Preek: Exodus 5
Wie is die HERE?
Dit is die vraag waarom alles draai in hierdie hoofstuk.
Farao het, nadat Moses en Aäron by hom opgedaag het, minagtend gevra:
Wie is die HERE?
Moses het die HERE – sy Verbondsnaam word hier gebruik – ontmoet by Horeb.
Hy het die wondertekens gesien.
Moses het geleer om die HERE te vertrou.
So ook Aäron en die oudstes, sien die einde van die vorige hoofstuk.
Nadat hulle sy wonders gesien het, het hulle geglo en in aanbidding neergebuig.
In geloofsvertroue het hulle na Farao gegaan met hulle versoek.
Tema: Wie is die HERE?
1 Aardse heersers word gewaarsku
2 God se kinders word bemoedig
1 Aardse heersers word gewaarsku
As mens nugter na Moses en Aäron se versoek kyk, kan mens eintlik voorspel dat dit nie sou slaag nie.
Dis wel opvallend dat hulle met ‘n minder vergaande versoek begin.
Al is God se plan om Israel permanent uit Egipte te bevry, is Moses en Aäron se versoek dat die volk slegs drie dae mag afkry, met die doel om hulle God te dien.
Soos in ‘n vorige preek genoem, hier stuit ons op die verband tussen God se predestinasie en die verantwoordelikheid wat Hy steeds aan die mens gee.
God stap ‘n pad met Farao.
Hy toets hom.
Hy maak dit vir hom makliker om eers na ‘n minder ingrypende versoek te luister en daarop positief te reageer.
So sorg God dat Farao dubbel en dwars skuldig is, toerekeningsvatbaar, as hy uiteindelik tog bly weier.
Laat hy gewaarsku wees!
Ja hy was gewaarsku.
Moses en Aäron wys op hulle God se almag.
Wie Hom nie gehoorsaam nie, sal getref word deur die pes of die swaard.
Dus, om God se versoek af te wys, kan verwoestende gevolge vir Egipte en Israel inhou.
Maar Farao is hard, hy is veral hoogmoedig.
Hy oorweeg dit geensins om Israel tegemoet te kom nie.
Hy lag eerder vir hierdie absurde versoek.
Spottend vra hy:
“Wie is die HERE na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek?” (vers 2)
Hierdie is dus die sentrale vraag.
Nie net van hierdie hoofstuk nie, maar van die hele boek Exodus.
Wie is hierdie God, wat Homself HERE noem, Hy wat gehoorsaamheid eis van elke skepsel, selfs van die magtigste konings op aarde?
Farao lag minagtend.
Gemeente, hoe anders het dit geword, nie veel later nie, as Farao met sy strydwaens vassit in die middel van die Rooisee.
Dan hoor ons hom en die Egiptenaars uitroep: “Laat ons van Israel af wegvlug, want die HERE stry vir hulle teen die Egiptenaars.” (Ex 14:25)
Van minagtend uitlag tot vreesbevange wil wegvlug.
Hoe is die rolle nie omgekeer nie!
Toe het Farao wel besef wie die HERE is.
Maar toe was dit te laat.
So het die HERE ’n pad gestap met Farao.
Hy het geen verontskuldiging gehad toe hy in die modder wegsak en die Rooisee se waters oor hom toegemaak het nie.
Maar hier, aan die begin, was Farao se vraag nie bedoel om regtig uit te vind wie die HERE is nie.
Dit was spottend bedoel.
Wie is hierdie God?
Ek ken nie die HERE nie.
En dus, is sy gevolgtrekking, sal ek Israel nie laat trek nie.
Wie is Hy om my voor te skryf?
Gemeente, hoe Farao gereageer het, is tipies vir baie mense.
Uit onkunde oor wie die HERE regtig is, plaas mense hulleself op die troon.
Vind hulle dit belaglik dat die Bybel moet bepaal hoe hulle lewe.
In Egipte is die Farao as ’n god vereer.
