Inleiding
As iemand vir jou sê ‘Hierdie is die beste ooit!’ of: ‘Jy het nog niks gesien nie. Jy gaan groot dinge beleef!’ - wat dink jy dan?
Dit klink opwindend.
Maar raak jy dalk versigtig. Wil hierdie persoon iets verkoop?
Daar is soveel mense wat jou kan bedrieg.
Pas maar op…
Ek het ’n vermoede die meeste van ons dink: ’n gesonde porsie nugterheid en argwaan nie sleg is nie. Dit kan jou groot teleurstelling bespaar.
As dit gaan oor kerk en geloof, kan entoesiasme en opgewondenheid kortstondig wees. Dis afhanklik van gevoelens, tog? Ons voel veiliger by bewyse en argumente.
Maar wag. Dink net: dit hang alles af van die persoon wat dit vir jou sê!
Wie maak die belofte? Watter pad het jy met daardie persoon gestap?
Hoe ken jy haar?
Wat is sy track record?
As dit gaan oor wat Jesus in jou lewe kan doen, hoe is jou verwagtings?
Is dit hoog?
As ons kyk na die kerk, wat ons hier in ons midde verwag, wat bepaal eintlik jou, my, ons verwagtings? Waarop is dit gebaseer:
- ons ervarings met God in die verlede?
- of op die beloftes wat hy gegee het?
As mense groot woorde gebruik en groot planne het, is dit virseker gesond om dit met wantroue en versigtigheid te benader. Mense is sondaars; om op mensekrag te vertrou is ’n gevaar.
Maar as Jesus iets sê, kan dit ook wees dat ons lae verwagtings uit kleingeloof voortkom, en dat ons twyfel aan Gods krag.
Jesus roep dissipels. Mense ontdek hom en begin hom volg.
Hulle geskiedenisse gee vir ons aanduidings, is ’n voorteken dat daar iets groots gaan gebeur. Die dissipels word deel van iets nuuts, iets oorweldigends: die koninkryk van die hemele wat op aarde deurbreek.
Dit is vir ons in die Bybel neergeskryf. Ons leer daarvan wat dit beteken om Jesus te volg, wie hy is en wat ons van hom mag verwag.
Die verhaal van Natanael is verrassend. Jesus beindruk hom met sy goddelike kennis en sê dan vir hom: jy sal groter dinge sien as dit!
Maak oop jou hart en gedagtes om te ontdek hoe opwindend dit is om Jesus te volg. Jy mag maar groot verwagtings van hom hê!
Tema: Jesus beloof groot dinge vir sy volgelinge
1. Soekers vind hom
2. Ontdek wie Jesus werklik is
3. Groter dinge gaan gebeur!
1. Soekers vind hom
• Dissipels van Johannes die Doper volg Jesus
Dalk val dit jou op dat die evangelië Matteus, Markus en Lukas ander verhale vertel van die roeping van die dissipels.
Ons het eerder by Matteus gelees dat Jesus Simon en Andreas by hulle skip gevind het, besig om vis te vang. Ook Jakobus en Johannes was vissersmanne en word op die strand geroep.
Maar Johannes vertel in sy evangelie ’n ander verhaal. Is dit nie teenstrydig nie?
Nee. Matteus, Markus en Lukas vertel die tweede roeping: om vissers van mense te word. Johannes vertel die back story, die heel eerste begin: hoe Jesus die dissipels roep om gered te word.
• Soekende dissipels
Die eerste vier dissipels was al klaar op soek na die Messias.
Twee van hulle was Johannes die Doper se dissipels. Andreas en Simon het hom gevolg, sy doop ontvang, en sy aankondiging van die Messias gehoor.
En hulle was daar toe Jesus verskyn, en Johannes uitroep: Kyk, die lam van God!
Johannes sê vir die mense: ek is nie die Messias nie. Ek is die herout wat vóór hom kom. Vervolgens wys hy na Jesus: dis hy! (lees dit in Joh1,19-34).
Dadelik begin Andreas en Simon vir Jesus volg. Hulle word sy dissipels (Joh1,35-43).
Ook Filippus en Natanael was reeds op soek na die Messias, die redder van Israel.
Jy kan dit hoor wanneer Filippus vir sy vriend vertel:
Filippus loop toe vir Natanael raak en sê vir hom: “Ons het Hom gevind van wie Moses in die Wet geskryf het, en ook die Profete – Jesus wat van Nasaret kom, die seun van Josef.”
