God se oorvloedige sorg, ten spyte van ons ongeloof.

Predikant: 
Ds. Ben Smit
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2024-03-03
Teks: 
Nùmeri 20:12
Preek Inhoud: 

Geliefdes in ons Here, Jesus Christus,
•  Onmin binne gesinsverband;
•  Minagting van gesag by skole;
•  Konflik in gemeenteverband tussen ampsdraers en lidmate;
Alles gebeure in ons gemeenskap, wat die afgelope tyd opklink uit verskillende oorde.

Wat mens nou hier in ons teksvers hoor, behoort elkeen wat van sulke konflik en wrywing kennis dra, of self daarin betrokke is, tot stilstand te ruk.
Die Here kondig immers in ons teksgedeelte vanoggend, oor twee van sy mees getroue knegte, Moses en Aäron, weens konflik, dieselfde straf aan, waaronder die volk toe reeds 40 jaar lank gebuk gegaan het.
Ook hulle sal God se belofte nie binnegaan nie, maar voor die intog in Kanaän te sterwe kom.

Veertig jaar lank al lei hierdie twee die wederstrewige en opstandige volk deur die woestyn.
Veertig jaar lank versorg hulle en bid hulle en tree hulle vir die volk in by die Here, en nou, op die punt waar die belofte oorgaan in vervulling, begaan hulle een misstap en dit is vir hulle verby!
•  Is dit nie dalk onregverdig nie?
•  Kon God hulle nie maar vir hulle jare lange diens nog ‘n kans gee nie?
•  Om jou lewe lank (Onthou Moses was toe al amper 120 jaar oud) voor berei te word vir ‘n bepaalde doelwit, die lang en harde pad te stap van selfverloëning en opoffering en uithou met hierdie hardvogtige volk en dan vir een sonde van hierdie lewensideaal ontneem te word, voel vir ons darem net ‘n bietjie te erg.

Of is dit, broeder en suster?
•  Wat gebeur hier by Kades dat God so streng oordeel oor sy knegte? 
•  En wat hou dit vir ons in, wat ons eie struikeling en feilbaarheid dag vir dag beleef?
•  As Hy dít doen aan Moses en Aäron, hoe gaan óns ooit God se beloftes in ontvangs kan neem?
•  Ja, wat sê die Here hier in sy Woord aan ons as gelowiges en as geroepe ampsdraers oor ons optrede en lewenswandel?

Uit die teksvers word die Woord aan u bedien onder die volgende punte:
1. Die ooreenkoms en verskille tussen hierdie gebeure en die van Eksodus 17;
2. Die sonde waaraan Moses en die volk skuldig was; en
3. Ook die betekenis van die Rots waaruit God sy volk versorg het.
Ten slotte gaan ons dan hierdie Woord van God toepas op onsself en verseker wat dit is wat Hy hier aan elkeen van ons sê.
Mag sy Woord elke hoorder in die hart gryp en ons lewe verander.
Mag ons vervul word met verwondering oor die genadige versorging van die Here oor ons, wat dit geheel onwaardig is.

Die volk bevind hulle in Numeri 20 aan die einde van hulle langdurige omswerwinge.
En dan, soos 38 jaar tevore, duik daar weer probleme op weens ‘n gebrek aan water.
Net soos by Ráfidim, 6 maande na die uittog, is hier by Kades steeds geen geloofskrag by die volk, om hulleself te beheers nie.
Net soos tevore twis hulle weer met hulle leiers en 
•  verwens hulle, dat hulle die volk uit Egipte laat optrek het om in die woestyn te sterf;
•  soos Korag en sy bende kort tevore, trek hulle te velde oor die afwesigheid van landbougrond;
•  en eis hulle van Moses en Aäron om aan hulle water te gee.
Net soos by Ráfidim speel die rots waaruit God uiteindelik die volk versorg en water voorsien, ook hier by Kades weer ‘n sentrale rol in die gebeure.
Daar is selfs ooreenkoms in benaming, want beide plekke word die naam gegee van Meriba – dit is stryd of weerspreking.

