Die doop van Jesus: ons redder word voorberei

Predikant: 
Ds DM Boersma
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2024-02-04
Teks: 
Lukas 3:21-22
Verwysing: 
# 2403
Preek Inhoud: 

Inleiding

Kinders: as ek vra ‘wat het Jesus vir ons gedoen?’ of ‘hoe kry jy vergewing van sondes?’ dink ek dat al die kinders wat al bietjie groter is, kan die antwoord gee: Jesus het vir ons aan die kruis gesterwe.
Dis die regte antwoord!

Wat het Jesus daarvoor gedoen? Wanneer het sy reddingswerk begin?
Eers aan die kruis, of in die tuin van Getsemané?

Nee, baie eerder.

Die hoofstuk wat ons vandag gelees het, vertel dat Jesus sy taak op hom geneem het. Hy word amptelik aangestel, op so ’n manier dat almal wat daar was, getuies daarvan was, en dat die hele wêreld daarvan kon hoor.

Die doop van Jesus: ons redder word voorberei
1. Die Seun word aangestel
2. Die Gees van God maak hom bekwaam
3. Die Vader gee sy goedkeuring aan Jesus.

1. Die Seun word aangestel

• Johannes tree terug

Johannes het die hoogtepunt van sy populariteit bereik. Duisende mense kom na hom toe. Dit lyk asof daar ’n revival plaasvind, en dit plaas Johannes in die kollig. Party mense dink selfs dat hy die beloofde Messias is.
Wanneer mense hom vra, vestig Johannes nie die aandag op homself nie maar op Jesus.

Hy sê dit in vs. 15-17:
Ek doop julle wel met water, maar Hy kom wat sterker is as ek, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie—Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.
Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring saambring in sy skuur, maar die kaf met onuitbluslike vuur verbrand.

Lukas noem Jesus se doop eers nadat hy genoem het dat Johannes in die tronk beland het. Die voorloper se werk is klaar. Die Messias se werk begin.

• Jesus word gedoop

En toe die hele volk gedoop en Jesus ook gedoop is, en Hy besig was om te bid, het die hemel oopgegaan

Lukas noem dat Jesus na die volk gedoop word. Jy kom agter daar is ’n verbinding: Jesus het mos gekom om sy volk van hulle sondes te verlos. Hy sluit aan by die mense wat 
toustaan om gedoop te word. Hy is die laaste.
Sy doop en sy verlossingswerk is heel duidelik ten gunste vd volk van God.

Maar wag... dis nie reg nie!
Onthou jy Johannes se doop? Dit is ’n doop van bekering vir vergewing van sondes. Jesus het nie bekering nodig nie! Hy is volmaak, hy het geen sonde gedoen of in sy hart gehad nie.
En nou ondergaan hy die doop, asof hy nodig het om hom voor God te verneder? Dis nie reg nie!

Tog is dit reg. Johannes vra díe vraag vir Jesus, en Jesus antwoord:
“só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul.” (Mattheüs 3:15)
So gehoorsaam Jesus die wet. Hy identifiseer met ons, sondaars, en gedra hom soos ’n sondaar: hy neem hier reeds die sondes van sy volk op hom. 
Hy wag daarme nientot hy aan die kruis hang nie, maar nou reeds: by sy doop. Die Messias neem die plek van Israel in, en Israel moet deur die reinigingsritueel gaan om 
vergewing te ontvang. So gaan Jesus deur die ritueel, sodat hy alle gelowiges vergewing kan gee.
Sy geboorte het plaasgevind in die skadu van die kruis. Hy neem nou die eerste publieke stap, en hy stap rigting die kruis deur met sondaars te identifiseer!

Die doop is ook ’n bewys van Jesus se vernedering.
Hy is op aarde gebore met die beperkings van ’n mens, en lê tydelik die hemelse posisie en voorregte af. Hier is geen engele wat hom voortdurend eer en loof nie, maar hy is omring deur mense wat hom sal verwerp.
Hy neem ’n verswakte menselike natuur aan en aanvaar die beperkings daarvan (sonder om sonde te doen).
En nou word hy een met die sondaars en aanvaar die gevolge van die sonde. As ’n mens verneder hy hom en buig ootmoedig voor God.

2. Die Gees van God maak Jesus bekwaam

• Fokus van Lukas se vertelling

Nou het ons by die kern van die verhaal uitgekom: 
Gods Gees maak hom bekwaam en druk sy stempel van instemming (stamp of approval) op hom. 
Die fokus in die vertelling van Lukas is duidelik op die gebeure ná die doop. Dit blyk uit vers 21: toe die menigte gedoop was en Jesus ook gedoop was, en besig was om te bid, gebeur daar ’n groot ding: die hemele is geopen.