Jy sê nie soiets vir iemand wat nie die wet en die profete ken nie. Dit sou nie vir Natanael sin gemaak het nie.
Natanael het die Skrifte geken, en was duidelik op soek na die Messias.
Hierdie is die eerste wat so mooi is in die roepingsverhale: mense wat opreg die Here soek, vind hom!
Maar mense is nie almal dieselfde nie. Ook ons paaie om by Jesus uit te kom, kan verskil.
En dis die tweede verrassing in die roeping van die dissipels.
Want Natanael is nie soos die ander drie, dadelik oortuig nie.
Die Bybel is eerlik oor die teenwerpings en die swak geloof van die mense wat Jesus volg.
Jesus neem tyd om met Natanael te praat en sy twyfels weg te neem. Hy
kan jou teenwerpings hanteer. Hy neem jou twyfels ernstig.
As jy Jesus soek, kry jy in hierdie geskiedenis ’n groot bemoediging.
Daar is een persoon in die wêreld wat beloof dat jy hom sal vind as jy hom soek: Jesus.
As jy aan die begin van die pad van geloof staan en nog leer wat die basiese dinge van geloof en vertroue in Jesus beteken, onthou dat Jesus jou roep en na jou toe kom, en jou met oop arms ontvang.
As daar twyfels en teenwerpings in jou hart is, onthou dat Jesus die tyd neem om met jou ’n pad te stap. Hy soek jou hart. Hou aan om hom te soek!
Maar kyk wel hoe jy soek.
Die spoor van Jesus loop deur die Ou Testament. Die openbaring van God het hulle verwagtings bepaal, en so hulle het die Messias, die beloofde gesalfde gevind.
Dit wys ons: jy moet nie hom wil bind aan jou voorwaardes nie. Om Jesus te soek is ook ’n veranderingsproses: om jou te onderwerp aan die manier waarop hy hom bekend wil maak.
Ons word hier aangespoor om Jesus opreg te soek.
Dis soos God in Spreuke 2 aangekondig het:
"Ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die Here verstaan en die kennis van God vind." (Spreuke 2:3-5)
Dieselfde aanmoediging hoor ons later ook by Jesus. As jy bid in sy naam, sal hy die deur oopmaak. As jy soek, sal jy vind!
As ons die verhaal van Natanael noukeurig lees, ontdek ons meer van die grootheid van Jesus.
• Lae verwagtings, veragting selfs!
Aanvanklik lyk dit asof Natanael se soektog voortydig beëindig gaan word.
Wanneer Filippus sê:
“Die Messias wat ons verwag is Jesus wat van Nasaret kom, die seun van Josef.”
antwoord Natanael:
“Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”
Jesus is sy hele lewe beoordeel en afgewys op grond van sy woonplek Nasaret. Die Messias sou in Betlehem gebore word, en mense het verwag dat die koning van Israel in Jerusalem sou woon.
Nasaret is niks. Die Fariseërs sal later (in Joh7,52) sê:
“Gaan dit maar na, jy sal sien: Geen profeet is afkomstig uit Galilea nie!”
Die res van die land het neergekyk op Galilea.
Maar dis ironies: Natanael is self afkomstig uit Kana – dis ook in Galilea. En selfs hy kyk neer op Nasaret! Nee, die gesalfde kan tog nie uit daardie onbetekenende stadjie afkomstig wees nie…
Natanael was op soek na die Messias, maar hy het ’n vooroordeel gehad.
Dit kon hom verhinder het om Jesus te vind.
Hy kon gedink ‘dis nie eers die moeite werd om met hom te gaan praat nie, hy is uit die veragtelike Nasaret afkomstig.’
Sal sy soektog aangaan?
• Kom kyk!
Filippus argumenteer nie met hom nie, maar antwoord net: ‘kom kyk!’ Met ander woorde: Gaan na Jesus toe. Praat met hom. Hoor self. Ek is seker hy sal jou vooroordele wegneem.[ “Prejudice is feeling-based. It is subjective. It does not necessarily reflect the reality of the matter. So the remedy for prejudice is an honest look at objective reality—“come and see.”” (Twelve Ordinary Men, MacArthur).]
Dit is ’n geweldig effektiewe antwoord!
Geen lang argumente nie. Net eenvoudig: ‘kom kyk.’
