Kinders wat net doen wat hulle wil, al skree ma en staan op haar kop.
Leerders wat vir die juffrou uitlag terwyl sy magteloos voor die klas staan.
Bestuurders wat deur rooi ligte jaag, selfs al staan ‘n polisieman net anderkant die robot.
Taxis wat 140 jaag, selfs al is daar ‘n 100-km stieker agterop die taxi geplak.
Mense wat vullis stort, selfs al staan daar ‘n bordjie dat dit verbode is.
Die vyfde gebod, altans die oortreding daarvan, is ‘n alledaagse ding.
Ook die ander kant van die gebod:
Onderwysers wat kinders misbruik.
Polisiemanne wat mense afpers om omkoopgeld te betaal.
Ministers wat burgers se swaarverdiende belastinggeld verkwis.
Elke Sondag hoor ons die woorde uit Exodus 20:12:
“Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die HERE jou God aan jou gee.”
Of uit Deuteronomium 5:16:
“Eer jou vader en jou moeder soos die HERE jou God jou beveel het, dat jou dae verleng mag word en dat dit met jou goed mag gaan in die land wat die HERE jou God aan jou gee.”
Duidelik trek die HERE ‘n verband tussen hierdie gebod en ‘n goeie lewe.
Dit is waarna ons in vanaand se preek mag kyk:
Tema: Gesag maak die lewe goed
1 Oorsprong van gesag
2 Aard van gesag
3 Reikwydte van gesag
4 Handhawing van gesag
1 Oorsprong van gesag
Met die vyfde gebod begin ons met die tweede tafel van die wet, die omgang met ons naaste.
Natuurlik sal dit in die tweede tafel ook oor God gaan.
Ons eer Hom ook in ons diens aan die naaste.
Dit is nie toevallig dat die tweede tafel met hierdie gebod begin nie – die gebod van die gesag.
Gesag is naamlik die grondvoorwaarde vir alle saamlewe tussen mense.
Gesag gee orde en rus.
Die gebooie wat volg is in sekere sin afgelei van hierdie gebod.
Jou lewe, jou huwelik, jou besit, jou goeie naam word alles veilig gestel deur gesag.
Gesag is onontbeerlik by die opvoeding van die jeug om hulle te leer om al die gebooie na te kom.
As daar tuis of op skool geen gesag is nie, sal die jeug ook nie die ander gebooie hulle eie maak nie.
Uit die vooraanstaande plek van hierdie gebod in die tweede tafel kan mens ook die belofte verklaar, wat aan hierdie gebod toegevoeg is.
Eerbied vir gesag word baie konkreet deur die HERE geseën.
Jy ontvang van Hom ‘n goeie lewe in die land wat Hy jou gee.
In Efesiërs 6:2 word hierdie belofte nog breër gestel: ‘n goeie bestaan op hierdie aarde.
Selfs, skryf Paulus, mag jy lank lewe op die aarde.
Dit is die konkrete uitwerking van hierdie gebod: ‘n lang en vredevolle lewe op aarde.
Wie wil dit nie hê nie?
So lê hierdie gebod as fondament onder die ander gebooie.
En dan leer Sondag 39 wat die kern van hierdie gebod is.
Sien die laaste woorde: God wil ons deur hulle regeer.
God is self die allerhoogste Gesagsdraer, en Hy delegeer.
Gehoorsaamheid aan gesagsdraers is dus inderdaad gehoorsaamheid aan God self.
God skenk gesag aan mense op baie uiteenlopende maniere.
Kinders word in ‘n ouerhuis gebore, of in ‘n ouerhuis aangeneem.
Daardeur word die gesag gevestig.
‘n Aanstaande koning word gebore in ‘n land waar sy vader koning is, dus in die lyn van die troonopvolging, en dit bepaal sy toekomstige gesagsposisie.
‘n Regering word verkies deur die meerderheid van ‘n landsbevolking en so ontvang hulle hulle gesag.
‘n Juffrou word aangestel omdat sy gestudeer en ‘n onderwysgraad ontvang het.
‘n Ampsdraer word aangestel nadat die gemeente hom gekies en die kerkraad hom benoem het.
Op al hierdie verskillende maniere ken God aan mense gesag toe.
Hierdie gesag is vervolgens nie vryblywend nie.
Wie gesag ontvang, mag nie nee daarvoor sê nie.
En hierdie gesag is ook nie ongedefinieerd nie.
