Die HERE waak oor sy goeie skeppingsorde met die sewende gebod

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2025-02-09
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 41
Preek Inhoud: 

Daar vind groot kultuurverskuiwings plaas ten aansien van die sewende gebod.

’n Huwelik tussen ’n man en ’n vrou is nie meer die enigste soort ‘huwelik’ nie.

‘n Huwelik is nie meer ‘n voorwaarde vir saamwoon nie, laat staan vir seksuele aktiwiteit.

Egskeiding bly verdrietig, maar het ‘n vaste onderdeel van die samelewing geword, met die gevolg dat een op vier seuns in Suid-Afrika sonder hulle pa opgroei.

En dan is daar die losbandige kultuur om ons heen  - en nie net om ons heen nie – ook in ons huise maklik beskikbaar op ons selfone – wat vrye seks verafgod.

Meisies adverteer hulle liggame op Instagram.

Pornografie floreer.

As Christene moet ons meer en meer ’n bewuste keuse maak hoe ons self lewe.

Ons kan nie net saamdryf met die heersende kultuur nie.

Soos die volk Israel destyds die land Kanaän ingetrek het om dit te suiwer van al sy losbandige praktyke,

soos die apostel Paulus die Christene in die Griekse stede opgeroep het om geheel anders te lewe, so word ons vandag opgeroep om ’n soutende sout te wees.

Ons is nie beter nie, ons is geneig tot dieselfde sondes, maar die HERE stap ‘n pad met ons lewens.

Daarom bly ons onder die indruk van hoe goed die sewende gebod is.

 

Tema: Die HERE waak oor sy goeie skeppingsorde met die sewende gebod

  1. Vlug weg vir alles wat jou liggaam kan besoedel
  2. Bedink steeds dat jy ’n tempel is van die Heilige Gees

 

  1. Vlug weg vir alles wat jou liggaam kan besoedel

God het die huwelik ingestel tussen ’n man en ’n vrou.

In daardie verhouding was dit sy bedoeling dat die seksuele aanleg van die mens tot ontplooïng kom.

Die sewende gebod het God gegee om die huwelik en alles wat met seksualiteit te make het te beskerm.

Sodat hierdie gawe nie misbruik word nie, nie mense beskadig nie.

Na die sondeval het al gou geblyk dat mense geneig was om te ontspoor.

In Genesis 4 lees ons die eerste keer oor iemand, Lameg, wat homself skuldig gemaak het aan misstappe op seksuele gebied.

Net soos hy nie daarvoor teruggedeins het om iemand eiehandig dood te maak as hy dit nodig geag het nie, so het hy ook sy eie kop gevolg en vir homself twee vroue gevat.

Dis die eerste keer wat ons in die Bybel lees oor die oortreding van die sewende gebod.

God het man en vrou as ’n eenheid geskape, maar Lameg het sy eie behoeftes gevolg en nog ’n vrou gevat.

So het hy God se skeppingsorde oortree.

Soos God dit van die begin af vasgestel het toe hy vir Adam een vrou geskape het en gesê het: “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.” (Gen 2:24)

Die skeppingsorde ten aansien van ‘n monogame huwelik het Lameg nie in ere gehou nie.

‘n Skeppingsorde wat vir alle mense en alle tye bedoel was.

Ons Here Jesus het dit self nog beklemtoon toe die Fariseërs met hom getwis het oor die skeibrief wat Moses ingestel het.

Jesus sê toe: “Vanweë die hardheid van julle harte het hy vir julle hierdie gebod geskrywe, maar van die begin van die skepping af het God hulle man en vrou gemaak. Om hierdie rede sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees word, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees. Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.” (Mark 10:5-9)

Pragtig hoe Christus heeltemal agter Genesis 2 gaan staan en dit uitlê.

Vir wie sal dit nou nog onduidelik wees?

 

Sondag 41 sê vervolgens in die verlengde hiervan: Alle onkuisheid is deur God vervloek.

Die woord ‘onkuisheid’ gebruik ons nie meer so baie nie.

Mens kan ook sê: alle misplaaste gedrag op seksuele gebied.

Ons het saam Levitikus 18 gelees.

Daar word ‘n aantal voorbeelde genoem van praktyke wat God nie in sy skepping tolereer nie.

‘n Paar voorbeelde word genoem wat toe aktueel was, soos:

  • Geen seksuele omgang met ‘n familielid nie;
  • Geen seksuele omgang met aangetroude familie nie;
  • Ook geen seksuele omgang met iemand van dieselfde geslag nie;
  • En geen seksuele omgang met ‘n dier nie.

Hierdie is voorbeelde wat God noem en waarmee die Israeliete ongetwyfeld in aanraking sou kom sodra hulle die land Kanaän binnetrek, waarnatoe hulle oppad was.

