God se bouwerk

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2025-01-26
Teks: 
1 Petrus 2:4-8
Preek Inhoud: 

Preek: 1 Petrus 2:4-8

 

Die kerkraad het vir 2025 ‘n jaartema gekies:

“Die Christelike gesin as bousteen van die gemeente.”

Vandag se preek vorm ‘n inleiding op hierdie tema.

Die bedoeling is veral dat die tema in die huisbesoeke aandag sal ontvang.

Nie net om oor die tema te praat nie, maar om dit te gebruik om by die doel van huisbesoek uit te kom.

Die bevestigingsformulier verwoord die doel van die huisbesoek dat die ouderlinge moet toesien dat elke lidmaat in leer en lewe handel volgens die evangelie.

Daarby hoort vrae soos:

Vertel bietjie hoe die evangelie in jou lewe vrug dra.

Vertel bietjie watter gawes jy van die Here ontvang het.

Vertel bietjie hoe jy hierdie gawes aanwend, in die samelewing, in die kerk, in die gesin, wat betref die skool ...

Huisbesoek is nie bedoel om uit te vind wat gemeentelede van dinge dink nie, maar om die lidmate se lewens te leer ken, en daaroor die lig van die Woord te laat skyn, in vertroosting, aanmoediging en desnoods vermaning.

Om toe te sien dat elkeen van ons gewillig onsself as lewende stene te laat opbou, soos vandag se teks te verwoord.

 

Tema: God se bouwerk

  • Die Hoeksteen
  • Die lewende stene

 

  • Die Hoeksteen

In hierdie hoofstuk gebruik Petrus pragtige beelde om sy punt te maak.

Die eerste een is moedersmelk.

Dit is die eerste kos wat ‘n baba kry.

Daarsonder kan ‘n baba nie oorleef in die eerste fase van sy lewe nie.

Ja daar is blikmelk, formulemelk, hoe dit ook genoem word, wat mens in die winkel vir baba’s kan koop.

Maar dis nie dieselfde nie.

Die vitamines, minerale, perfekte balans van al hierdie verskillende bestanddele, die Skepper het dit volmaak ontwerp vir alles wat ‘n baba daardie eerste tyd nodig het.

Daar is ondersoeke wat aantoon dat baba’s wat moedersmelk gekry het, op later ouderdom minder siektes kry, minder allergieë, en beter groei.

 

Dit is die beeld wat Petrus gebruik.

Maar hier praat hy oor die geestelike lewe.

En die onvervalste moedersmelk is die Woord.

Daar is niks beter om die wedergebore lewe mee te voed as die Woord nie.

Vers 3 sê: noudat julle die goedheid van die Here gesmaak het.

Soos ‘n baba die moedersmelk proe en dit smaak na meer, gulsig is daarna.

Ons het geproe dat die Here goedertieren, intens goed vir ons is.

Ons ervaar hoe sy Woord ons laat groei.

Ons is gulsig na sy Woord.

Teen hierdie agtergrond word ons opgeroep om soos pasgebore baba’s sterk daarna te verlang.

 

Dit is die eerste boodskap.

Dit is gerig aan elke gelowige persoonlik.

Broer en suster, aan jou ook die oproep in hierdie nuwe jaar 2025:

Verlang soos ‘n pasgebore baba na die suiwer melk van die Woord.

Verbind jy jou, is dit jou voorneme in hierdie jaar, om elke dag die Bybel oop te maak?

Belowe jy vir die Here dat jy dit nie sal afskeep nie?

Belowe jy dat jy die Bybel sal lees, nie oppervlakkig nie, maar met die verlange om daardeur te groei?

Sal jy speur na wat die Here vir jou wil sê elke dag?

 

En onlosmaaklik hiermee verbonde is natuurlik die kom na die eredienste elke Sondag, waar ons onder die prediking van die Woord is, waar die voorganger ons help om dit te verstaan, te verduidelik hoe dit van toepassing is vandag, en waar ons mekaar ook opbou en aanspoor om te bly verlang na die onvervalste melk.

 

Dit bring ons by die volgende beeld, die lewende steen, en meer spesifiek die hoeksteen.

As die hoeksteen nie daar was nie, as die mense maar net met klein klippe vanaf die grond begin bou het, dan sou die muur by die eerste die beste stormwind, of as iemand daarteen stamp, inmekaar stort.

