Ellendiges buig in dankbare aanbidding

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2025-02-16
Teks: 
Exodus 4:18-31
Preek Inhoud: 

Preek: Exodus 4:18-31

 

Ons is tans besig met ‘n serie oor die HERE se uitgestrekte arm in Egipte.

Hoe Hy sy volk bevry het.

Daarvoor het Hy Moses geroep.

In die vorige preek het ons gesien hoe Moses die een na die ander vraag gevra het.

Wie is ek?

Wie is u?

Hoe gaan die Israeliete my ooit glo, as ek teruggaan na Egipte?

In totaal opper Moses maar liefs vyf besware, hoekom hy nie die regte persoon is om God se opdrag uit te voer nie.

 

Tema: Ellendiges buig in dankbare aanbidding

 

Vyf besware ...

Die HERE was geduldig.

Al het Moses gestotter – dis die spraakgebrek wat Moses volgens die Septuaginta, die Griekse vertaling van die Ou Testament gehad het – verseker die HERE hom dat Hy met Hom sal wees.

En uiteindelik is dit nie hoe Moses dit gaan sê wat sal saakmaak nie, maar wat hy gaan sê.

Net soos Paulus later sou skryf:

“En al is ek ook onbedrewe in woord, dan tog nie in kennis nie” (2 Kor 11:16).

As dit gaan oor die prediking van God se Woord, is die boodskap belangriker as die persoon met sy moontlike gebreke.

As mens wens ons dikwels ek het ook die talente ontvang wat iemand anders het.

Maar dis nie hoe God dink nie.

Hy antwoord Moses: “Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie?” (Ex 4:11)

Dit is Ek – die Ek is wie Ek is – wat aan jou jou mond gegee het.

Vertrou My! En gaan nou!

 

Vier keer herhaal God vir Moses:

Gaan nou ...!

Die HERE is baie geduldig.

Maar, soos ons in die vorige preek gesien het, daar het ’n oomblik gekom toe dit genoeg was:

Exodus 4:14: “Toe ontvlam die toorn van die HERE teen Moses ...”

Maar selfs in sy toorn kom Hy Moses nog tegemoet, deur hom te beloof dat hy Aäron sal stuur om vir hom ’n mond te wees.

 

Moses het later uitgegroei tot ’n groot leier, redder van die volk uit Egipte.

Maar ’n sondaar het hy altyd gebly.

Hy was maar net ’n skaduwee in vergelyking met die volmaakte Redder.

God het dit reeds aan sy kinders belowe in Moses se tyd: “'n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel.” (Deut 18:18)

Die geskiedens het uitgewys dat dit Jesus Christus is.

Soos God beloof het, het Hy gekom om God se kinders uit slawery te verlos.

Nie die slawerny van Egipte nie, maar die slawerny aan die duiwel en die dood.

Toe Jesus geroep is, was Hy volkome gewillig, en so het Hy gebly tot die einde toe.

Hy het nie geprotesteer: Here, stuur asseblief iemand anders nie.

Hebreërs 10:7 haal Jesus se woorde aan: “Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom – in die boekrol is dit van My geskrywe – om u wil te doen, o God.”

Hierdie volledig gewillige Bevryder se bevryding herdenk ons vandag aan die nagmaal.

Sy Naam moet geprys word!

Ja buig in dankbare aanbidding voor Hom!

 

Moses gaan, maar tog ...

Die volgende gedeelte in Exodus 4 vertel dat Moses uiteindelik gaan.

Eers gaan hy na sy skoonpa, Jetro.

“Laat my tog trek en na my broers teruggaan wat in Egipte is, om te sien of hulle nog lewe.” (Ex 4:18)

Hierdie opmerking van Moses was nie heeltemaal waar nie.

Hy laat na om te vertel oor die ervaring wat hy met God gehad het – die brandende doringsbos by Horeb.

Hy laat na om die werklike doel van sy terugkeer na Egipte te noem.

In plaas daarvan sê hy hy wil gaan kyk of sy broers nog in lewe is.

Terwyl hy geweet het hulle is, want God het dit vir hom vertel, en juis daarom moes hy gaan om hulle te bevry uit die slawerny.

Moses moet nog groei in vertroue.

Maar ten minste gaan hy nou, sy familie by hom en sy staf in sy hand.

Veelbetekend word dit nou die staf van God genoem (Ex 4:20).

Nie dat dit ‘n towerstaf geword het nie.

Eerder het dit Moses herinner aan die HERE se teenwoordigheid, dat Hy daar sal wees om uit te red.

 

Ook vandag herdenk ons aan die nagmaal dat God inderdaad naby is om te red.

Ons dra nie soos Moses God se staf nie.

