Die verbondsvolk van Israel het soos die wêreld geword. En hier was ’n profeet wat die waarheid – en niks anders as die waarheid nie – gepraat het! Maar sjoe, die waarheid kan soms pynlik wees, veral as dit by ons as sondige wesens kom.
Maar wie wil nie die waarheid hoor nie? Wie wil in ‘n fantasiewêreld leef? Tog is dit moeilik om die waarheid in die oë te kyk wanneer die waarheid oor wie ons is, sleg is, nie waar nie? Dit bring skaamte, skuldgevoelens, vrees, berou. Soveel gevoelens wat ons liewer nie wil voel nie. Maar sê nou jy kon die waarheid hoor en jou vrees, skaamte en skuldgevoelens afwas? Maar sê nou iemand nooi jou en sê: “KOM! Kom! Al is jou sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu!” Sal jy bereid wees om eerlik oor jouself te wees? Sou dit nie makliker wees nie?
’n Lig vir die nasies
Hier was ’n profeet wat Israel teruggeroep het na wie hulle moes wees! Heilig. ’n Lig vir die nasies!
Dit gaan oor God se hart vir ’n verlore wêreld! Dit is waaroor hoofstuk 1 gaan! Israel was van die begin af geroep om God se dienskneg te wees om daardie lig na die wêreld te bring. En dit is die probleem, naamlik dat hulle, eerder as om die nasies deur die lig van God te oorwin, soos die nasies geword het; en so het die nasies hulle ingehaal.
Hoop deur oordeel oor rebellie!
1. Die probleem
2. Die resultaat
3. Die mens se poging
4. God se oplossing
Die probleem
Ons sien in hoofstukke 1-5 Israel is nie ’n gehoorsame dienskneg nie, maar ’n opstandige een. En hierdie tema loop dwarsdeur die boek. Die woord “rebellie” (verset) kom in die eerste twee verse en die laaste twee verse voor. Rebellie of oortreding is doelbewuste sonde. Dit is die ontkenning van enige grense. Ongehoorsaamheid kan toevallig wees; rebellie is nie. Die term “rebellie” beskryf ’n volk wat van beter weet.
God lê die klag teen sy volk. “ ’n Bees ken sy eienaar en ’n donkie die krip van sy besitter. Israel het egter nie kennis nie, my volk toon geen insig nie.” ’n Skerp beeld. My volk is dommer as donkies. Hulle weet nie waar die seën te vinde is nie, waar die kos is nie. My volk verstaan nie. Dit is hartverskeurend wanneer God se eie volk na alle ander voerbakke gaan, maar nie na die een wat God voorsien het nie. Ons sien dit telkens weer gebeur.
En vers 4 sê: “Hulle het die Here verlaat, die Heilige van Israel verag, Hom die rug toegekeer.” Met ander woorde, heiligheid is heeltemal vreemd en onbekend vir hulle. Hulle herken dit nie eers nie, al is dit hoekom God hulle uit Egipte geroep het – om heilig te wees soos Hy heilig is. Dit gaan nie hier oor die wêreld nie, geliefdes, dit gaan oor God se volk.
Sonder heiligheid sal niemand die HERE sien nie. Dit is die dilemma van die boek. Dit is die dilemma van die Ou Testament. Hoe kan ’n heilige God en ’n onheilige volk mekaar vind.
Oordeel is die antwoord – die enigste antwoord vir sonde. Maar hierdie oordeel is altyd eerstens dissipline. Dit is eerstens suiwerend. Ons sien dit volmaak by die kruis. Totale oordeel. Toe God se toorn ten volle uitgestort is om die Seun te verteer! Daar het Hy sy Seun soos ’n rebel in ballingskap gestuur, sodat Hy opstandige sondaars in sy koninkryk kon verwelkom.
Die resultaat
Ons sien die gevolg van die sonde. Hulle is verslaan. Dit is die wet van afgodery deur die eeue heen. Dit lei tot die dood. Dit neem die lewe uit jou weg. Die vreugde, die lig en die krag.