Die hemel gaan oop: dis die simbool van Gods aanwesigheid.
Dis ’n duidelike teken dat God inmeng en inbreek in die gebeure op aarde, en verandering bring. ’n nuwe wêreldorde het aangebreek!
Dis ’n bevestiging dat die menswording van Jesus ’n waterskeiding in die geskiedenis is. 
Niks sal daarna meer dieselfde wees nie.

Toe die hemele oopgaan, ontvang almal wat daar is, ’n sigbare simbool van Gods aanwesigheid: ’n duif daal neer.
“Toe het die hemel oopgegaan; en die Heilige Gees het in liggaamlike gedaante soos ’n duif op Hom neergedaal; en ’n stem het uit die hemel gekom wat sê: U is my geliefde Seun; in U het Ek ’n welbehae.”

Hier vind een van die groot trinitariese openbarings plaas (trinitaries = drieënig).
Kyk hoe duidelik ons hier sien dat God drieënig is: God die Seun het mens geword en staan op aarde, God die Gees daal vanuit die hemel op Jesus neer in die vorm van ’n duif, 
en God die Vader spreek vanuit die hemel.
Nie net sien jy die drieëenheid duidelik as wat ons dit ooit in die OT gesien het. Ook sien ons, dat die Seun van God die volle goedkeuring en die ondersteuning van die Gees en 
die Vader het. 
So voer die drieënige God sy verlossingsplan uit, en die Vader, die Seun en die Heilige Gees het elk hun eie rol om te speel.

• Jesus bid

Dit gebeur terwyl Jesus besig was om te bid.
Kinders: bid is praat met God. (dis nie om mooi formules te gebruik nie, maar dis ’n gesprek met God).
Kyk hoe mooi dit die drieëenheid bevestig: Jesus was besig om met sy Vader te praat, en juis op daardie moment antwoord God deur sy Gees te stuur en sy stem te laat hoor!

• en ontvang die Gees

Die duif is ’n simbool van die Gees.
Dis eintlk ’n mooi simbool. Dis nie ’n roofvoël wat krag wys en gevaar beteken nie. ’n Duif is onskuldig en ongevaarlik.
Gods Gees werk op die agtergrond, so onopvallend dat hy dikwels nie raakgesien en erken word nie!

• Hy word met die Gees gesalf

Hy daal op Jesus neer. Jesus word met die Gees van God gesalf, net soos die profete en konings in die OT. So word hy amptelik aangestel, maar meer nog: so word hy bekwaam gemaak om die verantwoordelike en vir mense onmoontlike taak uit te voer.
Dat dit belangrik en effektief is, is dadelik duidelik wanneer die Gees Jesus na die woestyn toe dryf en hy daar 40 dae versoek word, maar die verleidings weerstaan. So sien ons die krag van die Heilige Gees!

Johannes maak selfs ’n punt daarvan dat die Gees op Jesus gebly het. 
Johannes 1:32: En Johannes het getuig en gesê: Ek het die Gees soos ’n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly.

Dit was nie ’n eenmalige aanraking nie. Die Gees het in hom kom woon om hom elke dag krag, gehoorsaamheid, nederigheid en geduld te gee vir sy verlossingswerk.

3. Die Vader gee sy goedkeuring aan Jesus

• Die Vader spreek

U is my geliefde Seun; in U het Ek ’n welbehae.

Hierdie woorde spreek God tot Jesus: persoonlik en teselfdertyd is dit publiek: almal kan dit hoor.
• Matteus beskryf die betekenis vir die mense, as hy skryf: “Dit is my geliefde Seun.” (Mt1,17) Dis ’n dringende oproep om hom te gehoorsaam.
• Lukas en Markus beskryf die betekenis vir Jesus: God sê vir Jesus: “U is my geliefde Seun.” (Lukas 3 en Markus 1).

God is ingenome met die Seun.
In die eerste plek in sy Seun as persoon. Net wie hy is: Gods seun wat mens geword het.
God het hom van ewigheid af lief, en terwyl hy nou op aarde is om sondaars te red, bevestig God sy liefde en goedkeuring in Jesus:

“in U het Ek ’n welbehae.”

Die Vader verheug hom in sy Seun, net in wie hy is.
Maar daarmee saam gee God die Vader ook sy goedkeuring oor Jesus se gehoorsaamheid.
By die begin van sy reddingswerk op aarde is dit vol betekenis dat God aan die begin sy goedkeuring heg aan sy seun en sy missie op aarde.

