Die HERE roep vir Moses

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2025-02-02
Teks: 
Exodus 3:6,14-15,20
Preek Inhoud: 

Preek: Exodus 3:6,14-15,20

 

God het aan Moses verskyn in die vorm van ‘n brandende doringbos.

Ons weet hoe maklik ‘n droë doringbossie in die woestyn kan brand, maar dan ook na ‘n paar minute ‘n hopie as is.

Hierdie doringbos het aanhou brand en brand en daar het niks aan hom verander nie.

‘n Gepaste teken vir die HERE.

In teenstelling tot die aarde waar alles verganklik is, ja selfs die son nie ewig sal brand nie, is God wel ewig.

Hy is ‘n heilige vuur, maar word nie verteer nie.

 

God verskyn aan Moses met die boodskap dat Hy die swaarkry van sy volk in Egipte gesien het en hulle jammer kry.

En die rede hoekom Hy juis aan Moses verskyn, is om hom te gebruik in sy plan om sy volk te bevry.

 

Tema: Die HERE roep vir Moses

1 Hy rus hom toe met sy Naam

2 Hy rus hom toe met sy wondertekens

 

1 Hy rus hom toe met sy Naam

Ja God gebruik mense – sondige mense – om sy werk uit te voer.

Moses het self al geprobeer – in die verlede – om die Israeliete te red, maar dit was ‘n mislukking.

Hy moes vlug uit Egipte uit.

Hierdie keer is dit God wat vir Moses sal gebruik volgens sy plan, en daarom sal dit slaag.

Maar in sy plan gebruik hy dus vir Moses – ‘n mens sonder enige invloed – en al wat Hy vra is vertroue en gehoorsaamheid aan Hom.

 

Was Moses gewillig?

Hy het duidelik wel groot geskrik.

Maar soos wat hy hoor wat God se opdrag aan hom is, begin twyfel al hoe sterker te word.

Hy begin vrae te vra.

Wie is ek om dit te doen??

En as ek na die Israeliete sou gaan, sal hulle my wel glo??

En wie is U eintlik??

Wat moet ek vir hulle sê as hulle vra wat u Naam is?

 

Moses twyfel meer en meer.

Die Egiptenaars was een van die magtigste ryke in die wêreld.

Hoe kon ‘n onbelangrike skaapherder al hulle slawe – en Israel was ‘n talryke volk teen daai tyd – by hulle kan wegvat?

As hulle sy naam sou hoor, sou hulle eerste onthou dat hy uit die land gevlug het omdat hy iemand vermoor het.

Selfs sy eie volk sou hom nie glo nie.

Destyds het hulle ook al sy leierskap verwerp.

Moses twyfel, hy stribbel teë.

Is jy bereid, as God jou ‘n taak gee, om dit te doen sonder om te huiwer?

Vertrou jy dat Hy jou sal toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen, soos Hebreërs 13:21 sê?

 

God verseker Moses: Ek sal met jou wees.

As Hy Moses kies om die taak te doen, sal Hy met Hom gaan.

Opvallend hoe God vir Moses oortuig dat hy die regte persoon is om die werk te doen.

God herinner hom nie daaran dat hy ‘n baie goeie opleiding destyds aan Farao se paleis ontvang het, nadat Farao se dogter hom as baba uit die Nyl gered en as haar kind aangeneem het nie.

God herinner hom nie aan al die ervaring wat hy deur die eensame jare in die woestyn opgedoen het om nie van ander afhanklik te wees, maar self dinge te maak werk nie.

En inderdaad, Moses was ‘n geskikte persoon uit menslike oogpunt.

Aan die een kant was hy ‘n Israeliet, ‘n Hebreër, die volk kon met hom assosieer.

Maar aan die ander kant was hy ook ‘n Egiptenaar, hy het presies geweet hoe dinge in die paleis werk.

En ongetwyfeld het Moses ook later van hierdie eienskappe en ervaring gebruik gemaak om sy taak uit te voer.

Maar dis nie hoe God hom oortuig dat hy die regte persoon is nie.

Al wat God sê is: “Ek sal met jou wees” (Ex 3:12).

Die exodus sou nie slaag danksy Moses se talente en ervaring nie, maar danksy God se aanwesigheid.

As Moses teëstribbel: Ek kan dit nie doen nie, antwoord die Here.

Inderdaad, jy kan nie, maar Ek sal.

