Dis opvallend hoe ernstig die HERE is oor sy Naam.
Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik – nie misbruik (2020-Vertaling) – nie.
Vir God se kinders is sy Naam baie kosbaar.
Want dis Hy wat ons bevry het uit die slawehuis.
Sy Naam staan vir alles wat Hy vir ons beteken het en beteken en sal beteken.
Daarom, in ons dankbaarheidslewe, luister ons ook graag na die derde gebod.
Kom kyk vanaand wat die HERE ons met hierdie gebod wil leer.
Tema: Praat vrymoedig oor God, maar moenie sy naam misbruik nie.
1 Die naam van die HERE
2 Misbruik van die naam van God
Vloek
Jouself vervloek
Vals sweer
Onnodig sweer
Swyg
1 Die naam van die HERE
Jy mag die naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie.
Wat is die NAAM van die HERE?
In die derde gebod word HERE met vier hoofletters geskryf.
Op ander plekke in die Bybel word Here net met een hoofletter geskryf.
Dit is nie toevallig nie.
Die vertalers wil so ’n onderskeid aandui tussen twee verskillende woorde wat in Hebreeus vir God gebruik word.
Die eerste woord in Hebreeus is Adonai, dit word in ons Bybel vertaal met Here, met een hoofletter.
Adonai, oftewel Here, beteken: Hy is ons Meester, ons Eienaar, ons behoort aan hom.
Hy het ons gemaak en Hy regeer oor ons.
Hy is ons Baas, ons Heer.
Die tweede Hebreeuse woord is Jahweh.
Hierdie woord kan mens die eienaam van God noem.
Sy verbondsnaam.
Die naam waarmee Hy Homself aan sy volk bekend gemaak het – Exodus 3:14.
Jahweh beteken: Ek is wat Ek is.
Oftewel: Ek bly dieselfde. Ek is betroubaar.
Jy kan op My vertrou.
Hierdie naam, Jahweh, word in ons Bybel vertaal met die woord HERE – vier hoofletters.
Nou vind ons in die derde gebod spesifiek hierdie naam.
En die bedoeling is dat hierdie naam dui op wie God self is, en wie Hy vir ons is.
Dit is in lyn met die bedoeling van die derde gebod.
God verwag dat ons met groot respek praat oor sy Persoon, oor wie Hy is.
Dit bring ons by ’n volgende saak.
Dit gaan dus eintlik nie net oor ’n naam nie, maar dit gaan veral daaroor dat ons met eerbied praat oor wie Hy is.
En dat dit vir ’n skepsel verbode is om op ’n ydele, op ’n leë wyse, op ’n afkrakende manier oor Hom te praat of na Hom te verwys.
Om sy Naam te gebruik as ’n kragwoord, of as ‘slang’ – sê maar as ’n stopwoord.
En, soos ons almal weet, hierdie gebod is nog steeds baie aktueel.
Want hoeveel keer hoor jy dit nie om jou heen nie, dat die Here se Naam sommer net gebruik word.
‘O my Here’; ‘Jisses’; ‘o my God’; ‘o Jeez’; ensovoorts.
Mens behoort rillings te kry as jy dit hoor, veral in die lig van wie die HERE is en hoeveel Hy vir jou beteken!
Dit bring ons by die verskillende maniere wat die Kategismus noem, hoe die Naam van die Here misbruik kan word.
2 Misbruik van die naam van God
Vloek
In die eerste plek dink ons aan vloek.
Hom bewus slegsê.
Kom ek noem ‘n duidelike voorbeeld uit die Bybel.
Dink aan die geskiedenis van Goliat, wat die God van Israël gevloek het.
Elke dag het hy naby die Israëliete se tente kom staan en bewus lelike dinge gesê, nie net oor die bang Israëliete nie, maar ook oor hulle God.
Dit is iets wat God nie geduld het nie.
God het toe vir Dawid die moed gegee om daarteen op te staan en Goliat dood te maak.
Nog ‘n voorbeeld.
Die koning van Assirië, Sanherib, het op ‘n stadium die HERE bewus gevloek en gehoon.
Dit was toe hy met sy leër Jerusalem omsingel het.
Sy leërowerste het toe kliphard geskreeu om die Israëliete wat op die mure die stad bewaak het, te demotiveer.
Hy wou dat koning Hiskia se soldate in opstand kom.
Hy het bewus Israël se God se naam deur die modder gesleep.
2 Konings 18.
Eljakim het toe nog vir hom gevra: Praat asseblief Aramees, nie Joods nie, sodat al die mense hier nie jou gevloek en blasfemiese taal kan verstaan nie.
