Die nuwe liedere vir die Lam

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2024-10-06
Teks: 
Openbaring 5:9-14
Preek Inhoud: 

Preek: Openbaring 5:9-14

 

Openbaring is een van die mooiste boeke, maar ook moeilikste om te verstaan.

Dit gaan vir ‘n groot deel oor toekomstige dinge.

Dit is eie aan die mensdom om nie die toekoms te ken nie.

Dis soos ‘n verre land waar mens nog nie was nie.

Iemand anders wat daar wel was, kan vir jou met woorde en beelde probeer verduidelik hoe daardie land is en lyk.

Tog kan niks die persoonlike ervaring vervang nie.

Die persoon kan voorbeelde uit jou eie land gebruik om dit mee te vergelyk.

Daardie land is bietjie soos die groen heuwels van Natal, of dit is soos die helder blou see aan die kus, maar tog is dit heeltemal anders.

So openbaar Christus in Openbaring dinge van die toekoms.

Hy gebruik daarvoor beelde uit ons hedendaagse leefwêreld.

En veral gebruik Hy beelde en gebeurtenisse uit die Ou Testament.

Daarom verstaan mens die Bybelboek Openbaring baie beter, as ons dit vanuit die Ou Testament verklaar.

Ons ken mos die Ou Testament, dit help ons om iets te begryp van daardie toekomstige land waarheen ons oppad is, daardie werklikheid wat geen oog gesien en geen oor gehoor het nie.

 

Tema: Die nuwe liedere vir die Lam

1 Die rede vir die liedere

2 Die inhoud van die liedere

 

1 Die rede vir die liedere

In Openbaring 5 neem Christus vir Johannes as ‘t ware saam na die troonsaal in die hemel.

Sy aandag word gevestig op ‘n boek wat in die regterhand is van Hom wat op die troon sit.

Dit is van binne en buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël.

‘n Seël was ‘n slot op die boek.

Daarop is kerswas gedrup en iemand het sy ring in die was gedruk voordat dit droog word.

In daardie tyd het mense ‘n ring gehad met ‘n unieke afbeelding daarop, wat destyds iets was soos wat ‘n handtekening vandag is.

Mense het byvoorbeeld ‘n brief met geheime inhoud verseël, sodat slegs die persoon vir die bedoel was, dit kon lees.

As iemand anders die brief oopmaak, breek die was, en al drup hy nuwe was daarop, hy het nie die seëlring van die afsender nie, dus is direk sigbaar dat die brief oopgemaak is deur ‘n onbevoegde persoon.

So was die boek in die regterhand van Hom wat op die troon sit, verseël.

Selfs met sewe seëls.

 

Om daardie seëls te breek was nie ‘n kwessie van dat iemand sterk genoeg moes wees nie, dit was ‘n kwessie van bevoegdheid.

Die sterk engel het daarom uitgeroep: Wie is waardig, wie het die bevoegdheid, om die boek oop te maak?

 

Openbaring 5 beskryf vervolgens dat daar iemand gevind is wat waardig is om dit oop te maak.

En in die hoofstukke hierna word beskryf hoe daardie Persoon dan een vir een die seëls oopmaak.

Elke seël is ‘n metafoor vir dinge wat moet gebeur voordat die boek oopgemaak kan word.

Met die eerste vier seëls wat gebreek word sien Johannes verskillende perde, wit, rooi, swart en vaal.

Met die vyfde seël sien Johannes die siele van die martelare.

Met die oopmaak van die sesde seël kom daar ‘n groot aardbevwing.

En dan word die oopmaak van die sewende seël nog uitvoeriger beskryf.

Dit vind stap vir stap plaas met die blaas van agtereenvolgens sewe basuine, waarna telkens ‘n verskriklike straf die aarde tref, tot en met die sewende basuin wat gelei het tot die oordeel en vernietiging van die draak, die dier, die Satan.

Dit is basies die verdere verloop van die boek Openbaring, waaraan ons nou nie verder aandag gaan skenk nie.