“By mense is dit onmootnlik, maar by God is alle dinge moontlik.” verseker Jesus ons in Mattheüs 19:26.

En dit is die versekering wat God elke keer gegee het vir sy profete.

Ek sal met julle wees.

“Ek sal met jou wees” sê die HERE vir Gideon in Rigters 6:16.

“Ek is met jou” sê die HERE vir Jeremia (Jer 1:8).

En vir Josua verseker die HERE:

“soos Ek met Moses gewees het, sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie.” (Jos 1:5)

En ook die apostels en jy en ek ontvang dieselfde belofte, Mattheüs 28:20: “Ek is met julle al die dae tot aan die voleiding van die wêreld.”

 

En dan gee God vir Moses ook nog die versekering.

Glo my, julle sal op hierdie berg God dien.

Hier waar jy nou staan by die brandende doringbos by die berg Horeb, glo My, jy sal hier terugkom.

Maar dan nie alleen nie, saam met die hele volk!

 

Ons kom by Moses se tweede vraag.

Moses se tweede vraag fokus op God self.

Wie is U?

Wat is u Naam?

Moses is steeds kleingelowig.

Hy fokus steeds op sy onbekwaamheid, hy is nog nie oortuig van hierdie God se bekwaamheid nie.

God se antwoord op Moses se tweede vraag klink ‘n bietjie ongeduld, irritasie.

Dis mos nou ‘n totaal oorbodige vraag.

Moses, Ek is gewoon wie Ek is!

Wat wil jy meer hê!

Gaan sê dit vir die Israeliete.

Ek is het my na julle gestuur.

Die Here se Naam – Jahweh – in ons vertaling HERE met vier hoofletters, hou in Hebreeus grammatikaal verband met die werkwoord Ek is.

Jahweh beteken: Ek is teenwoordig!

Ek is daar!

Ek sal met jou wees!

Ek sal met my volk wees!

Ek is trou aan my verbond wat Ek met hulle voorvaders Abraha en Isak en Jakob gesluit het.

Ek het nie verdwyn nie, Ek is nog met hulle.

 

En soos ons weet gemeente, die res van die boek Exodus is ‘n bewys dat God trou is aan sy eie Naam.

En nie net Exodus nie, die hele Bybel.

In die Nuwe Testament noem God se Seun, Jesus Christus, Homself ook Ek is (Joh 8:58).

Hy is die Een wat is en wat was en wat kom, die Almagtige, hoor ons elke keer in die bekende seëngroet uit Openbaring 1:8.

 

Gemeente, vertrou julle sy Naam?

Is dit vir julle genoeg om gehoorsaam sy roepstem op te volg?

Is daar vandag nie nog soveel meer rede om Hom slegs op sy Naam te glo as destyds in Moses se dae nie, al was daar toe ook al meer as genoeg rede?

Vertrou Hom, Hy is daar, Hy hou die wag!

 

Die HERE roep jou, Hy red jou, maar dan stuur Hy jou ook uit met ‘n opdrag.

Hoe wonderlik is dit nie dat God sy werk doen deur gebruik te maak van sondaars.

God se almag, sy soewereiniteit, maak ons lewensopdrag nie oorbodig nie, dit bly noodsaaklik, dis ‘n opdrag van Hom!

Tog bly dit sy werk van begin tot end.

 

Moses was eers baie bang toe hy by die brandende doringbos kom.

Hy het sy aangesig verberg – sy gesig bedek – en sy skoene uitgetrek.

Maar hoe langer hy met die HERE praat, hoe waaghalsiger word hy, en die een vraag volg op die ander – skeptiese vrae.

Hy begin selfs met die HERE te redeneer.

En die HERE – dis eie aan Hom – bly geduldig.

Hy verduidelik aan Moses wat hom te doen staan.

Eers moet hy na die oudstes van Israel gaan.

Hy moet hulle versamel.

Die oudstes was deur die hele Ou Testament die leiers van God se volk.

Moses se roeping het die oudstes se gesagsposisie nie opgehef nie.

Moses moes langs hulle gaan staan, en saam moes hulle God se opdrag uitvoer.

Ook vandag regeer die HERE sy kerk nog deur gebruik te maak van oudstes.

En sy aan sy met die bedienaars van die Woord oefen hulle leierskap uit.

 

So dit was nie God se bedoeling dat Moses in sy eentjie na Farao sou gaan nie.