Gesag uitoefen is die spesifieke opdrag vervul wat Hy gee en op die manier wat Hy voorskryf.
Wie sy gesagsposisie versaak, veroorsaak groot skade aan die lewens van diegene wat onder hom of haar gestel is.
Laat gesagsdraers nooit vergeet: Die hele doel van gesag is die welsyn van die onderdane.
God roep jou om voorop te loop, leiding te neem.
Dit vra inspanning, opoffering, soms kies vir ‘n konflik – dink aan ouers wat hulle kinders straf, onderwysers wat met kinders raas, die owerheid wat ‘n boete oplê, ‘n ampsdraer wat vermaan.
Niemand hou van konflik en mens vermy dit liewer.
Maar soms moet ‘n gesagsdraer daardie moeite doen, om te kies vir ‘n konflik – ‘n konstruktiewe konflik, en dit met die oog op die beswil van die onderdaan.
En God stel jou aan as gesagsdraer omdat jy byvoorbeeld as ouer meer lewenservaring het, meer kennis het, wyser is, liggaamlik sterker is.
Alles eienskappe wat jy as gesagsdraer konstruktief moet inspan by die uitoefening van jou gesag.
So stel God gesagsdraers aan juis ten goede.
In Romeine 13:4 noem Paulus die owerheid ‘n dienaar van God, jou ten goede.
In Psalm 72 sing ons oor al die goeie dinge wat ‘n regverdige en Godvresende koning vir sy onderdane bring.
2 Aard van gesag
In Markus 10 beklemtoon Jesus dat om ‘n gesagsdraer te wees ‘n dienende taak is.
Die ma van Jakobus en Johannes, Sebedeüs se seuns, het net gefokus op die eer vir haar seuns, en haar eie trots, toe sy vra dat hulle mag plaasneem aan die regter- en linkerhand in die Messias se koninkryk (Matt 20:20v).
Maar Christus het juis sy gesag ontvang deur te dien.
Jesus sê aan sy dissipels:
“Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar so moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.”
Om te dien beteken egter nie dat jy as ‘n slafie agter jou onderdaan aanloop nie.
Jy moet voorop loop.
Die Here Jesus het as Leier vooropgegaan, selfs op die moeilikste paaie.
Hy het ons die weg gewys, selfs deur dood en graf heen na die ewige lewe.
In die vierde gebod het ons steeds met Hom te make.
Toe Christus na die hemel opgevaar het, het die Vader Hom alle mag oor hemel en aarde gegee.
Hy is Heer oor alles.
Maar op aarde stel Hy gesagdraers aan.
As jy na die gesagsdraer wat oor jou aangestel is luister, of dit jou pa of ma of onderwyser is, luister jy na Christus.
Agter menslike gesagsdraers sien ons Hom, die Heerser op die hemelse troon.
Daarom roep Paulus die kinders op in Efesiërs 6:
“Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here.”
Gehoorsaamheid aan hulle staan nie los van jou gehoorsaamheid aan die Here nie.
Dis onderdeel daarvan.
3 Reikwydte van gesag
Sondag 39 wys dat die vierde gebod ‘n breë strekking het.
Nie net vader en moeder, maar almal wat oor my gesag ontvang het.
Waar jy jou ook al bevind, orals sal jy gesagsdraers van die Here Jesus vind.
Tuis, in die kerk, op die pad, op jou werk, in die hospitaal, op die sportveld, in die buiteland, noem maar op.
Orals stel Hy hulle aan, en jy moet gehoorsaam.
Hulle is daar jou ten goede.
Tog sonder die vierde gebod nie toevallig een spesifieke gesagsverhouding uit nie, naamlik:
Eer jou vader en jou moeder.
Dit is naamlik die beginpunt van alle gesag.
Die gesin is die oefenplek om op ‘n goeie manier met gesag te leer leef.
Sowel vir kinders as ouers.
Vanuit die gesin kring die lewe uit in sy breë verbande in kerk en samelewing.
Daarom is daar ‘n uitdrukking wat sê:
Gesinsbederf is maatskappybederf.
As gesinne ontwrig, ontwrig die hele samelewing.
Wie sy ouers nie eer nie, kry nie ‘n goeie en lang lewe nie.
Ons sit met soveel probleme in ons land, omdat die gesinne ontwrig is.
Dis waar dinge begin.
In Sondag 39 word ook verduidelik hoe hierdie gebod konkreet in praktyk gebring word.