Sy volledige verlossingswerk, van begin tot die bittere einde, is gehoorsaamheid aan God die Vader.
Jesus het dit in Johannes 8 gesê:

Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek is; en uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek.
En Hy wat My gestuur het, is met My; die Vader het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is. (Joh8,28-29)

Hier hoor ons hoe nou die band tussen die Vader en die Seun is, ook wanneer die Seun mens word en op aarde is. Hulle is een. Jesus voer gehoorsaam die plan uit wat die Vader, die Seun en die Gees saam gemaak het om die mensheid en die skepping te red.
Jesus doen in sy hele lewe altyd wat die Vader welgevallig is.

Kyk maar na die verlossingswerk van Jesus. Elke stap was gehoorsaamheid, en die goedkeuring van die Vader rus op hom:
- Dadelik na sy doop bied Jesus in die woestyn weerstand teen die verleidings, en hy val nie in sonde nie. Waar Adam en Eva gefaal het, oorwin Jesus.
- Jesus was as ’n jong seun reeds onderdanig aan sy aardse ouers, Josef en Maria.
- In sy onderrig en al sy woorde het hy gespreek wat die Vader hom opgedra het.
- In sy wondertekens, sy bewoënheid met sondaars, en sy barmhartigheid wys hy Gods karakter. Ook dit is God welbehaaglik.
- In sy gebede eer hy God en spreek hy met sy Vader.
- En dan die hoogtepunt: Jesus se gehoorsaamheid aan die wil van die Vader wanneer hy die lyding, verwerping, die smaad en die helse pyne van die kruis kies en dra.

Al hierdie dinge doen Jesus met die goedkeuring en instemming van sy Vader. Die Vader gee sy goedkeuring reeds wanneer Jesus begin, voordat hy alles gedoen het.

God herhaal dit by die verheerliking op die berg.
En tenslotte bevestig God dit aan die kruis, dmv die aardbewing wat plaasvind, en deur Jesus uit die dode op te wek: dit is die bewys dat Jesus se gehoorsaamheid genoegsaam en volmaak was. Die opstanding uit die dood is die bevestiging dat God sy gehoorsaamheid volledig aanvaar het.
So begin en eindig Jesus sy lewe op aarde onder die seën van Gods goedkeuring.

• Jesus is werklik mens

Jesus het dit nodig gehad, want hy was mens.
Elke mens het bemoediging en versterking nodig.
Partykeer kan ons teveel dink vanuit die goddelike natuur van Jesus, en dink dat hy alles sonder enige probleem of spanning kon hanteer. Maar Jesus was teselfdertyd volledig en regtig mens, en hy het ook onsekerheid, geweldige spanning, diep angste en twyfel in die gesig gestaar.
Kalvyn sê: “Ek aarsel nie om te erken dat Jesus ook, sover hy mens was, uit hierdie bevestiging van die Vader addisionele sekerheid vir sy hemelse roeping ontvang het.”
Dus: Jesus het die bemoediging nodig gehad omdat hy regtig mens was.

Dat Jesus dit nodig gehad het, blyk ook in die tuin van Getsemané, die dag voor sy kruisiging. Hy het selfs gebid:
Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied! (Lukas 22:42)

En God stuur toe ’n engel uit die hemel om Hom te versterk.
Daarna blyk dat Jesus in ’n intense geestelike stryd was wat groot en liggaamlike inspanning gevra het:
En toe Hy in ’n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val. (Lukas 22:44)

God het die behoeftes van sy seun geken toe hy mens geword het, en die goedkeuring, liefde en bevestiging deur die Vader het Jesus sy Seun die krag gegee om sy geestelike stryd te voer en te oorwin.

• Dit was ’n publieke gebeure: vir ons

Die hele gebeurtenis was publiek. Mense het dit gehoor en gesien. En dit is vir ons in die Bybel neergeskryf. Hoekom eintlik?

Deesdae redeneer baie mense vanuit hul gevoel: dit maak nie saak of iets regtig gebeur het nie, solank dit jou inspireer of dit goed voel vir jou, is dit vir jou waar.
Dit is egter shaky. En as jy twyfel of agterkom dis moeilik om christen te wees, help jouprivaatopinies en gevoelens jou nie. Dit is geen basis om jou lewe op die spel te plaas en vir Christus oor te gee nie. So ’n geloof is soos ’n kaartehuis: dit tuimel inmekaar sodra daar druk of bedreiging van buiteaf kom.

Maar ons kry vaste grond onder ons voete.
Lukes skryf sy evangelie nadat hy sorgvuldig navorsing gedoen het en onderhoude gevoer het. In hierdie hs beskryf hy, dat die Gees op Jesus neergedaal het en die Vader uit die 
hemel gespreek het, en dit was ’n publieke gebeure. Johannes het dit gehoor, die menigte het dit gehoor.
Johannes die Doper het getuig:

En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.
En ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is. (Johannes 1:33-34)

Elke gelowige mag seker weet dat ons geloof nie op opinies of subjektiewe gevoelens berus nie, maar op die dade van God in die geskiedenis, feite wat jy kan nagaan.

