Daar is iemand wat besluit het om aan die kerk te onttrek.
Toe sy ouderling dit hoor, het hy gebel om ’n afspraak te maak.
Die persoon het egter nie sy telefoon opgetel nie.
Na ’n week of twee se pogings, besluit die ouderling om sommer sonder afspraak na sy huis te gaan.
Hy het maar moeilik binnegekom.
Duidelik het die persoon nie behoefte gehad aan ’n gesprek nie.
In die gesprek het die persoon beklemtoon dat hy beslis nog in God glo en Hom wil dien, maar dit het vir die ouderling duidelik geword dat die twee keer kerk toe gaan elke Sondag, en dan nog die oproep om Bybelstudie by te woon, en VVB te betaal, dat dit alles net te veel was.
Lees en bid jy nog elke dag? het die ouderling gevra.
Die persoon het ja geantwoord, maar met die houding van – hou jou neus asseblief uit my sake uit.
Ek glo op my manier, en jy het niks daarmee te make nie.
Dieselfde week het die ouderling nog ’n ander besoek gebring.
Dis was ’n ou dame, wie se man al oorlede was, wat hom hartlik ontvang het.
Dit was nooit moeilik om ’n gesprek met haar op gang te kry nie.
Sy is nogal eensaam, en waardeer dit as iemand op besoek kom.
Weer het die ouderling sit en luister na haar verhale, dikwels dieselfde as wat hy al eerder gehoor het.
Tog het hy hom begin afvra of sy wel reg oor die Here praat.
Dis net asof sy Hom steeds verwyt dat Hy haar man van haar afgevat het.
Dis net asof sy geen troos by Hom kan vind nie.
En elke keer as daar iets ergs gebeur in die wêreld, ’n oorlog, ‘n aardbewing, ’n oorstroming, dan is dit net asof sy deur ’n soort geloofskrisis gaan.
Sommige dele van die Bybel kan sy moeilik aanvaar.
Die dood van Ananias en Saffira, die dood van die man wat die ark probeer keer toe dit amper van die wa afgeval het, al die oordeelsprofesieë in die Bybel ...
Dit was net asof sulke Bybelgedeeltes nie gepas het in die beeld wat sy van God het nie.
Gemeente, hierdie is twee voorbeelde uit die praktyk.
Voorbeelde wat met die tweede gebod te make het.
Elke Sondag hoor ons hierdie gebod, maar wat beteken dit vir jou en my?
Vandag kyk ons na wat die HERE ons leer in die tweede gebod.
Tema: Die lewende God wil geken en gedien word soos Hy Homself in sy Woord openbaar.
Geen gesnede beeld of enige gelykenis van wat bo in die hemel, of onder op die aarde, of in die waters onder die aarde is nie.
Hierdie driedeling – hemel, aarde, en onder die aarde – weerspieël die geometriese wêreldbeeld van Moses se tyd.
Die gangbare opvatting was toe dat mens die heelal in drie dele kon opdeel.
Die hemel – alles wat bo jou is.
Die aarde – dit is die land waarop mens en dier woon, die berge, valleie, vlaktes.
En dan onder die aarde – dit is die see.
Mense het in daardie tyd gemeen dat die see heeltemal onder die aarde – wat plat was – deurgeloop het.
Die aarde het op pilare in die see gestaan.
Soos mens ook byvoorbeeld in die Psalmboek vind, as daar staan dat God die aarde op vaste fondamente gegrond het.
Op vaste pilare vasgesit.
Die feit dat die HERE in sy openbaring in terme van hierdie outydse geometriese wêreldbeeld praat, maak die Bybel nie onbetroubaar nie.
God se bedoeling was nie om ’n wetenskaplike les te gee oor die samestelling van die heelal nie.
Dan sou daar waarskynlik iets staan wat selfs ons vandag met ons beperkte wetenskaplike kennis nog nie eens sal kan verstaan nie.
God pas Hom aan, soos dit in die teologie verwoord word, Hy akkomodeer Hom in sy spreke tot die begripsvermoë van die mense tot wie Hy praat.
As Moses hierdie vir sy tyd bekende geometriese driedeling dus noem in die tweede gebod, is God se bedoeling daarmee:
Nêrens in die groot heelal mag jy ’n beeld vandaan haal om dit te aanbid nie.
Nie in die lug nie, dink aan die son, maan, sterre, wat dikwels as gode aanbid is.
