Die gebruik van die Naam van die HERE herstel vertroue op aarde

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2024-12-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 37
Preek Inhoud: 

Laas week het ons veral aandag geskenk aan wat die HERE verbied met die 3e gebod: die misbruik van God se naam in watter vorm ook al:

of dit deur vloek is, of jouself te vervloek, of vals of onnodig te sweer, of deur te swyg.

Vandag kyk ons met Sondag 37 na die positiewe kant van die derde gebod.

Die positiewe gebruik van God se naam.

Dit wat die HERE ons gebied in die 3e gebod.

Daar is soveel rede om sy Naam te gebruik, Vader, Seun en Heilige Gees!

Daar is soveel rede om Hom te aanbid en te loof!

In ons persoonlike lewe, en as gemeente, en in die samelewing.

Ons gaan die Kerstyd tegemoet.

In hierdie tyd gaan veral die Naam klink deur wie daar redding op aarde gekom het.

Annas en Kajafas en al die Joodse leiers het die apostels gevra in wie se naam hulle ‘n kreupel man genees het, waarna Petrus vrymoedig bely het dat geen ander Naam onder die hemel aan die mense gegee is waardeur ons gered moet word nie (Hand 4:12).
So het die apostels die derde gebod met dankbare harte nagekom.

 

Sondag 37 fokus in besonder op die aflê van ‘n eed.

Ook dit het met die derde gebod te make, omdat by ‘n eed die enigste lewende God se Naam gebruik word.

In die tyd toe die Kategismus geskryf is, was die gebruik van ‘n eed onder die Prostestante in diskussie.

Die sogenaamde Anabaptiste, Wederdopers, het die gebruik van die eed in sy geheel verwerp.

Daarenteen bely die gereformeerde Kategismus, met verwysing na voorbeelde uit die Bybel, dat die eed wel gebruik kan en mag word.

 

Tema: Die gebruik van die Naam van die HERE herstel vertroue op aarde

 

Ons gaan in hierdie preek kyk na hoekom die eed bestaan, en of dit in ons tyd nog verplig is; en tweedens gaan ons kyk na ’n paar voorbeelde uit die Bybel kyk, hoe die eed op positiewe wyse gebruik is, en dit as onderbouing vir die gebruik van die eed vandag.

’n Paar uit die Ou Testament, en ook een uit die Nuwe Testament.

Ons Here Jesus het toe Hy op aarde was die verkeerde gebruik van die eed aan die kaak gestel.

Ons het laasweek daarna gekyk.

Dit maak geen sin om te sweer, of dit nou by die aarde is of by die hemel, of by Jerusalem, of by wat of wie ook al nie.

Daar is slegs Een by wie jy kan sweer.

In die Kategismus het ons gelees oor die praktyk in die Roomse kerk om by heiliges en ander skepsels te sweer.

Oor hierdie praktyk kan mens kort en kragtig sê dat Jesus dit op presies dieselfde wyse aan die kaak sou gestel het.

En dit is wat die Kategismus dan ook doen in lyn met Jesus se onderwys.

 

Maar nou kom ons by vandag.

Hoe gaan dit in ons samelewing?

In Suid-Afrika kan jy kies of jy die eed wil uitspreek of nie.

As iemand kies om dit uit te spreek, dan het daardie persoon ook nog die reg om dit uit te spreek in die naam van die god wat hy dien.

Hoewel die eed in Suid-Afrika ’n Christelike oorsprong het, tog gee die liberale grondwet die moontlikheid dat ander godsdienste dit ook kan gebruik.

’n Moslim of Hindu kan by die aflegging aan sy eie god dink, of dit nou bestaan of nie.

Deur hierdie keusemoontlikhede het die eed eintlik reeds ’n groot deel van sy krag verloor.

Want in die regte geval lê iemand die eed af, en sy gewete sal hom waarsku as hy lieg, omdat die lewende God hom daarvoor sal straf.

Maar sê nou maar iemand wat in ’n ander god dien, ’n god wat nie bestaan nie, lê die eed af.