Iemand wat self Jesus leer ken het, wat glo dat hy die ware Messias is, die redder wat God gesalf het, kan so praat.
Eintlik is dit heel natuurlik: as jy self besef dat Jesus die redder is wat jy nodig het, dan is jy ook oortuig dat jou naaste hom nodig het. Jy weet hy is heeltemal toereikend om sondaars te red. Daarom gaan jy hom oor Jesus vertel.[ Andreas het dit ook gedoen toe hy Jesus ontdek het: hy het vir sy broer Simon vertel (sien v.41). “The first thing Andrew did was to find his brother and announce, We have found the Messiah. He thus became the first in a long line of successors who have discovered that the most common and effective Christian testimony is the private witness of friend to friend, brother to brother.” (D.A. Carson, The Gospel of John, Pillar Commentary)]
Hierdie verhaal is ’n bemoediging vir ons, hoe jy dit kan doen.
Keep it simple. Hou dit eenvoudig: ‘Kom kyk’.
Ons moenie in eindelose argumente verstrik raak nie, en ons moet ook nie fokus op die verdediging van die manier waarop ons kerk ‘doen’ nie. Maak seker dat jy die aandag vestig op die hoofsaak. Die bedoeling is, om mense na Jesus toe te lei. Dis die kern: Jesus is die redder wat God gestuur het. Hy is gekruisig en het gesterf vir ons sondes. As jy in hom glo, word jy gered.
Bly jy stil oor Jesus omdat jy bang is dat jy nie alle antwoorde het nie?
Nooi jy nooit iemand kerk toe omdat die dienste nie byderwets of aantreklik genoeg is nie?
Hou dit eenvoudig. Konsentreer op wat tel: wys mense op Jesus.
Die uitnodiging ‘Kom kyk’ beteken trouens nie dat ons net mense na kerkdienste moet nooi nie. Dit is nie die enigste plek waar jy Jesus kan ontmoet nie.
Daar is tog talle maniere om mense met Jesus te laat kennis maak?
- Is jou bybelstudiegroep verstaanbaar vir mense wat Jesus nog nie ken nie? Of kan ons ’n nuwe bybelstudiegroep begin vir mense wat op soek is?
- Ons kan ons dinge ingewikkeld maak omdat ons veel kennis het. “Kom kyk” kan heel eenvoudig beteken dat jy met iemand die Bybel begin en lees en geleentheid gee om vrae te vra en dinge self te ontdek.
- Jy kan ook mense na jou eie huis nooi en met hulle praat. Vertel maar wie Jesus is. (En jou gasvryheid sal dit versterk.)
Kom ons gaan terug na die eenvoud van die dissipels van Jesus. ‘Ek het die Messias gevind! Ek wil dit graag met jou deel. Kan ek jou daaroor vertel? Kom kyk!’
2. Ontdek wie Jesus werklik is
Natanael was skepties, maar hy het tóg met Filippus saamgegaan om Jesus te ontmoet.
Hoe sal Jesus reageer op Natanael se wantrouige houding?
Sodra Jesus hom sien, sê hy:
“Hy is waarlik ’n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.”
Jesus maak nie verwyte nie. Hy is vriendelik en gee ’n positiewe beoordeling van Natanael se karakter.
Van elke mens wat Jesus ontmoet het, ken hy die hart. En by Natanael sien hy ’n opregte hart.
Dis natuurlik omdat die Heilige Gees alreeds begin werk het in die harte van Natanael en die ander dissipels, voordat hulle Jesus ontmoet het.
Baie mense se hart is egter in die pad. As jy die res van die Johannesevangelie lees, sal jy uitvind hoe besonders en aangenaam dit is om so ’n opregte mens sonder bedrog in Israel aan te tref.
Godsdiens het uitwendig geword, die klem was op gehoorsaamheid aan die reëls. So ’n wettiese en moralistiese klimaat bevorder dat mense ’n masker dra.
Die leiers het van hul religie ’n vertoning gemaak. Hulle wou beworder word vir hulle vroomheid. Hulle was hoogmoedig, want hulle was mos die regte kinders van Abraham, maar hulle was haatdraend en moordsugtig teenoor Jesus (sien veral Joh8,39-59). Hulle was hipokriete, wolwe in skaapsklere.
