Loof die HERE, want sy goedertierenheid duur tot in ewigheid

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2024-09-15
Teks: 
Psalm 136
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 136

 

Daar is weinig gedeeltes in die Bybel waarin daar soveel herhaling voorkom.

In Psalm 136 word dieselfde sin 26 keer herhaal.

Natuurlik vra mens jouself dan af: hoekom?

As mens dit so lees, dan raak dit eintlik eentonig.

Wat is die bedoeling daarmee?

Kan mens dit maar oorslaan sodat jy die verhaallyn beter kan volg?

Die herhaling staan soms in die middel van ‘n ander sin, byvoorbeeld vers 7 - 9:

“Wat die groot ligte gemaak het, ... Die son om te heers oor die dag ... Die maan en die sterre om te heers oor die nag.”

Een sin, maar die refrein kom maar liefs drie keer daarin voor!

 

Maar voordat ons na die rede agter al hierdie herhaling kom, laat ons eers na die inhoud van die Psalm kyk.

 

Tema: Loof die HERE, want sy goedertierenheid duur tot in ewigheid

  • Wat is sy goedertierenheid?
  • Hoe loof ons sy goedertierenheid?

 

  • Wat is sy goedertierenheid?

Eerstens kyk ons na die verhaallyn in die Psalm.

Die inhoud van Psalm 136 handel oor God se wonderdade.

Daar word gefokus op drie episodes.

Maar eers is daar ‘n inleiding.

In sterk woorde word uitgedruk dat die HERE – die Psalm begin met sy Verbondsnaam – dat Hy die engiste lewende God is.

Loof die God van die gode.

Loof die Here van die here.

Hy is goed, Hy alleen doen groot wonders.

 

Dan volg die eerste illustrasie van sy wonders uit die verlede, vers 6-9.

Dit handel oor die skepping.

Wat die hemele met verstand gemaak het.

Wat die aarde op die water uitgespan het.

Wat die groot ligte gemaak het, die son om te heers oor die dag, die maan en sterre om te heers oor die nag.

Hemel en aarde, son, maan en sterre, daarvan is Hy die Ontwerper en die Boumeester.

 

Dan volg die tweede deel van die Psalm, en dit handel oor die uittog uit Egipte.

Eerstens ‘n verwysing na die 10 plae in Egipte – net die laaste een word genoem – maar die ander word geïmpliseer.

Dan die uitgestrekte arm van God wat die Skelfsee in stukke gesny het, Israel dwarsdeur laat gaann het, terwyl Farao met sy leër daarin verdrink het.

Dan die woestynreis, waartydens Hy sy volk beskerm het teen groot konings.

En dit loop uit op die intog in die beloofde land, wat Hy aan Israel as erfdeel gegee het.

Al met al, ‘n geskiedenis vol wonderdade.

 

Dan kom die derde deel, en dit is afsluiting van die Psalm, en nou is die digter in die hede:

Wat voedsel gee aan alle vlees.

Kort en kragtig word bely dat God se wonderdade nie net iets van die verlede is nie.

In sy voorsienigheid sorg die HERE vir mens en dier, vir alles wat lewe.

Hy is die God van wonders, in die verlede maar ook in die hede.

En daarom die laaste oproep: Loof die God van die hemel!

Die Psalm begin met sy Verbondsnaam – HERE.

Die Psalm sluit af met sy algemene naam – God.

Die boodskap: Daar is slegs een God, en dit is die HERE, Hy wie se tempel in Jerusalem staan.

Daar moet Hy geloof word vir wie Hy is en wat Hy doen.

 

En dit is wat die refrein dan ook doen, 26 keer in hierdie Psalm: “want sy goedertierenheid is tot in ewigheid”.

Kom ons kyk vir ‘n oomblik na hierdie woord: goedertierenheid.

Die Hebreeuse woord vir goedertierenheid is ‘n ryk woord wat dit eintlik lastig maak om te vertaal.

Soek mens dit op in die woordeboek van Bybelse Hebreeus, staan daar as vertalings die volgende moontlikhede:

Verpligting teenoor die gemeenskap, trou, goedheid, vriendelikheid, genade.

Bybelvertalings maak dan ook verskillende keuses.

Die Ou Vertaling het soos ons weet: goedertierenheid.

Die 2020-Vertaling het: troue liefde.

Die Engelse ESV het basies dieselfde: steadvast love.

Die King James Engelse vertaling: mercy.

Geen van hierdie vertalings is verkeerd nie.

