Met die vierde gebod bring God sy skepping tot rus

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2025-01-12
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 38
Preek Inhoud: 

Dis ‘n nuwe jaar en stadig maar seker begin ons ons agenda’s te beplan.

Dis nie altyd lekker om te dink aan alles wat moet gebeur so aan die begin van ‘n nuwe jaar nie.

Die vakansiestemming is nog bietjie in ons en mens moet weer spoed optel.

As mens op die kerk se Jaarbeplanner, ook wel Kerkkalender genoem, kyk, val dit op dat daar een dag in elke week van die nuwe jaar alreeds bespreek is.

En dit is die Sondag.

Waar ons nog onseker kan wees wat ons al die ander dae van die jaar gaan doen, staan al vas wat ons elke Sondag gaan doen.

En waar ons kan opsien teen al die afsprake waarmee ons agenda’s gaan voloop, is die vreemde dat ons nie teen hierdie dag opsien nie.

Inteendeel, ons is bly dat hierdie dag alreeds gereserveer is.

Gereserveer as ‘n rusdag.

En dit het natuurlik alles met die vierde gebod te make, waarna ons vanaand hoop te kyk.

Die feit dat ons jaar lyk soos dit lyk, het alles te make met God se skeppingsinstelling.

Behalwe vir die seisoene is daar die ritme van die week, 7 dae, waarvan 6 dae arbei en een dag rus.

So het God dit reeds in die paradys ingestel, en so kom ons dit nog steeds na.

Waar mens op ‘n weeksdag soms met ‘n swaar gemoed kan wakker word, in die lig van alles wat daardie dag moet gebeur, take wat ingehandig moet word, eksamens wat geskryf moet word, opdragte wat afgehandel moet word, dis nie dikwels dat mens op ‘n Sondag met ‘n swaar gemoed wakker word nie.

Gelukkig nie, want God sy dank, dis ‘n rusdag.

Op sy gebod.

‘n Gebod waarvoor ons baie dankbaar is.

 

In die samelewing om ons heen is die vierde gebod soos ‘n ou juweel wat dikwels nie op waarde geskat word nie.

Kom ons kyk vanaand hoekom hierdie juweel nog steeds glinster, en hoekom ons dit toewens aan elke mens op aarde.

 

Tema: Met die vierde gebod bring God sy skepping tot rus

1 Die rusdag is ’n feesdag

2 Die feesdag is ’n rusdag

 

1 Die rusdag is ’n feesdag

In die Nuwe Testament lees ons dat die Christene op die dag van die HERE bymekaar gekom het om na die Evangelie te luister, saam te bid, saam God te prys, en die sakramente te gebruik (Hand 2:42).

Met die dag van die HERE word bedoel die dag waarop Christus uit die graf opgestaan het.

Dis die Sondag, die eerste dag van die week.

Die Joodse Sabbatsrus het die Christene begin vier op die Opstandingsdag.

Die Sabbatsrus gaan terug op die skepping.

God het die wêreld in ses dae geskape, maar op die sewende dag het Hy gerus.

Die Christene het besef dat die opstanding van Christus ’n gebeurtenis net so indrukwekkend is as die skepping.

Hulle het besef dat sedert Pase, Hemelvaart en Pinkster ’n nuwe tydperk aangebreek het.

Rede genoeg om die Dag van die HERE, dis die Sondag, eerste dag van die week, voortaan as rusdag te vier.

 

Wie feesvier, doen dit nooit alleen nie.

Daarom soek die lede van Christus se liggaam mekaar op.

Hulle kom bymekaar op die dag van hulle Hoof Christus.

Vanuit hierdie besef klink dan ook in Hebreërs 10 die oproep om die onderlinge byeenkoms nie te versuim nie.

Vanuit die beeld van die liggaam geredeneer, is dit ook ondenkbaar dat dit moontlik is.

As jy kerk toe wil gaan, kan jou een voet nie besluit om tuis te bly nie.

As jy kerk toe gaan, kan jou een arm nie besluit om liewerste uit te slaap nie.

Jy kan nie, gedeeltelik geamputeer, in die kerk verskyn nie.

So indringend is die oproep wat uit hierdie beeld tot ons kom.

Op die dag van die Here kom die hele liggaam bymekaar voor sy aangesig.

Dit is normaal in die kerk van Christus.

“laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Hebr 10:25)

Die dag wat nader kom is die jongste dag.