Maar daar is tussen hierdie twee geleenthede ook opvallende verskille waarvan ons moet kennis neem.
Die gebeure by Ráfidim is vooraf gegaan deur wonder op wonder en genade op genade uit God se hand.
Kort voor Ráfidim nog het Hy in antwoord op hulle murmurering, aan die volk die versorging begin gegee van manna.
Die brood uit die hemel.

By Kades verskil die aanloop tot die water uit die rots aansienlik.
Waar die agtergrond vir die wonder van Eksodus 17 God se sorg vir sy volk deur wonders is, wat klem ontvang, is dit hier in Num. 20 stryd teen sy geroepe ampsdraers, wat voorop staan.
Moses verkeer in ons tekshoofstuk op ‘n gevaarlike plek in sy persoonlike lewe en dienswerk aan die Here.
Met die dood van sy suster Mirjam, het hy een van die laaste ondersteuners wat saam met hom uit Egipte gekom het verloor.
Eintlik was dit nog net Moses en Aäron, wat as verteenwoordigers van daardie hele geslag oorgebly het.

Met hierdie uitsterf van hulle tydgenote, het daar ongemerk ook al meer ‘n kloof ontwikkel tussen Moses en die volk.
‘n Kloof wat kort tevore oopgebars het met die volksopstand, onder leiding van Korag, Datan en Abiram.

Veertig jaar lank al worstel hy en Aäron met die volk se wederstrewigheid teen die Here en nou blyk dit dat ook die nuwe geslag wat opgestaan het, voortlewe in dieselfde verset.
•  Ook hulle murmureer en val Moses persoonlik aan.
•  Ook hulle weier om op die Here te vertrou en Hom te gehoorsaam, sodat hulle onder dieselfde bedreiging van oordeel gestaan het, as hulle vaders.  

Ag, kla die volk, het ons ook maar gesterwe toe ons broers voor die aangesig van die Here gesterf het.
En hierdie verwysing na die gebeure met Korag en sy bende, moes vir Moses en Aäron besonder pynlik gewees het.
Deur hulle optrede is die volk uit die kake van die dood gered, toe God na die opstand ‘n plaag oor die laer gestuur het. 
As Aäron nie op bevel van Moses tussen die dooies en die lewendes gaan staan het, met die rook van ‘n vuurpan wat optrek as versoening voor die Here nie, sou daar ‘n geweldige groot slagting onder die volk wees.
En nou wens die volk dat hulle tog maar liewer daar omgekom het.
•  Moses en Aäron, sê hulle as’t ware, julle diens beteken vir ons niks nie!
•  Julle ampswerk is vir ons niks werd nie!

Die mees opvallende verskil tussen die gebeure by Ráfidim en Kades, is egter in die opdrag wat Here aan sy knegte gee.
Hierdie keer moet hulle die staf van Aäron met hulle saamneem, daardie staf wat spreek van hulle roeping en ampswerk.
Die opdrag aan Moses hierdie keer, is dat hy met die rots moet praat.
God gee geen bevel om die rots te slaan nie, maar bloot deur Moses wat met die rots praat, sal Hy die volk met die water wat hulle eis versorg.

 

Maar broeders en susters, 
dan ontstaan daar ‘n probleem en die keer is die probleem nie weer 'n keer by die volk nie, maar juis by God se geroepe knegte.
Moses en Aäron vertrou nie langer die pad van die Here nie.
Hulle besluit om self ‘n einde te maak aan die volk se wederstrewigheid.  

Jare lank al was hulle die teiken van verset onder die volk en deurgaans het hulle die aanslag weerstaan.
Maar nou, met die einde van die tog in sig, struikel hulle en val in sonde.
Die volk se wederstrewigheid het volgens vers 24 ook die sonde geword van Moses en Aäron.
Moses en Aäron wou hulleself teenoor die volk handhaaf.
Daarom moes hulle optrede voor die volk van so aard wees, het hulle gedink, dat die volk hulle nooit weer sal betwyfel nie.