Wanneer daardie persoon sou lieg, is daar nie ’n lewende god om hom te straf nie.

Of, mens kan sê, die lewende God in die hemel gaan hom in elk geval straf, omdat hy die eed misbruik het.

Maar tog het die eed dan op aarde sy waarde verloor, omdat dit geen vertroue meer skep nie.

As jy in ‘n hofsaak ‘n eed aflê in die Naam van die lewende God, terwyl die persoon teenoor jou ‘n eed aflê in die naam van sy god, hoe kan die regter dan altwee vertrou?

Want een God is lewend, en die ander een bestaan nie.

 

En nog ’n ander vraag, watter gevolgtrekking moet mens maak as iemand weier om die eed af te lê?

Is dit as sulks al ’n bewys dat iemand nie die waarheid praat nie?

Al hierdie vrae illustreer dat die eed eintlik sy funksie vir ’n groot deel verloor het in die publieke lewe.

Die funksie van die eed is naamlik om daar waar mense vertroue in mekaar verloor het, dit tog weer te herstel, omdat almal onder die besef leef dat daar ’n hoër instansie is, ’n Persoon wat wel kan kontroleer of jy die waarheid praat.

 

Maar funksioneer dit vandag in ons land wel so?

As ‘n president die eed aflê by sy inhuldiging en hy sy regterhand in die lug hou en sê “so help me God” – kan mens dit vertrou?

Vroeër vanjaar, in Junie, het President Ramaphosa dit gedoen.

As hy ‘n Christen is, kan mens dit dalk vertrou.

Maar wat as die president ‘n ander god dien, of dalk geen god nie?

 

En as advokate die eed aflê, jaag hulle wel die waarheid na en niks anders as die waarheid nie?

Ek dink baie van ons hier in Suid-Afrika kyk maar skepties daarna.

En dit is die gevolg van ’n samelewing wat ver van die HERE en sy gebooie afgedwaal het.

En dit het op sy beurt tot gevolg dat die regspraak ’n kragtige instrument verloor het.

’n Samelewing wat die eerbied vir God se gebooie laat vaar, pluk op ’n stadium die wrange vrugte.

Byvoorbeeld dat ieder en elk net besorgd is oor sy eie belange, en dat mense reg voor mekaar kan staan en lieg sonder om skuldig te voel, dat mense hulle eie welvaart en belange veilig stel, maak nie saak of die waarheid in die slag bly nie.

’n Owerheid en ’n regstelsel wat met die eed torring, ondergrawe sy eie fondament.

 

Nou is dit nie net vandag wat die eed so aan inflasie onderhewig is nie, in die Here Jesus se tyd op aarde het mens soortgelyke omstandighede gesien.

In sy Bergrede fokus Jesus op die alledaagse gebruik van die eed.

Die devalusasie van die eed deurdat mense nie net by God gesweer het nie, maar by die tempel, of by die goud van die tempel.

Jesus het dit aan die kaak gestel.

Laat jou ja ja wees, en jou nee nee.

As iemand hom nie aan sy ja of sy nee hou nie, is hy onbetroubaar.

Het Jesus met hierdie opmerking die eed afgeskaf?

Nee, dit was nie sy bedoeling nie.

Dit was gebruiklik in die prediking van die Skrifgeleerdes in Jesus se tyd op aarde om dinge oordrewe skerp te stel.

Die doel was om mense te laat nadink.

So het Jesus op ’n ander plek in die Bergrede gesê dat jy jou regterhand moet afkap as dit jou sou verlei, of desnoods jou regteroog uitpluk.

Ook dit was baie oordrewe gestel om die mense op die erns van die situasie te wys.

Christus het die eed dus nie afgeskaf nie.

Maar Hy wou met sy prediking die eed wel weer in ere herstel.

 

Die Kategismus sê tereg dat die eed op God se Woord gegrond is.

In Deuteronomium 6:13 staan byvoorbeeld:

“Jy moet die HERE jou God vrees en Hom dien; en by sy Naam moet jy sweer.”