En God vra hulle in vers 5: “Waarom wil julle nog geslaan word, en hou julle vol met julle onversetlikheid?” Met ander woorde: “Hoe lank wil julle hiermee aanhou?” God is nie ’n arbitrêre God nie. Die sonde het tragiese gevolge. Jy sien dit in jou lewe. Hy vra: hoekom doen julle dit? Hierdie lyding as gevolg van ons sonde is verbonde aan die manier waarop God die wêreld geskep het.
Wat moet gedoen word? Hulle moet vernietig word. Maar hulle is nie! God is getrou aan sy beloftes. Vers 9 sê: “As die Here, Heerser oor alle magte, nie vir ons 'n klein oorblyfsel agtergelaat het nie – soos Sodom sou ons geword het, aan Gomorra sou ons gelyk gewees het.” In ’n tyd wanneer almal beïndruk is met groot koninkryke en groot leërs, sê God: Ek is die Koning van die konings, die Bevelvoerder van die hemelse leërs, die HERE van die leërskare! En as Ek nie ’n paar oorlewendes laat oorbly nie, sal my volk vernietig word soos Sodom en Gomorra. Maar in toorn dink God aan barmhartigheid!
Maar eerder as om na die HERE van die leërskare terug te keer en in gehoorsaamheid te lewe, wat doen die volk?
Die mens se poging
Dus, wat doen ons – wat doen Israel as hulle neergeslaan word, wanneer hulle van God vervreem is? Wel, ons trek ons sokkies op en probeer ons bes om God gelukkig te maak. Godsdiens is die mens se oplossing vir dit alles! Dit is wat die volk doen!
O, ONS WEET! Ons sal meer rituele uitvoer! (vers 10–15). Ons sal net ons lewe bedek met ’n front van aanbidding. Dit is ’n manier om God soos enige ander god te behandel. Dit gaan alles daaroor om Hom gelukkig te maak; om Hom op een of ander manier te behaag met ons aanbidding. Ons behandel God soos alle ander dinge in die wêreld. Ons manipuleer om te kry wat ons wil hê.
Dit is basies die mens se manier om by God uit te kom. Dit is ’n herhaling van die toring van Babel. Solank hulle hul offers kon bring, kon hulle aangaan en doen wat hulle wil! Hulle het nie besef God het nie hulle offers nodig nie! Hy het nie ons aanbidding nodig nie! Aanbidding is nie iets wat ons doen om God se liefde te verdien nie; aanbidding is iets wat ons doen omdat God ons gered het – ons liefgehad het! Hy het hulle uit liefde gekies en hulle uit Egipte gered! Sien julle dit? God haat nie aanbidding nie – Hy haat aanbidding en ongeregtigheid of verdraaiing. Soos vers 13 sê: “Ek kan nie onreg én gewyde rusdae verdra nie.”
Hy het Homself vir jou gegee en jou gered en het jou lief. Hy het jou alles gegee wat jy nodig het! Daarom is die strewe na rykdom, roem, gerief en luuksheid basies dieselfde as om vir God te sê: U liefde is nie genoeg nie! Ek wil meer hê as God! Hy het nie jou offers nodig nie. Hy wil jou hart hê! Hy wil vir jou hê!
As jy op die eerste dag van die week kerk toe gaan, en die volgende ses dae op ‘n duiwelse manier leef, sal jy die geluid hoor van God wat gal afgaan. “Reukwerk – afstootlik is dit vir My. Nuwemaansfeeste en Sabbatte, die saamroep van byeenkomste – Ek kan nie onreg én gewyde rusdae verdra nie. Julle nuwemane en vaste feestye haat Ek met my hele wese.”
Aanbidding is ‘n aanduiding van jou hart. God sê basies: “Julle offers maak my siek!” Stel jou voor dat een of ander predikant dit op ’n Sondagoggend sê? Jy kan jou voorstel hoe Jesaja by die tempel sê: “Wie het julle gevra om hierheen te kom? Wie het julle gevra om hierdie offers te bring? Ek wil dit nie hê nie!” Maar God, U het dit vir ons gesê.
Ek hoop julle sien wat gebeur wanneer ons op hierdie manier aanbid. Dit word vir ons ’n las en nie ’n daad van liefde en ware berou nie. Dit gaan oor iets wat jy doen. Jy wil dit op jou manier doen. Jy doen dit omdat jy dink jy kan God op hierdie manier gelukkig maak, dis soos dit is. Dit word iets wat ons moet doen om God gelukkig te maak, en nie iets wat ons doen in reaksie op God se verbond met ons nie. En dan is dit nie net ’n las vir ons nie, maar ook ’n las vir God! Vers 14 sê: “Dit is vir my ’n las!”
