Die Gewer van die lewe eis respek vir die lewe van vriend en vyand

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2025-02-02
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 40
Preek Inhoud: 

Met die sesde gebod het die kerk ‘n pragtige en kragtige boodskap vir die wêreld.

Dit is ‘n onmisbare boodskap vir ‘n wêreld waarin oorloë voortduur, duisende der duisende soldate sneuwel, ‘n wêreld vol geweld tussen mense wat dikwels tot moord of doodslag lei, ‘n wêreld vol aborsie en sogenaamde genadedood, ‘n wêreld vol selfmoord en selfdoding, en dan praat ons nog nie eers oor die haat en nyd en afguns en wrok en woede en wraaklus in die wêreld nie, wat volgens die Kategismus ook moord is.

As die sesde gebod nageleef sou word, sou hierdie wêreld paradyslik wees.

En as gelowiges is ons onderdeel van die wêreld, ons stry ook nog om van harte hierdie gebod na te kom.

 

Maar feit is, met hierdie gebod het die kerk 'n onmisbare boodskap vir die wêreld.

Elke mens wat die wetgewer, die Gewer van die lewe, agter die 6de gebod sien, sal baie dankbaar wees dat daar nog baie kerke is waar elke Sondag die 6de gebod klink – Jy mag nie doodslaan nie ...

‘n Kragtige en onmisbare boodskap vir die wêreld.

 

Tema: Die Gewer van die lewe eis respek vir die lewe van vriend en vyand

 

Terwyl God moord verbied, terwyl God afguns, haat en woede verbied, beveel Hy met die sesde gebod dat ons ons naaste liefhet soos onsself.

So lees ons in antwoord 107.

En dan volg ’n hele reeks instruksies oor die verhouding met ons naaste.

 

Die eerste vraag wat ons dan besighou is: Wie is ons naaste?

Ons ken die gelykenis van die barmhartige Samaritaan goed.

Oor die priester, die Leviet en die Samaritaan.

Ons kry 'n antwoord op die vraag wie ons naaste is.

Hierdie gelykenis het vir ons so bekend geraak dat ons nie meer daardeur beïndruk is nie.

Maar as gelowiges moet ons elke keer weer dink hoe ons dit in praktyk bring.

Met die hoë mure om ons huise is dit maklik om jouself af te sluit van die naaste.

In jou motor met jou vensters toe kan jy die bedelaars ook ignoreer.

En toegegee, daar word in ons land soveel misbruik gemaak van goedbedoelde hulp, mens weet soms nie meer wat om te doen nie.

Soos die Samaritaan op die pad gelê het nadat hy beroof is, so lê daar ook in ons land soms mense op die pad, maar nie wagtende op hulp nie, maar met die doel om jou te beroof, om jou te laat stop en in ‘n lokval te lei.

So ja, daar’s baie redes in ons land om die minder bevoorregtes te ignoreer.

Maar al is daar baie misbruik, Christus se opdrag bly.

En ons sal planne moet maak om goed te doen, selfs aan ons vyande.

Goed doen op ‘n verantwoordelike wyse.

So is die kerkraad op die oomblik besig om te ondersoek of ons as gemeente konkreet betrokke kan raak by die Jakaranda Kinderhuis.

Dis hier eintlik net om die draai.

Dis maar een voorbeeld hoe om die sesde gebod positief in praktyk te bring, om uit te reik na die lewens van weeskinders, wat reeds op jong ouderdom al so beskadig kan wees.

 

‘n Barmhartige Samaritaan wees, dis waaroor dit gaan.

Respek vir 'n ander, respek vir die lewe van 'n ander, ongeag of dit vriend of vyand, bekende of onbekende is.

“Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.” (Matt 5:44-45)

 

Jy moet jou naaste liefhê soos jouself - dit is die grondslag vir die tweede tafel van die wet, en daarom ook die grondslag vir die sesde gebod.

Met wat die Here Jesus hier beveel, het Hy die vervulling van die hele tweede tafel van die wet in gedagte, insluitende die sesde gebod.