Hy het bo gewone mense uitgestyg, en die volk het van hom goddelike beskerming verwag.
Ook uit die manier waarop hy Israel behandel het, blyk dat hy hom as ’n god gedra het.
Hy het hulle hele lewe as slawe opgeëis, selfs hulle godsdiens wou hy beheer.
Klink dit nie baie soos iemand soos die president van Noord-Korea vandag nie?
Dis opvallend wat Farao in vers 9 sê:
“Laat die werk swaar druk op die manne”.
In Hebreeus is die woord vir werk dieselfde as die woord wat die HERE in die vorige hoofstuk gebruik as Hy sê: “Laat my seun trek, dat hy My kan dien.” (Ex 4:23)
Farao verwag van Israel om hom te dien, net soos God dit van sy volk verwag.
Farao se dienswerk is egter slawe-arbeid, terwyl God se diens bevryding beteken.
Farao stoot vir God weg, en eis die Israeliete vir homself op.
Hoekom is dit dat mense dit in hulle het om – as hulle die kans kry – diktators te word?
Vroeër, maar vandag ook.
Die president van Noord-Korea is maar net een voorbeeld ...
Maar skynbaar is die enigste medisyne vir Farao se arrogansie dat die HERE hom persoonlik ontmoet.
Is dit nie wat elke ongelowige, wat op die troon van sy eie lewe wil sit, nodig het nie?
Solank ons nie die almag van God besef nie, daardeur geruk word nie, sal ’n mens op die troon van sy eie lewe wil bly sit.
So bied Farao weerstand.
Ongeloof is nie net iets verstandeliks nie, dit is in die eerste plek egoïsme, selfsugtigheid, opstand.
Dit was ook Farao se probleem.
Arrogant vra hy: Wie is die HERE, dat ek na sy stem sal moet luister?
Maar stap vir stap sal die HERE sy opstand afbreek.
Van sy kant egter sal Farao alles doen om die waarheid te onderdruk.
Soos Paulus oor die ongelowiges skryf: “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk” (Rom 1:18).
Ongeloof is in wese opstand, verset.
By Farao is dit so duidelik.
En agter hierdie verset skuil sy eie belang.
En deel van sy eie belang was juis om Israel as slawe aan te hou.
Farao se egoïsme, sy eiebelang, het ingehou dat hy slegs raakgesien het wat ander mense vir hom kan beteken, sonder om aan daardie mense se nood te dink.
Dit is dan ook die dryfveer vir die drakoniese bevel wat hy vervolgens uitvaardig.
Naamlik dat die Israeliete voortaan self strooi moet versamel, maar nog steeds dieselfde hoeveelheid bakstene moet oplewer.
Dit was nie net dat hy hom vererg het nie.
Bewus probeer hy ’n wig te dryf tussen Moses, Aäron en die volk.
Gemeente, Farao se karakter en optrede is nie vreemd op aarde nie.
In elke eeu is daar sulke heersers aan bewind.
In hierdie bedeling het ons nie die belofte dat God hulle van die troon sal weer nie.
Maar wel dat hulle dae getel is!
Met daardie geloofsvertroue het Moses en Aäron vir Farao benader met hulle op die oog af belaglike versoek.
Daardie geloofsvertroue vra die HERE ook van jou en my.
En as ons besef wie die HERE is, dan is dit ook moontlik!
Des te makliker vir ons, omdat ons weet dat ons Here Jesus Christus op die troon in die hemel regeer!
Laat ons nie moed opgee nie, selfs al kom daar vir tyd en wyle terugslae.
En dis nou juis wat met die Israeliete gebeur het.
Want Moses en Aäron se aksie het die teenoorgestelde resultaat gehad.
En hoe die volk daarop gereageer het, dit gaan ons in die tweede punt sien.
(Tema: Wie is die HERE?
1 Aardse heersers word gewaarsku)
2 God se kinders word bemoedig
Die HERE beveel Farao om sy volk te laat gaan.
Maar Farao stuur die volk oppad om nou self ook strooi te versamel.
