Ons goeie werke getuig van die groot werk van die Here Jesus in ons

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2024-09-22
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 24
Preek Inhoud: 

Wat kom eerste: werk of eet?

Werk jy om te eet, of eet jy om te werk?

Werk jy om geld te verdien sodat jy kan kos koop?

Of koop jy kos sodat jy kan eet sodat jy genoeg energie het om te kan werk?

Vanuit ‘n Christelike oogpunt is daar altyd gesê:

Die werk wat jy doen, doen jy nie primêr om geld te verdien nie, oftewel om te kan eet nie.

Maar jy doen jou werk met die bedoeling om die Here daarmee te dien.

Dit geld in prinsipe vir elke beroep.

‘n Mens werk nie om te eet nie, mens eet om te werk.

Vir sommige werk op aarde geld dit dat jy ‘n salaris kry.

Maar vir ander werk – wat net so noodsaaklik is – kry jy geen salaris nie.

Ouers kry nie ‘n salaris omdat hulle hulle kinders opvoed nie, tog is dit miskien wel die belangrikste werk wat hulle doen.

Ook as mens na die kerk kyk, is daar baie mense wat weekliks baie ure se werk verrig in die gemeente van Christus.

Ouderlinge, diakens, skribas, kommissielede, orreliste, kosters, msk-lede, ensovoorts.

Alles werk wat ons vir die Here mag doen.

Soos daar in Lukas 17 staan: Ons doen maar net wat ons verplig was om te doen.

 

Nou gaan dit in Sondag 24 oor goeie werke.

Hierdie Sondag laat sien dat nie net vir die werk wat in die kerk gedoen word, maar vir die hele breë lewe geld: Ons doen ons arbeid trou, omdat God dit aan ons opgedra het.

Ons doen maar net wat ons verplig is om te doen.

En as ons ‘n beloning ontvang, is dit nie uit verdienste nie, maar uit genade.

 

Tema: Ons goeie werke getuig van die groot werk van die Here Jesus in ons

  • Is jou goeie werke ‘n struikelblok?
  • Is jou goeie werke ‘n geskenk?

 

  • Is jou goeie werke ‘n struikelblok?

In die gedeeltes wat ons uit Lukas gelees het, praat die Here Jesus met sy dissipels.

Hy waarsku hulle vir die struikelblokke oppad na die koninkryk.

Die pad na die koninkryk is vol strikke en valkuile.

Die Here Jesus verwys hier veral na al die teenstand waarmee Hy en sy dissipels te make kry, met name van die kant van die Fariseërs.

Die Fariseërs was die godsdienstige leiers in daai tyd, en dit het al duideliker begin word dat hulle nie waardering vir die Here Jesus en dus ook nie vir sy dissipels gehad het nie.

Hoewel Jesus ‘n leermeester, ‘n rabbi was, het hulle Hom nie met die nodige respek behandel nie.

Hulle het Hom eerder minderwaardig behandel.

Hy was nie op dieselfde vlak as hulle nie.

Jesus het ‘n slegte naam gekry, veral onder die Fariseërs.

Jesus is mos ‘n Leermeester wat omgaan met tollenaars en hoere.

Hy laat Homself finansier deur ‘n tollenaar.

Hoe kan Hy dan ‘n eerbiedwaardige rabbi wees?

En net soos hulle Leermeester, is die dissipels ook minderwaardig behandel.

 

Hoe reageer Jesus op hierdie situasie?

Die feit dat hy op daardie stadium nie hoog ge’score’ het in die peilings, by die volk en veral nie by die Fariseërs nie?

Wel, Jesus noem dit ‘n struikelblok.

Hy het naamlik raakgesien dat dit sy dissipels omkrap.

Dat sy dissipels eintlik bietjie belangriker wou wees, bietjie meer aansien wou hê .

Hulle, as Jesus se volgelinge, het gevoel hulle het darem reg op ‘n bietjie meer respek en waardering.

 

Broer, suster, is dit vir jou ook ‘n struikelblok?

Doen jy veel vir die kerk?

Kry jy waardering daarvoor?

En doen jy veel by die huis wat ongesiens verbygaan?

 

Maar tog verander die Here nie van koers nie.