Elke Sondag staan in die lig van daardie dag.

Die dag as die Bruidegom sy opwagting maak.

Brand ons lampe?

Of sal ons slapende betrap word?

Het ons genoeg olie, dat ons lampe dan nog brandende sal wees, ook in 2025?

Juis die Sondag is bedoel om ons olie op te vul.

 

Nog ’n aspek wat die Kategismus noem, is dat naas die kerkdiens, die predikamp en die skole onderhou moet word.

Hier word bedoel, die opleiding van bedienaars van die Woord.

Dit is ook onderdeel van die 4e gebod.

Onafskeidbaar is die Evangelieprediking op die rusdag.

Dit is per slot van rekening hoekom daar iets soos rus bestaan, liggaamlik en geestelik.

Danksy Christus, danksy die heilsfeite van sy lewe, kry ons gemoedsrus, rus in ons harte, rus in ons hele lewens.

Die Evangelie mag nie op die agtergrond raak nie.

Juis daarom moet bedienaars van die Evangelie in elke generasie opgelei word.

Sodat die verkondiging van die Evangelie op die eerste dag van die week sal voortgaan, ook in die toekoms.

Want dit is wat die Sondag, die rusdag, primêr ’n feesdag maak: die Evangelie van die opgestane Christus.

 

Gemeente, laat elke week in 2025 met ‘n feesdag begin.

Moenie dat jou lewenslig uitdoof weens gebrek aan olie nie.

Jy het reeds twee afsprake, op elke Sondag van 2025.

Sal jy die res van die liggaam nie teleurstel nie?

 

Maar net so belangrik is om te beklemtoon dat hierdie feesdag ook ‘n rusdag moet bly.

 

2       Die feesdag is ’n rusdag

Nie verniet gebruik die Kategismus die woord rusdag nie.

Hierdie term is direk ontleen aan die vierde gebod.

Ses dae met jy arbei en al jou werk doen, maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie.

Op die rusdag mag en moet jy jou werk uit jou kop sit.

Dit is darem ’n heerlike opdrag!

Op Sondag geen baas, geen klant, niemand wat aan jou kop neul nie: het jy dit al gedoen; het jy dat al gedoen; is jy al klaar; wanneer gaan jy dit doen?

Op Sondag vier ons fees, saam met Hom wat die ewige rus in ons lewens gebring het.

En God sê: dit geld vir my hele skepping!

Vir mense en diere.

Vir werkgewers en werknemers.

Vir gelowiges  en ongelowiges.

Vir bekendes en vreemdelinge.

Jy kan dus nie redeneer nie: As iemand anders in elk geval op Sondag nie kerk toe gaan nie, as iemand anders in elk geval nie gelowig is nie, dan kan hulle maar werk.

Heel die skepping, alles wat God in ses dae geskape het, mag op die rusdag op asem kom.

En die rede wat die Here vir hierdie gebod gee is:

Want Ek het in ses dae die hemel en die aarde geskape, maar op die sewende dag het Ek gerus.

Hierdie dag het Hy spesiaal geheilig, toegewy, gereserveer om van sy eie handewerk te geniet.

Tot rus kom en geniet van al die goeie dinge wat die skepping bied.

 

Die vierde gebod is eintlik baie besonder.

’n Gebod wat jou beveel dat jy moet rus.

Eintlik sou hierdie gebod nie eers nodig hoef te wees nie.

Iets wat lekker is, is mos iets wat jy gewoonlik uit jouself doen.

Dit is vanselfsprekend.

Daar is geen bevel voor nodig nie.

Tog weet God hoe ons as mense is.

Wat vanselfsprekend behoort te wees, naamlik dat mense nie steel nie, en nie sy medemens doodmaak nie, en nie egbreek nie, dit is sedert die sondeval nie meer vanselfsprekend nie.

En so weet God ook dat mense verslaaf raak aan hulle werk, of aan hulle inkomste, dat hulle hulle liggaam daarvoor sal afmat en stukkend maak;

of dalk ander sal uitbuit vir eie gewin en dit nie in hulle sal opkom dat die ander ook rus nodig het nie.

Dink aan die 24-uurs ekonomie van ons hedendaagse samelewing.

Is dit werklik die bedoeling?

God wil dat mense gesond bly, sowel liggaamlik as geestelik.

Siedaar die noodsaak van die vierde gebod.