Moses, die ootmoedigste van alle mense, juis die gesindheid wat hom bruikbaar gemaak het in diens van die Here, val deur selfhandhawing in sonde.
Hy sien sy werk nie langer as diensbaarheid in die verhouding tussen God en sy volk nie.
Hy laat dit ook nie meer aan die Here oor, om beheer te hou oor hierdie volk nie, maar tree volgens sy eie wil en insig op.

Broeders en susters,
En nou is dit wel moontlik om die sonde van Moses te verstaan, maar jy kan dit nooit regverdig nie.
Moses is skuldig as gevolg van sy selfhandhawing.
Daarom tree hy ongeduldig, hard en liefdeloos op.
Hy en Aäron het wel die klag van die volk voor die Here gebring, maar wanneer die volk voor die rots vergader is, word Moses se hart sigbaar, in openlike ongehoorsaamheid aan God se opdrag aan hom.
Hy praat met die volk, maar hy slaan die rots.

En die oorsaak vir Moses se onverskillige optrede, so lees ons in Ps. 106: 32 en 33, was sy woede en frustrasie met die volk.
•  Ja, hy ís diep getref deur persoonlike omstandighede met die dood van Miriam;
•  Ja, dit ís sy ampswerk wat deur die volk geminag en aangeval word;
•  En ja, die volk hét sy geduld tot die uiterste toe beproef, deur maar net weer die sonde van hulle vaders te herhaal;
Maar dit alles is dinge waarmee ampsdraers gewoonlik in hulle werk gekonfronteer word.

Hierdie is werklikhede van God se volk, wat elke ampsdraer en elke gelowige ouer en elke Christen onderwyser moet raaksien en verstaan.
•  God se volk is nie volmaakte mense nie.
•  Hulle is swak; 
•  en sondig; 
•  en wederstrewig.
•  Hulle ontsien geen persoonlike omstandighede nie 
•  en kritiseer jou en jou dienswerk genadeloos.
Dis die aard van die mense onder wie God sy geroepenes plaas, om sy werk te doen.
Sonde gaan nie by sy volk verby nie.

Ampsdraers moet egter onthou dat ook hulleself in hulle eie hart, 
•  swak; 
•  en sondig;
•  en wederstrewig is.
Ampsdraers en Christen ouers en onderwysers en ander voorgangers onder God se volk, verskil in geaardheid niks van die mense onder wie God hulle gebruik nie.
Daarom moet sy volk ook rekening hou met die swakheid en sondigheid van ampsdraers.
Ouers en ouderlinge en diakens en voorgangers is mense en daarom vol sonde.

Juis daarom mag voorgangers nooit toegee en hulleself probeer handhaaf, teen persoonlike aanslae wat hulle moet verduur nie.
Ter wille van God en sy eer staan jy wel op, maar ter wille van jouself en selfhandhawing nie.
Dit laat jy in die hand van God, wat wel vir sy geroepenes sal sorg.

Moses se sonde was bitterheid en woede teenoor God se volk.
Hierdie is ernstige sonde, wat dan ook beskryf word as rebellie teen God.
Die Here Self noem dit in vers 24 ‘n daad van wederstrewigheid, wat Moses en Aäron vir die intog in Kanaän diskwalifiseer.
Moses het gesag oor die volk uitgeoefen, waaroor hy nie beskik het nie. 
Hy het opgetree soos hy wil en nie geluister na God nie.

Ons teksvers sê dat Moses-hulle met hierdie daad nie in die Here geglo het nie.
Hulle het Hom nie vertrou, om volgens sy eie wil en wysheid met sy volk te werk nie, maar wou self ingryp en die Here wys hoe om te doen. 

