Die oorsprong van die ou verbondsvolk lê in God se roepstem.
Uit die bloute het Hy Abraham geroep na ‘n ander land.
Abraham het geen meriete gehad nie.
Soos sy voorvaders het hy ander gode gedien.
Toe Abraham daar wegtrek, het hy nog nie geweet wat vir hom wag nie.
Al wat hy geweet het, was die HERE se belofte.
Ek sal jou ‘n groot nasie maak.
Ek sal jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees vir ander.
Ja selfs al die geslagte van die aarde sal in jou geseën word.
Al wat Abraham moes doen, was om God se bevel te gehoorsaam, op hoop van seën.
Vandag sit ons hier in die kerk, vier duisend jaar nadat Abraham geleef het.
Intussen het hierdie belofte van God waar geword.
Want alle geslagte van die aarde is, en word nog steeds in Abraham geseën.
Hier aan die suidpunt van Afrika is daar ook kinders van Abraham, blank en bruin en swart ...
Wat ons as gelowiges saambind, is die feit dat ons almal kinders van Abraham is.
Van watter nasie ook, die gelowiges uit daardie nasie is kinders van Abraham.
Ons is die lewende bewys dat hierdie beloftes van God vervul is.
Saam loof ons die HERE, saam leef ons uit genade.
Tema: 'n Kind van Abraham is regverdig deur geloof in Jesus Christus
Genesis 12 is 'n sleutelhoofstuk in die Bybel.
Want in hierdie hoofstuk lees ons dat die HERE vir Israel uitverkies het.
Sy keuse het op Abram en sy nageslag geval om sy uitverkore volk te word.
Dit is belangrik om in hierdie konteks onsself af te vra wat God se motief agter sy keuse was.
Hoekom het God eintlik vir Abram gekies?
Het hy enige meriete gehad?
Het hy 'n baie vroom lewe gelei?
Het God iemand soos Abram nodig gehad om die voorvader van sy volk te word?
Iemand soos hy wat die potensiaal in hom gehad het om ‘n stamvader te word, omdat hy 'n baie sterk, stabiele en goeie karakter gehad het?
Omdat hy die ideale kombinasie van gene gehad het?
Groot en sterk, intelligent, of soos die Nazi’s later op prys gestel het – blond en met blou oë?
Hoekom juis Abram?
Kom ons kyk wat die Bybel hieroor sê, hoekom die keuse op Abram geval het.
Ons het begin met Genesis 12.
Wat sê hierdie hoofstuk oor hoekom God hom eerder as enigiemand anders wou gebruik?
Die antwoord is, gemeente: Hierdie hoofstuk sê niks daaroor nie.
Niks van Abraham, wie hy was, of hoe hy was nie...
Nee, ons lees hoe die HERE uit die bloute gekom het, ja, uit die hemel het Hy aan Abraham verskyn, met hom gespreek en hom beveel:
Gaan jy uit jou land en uit jou familie.
Verlaat jou vader se huis.
Laat jou etniese groep agter jou, en gaan na ‘n land wat Ek vir jou sal wys.
Daar is niks in hierdie verse wat daarop dui dat Abraham beter was as die res van die mense in Ur nie, of argumentsonthalwe, enige ander plek op aarde nie.
Dit was nie hoekom God hom gekies het nie.
Hierdie gevolgtrekking word duideliker as ons na ander tekste uit die Bybel kyk.
Ek dink byvoorbeeld aan Josua 24:2-3.
Daar sê die HERE aan die Israeliete wat in Sigem vergader het:
Julle vaders het eers aan die oorkant van die rivier gewoon, die Eurfraatrivier.
Tera, die vader van Abraham, en Nahor sy oupa, en hulle het ander gode gedien.
Maar Ek het julle vader Abraham van oorkant die rivier af geneem en hom deur die hele land Kanaän laat trek.
Uit hierdie teks kan ons sien dat Abraham ander gode aanbid het, voordat die roeping van die ware God na hom gekom het.
