Jesus roep jou: Volg my!

Predikant: 
Ds DM Boersma
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2023-09-03
Teks: 
Markus 1:14-20
Preek Inhoud: 

Doel:

- Leer hoe dissipelskap werk
- Ons eie redding sien in verband met die koninkryk
- Leer dat ons geroep is om dissipels te maak
- Verstaan die opvoeding van kinders as deel van díe taak (maar dis nie al nie)
- Ons word aangespoor om daarmee aan die gang te gaan

Inleiding

Vraag vir die kinders: hoe het jy hier in die kerk beland?
Vanoggend: jy het nie op jou eie gedink, ‘kom ek loop vandag kerk toe’ nie.
Jou ouers het jou saamgeneem!
Julle het saam in die motor geklim (dalk sê pa of ma: maak gou, dis tyd! Kom, ons moet ry!) Of julle het met die voete gestap, met julle ouers of dalk grootouders?
As jy nog ’n kind is, besluit jy nie self om kerk toe te gaan nie. Jou ouers het jou saamgeneem kerk toe.

En nie net vandag nie. Dit het lank gelede begin: jou ouers het jou oor Jesus vertel, dat jy gedoop is, dat God jou Vader is. Dat hy jou reeds geken het voordat jy gebore is, en daarom is jy gedoop toe jy nog ’n klein babatjie was. 
God het jou lief!
Alles wat jy oor God en oor Jesus weet, het jy van jou ouers of dalk van jou grootouers gehoor – hulle het begin. Daarna die kerk, die skool, ens.
Jou ouers het jou by die hand geneem en geleer om Jesus te volg.
Saam op pad, agter Jesus aan.
Jy volg hulle totdat jy selfstandig begin stap en oud genoeg is om jou eie keuses te maak.
Ek hoop van harte dat jy so ver is, sal aanhou om Jesus te volg!

Saam volg ons Jesus. En dit is ‘n opwindende reis!

• Ver weg?

As ons in die boek Markus begin lees, lyk alles daar baie ver weg:
- Jesus roep 12 dissipels êrens in Galilea – ek ken die plek nie…
- Hulle word vissers van mense: natuurlik, die apostels het die evangelie versprei.
Ons almal kan dink: dit gaan tog nie oor my nie?

Daarom wou ek met die kinders begin:
julle ouers het jul by die hand geneem en geleer om Jesus te volg.
Want dit is presies wat Jesus sê: volg my!
Dit is wat dit beteken om dissipel te wees: dan volg jy Jesus.
Wat beteken dit?
Kom ons ontdek saam hoe ons dissipels van Jesus geword het en wat maak ’n dissipel?

TEMA: Jesus roep jou: Volg my!

Ons gaan in 3 stappe deur die teks, om Jesus te volg:
1. Kom binne in die koninkryk
2. Hy begin met twaalf gewone mense
3. Dissipels word vissers van mense.

1. Kom binne in die koninkryk

• Dis tyd!

Dis tyd! Johannes, die voorloper van Jesus, het sy werk klaar gedoen: die mense voorberei op die koms van die langverwagte Messias, die redder van Israel.

Dan verskyn Jesus. 30 jaar lank het hy stilgebly. Nou begin sy publieke optrede, en die eerste woorde wat hy spreek, is:
Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.

As jy lang vir iets gewag het en skielik sê iemand ‘dis tyd!’ dan spring jy op: ha, dit is sover! Eindelik!

Jy kry berig dat die operasie waarop jy vir weke of maande gewag het, gaan plaasvind.
As jy hoor dat die tyd nou aangebreek het, kom jy in aksie.
So is dit ook met die boodskap van die koninkryk.
Jesus bring die koninkryk. Dit is die doel van sy koms in die wêreld: om die sonde ongedaan te maak. Vyande van God word Gods kinders – deur sy lyding en sterwe. Die hele skepping word herstel, daar kom weer vrede.

• Goeie nuus

Markus noem dit die “evangelie = die goeie nuus van die koninkryk van God.”
Jesus het die verlossingswerk voltooi, en daarna die 12 uitgestuur om sy oorwinning op die sonde en dood orals bekend te maak.
Die reddingswerk is voltooi. Die koninkryk het op aarde begin, en versprei. 
Sondaars kan binnegaan in die koninkryk van God.