Geen bevryding nie, maar verswaring van die slawelas.
Farao dryf ’n wig tussen Moses, Aäron en die volk.
En Farao stel sy eie belange veilig.
Want bakstene was ’n belangrike bousteen van sy drome.
Al was die piramides oor die algemeen van klip gebou, al die ander geboue – van sy paleis, pakhuise tot die tempels was van bakstene gebou.
In Egipte is bakstene vervaardig deur eerstens water en grond te meng tot modder, ’n klei.
Maar strooi is ook toegevoeg sodat die bakstene sterker is, sodat daar nie maklik ’n stuk afbreek nie.
Talle en talle bakstene was nodig om Farao se ambisies te verwesenlik.
Die strenger arbeidsvoorwaardes het direk ’n impak gehad, veral op die voormanne.
Toe die Israelitiese slawe nie in staat was om die daaglikse kwota te haal nie, is hulle geslaan.
Tussen hakies, gemeente, hierdie verhaal van die bakstene is net nog ’n bewys dat Exodes histories betroubaar is.
In ander bronne uit die oudheid word ook vertel hoe bakstene gemaak en gebruik is.
Die Exodus verhaal is nie net ’n spannende storie nie, dit is geskiedenis!
As die evangelis Johannes aan die einde van sy evangelie skryf: “hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam” – dan kan ons dit ook toepas op die res van die Skrif, soos die geskiedenis van die uittog.
Net soos Jesus wondertekens gedoen het, so het God dit ook in Egipte gedoen.
Ek noem dit, want dit is vandag in die Outestamentiese wetenskap redelik algemeen om te beweer dat die uittog soos dit in Exodus beskryf is, nie plaasgevind het nie.
Die Israeliete sou eintlik gewoon uit die Kanaäniete in Kanaän ontstaan het, en ’n uittog op die skaal soos hier beskryf, en met al die wondertekens, dit het nie gebeur nie.
Toe die susterkerkverhouding met die Gereformeerde Kerken (vrijgemaakt) in Nederland beëindig is, was dit ook een van die redes.
Die meeste van ons weet van die vrou in die amp, maar dis net die toppie van die ysberg.
Die probleme het begin toe daar vraagtekens begin plaas is by die historiese betroubaarheid van die Bybel, in navolging van byvoorbeeld die vrysinnige Outestamentiese wetenskap wat bedryf word aan regeringsgesubsidieerde universiteite.
Daarenteen bly ons vashou aan die feite, dat Israel in Egipte ’n groot volk geword het, dat hulle as slawe bakstene moes produseer op die manier soos wat destyds in Egipte gebruiklik was.
Maar hoe hulle ook geswoeg het, noudat hulle ook self die strooi moes versamel, hulle kon nie meer genoeg vervaardig nie.
Uiteindlik het hulle ook maar, sê vers 12, stoppels versamel pleks van strooi.
Dis duidelik, ons moenie die slawerny van Israel in Egipte onderskat nie.
Elke Sondag lees ons maklik oor die sinnetjie heen: “Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.” (Ex 20:2)
Maar vir die Israeliete het dit ’n diepe betekenis gehad.
Die HERE was hulle Bevryder uit ’n verskriklike bestaan.
En, gemeente, as ons dit so elke Sondag aan die begin van die tien gebooie hoor, besef jy dat dit net so vir jou geld?
Besef ons nog hoe erg die slawerny aan die sonde is?
Soos Paulus skryf: Julle was diensknegte van die sonde tot die dood – Romeine 6:16.
Die sonde het die dood tot gevolg, dis nog erger as die sweepslae van die Egiptenare.
Besef ons nog hoe gevaarlik die sonde is, en dat ons nie dit in ons lewens moet toelaat nie?
Die sonde, en die Satan daaragter, is die ergste slawedrywer.
Hy eis net meer en meer, tot ons dood neerval.
En daarom, besef ons nog hoe groot die bevryding is wat ons deur Jesus Christus ontvang?