Maar hy het aspris bly Joods praat.
“Hiskía moet julle nie op die HERE laat vertrou nie deur te sê: Die HERE sal ons sekerlik red, en hierdie stad sal nie in die hand van die koning van Assirië oorgegee word nie.” (v30)
“Het die gode van die nasies elkeen sy land ooit gered uit die hand van die koning van Assirië? ... Wie is daar onder al die gode van die lande wat hulle land uit my hand gered het, dat die HERE Jerusalem uit my hand sou red?” (v33-35)
Maar soos mens verder in hierdie geskiedenis kan lees, God het sulke openlike onbeskaamde laster van sy Naam nie ongestraf gelaat nie.
Nie lank daarna nie is Sanherib toe deur sy eie seuns vermoor.
Hulle wat God vloek, sal nie ongestraf bly nie.
2b) Gemeente, daar is ook ’n ander manier waarop mens kan vloek.
En dit is as iemand homself vervloek, onder aanroeping van die naam van God.
‘Damn me’; of ‘mag God my vervloek’; die Nederlanders onder ons is dalk bewus van die Nederlandse uitdrukking, afgekort GVD.
Waar kom so ’n selfvervloeking eintlik op neer?
Dit is ’n vervloeking wat iemand – spottend – oor homself afroep, mense wat nie werklik in God glo nie.
Hulle maak asof God glad nie eers bestaan nie, en dat hulle daarmee die spot kan dryf.
Hulle gebruik God se naam as ’n kragterm, selfs as ’n vervloeking, omdat hulle meen – in hulle kortsigtigheid – dat niks hulle sal tref nie, want God bestaan tog nie.
Dit is dus ook ’n ydelike, ’n leë gebruik van God se naam.
God sal dit oordeel, en hierdie oordeel roep hulle ook nog oor hulleself af.
Hulle weet nie wat hulle doen nie.
Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God, staan daar in die Hebreërbrief (Hebr 10:31).
Ja sulke mense sal agterkom dat Hy inderdaad die lewende God is.
2c) Dit bring ons by die derde vorm van misbruik van God se naam.
Die Kategismus praat oor ’n valse eed.
Dit is ontleen aan Levitikus 19:12:
“julle mag nie vals sweer by my Naam en so die Naam van jou God ontheilig nie. Ek is die HERE.”
’n Voorbeeld hiervan in die Bybel is toe koning Agab die wingerd van Nabot wou afvat.
Daar was mense wat deur koningin Isebel opgehits is, omdat Agab die wingerd begeer het.
En hulle het as getuies opgetree en in die naam van God gelieg.
Ons ken ook wat bestempel kan word as die ergste voorbeeld van alle tye.
Hoe valse getuies in naam van God Jesus aangekla het voor die Sanhedrin, die Joodse Raad, en voor Pilatus.
Hulle het bewus gelief, en dan God se naam daarby betrek!
Die eed wat behoort te funksioneer as ’n beroep op God, wat as Skepper alles weet.
Die funksie van die eed is juis om vertroue tussen mense te herstel, as hulle alle vertroue in mekaar verloor het.
’n Valse eed is dus dubbel so erg, dit skend vertroue onherstelbaar.
Dit sal, sê die derde gebod, nie ongestraf bly nie.
2d) Die vierde vorm van misbruik handel ook oor die eed.
Waar die vorige voorbeeld gegaan het oor bewus vals sweer, gaan dit hier oor die onnadenkende gebruik van die eed.
Onnodig sweer.
Jesus se mening hieroor was kort en kragtig.
“laat julle woord wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose.” (Mattheüs 5:33-37)
En in Jakobus 5:12 lees ons:
“moenie sweer nie: nie by die hemel nie, ook nie by die aarde nie en ook geen ander eed nie; maar laat julle ja ja wees en julle nee nee, sodat julle nie onder ‘n oordeel val nie.”
Soiets het die Fariseërs gedoen.
Hulle het beweer dat jy ‘n egte eed, by God, nie mog verbreek nie.
Maar as jy ‘n eed afgelê het by die hemel of by Jerusalem, was jy nie verplig om so ‘n eed te hou nie.
Die Here Jesus het hierdie gewoonte aan die kaak gestel.
Dit is ‘n gekamofleerde manier om tog die krag van ‘n eed te misbruik.
Jesus het vir die Skrifgeleerdes gesê:
“Wee julle, blinde leiers, julle wat sê: Elkeen wat sweer by die tempel – dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die goud van die tempel, hy is gebonde.”
