Preek: Exodus 7:1-13
Die HERE het gekies om ‘n pad met Farao te stap.
Stap vir stap gaan Hy sy opstand afbreek, plaag vir plaag.
Hoekom het die HERE eintlik gekies om dit so te doen?
Gemeente, dit hoop ons om in hierdie serie preke agter te kom.
Om solank iets daarvan te sê: Hierdie was nie net ‘n konfrontasie tussen die HERE en Farao nie.
Hierdie was veral ook ‘n konfrontasie tussen die HERE en die afgode van Egipte.
Die HERE neem sy tyd.
Plaag na plaag rol die afgode se koppe.
So kies die HERE om in die publiek, sigbaar en voelbaar vir die hele Egipte, sy heerskappy oor hierdie land te toon.
Van die riviere tot die wolke, van die insekte tot die soogdiere, van die mense tot die afgode.
In vandag se gedeelte sien ons dat die HERE begin met ‘n konfrontasie tussen Moses en Aäron aan die een kant en die waarsêers van die Egiptiese afgode.
Tema: Die HERE se teken van oorwinning
1 Die HERE bemoedig
2 Die HERE berei voor
3 Die HERE gee die oorwinningsteken
1 Die HERE bemoedig
In hoofstuk 6 praat die HERE praat Moses weer moed in.
Moses het na die HERE geluister, hy het na Farao gegaan, maar die resultaat was die omgekeerde.
Soms het mens dit in jou lewe.
Jy lewe presies volgens God se wil, maar dan veroorsaak juis dit vir jou teenspoed.
Jy is byvoorbeeld ‘n fluitjieblaser vir wat verkeerd is, maar aan die einde van die dag word jy gestraf juis omdat jy vir die waarheid opgekom het.
So kry Moses en Aäron nou die blaam vir die feit dat Farao die Israeliete se werkslas verdubbel het.
Maar vir die HERE gaan dit nie daaroor of jou optrede resultaat boek of nie.
Wat vir die HERE saakmaak is of jy trou is aan Hom.
Hy sal vir die resultaat sorg op sy tyd, jy moet net gehoorsaam aan Hom wees.
Maar die HERE praat Moses dus weer moed in.
Hy is dieselfde God as wat aan Abraham, Isak en Jakob verskyn het.
Hy is die Almagtige.
Hy het ‘n verbond met hulle opgerig.
Deel van die verbond was sy belofte om hulle die land Kanaän te gee.
En nou het Hy geluister na die gekerm van die Israeliete in Egipte.
Hy herhaal sy belofte dat die tyd nou gekom het om hulle uit Egipte te lei.
Die tyd is nou daar om hulle te verlos deur ‘n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte.
In hoofstuk 6 sê die HERE sewe keer die woorde Ek sal.
Ek sal julle onder die harde arbeid uitlei.
Ek sal julle verlos.
Ek sal julle red met ‘n uitgestrekte arm.
Ek sal julle as my volk aanneem.
Ek sal julle God wees.
Ek sal julle bring in die beloofde land.
Ek sal dit aan julle gee (Ex 6:6-8).
Moses het hierdie bemoedigende woorde toe aan Israel oorgedra.
Maar hulle het nie ore daarna gehad nie.
Die harde slawediens het hulle totaal in beslag geneem.
Hulle kon nie insien hoe God vir hulle ‘n Redder kon wees nie.
Is jy soms so swaar belas met die sonde en die sorge van die lewe, dat God se redding vir jou onwerklik voel?
Christus sê dieselfde woorde as God destyds aan Israel:
Ek sal jou red.
Ek sal jou sondes vergewe.
Ek sal jou vrymaak.
Ek sal jou my eie maak.
Ek sal jou tot die einde vashou.
Ek sal jou ‘n groot erfenis gee.
Ek sal jou die ewige lewe gee.
Is hierdie beloftes vir jou ‘n werklikheid, of staan hulle buite jou lewe van alledag?
Is jy eintlik skepties oor hierdie beloftes?
Die lewe met al sy sorge, ja die sonde, kan ons so inkapsel dat ons nie meer ‘n beter werklikheid daarbuite kan sien nie, durf sien nie.
Jy probeer maar net om elke dag deur te kom.
Daar is nie meer ‘n strewe na vryheid nie.
Die sondige bestaan versmoor jou heeltemal.