Dit was dus nie te danke aan Abraham se godsdienstigheid dat hy uitverkies is nie.
Waaraan het Abraham dan hierdie voorreg te danke gehad?
Kom ons kyk na 'n ander teks uit die Bybel.
Romeine 4:2-3: “As Abraham inderdaad op grond van sy dade regverdig verklaar is, het hy rede om hom daarop te beroem. Maar nie voor God nie. Want wat sê die Skrif? Abraham het God geglo, en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken.” (2020-Vertaling)
Ek dink ook aan wat daar in Hebreërs 11:8 staan:
“Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom.”
Waaraan het Abraham dit dan te danke gehad dat God se spesiale keuse op hom geval het?
Dit was net GENADE.
Hy was dit enkel en alleen aan God verskuldig.
Soos dit soms verwoord word:
God, die Almagtige en Barmhartige, het redes uit Homself geneem om vir Abraham te kies.
En Abraham het gehoor gegee aan die roepstem van God.
Hy het geglo dat God goeie bedoelings met hom gehad het.
Dis die enigste kompliment wat jy vir Abraham kan gee: hy het naamlik geglo.
Alhoewel om te glo op sigself ook nie 'n goeie werk is nie.
Jou geloof is, so te sê, net die hande wat jy uitsteek om God se gawe te ontvang.
Dit is waaroor v/a 61, wat ons gelees het, handel.
Dwarsdeur die Bybel word daar dikwels verwys na Abraham se geloof.
Tog is sy geloof nie die werk, die prestasie, wat aan Abraham daardie spesiale posisie besorg het nie.
Soos antwoord 61 sê:
Nie omdat die WAARDE van my geloof my vir God aanvaarbaar maak nie.
Maar slegs die genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus is my geregtigheid voor God.
Ek ontvang dit gratis van Hom.
En net deur geloof kan ek dit aanvaar en my eie maak.
Ons het tot dusver v/a 60 oorgeslaan, altans die eksplisiete behandeling daarvan.
Want inhoudelik is ons reeds daarmee besig.
Hoe is jy regverdig voor God?
Die woord regverdig is 'n woord wat ons keer op keer in die Bybel vind, elke keer as dit oor Abraham gaan.
Abraham is geregverdig deur geloof.
Hy was geregverdig, maar Abraham het self niks gehad om op te roem nie.
Hy was 'n deursnee sondige man.
Die tweede deel van Genesis 12 wat ons gelees het, illustreer dit.
Was Abraham 'n stoere aartsvader?
Was Abraham standvastig?
Nee, absoluut nie.
Ons het gelees hoe hy tydens 'n hongersnood na Egipte gevlug het.
Daar het hy hom – as ’n asielsoeker, ‘n buitelander – in ’n benarde posisie bevind.
Wanneer hy sy storie vertel, oor wie hy is, waar hy vandaan kom, ensovoorts, sien ons hoe hy kleitrap.
Dit blyk dat hy ‘n leuen vertel om sy eie bas te red.
Hy redeneer by homself dat hy beter kanse het as hy sou voorgee dat Sarai nie sy vrou was nie, maar sy suster.
Sarai, wat 'n pragtige vrou was.
Sarai het waarskynlik 'n baie beter kans gehad om in Egipte te bly as Abraham.
Daar sou sekerlik iemand daar in Egipte wees wat haar as vrou sou wou hê.
En dit blyk toe inderdaad die geval, Abraham het reg geraai.
Nie minder nie as Farao self het haar vir sy harem gesoek.
En toe is sy verblyfpermit in ‘n japtrap gereël.
Natuurlik mog die broer van Farao se nuwe vrou ook in Egipte bly.
Ek wonder wat Sarai hieroor moes gedink het, dat haar man haar so maklik afgestaan het ...
Maar ja, die werklikheid was dat dat Abram en Sarai op daardie stadium nog egte heidene was, altans in lewenswyse.
Ja hulle was verbondskinders, wat God het sy verbond met hulle gesluit.