Die oudstes moes hom ondersteun, hulle moes saam met hom gaan (Ex 3:18).

Saam moes hulle die versoek aan Farao bring: Laat ons volk toe om drie dae die woestyn in te trek om daar aan die HERE, ons God, te offer.

Ek wil nou nie dieper ingaan op hierdie versoek nie.

Sommige het dit beskryf as oorlogstaktiek, slim diplomatiese onderhandeling, omdat vooraf al vasgestaan het dat God sy volk wou bevry, nie net vir drie dae nie, Hy wou hulle permanent na die beloofde land terugbring.

Maar wat die belangrikste is, is die doel van die versoek.

Naamlik om vir die HERE hulle God te gaan offer.

Om Hom te eer.

Godsdiensvryheid.

Eintlik ‘n oorlogsverklaring teen Egipte se gode.

Ons kom nog daarop terug.

 

Opvallend is wel God se handelwyse met Farao.

Deur Moses en Aäron en die oudstes benader Hy hom stap vir stap.

Dit begin met kleiner versoeke, maar dit word meer.

Aan die een kant het God reeds besluit dat Hy Farao se hart sal verhard.

Aan die ander kant gee Hy wel vir hom nog kanse.

As ‘t ware dat hy aan die einde van die hele periode van onderhandelinge geen verontskuldiging meer sal hê nie.

Al het God hom verhard, tog is dit sy skuld, is hy verantwoordelik, ja hy het homself verhard.

Hierdie is ‘n aspek van God se wese, maar ook van menswees, wat ons nie heeltemal verstaan nie, en hoe dit met mekaar verband hou.

Dit gaan bo ons verstand uit, en ons moet dit so aanvaar.

Jy gaan jou hoof daarop breek as jy dit wil verstaan.

God se soewereiniteit aan die een kant en die mens se verantwoordelikheid aan die ander kant.

God se predestinasie aan die een kant, en die mens se toerekeningsvatbaarheid aan die ander kant.

 

Om terug te kom by God se gesprek met Moses, so is Hy stappie vir stappie besig om Moses te oortuig.

“Ek sal my hand uitstrek en Egipte met al my wonders teister ...” (Ex 3:19)

‘n Koning se arm is metafoor vir sy krag.

In ou Egiptiese manuskripte word vewys na Farao se arm wat sy vyande vernietig.

Maar, belowe die HERE vir Moses, Farao se arm sal te swak wees om weerstand te bied teen God se arm.

As hy met die God van Israel gaan probeer arm druk, gaan hy sleg tweede kom.

Dit sal selfs so wees, verseker die HERE, dat aan die einde van die rit hy julle sal uitdrywe!

In hoofstuk 3:20 staan: “daarna sal hy julle laat trek”, maar die Hebreeus wat hier staan is sterker.

Hy sal die Israeliete selfs wegstuur.

Gaan asseblief!

En, sê die HERE, die Israeliete sal selfs die Egiptenaars berowe.

Nou is dit normaal wanneer een volk vir ‘n ander volk verslaan, dat die soldate plunder.

Maar dis nie wat hier staan nie.

Dis nie soldate wat plunder nie, maar dis die Joodse vroue.

Hulle sal silwer- en goue voorwerpe en klere eis, wat dan al te graag aan hulle oorhandig sal word.

Net nog ‘n voorbeeld van God se almag.

En eerlik is eerlik, Israel het vir hoe lank as slawe geswoeg en gesweet.

Nou sal  God sorg dat hulle hul eerlike loon ontvang.

 

En so kon Moses na die oudstes van Israel gaan met ‘n baie oortuigende boodskap.

Met God se Naam, met al sy beloftes waarvoor sy Naam garant staan.

En des te meer teleurstellend dat Moses nog steeds aarsel.

Hy ignoreer al God se beloftes en kla:

Maar wat as hulle my nie glo nie maar sê: Die HERE het nie aan jou verskyn nie.

En dit bring ons by die tweede punt.

Want nou gee die HERE ook nog tekens.

 

(Tema: Die HERE roep vir Moses

1 Hy rus hom toe met sy Naam)

 

2 Hy rus hom toe met sy wondertekens

Moses is maar net soos ons, en ons is maar net soos Moses.

Ons is so maklik genieg om aan die beloftes in sy Woord te twyfel, om daar bo-op ook nog ‘n spesiale teken te vra.