Ons sien dat Hy bly hamer op vergewingsgesindheid – ‘n houding van vergewingsgesindheid teenoor sondaars soos tollenaars en hoere.

Dit is wat ons dryfveer moet wees – beklemtoon Hy vir sy dissipels.

Nie ‘n hoër aansien, meer status in die oë van die Fariseërs of die volk nie.

Dink jou net in hoe erg dit sal wees, as as gevolg van jou behoefte aan status, jy ‘n gebrek aan vergewingsgesinheid sou hê na ‘n ander sondaar toe.

Dink net wat dit vir daardie sondaar sou beteken.

Want dit was die geval by die Fariseërs.

Húlle gebrek aan vergewingsgesindheid het ‘n struikelblok geword, sodat mense soos tollenaars en hoere nie in die koninkryk kon ingaan nie.

Jesus sê hieroor: Dit sou beter wees vir so iemand – so ‘n Fariseër dus – as ‘n meulsteen om sy nek gehang en hy in die see gegooi word, as dat hy een van hierdie kleintjies sou laat struikel.

Met die woord ‘kleintjies’ word bedoel: hierdie minderwaardiges, hierdie mense van ‘n laer status.

Kleintjies verwys hier na die sondaars soos die tollenaars en die hoere.

Die Fariseërs het immers so oor hulle gedink.

Hulle was minderwaardig, onverbeterlik, hulle kón die koninkryk nie beërf nie.

 

Hierteenoor sê Jesus egter:

As jou broeder sondig, bestraf hom, en as hy berou toon, vergewe hom.

Selfs tot sewemaal toe.

Ja inderdaad, hierdie ruimhartige vergewingsgesindheid van Jesus was nogal omstrede.

Die Fariseërs het dit Hom kwalik geneem dat Hy met tollenaars en hoere om dieselfde tafel sit.

Die Fariseërs het die houding gehad van die oudste seun in die gelykenis van die verlore seun.

Maar die Here Jesus het vir sy dissipels geleer:

Julle moet nie soos die oudste seun wees nie.

Wees bereid om jou broer te vergewe, as hy terugkom na alles wat hy aangevang het.

Dit is die koers wat ons aanhou – het Jesus vir sy dissipels geleer.

Ons wyk nie hiervan af nie.

Ook nie as dit veroorsaak dat ons self ‘n laer status kry, as ons nie hoog ‘score’ in die opiniepeilings onder die Fariseërs en die volk nie.

 

Gemeente, dit is dus wat daar aan die hand was.

Die dissipels was bekommerd oor hulle status.

Die volk het na hulle begin kyk asof hulle op die vlak is van tollenaars en hoere.

Almal het steeds meer op hulle begin neerkyk.

Is dit regtig nodig – het hulle gevra – is dit regtig nodig dat ons ons status so moet verloor, net om hierdie tollenaars en hoere te akkomodeer?

Hulle het nog bietjie moeilik gesluk aan die vergewingsgesindheid van hulle Leermeester.

Daarom dat hulle vir Jesus vra – vers 5:

Here, gee ons meer geloof.

Nou is die manier waarop hierdie sin uit Grieks vertaal is, nogal verwarrend.

In die oorspronklike teks staan letterlik:

Here, voeg aan ons geloof toe.

Wat het die dissipels hiermee bedoel?

Mens moet dit sien teen die agtergrond van die vrees van die dissipels, dat die Fariseërs en die samelewing hulle begin verag het.

Hulle word nie meer ernstig opgevat nie.

In hierdie verband vra hulle nou aan Jesus:

Here, ons stem wel saam met u leer.

Dat u so hamer op vergewingsgesindheid,

MAAR: voeg tog asseblief net ook ‘n bietjie geloofwaardigheid daaraan toe.

Bedoelende: Daar is niemand wat ons ernstig neem nie.

Kan U nie sorg dat ons – u volgelinge – ‘n bietjie meer waardering en status ontvang nie?

Dat ons beter vaar in die opiniepeilings, in die oë van die volk?

Dat die Fariseërs ons begin behandel as die volgelinge van ‘n baie eerbiedwaardige rabbi, wat U tog is, of nie?

Pla dit U nie, dat niemand ons ernstig opvat nie?