En daarmee broeders en susters, word ‘n grondliggende waarheid ten opsigte van alle gesag in die kerk onderstreep.
En dit is dat jou gesag as geroepene, altyd onder God se gesag staan.
Jy is nooit verhewe bo sy Woord nie, ongeag jou amp. 
Wanneer Moses daarom aan die volk vra of hy en Aäron vir hulle water uit die rots moet gee, is hulle besig om God se eer vir hulleself toe te eien.
Te maak asof dit hulle is wat vir die volk sorg, eerder as om die eer aan God te gee. 

 

Maar geliefdes,
Daar is nog een saak waarby ons moet stil staan, om die gebeure by Meriba reg te verstaan en dit is by die betekenis van die rots.
By altwee geleenthede, sowel die in Eksodus 17 by Ráfidim, as die hier by Kades, is die rots waaruit God die volk versorg, duidelike verkondiging van sy volkome sorg in Jesus Christus.
En nou moet so geestelike verklaring van die rots met versigtigheid gedoen word, maar uit God se Woord is dit baie duidelik dat so verklaring die wettige verklaring is.

In 1 Korintiërs 10 word Christus uitdruklik aangedui as die Rots waaruit die volk gedrink het.
Die Rots wat die volk op hulle pad gevolg het.
Daar staan in 1 Kor. 10:4:
“...want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus.”
En nou werp hierdie woorde oor Christus wat die Rots is, besondere lig op sowel die gebeure in Eksodus 17 as hierdie in ons teksgedeelte.

In Eks. 17 is dit die volk wat verdien om geslaan te word vir hulle volharding in ondankbaarheid en ongeloof, ondanks God se wonders van versorging.
Hulle verdien die oordeel, maar die Here laat die Rots slaan, deur sy kneg Moses.
En die gevolg is water, waardeur die volk verlos word uit hulle nood.
Die Rots word deur die slae, vir hulle ‘n fontein van water.

Maar wat dan van Num. 20 en die opdrag wat Moses ontvang om met die Rots te praat?
As ons eers verstaan dat die rots ‘n tipe is van Christus, dat God sy volk versorg deur die Rots, word dit verstaanbaar hoekom die opdrag aan Moses die keer slegs is om met die Rots te praat.
Christus ly eenmaal vir die sonde.
Aan die kruis ontvang Hy al die slae wat ons toekom, uit die hand van sy Vader.
Daardie lyding van Hom was volkome genoegdoening.
Dis nie nodig dat Hy ook vir ‘n tweede, of derde maal geslaan moet word nie.
Verdere slae is miskenning van sy volkome versoeningswerk.

Al wat nodig was, was dat Moses met die Rots moes praat.
Dan sou God aan die volk sy oorvloedige versorging deur die Rots betoon.
Dit is ook waarom hulle die staf van Aäron met hulle moes saamneem.
Dit was die simbool van God se hoëpriesterlike sorg oor sy volk.
Sorg deur Aäron, wat gewys het op Christus.
Sorg wat ook in Hom, die Seun, in vervulling sou gaan.
Deur die rots te slaan en nie te praat nie, misken Moses en Aäron daarom die priesterlike sorg van God oor sy volk, deur sy Woord.

Dit is waarom die gevolge so verskriklik is vir Moses en Aäron.
Hulle kan die land van belofte nie binnetrek nie.
•  Ook al was hulle 40 jaar lank getrou; 
•  en al het hulle berou; 
•  en al pleit hulle om in die belofte in te gaan, laat God se eer dit nie toe nie.
Verlossing kom nie deur mense nie.
Hulle is as die Ou Testamentiese hoëpriester en verlosser van die volk, slegs ‘n dowwe afskynsel van die volkome Hoëpriester en die ware Verlosser, wat werklik vir God se volk sou sorg en toegang tot die hemelse Kanaän sou verseker.