Maar hulle was nog in die proses om te leer wat God se wil met hulle lewe was.
En sulke optrede soos Abram hier doen, dit was normaal onder die heidene.
Die reg van die sterkste, hy vat vir hom die vroue, en wee wie hom teenstaan.
So laat dit duidelik wees uit hierdie tweede deel van Genesis 12 dat die feit hoekom God Abram uitverkies het, nie was omdat hy regverdig was, omdat hy goed, voorbeeldig of Godvresend was nie.
Dit was bloot net die genade van God.
En dit is waarop v/a 60 fokus.
Hoe is jy regverdig voor God?
Slegs deur ware geloof.
Glo in Jesus Christus.
Al beskuldig my gewete my.
As Abram eerlik met homself was,
en dit geld vir elke persoon:
Hoekom kies God eintlik vir my?
Hoekom is God so goed vir my?
Hoekom belowe Hy my so baie?
Hoekom gee Hy vir my so 'n groot geskenk?
Hoekom laat Hy sy eie Seun vir my sondes sterf?
As jy jouself hierdie vrae eerlik afvra,
dan het jy geen ander rede om te gee as dat die rede by God self lê.
As ek enigsins enige meriete by myself moet soek, dan raak ek depressief.
My gewete kla my aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig en nie een daarvan gehou het nie, sê antwoord 60.
En nog steeds, gedurigdeur, is ek tot alle kwaad geneig, selfs nadat God so genadiglik vir my gekies het.
Dink aan hierdie episode met Abraham in Egipte, sy kleingeloof, en dit nadat God reeds vir hom gekies het en reeds vir hom beloof het dat Hy hom sal beskerm en hom sal seën.
Watter rede was daar vir hom om vir Farao bang te wees?
Geen!
Met God aan jou sy hoef jy vir een aardse heerser, hoe magtig ook, bang te wees nie.
Maar ja, so moet ons elke dag erken, ook as ons al bejaard is en soveel jare in die verbond geleef het:
Here, ek het niks om U te bied nie,
Here, my gewete beskuldig my!
MAAR, en dit is die Evangelie:
Tog gee God my, sonder enige verdienste van my kant, uit louter genade, die volkome genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus.
Hy skenk dit, Hy plaas hierdie positiewe saldo op my rekening, asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie,
ja, asof ek self soveel kapitaal het dat ek self kan betaal, asof ek nog nooit in die skuld was nie, asof ek geen enkele rente het om terug te betaal nie, ja asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het.
Dis die goeie nuus, die inhoud van die Evangelie, wat die Kategismus kortliks saamgevat het in die behandeling van die 12 artikels, waaraan daar nou ‘n einde kom met Sondag 23 met die vraag: Wa baat dit jou dat jy dit alles glo?
Wel, dit baat vir my alles!
Want ek is nou in Christus regverdig voor God.
Dinge is nou weer reg tussen God en my.
In die hemelse geregshof is God nie meer my vyand nie, maar danksy sy Seun Jesus Christus my bondgenoot!
Ek is selfs erfgenaam van die ewige lewe.
Halleluja! Prys die Here!
Genade aan Abraham.
Genade vir elke sondaar.
Genade vir my, hier Pretoria.
Genade vir die mense in Soshanguve en Mamelodi.
Genade vir die mense aan die ander kant van die aardbol.
Sola Gratia.
Vrygespreek van skuld,
in liefde en deernis aanvaar.
En dit geld vir mense uit alle volke, tale, nasies en stamme.
In liefde en ontferming aangeneem.
God het hierdie reddingsaksie begin toe Hy Abraham geroep het.
Hy het toe al die eindes van die aarde op die oog gehad – die eerste verse van Genesis 12 kan nie anders uitgelê word nie.
Vanaf daardie oomblik toe Hy in Abraham se lewe gekom het, het Hy hom op die pad van verandering geplaas.
Hy het 'n nuwe lewe in hom begin bou.