Maar as iemand teen die hoeksteen stamp, gebeur niks nie.

Daardie groot swaar klip het die res van die huis regop gehou.

Alles rus daarop, dit bind die gebou saam.

 

In ons teks verwys die hoeksteen na Jesus Christus.

Hy is die lewende steen wat deur mense verwerp is, maar deur God uitgekies en kosbaar.

En in vers 6 sê God: Kyk, Ek lê in Sion ‘n uitverkore en kosbare hoeksteen.

Petrus ontleen hierdie beeld aan die Ou Testament.

Hy verwys na Psalm 118(:22), waar staan: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword.

Om hierdie beeld te verstaan moet ons teruggaan na die tyd toe die tempel gebou is.

Soos baie duidelik is in die Ou Testament, is die tempel gebou presies soos God dit wou gehad het.

Waar die tempel gebou is, deur wie die tempel gebou is, hoe die tempel moes word van binne en van buite, wat in die tempel geplaas moes word, dit is alles deur die HERE bepaal.

As die keuse aan die mense oorgelaat sou gewees het, sou dinge anders gelyk het.

Hulle sou die steen wat die hoeksteen moes word, oor die hoof gesien het, selfs verwerp het.

Maar daardie hoeksteen, en die tempel wat daarop gebou is, was perfek ontwerp vir sy doel, en dit het stewig gestaan.

Daarom, soos ons in Psalm 118 lees, kan elke dag die poorte van geregtigheid oopgemaak word en sy volk daardeur ingaan (vers 19).

Die tempelpoorte het oopgestaan en daar het die volk geregtigheid, versoening ontvang.

En van daaruit, vanuit die huis wat op daardie hoeksteen gebou is, is God se kinders geseën – Psalm 118:26.

 

In ons teks verduidelik Petrus dat die tempel in Christus vervul is.

Christus is daardie hoeksteen.

En wat daar in Psalm 118 staan, en ook in die profeet Jesaja (Jes 8:14), is letterlik in sy lewe vervul.

Die bouers het Hom verwerp.

Die leiers van die volk, Fariseërs en Sadduseërs en ouderlinge, het Hom verwerp.

Later het die hele volk Hom verwerp, toe hulle geskreeu het: Kruisig Hom! Kruisig Hom! (Mark 15:13)

Hy was vir hulle ‘n aanstoot, ‘n rots van struikeling.

Petrus sê vir die Joodse Raad: “Jesus Christus, die Nasarener, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het ... Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ‘n hoeksteen geword het.” – Handelinge 4:10-11.

 

En daardie verharding onder die Joodse volk het voortgeduur, ook nog in Petrus se tyd.

Hulle, skryf Petrus, is aan die woord ongehoorsaam.

Petrus herhaal basies die Here Jesus se eie woorde, toe Hy Psalm 118 aangehaal het in sy gesprek met die owerpriesters en ouderlinge by die tempel:

“Hulle julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword.” (Matt 21:42)

En dan waarsku Jesus hierdie leiers van die volk: “Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ‘n volk gegee word wat die vruge daarvan sal dra. En hy wat op hierdie steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, die sal hy vermorsel.” (Matt 21:43-44)

 

Dit, verduidelik Petrus aan sy hoorders, is nou besig om te gebeur.

En julle is die volk aan wie die koninkryk nou gegee word.

Julle is nou die uitverkore geslag – verwysende na die verbondsluiting destyds in Exodus 19.

Nou is julle God se verbondsvolk!

God bou nou ‘n nuwe huis.

Die ou tempel se voorhangsel het geskeur.

Nuwe tye het aangebreek.

 

Dit bring ons by die volgende punt:

 

  • Die lewende stene

En, skryf Petrus, nou is julle die lewende stene van hierdie geestelike huis wat God bou op die hoeksteen, sy Seun.

Ook in Efesiërs word hierdie beeld gebruik, Efesiërs 2:20-22, waar staan dat die gemeente gebou word “op die fondament van die apostels en profete [dis ‘n verwysing na die Bybel – Nuwe en Ou Testament], terwyl Jeus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.”

 

Nou moet u by die woord steen nie dink aan bakstene nie.

Die 2020-Vertaling gebruik tereg die woord klippe.

En soos die bouers onder ons weet, om ‘n klipmuur te bou, is bietjie moeiliker as om ‘n baksteenmuur te bou.