Die houding van jou hart bepaal of jy Jesus sal vind. God wys trotse mense af. Moenie voorwaardes stel waaraan Jesus moet beantwoord nie. Wees nederig as jy die waarheid soek, as jy die verlosser wil vind.
• Goddelik
Maar dis nog maar die begin van die ontmoeting. Natanael is nie voorbereid op wat gaan kom nie.
Hy is verbaas: hy het Jesus nog nooit ontmoet nie maar dit klink asof Jesus hom reeds ken! Dus vra hy:
Waarvandaan ken U my?
Jesus antwoord:
Voordat Filippus jou geroep het toe jy onder die vyeboom was, het Ek jou gesien.
Natanael is stomgeslaan. Jesus het hom reeds onder die boom gesien, nog voordat hy hom ontmoet het. Ons weet nie wat Natanael daar onder die vyeboom gedoen het nie: vyebome was groot en het koelte verskaf. Dalk het hy daaronder gesit en bid of mediteer.
Ons kry nie details nie. Die fokus is nie op wat Natanael gedoen het nie, maar op Jesus se kennis. Dit is kennis wat net God besit!
Daarom roep Natanael uit:
Rabbi, U is die Seun van God, U is die Koning van Israel!
Filippus het vir Natanael gesê dat hy die Messias ontmoet het, die mens wat die vervulling van die beloftes van die OT was. Natanael het die Skrifte geken en geweet: die Messias is die Seun van God. Hy sien nou duidelik die goddelikheid van Jesus en aanbid hom.
In sy vriendelike antwoord wys Jesus vir Natanael sy grootheid.
God het die belydenis van Natanael vir ons in die Bybel laat neerskryf. Dit is ’n aansporing om Jesus te soek. Wie soek, sal vind. Wie na Jesus toe kom en hom wil leer ken, sal nie teleurgestel word nie. Jy sal beloon word met kennis van jou redder.
En wie hom reeds ken, moet aan hierdie belydenis vashou.
Wanneer ons voorberei vir die nagmaal, is die belydenis van Natanael vir ons ’n herinnering en ’n aansporing: kom na Jesus toe!
Hierdie belydenis het die belydenis van die hele kerk geword. Saam bely ons dat Jesus die Seun van God is, en dat hy uit die hemel neergedaal het om ons te red. Hy was die langverwagte koning van Israel, en meer as dit: die redder van die hele wêreld.
Ons eet die nagmaal tot sy gedagtenis.
Paulus verduidelik: “Want so dikwels as julle dit doen, verkondig julle die dood van die Here totdat hy kom.”
Telkens wanneer ons nagmaal vier, bely ons ons geloof: hy is ons redder. Ons soek vol vertroue ons redding by hom!
3. Groter dinge gaan gebeur!
Jesus antwoord en sê vir hom: Glo jy omdat Ek vir jou gesê het: Ek het jou onder die vyeboom gesien? Jy sal groter dinge sien as dit. En Hy sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, van nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens.
• Genesis 28
Om te kan verstaan wat Jesus bedoel, het ons Gen28 gelees.
Jakob het gevlug vir sy broer Esau. Díe wil hom doodmaak omdat hy die seën gesteel het. ’n Onsekere toekoms lê vir Jakob voor. Sy hele lewe is omvergegooi, en hy het dit self veroorsaak.
Juis dan kry hy ’n visioen wat ’n groot bemoediging vir Jakob was gewees: God bevestig die belofte van die land, en dat hy Jakob ’n groot volk sal maak. En hy beloof dat hy hom sal beskerm en dat Jakob in die beloofde land sal terugkeer.
Dit was ’n deurslaggewende gebeure in sy lewe. God kom met sy belofte na Jakob toe. Hy het Jakob (wat ‘bedrieër’ beteken) ’n nuwe naam gegee: Israel (jy het geveg met God, en oorwin).
Die hele volk Israel is genoem na hierdie stamvader se nuwe naam. Dit was vir die Jode geweldig belangrik.
Jesus sê nou: ek is groter as Jakob!
Jakob se visioen was ’n groot gebeure in sy lewe. Jesus se koms op aarde is selfs groter as dit. Hy is die vervulling van Jakob, die stamvader van Israel.
Jakob het gesê: dit is die huis van God (Betel). Die engele het op en afgeklim op die leer. En hulle het neergedaal… op Jakob!