Maar ons het die kruis van Christus.

Dit is vandag die simbool van sy teenwoordigheid, sy bevryding uit die slawerny.

Met die kruis het God die grootste wonder van alle tye verrig.

En daarom skryf Paulus byvoorbeeld: “die Jode vra 'n teken en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is” (1 Kor 1:22-23).

Vandag verkondig ons met die nagmaal die kruis van Christus, die bevryding wat ons daardeur ontvang!

 

Eersgebore s(S)eun

Kom ons kyk nou na dit wat Moses vir Farao moes sê.

Dis opvallend hoe die HERE sy volk noem:

“So spreek die HERE: My eersgebore seun is Israel. Daarom beveel Ek jou: Laat my seun trek, dat hy My kan dien.” (Ex 4:22-23)

Ontroerend hoe die HERE sy volk noem.

Vir redes wat ons nie kan nagaan nie, het hy hierdie volkie uitgekies om sy eersgebore seun te wees.

Dit was nie ’n suksesvolle nasie soos Egipte in daardie dae nie.

Tog het God hulle uitverkies, en nou kom Hy om hulle te bevry.

Vir Farao was hulle maar net slawe, maar vir die HERE ’n eie seun.

Hulle is na aan sy hart, en dit is iets wat Farao sal moet besef.

Want Farao het ook ’n eersgebore seun gehad, en die HERE waarku dat Hy Farao se eersgebore seun sal ombring as hy weier dat God se eersgebore seun Hom mag dien.

En dit is waaroor dit werklik gaan.

Nie in die eerste plek omdat Farao van Israel slawe gemaak het nie, maar in die eerste plek om Hy die Israeliete verhinder het om Hom, hulle Vader, te dien.

 

As mens nou verder lees in die geskiedenis, was hierdie eersgebore seun van God eintlik ’n teleurstelling.

Want mens kan byvoorbeeld lees dat nadat Israel bevry is, hulle in die woestyn reeds terugverlang na die vleispotte van Egipte! (Ex  14:11-14, 16:3)

Die res van die Ou Testament is een lang verhaal hoe God se eersgebore seun telkens weer afvallig geword het, en aan die ander kant hoe die HERE as troue Vader telkens weer geduld gehad het.

 

Vandag vier ons aan die nagmaal die koms van die Seun van God, en sy volmaakte lewe op aarde.

Hierdie Seun is nie Israel nie, maar ons Here Jesus Christus.

God het destyds sy seun uit Egipte bevry, maar dit het later geblyk dat hierdie seun elke keer weer geneig was om homself oor te gee aan ’n nuwe slawerny.

Maar in Mattheüs 2:15 kan ons lees dat God sy Seun nog ’n keer uit Egipte geroep het.

Maar hierdie keer gaan dit nie oor Israel nie, maar oor Jesus Christus.

Hierdie keer was die ’n reuse sukses.

Want hierdie Seun het trou sy Vader se opdrag op aarde uitgevoer.

Hy is die ware Seun van God.

Deur sy werk word die afvallige seuns weer in hulle vryheid herstel.

Deur geloof in Hom ontvang ons bevryding, uittog uit die slawerny van die sonde.

Soos ons lees in Galasiërs 3:26: “Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus”.

 

Die HERE wou vir Moses doodmaak ...

Daar is een episode in Exodus 4 wat ek nog nie genoem het nie, ’n gebeurtenis wat mens se wenkbroue laat lig.

Onverwags, uit die bloute, staan daar in vers 24, wou die HERE vir Moses doodmaak.

Dit was toe hulle in ’n herberg oornag het.

Die rede daarvoor word duidelik in die volgende vers.

Sy vrou Sippora het in aller yl ’n skerp klip gevat en Moses se seuns besny.

En dit was genoeg.

Die HERE – soos vers 26 sê – Moses laat staan, Hy’t hom nie doodgemaak nie.

Hierdie episode kom baie vreemd oor.

Hoekom staan dit hier?

Wat het dit met die res van die hoofstuk te make?

Om te begin, gemeente, gaan dit in hierdie hoofstuk die hele tyd oor iemand se seun.

Die HERE noem Israel sy seun, wat Hy van plan is om te bevry.

En die HERE waarsku Farao dat hy sy eersgebore seun gaan verloor, as Hy God se seun nie laat trek nie.

En nou ineens gaan dit oor Moses se seuns.

Maar dan wel spesifiek oor die besnydenis van Moses se seuns, of meer spesifiek, die feit dat hulle nie besny was nie.

Tussen hakies, uit die teks is nie heeltemal duidelik of beide Moses se seuns nie besny was nie, of dat net die jongste een – Eliëser – nie besny was nie.

Aan die boodskap maak dit egter geen verskil nie.