Die metselaar soek elke keer krities deur die hoop klippe na die geskikte klip om volgende in te messel.

Wat ook gebeur is dat die klippe in vorm gekap moet word.

In die ou tyd was dit ook die gewoonte.

Ons lees in die Bybel van professionele klipkappers.

Soos ons weet het Dawid al begin met die eerste voorbereidings vir die tempelbou, en, staan daar in 1 Kronieke 22:2, hy “het klipkappers aangestel om gekapte klippe reg te slaan om die huis van God te bou.”
As jy na klipmure uit daardie tyd kyk, is dit pragtige mure, regop en netjies.

Dink byvoorbeeld aan die klaagmuur in Jerusalem,

Al die klippe is nie ewe groot nie, maar hulle is netjies gekap en vorm saam ‘n regop soliede muur.

 

Gemeente, jy en ek is ook klippe.

Nie een van ons lyk dieselfde nie.

Tog word ons elkeen gebruik vir die huis wat gebou word, in die muur op die regte plek waar ons inpas.

En wat destyds met die klippe gebeur het, gebeur ook met jou en my.

Ons word ook reggekap.

Skerp punte word verwyder, waar dit te rond is word die klip reghoekig gemaak.

As Petrus skryf: Laat julle soos lewende stene opbou, verwys hy hierna.

As die Heilige Gees aan jou lewe werk – ons noem dit die lewensheiliging – wees gewillig.

Van sy skaafwerk en kapwerk kan onaangenaam wees, pynlik, maar dit is nodig, en dit sorg dat jy ‘n stewige en funksionele plek in die muur kry.

So is die prediking in die kerk, en die huisbesoeke tuis, nie net vleiend en selfbevestigend nie.

Jy en ek word aangespreek, ons sondes word aangespreek, maar dit is nie afbrekend nie, dit is bedoel om opbouend te wees.

Jy het reeds in die verbond ‘n plek ontvang.

God het jou as klip uit die veld opgetel en op die bouterrein geplaas, dis in die kerk.

En hier word daar aan jou gewerk.

Laat julle as lewende stene opbou!

Wees gewillig!

Ons is nie dooie klippe nie.

Ons is lewende stene.

Ons teks begin met ‘n oproep: Kom na Hom toe!

Net soos Jesus opgeroep het, Mattheüs 11:28: “Kom na My toe!”

Stel jou lewe in sy diens as ‘n geestelike offer – soos die teks sê.

Geestelik verwys na die Heilige Gees.

Dus ‘n Geesvervulde lewe, waarin sy vrugte groei.

Dit is Christus se doel vir jou en my hier op aarde.

 

En, soos die Skrif leer, Christus maak in sy kerk van mense gebruik in sy bouprojek.

Daar is byvoorbeeld bou-opsigters.

Dink aan die ampsdraers in die gemeente, dink aan die ouers in die huisgesinne.

Dit is hulle taak om toe te sien dat die bouwerk volgens plan verloop.

Ja as ‘n huis gebou word, is daar ‘n plan.

Die argitek het ‘n plan geteken, daarvolgens moet gebou word.

Soms, as die bouers die muur verkeerd gebou het, of skeef, moet dit weer afgebreek word, opnuut begin word.

Die argitek van die kerk se plan vind ons in die Woord.

Die Woord wys ons hoe om te bou.

Die bou-opsigters – ampsdraers – moet toesien dat dit gebeur.

Die allerbelangrikste is dat daar toegesien word dat daar steeds op die hoeksteen gebou word.

Anders gaan die gebou nie bly staan nie.

Daarom, net soos jou persoonlike lewe, laat ons ons kerklike lewe ook op Christus bou.

Hy is sentraal, Hy is die hoeksteen.

Ons sondige geaardheid veroorsaak dat ons Hom eerder verwerp, dat ons oor Hom struikel.

Maar, hoor ons die belofte in die teks: wie op Hom bou, die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie!

Heerlike versekering.

Alles wat ons in sy Naam doen, volgens sy wil, sal bly staan, dit het ewigheidswaarde.

 

Daar is kerke wat hulleself die naam gee: Die Hoeksteen.

Dis ‘n mooi naam en op sig nie verkeerd nie, solank ons bly onthou dat Jesus Christus die hoeksteen is, en die kerk is die huis wat besig is om daarop gebou te word.