 

Maar dit begin dus met hierdie boek met sewe seëls wat Johannes sien.

Johannes, skryf hy in vers 4, het baie gehuil omdat nie gevind kon word om die boek oop te maak nie.

Wat was in die boek geskrywe?

Dit was nie al daardie plae en oordele wat gevolg het nie, dit was net die seëls.

Maar dit was die name van hulle wat veilig is terwyl die seëls, die oordele, een vir een die aarde tref.

 

Soos ek genoem het, om dit te begryp, sal die Ou Testament ons help.

Ons kan veral terugdink aan die tien plae wat die Egiptenare getref het.

Maar terwyl Egipte gebuk gegaan het onder die plae, is dit die Israeliete bespaar.

God het gesorg dat die plae nie by hulle uitkom nie, tot die dag toe hulle uit Egipte bevry is.

Daarna het hulle reikhalsend uitgesien.

Net so is die oopmaak van hierdie boek metafoor vir die bevryding wat aanbreek vir hulle wie se name daarin staan.

In die tussentyd word hulle veilig bewaar, net soos die Israeliete destyds in Egipte.

Maar as niemand die boek kan oopmaak nie, beteken dit dat hulle nie bevry sal kan word nie.

Daarom het Johannes geween.

 

Maar dan sê een van die ouderlinge vir hom dat daar wel Iemand gevind is.

Iemand wat al hierdie toekomstige dinge kan laat gebeur.

Iemand wat vir die bevryding kan sorg van hulle wie se name in daardie boek staan.

Hy beskryf Hom as die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid.

Ook hier alles Outestamentiese beelde.

Dieselfde geld vir die feit dat hierdie Persoon ‘n Lam genoem word.

‘n Snaakse naam vir iemand, tensy mens die Ou Testament ken, met sy offerkultus.

Die offerlam is destyds simbolies geslag om die skuld van die volk weg te neem.

Ons weet vandag wie die Lam is, en Hy word hier aan Johannes bekend gemaak.

Hy is die een wat geslag is, wat hierdie mense met sy bloed gekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.

Hy sit nou op die troon.

Die 24 ouderlinge sing dit, saam met die vier lewende wesens – die lyfwag rondom die troon.

Dit is die rede vir die liedere – dat die Lam op die troon sit en waardig is om die boek oop te maak.

 

Wie was hierdie 24 ouderlinge?

Soos ek genoem het, elke detail in Openbaring staan nie toevallig daar nie, dit het ‘n betekenis.

En om dit te verstaan, moet ons weer teruggaan na die Ou Testament.

Daarin is die getal 12 ‘n belangrike getal.

Dink aan die 12 stamme van Israel.

12 het die geheel, die volheid van God se volk verteenwoordig.

24 is die dubbele van 12.

Die bedoeling is dus: hierdie 24 ouderlinge verteenwoordig die volheid, die totaal van God se volk uit sowel die Ou as Nuwe Testament.

Hulle sing hierdie nuwe lied.

Die ampsdraers van die Ou en Nuwe Testament.

 

Nou wil ek in hierdie preek veral aandag skenk aan hierdie lied, en aan die feit dat dit ‘n nuwe lied is.

Daarna gaan ons nou in die tweede punt kyk:

 

(Tema: Die nuwe liedere vir die Lam

1 Die rede vir die liedere)

 

2 Die inhoud van die liedere

Nogmaals, as ons hierdie lied wil verstaan, moet ons dit lees in die lig van die Ou Testament.

Al is dit ‘n nuwe lied, dit sit boordevol beelde en metafore uit die Ou Testament.

Ons weet dat dit oor die Here Jesus gaan, al word sy Naam hier nog nie genoem nie.

In die lig van sy dienswerk op aarde weet ons dat dit oor Hom gaan.

Want ons weet uit die Evangelies dat Hy die Lam van God genoem word.

Johannes die Doper het geroep: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh 1:29)

En dit is presies waaroor hierdie lied sing:

“U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop ...”