Jesus sê nou: julle sal die engele sien neerdaal op die Seun van die mens. Jesus neem die plek van Jakob in. Hy kom met die goedkeuring van Jahweh, die God van Israel. God het hom gestuur om die redder en koning van Israel te word.
• Groter as Jakob
Een uitspraak van Jesus (“ek het jou onder die vyeboom gesien”) het Natanael oortuig van die godheid van Jesus en hy het geglo dat Jesus die beloofde koning van Israel was.
Maar was niks as jy dit vergelyk met Natanael en die ander dissipels nog sal sien.
Die dissipels sal die grootheid van die seun van die mens sien. Dit sal die visioen van Jakob oortref.
Maar hoe dan? – wonder jy seker.
Jesus gebruik die titel ‘Seun van die mens’. Natanael het die wet en die profete geken en die titel ‘Seun van die mens’ geken.
Daniel 7 gebruik dit vir die persoon wat sou kom, en wat alle heerskappy van God sou ontvang. Hy sou vir ewig oor Israel regeer, en al die volke, nasies en tale sal hom vereer:
Dan7,13-14: “Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ’n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.”
Jesus belowe hier vir hom en die ander dissipels dat hulle belewenisse met Jesus gedurende die volgende jare ’n oorweldigende bevestiging van sy grootheid sal wees. Hulle sal sy heerlikheid sien.
Voorlopig gaan sy heerlikheid en eer nog nie sigbaar wees nie. Die Nuwe Testament wys dat die seun van die mens lyding en dood moet ondergaan voordat hy alle heerskappy sal ontvang.
Jesus wys dus sy grootheid heel eerste in sy vernedering: hy ondergaan die voortdurende verwerping deur die Jode. Hy wys sy nederigheid en sagmoedigheid wanneer hy toelaat dat hy gevange geneem word, bespot, met skaamte oordek, en uiteindelik totaal verneder word aan die kruis.
Daar sien jy die diepte van sy liefde vir sondaars. Jy sien in sy lyding en vernedering hoe groot sy hart vir jou en my is!
En dan, die allergrootste daad van Jesus, dis werklik wêreldskokkend: sy opstanding uit die dood!
Dieselfde engele wat by Jakob op en af beweeg het, sit by Jesus se graf en wys dit is leeg.
Die grootheid van Jesus wys in die heilsfeite, sy verlossingswerk op aarde.
En daarna het Jesus aangehou om sy grootheid te wys, oor en oor, in die lewens van die mense wat hy red. Dit is die persoonlike, die subjektiewe bewys van sy grootheid.
Jakob was ’n bedrieër, maar God het hom verander. God breek sy verset, verander sy naam, en maak hom een van die aartsvaders. Jakob meen dat die seën aan hom behoort, en daarom gryp hy dit self; maar hy leer om uit genade Jesus se verdienste te ontvang.
Natanael was het skepties teenoor Jesus vanweë sy afkoms, maar Jesus noem hom ’n opregte mens. Jesus seën mense wat hom dit nie verdien nie. Hy gee genade en eer in harte waar smaad en vyandskap oorheers.
Jesus het al soveel mense se lewens omgekeer en verander. Hy doen dit nie met geweld nie, maar met sy liefde, genade, en vriendelikheid.
Is dit nie ’n geweldige aansporing om jou ook aan hom toe te vertrou?
• Verwag meer
Jy en ek moet ons verwagtings aanpas by die grootheid van Christus.
Ons verwagtings is dikwels te laag.
Ons het nodig om die gebed van Paulus te leer bid (Ef3,18-21):
om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.
Want hy het…
mag om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk,aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen. (vs. 20-21)
Die verlossing wat hy op aarde bewerk het, was definitief die groter werke wat Jesus vir Natanael aangekondig het.
Maar Jesus het nog nie daarmee opgehou nie.
Hy deel die verlossing uit, hy stort sy Gees uit en verander mense se lewens radikaal en maak dit weer mooi. Die krag waardeur hy uit die dode opgestaan het, werk in al sy volgelinge.
Daarmee gaan hy aan tot die dag van sy verskyning.
Verwag dus baie!
Amen
Sing: Psalm 96:1,2,5
Geloofsbelydenis
Skrifberyming 9:1-2
Lees:
Johannes 1:15-52
Genesis 28
Sing: Psalm 118:10-12
Preek: Johannes 1:44-52
Sing: Psalm 132:5,9-11
Kollekte
Skrifberyming 64:1,2,5,6