Die oorwinning van Jesus moet orals bekend gemaak word. Dit is goeie nuus!
Ons en al die ander sondaars word gered uit genade. Die koninkryk is nie iets wat ons met ons aktiwiteit bou nie, maar dit is die koninkryk van die hemele
God self bring dit. Dit het aangebreek toe die Redder op aarde verskyn het. 
Dit brei uit wanneer mense die goeie nuus hoor en gehoorsaam.

• Moeilik en eenvoudig

Hoe word ’n mens deel van die koninkryk?
bekeer julle en glo die evangelie.

Dis so moeilik soos dit, en dis so eenvoudig soos dit!
Dis moeilik: want almal van ons, soos ons gebore word, is sondaars. Dit beteken dat jy en ek is vas in ons sonde, jy is trots, ek soek my eie eer, en almal van ons is in beslag geneem met onsself. Behalwe dat dit jou nooit gelukkig kan maak nie, skep dit afstand van God, die lewensbron, en jy leef onder sy oordeel.

Daarom moet elke mens tot bekering kom. Dis ’n totale omkeer: 180 grade omdraai. Mens noem dit ’n U-turn. Dis baie beeldend!
Dis ’n groot ding om te erken dat jy totaal verkeerd was, en om te draai. Jy kom met leë hande, soos ’n smekeling, na Jesus toe en onderwerp jou aan Hom. Om deel te word van die koninkryk beteken dat jy die koning eer en gehoorsaam. Dit beteken oorgawe, onderwerping, selfverloëning.

Daarom kom die prediking van die koninkryk van God orals in die wêreld in die vorm van ’n bevel: bekeer jou en glo die goeie nuus van Jesus.
Om te glo beteken dat jy leer en aanvaar wat Jesus gedoen het om jou te red, en dat jy volledig op hom vertrou.
Daarom is dit ook eenvoudig: jy het net geloof in Jesus nodig. Niks meer nie. 
Om met leë hande sy verlossingswerk te aanvaar. Dis nie nodig om iets daaraan toe te voeg nie. Dis net uit genade. Sola gratia.

• Oproep om te glo

Dit kan wees dat iemand vandag vir die eerste keer in die kerk is. As jy die roeping van Jesus hoor, neem dit ernstig. Moenie uitstel nie.
Jesus wil jou red van die komende oordeel. Sonder hom is jy verlore. Bekeer jou en glo die blye boodskap dat Jesus alles vir jou gedoen het om jou te red.
Verheug jou, dat jy die koninkryk van die hemele mag binnegaan: hier is die lewe!

2. Hy begin met twaalf gewone mense

Maar hoe gaan dit gebeur?
Hoe gaan een man, Jesus, oor die hele wêreld sy koninkryk vestig?
Probeer hy om dmv getalle invloed te kry?
Populiste het uitgevind dat jy baie mag kan kry deur mensemassa’s op te sweep, as jy maar die regte dinge sê: wat hulle wil hoor, wat hulle bekommernisse aanspreek of hul angste aanwakker. (Populisme het in Duitsland ’n groot rol gespeel en die Tweede Wêreldoorlog laat begin. Ook in ons land is daar die gevaar dat populisme groot getalle mense meesleep, hulle ontevredenheid aanwakker en geweld veroorsaak).
As jy nie omgee om geweld te gebruik nie, kan jy met ‘n sterk weermag lande verower en ‘n groot wêreldryk vestig, soos keiser Alexander die Grote.

Maar hoe het Jesus invloed gekry in alle lande van die wêreld en miljoene volgelinge gekry? Hoe vestig hy sy wêreldryk? Dis verbasend!
En terwyl Hy langs die see van Galiléa loop, sien Hy Simon en Andréas, sy broer, besig om ’n net in die see uit te gooi; want hulle was vissers. En Jesus sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal maak dat julle vissers van mense word.