In hierdie woorde hoor ons ‘n kombinasie van die Outestamentiese terminologie, die Outestamentiese offerkultus, maar ook die verwysing na die heilsfeite wat gebeur het toe Christus op aarde was.

En die feit dat Hy geslag is, dit verwys ondubbelsinnig na Christus.

Later word dit ook eksplisiet genoem in Openbaring, in hoofstuk 11 lees ons oor die groot stad, waar ons Here gekruisig is.

Die groot stad, skryf Johannes, “wat geestelik genoem word Sodom en Egipte, waar ook onse Here gekruisig is.”

Met hierdie woorde word vooruitgewys op die oordeel wat bo Jerusalem gehang het.

Net soos Sodom en Gomorra, sal Jerusalem verwoes word, as straf vir die feit dat hulle die Messias gekruisig het.

 

Dus weer eens, as ons hierdie lied lees met die Outestemantiese beelde in gedagte, en dit in kombinasie met die heilsfeite van die Evangelie, dan weet ons presies waaroor die 24 ouderlinge sing.

 

Dit geld ook vir die volgende sinsnede: U het ons met u bloed gekoop “uit elke stam en taal en volk en nasie.”

Dit verwys na die Pinksterwonder.

Christus se kruisoffer is nie net vir Israel nie, maar vir mense uit elke uithoek van die aarde.

 

Dan sing die ouderlinge verder: U het ons “konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.”

En nog ’n keer, ook hierdie sinsnede word duidelik in die lig van die Ou Testament.

Waarna verwys dit?

Die ouderlinge gebruik die HERE, die Verbondsgod, se eie woorde wat Hy destyds tot sy volk gespreek het toe hulle by die berg Sinaï aangekom het.

Deur Hom bevry uit Egipte, sê Hy nou vir hulle: “Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het. As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En julle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees.” – Exodus 19:4-6.

Pragtige woorde, en nou sing die ouderlinge: U het ons konings en priesters vir ons God gemaak.

24 ouderlinge sing dit.

Dit wil sê, die verbondsvolk, die priestervolk is nou nie meer net Israel nie, maar ook die menigte van die nuwe bedeling uit alle uithoeke van die aarde.

Die ouderlinge sing ook oor ’n werklikheid wat eers werklikheid sal word na hierdie lewe: “ons sal as konings op hierdie aarde heers.” (vers 10)

 

Tot sover die lied van die ouderlinge.

Indrukwekkend, ryk, vol lof en aanbidding vir die Lam, ons Here Jesus Christus, direk tot Hom gerig:

U is waardig.

U is geslag.

U het ons gekoop met u bloed.

 

En hoewel die lied van die ouderlinge nou klaar is, hou die lofgeluid in die hemel nie op nie.

Dit was soos beurtsang.

Na die lied van die ouderlinge volg nog ’n lied.

Nou is dit ’n massakoor van engele wat met ’n groot stem volg.

En dan volg die volgende lied, wat hulle saam in ’n spreekkoor uitroep so hard dat die hemel dreun:

“Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.” (vers 12)

Tienduisende van tienduisende en duisende van duisende.

Wat ’n massakoor!

 

Ook hierdie lied is vol beeldspraak met ’n ryke betekenis.

Dit verwys daarna dat die feit dat die Lam geslag is, ’n gebeurtenis was wat beloon word.

Ook dit mag raar klink.

Ons weet nou al dat die Lam na ’n Persoon verwys.

Maar hoekom word die dood van ’n Persoon so ryklik beloon?

Weer eens verstaan ons hierdie lied in die lig van die Ou Testament en die Evangelie.

Want hierdie slagting was ’n betaling vir skuld.

En hierdie dood was ’n oorwinning op die grootste vyand wat daar bestaan.

Dit is die geheimenis van die Evangelie, soos Paulus dit noem, wat met die koms van die Messias geopenbaar is.

Die dwaasheid van die Evangelie wat tegelykertyd die mees blye boodskap is.

Die grootste stryd op aarde word gewen deur die dood van ’n Middelaar.