Tog dek almal nie die volle rykdom van hoe die woord in Psalm 136 gebruik word nie.

Daar is ook voorgestel om dit te vertaal met verbondstrou.

Dit is ook ‘n goeie keuse, dit akkordeer met die betekenis wat eerste in die woordeboek staan: verpligting teenoor die gemeenskap.

Die HERE het toe Hy ‘n verbond met sy kinders gesluit het, ‘n verpligting teenoor hulle aangegaan, en daaraan is Hy trou.

Hy is hulle goedgesindheid, Hy is hulle genadig, sy aangesig is vriendelik na hulle toe.

En, verduidelik Psalm 136, dit blyk juis uit die wonders wat Hy in verlede gedoen het en in die hede nog steeds doen.

Juis daaruit blyk hoe toegewyd Hy van sy kant aan die verbond is.

En, benadruk die refrein, dit sal in ewigheid duur.

Hy sal van sy kant nooit ontrou wees nie.

“Die HEER wat van geen wankel weet nie, sal nimmer sy verbond vergeet nie” (Ps 105:5 berymd).

Ja, sing Psalm 136, sy goedertierenheid, sy verbondstrou, duur tot in ewigheid.

 

Noudat ons weet wat hierdie Psalm met God se goedertierenheid bedoel, sy troue liefde, sy genade, sy verbondstrou, gaan ons in die tweede plek kyk hoe ons Hom daarvoor kan loof.

 

  • Hoe loof ons sy goedertierenheid?

Soos ek in die inleiding genoem het, is daar weinig gedeeltes in die Bybel met soveel herhaling.

Hoekom eintlik?

Gemeente, hierdie Psalm met al sy herhalings maak sin as mens dit plaas in sy oorspronklike konteks.

Dit was ‘n – soos dit genoem word – liturgiese konteks.

Die Psalm is byvoorbeeld gesing by die tempel.

En, soos die musici onder ons veral weet, in musiek is herhaling ‘n normale ding.

Tot op vandag is herhaling een van die pilare waarop goeie musiek staan.

Musiek bestaan uit ‘n melodie, uit ‘n ritme, maar net so belangrik, uit herhaling.

En dit geld ook vir poësie.

Digkuns en musiek sluit bymekaar aan.

 

By die tempel was daar tempelkore.

Dink aan wat ons gesing het:

“Sing nuwe sange, nuutgebore

uit aandrif van die skoonste kuns;

trompetgeklank deur tempelkore

moet danksê vir Gods nuwe guns.” (Ps 33:2)

 

En Psalm 98:3:

“Laat by die psalm, in vreug gebore,

jul harp en stem Hom loof en dank;

laat opklink deur jul tempelkore

trompette en basuingeklank!”

 

Nou is dit so dat die woord tempelkoor nie in Psalm 33 of in Psalm 98 se Bybelteks voorkom nie.

Het Totius dan ’n fout gemaak toe hy dit wel in sy beryming ingevoeg het?

Nee, seker nie, want dit is in lyn met die res van die Bybel.

Baie Psalms begin met ’n instruksie vir die musiekleier – byvoorbeeld Psalm 64,65,66,67 ensovoorts.

Musiekleier kan ook vertaal word met koordirigent, soos die Engelse ESV-vertaling dit byvoorbeeld doen: “To the choirmaster” (Ps 66:1).

 

In Nehemia 12 lees ons dat Nehemia by die inwyding van die tempel twee groot kore opgestel het (Neh 12:31).

“Toe het die twee kore in die huis van God gaan staan” (vers 40)

Hierdie was nie Nehemia se eie planne nie, maar hy was reformatories besig.

Hy het die erediens herstel soos dit destyds in die tyd van Dawid was.

Ons lees in vers 46, waar hy sê: “Want in die dae van Dawid en Asaf, van die voortyd af, lê die oorsprong van die sangers en die leiers van die lofsang” (Neh 12:46).

Daar was sangers uit die Leviete wie se beroep dit was om in die erediens te sing.

Hulle was professionele, geoefende, sangers, en dit was formidabele kore, massakore.

In 1 Kronieke 25 staan: “hulle getal saam met hulle broers wat geoefend was in die gesang tot eer van die HERE, almal meesters, was twee-honderd-agt-en-tagtig.” (1 Kron 25:7)

 

Nehemia was dus reg om hierdie kore weer in te stel.