En die HERE sê dan baie duidelik wat die konsekwensie van hierdie onkuisheid is:

Verontreinig julle nie deur dit alles nie, want hiermee het die nasies wat Ek voor julle uitdryf hulleself verontreinig.

Die land is deur hulle verontreining, sodat die land sy inwoners uitgespuug het.

Julle moet egter my insettinge en verordeninge in ag neem en geen van hierdie gruwels bedryf nie, sodat die land nie julle ook uitspuug nie.

 

Hierdie woorde, wat God aan die Israeliete gerig het, is ook vandag nog aktueel.

Wie God se gebooie nie in ag neem nie, vernietig op den duur homself.

Hulle is naamlik juis bedoel om mense se lewens in goeie bane te lei.

 

‘n Soortgelyke wêreld waarmee die Israeliete in aanraking gekom het toe hulle Kanaän binnegetrek het, vind ons ook terug in 1 Thessalonisense.

Daar gaan dit oor mense in die Griekse stad Thessalonika wat Christen geword het.

Ons lees in hoofstuk 4 dat hulle omring was deur heidense praktyke op seksuele gebied.

In 1 Thessalonisense 4:3 staan: Julle moet julle onthou van die hoerery.

Hoerery was algemeen aanvaarbaar in daardie maatskappy.

Dit was selfs gekoppel aan die tempels.

Ons lees meer in die Nuwe Testament dat die bekeerde heidene hulle ver moes hou van tempelhoerery.

Op hierdie punt, skryf Paulus in opdrag van die HERE, moet Christene anders wees.

Maar die Griekse woord vir hoerery – porneia – beteken meer as net tempelprostitusie.

Daarom vertaal die 2020-Vertaling dit met die woord onsedelikheid.

Elke vorm van onsedelikheid – in woorde, dade of gebare.

Dus, al is daar nie meer tempels om ons heen nie, onsedelikheid vier nog steeds hoogty.

 

Sommige pasbekeerde Christene het nog nie ingesien wat alles op seksuele gebied onbetaamlik was nie.

Hulle het nog nie genoeg sig gehad op God se goeie wette en skeppingsorde nie.

Dis hoekom Paulus baie konkreet aan hierdie mense skryf.

Ook al word julle omring deur losbandige praktyke, as Christen neem jy nie daaraan deel nie.

Paulus gee in hierdie verband duidelike positiewe instruksies.

Soos in vers 4:

“dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer”; “nie in hartstogelike begeerlikheid soos die heidene wat God nie ken nie”.

Dit gaan hier oor die eise wat ‘n gelowige stel as hy ‘n lewensmaat soek.

Die kwaliteite wat vir die wêreld op nommer 1 staan, is nie waarna Christene eerste kyk nie.

In die wêreld soek mans ‘n vrou wat mooi is volgens wêreldse maatstawe, soos die heersende ideaalbeeld dit voorskryf soos mens daagliks in tydskrifte, op televisie en internet kan sien.

En in die wêreld soek vroue veral vir ‘n man wat ryk is.

Maar as ‘n Christen ‘n lewensmaat soek, is sy prioriteite egter anders.

Ons soek in die eerste plek iemand wat die HERE vrees.

Ons hou rekening met die doel hoekom die HERE die huwelik ingestel het.

 

Die huwelik is ‘n eerbare saak, soos daar staan in Hebreërs 13:4.

God het naamlik die huwelik ingestel.

En daaruit volg dat jy ook die huwelik van ‘n ander respekteer.

Jy meng jou nie daarin nie.

Al is dit gebruiklik in die wêreld om te flirt, as Christene bly ons ver daarvan.

Ons het respek vir die huwelik.

Want ons weet watter ellende en verdriet dit meebring as ‘n huwelik op die rotse loop.

 

Dit is vir ons meestel ‘n groot skok as ons hoor dat iemand gaan skei.

Tog raak mens na ‘n ruk daaraan gewoond.

Ook Christene kan al hoe meer gewoond raak, hoe meer dikwels dit plaasvind.

Dit neem egter nie weg wat die Bybel ons leer, naamlik dat God egbrekers sal oordeel nie.

 

Daarom: geen misplaaste gedrag op seksuele gebied nie, nie met dade, nie met woorde, nie met gedagtes nie.

Eerbiedig God se skeppingsorde.

Soos die Israeliete in Kanaän anders moes wees,

soos die Christene in Thessalonika anders moes wees,

so ook ons vandag in ons wêreld.

As jy uitgaan met ‘n vriend of vriendin, en hy/sy is nie in staat om te wag tot na julle troudag nie, kan jy die verhouding liewers dadelik beëindig.

Dit is ‘n bewys dat daardie persoon nie betroubaar is nie.