Jesus se woord dat ja ja moet wees en nee nee verander niks daaraan nie.

In die Nuwe Testament lees ons in Hebreërs 6:16:

“mense sweer by een wat meer is, en die eed van bevestiging is vir hulle die einde van alle teëspraak.”

Dus ook in die Nuwe Testament word die eed gehandhaaf.

 

Kom ons kyk nou, in die tweede plek, hoe die eed in die Bybel self gebruik is.

Is daar voorbeelde in die Bybel wat ons wys hoe die eed behoort te funksioneer, en dan op die regte manier?

Is daar voorbeelde hoe die eed ’n positiewe uitwerking gehad het?

Ja gemeente, daar is.

Kom ons kyk wat ons daarvan kan leer.

 

Byvoorbeeld in Genesis 21 is die goeie verhouding tussen Abraham en Abimeleg, toe dit onder spanning te staan gekom het, gered deur die eed.

Abimeleg het vir Abraham gevra om die eed af te lê.

Toe Abraham dit doen, is Abimeleg se vertroue in hom herstel.

Dis ’n voorbeeld van wat die Kategismus sê: ’n eed in geval van nood.

Want Abraham het naamlik al ’n keer vir Abimeleg gelieg.

Abraham het gesê dat Sara sy suster is, en nie sy vrou nie.

Dit was nie waar nie.

Maar die gevolg was dat Abimeleg ’n verkeerde afleiding gemaak het.

Logies dat, toe Abimeleg dit later agterkom, sy vertroue in Abraham geskend is.

En vandaar dat Abimeleg nou tereg van Abraham eis om ’n eed af te lê.

 

’n Soortgelyke geval vind mens in Genesis 31.

Jakob en sy skoonpa Laban het finaal vertroue in mekaar verloor.

Laban het vir Jakob al ’n paar keer bedrieg, onder andere deur Lea pleks van Ragel vir hom as vrou te gee.

En op sy beurt het Jakob sy skoonpa ook al bedrieg.

In Genesis 31 het hulle paaie vir goed geskei.

Tog, dank sy die eed, het hulle op goeie voet uitmekaar gegaan.

Saam het hulle voor God ’n eed afgelê dat hulle mekaar in die toekoms nie meer sou teenwerk nie.

Nie dat hulle ooit vriende sou word nie, maar hulle het wel op goeie voet uitmekaar gegaan.

Danksy die eed was dit moontlik.

 

Nog ’n eed wat uit die nood gebore was, vind ons in 1 Samuel 24.

Dit is die geskiedenis oor hoe Dawid vir Saul se lewe gespaar het.

Saul het met sy soldate toevallig in dieselfde grot geslaap as waarin Dawid weggekruip het.

Dawid kon sonder veel moeite Saul net daar en dan om die lewe gebring het.

Hy het dit ook laat merk deur ’n stukkie van Saul se mantel met sy swaard af te sny.

En nadat Saul en sy lyfwag vertrek het, het hy dit vir hom gewys.

In reaksie hierop het koning Saul toe vir David gesmeek om by die HERE te sweer dat hy nooit Saul se nageslag sal uitroei nie.

Eintlik was dit in hierdie geval vir Saul glad nie nodig om van Dawid ’n eed te vra nie.

Daar was hoegenaamd geen aanleiding vir Saul om Dawid te wantrou nie.

Die omgekeerde was eerder die geval.

Saul het juis vir Dawid vervolg, en Dawid het Saul se lewe gespaar.

Maar die feit dat Saul tog hier van Dawid ’n eed vra, dui op sy verwarde toestand.

Saul kon niemand meer vertrou nie.

Sy gees het siek geword.

Hy kon hom nie voorstel dat iemand só goed kon wees, soos wat Dawid op daardie oomblik was nie.

Dit het vir hom nie sin gemaak nie.

Hy vervolg Dawid tot die dood.

Maar Dawid, al het hy die kans gekry, maak hom nie dood nie.

Saul het waarskynlik gedink: Dit kan gewoon nie waar wees nie.