En tot sy skok het Nehemia agtergekom dat die volk nie hulle tiendes aan die Leviete en sangers betaal het nie, met die gevolg dat hulle self op hulle grond moes gaan plant om te oorleef (Neh 13:10), waardeur hulle nie op hulle kerntaak kon fokus, naamlik om te sing en musiek te maak nie.

 

Nehemia herstel die erediens soos dit voor die ballingskap was.

As mens teruggaan na die tyd van Salomo se tempel, het dit ’n integrale rol gespeel.

Ons lees dat by die inwyding van Salomo se tempel die volgende gebeur het:

“terwyl die Levitiese sangers almal saam, Asaf, Heman, Jedutun met hulle seuns en hulle broers ... met simbale en harpe en siters oostelik van die altaar staan, en saam met hulle omtrent honderd-en-twintig priesters wat op die trompette blaas”, het “almal saam eenstemmig begin om die HERE te prys en te loof ... Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!” (2 Kron 5:12-13)

Hoor u hierdie einste woorde van Psalm 136?

Dit was dus die liturgiese konteks van die Psalm.

En dan word vertel hoe ’n wolk die tempel gevul het.

Duidelik het die HERE die dankoffer van sang en musiek aanvaar.

Hier word dus die presiese woorde gebruik wat ons in Psalm 136 vind.

 

Broer en suster, sou u nie ook graag daar wou gewees het nie?

Dink net hoe dit moes geklink het – 120 priesters wat op trompette blaas.

Ek het nog nooit soiets gehoor nie, hooguit 5 of 6 trompette.

En al was dit op veel kleiner skaal, tog was ook die inwyding van die tweede tempel in Nehemia se dae indrukwekkend!

Ons lees in die Bybel: “En die volk kon die geluid van blye gejuig nie onderskei van die geluid van gehuil van die volk nie, want die volk het gejuig met groot gejuig, sodat die geluid tot ver weg gehoor is.” (Esra 3:13)

 

Ook vandag klink die HERE se loflied nog steeds.

Vandag sing ons nog steeds hierdie selfde woorde: “Want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!”

Dit klink uitbundig, veral as daar trompette by is, veral as dit ’n spesiale erediens is en verskillende gemeentes kom bymekaar in groot getalle om die HERE te loof!

 

Die Nuwe Testamentiese kerk staan wat dit betref op die skouers van God se kinders in die Ou Testament.

Ook ons word opgeroep: “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.” (Kol 3:16)

Dit is deel van die jaartema vir 2024: Ons nuwe lewe in Christus is ’n jubelende lewe!

Wat die Nuwe Testament kenmerk, is dat dit in alle opsigte groter is as die Oue.

God se volk het geweldig uitgebrei sedert Pinksterdag.

Laat ons loflied daarom nie onderdoen vir die lofliedere wat destyds by die tempel geklink het nie!

Daar is des te meer rede om te loof.

Ons dink nie net aan die bevryding uit Egipte, uit die slawerny aan Farao nie.

Ons dink aan die bevryding van die slawerny aan Satan, deur ons Messias, ons Here Jesus Christus.

God het die verpligting wat Hy Homself gestel het, nagekom.

Daaruit blyk sy goedertierenheid, sy verbondstrou, sy genade!

Hy het sy eie Seun as Messias gestuur.

By sy goedertierenheid dink ons vandag daarom veral aan sy Seun, Jesus Christus, ons Messias, en wat Hy op aarde kom doen het!

 

Gemeente, tussen die tempelkore en die volk van die HERE was daar ’n wisselwerking.

Hulle het mekaar, al singende, aangemoedig.

Die tempelkoor het byvoorbeeld steeds die eerste sin gesing – die vertelling van die wonderlike geskiedenis.

En dan het die volk met groot geluid die refrein gesing.

Na die Reformasie het mense in Gereformeerde kringe agterdogtig geraak vir kerkkore.

Dit het daarmee te make dat die Roomse kerk dit te ver gevat het.

Die professionele kore het die kerkmusiek, die sang, by die gemeente weggevat.

Die gemeente het amper nie meer gesing nie.

Dit was met dank aan die Reformasie dat die kerklied aan die gemeente teruggegee is, ook die Psalms.

En dan spesifiek in die mense se eie taal, terwyl in die laat Middeleeue die kerkmusiek veral in vir die mense onverstaanbare Latyn was.

’n Oorreaksie in die Gereformeerde tradisie was egter dat kore heeltemal uit die eredienste verdwyn het.