En tog, ten spyte van die volk en die voorgangers se sonde, het God nie sy versorging weerhou, wat die volk nodig gehad het nie.
Hy gebruik ook krom stokke en feilbare mense in sy diens en in die versorging van sy volk.
So word die volk geleer om verby die gebreke en die tekorte van aardse ampsdraers te kyk.
Hulle oë te vestig op die ware Verlosser en Hoëpriester wat God sou stuur vir sy volk.

Broeders en susters 
Teen hierdie agtergrond kan ons nou ten slotte gaan besin oor die betekenis en die toepassing van die gebeure op ons.
En die toepassing is gerig op elke ampsdraer en ook elke gelowige, wat deel is van God se bondsvolk.

As gelowiges, deel van God se volk, word ons elkeen opgeroep om nie ons vertroue te vestig op mense nie.
Selfs die beste mense en die mees getroue ampsdraer, is steeds 'n mens en daarom feilbaar.
Ons vertroue moet wees in die Enige Ware en Volkome Ampsdraer in ons midde.
•  Op Jesus Christus, wat nooit gerebelleer het nie, maar in alles sy Vader geheilig het.
•  Wat selfs toe Hy aan die kruis gehang het, God geëer het onder die volk.
Wie na Hom kyk, 
•  bly behoue 
•  en word versorg 
•  en bewaar in die verlossing.

Die toepassing van hierdie verse is egter ook vir ampsdraers.
Hulle wat deur God geroep is vir besondere diens.
Verstaan die geweldige verantwoordelikheid om diensbaar te wees aan die Here, in die midde van sy volk.
Verstaan ook dat daar in die amp, of dit nou die amp van ouer is, of onderwyser vir die kinders van gelowiges, of as ouderling, of diaken, of predikant, verstaan dat daar geen plek is vir 
•  Eiewilligheid, 
•  of selfhandhawing, 
•  of verbittering teen mense nie. 

Uit die rebellie van Moses en Aäron, wat die bitterheid en die woede in hulle hart teen God se volk duidelik maak, is dit die één ding wat ons moet leer.
Ampsdraers mag nooit vergeet dat dit God se volk is, sy eiendom waarmee ons werk nie.
Hoe onwaardig mense ook mag wees in ons oë om God se kinders te wees, hulle bly sy eiendom.
Ampsdraers mag daarom nie vergeet met wie hulle werk nie. 
Nie in die besondere ampte nie, maar ook nie as Christen ouers, of as onderwysers nie.

•  Ons kinders behoort aan Hom, ten spyte van hulle ongehoorsaamheid.
•  Lidmate is sy verbondsgesin, ten spyte van hulle wederstrewigheid.
•  Hulle is mense wat deur die Here verlos is uit die bande van die dood en aan wie Hy sy beloftes gegee het van ewige lewe.
Moses het dit vergeet en daarom praat hy harde woorde met hulle in sy verbittering.
“Hoor tog, julle wederstrewiges, moet ons vir julle water uit hierdie rots laat vloei?”

Twee groot gevare is daarom duidelik vir God se geroepe ampsdraers en God se volk:
Die eerste is dat die volk nie Jesus Christus sal raaksien in ampsdraers en hulle werk nie.
Nie meer sal verstaan dat hulle die gestuurdes en gevolmagtigdes is van Jesus Christus nie.

Die tweede gevaar is egter dat ampsdraers nie meer Jesus Christus in die volk sal raaksien nie.
Daarom ook nie meer die mense liefhet, onder wie hulle werk nie.  
•  So vaskyk teen hulle gebreke en sonde, 
•  teen hulle persoonlike aanvalle op jou, 
•  en hoe hulle jou misbruik, 
dat jy vir hulle kwaad word en teen hulle verbitterd raak.
Nee, jy moet hulle liefhê, ter wille van Jesus Christus, wat vir hulle gesterf het.
So teenoor hulle optree, dat Christus se liefde in jou optrede sigbaar word.