Ons het ‘n baie sterk boodskap, maar dit ontbreek ons aan status, aan geloofwaardigheid, aan invloedrykheid.

Here, gee ons meer geloof – dit wil sê, Here, gee ons meer geloofwaardigheid, meer status.

Dat ander mense regtig vir ons luister, dat hulle vir ons uit die pad gaan.

 

Is dit nie so in hierdie wêreld dat mense graag luister na hulle wat invloedryk is nie?

As ‘n president iets sê, as die rykste man op aarde iets sê, dan kom dit in die nuus.

Die gewone man of vrou op straat – wie luister eintlik na hom of haar?

En as gemeente van Christus, as Vrye Gereformeerde Kerk, wat is ons status, ons bekendheid, ons invloedrykheid in hierdie land?

 

Jesus se antwoord op die vraag van die dissipels, dat Hy hulle geloofwaardigheid moes ophef, is nogal ontnugterend.

Jesus sê: As julle geloof gehad het soos ‘n mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê:

Word ontwortel en in die see geplant, en hy sou julle gehoorsaam wees.

‘n Moerbeiboom het bekend gestaan as ‘n boom wat stewig in die aarde staan, wat nie met die eerste die beste storm omwaai nie.

Maar wat bedoel Jesus hiermee?

Hy bedoel: Ook al kry jy nul in die opiniepeilings, ook al heg niemand geloof aan wat jy sê nie, ook al is jou geloofwaardigheid so klein soos ‘n mosterdsaadjie, dan nog steeds kan jy baie kragtig en invloedryk wees!

Julle moenie so agter die eer en erkenning en status aan wees nie!

En in hierdie verband vertel Jesus dan nog ‘n gelykenis.

In hierdie gelykenis vergelyk hy sy dissipels met slawe.

‘n Slaaf moet sy werk doen – ploeg, die vee oppas, kos kook, die huis skoonmaak, noem maar op.

Hy moet sy werk doen omdat dit sy plig is.

Nie omdat daar ‘n groot beloning vir hom wag nie.

Na ‘n dag se werk moet ‘n slaaf nie reken dat ‘n feesmaal op hom wag nie.

Die normale gang van sake is, as ‘n slaaf by die huis kom, dat hy moet gaan kos kook en sy baas bedien.

Eers daarna kan hy self eet en tot rus kom.

‘n Slaaf moenie verwag dat sy baas hom gaan bedank asof hy ‘n groot guns aan hom gedoen het deur hom te bedien nie.

Dit is gewoon deel van sy dagtaak.

 

En só, sê Jesus vir sy dissipels, is dit ook met julle.

Julle moet net julle arbeid trou verrig.

Julle geloofwaardigheid is miskien nie veel in die oë van die wêreld nie, maar nog steeds moet julle julle taak trou doen.

Moenie die verwagting koester dat julle geëer gaan word nie.

‘n Slaaf word nie geëer nie.

Solank hy maar sy plig teenoor sy heer nakom.

So moet die dissipels nie hoë verwagtings koester nie.

As hulle geminag word deur die Fariseërs, deur die volk, as hulle beskou word as ‘n onaansienlike groepie uit Nasaret, dan moet hulle daarmee tevrede wees.

Dis nie nodig dat almal hulle eer nie.

Laat hulle ook nie skaam wees vir die feit dat hulle die eiendom van die Here Jesus is nie.

Ook al bespot die wêreld ons, al wat vir ons moet saakmaak is of ons die Here tevrede stel, Hy wat ons met sy kosbare bloed gekoop het.

 

Gemeente, dit is dus die posisie van Jesus se volgelinge.

Hulle moenie verwag om dank en eerbetoon van die wêreld te ontvang nie.

Broer, suster, word jou goeie werke vir jou ‘n struikelblok?

‘n Struikelblok op pad na die koninkryk?

 

As jy uit is op status en waardering, en dit op grond van wat jy doen, wat jy regkry, sal die Christenlewe vir jou ‘n teleurstelling wees.

Al wat vir jou moet saakmaak, is wat die Here oor jou dink.

En as die Here nog boonop besluit om jou ‘n beloning vir jou werk te gee, is daardie beloning puur ‘n kwessie van genade.