Dawid het nou wel my lewe gespaar, maar hy moes een of ander verborge motief gehad het.

Om dit so te stel: Komplotteorieë het in Saul se kop rondgespook.

En dis hoekom hy van Dawid hier ’n eed eis.

Dawid het ingestem.

Hy het gesweer by die HERE dat hy Saul se nageslag sou beskerm.

Dawid se hart was oop voor God.

Hy het nie verkeerde motiewe gehad nie.

En ons weet uit die geskiedenis dat Dawid sy eed ook nagekom het.

Nooit het hy die hand geslaan aan Saul se familie nie.

Meer nog, hy het sy familie selfs aktief beskerm.

Dink byvoorbeeld hoe hy vir Saul se kleinseun, Mefiboset, gesorg het.

Dawid het ook, nadat Saul se seun Isboset deur ’n sluipmoord om die lewe gebring is, gesorg dat hy tog ’n eervolle begrafnis kry.

Dawid het hom dus aan sy eed gehou.

 

Daar was nog ’n keer toe Dawid ’n eed afgelê het.

Ons lees dit in 2 Samuel 3.

Ook hierdie keer was dit in ’n noodsituasie.

Dit het gegaan oor hoe Abner, die leërowerste, om die lewe gekom het.

Hy is naamlik deur Joab vermoor.

Maar die volk het vermoed dat Dawid eintlik daaragter gesit het.

Deur egter te sweer het Dawid aan die volk duidelik gemaak dat dit nie hy is wat agter die moord was nie.

Danksy hierdie eed is die volk se vertroue in Dawid toe weer herstel.

Ons lees in vers 37:

“En die hele volk en die hele Israel het dieselfde dag gemerk dat dit nie van die koning gekom het om Abner, die seun van Ner, dood te maak nie.”

 

Ek noem nog ’n laaste keer waarvan ons weet dat koning Dawid ’n eed afgelê het.

Dit was by die troonopvolging van Salomo.

Daar het ’n krisis gedreig, omdat Dawid se ander seun Adonia ook na die troon geding het.

Dawid het toe, ter wille van die behoud van vrede en stabiliteit in die land, ’n eed afgelê.

1 Konings 1:29: “Toe sweer die koning en sê: So waar as die HERE leef wat my uit alle benoudheid verlos het, sekerlik, soos ek ... gesê het dat ... Salomo na my koning moet word en hy op my troon moet sit in my plek, sekerlik so doen ek vandag nog.”

Deur hierdie eed af te lê het Dawid na alle kante toe duidelikheid verskaf.

 

Tot dusver het ek ’n paar voorbeelde uit die Ou Testament genoem.

Maar die Nuwe Testament ken die eed ook.

Soos ek reeds gesê het, Jesus het dit nie afgeskaf nie.

En dus het die apostels ook daarvan gebruik gemaak.

Dink byvoorbeeld aan die eed wat Paulus aflê in 2 Korinthiërs 1:23.

As gevolg van verdagmakery deur sommige lidmate in Korinthe het die gemeente sy vertroue in Paulus verloor.

In sy tweede brief aan die Korinthiërs, ’n brief wat hy geskryf het met die bedoeling om die saak uit te praat, gebruik Paulus dan ook bewus ’n eed:

“ek roep God as getuie aan ...” – 2 Korinthiërs 1:23.

Die onderlinge vertroue moes duidelik weer herstel word.

 

Jesus het in sy prediking die misbruik van die eed aan die kaak gestel.

Sy prediking vorm die basis waarop medegelowiges met mekaar omgaan.

Jou ja moet ja wees en jou nee nee.

Dit is die norm.

Ons mag die eed nie misbruik nie, maar in uitsonderlike krisissituasies is die eed wel daar om te gebruik, soos Paulus dit gedoen het om die vertroue tussen hom en die Korinthiërs te herstel.

 

In hierdie verband is dit dalk goed om te besef dat mens ook op ’n ander manier wêreldgelykvormig kan word, naamlik deur nooit meer die eed te gebruik nie.