Jesus was die Seun van God.
Hy het ’n regte mens geword en alle gehoorsaamheid wat ons nie aan God gegee het nie, in ons plek aan die Vader aangebied.
God het sy goedkeuring oor hom uitgespreek en sy gehoorsaamheid aanvaar.
Daarom mag elkeen wat glo, vas vertrou en seker weet dat jy verlos is en deur God aanvaar.

En dit is die laaste bemoediging wat ons uit hierdie gedeelte kry. Die goedkeuring van die Vader vir die Seun is ook vir ons bestem.

• Goedkeuring vir ons

Nog een ding wat ons moet onthou, wat die goedkeuring en aanmoediging van die Vader vir die Seun baie naby ons bring:
Ons leer in die Bybel dat God elke gelowige alles toereken wat Jesus gedoen en verdien het. Sy gehoorsaamheid word jou toegereken asof jy nooit sonde gehad of gedoen het.
Daarom ontvang jy as jy in Jesus glo, ook die goedkeuring wat die Vader oor sy Seun uitgespreek het.
Ons dade, ons gehoorsaamheid is glad nie volmaak nie, inteendeel. Maar wanneer jy gewas en ondergedompel is in die bloed van Jesus (dis wat ons doop simboliseer), word die goedkeuring wat Jesus van sy Vader ontvang het, ook jou deel.
God kyk na elke gelowige met dieselfde instemming, liefde en geneënheid waarmee hy na Jesus gekyk het tydens sy lewe op aarde.
Ons ontvang Gods goedkeuring as ons in Jesus glo.

• Belangrik!

Ons moenie onderskat wat dit vir ons beteken nie.
Geweldig baie mense werk, hardloop, veg hul hele lewe om aanvaar te word, deur mense of deur God.

Dikwels hoor mens van mans wat hul hele lewe hardloop en hard werk om die respek en goedkeuring van hul pa te verdien. As hy maar net kon hoor ‘seun, ek is trots op jou! Op wie jy is, op wat jy met jou lewe gemaak het.’ En daar is nog minder seuns wat ooit van hulle pa hoor ‘seun, ek is lief vir jou!’
Baie seuns, jong en oud, ook as hulle self ’n pa geword het, sou dit so graag wil hoor.
Daar is duisende of dalk selfs miljoene mans in die wêreld wat aanhou streef en hard werk, nooit rus en tevrede kan wees nie, omdat hulle nooit die voldoening kry dat hul pa sy goedkeuring gee of respek wys nie.

Dit is iets waarmee ons ons kinders kan help. Die vaders in ons midde moet dit in gedagte moet hou. Dink mooi hoe jy met jou seun praat. Ons kan ons kinders verbitter as ons dikwels of heeltyd kritiek gee. Dan kry jou seun die indruk dat hy nooit goed genoeg is om jou liefde en respek te ontvang nie. Kom ons gebruik ons woorde om op te bou! Moedig jou seun aan. Wys jou bewondering, respek, en liefde vir hom.

Maar hierdie gaan eintlik dieper as dit.
Daar is hoop as jy nooit goedkeuring of instemming van jou pa gekry het nie.
Dan is dit nie nodig dat jy jou hele lewe daarvoor werk, en onvervuld, rusteloos, onseker bly nie.

Gelowiges mag by God skuil. Die goedkeuring wat God oor sy seun Jesus uitgespreek het, mag ons ook hoor as ons in Jesus glo!
(omdat dit vir mans soveel beteken, beklemtoon ek dit vir julle)
Gods goedkeuring is belangriker en kragtiger as die goedkeuring wat jou pa jou kan gee, en dalk nooit vir jou gegee het nie.

En jy kry dit nie op grond van wat jy presteer nie.
Dis belangrik dat jy besef dat jy nie vir goedkeuring afhanklik is van jou pa of jou ma, die mense wat jou sosiale media boodskappe sien. Die betekenis van jou lewe is nie afhanklik van mense nie.

God vervul hierdie diepste behoefte in ons hart deur Christus.
Hy aanvaar jou vanweë sy seun Jesus as jy in hom glo.

As jy nie jou eie gehoorsaamheid as ’n verdienste aan God aanbied nie, maar erken dat jy ’n gemors van jou lewe maak en nie Gods wil kan gehoorsaam nie – dan kyk God met instemming na jou vanweë Christus.
Vind rus by Jesus. Hy is jou volkome verlosser.
Vanweë die geliefde seun van God is jy ook Gods geliefde seun of dogter.

Amen

Liturgie: 

Lukas 3: 21-22