So leef die skepping tot sy eer, en so bly alles volhoubaar, wanneer mense goed vir hulleself en vir die skepping sorg, waaroor ons as rentmeesters aangestel is.

En dit leer die 4e gebod ons ook: Die skepping kom tot rus en herleef as dit fokus op sy Skepper.

As dit sy Skepper eer.

God se eer staan nie in kompetisie met mense se welsyn en welvaart nie.

Wanneer mense aan God die eer gee, bevorder dit juis hulle eie welsyn.

 

Gemeente, besef u dat ons hierdie juweel ontvang het?

In die Vrye Gereformeerde Kerke is daar ’n tradisie wat vir die Sondag ’n baie spesiale plek gee.

Dit is een van die eerste dinge wat mense, wat nie lid is nie, sal raaksien.

Die manier hoe die Sondag deurgebring word, is anders.

Dan praat ek nie net oor die twee keer kerk toe gaan op Sondag nie.

Ook die gewoonte om letterlik geen werk te verrig nie.

Altans, soos dit in die etiek altyd omskryf is, geen werk behalwe vir arbeid van noodsaaklikheid en barmhartigheid nie.

Daaronder word verstaan dat polisie, dokters, verpleegsters, veeartse hulle take wat noodsaaklik is, bly doen.

En ook ander beroepe, wat as hulle sou stop om te werk op Sondae, ’n ramp sou veroorsaak.

En dat jy jou buurman help as die kalf in die put geval het.

Maar nogtans, geen gewone weeklikse werk op Sondag nie, ook nie huiswerk nie.

En dan is daar nog ander gewoontes, of eintlik, juis nie gewoontes nie, maar dinge wat ons nie op Sondag doen nie.

Nie op Sondag inkopies by die supermark doen nie; nie op Sondag uiteet nie; nie op Sondag petrollaai nie; nie op Sondag die langpad vakansie toe vat of terug huis toe nie, sorg dat as jy ’n vliegkaartjie bespreek, jou reis nie op ’n Sondag val nie.

Alles dinge om te voorkom dat ons ander vir ons laat werk op Sondae.

Nie vir niks staan dit so eksplisiet in die vierde gebod dat nie net jy nie, maar ook jou dienskneg en diensmaagd en vreemdelinge moet kan rus op Sondag nie.

Het u al daaroor nagedink hoekom die HERE dit so eksplisiet daarin gesit het?

Dis dalk lekker ontspannende dinge vir ons om te doen, maar dit is dinge wat ten koste gaan van ander se Sondagsrus.

In alles neem ons ons naaste in ag, sodat hulle nie as gevolg van ons leefstyl op Sondae moet werk nie.

 

Laat ons eerlik wees, hierdie ’n leefwyse wat baie spesiaal is.

Sommiges sal dalk sê: Julle is eienaardig.

Maar laat dit nie net ‘n tradisie wees nie, laat ons die jeug en mekaar onderrig hoekom dit so is.

Dis opvallend dat die vierde gebod die langste van die 10 gebooie is.

Hoekom is dit so?

Miskien omdat God besef het dat ons as mense so gou nie verder dink as ons neuse lank is nie, nie verder dink as ons eie belange nie.

En daarom dat Hy die vierde gebod in soveel detail uitstippel.

Dink daaraan, Ek gee nie net vir jou die rusdag nie.

Maar jy moet ook bereid wees om rus te gun aan jou kinders, en aan jou bediendes, en aan die vreemdelinge – buitelanders, en selfs aan die diere!

 

Toe die volk van God teruggekeer het uit die ballingskap, in Nehemia se dae, het hulle teruggekeer in ’n land waar die heidene oorgeneem het.

As groepie teruggekeerdes was hulle omring deur heidene en heidense leefgewoontes.

Met die gevolg dat – omdat hulle self die Woord van die HERE en sy wette nie goed geken het nie – hulle van die heidense gewoontes oorgeneem het.

Een van hierdie gewoontes was dat handel en sake doen gewoon op die sabbat voortgegaan het.

Ons het daaroor gelees.

Vir Nehemia was dit ’n doring in die oog – want hy het God se wet wel geken.

En ons het gelees van die maatreëls wat Nehemia geneem het om hierdie ontheiliging van die Sabbat stop te sit.

Watter ryke seën is dit nie as ’n land of ’n stad ’n regeerder soos Nehemia het, wat die bevolking op die regte pad lei.