Dis waar die uitleef van hierdie gebod begin: liefde vir jou naaste soos vir jouself.

Soos Romeine 12:10 sê: “wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning”.
Dit is waar dit moet begin.

Elke kind moet tuis leer om vriendelik te wees teenoor sy broers en sussies.

Dat jy nie jou boetie of sussie mag haat nie.

Want dit gebeur soms dat kinders op sekere ouderdomme nie van mekaar hou nie.

Maar deur die opvoeding leer hulle om bo sulke konflikte uit te styg, al het jy nie dieselfde karakter nie, al stem jy nie oor alles saam nie.

Liefde en respek bly altyd.

En so is dit met die huishouding in die kerk van Christus ook.

Ons behandel mekaar met ongeveinsde liefde.

 

Hierdie ongeveinsde liefde kan in verskillende woorde beskryf word.

Die Kategismus noem 'n paar:

Eerstens: geduld.

Wees geduldig met jou naaste.

Soos Kolossense 3:13 sê:

“Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander 'n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.”

 

Tweedens, wees vredeliewend.

“as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” – Romeine 12:18.

En 1 Petrus 3:9: “Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan beërwe.”

 

Derdens, wees sag, sagmoedig, teenoor jou naaste.

“Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.” (Matt 5:5)

En Galasiërs 6:1-2: “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.”

Vierdens, wees jou naaste genadig, wees barmhartig.

“Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.” (Matt 5:7)

En Lukas 6:36: “Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.”

 

Vyfdens: Vriendelikheid.

Laat u goedhartigheid aan alle mense bekend wees.

Benader bekend en onbekend met ‘n glimlag.

 

En, sesdens, probeer om so veel as moontlik skade aan jou naaste te voorkom.

Ja, doen goed selfs aan jou vyande.

‘n Pragtige voorbeeld hiervan vind ons in Exodus 23: “As jy jou vyand se bees of esel teëkom wat ronddwaal, moet jy dit sekerlik vir hom terugbring. As jy jou vyand se esel onder sy pak sien lê, moet jy dit nie onverskillig aan hom oorlaat nie: jy moet dit sekerlik saam met hom aflaai.”

As mens het ons maar die neiging as jy sien dat jou teenstander swaarkry om te dink: Kry vir jou ...

Ons staan en kyk toe en verlekker onsself in sy teëspoed.

Dis ‘n houding waarteen ek en jy, elkeen van ons moet stry.

 

Christus maak ons oë oop vir die diep betekenis van hierdie sesde gebod.

Die Fariseërs het die mense weggelei van hierdie werklike doel.

En blykbaar het hulle gedink hulle het die Skrif aan hulle kant.

Want is daar nie geskrywe nie in die wet van Moses:

“breuk vir breuk, oog vir oog, tand vir tand, dieselfde liggaamsgebrek wat hy aan 'n mens toebring, moet ook aan hom toegebring word.” (Lev 24:20)
Dit het dus gelyk of 'n mens heeltemal in ooreenstemming met die Skrif optree wanneer 'n mens elke euwel met 'n ewe groot euwel vergeld het.

Tog wou Jesus niks hiervan hê nie.

Nie jou naaste terugslaan op die wang nie, maar die ander wang draai.

Maar het Christus dan nie die Skrif ter syde gestel nie?

Want dit sê tog duidelik: oog vir oog, tand vir tand ...

Nee gemeente, nie dit nie, Jesus het wel die misbruik van die Skrif deur die Fariseërs tersyde gestel.

Sekerlik, in die wet van Moses was daar die reël: oog vir oog en tand vir tand.

Maar daardie reël is aan die regering gegee, Deuteronomium 19:18-21.

Volgens hierdie reël moes die regters reg laat geskied en straf oplê.

Restitusie, soos dit genoem word.

Maar hierdie reël het nie almal toegelaat om as hulle eie regter op te tree nie.