Ook nie uit die see nie, dink aan die visse, klein en groot, of watter seemonsters ook al in die dieptes skuil.
En ook nie iets op die aarde nie.
Dink aan die goue kalf in die woestyn.
Die volk wou iets sigbaars en tasbaars hê, waardeur hulle God kon dien.
God se eie woorde was vir hulle nie voldoende nie.
Dink ook aan die twee beelde wat Jerobeam gemaak het.
Ons het daaroor gelees.
Dat hy twee goue kalwers laat vervaardig het.
Hierdie inisiatief van Jerobeam het ’n agtergrond gehad.
Wie ’n beeld wil maak om God daarmee te dien, het reeds ’n verkeerde denkbeeld oor God in sy kop.
Ons het uit 1 Konings gelees dat Jerobeam die erediens aan die Here verander het.
’n Aangepaste tempeldiens wat vir hom beter gepas het.
Hierdie twee kalwers was dus die produk van ’n verkeerde denkbeeld wat hy gekoester het.
In antwoord 98 staan: Ons moet nie wyser as God wees nie.
Hy wil sy Christene nie deur stomme beelde nie, maar die lewende verkondiging van sy Woord laat onderrig.
God het goeie redes hiervoor.
Net soos Hy in die Ou Testament goeie redes gehad het om te besluit dat die tempeldiens in Jerusalem moes plaasvind.
Jerobeam wou egter slimmer as God wees.
Eiebelang het natuurlik hierby ‘n rol gespeel.
Want as sy onderdane – die tienstammeryk – elke keer na die Juda, die tweestammeryk, moes reis om daar in Jerusalem te gaan offer, sou hulle altyd ’n band hou met daardie stad, en ook met die regering daar.
Jerobeam het by homself gedink:
As hierdie volk optrek om slagoffers te bring in Jerusalem, sal die hart van die volk terugkeer tot Rehabeam.
Was dit eintlik nie presies God se bedoeling, sy wens nie?
Dat die eenheid weer herstel sou word, die pynlike breuk tussen die noorde en die suide?
Maar Jerobeam het anders gedink, hy het sy eie belang voorop gestel.
Daarom het hy ’n nuwe heiligdom vir die 10 stamme ontwerp, ’n nuwe offerkultus, ’n nuwe godsbeeld.
En deel daarvan was dat hy twee goue kalwers laat maak het.
Daarna het hy slinks op die gevoelens van die volk ingespeel.
Dit is veels te ver vir julle om na Jerusalem op te trek.
So ’n verre reis elke keer, dink net aan al die kostes!
Daardie geld kan julle mos vir beter dinge gebruik?
Kom ons maak liewers só: Hier is julle gode, Israel, wat julle uit die land Egipte gelei het.
’n Goue kalf in Betel, en ’n goue kalf in Dan.
Baie nader aan huis.
Strategies geleë, Betel bietjie meer na die suide, Dan bietjie meer na die noorde.
Vervolgens het Jerobeam tempels op die hoogtes gebou;
hy het priesters uit alle stamme aangestel;
hy het sy eie feesdae ingevoer;
en hy het self ook op die altaar geklim.
Iets wat koning Dawid of Salomo nooit sou gewaag het om te doen nie.
In al hierdie dinge het Jerobeam afgewyk van die wet wat die HERE deur Moses aan die volk gegee het.
Oor sulke optrede sê die Kategismus dus:
Ons moet nie wyser as God wil wees nie.
Wie die Woord van God, sy geopenbaarde wil, nie normatief bly beskou nie, beland op ‘n doodloopspoor.
Jerobeam het die tienstammeryk op ’n doodloopspoor gelei.
Vandag in ons tyd is daar baie kerke wat ook op ’n doodloopspoor tereg gekom het.
Omdat die geopenbaarde wil van God, sy Woord, nie meer as normatief beskou word nie.
Net soos Jerobeam die wet van Moses aan die kant geskuif het, gebeur dit vandag ook.
Dit was nie vir die HERE aanvaarbaar dat Jerobeam sommer priesters uit alle stamme aangestel het nie.
Dit was nie ’n aanpassing van die wet wat goed was in die HERE se oë nie.
Natuurlik sou Jerobeam argumente gebruik het in die trant van:
Ja maar ander stamme het mos net soveel gawes, hoekom mag hulle dan nie die priesteramp vervul nie?
Op dieselfde manier redeneer mens vandag.
Vroue het mos net soveel gawes as mans.