Uit jouself het jy heeltemal onbekwaam geword om self daaruit te kom, en selfs die hoop het verdwyn dat iemand anders jou uit jou slawerny kan red.
Dit was ook die volk Israel se toestand in Egipte.
Slegs Goddelike ingrype van buite af sou iets daaraan verander.
Die HERE gee toe weer die opdrag dat Moses met Farao moet gaan praat.
Moses is egter skepties.
As Israel nie eers na my luister nie, hoe sal Farao?
En ek is hoegemaand nie ‘n oortuigende spreker nie, kla hy.
Dan volg daar ‘n geslagregister van Moses en Aäron.
Nou het baie mense al gevra hoekom hierdie geslagsregister juis hier staan.
Oor die algemeen hou ons nie baie van geslagsregisters nie, en ons slaan dit dikwels oor met Bybellees.
Tog het geslagsregisters ‘n baie belangrike boodskap.
Vergelyk dit vir ‘n oomblik met ons Kerkhandboekie.
Daarin staan ook ‘n lang lys name.
As ons nou binnekort weer ‘n nuwe Kerkhandboekie by die kerkkantoor gaan kry, dink ek nie iemand gaan al die name van voor tot agter deurlees nie.
Maar wat die meeste van ons wel doen, is om gou te blaai na waar jou eie naam staan.
Net seker maak jou naam staan ook daarin, en dat al die gegewens korrek is.
Sê nou maar jou naam staan nie daarin nie, hoe sal jy voel?
Sal jy nie buitegesluit voel nie?
In die Bybel bevestig geslagsregisters dikwels wie God in sy genadeverbond opgeneem het.
Dis ‘n voorreg om in ‘n geslagsregister te staan!
Dan het hierdie register in Exodus 6 nog ‘n funksie.
Dis nie ‘n register van heel Israel nie, dit fokus basies net op die afstammelinge van Levi, dit is veral Aäron en Moses se stamboom.
Ons kan aflei dat dit hier ingesit is om die volk te oortuig dat hierdie twee manne nie vreemdelinge is nie, maar uit Israel afkomstig en deur God self aangewys om die leiding te neem.
Inderdaad, die HERE gee weer aan Aäron die opdrag om saam met Moses te gaan.
Moses die leier, en Aäron die woordvoerder.
Opvallend wat die HERE aan Moses sê:
“Ek stel jou as ‘n god vir Farao, en jou broer Aäron sal jou profeet wees.”
Soos Farao die verteenwoordiger van die gode is, so verteenwoordig Moses vir die HERE.
Farao as verteenwoordiger van die afgode van Egipte kom oog in oog te staan met Moses, die HERE se verteenwoordiger.
Nou was Moses nie God self nie.
Dit sou later verander, toe Iemand gekom het waarvan Moses net die skaduwee was.
Want Jesus Christus was wel God.
Hy het uit die hemel neergedaal as God se verteenwoordiger, maar Hy is self ook God.
“Hy is die Beeld van die onsienlike God” – Kolossense 1:15.
Hy is die afskynsel van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese – Hebreërs 1:3.
2 Die HERE berei voor
Wat ook opvallend is, is dat die HERE hierdie keer by voorbaat vir Moses sê:
Julle sal nou na Farao gaan en alles vir hom sê, MAAR hy sal nie vir julle luister nie.
Want Ek sal sy hart verhard.
Dit was dus kennelik deel van God se plan.
Want, sê die HERE, Ek wil eers my tekens en wonders in Egipteland vermenigvuldig.
Hier skemer deur dat die HERE ‘n strategie het.
Moses en Aäron is onderdeel van hierdie strategie, maar hulle word solank daarop voorberei dat Farao nie een twee drie gaan toegee nie.
En daar is ‘n rede daarvoor.
Ons gaan in latere preke hierby terugkom, maar net nog solank dit.
In Exodus 9:16 gee sê die HERE iets van sy bedoeling, sy strategie.
Daar lees ons:
“maar juis hierom het ek jou nog nog laat bestaan [dis nou vir Farao], dat Ek jou my krag kan toon, en dat hulle my Naam op die hele aarde kan verkondig.
Twee dinge sê die HERE hier.
Een, Hy wil sy krag toon in Egipte, dat Hy heers oor hierdie land en sy afgode.