Dis die eerste ding wat ons lees na die aankondiging van die koninkryk:
Jesus roep mense om hom te volg, om sy dissipels te word (v.16). Dis hoe Jesus gaan werk: hy roep twaalf manne om altyd by hom te wees. 
Hy het die dissipels geleer, gevorm, vir hulle gebid, en later met sy Gees vervul.

Ons weet dat Jesus op aarde gekom het om te ly en te sterf.
Maar behalwe die verlossingswerk het hy nog ’n groot taak verrig: drie jaar lang het hy 12 dissipels opgelei om die eerste verkondigers van sy koninkryk te word.

Daar was honderde, partykeer duisende mense wat hom gevolg het. Maar 
Jesus het net twaalf uitgekies om altyd by hom te wees, om sy getuies en sy 
heroute te word.

Jesus se plan was om deur díe twaalf mense (of elf (sonder Judas) + Paulus) 
te werk om sy koninkryk te vestig.

• Hoe gewoon!

Die wat Jesus roep en hom volg, word dissipels genoem.
Die Jode het al dissipels sien rondloop. Rabbi’s, die leraars van die wet, het dissipels gehad.
Dit was nie soos by ons nie, met klaskamers, boeke en toetse. Maar ‘n Joodse student wat die wet wou leer, het self rondgekyk en die rabbi uitgesoek wat hy wou volg. 
Vervolgens het hy by die rabbi gebly en díe rabbi se interpretasie van die wet aangeleer. Hy het selfs die gewoontes van die rabbi oorgeneem. Maar sy lojaliteit was aan die wet toegewy.

Jesus doen dit anders. Hy kies self mense uit en roep hulle om sy dissipels te word. 
Jesus se dissipels volg hom en deel sy lewe met hom. Vir Jakobus en Johannes, Petrus en Andreas was dit ‘n groot besluit: hulle het hul daaglikse werk agter hulle gelaat en ’n onsekere toekoms met Jesus begin.
Hulle het nie, soos die dissipels van die rabbi’s, ’n uitleg van die wet geleer nie. Nee, hulle hele lewe was aan Jesus toegewy, en van die dag af was hulle lojaal aan hom.

Kyk wie kies** hy: gewone mense! Jesus kies bv vissersmanne, nie mense met 'n woeste opleiding of 'n graad of 'n indrukwekkende staat van diens nie. 
Hy soek nie mense wat baie invloed het en kies hulle uit nie. Hy gaan kies vissers in die afgeleë gebied Galilea. Dis nie bepaald ’n dream team nie!

• Bemoedigend!

Sien jy hoe bemoedigend dit vir ons is?
Na die twaalf het daar nog baie mense dissipels van Jesus geword. Deur die getuienis van die apostels het Jesus derduisende, miljoene mense geroep in alle lande en kulture en taalgroepe. Die eerste generasie dissipels het self die apostels hoor preek. Daarna het hulle, net soos ons, die roeping gekry deur die Nuwe Testament, deur die goeie nuus te hoor en dit self te lees.
Vir almal van ons begin die pad van geloof met die roeping wat van Jesus kom. Hy kies ons uit, hy roep ons deur die goeie boodskap, en sê: volg my!

Dis nie nodig om vir sy koninkryk te kwalifiseer nie. Of jy ’n opleiding geniet het of nie, of blue collar of white collar werker is, of jy met jou hande dinge maak, met jou brein beplan of ontwerp, of met jou vingers op 'n sleutelbord tik (of aldrie doen), hy roep jou en wil jou in diens neem.

3. Dissipels word vissers van mense

Die twaalf wat Jesus roep, word heel eerste gered van hulle sondes en word deel van sy koninkryk.
Vervolgens het Jesus ’n spesiale taak vir hulle:
Kom agter My aan, en Ek sal maak dat julle vissers van mense word.

Dis ’n sprekende beeldspraak wat Jesus gebruik. Hul nuwe taak is soos die werk wat hulle reeds ken en wat hulle nou agterlaat: hy hulle gaan vissers word. Maar die net wat hulle uitgooi, is die goeie nuus van Jesus, en hulle gaan mense vang. Hulle word vissers van mense.