’n Koor kan ook – en so was dit in die Bybelse tyd – die gemeentesang aanhelp, verbeter, na ’n hoër vlak lig.

Al met al die loflied op die HERE nog meer laat skitter.

 

Psalm 136 is ’n pragtige voorbeeld hiervan.

Die refrein word amper lastig as mens dit voorlees.

En as mens al die 20 verse in die Totiusberyming agtermekaar sing, raak dit amper eentonig, hoe mooi die woorde en melodie ook is.

Met beurtsang kom die Psalm egter meer tot sy reg.

Ons ken beurtsang tussen verskillende dele van die gemeente.

Net so is hierdie Psalm in die Bybelse tyd gesing in beurtsang, byvoorbeeld tussen die volk en die tempelkore.

 

En dan het ons ’n gedeelte uit 2 Kronieke gelees.

Daar vind ons ook die presiese woorde van Psalm 136 se refrein terug.

Vers 21: “Loof die HERE, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!” (2 Kron 20:21)

Dit word hier deur sangers in heilige sieraad gesing wat uittrek op die voorpunt van die gewapendes.

Hierdie is dus nie by die tempel nie, maar op die slagveld.

Dit mag vreemd klink, maar vroeër was musiek deel van oorlogsvoering.

Strydliedere het die soldate aangemoedig en dapper gemaak, dit het die eenheid tussen die manskappe bevorder.

’n Veel meer onlangse voorbeeld is byvoorbeeld die Nederlandse volkslied, die Wilhelmus.

Ook dit is oorspronklik as ’n strydlied op die oorlogsveld gebruik.

In 2 Kronieke het die woorde wat die sangers tydens die veldtog teen die Ammoniete en Moabiete gesing het, die Israeliete bemoedig:

Want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!

Goedertierenheid, wat soos ek verduidelik het, ook beteken verbondstrou.

Die HERE is trou aan die verbond met sy kinders, Hy sal hulle dus bystaan in die stryd.

En dit het inderdaad gebeur toe die vyand op onverklaarbare wyse teen mekaar begin veg het, soos ons gelees het.

 

So het die loflied in die Ou Testament geklink op die sabbat, maar ook deur die week.

Dit het geklink by die tempel, maar nie net daar nie.

Selfs op die slagveld is dit gehoor.

So het die loflied op die HERE die hele lewe van God se kinders gedra.

En vandag is dit nog steeds so.

Die HERE se goedertierenheid, sy verbondstrou, sy troue liefde, sy vriendelike aangesig, sy genade is met ons, in tye van voorspoed en teenspoed, in tye van oorvloed en tekort, in tye van vrede en van oorlog, in die jeug en tot in die gryse ouderdom.

Want Christus regeer op die hemelse troon, Hy gaan ons voor in die stryd.

 

Die laaste verse van hierdie Psalm gebruik die woordjie ons.

Daarmee word die Psalm persoonlik: “Wat in ons vernedering aan ons gedink het ... En ons van ons teëstanders losgeruk het” (vers23-24).

Hiermee word dit nie net ’n lied oor die verlede nie, maar ook elke hede, wanneer God se volk dit ook al sing.

Byvoorbeeld toe dit in Dawid se tyd gesing is, of toe dit na die ballingskap gesing is, en ook as dit vandag gesing word.

Al word Christus se kerk verneder en verag in ons tyd, ons weet dat sy goedertierenheid met ons is.

Ja Hy het ons van ons teëstanders losgeruk.

As Hy dit kon regkry met die Satan, dat Hy ons van sy boeie bevry het, hoeveel te meer sal Hy ons nie van mense kan bevry nie!

 

Gemeente, ons sang maak net eksplisiet wat ons hele lewe is.

Ons lewe om te loof!

Daar is alle rede om te loof!

In Christus is ons meer as oorwinnaars.

Psalm 136 se refrein het danksy Hom net nog soveel meer inhoud gekry.

Ja sy goedertierenheid sal bestaan tot in ewigheid!

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 33:2

Wet

Ps 107:1

Gebed

Skriflesing: 2 Kronieke 5:2-14

Ps 136:1-7 (vers 1-3 almal; 4 mans; 5 vroue; 6 mans; 7 vroue; refrein: almal)

Skriflesing: 2 Kronieke 20:20-24

Ps 98:3

Teks: Psalm 136

Preek

Ps 136:8-17 (afwisselend mans en vroue; refrein: almal)

Gebed

Kollekte

Ps 136:18-20

Seën