Twee, Hy het ‘n spesiale bedoeling met hierdie volkie Israel, want hulle moet sy Naam op die hele aarde verkondig.
Dus al kla Moses: Dit sal nooit werk nie, Farao sal nooit luister nie, antwoord die HERE:
Maar dit maak nie saak nie.
Dis reg, dis presies wat Ek op die oog het.
Dis my strategie!
Dis Ek wat sy hart sal verhard dat hy nog nie luister nie.
‘n Prediker kan nie altyd resultaat op sy prediking verwag nie.
Soms wil die HERE net hê mense moet iets hoor om alle verontskuldiging weg te neem.
‘n Gehoorsame profeet is nie altyd ‘n suksesvolle profeet nie.
Sukses moet nie gemeet word in terme van aantalle en uitkomste nie, maar of die profeet doen wat die HERE aan hom opdra.
So gaan Moses en Aäron weer oppad, voorberei deur die HERE en wetende wat op hulle wag.
Aäron gooi dan sy staf voor Farao en sy dienaars op die grond, en weer het dit ‘n slang geword.
Ja dit is God se strategie.
Hy wil eers sy tekens laat sien.
Daardeur sou sommiges vir Hom ontsag kry (Ex 9:20), maar ander hulleself dubbel en dwars verhard.
Maar aan die einde sal niemand in Egipte meer kan sê: Ek ken nie die HERE nie.
Klink dit nie bekend nie?
Ja, want in die Nuwe Testament het God dieselfde gedoen.
Na al Christus se tekens en wonders, drie jaar lank, wat uitgeloop het op die grootste teken – die opstanding uit die graf, kon niemand in Israel meer sê: Ek ken nie die HERE nie!
En ook vandag kan niemand dit meer sê nie, want sy Woord, sy blye boodskap van die leë graf gaan uit oor die hele wêreld.
En daar sal ‘n dag kom waarop elke skepsel sal erken en elke tong sal bely “dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.” – Filippense 2:11.
Gemeente, ons teks is nie net ‘n botsing tussen Moses en Farao nie.
Dis nie net ‘n konflik tussen Israel en Egipte nie.
Dis ‘n konflik tussen God en die gode van Egipte.
Uiteindelik die konflik tussen God en die Satan.
En God se plan is om hierdie oorlog stap vir stap en vir almal sigbaar te voer.
God se oordeel oor Egipte en sy afgode kom naamlik in die vorm van tien plae.
Hierdie plae was nie net natuurrampe nie, dit was die bonatuurlike stryd tussen God en die Satan, verteenwoordig in die Egiptiese afgode.
Ek hoop om in latere preke hierop terug te kom.
Wat daar in Egipte gebeur het, is presies soos wat Paulus dit later sou beskryf:
“ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” – Efesiërs 6:12.
3 Die HERE gee die oorwinningsteken
En dit het inderdaad ’n groot stryd geword.
Want Farao gee nie sommer in nie, en ook nie sy towenaars nie.
Aäron gooi sy staf op die grond, en dit word ’n slang – waarskynlik ’n kobra.
Die slang was simbool van Farao se mag.
Die slang is aanbid in Egipte as ’n manifestasie, ’n verskyningsvorm van die gode.
In die Nyldelta het die Egiptenare byvoorbeeld ’n tempel gebou vir die slanggodin, in die hiërogliewe is sy afgebeeld as ’n kobra.
Maar met hierdie teken demonstreer Aäron sy God se mag oor Farao en die gode wat hy kwansuis verteenwoordig het.
Maar dan slaan Farao se towenaars terug.
Tussen hakies, ‘wyse manne’ moet ons met ‘n knippie sout neem.
Nie wys volgens byvoorbeeld die Spreukeboek nie.
Maar geleerd, veral geleerd in byvoorbeeld die astrologie, in die afgodsdiens.
Farao se towenaars gooi ook hulle stawwe op die grond, en ineens seil daar ‘n klomp slange.
Nou het baie mense hulleself al afgevra hoe die towenaars dit reggekry het om ook slange uit hulle stawwe te tower?
Verskillende verklarings is al aangedra.
Hulle sou byvoorbeeld kulkunstenaars wees, soos mens vandag ook kry.
Gesigsbedrog, slim toertjies.
Of, hulle sou slangebesweerders wees.
