Preek: Johannes 10:1-5
Vandag word daar weer ampsdraers bevestig, ouderlinge en diakens.
Hulle is voorgedra, verkies en benoem in die ordelike weg.
Ons glo dat die Opperherder, ons Here Jesus, so sy gemeente lei om onderherders aan te stel.
Daar is die inwendige roeping.
‘n Persoon begeer in sy hart om ‘n ampsdraer te word, en hy sien dat die Here hom toegerus het met die gawes daarvoor.
En dan is daar die uitwendige roeping, as die gemeente daardie gawes in hom raaksien en hom voordra vir die amp.
So werk Christus in individue se harte en ook deur die gemeente, en so sorg Hy dat sy gemeente op aarde nie herderloos is nie.
Tema: Christus stel deurwagters as onderherders aan
Amen, amen, so begin Jesus hierdie gelykenis.
Met nadruk.
Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle.
Dit is ‘n betroubare woord.
Dan vertel Hy die gelykenis van die herder, die skape, die deurwagter en die skaapstal.
Skaapstal kan mens beter vertaal met kraal, soos die 2020-Vertaling doen.
Want in Israel was dit ‘n kraal soos ons dit hier in Suid-Afrika ken – ‘n ommuurde ruimte sonder ‘n dak, waar die skape die nag deurgebring het.
Aan die einde van die dag het die herder sy skape daarheen gebring, daarna het hy huistoe gegaan vir die nag, maar daar was ‘n deurwagter, ‘n hekwagter, wat die kraal opgepas het.
Christus het beloof dat, nadat Hy opgevaar het na die hemel, Hy sal sorg vir deurwagters as onderherders.
Dit het begin by die apostels wat Hy opgelei het.
En ook die opdrag wat Hy aan hulle gegee het om onderherders aan te stel orals waar daar kerke geplant word.
Hulle moes oudstes of ouderlinge aanstel.
Hulle moes ook diakens aanstel.
Die taak van die ouderlinge is om toesig te hou oor leer en lewe in die gemeente.
Die taak van die diakens is om toesig te hou oor die onderlinge diensbetoon.
Die toesig begin uiteraard met hulle eie voorbeeld.
Net soos Christus ‘n voorbeeld gestel het.
Hy loop voor die skape uit.
Veelseggend, in verskeie opsigte.
Eerstens, Hy gee die rigting aan, Hy ken die pad.
Tweedens, Hy is bereid om eerste die gevaar te trotseer.
Dit maak dit maklik vir die skape om te volg.
Hulle is nie huiwerig nie.
‘n Huurling, ‘n vreemde, sal weghardloop as daar gevaar kom, en die skape weerloos agterlaat.
‘n Huurling sal nie bereid wees om die ekstra myl te stap om die skape by die regte weiding uit te kry nie, en by waters waar rus is, soos Psalm 23 sê.
Die beeld wat Christus skets in Johannes 10 pas presies op sy lewenshouding toe Hy op aarde was.
Hy was suiwer in die leer.
Geen jota of titteltjie van die wet het Hy afgeskaf nie (Matt 5:18).
Hy was ook suiwer in lewe, ja selfs sondeloos.
Uit sy leer en lewe was duidelik dat Hy deur die Vader gestuur is as ware Herder.
So kan die ouderlinge goeie herders wees as hulle self suiwer in leer en lewe is.
En die diakens kan goeie herders wees as hulle eie lewe getuig van diensbetoon.
As deurwagter kan jy dit nie in eie krag wees nie, maar net deur self na die stem van die Goeie Herder te luister.
Maar dit eindig nie net by die goeie voorbeeld nie.
Deel van hulle herderstaak is ook onderrig.
Ouderlinge onderrig die skape in die ware leer, hoe ‘n Godvresende lewe moet lyk.
En diakens moedig die hele gemeente aan tot diakonale diensbetoon.
Die woord wat vir ons die gebruiklike woord vir die diakenamp geword het, was in die Nuwe Testament nog dikwels ‘n algemene woord.