Is jou hart ’n hart van aanbidding? Jy kan amper sê God haat die sonde van skynheiligheid die meeste. Jesus se strengste woorde was aan die godsdiensleiers. Dit is die gebrokenes, die berouvolles, die sagmoediges en die treurendes wat verwelkom word.
Goed, ons het dus probeer om dit op ons manier te doen. Dit het natuurlik nie gewerk nie. Wat nou?
God se oplossing
Vers 16: “WAS JULLE! Reinig julle! Verwyder julle bose dade voor my oë!” Dit begin met reiniging. Maar dit eindig nie daar nie. In plaas daarvan om net jou offers te bring, gaan uit en wys vir die wêreld dat Ek onder julle woon! “Leer om goed te doen! Bevorder die reg! Lê die onderdrukker aan bande! Handhaaf die reg van die vaderloses! Verdedig die weduwees se regsake!”
Moenie jou aanbidding verander nie – maar gaan uit en leef soos jy My ken. Ons lewe word geken aan sy vrugte. Jesus sê dit oor en oor. Wie in Hom bly, sal baie vrug dra. Wat is daardie vrug – dit is die karakter van God in sy kinders. En wat is die karakter van God – liefde vir ander.
Dit is die beginsel wat ons regdeur die Skrif sien. Dawid het aangehou om offers te bring en te dink: Solank as wat ek aanhou om dit te doen, dan sal God gelukkig wees. Maar dit was eers toe Natan, die profeet, miskien meer as agt maande later, hom beskuldig het, dat hy gesing het dat God nie sy offers wou hê nie – Hy wou ’n gebroke en berouvolle hart hê! Waar sonde verborge is en toegelaat word om te floreer, sal aanbidding halfhartig en baie swaar wees vir beide God en die mens. Waar die liefde van God heers, en waar sondes bely word, waar ons daaroor kan huil, en waar God se omhelsing ervaar word – daar is blydskap in aanbidding deur God se kinders en daar juig God oor sy kinders terwyl hulle die offer van sy Seun eer.
Uitnodiging
Maar God tugtig en breek ons sodat ons die enigste ware ding vind wat bevredig. Hy self nooi die sondaar, die huigelaar, die verlorenes en sê: “KOM!” Die God van die heelal, die heilige, die God teen wie hulle in opstand gekom het, nooi hulle uit om te kom! Nie tot oordeel nie, maar tot vergifnis! KOM! Sjoe! Hoe genadig is ons God! KOM! Hy kan dit vir sy volk sê omdat Hy sy eie Seun sal verlaat en in ballingskap wegvoer, sodat Hy vandag vir ons kan sê: KOM!
Vers 18 sê: “‘Kom tog, laat ons die saak uitpraat!’ sê die HERE.” Kom, sê die HERE, laat ons dit deurdink. Al is jou sondes bloedrooi, kan dit so wit soos sneeu wees. Jou opstandigheid kan verander word. Maar nie deur bokke nie, nie deur die bloed van offers nie, maar bloot deur nederige bekering. Hoe? God sou sy Seun stuur!
Jy wys jy ken God, en God ken jou deur die manier waarop jy lewe. God se aard en karakter, soos ons in hierdie boek sal sien, is selfverloënende, opofferende liefde. God die Vader gee volkome deur die Seun; die Seun gee volkome in gehoorsaamheid aan die Vader; die Gees gee volkome deur van Homself weg te wys na die Vader en die Seun! Dit is vir Hom ‘n eer om opofferend lief te hê. Lief te wees vir diegene wat niks kan teruggee nie. Dit is die evangelie.
Dit is die liefde van God in Christus. En God sê: Kom na My toe, julle wat onrein en bedek is met sonde, en Ek sal julle rei nig. Ek sal julle my liefde bewys, sodat julle My kan gehoorsaam en ander kan liefhê soos Ek julle geroep het. Is jy gewillig?