Hoekom mag hulle nie in die ampte dien nie?
In beide gevalle, Jerobeam se tyd en ons tyd, word daar afgewyk van die geopenbaarde wil van God.
Soms kan ons dalk sukkel om die bedoeling agter God se wil te verstaan, maar dit gee ons nog nie die reg om dan maar ons eie koers te kies nie.
Dit is wanneer die tweede gebod in geding kom.
En van die een sal die ander kom.
So het dit gebeur in Jerobeam se tyd.
Die tienstammeryk het op ’n doodloopspoor beland.
God se wil was nie meer nommer een, nie meer normatief nie.
Dit het nie vinnig gegaan nie, al kan dit ook.
Dit was ’n proses van ’n generasie en meer.
Maar met verloop van tyd het die eiewillige godsdiens, ja afgodediens, al hoe meer ’n vastrapplek gekry onder God se volk.
Sommige mense het betyds padgegee.
Ons lees byvoorbeeld – toe Jerobeam met hierdie dinge begin het – dat priesters wat tot dan toe onder die 10 stamme woonagtig was, hulle toevlug na die suidelike ryk geneem het.
Hulle, priesters uit die stam van Levi, was nou in die noorde nie meer in agting nie.
Hulle, die ware priesters en Leviete volgens die wet van Moses, het vir die mense in die noordelike ryk ’n struikelblok geword.
Ons lees byvoorbeeld in 2 Kronieke 11:14v:
“die Leviete het hulle weiveld en hulle besitting verlaat en na Juda en Jerusalem getrek; want Jerobeam en sy seun het hulle verwerp, sodat hulle geen priesters van die HERE meer kon wees nie.”
En saam met hierdie priesters het nog ’n hele klomp mense uit die noordelike ryk na die suide getrek, mense wat trou wou bly in die suiwer diens aan die HERE.
Ons lees hieroor in 2 Kronieke 11:16v: “En agter hulle aan het uit al die stamme van Israel die wat hulle hart daarop gerig het om die HERE, die God van Israel, te soek, na Jerusalem gekom om aan die HERE, die God van hulle vaders te offer; en hulle het die koninkryk van Juda versterk”.
Maar hulle vir wie God se wil nie meer nommer 1 is nie, en kerke wat dink hulle kan die Bybel op so ’n wyse interpreteer dat dit inpas by hulle wense en die eise van hulle tyd – wie dit doen, moet verwag dat hulle vroeër of later die rekening gaan betaal.
Die rekening is kerke wat leegloop, kerke wat uiteindelik net nog bestaan uit ’n groepie bejaarde mense, kerkgeboue wat gesluit of gesloop word, dit is die rekening.
Laat dit vir ons ’n waarskuwing wees.
Christus vergader sy kerk slegs deur die suiwere verkondiging van die Evangelie.
Die apostel Paulus skryf:
Wat dwaas is by God, is nog veel wyser as die wysheid van mense.
As Hy sê dat sy Woord die instrument is waarmee die Gees werk, dan is dit so.
Ons kan dit maar beproef, dit werk!
Die dwaasheid van die prediking van die Evangelie, noem Paulus dit – dit werk!
Dwaas in die oë van mense, filosowe, beleidsmakers van hierdie wêreld.
Maar wel ’n krag tot ewige redding.
Die wyses van hierdie wêreld het hulle godsbeelde,
dalk ingewikkelde en indrukwekkende denksisteme, konstruksies of destruksies, tog vind niemand troos daarin nie.
Maar die God wat ons uit die prediking van die Evangelie leer ken, is vir ons ’n Vader, en net soos Hy betroubaar is, is sy Woord betroubaar.
Die godsbeelde wat mense uitdink verander met die tyd, ook die manier waarop die erediens aan hierdie godsbeelde vorm gegee word.
Maar die lewende God en sy Woord is ewig en onveranderlik.
Die lewende God verdra geen verkeerde denkbeelde van wie Hy is nie.
Hy wil geken en gedien word soos Hy in sy Woord geopenbaar het.
Dit vra van ons gehoorsaamheid aan sy Woord, vertroue op Hom en sy wil.
Om Hom te dien soos die Bybel aan ons voorhou.
Steeds waaksaam wees dat die beeld wat ons van God in ons eie lewe vorm, ooreenstem met sy openbaring.
Dink aan die eerste voorbeeld uit die inleiding.