Die Here Jesus het hierdie haarklowery skerp veroordeel.
“wie sweer by die tempel, sweer daarby en by Hom wat daarin woon;
en wie sweer by die hemel, sweer by die troon van God en by Hom wat daarop sit.” (Matt 23:16-22)
Onnodig sweer, al is dit in ‘n verkapte vorm, dit aanvaar die HERE nie.
2e) ‘n Vyfde vorm van misbruik is vandag ook nog baie aktueel.
En dit is om te swyg.
Wie swyg, stem saam.
In Levitikus 5:1 staan dat as iemand ‘n luid uitgesproke beswering (‘n vloek) hoor, en dit nie te kenne gee nie, dra hy ook verantwoordelikheid daarvoor.
Wie swyg, is medeskuldig.
Wie sien dat iemand steel en nie die fluitjie blaas nie, word ook skuldig.
Wie sien dat iemand sondig en niks verder doen nie, dit verswyg, is ook aanspreeklik.
En dit geld dus ook wat betref misbruik van die HERE se naam.
Dit vra uiteraard moed om, as iemand vloek, op te kom vir die HERE se Naam.
Tog behoort dit die natuurlike reaksie te wees vir ‘n gelowige.
Watter kind kan dit verdra as ander mense openlik sy pa of sy ma afkraak?
En dit terwyl ons aardse ouers vol sondes is.
Hoeveel te meer as ons hemelse Vader se Naam afgekraak word?
Dit is iets wat jou hart seermaak.
Dit is iets waaraan mens nie gewoond kan, mag, raak nie.
Dit is in die sin dus ook ‘n toetsteen of jy werklik ‘n toegewyde Christen is.
Of dat jy maar net ‘n naamchristen is.
Duld jy dit as die naam van jou goeie Vader afgekraak word?
Jesus sê in Mattheüs 10:
“Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.” (Matt 10:32-33)
Sê daarom iets daarvan, vra mooi vir mense om op te hou vloek, veral as dit byvoorbeeld ‘n kollega is met wie jy elke dag te make kry.
Laat mense agterkom dat hulle gedrag nie aanvaarbaar is nie.
Nie omdat ons self sonder sonde is nie.
Maar omdat ons ernstig wil wees oor wat vir die HERE belangrik is.
Omdat ons besef dat dit vir die HERE self ernstige sake is.
Dit is vir hulle eie beswil dat vloekers lastig geval word.
Liewer vooraf geswaarsku as agteraf spyt hê, en dan is dit te laat.
Ons het uit Levitikus 24 gelees dat in Israel God ‘n duidelike straf op die oortreding van hierdie wet ingestel het.
Ons het gelees oor ‘n bewuste geval hoe die HERE se naam ontheilig is – deur laster en gevloek.
Daar was ‘n Israelitiese vrou getroud met ‘n Egiptenaar.
Hulle seun het op ‘n dag stry gekry met een van die Israeliete.
En om sy teenstander – dis soos hy naamlik gedink het – te ontkrag, het hy die naam van die HERE gelaster.
Letterlik staan daar: Die naam van die HERE deurboor.
Dis naamlik soos die heidene gedink het.
Onthou, hy het ‘n Egiptiese pa gehad en het so blyk dit nog baie heidens gedink.
Heidene het gedink dat elke volk sy eie god het.
En wanneer jy ‘n volk se god van sy krag beroof, dan kan jy jou teenstander maklik verslaan.
Daarom het hierdie seun van ‘n Egiptiese pa die Naam van die HERE gelaster, oftewel deurboor.
Maar dit het God dus nie geduld nie.
Hulle moes die persoon buitekant die laer bring – ‘n visuele uitbeelding dat hulle met sy sonde niks te make wou hê nie – en daar moes hulle hom stenig.
Opvallend is dat direk na hierdie insident geskryf word oor die doodslag van ‘n mens, en dat ook daarop die doodstraf gestaan het.
Hieruit kan ons aflei dat iemand wat so met die lewende God se Naam omgaan, net so ‘n swaar sonde begaan het as iemand wat iemand anders vermoor.
Met die sonde teen die derde gebod word die Here persoonlik verneder.
Pleks van die eer en lofprysing wat Hy verdien, word Hy gesmaad.
Dit is iets anders as wanneer iemand byvoorbeeld teen die sewende gebod oortree.
Dan doen iemand iets uit die swakheid van sy sondige menslike natuur, terwyl hy homself nie bewus teen God keer nie.