Israel het gedink hulle kan God gebruik en die god van God wees deur Hom met aanbidding te manipuleer. Maar God sê: Ek sien regdeur jou. Die hart van die sonde is om nie God se weg te aanvaar nie, en om self te probeer regkom. Adam en Eva het dit met vyeblare probeer, en ons kan dit vandag nog met die vyeblare van godsdiens doen. Ons sal dit dikwels in die boek sien.
Hulle gaan voort om presies die teenoorgestelde te doen as wat God wil hê. God sê in vers 17: “Bevorder die reg! Lê die onderdrukker aan bande!” en in vers 23: “Jou hoë amptenare is koppig en span met diewe saam. Hulle almal is lief vir omkoopgeld en jaag belonings na.” Hulle word aangesê om die reg van die vaderloses te handhaaf en die regsake van die weduwees te verdedig. Maar hulle (vers 23) “handhaaf nie die reg van die vaderloses en dien nie die regsake van die weduwees nie.”
En so beplan God om na hulle te kom en hulle vyande te noem. Hy sal hulle smelt. Dit is ’n skrikwekkende ding wanneer God sy volk “vyande” noem! Maar, geliefde gemeente, dit is wat ons was. Dit is die verhaal van die Ou Testament – wat na Jesus wys. Jood en heiden staan onder God se toorn! En ons dink: natuurlik gaan Hy hulle vernietig! Hulle is sy vyande! Hy is ’n verterende vuur! Hoe kan Hy hulle nie verteer na sulke blatante rebellie nie? MAAR NEE!!!
Hy skaaf aan hulle. God red deur oordeel!!! Oordeel is nooit God se voorgenome laaste woord nie; inteendeel, sy laaste woord is altyd dat hulle bekeer en genees word. Hy oordeel omdat sy hart die hart van liefde is! Hy jaag na, Hy tugtig, Hy oordeel tot reiniging en verlossing! Dit is moeilik om te glo.
Maar dit herinner ons aan 1 Petrus 7: “Jubel hieroor, al moes julle onlangs vir ’n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word. Die doel was dat dit duidelik sou blyk dat die egtheid van julle geloof – ’n egtheid wat baie kosbaarder is as goud, wat verganklik is, maar nogtans met vuur getoets word – uitloop op lof en heerlikheid en eer wanneer Jesus Christus geopenbaar word.”
Ek hou van vers 27: “Sion sal net deur reg vrygekoop word, en dié van haar wat terugkeer, deur geregtigheid.” Hoe verlos jy iemand, of koop jy iemand vry deur geregtigheid? Dit blyk geregtigheid beteken nie om iemand te verlos nie, maar om iemand te gee wat hulle vir hul sonde verdien. Maar die Here sê dat Hy Israel deur geregtigheid sal vrykoop of red.
Hy sal hulle vrykoop. Hierdie Israel sal daardie Israel wees. Hoe?! Hy sal self die geregtigheid vir sy volk dra. Hy sal die grootste oordeel op Homself neem deur die Seun te stuur om ons plek in te neem! Hierdie boek sentreer rondom die vraag: Hoe kan God se mense wees wie hulle geroep is om te wees? En die antwoord is dieselfde antwoord wat dit nog altyd was: in die lydende Dienskneg – Jesus Christus!
Maar as jy voortgaan en nie terugkeer om gered te word nie, dan is die oordeel seker! Hy sê in vers 30: “Ja, julle sal wees soos ’n terebintboom waarvan die blare verwelk, soos ’n tuin wat geen water kry nie.” Daar is ’n keuse tussen verrotting of herstel deur oordeel.
Geliefde gemeente, ons is so bang vir die woord “oordeel.” Maar wil ons nie hê dat alle dinge reggestel word nie? Wil ons nie hê dat die woord met die regte kant na bo gedraai word nie? Dit kom alles deur oordeel. Dit is eers nadat die stomp afgekap is dat die loot begin groei. God se heilige regverdige oordeel is ook ’n reinigende oordeel. Die pad ondertoe is die pad boontoe. Gebrokenheid is die weg na genesing. Die wat arm van gees is, sal die koninkryk ontvang. Die wat treur, sal vertroos word. Dit is slegs wanneer ons ons nood sien dat ons die ware realiteit van die liefde en deernis van God sien. Dat ons die heerlikheid van Christus sien!
Amen.