Des te meer opvallend dat die HERE geduldig bly.

En nou gee Hy maar liefs drie tekens.

 

Moses moet sy staf op die grond gooi, wat toe ineens ‘n slang geword het.

Hy moes sy hand uitsteek en weer aan die stert optel.

Dit het weer ‘n staf geword.

Moses se staf was niks besonders nie, dit was ‘n gewone staf soos elke skaapherder daagliks gebruik het.

Tog verander God dit in ‘n giftige slang.

Moses skrik so groot dat hy weghardloop.

Hy moes baie moed en geloof bymekaarskraap om na die HERE se stem te luister om dit weer op te raap.

Nou hoekom hierdie teken?

Duidelik kry die HERE hier is buitengewoons reg met iets heel gewoons.

Met dieselfde staf sou die HERE later al die plae oor Egipte bring, die see in twee split, water uit ‘n rots laat stroom.

Maar dit is en was net ‘n gewone staf.

Nou gee die HERE hierdie teken om die oudstes en Israeliete te oortuig.

Dat Hy inderdaad aan Moses verskyn het.

En om hulle te oortuig dat Hy in staat sal wees om hulle uit Egipte te bevry.

 

En gemeente, daar was ‘n duidelik verband tussen hierdie boodskap en hierdie spesifieke wonder.

Die staf het nie toevallig ‘n slang geword nie.

Die slang was die simbool by uitstek van Egipte se heerskappy.

Die slang was die simbool van die Farao.

Kyk mens nou ou standbeelde, ou reliëfs en afbeeldings van die Farao, is daar altyd ‘n slang afgebeeld op sy kroon.

Sy septer was dikwels ‘n gestileerde kobra.

En op sy beurt het Farao hierdie simbool gedra as verwysing na die gode van Egipte.

Want die Egiptiese gode is dikwels ook as ‘n slang afgebeeld.

Farao het dus sy mag van die gode ontvang – dis wat die slang op sy kroon en sy septer afgebeeld het.

 

Moses het nie ‘n septer nie, hy het ‘n gewone staf.

Maar nou verander God daardie hout stok in ‘n slang en dan weer terug in ‘n stok.

God demonstreer sy mag oor Farao, selfs oor die gode van Egipte, ja selfs oor Satan self – dink aan Genesis 3 waar Satan hom ook as ‘n slang voorgedoen het.

As daar een ding Moses en die oudstes en enige skeptikus moes oortuig van God se almag, dan was dit hierdie teken.

 

Maar dan gee die HERE nog ‘n teken.

Moses moes sy hand onder sy kleed indruk en weer uithaal.

Deur daardie enkele handeling het dit melaats geword, soos sneeu!

Melaatsheid was ‘n gevreesde siekte in die oudheid, ongeneeslik, uiteindelik dodelik.

Maar direk daarna kry Moses die opdrag om sy hand weer in sy kleed te steek, en in ‘n oogwink, toe hy dit uittrek, was dit weer gesond.

Die bedoeling agter hierdie teken is nie so eenvoudig om te rekonstrueer nie.

Was dit dalk vir Moses ‘n teken dat God in staat is om te sorg dat die oudstes en die volk hom wel sal glo?

As ‘n spreekwoordelike melaatse moes hy destyds uit Egipte vlug, maar hy sal terugkom met gesag.

In elk geval, hierdie wonderteken is natuurlik net soveel ‘n bewys van God se almag.

 

En dan gee God nog ‘n derde teken.

Hy sê vir Moses: “as hulle ook hierdie twee tekens nie glo en na jou stem nie luister nie, neem dan van die Nyl se water en giet dit op die droë grond uit; dan sal die water wat jy uit die Nyl neem, op die droë grond bloed word.” (Ex 4:9)

Die simboliek agter hierdie wonder is nie moeilik om te verstaan nie.

Vir die Egiptenaars was die Nylrivier die bron van alle lewe.

In ‘n land wat basies geen reën ontvang nie, het hierdie rivier onafgebroke ‘n oorvloed aan vars water gebring.

 

Na hierdie wonders vat Moses nog een kans.

Die HERE het hom inderdaad oortuig van sy almag, hy kan niks meer daarteen inbring nie, maar duidelik is hy nie lus hiervoor nie.

Ag Here, ek is nie ‘n man van woorde nie.

Vir ‘n laaste keer is die Here bereid om hom rustig te antwoord.