Dink byvoorbeeld wat Dawid gedoen het, toe hy Uria se vrou gevat het.
Dawid het daarna tot inkeer gekom en God het hom gestraf, maar ook vergewe.
Maar iemand wat die HERE laster, Hom vloek, keer Hom bewus teen God.
Daarom beskou die HERE so iemand nie as onskuldig, asof dit maar net woorde was nie.
God wou nie dat sy volk maar kon vloek en skel sonder dat dit gevolge sou hê nie.
Wie dit doen, is swaar gestraf.
Selfs die doodstraf.
Gemeente, mens kan dit vandag vergelyk met naamskending.
Vir naamskending kan iemand ook ‘n straf opgelê word.
Mens moet met eerbied die naam, die reputasie van jou naaste hanteer.
En met nog veel meer eerbied die Naam van jou God.
Nou is dit wel belangrik om op hierdie punt die volgende onderskeid aan te bring.
‘n Mens kan sê dat daar globaal gesproke twee soorte vloekers is.
Eerstens ‘n groep mense wat baie goed weet wie God is, wat waarskynlik self gedoop is, wat in die kerk opgegroei het, maar wat bewus met die Here en sy kerk gebreek het.
As hulle vloek, vloek hulle dikwels uit haat teen die Here, en teen die kerk, en teen Christene.
Hulle draai bewus hulle rug op die HERE.
Hulle is daarop uit om God se Naam te verneder, en ook die naam van Christene.
Maar daar is ook ‘n tweede groep.
Dit is mense wat net uit gewoonte vloek.
Dit is dikwels mense wat nie in die kerk opgegroei het nie.
Hulle het dalk opgegroei in huise waar hulle ouers gewoond was om te vloek, en hulle het maar net die gewoonte oorgeneem.
Om te vloek het hulle met die paplepel ingekry.
Tog weet hulle self nie wie die HERE is nie.
Hulle ken net die verdraaide, die karikatuurbeeld van God, wat hulle van hulle ouers oorgeneem het.
Hulle vloek uit gewoonte.
Vir hulle is ‘n vloekwoord maar net nog ‘n kragwoord.
Sulke mense sien en hoor mens dikwels, as dit nie op televisie of radio is nie, dalk op jou werk, of in die winkel.
Nou is dit nie so dat ek die vloekgedrag van hierdie tweede groep wil goedpraat nie.
Ook dit is strafwaardig.
Ons het uit Levitikus 24:16 gelees dat nie net die gebore Israeliet, maar ook die vreemdeling gestraf moes word by oortreding.
Ook dus die vreemdeling, wat miskien nog nie heeltemal besef het wat hy doen as hy die HERE se Naam ydellik gebruik het nie;
die vreemdeling wat dalk nog nie besef het hoe groot en almagtig die God van Israel is nie.
Maar dit het nie saak gemaak nie, ook hulle het onder die straf geval.
Hoewel God hulle onkunde waarskynlik in rekening sal bring, as – kom ons noem dit – versagtende omstandighede.
Gemeente, kom ons kom terug by onsself.
Ons mag die HERE, die lewende God, persoonlik ken.
Ons hoor elke Sondag: Ek is die HERE jou God, wat jou bevry het.
Danksy ons Here Jesus Christus is Hy selfs ons Vader!
‘n Vader wat sy Seun opgeoffer het vir ons!
En dis Hy wat elke Sondag vir jou sê:
Ek, wat so baie vir julle gedoen het en doen, vaardig hierdie wet uit.
Moenie my Naam ydellik gebruik nie.
Want julle weet wie Ek is, julle weet hoe Ek is.
Julle ken die naam van my Seun, wat julle van sonde en dood bevry.
As julle nou tog nog my naam sou misbruik, dan sê die Kategismus daaroor dat geen sonde God meer vertoorn nie as die lastering van sy Naam.
As jy dit tog nog doen, dan misken jy wie Hy is en wat Hy alles vir jou gedoen het.
Laat ons daarom, gemeente, aan die een kant vrymoedig, maar aan die ander kant met groot eerbied praat oor ons God.
Want Hy is die Vader van ons Heiland en Saligmaker, ons Here Jesus Christus.
Wie sou, pleks van vloek, Hom nie alle dank en eer en aanbidding daarvoor gee nie!
Amen.
Votum
Seën
Ps 145:1,2
Gebed
Skriflesing: Levitikus 24:10-23; Mattheüs 5:33-37; 23:15-22
Ps 5:10,11
Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 36
Preek
Ps 8:1-4,7
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Ps 145:5-7; 10-12
Seën