Jou vader en moeder eer beteken dat jy hulle liefhet.
Dat jy trou aan hulle bly.
Liefde en trou gaan saam.
Jou liefde vir jou ouers is nie afhanklik van jou gevoel nie.
Jou gevoel is wisselend.
Daar is dae wat jy hulle wil omhels.
Maar daar is ook dae wat jy ontsettend kwaad vir hulle kan wees.
Daar is trou nodig.
Trou is ‘n konstante te midde van wisselende stemmings.
Die woord trou is ook belangrik ten opsige van ander gesangsdraers.
Mens sal nie sommer sê dat jy die president, of onderwyser, of ampsdraer liefhet nie.
Maar wel dat jy trou aan hulle bly.
Ook as mens nie persoonlike affiniteit teenoor hulle ervaar nie.
Ook as hulle nie presies doen wat jou voorkeur is nie.
In hierdie verband skryf Sondag 39:
Laat ons ons met die verskuldigde gehoorsaamheid aan hulle goeie leer en tug onderwerp.
Die woordjie goeie word uiteraad gedefinieer vanuit God se wil.
Gesagsdraers maak nie self uit wat goed is nie.
Hulle moet altyd aanspreekbaar wees op God se Woord.
Watter gesagsdraer jy ook al is: nie net in die kerk nie, ook tuis, op skool, in die politiek, waar ook.
Op alle terreine van die samelewing het die Woord ‘n direkte boodskap vir gesagsdraers.
Die norm van God se Woord staan bo alle samelewingsverbande.
Wat goeie onderwys is, wat goeie politiek is, wat goeie opvoeding is, wat ‘n goeie huisbesoek is, wat goeie katkisasie is, dit word nie bepaal deur die onderdane en ook nie deur die gesagsdraers nie, maar wat God in sy Woord verwag.
4 Handhawing van gesag
Sondag 39 skryf ook oor straf.
God self gee ‘n wettige en onmisbare plek aan straf in elke gesagsverhouding.
Die afwesigheid van straf lei tot ‘n gesagskrisis.
As daar byvoorbeeld geredeneer word vanuit die innerlike goedheid van die mens, kan straf as oorbodig beskou word en sal slegs vriendelike aanmoediging nodig wees.
Maar die praktyk wys keer op keer dat dit nie werk nie.
Sonder straf in ‘n land, op skool, in die kerk, in ‘n gesin, ontspoor dinge.
Straf verskil uiteraard per samelewingsverband.
Waar daar in ‘n gesin of op skool fisiese straf kan wees, is straf in die kerk van geestelike aard.
In die burgerlike samelewing is straf dikwels in die vorm van ‘n boete, of die ontneming van iemand se vryheid.
En hoewel elke vorm van straf misbruik kan word, hef dit die goeie gebruik nie op nie.
Wie uit vrees vir misbruik straf agterweë laat, veroorsaak ‘n nog groter probleem.
Die HERE sê in Spreuke 13:24:
“Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.”
Die kinders weet dalk nie meer wat ‘n roede is nie.
Kom ek lees dit ook in die 2020-Vertaling:
“Wie sy lat terughou, haat sy seun”.
En in Spreuke 23:13-14 lees ons:
“Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie.”
2020-Vertaling:
“as jy hom met ‘n lat slaan, sal hy nie doodgaan nie. Jy slaan hom wel met ‘n lat, maar jy red sy lewe van die doderyk.”
En in Spreuke 29:15:
“Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar ‘n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.”
Broers en susters, hierdie woorde staan ook in die Bybel.
En ongelukkig is daar gesinne waar lyfstraf ontaard, waar ouers net uit woede dit doen, waar ouers hulleself te buite gaan en die troos agteraf ontbreek, waar daar geen gesprek en verduideliking saam met die lyfstraf plaasvind nie.
Maar weer eens, al is daar ongelukkig misbruik, die goeie gebruik bly staan.
Die Spreukeboek bevat ook Goddelike wysheid.
Met die goeie toepassing van die tug bewys jy jou kind ‘n onskatbare guns, waarvan hy sy hele lewe lank sal profiteer.
Ook op hierdie punt bewaar die Here ons deur sy Woord vir wêreldgelykvormigheid.
In gesinsverband.
Opvoeding is nie onderhandeling nie.
Kinders mag nie afding deur op die foute en gebreke van hulle ouers te wys nie.