Die persoon wat God nog wel wil dien, maar dit nie meer nodig vind om die kerkdienste reëlmatig te besoek nie.
Is dit soos die Here gedien wil word?
Wat sê sy Woord daaroor?
Dink byvoorbeeld aan Hebreërs 10:25:
“laat ons ons onderlinge byeenkomste nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan”.
En ook sê die Here:
Ons glo nie almal op onsself nie, maar ons het mekaar nodig, want ons is een liggaam.
“die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie” (1 Kor 12:21).
Dink ook aan die tweede voorbeeld uit die inleiding:
Stem jou Godsbeeld ooreen met hoe die lewende God Homself bekend maak in die Bybel?
Of wil jou Godsbeeld net luister na woorde oor ’n God van liefde?
God is almagtig, Hy kan nie gevang word in ons denkkaders nie.
Wie is ons om met Hom te redeneer?
Wie is ons om sy beleid te kritiseer?
Laat staan dat ons Hom onregverdig sou durf noem.
Of Hom dagvaar vir alle ellende in die wêreld, vir alle geweld, oorloë en natuurrampe.
Laat ons twee keer nadink voordat ons met God begin redeneer.
Nie vir niks nie het God dit so verorden dat die ware geloof slegs tot stand kom deur te luister.
Die luister na God se Woord.
Laat dit die botoon voer in jou persoonlike lewe, ook in die erediens, ook met huisgodsdiens, ook op die Bybelstudievereniging.
’n Bereidheid om te luister na God se Woord, voordat ons ons eie mening gee.
Die lewende God wil geken en gedien word soos Hy Homself bekend maak in sy Woord.
En as u Hom leer ken het uit sy Woord, dan sal jy saamstem as ek sê:
In hierdie God ontvang ek ALLES wat ek nodig het.
In hierdie God ontvang ek ware geluk.
Op hierdie God kan ek my lewe bou soos op ’n onwankelbare rots.
Met hierdie God bevind ek myself nie op ’n doodloopspoor, soos so baie mense op aarde wat vasklou aan hulle eie denkbeelde nie.
Met hierdie God is ek oppad na ’n ewige lewe, as burger van sy koninkryk.
Gemeente, broer en suster, ter voorbereiding op volgende week se nagmaal, vra jouself weer af:
Wat is my beeld van die lewende God?
Is ek nog bereid om na sy Woord te luister?
Na heel sy Woord?
Die Reformasie het twee slagspreuke gehad oor die Bybel:
Sola Scriptura en Tota Scriptura.
Slegs die Woord, maar ook Heel die Woord.
Ek is seker elkeen van u sal hiermee saamstem.
Maar stem die praktyk van jou lewe ook daarmee ooreen?
Of is jou lewe meer pragmaties?
Is jy slordig in erediensbywoning?
Woon jy geen Bybelstudies by nie?
Slaan jy Bybellees oor as jy ‘n besige dag het?
Om dit te doen maar daarna te erken dit was nie reg nie, en jou ernstig voor te neem om jou lewe te verbeter, dit is een ding.
Maar as jy dit begin goedpraat – ‘n tweede erediens is nie nodig nie; of Bybelstudie is nie nodig nie – dan oortree jy bewus die tweede gebod.
Dan is jy, soos die Nagmaalsformulier sê, besig om God op eiewillige wyse te vereer, net soos Jerobeam destyds.
Dan het jy geen deel aan die ryk van Christus nie.
Die tweede gebod is ook ‘n geskenk van Christus, en vir sy kerk in die Nuwe Testament het dit nie onbelangrik geword nie.
Laat ons ons Heiland volg in sy gehoorsaamheid aan God se wil.
Laat ons nie die verlossing wat ons deur sy Middelaarswerk ontvang het, weer verbeur nie.
Laat ons soos toe Hy op aarde was, die hemelse Vader dien in gehoorsaamheid aan sy Woord.
Die God van volle saligheid –
Wie sou Hom nie dank bewys nie?
Wie sal Hom nie prys nie?
Hierdie God dra ons deur die lewe.
Hy kan en wil en sal in nood,
Selfs as ons sidder vir die dood,
volkome uitkoms gewe.
Amen.
Votum
Seën
Ps 138:1
Gebed
Skriflesing: 1 Konings 12:26-33 & 13:33-34
Ps 106:8,17,18
Skriflesing: 2 Kronieke 11:13-17
Ps 19:4,5
Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 35
Preek
Ps 19:6,7
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Ps 68:9
Seën