En 'n mens was glad nie verplig om na die regering te hardloop vir regsvergoeding vir elke onreg of skade nie.

Dit was beter as 'n mens onreg verdra en nie so skerp op jou regte gestaan ​​het nie.

En baie beter was dit as 'n mens op 'n vyandige gesindheid gereageer het deur goed te doen.

Jesus sê in sy Bergrede vir die mense:

“Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand.” (Matt 5:38)

“Maar Ek sê vir julle ... as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe. En hy wat met jou na die gereg wil gaan en jou onderkleed wil neem, laat hom ook die bo-kleed kry.” (Matt 5:39-40)

Dit was 'n groot belediging onder die Jode in daardie tyd om iemand met die agterkant van jou hand op die wang te slaan, nie juis om seer te maak nie, want dan slaan jy eerder met die binnekant van jou hand.

Maar hierdie gebruik was bedoel om iemand aanstoot te gee.

En Jesus sê nou, as iemand dit aan jou doen, draai ook die ander wang.

En as iemand jou wil dagvaar voor die hof en hy eis jou onderkleed, gee vir hom ook jou bokleed.

Dit is alles voorbeelde wat die ingesteldheid wat Jesus aan ons voorhou, verduidelik:

Het jy jou vyande lief, vergeld kwaad met goed.

 

Nogmaals, Jesus kritiseer hier nie die Ou Testament nie, maar die gebruik daarvan deur die Jode van sy dae.

Christus maak ons oë juis oop vir God se barmhartigheid, en dis juis daardie God wat sy wet in die Ou Testament aan Moses gegee het.

Uitsprake soos oog vir oog en tand vir tand moet in sy regte konteks verstaan word.

Dit was ‘n juridiese beginsel.

As iemand jou donkie gedood het, het jy juridies die reg gehad om ‘n donkie terug te eis.

As iemand jou oog uitgeslaan het, het jy juridies die reg gehad om dieselfde skade te eis.

Dit was vervolgens die regter se taak om reg te spreek en ‘n passende straf op te lê.

Die maksimale straf wat hy kon oplê was inderdaad oog vir oog en tand vir tand.

Byvoorbeeld in geval van moord dat die moordenaar self ook die doodstraf gekry het.

Maar as daar byvoorbeeld versagtende omstandighede was, het die regter die vryheid gehad om ‘n mindere straf op te lê.

So het hierdie reël dan ook in die Ou Testament gefunksioneer.

Die uitspraak oog vir oog en tand vir tand mag wreed klink, maar aan die einde van die dag was dit ‘n gesonde beginsel wat die regters met wysheid moes toepas.

En dat God as Wetgewer goed en regverdig is, blyk uit die vers wat daarna in Levitikus staan:

“Net een wet moet daar vir julle wees – die vreemdeling moet soos die kind van die land wees; want Ek is die HERE julle God.” (Lev 24:22)

Dit is dus nie dat die God van die Ou Testament hard en wreed is, teenoor die goeie God van die Nuwe Testament nie.

Dit was die denkwyse van ‘n persoon soos Marcion uit die kerkgeskiedenis, ‘n denkwyse wat in ons tyd ook her en der steeds die kop opsteek.

Juis die Ou Testament leer ons reeds dat God nie hard is nie, selfs nie vir diere nie.

Dink aan Spreuke 12:10: “’n Regverdige ken die behoeftes van sy diere, maar die ontferming van goddeloses is wreed.”

Al die wette in die Ou Testament asem die atmosfeer dat God se geregtigheid sag is.

Selfs teenoor vreemdelinge.

Moses het eenkeer uitgeroep, onder die indruk van die wyse wette wat God gegee het:

“watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?” (Deut 4:8)

Die Here Jesus het dus niks nuuts vir sy dissipels geleer nie.

Dis heel Ou Testamenties as Hy sê:

“Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete.” (Matt 7:12)

Hierdie Evangelie van Jesus, wat op die Ou Testament gebaseer is, is vervolgens ook deur die apostels verkondig.