Dis nog steeds iets wat in Egipte bekend is, dat daar opgeleide mense is wat toertjies met slange kan uitvoer, slange kan laat dans byvoorbeeld, of onder hipnose bring, betower.
Hierdie slangebesweerders sou die kobra’s reeds vasgehou het asof dit hulle stawwe was en daarna op die grond gegooi het.
Ander wys op die feit dat mens nie die mag van die duiwel en demone moet onderskat nie.
In 2 Thessalonisense 2:9 lees ons dat die Satan in staat is tot “allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen”.
Miskien is dit ‘n kombinasie van al drie.
Later lees ons dat die towenaars ook in staat was om nog van die ander tekens na te boots – soos die water in bloed verander.
Maar van die begin af is direk duidelik wie die sterkste was.
Want dadelik het Aäron se staf hulle stawwe verslind.
Vir die Egiptenaars ‘n baie duidelik boodskap.
Want in die heidense wêreld het om iets te verslind beteken dat die prooi se kragte ingeneem is.
Aäron se slang het nie net gewoon die ander slange opgeëet nie.
Aäron se staf was nou dubbel so magtig, want dit het die kragte van die towenaars se stawwe nou ook in hom gehad.
So triomfeer die God van Aäron en Moses oor die heidense afgode.
En Moses, God se gesant, triomfeer oor Farao.
Hier is sprake van geestelike oorlogsvoering.
‘n Oorlog wat haarfyn vooraf deur God beplan is.
Hy gaan wen, maar die oorwinning word eers bietjie uitgestel.
Farao verhard homself nog.
En soos God vir Farao beheer, so is Hy ook in beheer van die Satan.
Satan het werklike invloed, verwoestende invloed in Egipte, maar Satan het nie die laaste woord nie.
En Satan se towenaars kan naboots, maar teen God se almag kan hulle niks begin nie.
Die towenaars het teleurgestel, hulle het Farao in die steek gelaat, hulle het lelik tweede gekom.
Aäron se slang het oor hulle s’n getriomfeer.
Hy’t hulle ingesluk, verslind.
Dit herinner my aan ‘n ander Bybelvers:
“Die dood is verslind in die oorwinning.” (1 Kor 15:54)
Paulus skryf dit na aanleiding van Jesus se opstanding uit die dood.
Ook daar was dit ‘n kosmiese geveg, maar Christus het “die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer” – Kolossense 2:15.
Dis die Evangelie, die blye boodskap waarvan Aäron se staf al ’n skaduwee was.
“God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.” – 1 Korinthiërs 15:57.
Die dood is verslind in die oorwinning.
Maar, teen hierdie tyd geen verrassing nie, Farao se hart was verhard.
Hy luister nie na die HERE nie.
God gaan nog ‘n langer pad met hom stap.
En so gaan dit deur die geskiedenis heen.
Gelowiges en ongelowiges hoor dieselfde boodskap, kry dieselfde tekens.
God is nog geduldig, Hy gee weer kanse.
Toe Israel Aäron se wondertekens gesien het, het hulle geglo en in aanbidding neergebuig (Ex 4:31).
Maar Farao en sy towenaars het hulle verhard.
Ook vandag moet elke mens reageer op God se Woord en teken.
Sy oorwinningsteken vandag is die leë graf van Jesus Christus.
Dit staan as die opvallendste mylpaal in die geskiedenis.
Dit is die HERE se teken van oorwinning op die Satan, sonde en dood.
Erken jy dit, of ignoreer, verwerp jy hierdie goeie nuus?
Salig is elkeen wat dit glo en in aanbidding neerbuig voor Hom wat almagtig is.
Want Hy sal bevryding bring, al duur dit dalk bietjie langer as verwag.
God se wonderteken van die leë graf kan niemand ontken nie, of hy moet sy oë toemaak vir die feite.
En God se Woord is ons naby ons, in ons mond en in ons hart.
Hoe bevoorreg is ons nie daarmee nie.
Paulus skryf in Romeine: “Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig: As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, [dis die oorwinningsteken, dan] sal jy gered word” (Rom 10:9).
Amen.
Votum
Seën
Ps 91:1,7
Wet
Sb 26:1,2
Gebed
Skriflesing: Exodus 5:22-6
Ps 135:8-11
Teks: Exodus 7:1-13
Preek
Ps 81:1,6,11,12,15
Gebed
Kollekte
Ps 87:3-5
Seën