Daarin faal Moses.
Daarin lê die erns van sy sonde.
Jou lankmoedigheid en jou geduld mag daarom nie opraak nie.
Jy moet met sondaars geduld hê, ten spyte van hulle sonde.
Dit beteken nie dat jy nie ferm moet wees en die sonde moet bestraf en mense moet tereg wys en liefdevol moet dissiplineer nie.
Geduld beteken egter dat jy nie in woede en bitterheid mag optree nie.

En nou is daar een oorweging wat elke ouer en elke onderwyser en elke ampsdraer hierin help en ondersteun, en dit is dat jy jouself voortdurend moet sien as deel van God se volk.
Jou roeping verskil miskien, maar jy is steeds deel van hulle.
Jou tekorte en sonde is ook hulle tekorte en sonde.
 

Ten slotte moet ons in ons toepassing van hierdie verse ook nog raaksien dat God, ten spyte van die verbittering by Moses en die sonde van sy geroepe diensknegte, nie sy sorg van die volk weerhou het nie.
God openbaar Homself hier 
•  nie as Verdelger van sy volk, as gevolg van hulle sonde nie, 
•  maar as Versorger, wat uit barmhartigheid, oorvloed aan hulle voorsien.  
En die versorging geskied enkel en alleen op grond van sy genade.

Op grond van die offer en die Hoëpriesterlike werk van sy Seun, op Gólgota.
Ons moet daarom Christus in die Rots raaksien.
Hy is geslaan in ons plek en deur Hom is daar ware sorg en ware lewe vir God se volk.

Broeders en susters,
Ook ons drink van hierdie selfde water van verlossing.
Soos die volk het ook ons deel aan die Fontein van lewende water.
Ja, nie minder as die volk nie, is ons 
•  murmureerders; 
•  en wederstrewiges ;
•  en ondankbaar; 
•  en vol wantroue oor God se sorg, 
maar die Rots van verlossing is in ons plek geslaan.
God begenadig ons in sy Seun, met lewe in oorvloed.
Hy stort die lewende water van die Gees op ons uit, om ons op ons woestyntog na die hemelse Kanaän te versorg en te lei.
En wanneer Christus sy Heilige Gees oor ons uitgiet, vloei daar ook uit ons binneste strome van lewende water, soos Jesus die skare geleer het op die Loofhuttefees.

Waak daarom teen die sonde van wederstrewigheid.
•  Verwyte teenoor; 
•  en verwerping van sy geroepe knegte;
•  Ontevredenheid met jou omstandighede;
•  Minagting van God se opdragte en beloftes.
Die grond van sulke optrede is opstand en verset teen die Here en sy beskikking oor ons lewe.

Die evangelie van hierdie verse is die Rots wat geslaan is, waardeur God ware lewe aan ons skenk.
Sien daarom steeds die versorging raak wat God aan jou gee deur Christus, die Rots.
Hy gee sy geroepe knegte om Christus aan ons te bedien en ook wanneer ons weens wederstrewigheid struikel, trek Hy sy sorg oor ons nie terug nie.
Dit gaan vir Hom steeds oor die lewe en die diens van sy volk, wat op weg is na die voleinding. 
Oor die vervulling van al sy beloftes, waardeur Hy finaal verheerlik sal word.

Amen

Liturgie: 

ONTMOETING
Votum
Seën
Sang: Psalm 118: 1, 2 en 12
 
VEROOTMOEDIGING
Wet
Sang: Psalm 69: 1 en 3
Gebed
 
VERKONDIGING
Skriflesing: Nùmeri 20: 1 – 13 en Exodus 17: 1 – 7.
Sang: Psalm 106:1, 7 en 14
Gebed
Teks: Nùmeri 20: 12
Tema: God se oorvloedige sorg, ten spyte van ons ongeloof.
Sang: Psalm 36: 2 en 3
 
ANTWOORD
Gebed
Insameling van offergawes
Sang: Psalm 95: 1, 2 en 4
Seën