Die naamsverandering het dit gesimboliseer:
Die heiden Abram het die verbondskind Abraham geword.
En so ook het Sarai Sara geword.
God het hulle gekies, om van hulle nuwe mense te maak.
En so het die HERE voortgegaan met Abraham se nageslag, aanvanklik veral die Israeliete, die twaalf stamme.
Maar van die begin af was alle ander geslagte van die aarde ook al in die prentjie:
“in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” – Genesis 12:3.
Israel het daardie Omdat die Jode hulle besondere posisie ook nie aan hulleself te danke het nie.
Male sonder tal lees ons hoe God sy volk met hierdie feit moes konfronteer.
“Nie ter wille van jou geregtigheid en die opregtheid van jou hart kom jy in om hulle land in besit te neem nie” – Deuteronomium 9:5.
God se genade kan 'n heiden sowel as 'n Jood verras.
Jode destyds en kerkmense van het niks om mee te spog nie.
God is nie van hulle afhanklik nie.
God he tmag “om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek”, sê Johannes die Doper ontnugterend vir die Fariseërs en Sadduseërs – Mattheüs 3:9.
En elkeen wat dit vergeet, Jood of kerklid, kry te hore:
“die byl lê ook al teen die wortel van die bome.” (vers 10)
“Elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi”.
Dit word gesê vir die Fariseërs, hulle wat hulleself juis daarop beroem het dat hulle so voorbeeldig gelewe het, en die wet so goed nagekom het.
Tog is dit nie daardie tipe wetswerke wat God wil sien nie.
Juis hulle met daardie tipe wetswerke loop die risiko om deur die byl uitgekap te word.
Vrugte dra is vrugte van dankbaarheid.
Geloofsvrugte is eerstens om te bly besef dat ek ‘n arm bedelaar voor God is, wat net uit genade kan leef.
Ons sien vandag hoe God reeds miljoene kinders vir Abraham gekies het, ook in die nuwe verbond sedert Pinksterdag.
Die groot oes het begin.
God is in volle stoom aan die gang om sy belofte aan Abraham te vervul.
En Hy sal dit weer en weer doen, vandag en in die toekoms.
In Galasiërs 3:8-9 skryf Paulus: “En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word. Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham.”
Dit is die tema, die rooi draad, reg deur die Skrif.
En dis nie verlede tyd nie.
Kinders van Abraham word nog elke dag gebore.
En aan ons word Abraham nie as voorbeeld gestel nie, maar ons word opgeroep om sy geloof na te volg.
Dink aan Hebreërs 11: “Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom. Deur die geloof het hy as vreemdelin ggaan woon in die land vanbelofte soos in ‘n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.” (Hebr 11:8-10)
Abraham leef nie meer nie, altans nie hier op aarde nie.
Abraham is nou in die hemel.
God het sy woord gehou en Jesus het dit beklemtoon toe Hy gesê het:
“Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes.” (Matt 22:32)
En dit is die voorland vir elke bedelaar op aarde.
Ook jy, ten minste as jy ‘n bedelaar is, as jy sterf, sal jy deur die engele na die skoot van Abraham gedra word.
Dit is hoe die Here Jesus dit oor die arm maar getroue Lasarus vertel (Luk 16:22).
Broer en suster, glo dit, oftewel, steek jou hande uit om die gawe van God se genade aan te neem – sy genoegdoening, geregtigheid en heiligheid soos antwoord 60 dit verwoord.
Omhels Jesus Christus, God se Seun wat Hy as Geskenk gestuur het.
Dan is jy regverdig.
Dan is jy ‘n erfgenaam van die ewige lewe.
Amen.
Votum (Ps 121:1)
Seën
Ps 32:3,4
Gebed
Skriflesing: Genesis 12
Ps 100:1,2
Skriflesing: Romeine 4
Ps 100:3,4
Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 23
Preek
Ps 105:4,5,23,24
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps 47:1,4
Kollekte
Ps 97:6,7
Seën