Antwoord 101 van Sondag 37 noem twee gevalle waar die eed uitkoms kan bied.

Wanneer die owerheid dit van sy onderdane eis.

En ten tweede, in geval van nood.

En die doel is, sê die Kategismus, om daardeur trou en waarheid te bevestig.

En dit tot eer van God en tot heil van die naaste.

 

In ons huidige omstandighede is dit ’n feit dat Christene waarskynlik baie selde die eed sal gebruik.

As jy toevallig by die polisie of by ’n ander owerheidsinstansie werk soos die geregshowe, moes jy waarskynlik die eed by jou beëdiging aflê.

Maar ek dink dat daar baie mense vanoggend hier in die kerk is wat nog nooit ’n eed afgelê het nie.

Ook nie eers in ’n noodsituasie nie.

By hierdie laaste punt wil ek bietjie stilstaan.

Die goeie gebruik van die eed kan naamlik ’n baie positiewe uitwerking hê.

Dat mense naamlik oop en eerlik met mekaar bly omgaan.

Om te voorkom dat daar tussen mense ’n sfeer ontstaan waarin hulle altyd iets agter jou woorde soek, en jou nie meer op jou woord glo nie.

 

Dit kan gebeur dat ampsdraers in ’n konfliksituasie moet bemiddel, waarin die een party se weergawe die omgekeerde is as die ander party s’n.

Met die gevolg dat die saak nie opgelos en bygelê kan word nie.

Die ampsdraer kan maar net wonder wie die waarheid praat en wie nie.

In so ’n situasie kan ’n ampsdraer uit nood iemand vra om ’n eed af te lê.

In die kerk behoort dit eintlik glad nie nodig te wees nie.

Maar selfs in die kerk kan daar situasies ontstaan dat verhoudings totaal vasloop, dat wantroue die botoon voer, soos ook die geval was tussen die apostel Paulus en die gemeente in Korinthe.

 

Wie in geval van nood die eed gebruik, mag vertrou dat God dit sal seën.

Wie hom egter neerlê by onreg, by die feit dat die broeder- of susterband verbreek is,

terwyl uit die praktyk blyk dat daar twee verhale in omloop is,

as mens jou dan maar net daarby neerlê, dan kan ons ook nie op God se seën reken nie.

God gee juis ’n instrument om uit hierdie doodloopstraat uit te kom.

Die tema van die preek lui:

Die gebruik van die Naam van die HERE herstel vertroue op aarde.

Ons fokus in hierdie preek op die positiewe gebruik van die derde gebod.

Ook deur die gebruik van die HERE se naam in ‘n eed.

Ja, daar is die gevaar van misbruik.

Maar daar is ook somtyds die noodsaak van gebruik.

En ons mag die HERE vertrou dat Hy dit sal seën.

 

Maar die eed is natuurlik nie die enigste manier hoe ons die HERE se naam positief kan gebruik nie.

Laat ons in die komende Kerstyd sy Naam dikwels gebruik.

Laat ons van ons kant alles daaraan doen dat dit ‘n Christusfees bly, net nie ‘n sentimentele tyd nie.

Ons gaan weer die bekende gedeeltes uit die Kersgeskiedens hoor ...

Soos die engel se opdrag aan Maria: Sy Naam sal Jesus wees, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos (Matt 1:21).

Hulle sal Hom Emmanuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons (Matt 1:23).

Laat sy Naam vrymoedig klink in die feestyd.

Laat ons Kersliedere Jesus se Naam verheerlik, ja God Drieënig, Vader, Seun en Gees.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 117:1

Wet

Sb 26:1,10,11

Gebed

Skriflesing: 1 Samuel 24:17-23; 2 Samuel 3:30-39; 2 Korinthiërs 1:12-2:4

Ps 33:11

Teks: 3e Gebod – nav Heidelbergse Kategismus Sondag 37

Preek

Sb 30:1,5,6

Gebed

Kollekte

Ps 145:1,5,12

Seën