Want wat ons wel moet onthou is dat die kerk nou nog in aanbou is.

Dit is nog nie volmaak nie, dis nog ‘n onvoltooide projek.

En soos ons weet is ‘n bouterrein nie mooi nie.

Jy sien halwe mure, onvoltooide strukture, klippe wat nog rondlê.

So maklik kan mense op die kerk kritiek hê.

Daar word gesê: Kerkmense moet hulle niks verbeel nie, kyk hoe sondig is hulle.

Inderdaad, ons hoef ons nie vir die wêreld mooier en beter voor te doen as wat ons is nie.

Die kerk is ‘n onvoltooide projek.

Soos ons bely in die nagmaalsformulier: “Sonder twyfel is daar nog baie sondes en gebreke in ons harte en lewe ...”

Dus, vertel dit aan mense wat nie deel van die kerk is nie.

Daar word nog aan ons gewerk, ons is lewende stene wat nog besig is om gevorm te word.

En moet ook nie self die kerk kritiseer omdat daar so baie sondige mense in die kerk is nie.

En wees geduldig as ander in die kerk soms ‘n dom ding doen.

Die kerk lyk nog nie mooi nie, dit is nog ‘n bouterrein.

Maar dinge lyk wel belowend.

Veral as mens na die bouplan kyk, en dan in die lig daarvan die vordering sien wat daar tog is, en dat dit inderdaad volgens plan verloop.

Ons sien veral die hoeksteen, en hoe alles daarop steun.

Dit gee hoop.

Ons word herinner aan Christus se woorde aan die gemeente in Filippi:

Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, sal dit voleindig tot op die dag van Jesus Christus.

Dit is die dag van sy wederkoms.

Dan sal die gebou voltooi wees, dan moet die gebou opgelewer word, soos ‘n stralende bruid vir haar Bruidegom.

 

Daarom moet mense ook gewaarsku word, binne en buite die kerk.

As jy teen die kerk aanskop, en dis ‘n kerk wat volgens die Woord probeer lewe, dan skop jy teen die hoeksteen.

As iemand teen daardie muur aanskop, sal die muur regop bly, omdat dit op die hoeksteen staan.

Maar die persoon wat skop sal sy voet ernstig seermaak.

Die hoeksteen sal vir hom ‘n steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling word.

Laat ons as kerk ook gewaarsku wees.

Die teks is duidelik, daar is gelowiges, maar ongelukkig sal daar ook ongelowiges bly wees.

“Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord ... ‘n steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling.”

Daar sal altyd mense wees – en dis die werk van die Satan – wat die kerk sal bly kritiseer, Christus se werk sal ondermyn.

Net soos destyds in Nehemia se dae toe hulle moes bou met die troffel in die een hand en ‘n spies in die ander, en die swaard aan die heupe gegord (Neh 4:17-18).

Maar net soos toe weet ons vandag, hierdie is God se projek, Hy is die Boumeester, en daarom sal dit nie misluk nie.

Ons sal voortgaan en bou!

 

Gemeente, laat ons in hierdie jaar nie moet opgee nie, maar ywerig voortbou.

Gewillig wees om self ingemessel te word daar waar Christus ons wil hê.

Die jaartema wil hieraan bydra.

Lewende boustene.

Juis die gesin is ook ‘n onmisbare bousteen vir die kerk.

Leef die Woord in ons gesinne werklik?

Beïnvloed dit ons gesinslewe?

Kinders leer die basiese beginsels van die evangelie juis in die gesinne.

Die liefde vir die kerk moet in die gesin gevestig word.

Die gewoonte om daarna uit te sien om elke Sondag kerk toe te gaan.

Die bereidheid om jou gawes gewillig en dankbaar en met vreugde te deel.

Jong geleer, oud gedaan.

En laat ons as volwassenes en bejaardes hierin voorgaan, nie verslap nie.

God se bouwerk gaan voort.

Kom na Hom toe, laat jou as lewende steen inmessel op die hoeksteen.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 18:1,14

Wet

Ps 26:1,2

Gebed

Skriflesing: Handelinge 4:1-20

Ps 71:1

Skriflesing: 1 Petrus 2:1-10

Ps 71:2,9

Teks: 1 Petrus 2:4-8

Preek

Ps 118:10,11

Gebed

Kollekte

Ps 118:12,14

Seën