Ja die nagmaal is werklik ’n groot fees!
Christus is ons groot Bevryder!
Met sy kosbare bloed het Hy my uit alle heerskappy van die duiwel verlos – so bely ons elke keer met Sondag 1.
Deur sy kruisdood en danksy sy opstanding het ons nou ‘n toekoms in vryheid.
In die laaste Bybelboek prys ons Hom daarvoor saam met die kerk van alle eeue: “Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed ... aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.” (Openb 1:5-6)
Maar, Satan gee nie sommer op nie.
Dit lyk of Farao se slinkse plan werk.
Pleks van te volhard in vertroue op die HERE, begin die Joodse voormanne vir Aäron en Moses te blameer.
Aan die einde van die vorige hoofstuk was daar van geloof sprake:
“die volk het geglo. En toe hulle hoor dat die HERE op die kinders van Israel ag gegee en hulle ellende aangesien het, het hulle in aanbidding neergebuig.” (Ex 4:31)
Maar hierdie geloof was nog nie diep gewortel nie.
Met die eerste terugslag word daar nou vingers gewys.
Die Joodse voormanne gaan kla by Farao, pleks van hulle nood by die HERE te kla.
Met Farao kan daar nie onderhandel word nie, met die Satan nog minder.
Moenie ’n guns van jou slawedrywer verwag nie.
Maar dan, op pad terug van Farao af, loop die voormanne vir Moses en Aäron raak.
Waar hulle by Farao geweeklaag het, staan en veroordeel hulle nou vir Moses en Aäron.
Farao se plan slaag, ’n wig is gedryf, en die volk begin om die geestelike leiers te blameer vir wat in hulle lewens foutloop.
Dis ook maar soos ons as mense is.
As iets foutloop, vind ons wel iemand om te blameer.
Moses en Aäron se plan het die omgekeerde uitwerking gehad, dit was ’n groot flop.
Gemeente, as ’n teenslag ons tref, laat ons nie die eerste wees om te blameer nie.
Maar laat ons eerder opkyk, soos daar in Exodus oor die volk staan:
“En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God.” (Ex 2:23)
Laat ons vertrou dat God ons gekerm sal hoor, soos daar in die volgende vers staan.
Dis wat Moses wel in reaksie op Farao se ongenaakbaarheid gedoen het, vers 22:
“Toe gaan Moses weer na die HERE en sê: Here, waarom het U hierdie volk kwaad aangedoen? Waarom het U my tog gestuur?”
Ja, gemeente, dis nie verkeerd om vir die HERE waarom te vra nie.
Dis nie verkeerd om tot Hom te kerm nie.
Die HERE luister na elkeen wat in nood tot Hom roep.
Hy was nog nie klaar met Farao nie.
Die volk was onaangenaam verras met Farao se harde optrede.
Maar die HERE is nie onkant gevang nie.
Hy het geweet dit gaan kom.
Op hierdie bemoedigende noot eindig die hoofstuk:
“Nou sal jy sien wat Ek Farao sal aandoen. Want deur ’n sterke hand sal hy hulle laat trek, ja, deur ’n sterke hand gedwing, sal hy hulle uit sy land uitdrywe.” (vers 24).
So bemoedig die HERE vir sy kinders.
Gemeente, dit is ook die nagmaalsbelofte.
Christus is nog nie klaar met Satan nie.
Moenie moed opgee nie.
Satan probeer wat hy kan om mense in sy sondige slawekettings geboei te hou.
Maar Christus se bevryding het nog maar net begin.
Julle gaan nog veel groter dinge sien!
Vertrou Hom!
Amen.
Votum
Seën
Ps 96:1
Gebed
Nagmaalsformulier
Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)
Ps 96:3
Tafel 1: Skriflesing: Exodus 5; Ps 136:9,10,20
Lofverheffing & Gebed
Teks: Exodus 5
Preek
Ps 105:14,16,20,23
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps 96:4
Kollekte
Ps 96:6,8
Seën