‘n Teken of dit moontlik gaan wees om ‘n lewe lank saam deur te bring in wedersydse trou.

Nie vir niks sê die HERE in die Bybel nie:  “Ek haat egskeiding” (Mal 2:16).

 

Soos gesê, die sewende gebod gaan oor meer as egskeiding.

Wanneer daar egbreuk plaasvind, het daar dikwels daarvoor al heelwat gebeur.

Laat ons elke dag suiwer leef, ook in woorde en gedagtes.

Soos Jesus in Mattheüs 5 sê: “Julle het gehoor dat ... gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.”

Egbreuk is die eindstasie.

Maar daar is tussenstasies wat daarheen lei.

Die duiwel werk subtiel.

Hy maak eers iets bespreekbaar, daar word grappies oor gemaak.

Jy raak daaraan gewoond om te praat oor en te geniet van wat verkeerd is.

En so sit jy al in die trein wat oppad is na die eindstasie.

Soos daar in Efesiërs 5 staan: “maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, ... ook nie dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie” (v3-4).

Alles wat by mense verkeerde begeertes opwek, moet ons die rug toekeer.

Daar is nie ‘n tussenoplossing nie.

As jy dink dat jy sterk genoeg is om die een te doen maar die ander te laat, dan bedrieg jy jouself.

Die Spreukedigter verwoord dit heel nugter: “kan iemand op gloeiende kole loop, sonder dat sy voete brandwonde kry?” (Spr 6:28)

 

Die Kategismussondag oor die sesde gebod het verduidelik dat jy nog nie klaar is as jy nie iemand vermoor het nie.

Want daar is ook ‘n positiewe kant, naamlik dat jy jou naaste moet liefhê.

Dit geld net so vir die sewende gebod.

Jy is nie klaar as jy nog nie egbreuk gepleeg het nie.

Elke dag plaas hierdie gebod jou voor ‘n positiewe uitdaging:

As jy getroud is, om trou te bly aan jou eggenoot.

As jy nie ‘n eggenoot het nie, of as hy al oorlede is, om die taak wat God jou tog in die lewe gegee het, dankbaar te volbring.

Of as jy nog op soek is na ‘n lewensmaat, om dit in alle eerbaarheid te doen, soos die Bybel sê.

Dit is waarna ons nou in die tweede punt gaan kyk: wat Christus ons met hierdie gebod gebied.

Hoe Christus ons met hierdie gebod wil transformeer.

Want inderdaad, ook hierdie gebod is ‘n gawe waarmee sy Gees vreugde in ons lewens bring.

 

2       Bedink steeds dat jy ’n tempel is van die Heilige Gees

Kom ons begin met 1 Korinthiërs 6, wat ons gelees het.

“Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” (1 Kor 6:19-20).

Die woorde aan die begin van antwoord 109 van die Kategismus is duidelik aan hierdie vers ontleen.

Omdat ons liggaam en siel tempels van die Heilige Gees is, wil Hy dat ons altwee suiwer en heilig moet bewaar.

Wat word eintlik bedoel met: ‘n tempel van die Heilige Gees?

Ons moet hierby terugdink aan die tempel in die Ou Testament.

Die tempel was die mooiste gebou wat in Jerusalem gestaan het.

Logies, want dit was God se woning.

Die priesters wat in die tempel diens gedoen het, mog dit net kaalvoet doen.

Dit was in die Midde-Ooste ‘n teken van respek.

Daarmee het jy aangedui dat die gebou nie aan jou behoort nie.

Ook moes die priesters spesiale pragtige wit klere dra, wat heeltemal skoon en rein moes wees.

Dit alles omdat hulle in God se huis was.

Nie dat God slegs aan die tempel gebonde was nie.

God die Skepper is alomteenwoordig.

Sy eintlike woonplek is die hemel.

Maar spesifiek in die tempel wou Hy ook wees, te midde van sy volk.

As ons dan hier in 1 Korinthiërs hoor dat ons liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is, dan kan ons verskillende dinge daaruit leer:

In die eerste plek dat ons liggaam mooi is, so mooi dat God self daarin wil woon.

Daaruit volg dat jy lief kan wees vir jou unieke liggaam, ook al voldoen jou liggaam nie aan die skoonheidseise wat die samelewing stel nie.

Elke liggaam is deur God geskape, goed en mooi genoeg vir die Heilige Gees om ‘n tempel te wees.

Daaruit volg dat ‘n Christen sy liggaam met sorg en respek behandel, omdat dit ‘n tempel is.

Dis nie net jou siel wat ‘n tempel is nie, ook jou liggaam.

Dink aan hoe die priesters kaalvoet in die tempel hulle werk moes doen.

Uit respek vir die gebou waarin hulle was, en die Persoon aan wie dit behoort het.

Net so behoort jou liggaam nie aan jouself nie.

