie op een tafel gesit sodat elke gemeentelid kon opskep en inskink wat hy wou, sodat elkeen dieselfde gekry het en ook soveel soos elkeen se behoefte was nie.

Nee, hoewel hulle in dieselfde kerk was, is daar nie gedeel nie.

Hoogstens binne jou eie groep.

Die gevolg was dat die een honger huis toe gegaan het, terwyl ‘n ander beskonke was.

 

In hierdie verband sê antwoord 55: Elkeen van ons deel in die skatte en gawes van die Here Christus.

Elkeen van ons is ook verplig om hierdie gawes tot nut en heil van die ander lede gewillig en met vreugde te gebruik.

In die kerk kan jy nie jou huisstyl voortsit nie.

Ons hou rekening met mekaar.

Verskil van mening sal daar altyd wees.

Maar hoe leef ons dan saam?

Saam buig ons voor Christus en sy Woord.

Hoe mooi het dit nie vandag weer aan die nagmaal uitgekom nie.

Al is daar arm en ryk, niemand ly honger nie.

Al is daar behoudendes en vernuwers, ons sit sy aan sy met oop ore na wat Christus vir ons sê.

Ons fokus op die Seun van God, wat al vir eeue sy gemeente bymekaar roep.

Saam buig ons die hoofde en bid om wysheid en onderskeidingsvermoë.

In hierdie hele proses ag die een die ander uitnemender as homself.

Net soos Christus ons uitnemender geag het as Homself.

Selfs toe ons nog vyande van Hom was.

 

3 Hy leer hierdie mense om uit die vergewing van sondes te lewe

Dit is die kern van die Christelike geloof.

Die nagmaal het dit weer by ons ingeprent dat niemand van ons ‘n las hoef te dra nie.

Dit is uniek aan die Christelike geloof dat jy mag lewe vanuit die vergewing van sondes.

Lewe ja, want om met ‘n ondraaglike skuldelas te loop, is nie meer ‘n lewe nie.

Dink byvoorbeeld hoe intens iemand soos Marten Luther dit ervaar het.

Hoe hy gedink het hy kan miskien in God se goeie boekies kom deur homself te martel en te pynig.

Hy het te min geëet, hy het geslaap met te min komberse, hy het harde ertjies in sy skoene gesit sodat hy met elke stap pynlik aan sy sonde herinner kon word.

Op ‘n stadium het hy ernstig siek geword, juis omdat hy homself so verwaarloos het.

Soos hy later erken het: Ek was banger vir Christus as vir die duiwel.

Christus, die streng Regter.

Totdat ‘n ou monnik op ‘n keer sy aandag gevestig het op hierdie artikel uit die geloofsbelydenis:

Ek glo in die vergewing van sondes.

Toe het die unieke van die Christelike geloof eers tot hom deurgedring.

Vergewing is ‘n wonder!

Daardeur bloei die lewe op.

Hoe mooi sal dit nie wees nie as alle mense hulle reserwes om vergewing te vra en vergewing te skenk, kan laat vaar.

Christus neem die leiding, en ons mag Hom volg in die wonder van die vergewing.

 

Dit is ook waartoe die Heilige Gees die gemeente in Korinthe oproep.

Watter geskil daar ook in die gemeente bestaan, hoe moeilik ook, hoe kompleks ook, daar bestaan nie ‘n geskil wat nie oplosbaar is deur die wonder van vergifnis nie.

As Jesus my skuld kan vergewe, dan behoort ons sondes teenoor mekaar ‘n kleinigheid te wees.

As God ‘n mens vergeef en selfs nooit meer aan sy sondes terugdink nie, hoe kan ons daardie mens dan nog veroordeel?

Laat ons bewus wees van hoe die Heilige Gees in elkeen werk, hoe verskillend ons ook is.

Daar is verskeidenheid in genadegawes, maar dit is dieselfde Gees.

Niemand kan sê: Jesus is Here, as deur die Heilige Gees nie.

Begryp u dit?

Hoe verskillend ons is, tog werk een en dieselfde Gees in ons almal.

Sodat ons almal bely: Jesus is Here.

Hy vergader, beskerm en onderhou sy gemeente.

Ten spyte van die feit wie en hoe ons is, kry Hy dit wel reg!

Vandag se nagmaal het dit sigbaar gemaak.

Nie dat ons al volmaak is nie.

Daar is nog baie werk in die gemeente, en in jou eie lewe.

Maar kom ons gaan met goeie moed verder.

Kom ons vat hande.

Laat dit die vrug van die nagmaal wees, soos ons vir die Here nounet in ons gebed gevra het.

Dat ons daagliks sal toeneem in ware geloof, in die gemeenskap met Christus en met mekaar.

 

Amen.

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 68:12,13

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met die sing van die Onse Vader)

Aan tafel:

Skriflesing: 1 Korinthiërs 6:1-11; 11:17-22; 12:1-7 & 12-18; 14:26-40

Sb 29:8,9

Lofverheffing & Gebed

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 21

Preek

Ps 133:1,2

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Sb 49:6 & Sb 50:6

Kollekte

Ps 32:3,4,6

Seën