Die eerste dissipels word dus aktief deel van Jesus se reddingsplan vir die wêreld: hy gaan hulle gebruik om mense van die oordeel te red.1 Hulle word deur die getuienis van Jesus, deur die goeie nuus, uit die duisternis en verlorenheid gered.

In die NT vind ons dan ook die twaalf apostels dikwels saam met die 12 stamme van Israel (so bv in die boek Openbaring). Onthou: God het Abraham geroep om van hom ’n groot volk te maak, om alle volke op aarde te seën. Dit word deur Christus, die saad (nakomeling) van Abraham, vervul. Die reddingsplan word werklikheid, en die twaalf apostels verteenwoordig 
Israel, wat ’n seën sal wees vir alle volke.
Die vissers van mense bring ’n verblydende boodskap vir die hele wêreld!

Daarmee is ons by die laaste gedeelte van die preek.

• Waar is die vissers van mense?

Die roeping van Christus moet steeds gehoor word. Dit word alhoe dringender, omdat die dag van sy koms én die oordeel vandag baie nader is as die dag toe Jesus die eerste dissipels geroep het.
Mense moet gered word van die oordeel!
Wie sal die dringende oproep laat hoor?
Die apostels het hul missie voltooi en selfs hul lewens gegee as martelare.
Hulle is nie meer hier nie. Is daar dan nou nie meer vissers van mense nie?

Broers en susters, die goeie nuus van die koninkryk en die redding van die oordeel moet bekendgemaak word tot aan die eindes van die aarde. Die apostels het nie die eindes van die aarde bereik nie. Maar hulle het ouderlinge aangestel en gemeentes geplant.
Elke gemeente van Christus is gebou op die fondament van die apostele en profete. Om hulle getuienis oor Christus te versprei, dit is ons opdrag.
Jesus sê in Matthéüs 28:
Gaan, maak dissipels! (deur te doop en hulle te onderrig om te gehoorsaam)

• Wees bly & dankbaar

Voordat ons dink ‘sjoe, dis baie werk, kan ons dit regkry?’ – laat ons bly wees dat die evangelie steeds in beweging is en dat mense tot vandag die blye boodskap van Jesus kan hoor, en die koninkryk van God mag binnegaan!

Verheug jou, dat die evangelie nie tot swye gebring kan word nie. Die aankondiging van die koninkryk het nie platgeval toe die apostels gesterf het nie! Jesus het seker gemaak dat daar nuwe vissers van mense sou kom. Die kerk van Jesus sit die missie voort. Jesus het ons geroep om sy dissipels te wees. As die apostels die laaste vissers van mense was gewees, was ons vandag nie hier gewees nie!

Het jy tot geloof gekom, en is jy dankbaar dat Jesus jou gered het?
Onthou dan, dat elke sondaar wat gered word, is soos ’n drenkeling wat uit die water in die reddingsboot getrek word. Maar die reddingsboot lewer jou nie af by die cruiseliner, om rustig oor die golwe uit te kyk nie. Jesus voeg gelowiges toe aan die bemanning van die reddingsboot, en skakel ons in om nog drenkelinge te red.

Laat ons onthou dat daar ’n groot nood is in die wêreld. Mense is van God vervreemd en leef in sonde. Die oordeel gaan kom. Sonder Jesus is daar geen redding, geen lewe nie. Maar hoe gaan mense die goeie nuus van Jesus hoor? Net indien die kerk nie stilbly nie, maar weer vissers van mense word. Die eindtyd het al klaar begin en die wysers van die horlosie van die 
wêreldgeskiedenis wys al amper twaalf uur.

• Hoe kan ons dissipels maak?

Ek het begin by die kinders: julle word deur jul ouers saamgevat om Jesus te volg. Dit is ’n geweldig belangrike vorm van dissipels maak: ouers maak dissipels van hulle kinders.

Dit word in ons kerke baie beklemtoon, daar is toerusting en kundigheid, ons het selfs ’n paar gereformeerde skole om ouers daarby te help.