En die bewys dat sy offer aanvaar word, die feit dat Hy oorwin het, blyk uit sy opstanding uit die dood.

Die Satan en die dood is oorwin.

Daarom hierdie geweldige beloning, naamlik al die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.

Danksy die oorwinning deur sy dood en opstanding is die Lam dus nou die kragtigste en rykste Persoon wat daar bestaan.

Dit is die boodskap wat die engele oordra met hulle lied.

 

Maar gemeente, nog steeds is die lofaanbidding nie verby nie.

Die beurtsang wat begin het met die ouderlinge en toe oorgeneem is deur die engele, word nou opgevolg deur ’n nog groter massakoor:

Johannes beskryf dit: Elke skepsel wat in die hemel en op aade en onder die aarde en op die see is, hoor hy uitroep:

“Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” (vers 13)

 

Weer eens bekende woorde, bekend uit die Ou Testament.

Tog is daar ook iets wat nuut is:

Want dit blyk uit hierdie lied dat die Lam nou presies dieselfde lof en aanbidding ontvang as Hom wat op die troon sit!

Soos ons weet, vir die Jode wat nie die Messias aanvaar het nie, is dit blasfemies.

Dat Jesus dieselfde Goddelike eer ontvang as die Vader.

Maar Johannes hoor dit, dit is die waarheid!

Dit is wat in die hemel gebeur, dit is wat die hele aarde te wagte staan, dat elke lewende skepsel dit ook sal erken en bely, ja dieselfde lof en aanbidding vir die Lam sal gee as vir God die Vader.

Ja dit is die Evangelie van ons Messias, ons Here Jesus Christus.

Hier word sigbaar en hoorbaar wat Hy self gesê het, kort voor sy hemelvaart, Mattheüs 28:18:

“Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.”

 

Ons teks vir vandag is hierdie nuwe lofliedere, wat in die hemel begin en dan uitkring tot ’n massakoor van elke skepsel in hemel en op aarde en op die see.

Soos u weet is die jaartema vanjaar: Ons nuwe lewe is ’n jubelende lewe.

Ons nuwe lewe het ons te danke aan die Lam wat geslag is, wat in heerlikheid opgestaan het uit die dood, wat opgevaar het om te heers oor hemel en aarde, wat toekom alle krag en mag en rykdom en eer en heerlikheid.

Hy het sy Heilige Gees uitgestort om die nuwe lewe reeds in hierdie lewe in ons wakker te maak en te laat groei.

Daarom is ons lewe vandag – selfs te midde van teenslae – ’n jubelende lewe.

Saam met die hele skepping prys ons die Lam op die troon.

Saam met die 24 ouderlinge val ons neer en aanbid Hom wat ewig lewe.

Hy is waardig om geloof te word, met ou en nuwe liedere.

 

Opvallend dat daar in ons teks pertinent gepraat word van ’n nuwe lied.

Wat maak die liedere in ons teks nuut?

Ons het naamlik gesien dat dit verskeie elemente bevat wat uit die Ou Testament kom.

Soos die offerkultus, die lam wat geslag word, die feit dat ons priesters genoem word.

Die nuwe lied gryp dus terug op die verlede, dis nie ’n breuk met die verlede nie.

Maar wat hierdie nuwe lied ook kenmerk, is dat dit eksplisiet sing oor die heilsdade van die hede, die heilsdade van die nuwe bedeling.

Dit verwys spesifiek na die Messias wat God beloof het en wat gekom het.

Hy word die Lam genoem.

Die nuwe lied verwys spesifiek na die feit dat die Messias sy Middelaarswerk suksesvol voltooi het.

Dit verwys spesifiek na sy hemelvaart, dat Hy gekroon is om heerskappy oor alles te hê.

Dus om saam te vat:

Hierdie nuwe lied begin by dit wat oud is.

Dit begin by die profesieë van die Ou Testament.

En onthou, ook die offerkultus van die Ou Testament was ’n profesie.

Maar hierdie nuwe lied maak eksplisiet dat hierdie profesieë rojaal deur God vervul is, en ook in wie hulle vervul is.