‘n Diaken, of diakonos soos dit in Grieks heet, was ‘n dienskneg.
In daardie sin het ons almal ‘n diakonale taak, jonk en oud, manne en vroue.
Ons lewe getuig van gewilligheid om te dien.
Terselfdertyd stel Christus in die Nuwe Testament ‘n nuwe amp in.
In Handelinge 6 word sewe manne die hande opgelê, wat voortaan moes toesien dat die praktiese diensbetoon in die gemeente sy voortgang vind.
Dat niemand alleen swaarkry onder die druk van siekte, armoede, eensaamheid nie.
Hierdie nuwe amp vind ons verder ook in die Nuwe Testament.
Paulus roep Timotheüs op om ook manne aan te stel net soos in die gemeente van Jerusalem, en hy begin die woord diaken spesifiek vir hierdie amp te gebruik.
Hierop bou ons as kerke voort as broeders bevestig word in die diakenamp, om toe te sien op – soos die formulier sê – die ordelike voortgang van die liefdediens in Christus se gemeente.
“Deur huisbesoek af te lê, moet hulle uitvind waar daar nood is en moet hulle die gemeente tot mededeelsaamheid oproep.”
Die voorbeeld van die goeie herder word hier weer sigbaar.
Die goeie herder gaan soek sy skape op, juis as hulle in nood is – geestelike nood of fisiese nood.
Hy tel hulle op sy skouers en dra hulle terug na die kudde.
Hy beskerm hulle teen gevare.
Hy hou die kudde bymekaar.
Hierdie voorbeeld mag julle, ampsdraers, steeds voor oë hou by die uitoefening van julle amp.
Sorg dat julle bekend is by die gemeente, sodat die gemeente julle stem herken.
En aan die gemeente die oproep: Volg hulle.
Moenie vreemdes vertrou nie.
Hierdie herders is deur Christus aangestel.
As hulle Christus se stok en staf hanteer (Ps 23:4), al mag dit pynlik wees, waardeer hulle daarvoor.
En moenie mense wat nie deur die deur kom nie, maar van ‘n ander kant af inklim, vertrou nie.
Christus is die deur.
En as Hy op die ordelike wyse ampsdraers aanstel, is hulle die deurwagters.
Hulle maak die deur oop- en toe.
Hulle bedien Christus.
Hulle sien toe dat die skape na Christus se stem luister.
En op grond daarvan laat hulle binne en sluit hulle uit.
Ja as deurwagters het hulle ‘n verstrekkende taak:
Christus sê vir hulle: “alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.” (Matt 18:18)
Hoe weet die deurwagter vir wie om oop te maak?
Dit weet hy slegs as hy self die stem van die Goeie Herder ken.
Sommiges is goed daarin om sy stem te probeer naboots.
Hulle stroopsoet stemme klink dalk selfs soos ‘n engel uit die hemel, waarsku Paulus in Galasiërs 1:8.
Die deurwagter moet vir hulle die deur toehou.
Christus het eksplisiet vir sulkes gewaarsku.
Namens Hom waarsku Paulus as deurwagter die ouderlinge in Efese:
“Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie.” (Hand 20:29)
Tussen hakies, dis hierdie gemeente in Efese waar die apostel Johannes later self ook gearbei het, Johannes die skrywer van ons teks.
En op sy beurt het Johannes nuwe deurwagters aangestel.
Een van Johannes se leerlinge was byvoorbeeld Polikarpus.
Polikarpus was ’n herder, wat net soos sy Opperherder, bereid was om sy lewe af te lê.
Hy het die marteldood gesterf.
Maar voor sy dood het hy ook al nuwe onderherders, deurwagters aangestel.
Een van hulle was Irenaeus, ’n bekende persoon uit die kerkgeskiedenis.
Hy het ’n belangrike rol gespeel in die weerlegging van Marcion se dwaalleer.