Want God het tog baie eksplisiet sy volk gewaarsku:

“wat manlik is en die voorhuid het, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie – dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word: hy het my verbond verbreek.”

Dit het God destyds aan Abraham gesê – Genesis 17:14.

En Hy is mos die God van Abraham, Isak en Jakob.

Hy is nog steeds Dieselfde.

In sy belofte, maar ook in sy bedreiging.

Dus, gemeente, uit hierdie episode blyk aan die een kant nog steeds Moses se halstarrigheid.

Hy was deel van God se volk, maar nie toegewyd nie.

Hy was ’n bondsbreker.

En aan die ander kant blyk God se trou aan sy verbond.

Gelukkig het God aan Moses ’n vrou geskenk wat wel trou was, wat op hierdie kritieke oomblik ingegryp het.

 

Nou al staan daar in vers 24 dat God vir Moses wou doodmaak, weet ons dat dit nie sy plan was nie.

Ons kan nie God se gedagtes verstaan, kontroleer nie.

Maar hierdie episode moes wel vir Moses wel finaal wakker skud.

As Moses hierdie God wil dien, dan moes hy Hom dien volgens sy wil, en nie op sy eie wyse nie.

Hierin moes Moses, wat oppad was om die volk se leier te word, vir hulle ’n voorbeeld wees.

Nie lank daarna nie, toe die volk op die punt gestaan het om bevry te word, net voordat hulle die eerste keer die Pasga sou vier, moes al wat manlik was, besny word (Ex 12:43-49).

Hoe kon Moses dit aan die volk opdra, as hy sy eie seuns nie eers besny het nie?

Wie die verbondsbeloftes oordra, moet self in eie gesin ook gehoorsaamheid wys aan die verbondseise.

So berei die HERE hom voor op sy taak, ook met hierdie dramatiese gebeurtenis.

 

En daardie besnydenis was uiteraard nie net ’n leë tradisie nie.

Soos die Hebreërskrywer ons leer: “sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.” (Hebr 9:22)

Moses en die Israeliete was nie beter as die Egiptenaars nie.

Slegs die bloed het hulle gered.

Maar – God sy dank – plaasvervangende bloed!

Dit was die betekenis van die besnydenis.

Eintlik moes al jou bloed gevloei het, maar vir tyd en wyl neem God genoë met ’n bietjie bloed.

Op sy tyd sal Hy sy ware, volmaak gehoorsame Seun stuur, wat al sy bloed sal stort tot versoening.

En veral dit herdenk ons ook vandag aan die nagmaal!

Deur te sterf in ons plek, het Jesus God se teregte toorn weggeneem.

Soos daar in Romeine 3:25 staan, “Hom het God voorgestel in sy bloed as 'n versoening deur die geloof”.

Dis die oproep aan jou en my.

Vier die nagmaal in geloof.

Glo dat Jesus ook vir jou sonders gesterf het.

Glo jy dit?

 

Ellendiges buig in dankbare aanbidding

En dan, aan die einde van hoofstuk 4, eindig dit op ’n pragtige wyse.

Ons lees daar: “En die volk het geglo. En toe hulle hoor dat die HERE op die kinders van Israel ag gegee en hulle ellende aangesien het, het hulle in aanbidding neergebuig.” (Ex 4:31)

Broers en susters, laat dit ook die vrug van vandag se nagmaal wees.

Destyds het God na sy volk met die belofte van bevryding gekom.

Vandag het ons nie net van ‘n belofte gehoor nie, maar die feite, dat Christus reeds die bevryding gebring het.

En dat die bevryding ‘n werklikheid sal word vir elkeen wat in Hom glo!

Laat die vrug van die nagmaal wees dat ons ook in aanbidding neerbuig.

Ja daar in Egipte het ellendige slawe in dankbare aanbidding gebuig!

En ook vandag buig ellendiges in dankbare aanbidding.

Dis nou ek en jy!

“Al is ek arm, ellendig,

Hy dink aan my bestendig.

Hy is die HEER by wie

daar redding is vir my.

U’s tot my hulp naby.

My God, vertoef tog nie!”

(Ps 40:8 berymd)

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 135:1,5

Wet

Ps 119:20

Gebed

Nagmaalsformulier 1e deel

Ps 119:26

Nagmaalsformulier 2e deel

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

1e Tafel: Skriflesing: Exodus 4:18-23; Ps 77:7

2e Tafel: Skriflesing: Exodus 4:24-31; Ps 77:9,10

3e Tafel: Lofverheffing; Ps 105:15

Dankgebed

Teks: Exodus 4:18-31

Preek

Ps 40:8

Gebed

Kollekte

Ps 103:3,4

Seën