 

Dit bring ons by die tweede punt:

 

(Tema: Ons goeie werke getuig van die groot werk van die Here Jesus in ons

  • Is jou goeie werke ‘n struikelblok?)

 

  • Is jou goeie werke ‘n geskenk?

Die Heidelbergse Kategismus betrek die Bybelgedeelte wat ons gelees het, op goeie werke in die algemeen.

Die teks kry so ‘n breëre strekking.

Eers word daar in v/a 62 verduidelik dat ons goeie werke nie voldoen aan die eise van God se geregtigheid nie.

Ons goeie werke kan nie ‘n bydrae lewer aan ons redding nie.

In Sondag 4 & 5 het die Kategismus verduidelik dat ons werke volmaak behoort te wees, in alle opsigte in ooreenstemming met die wet van God.

Eers dan sal hulle moontlik in aanmerking geneem kan word.

Maar, soos antwoord 62 sê: Selfs ons beste werke is met sonde bevlek.

Ons goeie werke help dus niks om onsself te red nie.

Dis eerder andersom.

Soos die tema sê: Ons goeie werke getuig van die groot werk van die Here Jesus in ons.

 

Die Heidelbergse Kategismus bespreek die aard van goeie werke hier teen die Roomse agtergrond.

Die Roomse opvatting byvoorbeeld dat daar mense op aarde geleef het wat so baie goeie werke gedoen het, dat hulle nie net self daarmee in die hemel gekom het nie, maar dat hulle ook nog ‘n oorskot aan goeie werke agtergelaat het as ‘n erfenis.

En die Roomse kerk is die instansie wat hierdie erfenis beheer as ‘n soort kredietbank.

Teen die agtergrond hiervan sê die Kategismus nou:

Selfs ons beste werke is in hierdie lewe almal onvolkome en met sondes bevlek.

Geen enkele mens wat hierdie lewe verlaat, het self enige kapitaal opgebou nie.

Daarom kan jy jou goeie werke – selfs jou beste werke – nie by God as ‘n krediet opvoer nie.

Dit beteken nie dat daar geen goeie werke hoegenaamd bestaan nie.

Die feit dat jy op Sondag twee keer kerk toe gaan.

Dat jy Bybelstudie toe gaan.

Dat jy eensame mense opsoek.

Dat jy jou beroep eerlik en pligsgetrou uitoefen.

Dat jy baie moeite doen om jou kinders Godvresend op te voed.

Dit alles mag jy gerus jou beste werke noem.

Dis net dat ons ons nie voor God daarop kan beroem nie.

Want as jy eerlik is, moet jy toegee:

Hierdie goeie werke doen ek nie uit myself nie.

Maar ek kan dit doen omdat die Heilige Gees in my werk.

Hierdie goeie werke getuig van die groot werk van die Here in my.

As die Here my nie gekoop het nie, as ek nie sy eiendom – sy slaaf met die woorde van Lukas 17 – geword het nie, as Hy my nie opgehef het nie, dan sou ek niks hiervan kon presteer nie.

My goeie werke is heeltemal te danke aan die omstandighede, die nuwe lewe, waarin Hy my geplaas het.

 

Tereg stel die Kategismus dan die volgende vraag: Verdien ons goeie werke dan heeltemal niks nie?

Die antwoord is: Nee.

Nie omdat hulle nie goed is nie.

God self noem hulle ook goed.

Maar die antwoord is: Nee, eenvoudigweg omdat daar niks meer is om te verdien nie.

Ons het alles reeds ontvang: die volle saligheid in Jesus Christus.

Wat wil ons nou nog meer?

Die betaling is reeds gedoen.

Daardie boek, daardie debietrekening is nou toegemaak, hy hoef nie weer opgemaak te word nie.

Goeie werke wat ons doen word nie genoteer in daardie boek nie.

Goeie werke word opgeskryf in ‘n ander boek: die boek van die dankbaarheid.

Dit is waar God hulle opskryf.

My genade is vir jou genoeg.

Dit staan in die betalingsboek.

Maar in die boek van die dankbaarheid staan: Deur God se genade is hierdie persoon besig om te groei, en stelselmatig al hoe beter werke te verrig.