“Wie het vir die mens die mond gemaak, of maak stom of doof, of siende, of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie? Gaan dan nou heen, en Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê.” (Ex 4:11-12)

En dan probeer Moses nog ‘n laaste keer, vers 13:

“Ag, Here, stuur tog deur wie U wil stuur.”

Nou hierdie is nie ‘n geloofsuitspraak nie, die 2020-Vertaling vertaal dit bietjie duideliker:

“Asseblief, my Heer! Stuur asseblief iemand anders.”

 

Sê jy soms dieselfde vir die Here?

Nadat jy hoeveel versekeringe ontvang het dat Hy met jou sal wees, sê jy vir Hom: Ag Here, ek is net nie lus nie ...?

Los my liewer uit, laat ek my lewe lei soos ek wil, moenie te groot dinge van my verwag nie.

Broer, suster, as die Here roep, dan is dit nie ‘n vriendelike versoek waarvoor jy kan bedank nie.

En daarom, na soveel geduld, lees ons in vers 14 dat die toorn van die HERE teen Moses ontvlam.

Hy kom Moses nog op sy laaste teenwerping tegemoet – sy broer Aäron wat goed kan praat sal hom help – maar gaan moet hy gaan.

 

Al met al, Moses is nou nie vir ons die beste voorbeeld van gewilligheid nie.

Al het die HERE hom met gawes toegerus van sy jeug af, meer nog, al het die HERE vir hom ‘n baie kragtige boodskap gegee, en al gee die Here vir hom ekstraordinêre wondertekens, hy bly onwillig, obstropelis.

Tog het God sy plan uitgevoer gekry deur Moses.

Hy het sy boodskap na Egipte gebring, hy het die wonders en tekens verrig – al was dit nie hyself nie.

Hy het nie ingewikkelde towerspreuke uitgespreek soos die geleerde towenaars van Egipte nie.

Dis die HERE wat die wonders deur hom gedoen het.

Alle eer het Hom toegekom.

Met hierdie tekens het Hy begin demonstreer dat Hy regeer oor Egipte, nie Farao en sy afgode nie.

Dat sy Naam en nie die afgode s’n groot is, ook in Egipte.

Dit was net die begin.

En die 10 plae wat gevolg het, sou dit net nog dieper en dieper invryf.

Daarin hoop ek in die komende weke aandag te skenk, in hierdie serie preke oor God se wonders in Egipte.

God wat triomfeer oor die afgode van Egipte.

 

Om af te sluit, Moses is nie ons voorbeeld nie, maar hy was ‘n voorafskaduwing van Jesus Christus.

Hy is ons Voorbeeld.

Hy het gewillig God se Woord na die aarde gebring.

Hy het dit bevestig met wondertekens.

Ja Hyself is die teken wat God vir ons gestuur het.

Soek jy vir ‘n buitengewone teken, voordat jy God se Woord wil glo?

Soek jy vir ‘n buitengewone teken, voordat jy gerus is dat die Here jou werklik uitverkies het?

Soek jy vir ‘n buitengewone teken, voordat jy bereid is om 100% vir Hom te lewe?

Wel, die waarheid is, God het jou sy teken gegee.

Die wonderteken van die leë graf.

Die wonderteken van die opstanding van sy Seun uit die dood.

Hierdie wondertekens is bevestig deur baie ooggetuies.

Dit is geskiedkundig neergeskryf in die Skrif, saam met Christus se onderrig.

Naamlik dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes het en ook self die ewige lewe het.

Dit is die feite, en nou aan jou die oproep om dit te glo.

Net soos God destyds met Moses gedoen het na al sy gekerm.

God het as ‘t ware vir hom gesê:

Nou hou jy jou mond en jy gaan na Egipte.

En dis inderdaad wat Moses toe gedoen het.

En die res is geskiedenis.

God het Woord gehou.

Broer en suster, glo Hom, Hy sal in jou lewe ook Woord hou.

Vertrou Hom.

Dit is Hy wat julle sal “volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen” (Hebr 13:21).

In Christus is al sy beloftes ja en amen.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Seëngroet

Seën

Ps 81:1,10-12

Wet

Sb 26:1,2

Skriflesing: Exodus 3 – 4:17

Ps 105:15,6

Teks: Exodus 3:6,14-15,20

Preek

Ps 46:3,4,6

Gebed

Kollekte

Ps 75:1,2,4,6

Seën