Dink aan Romeine 12:20: “As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop. “

Hoop gloeiende kole op sy kop.

Dit was 'n spreekwoord in Israel en dit beteken: So sal jy iemand rooi maak van skaamte, as jy kwaad met goed vergeld.

 

Maar hierdie houding beteken nie dat Jesus ‘n pasifis was op aarde nie.

Ja, Hy verbied mense om self wraak te neem, Hy sê: draai ook jou linkerwang,

Maar Hy gee terselfdertyd wel aan die owerheid, aan gesagsdraers, hulle taak.

Ouers, onderwysers, regering, polisie, weermag, selfs die doodstraf, dit is dinge wat ons Heiland absoluut nie afgekeur het nie, inteendeel.

Maar hierdie dinge moet hul regmatige plek hê.

Soos Paulus dit verduidelik in Romeine 12:19:

“Geliefdes, moet julle nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf: “Aan My kom die wraak toe; Ek sal vergeld,” sê die HERE.”

En dan, net daarna, praat Paulus in Romeine 13 oor die regering as 'n dienaar van God, die regering wat deur God die gesag gegee is om op 'n regverdige wyse namens God te straf.

 

Ek sluit af: Jy mag nie doodslaan nie – dis ‘n kort gebod.

Maar die Bybel leer ons dat baie dinge aan hierdie gebod gekoppel is.

Die Kategismus wys ons dit uit.

Ook dat hierdie gebod 'n positiewe kant het.

Respek vir die lewe.

Nog breër: respek vir die welsyn van jou naaste.

En wie jou naaste is, ons het daaroor gepraat.

Meer nog: selfs respek vir die lewe van jou vyand.

Nie dat Christene pasifiste is nie, ons het dit ook bespreek.

Christene soek verlossing, die ewige verlossing vir alle mense.

Christene, wat Christus volg, soek die welsyn van die samelewing.

Dit beteken nie net dat hulle geen doodslag pleeg nie, dit beteken ook dat hulle self aan hulle eie karakter werk: geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig, vriendelik ...

 

Ja die kerk het steeds ‘n onmisbare boodskap vir die wêreld.

Hy wat uit die diep betekenis van die sesde gebod leef, soos Jesus ons weer opnuut ingeprent het, sal ‘n seën wees vir elke land op aarde en vir elke samelewing.

Alhoewel mense van tyd tot tyd baie negatief oor Christene kan wees, daar sal nooit 'n tyd kom wanneer daar geen behoefte is aan betroubare mense nie, wat bewustelik opgevoed is om geduldig, vreedsaam, sagmoedig, genadig en vriendelik te wees.

Mense wat nie net omgee vir hul eie lewens nie, maar hulleself ook verbind tot die behoud van hulle naaste.

Dit werk deur in jou lewe, in die beroep wat jy beoefen, in die breë lewe.

Jy is 'n verpleegster, of 'n dokter, of 'n skoolonderwyseres, of 'n huisvrou, of 'n vragmotorbestuurder, of 'n boer, wat ook al.

As Christen streef jy na algemene respek vir die lewe, jy veg op alle fronte teen die dood.

So volg ons Christus, Hy wat die dood oorwin het, en wat deur sy Gees se werk in en deur ons die dood ook steeds meer oorwin.

Omdat ons weet dat die dood 'n gevolg van die sonde is, en dit nie God se bedoeling by die skepping was dat mense sou sterf nie.

As volgelinge van Christus gaan ons dus met goeie moed verder.

Ambassadeurs van die lewe.

Vegters vir die behoud, hier en nou, maar ook die ewige behoud, van vriend en vyand.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 9:3,5,6

Gebed

Skriflesing: Deuteronomium 19:14-21

Ps 112:1-5

Skriflesing: Mattheüs 5:38-48 & Romeine 12:9-21

Ps 112:6-10

Teks: 6de Gebod – Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 40

Preek

Ps 85:3,4

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Sb 26:8

Kollekte

Ps 97:6,7

Seën