Marcion het groot dele uit die Bybel verwyder.
Hy was ’n dief, ’n rower, ’n valse herder.
Maar gelukkig het Christus dit so gelei dat sy kerk beskerm is teen hierdie ketter.
Ja, daar is mense wat van die kant af inkom, of dalk uit eie geledere opstaan (Hand 20:30), met meeslepende redenasies.
Pasop vir hulle!
Maar hierdie nuwe ampsdraers beloof vandag dat hulle hulle amp sal uitoefen soos Christus dit beveel het.
Hulle bely vandag weer hulle geloof in die hele Skrif, Ou en Nuwe Testament.
Hulle beloof dat hulle nie met nuwe benaderings die Skrif sal uitlê, om die Skrif ineens iets anders te laat sê as in die verlede nie.
Die deurwagters moet waarsku teen sulke diewe en rowers.
Ja, veediefstal, dit gebeur baie.
Skape verdwyn uit die kudde.
Hulle leef in sonde, die ampsdraers vermaan hulle.
Maar dan hoor hulle die stem van ‘n ander sogenaamde herder wat sê:
Kom oor na my kerk, hier noem ons jou sonde nie ‘n sonde nie.
Hier kan jy maar egbreek en hertrou sonder dat ons vrae vra.
Hier het ons nie ‘n probleem daarmee as jy eers ongetroud saamwoon nie.
Ons is tolerant.
Hier hoef jy maar een keer per Sondag kerk toe te gaan.
Hier kan jy maar rassistiese grappies maak.
Hier word mense wat homoseksueel leef ook in die amp toegelaat.
Hier gee dit nie om as jou eerste prioriteit in die lewe is om ryk te word nie.
Maar gemeente, die deurwagters wat vandag aangestel word, lê ‘n belofte af.
Hulle beloof dat hulle by die stem van die Here sal bly, niks meer, niks minder.
Hulle sal nie sieklik met ‘n alternatiewe manier kom om die Bybel uit te lê en toe te pas nie.
Nee, in lyn met Christus se ware kerk deur die eeue sal hulle voortgaan om te dien.
So is hulle leierskapstyl vir die gemeente bekend.
Die gemeente kan hulle kontroleer.
Hulle sal die kudde nie skielik na ander weivelde vat nie.
Hulle sal nie nuwe soorte gras in hulle keelgat afdruk, en hulle probeer oortuig dat dit ook voedsaam is nie.
Nee, die regte groen weivelde, en na waters waar rus is, sal hulle lei die kudde heenlei.
Jesus vertel die gelykenis van die goeie herder nie net uit die bloute nie.
Dis teen die agtergrond van die leierskapstyl van Fariseërs en Sadduseërs.
In die vorige hoofstuk het die Fariseërs ‘n blindgebore man wat deur Jesus genees is, uit die sinagoge geban.
Net omdat Hy sy geloof in Jesus bely het.
Die Fariseërs het gebooie en verbooie aan die Skrif toegevoeg.
Aan die ander kant van die spektrum het die Sadduseërs die Skrif bevraagteken, soos byvoorbeeld die opstanding ontken.
Jesus noem hulle blinde leiers (Matt 3:16).
Hulle is deurwagters wat die skape nie by die Goeie Herder bring nie.
Eerder, hulle hou die deur toe vir die Goeie Herder.
Hulle aanvaar nie dat dit Jesus is nie.
En die wat Hom as die Messias bely, ban hulle uit die sinagoge uit.
Maar Jesus betoon Hom ‘n ware herder, deur hierdie skapie te gaan opsoek.
Hy ken elke skaap by die naam, een vir een.
As een ontbreek, kom Hy dit dadelik agter.
Aanvanklik het die dissipels nie verstaan wat Jesus presies met hierdie gelykenis bedoel, dat Hy Homself as goeie Herder plaas teenoor die Fariseërs as diewe en rowers nie.
Dit het later wel al hoe duideliker geword.