Hieroor kan mens soveel dinge sê.

Dit gaan oor hoe jy lewe.

Jou eet- en drinkgewoontes.

Hoe jy aantrek.

Waarmee jy jouself besig hou.

Die Kategismus sê: Ons liggaam en siel is tempels van die Heilige Gees, en dus wil Hy dat ons altwee suiwer en heilig moet bewaar.

Sondag 41 spits dit dan toe op die sewende gebod, op die gebied van die seksuele.

Bedink steeds dat jy ‘n tempel is van die Gees van Christus.

 

Juis daarom staan ons selektief in die lewe.

Verkeerde seksuele woorde, dade of gedagtes vermy ons.

Of, soos iemand gesê het: ons behandel dit soos ‘n doring of ‘n glasskerf.

Trek dit uit jou liggaam uit, uit jou lewe, uit jou gedagtes.

Gooi dit op ‘n plek waar dit nie iemand anders ook kan seermaak nie.

Ons lees nie skewe boeke nie; kyk ook nie sulke fotos of videos nie.

Ons sorg ook dat die manier waarop ons aantrek nie ‘n verkeerde boodskap oordra na ander nie.

Ons gee ons hart ook nie in verliefdheid aan iemand wat nie die HERE opreg dien nie.

So staan ons selektief in die lewe.

Jy is steeds daarvan bewus dat jy ‘n tempel is van die Heilige Gees.

 

Dit is iets waarop jy trots mag wees.

In Christus is jy ‘n nuwe mens, ‘n nuwe skepping.

‘n Pragtige tempel, waarin sy Gees woon.

So wil God dit hê, so sien Hy dit graag.

 

En dan gaan ons nou nog kyk na Romeine 13, wat ons ook gelees het.

Daar staan: “Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag.” (vers 13)

Die woordjie ‘welvoeglik’ kan mens op verskillende maniere vertaal, afhangende van die gebod waaraan jy dink.

Dink jy byvoorbeeld aan die vyfde gebod, dan wil ‘welvoeglik’ sê: gehoorsaam aan jou ouers.

Dink jy aan die sesde gebod, dan wil ‘welvoeglik’ sê: nie aggresief nie, maar met respek vir ‘n ander se lewe.

Dink mens aan die agtste, dan wil ‘welvoeglik’ sê: nie oneerlik nie, nie skelm nie, maar betroubaar.

Dink mens aan die negende gebod, dan wil ‘welvoeglik’ sê: respek vir die naam van jou medemens.

En dan, wat betref die sewende gebod wil ‘welvoeglik’ sê: nie ‘n misplaaste seksuele lewenswyse nie, maar op ‘n manier wat ooreenstem met die skeppingsorde.

Paulus noem ‘n paar voorbeelde in Romeine 13: “Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie. Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” (vers 13-14)

 

Oor hierdie vers nog enkele opmerkings:

“beklee julle met die Here Jesus Christus” ...

Dis soos wanneer jy pragtige nuwe klere aantrek en sommer ‘n ander mens voel.

As Christus in jou lewe gekom het, kan jy nie dieselfde bly nie.

Hy verander jou.

Karaktereienskappe soos wellus, losbandigheid, twis of nyd verdwyn.

Hy maak van jou ‘n mens wat eerbaar leef, wat geduldig is, wat vriendelik en betroubaar is.

So kan ons hierdie uitdrukking verstaan: beklee jou met die Here Jesus Christus.

Besef dat jy ‘n tempel van die Heilige Gees is.

‘n Tempel wat skoon en rein, gesond en aantreklik is.

‘n Kosbare skeppingsgawe van God, wat sedert die sondeval gruwelik misbruik word, maar wat deur die Gees nou herstel word in hulle wat aan Christus behoort.

Die sewende gebod leer ons opnuut hoe ons hierdie skeppingsgawe moet hanteer.

Ook wat hierdie gebod betref, kom die oproep vandag tot julle:

Soos Josua gesê het: Kies vandag wie julle gaan dien.

Eintlik het ons geen keuse nie.

Christus het jou reeds gekoop, jy IS sy kosbare eiendom.

Die oproep om suiwer te lewe, ook wat die sewende gebod betref, klink daarom des te sterker.

Christus transformeer jou.

Hy het jou ‘n tempel gemaak van sy Gees.

Dit is sigbaar in die gemeente, in die gelowiges se lewe.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 38:1,3

Gebed

Skriflesing: Levitikus 18

Ps 19:1,4,5

Skriflesing: 1 Thessalonisense 4:1-8; 1 Korinthiërs 6:12-20; Romeine 13:8-14

Sb 42:3-5

Teks: 7de Gebod - Heidelbergse Kategismus Sondag 41

Preek

Sb 41:1-7

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 33:2,11

Seën