 

Geliefde gemeente, kom ons hou hierdie twee sake, hierdie twee boeke, duidelik uitmekaar.

Moenie probeer om jou goeie werke in die boekhouding in te smokkel nie.

In die boekhouding van jou lewe vind jy net Christus se naam.

En jou goeie werke hoort tuis in ‘n ander boek: die boek van die dankbaarheid.

Ons is maar net onverdienstelike diensknegte, ons het maar net gedoen wat ons verplig was om te doen.

As die Here besluit om ons te beloon, ons ‘n ekstraatjie te gee, is dit nie uit verdienste nie, maar uit genade.

 

En dan kom die laaste vraag uit Sondag 24.

Maar maak hierdie leer nie mense sorgeloos, goddeloos, onverskillig nie?

Die antwoord op hierdie vraag is ontwapenend.

Dit kom uit ‘n heel ander hoek as wat die mense toe – met die Roomse konteks waarin hulle gelewe het – verwag het.

Naamlik: Dit is onmoontlik dat iemand wat aan Christus behoort, geen vrugte van dankbaarheid sou dra nie.

Sê Jesus nie self: “’n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie.” (Matt 7:18)

Vyf eeue gelede, toe Luther die Evangelie van genade begin preek het, het – eerlik gesê – die mense hulle hart vasgehou.

Veral die leiers in die Roomse kerk.

Met so ‘n leer, dat jy slegs op Christus hoef te vertrou, kry mens met so ‘n leer nie chaos in die kerk nie?

Met so ‘n leer kweek jy mos onverskillige mense!

As jy die mense in hierdie lewe al sekerheid gee van die ewige lewe, watter moeite gaan hulle dan nog doen?

Dan gaan hulle mos agteroor sit?

Hulle gaan geestelik lui word.

Hulle gaan hulle afvee aan die pleidooie van die priesters om beter te lewe.

Met so ‘n leer – dit was die konsensus oor Luther se opvattings – daarmee kweek jy goddelose mense.

Maar gemeente, hoe het die geskiedenis daarna verloop?

Wel, dit het geblyk dat dit nie waar was nie.

Uit die Reformasie het ‘n kerk tevoorskyn gekom wat gemotiveerd was en volledig aan God toegewy.

Geen sorgeloosheid en goddeloosheid nie, dit het geblyk dat die Protestante nog veel heiliger geleef het as hulle wat in die Roomse kerk gebly het en moes swoeg en sug om ook bietjie aan hulle saligheid by te dra.

 

Waar lê die geheim?

Dit lê daarin dat jy ingeplant word in Christus.

Hy is die wynstok, julle die lote. Wie in Hom bly, sal vrug dra, selfs baie vrugte.

Maar sonder Hom kan julle niks doen nie (Joh 15:5).

Vrugte van dankbaarheid, omdat ons op Christus ingeplant is.

 

Broer, suster, in die boek van geregtigheid staan nie een van jou werke nie.

En as jy soms sug omdat jy so min waardering kry in die kerk, of in jou gesin, of by die werk, of waar ook al, dink terug aan Sondag 24.

Moenie dat jou goeie werke, wat per slot van rekening nie eers jou eie prestasie is, vir jou ook nog ‘n struikelblok op pad na die koninkryk word nie.

Dink aan jou Heiland.

Hoeveel waardering het jou Heiland eintlik op aarde ontvang?

Herinner jouself elke keer: Daar is volledig betaal.

Besef jy nog dat jou goeie werke ‘n geskenk aan jou is, en dit nadat jy reeds geregverdig is?

Begin te lewe uit dankbaarheid, dankbaar vir jou regverdiging, en ook dankbaar vir jou heiliging.

Dank Hom dat Hy jou ingeplant het, soos ‘n loot is jy verbonde aan die wynstok.

Dit bring ons terug by ons tema, waarmee ek wil afsluit:

Ons goeie werke getuig van die groot werk van die Here Jesus in ons.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 71:1,2

Gebed

Skriflesing: Lukas 15:1-10

Sb 39:1-3

Skriflesing: Lukas 17:1-10

Sb 39:4-5

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 24

Preek

Ps 40:5

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 59:10

Kollekte

Ps 84:3,5,6

Seën