Dat elkeen van hulle moes kies, net soos die blindgebore man ‘n duidelike keuse gemaak het:
Vertrou jy jou lewe slegs aan Christus toe?
Hoe is jou vertrouensband met die hemelse Herder?
Bely jy dat jy slegs by Hom lewe en oorvloed kan vind?
As deurwagters moet julle as ampsdraers die skape by die goeie Herder bring, en hulle nie verhinder nie.
Julle moet alles daaraan doen dat hulle ook, net soos julle, tot die oortuiging kom dat daar slegs by Hom lewe en oorvloed is.
En in hierdie verband gaan Christus nog ‘n stappie verder in die gelykenis.
‘n Goeie herder is naamlik selfs bereid om sy lewe af te lê vir die skape.
Dit is nogal ingrypend.
Dat ‘n herder byvoorbeeld ‘n leeu sal konfronteer om ‘n gewonde skaap uit sy bek te red.
Per slot van rekening, die lewe van ‘n mens is tog meer werd as die van ‘n skaap.
Watter herder sal dit doen?
Christus profeteer hier, en die dissipels het dit op daardie stadium nog nie verstaan nie.
Hy profeteer oor wat Hy self van plan was om te gaan doen.
Hulle, en ook my en jou lewe, was vir Hom meer werd as sy eie lewe.
Tog sê Jesus hier nie dat die herder verloor teen die leeu in die poging om die skaap te red nie.
Dan sou dit ‘n herder met goeie bedoelings wees, maar nie meer as dit nie.
‘n Werklik goeie herder is een wat in staat is om die leeu te verslaan, en die hele kudde veilig bymekaar te hou.
En so profeteer Jesus oor Homself.
Hy ken sy skape en hulle ken Hom.
Hy lê sy lewe af vir sy skape.
Maar Hy het ook die mag om die lewe weer terug te kry.
En nog iets wat sy dissipels op daardie stadium nie verstaan het nie, is wat daar staan in vers 16:
“Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.”
Hierdie woorde van Jesus word steeds verklaar in die sin dat Hy hier na die nuwe verbond verwys wat Hy gebring het.
‘n Bedeling waarin sy kudde sal bestaan uit skape afkomstig uit elke volk en taal en stam en nasie.
Rondom die Here Christus ontstaan ‘n veel groter kudde, ‘n nuwe eenheid.
Vir Christus is die beperkte kudde van die ou verbond te gering.
Dis reeds so voorspel deur Jesaja: “Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde.” (Jes 49:6)
Paulus regverdig sy prediking aan die heidene in Antiochië in Pisidië met hierdie profesie uit Jesaja.
Wat dit betref praat Jesus in vers 16 ook oor ons, sy kudde hier in Suid-Afrika, sy veelkleurige skape in hierdie land.
Christus het ook self gekies om sy lewe vir ons af te lê.
Niemand het Hom gedwing nie.
Hy het mag om dit af te lê en om dit weer te neem.
Daarom is Hy vandag nog steeds die lewende Herder.
Daarom stel Hy vandag nog steeds deurwagters as onderherders aan.
Want Hy is nog steeds besig om sy kudde te versamel.
Geliefdes, ontvang hierdie deurwagters, hierdie onderherders, as ‘n geskenk van u Opperherder.
Hulle waak oor julle siele en sal aan die Opperherder rekenskap moet gee.
Mag Hy deur hulle dienswerk sy kudde in die komende jare bewaar en ook verder uitbrei.
Amen.
Votum
Ps 95:4
Seën
Wet
Ps 32:3,4
Gebed
Skriflesing: Johannes 10:1-21
Ps 23:2 (2e beryming)
Teks: Johannes 10:1-5
Preek
Ps 80:1,2
Bevestiging ouderlinge en diakens
Seën
Opdrag aan ouderlinge en diakens
Opdrag aan gemeente
Ps 134:4
Gebed
Kollekte
Ps 23:1,3 (1e beryming)
Seën