Die gesin is ’n baie intensiewe vorm van dissipelskap, en Jesus gebruik dit as ’n middel.
Ouers en kinders leef saam in een gesin, ouers het elke dag geleenthede om hulle kinders te vertel oor Jesus en in talle situasies vir hulle te leer en te wys wat dit beteken om Jesus te volg: hoe om eerlik te wees, diensbaar, om te vergeef, om die waarheid te praat, om jou talente te ontwikkel en te gebruik, ens. Al díe dinge gebeur in die daaglikse lewe. 
En die gedrag en karakter van ouers kan groot invloed op jou kinders hê.
Gereformeerde kerke maak baie hiervan, en dis reg. God wil dit gebruik om ons kinders tot geloof te bring, om van hulle dissipels van Jesus te maak. Die meeste van ons het ook so tot geloof gekom.

Hou aan daarmee, en onthou dat ook daarop 1 Korinthiërs 15:58 van toepassing is:
Wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, 
omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.

Die gesin is dus ’n baie belangrike komponent in die maak van dissipels, maar dis nie al nie.
Dissipelskap is die middel wat Jesus gebruik om ongelowiges tot bekering te bring.

In ons kerke is daar teveel die idee dat ons sendelinge of ’n evangelis moet uitstuur om mense daarbuite met die evangelie te bereik. Ons benader dit dikwels vanuit kundigheid of ervaring of skills, en ons dink dat gewone gelowiges nie daardie dinge in voldoende mate het om self  dissipels te maak nie.

Maar kyk na die gesin waarin jy self grootgeword het, of as jou nou ’n gesin het, kyk na jou eie gesin.
As ons sien watter groot impak dit kan hê om jou lewe te deel met ’n ander (jou kind), dan kan ons ook dink hoeveel impak dit kan hê op mense wat God soek, as jy en ek tyd neem om saam met hulle te sit, om hulle in ons huise te nooi, om hulle by staan in allerlei lewenssituasies en uitdagings.
Dit is dissipelskap. Baie kerke en organisasies gebruik dit as ‘n middel om mense na Christus toe te lei.

In ons kerke is hierdie vorm van dissipelskap nie sterk ontwikkel nie.
Die geheim is dit: wie ‘n dissipel geword het, moet besef dat Jesus jou wil gebruik om dissipels te maak. Alles wat jy geleer het, bv van jou pa of ma, kan jy weer vir ‘n ander persoon leer, en dit is nie beperk tot jou gesin nie!

Die bedoeling is: dissipels maak dissipels. En dit is herhaalbaar: dissipels maak dissipels maak dissipels, ens. En in baie plekke in die wêreld gebeur dit so. Daar is inspirerende verhale uit die Midde Ooste en talle ander lande.

Ek kan ook ’n voorbeeld uit my eie lewe gee. Die afgelope week het ek ‘n gesprek gehad met ’n jong man wat ek in 2010 op ‘n dissipelskap-pad geneem het. Nou, jare later, het ‘n pasgetroude jong man in sy kerk hom gevra of hy hom wil begelei om ’n dissipel te wees. Wonderlik! Dis hoe dit werk. Die een help die ander om vanuit die evangelie te leef, om sy verantwoordelikhede in die lig van die evangelie te verstaan en uit te voer. 
Eers doen hy dit onder begeleiding, dan doen hy dit self, en vervolgens word hy ’n begeleier / coach vir ’n ander.
En dis nie net mans wat dit kan doen nie. So kan vroue ook ander vroue as dissipels begelei. Dink aan Titus 2: ouer vroue begelei jonger vroue.
Wie dissipel geword het, kan dissipels maak, wat vervolgens ook weer dissipels maak. So versprei die evangelie en groei die koninkryk.

Jesus roep ons: volg my! Hy maak van sy gemeente vissers van mense.
Dit is sy begeerte dat ons almal bly sal wees om Jesus te volg, en graag ander mense op daardie pad sal saamneem. 

Mag die Here dit seën!

Amen

Liturgie: 

Sing Psalm 89:6
Gebed
Lees: Markus 1:9-39
Sing Skrifberyming 24:1,2
Teks: Markus 1:14-20
Sing Skrifberyming 18:1,3,5-8
Geloofsbelydenis (lees)
Sing Skrifberyming 9:1-3
Gebed
Kollekte
Sing Psalm 45:4,6,11,15,16