Ouers moet nie, beseffende al hulle eie swakhede en gebreke, geen leiding meer durf te gee nie.
Ook in die kerk bewaar God se Woord ons vir wêreldgelykvormigheid.
Die Bybel bly die hoogste gesag hou.
Die Bybel is nie ‘n tydgebonde boek, dis nie net gedeeltelik waar nie.
Heel die Bybel is Christus se stem.
En elkeen mag die Bybel nie net na eie voorkeur uitlê nie.
Christus stel ampsdraers aan om te waak daaroor.
Nie dat gelowiges monddood gemaak word nie.
En as ampsdraers dwaal, is daar gesagstrukture om dit aan te spreek.
Daar is moontlikhede tot beroep op die klassis, of op die sinode.
En ampsdraers het belowe om self ook onderdanig te wees aan die uitsprake van hierdie vergaderings.
Ons mag nie self uitmaak wat vandag vir ons bindend is en wat nie.
En dan bewaar God se Woord ons ook vir wêreldgelykvormigheid in die samelewing.
Omdat wette nie toegepas word, word ons paaie al hoe gevaarliker.
Rooi stopligte word al hoe meer geïgnoreer.
En die polisie durf die wet nie meer toe te pas nie omdat hulle bang is vir hulle eie lewe.
Soveel probleme in ons samelewing kan herlei word na die grondprobleem: gebrek aan eerbied vir gesag, en gebrek aan handhawing van gesag.
Soos ek aan die begin genoem het: Die vyfde gebod is die fondament vir die tweede tafel van die wet.
Waar gesag ontbreek, word al die ander gebooie soveel makliker oortree.
En uiteindelik is die kern van die probleem dat die eerbied vir die Here ontbreek.
Die besef dat Christus op die hemelse troon sit, en Hy die gesagsdraers aanstel.
Gehoorsaamheid aan jou ouers, ampsdraers, onderwysers, polisie, owerheid, beteken dat jy gehoorsaam is aan Christus.
Ongehoorsaam wees aan hulle beteken dat jy ongehoorsaam is aan Christus.
En net soos dat kinders geduld moet hê met die gebreke van hulle ouers, geld dit ook vir volwassenes.
Dat hulle geduld moet hê met die en gebreke van die gesagsdraers bo hulle.
Al is gesagsdraers deur Christus aangestel, is hulle nie soos Christus nie.
Hy is volmaak as Persoon en in die uitoefening van sy taak.
Elke aardse gesagsdraer is onvolmaak.
Maar dit hef nie hulle posisie op nie.
Steeds mag en moet hulle hulle posisie met vrymoedigheid beklee.
Dat wetstoepassers nie bang hoef te wees om die wet toe te pas nie.
Dit beteken nie dat onderdane monddood gemaak word nie.
Op gepaste wyse mag onderdane die waarheid voorhou aan gesagsdraers.
Eerbied skakel kritiek nie uit nie, en kritiek skakel eerbied nie uit nie.
Mag die HERE ons die Gees van Christus skenk, sodat ons die boodskap van die vyfde gebod sal aanvaar.
Dat ons sal erken dat sy Woord wysheid en insig bied vir alle tye.
Mag die Gees ons skenk dat ons dit ter harte sal neem.
Sodat ons daardeur genesing sal ontvang, en dat ons lewenswyse ook ‘n soutende sout sal wees.
Ons tema vir vanaand is: Gesag maak die lewe goed.
Gesag is funderend vir die nakoming van die ander gebooie.
Gesag skep duidelikheid en orde.
Gesag bevorder die vrede.
Eerbied vir aardse gesagsdraers is eerbied vir Christus.
Ons geloof in Hom kry so hande en voete op aarde.
Mag sy heerskappy al hoe sigbaarder word op aarde.
Mag Hy, die Koning, altyd lewe! (Ps 72:8 berymd)
Mag die bewonders van die aarde soos plante groei by volle vrede (Ps 72:9 berymd).
Sy Naam, bo alle naam verhewe, sy uit eerbied die volle roem en eer gegewe! (Ps 72:11 berymd)
Amen.
Votum
Seën
Ps 72:1,2
Gebed
Skriflesing: Spreuke 29
Sb 26:7
Skriflesing: Efesiërs 6:1-9
Sb 49:6
Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 39 (5e Gebod)
Preek
Ps 72:8,9,11
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps 68:3
Kollekte
Ps 68:9,13
Seën