 

Dit kan ons dus leer uit ons teks, hierdie nuwe lied.

En dit help ons om in die nuwe bedeling te bly sing, ook nuwe liedere, sodat ons nuwe lewe ’n jubelende lewe bly.

Die 24 ouderlinge, en die engele in die hemel, lei ons in die sing van nuwe liedere.

In navolging van hulle komponeer en sing Christus se kerk nuwe liedere in die nuwe bedeling.

Daardie liedere anker in die Ou Testament, hulle anker in die Psalms, wat reeds profeties gesing het van die Messias wat op koms was, al ken die Psalms nog nie die Naam van Hom wat God sou stuur nie.

Geanker in die Psalms, sing nuwe liedere nou eksplisiet oor die Messias, en dat Hy God se eie geliefde Seun is, en dat sy naam Jesus is, dat Hy die Messias, die Christus is.

Ons nuwe liedere sing eksplisiet oor sy lyding, kruisiging, dood, opstanding, hemelvaart, die uitstorting van die Heilige Gees, en moenie vergeet nie, sy wederkoms.

 

Gemeente, laat ons nuwe lewe ’n jubelende lewe wees!

Broer, suster, laat jou persoonlike lewe ’n jubelende lewe wees.

Wat jy ook al doen, in woord of in daad, prys in alles eksplisiet die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom (Kol 3:17).

 

Die nuwe lied van ons teks sing oor die feit dat jy ook ’n priester is, dat jy priesterdiens verrig.

Onthou die priesters van die Ou Testament was hulle wat by die tempel gesing het, musiek gemaak het, die loflied nie laat verstom het nie.

As priester is dit nou jou taak.

Laat die loflied nie stilval op aarde nie.

Laat dit klink uit alle uithoeke van die aarde, ook vanuit Suid-Afrika.

Jy is die lewende bewys dat die nuwe lied vervul word, jy wat ook gekoop is om lid van sy eiendomsvolk te wees, uit hierdie stam en taal waarvan jy onderdeel is.

Wat Petrus skryf, geld ook vir julle as gemeente:

“julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Petrus 2:9).

 

Laat ons loflied bly klink, uit die monde van jonk en oud, man en vrou, ampsdraers en gemeentelede.

Die onlangse sinode het ook aandag geskenk aan die loflied van die kerke.

Daar is aan verskillende sake aandag geskenk.

Eerstens, hoe ons die Psalms kan bly sing in hedendaagse Afrikaans.

Tweedens is daar gesange, nuwe liedere toegevoeg, wat eksplisiet sing oor die heilsfeite van die Nuwe Testament.

Derdens is daar ook gekyk na die lofliedere wat in ander tale in ons kerkverband klink, soos byvoorbeeld in Sotho.

Sang en musiek is iets wat prioriteit moet geniet in Christus se gemeente.

Dis nie ’n onderwerp wat aan die agterste speen moet suig nie.

Dit geld ook vir jou persoonlike lewe.

Dink daaroor na, hoe elke dag van die week jou loflied in woord en daad bly klink, soos ’n offer wat nooit uitdoof nie.

 

Kom ons sing nou ons loflied in antwoord op die preek, ons amenlied, net soos die vier lewende wesens Amen! gesê het – vers 14.

Kom ons sing dit in beurtsang.

Dit is ook in oorstemming met ons teks.

Die nuwe lied van ons teks is pragtig berym in Skrifberyming 8.

Kom ons sing dit soos volg:

Vers 1 almal saam.

Vers 2 die ampsdraers.

Vers 3 alle vroue.

Vers 4 alle mans.

En vers 5 weer almal saam.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 118:1,2

Wet

Sb 10:1-3

Gebed

Skriflesing: Openbaring 5

Ps 118:11-14

Teks: Openbaring 5:9-14

Sb 8:1-5 (vers 1 almal, vers 2 ampsdraers, vers 3 vroue, vers 4 mans, vers 5 almal)

Gebed

Kollekte

Sb 12:1-4

Seën