Nie dat dit vir Nehemia maklik was nie.

Hy het baie teenstand ondervind, nie net van die heidene nie, maar ook van sy eie volk.

Tog het die HERE se wil sy kompas gebly, en was hy nie afhanklik van die mense se goeddunke nie, maar het hy telkens homself afgevra wat die HERE van hom dink.

 

Gemeente, dit kan u ook wees, juis wat betref die Sondagsbesteding.

Moenie wonder oor wat ander mense van jou dink nie, maar wonder oor wat die HERE van jou vra.

Die HERE se wil is baie duidelik, soos ons dit ontvang in die vierde gebod.

Die HERE sê nie net dat jy moet rus, liggaamlik en geestelik nie.

Hy sê ook eksplisiet dat die mense om jou moet rus, selfs die diere.

Jou seun, jou dogter, jou dienskneg, jou diensmaagd, selfs die vreemdeling in jou poorte.

Jou rus mag dus nie ten koste gaan van iemand anders se rus nie.

Suid-Afrika is tipies ’n land waar die ryk mense kan rus, maar die arm mense, die bediendes, die tuinmanne, die rakkevullers en kassiere, die ‘waiters’, hulle moet werk op Sondag!

Die keuse vir ’n bepaalde manier van Sondagsbesteding is nie net tradisie nie, dis nie omdat ons moeilik en streng wil wees nie.

Dit gaan terug op God se barmhartigheid, nie net vir jouself nie, maar ook vir alle mense.

Ons verlang na ’n land waar almal op Sondag kan rus.

Ons verlang na ’n land waar op Sondag die kerk se parkeerterrein vol is, en die ‘malls’ is.

Waar op Sondag beide ryk en arm kan opgaan na God se altare, sy lieflike woning.

Waar op Sondag ryk en arm kan geniet van die samesyn van ouers met hulle kinders, en met hulle oupas en oumas, en waar ook die enkellopendes en vreemdelinge nie vereensaam nie, maar deel is van die gemeenskap van die heiliges.

Gemeente, oud en jonk, ek hoop julle besef, julle is nog steeds in besit van ’n ou baie kosbare sierraad.

Moenie dat dit van jou weggevat word nie.

Laat ons ons voorneem aan die begin van ‘n nuwe jaar:

Vir my en my huis sal die Sondag heilig bly, dit sal ‘n lekker, ‘n aangename dag bly.

Want dit is wat die HERE beveel, en Hy is goed vir ons.

 

Dit is ook die strekking van die pragtige gedeelte wat ons uit Deuteronomium 6 gelees het.

As jou kinders vir jou vra: Moet ons nou alweer kerk toe gaan?

Dan kan jy dankbaar en vrymoedig aan jou kinders vertel hoekom jy kerk toe wil gaan.

Die Here lê die gebooie nie aan ons op om dit vir ons moeilik te maak nie.

Maar juis omdat Hy die beste vir ons soek.

God se volk was slawe in Egipte, maar die Here het hulle bevry en hulle ’n eie land gegee.

En die rede hoekom Hy die gebooie gee, is sodat dit alles goed met hulle sal gaan.

Sy gebooie wys die pad deur die lewe.

Dit geld ook vir die vierde gebod.

Nie vir niks verwys God in Deuteromium 5, as die tien gebooie vir die tweede keer in die Bybel staan, na die bevryding van sy volk uit Egipte nie.

So mag ons dit ook aan ons kinders en alle mense vandag verduidelik.

En dan nie die bevryding uit Egipte nie, maar Christus se bevryding uit die graf!

Sy oorwinning oor die dood en die Satan.

Is dit nie iets om gereeld te vier nie!

En die Heilige Gees leer ons om nog verder te kyk.

Christus is besig om die ewige sabbat voor te berei.

Die nuwe hemel en aarde.

Dit is ons finale bestemming waarna ons uitsien.

Van hierdie fees kry ons ’n voorproefie elke keer as ons op Sondag rus.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum: Ps 121:1

Seën

Ps 122:1

Gebed

Skriflesing: Deuteronomium 6:20-25; Nehemia 13:15-22

Ps 118:10

Skriflesing: Hebreërs 10:19-31

Sb 26:6

Teks: 4e gebod – nav Heidelbergse Kategismus Sondag 38

Preek

Ps 84:1,2

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 84:3

Kollekte

Ps 84:4-6

Seën