Preek: Exodus 7:14-25
Die HERE het na meer as 400 jaar besluit om sy volk te bevry.
Hy het Moses geroep om die leiding te neem, Aäron om sy woordvoerder te wees.
Saam het hulle na Farao gegaan.
Farao het hoegenaamd nie na hulle gesluister nie.
Hy het die werkslas van Israel selfs verdubbel.
Voortaan moes hulle ook die strooi versamel om bakstene te bak.
Die gevolg was dat die volk baie kwaad was vir Moses en Aäron.
Moses het by die HERE gaan kla.
Waarvoor was dit nodig?
Maar die HERE het Moses moed ingepraat.
Hy is die HERE – sy Verbondsnaam – wat beteken dat Hy dieselfde is.
Dieselfde as die God van die voorvaders, Abraham, Isak en Jakob.
Die God wat aanwesig is.
Ook het die HERE vir Moses begin duidelik maak dat Hy ‘n strategie het.
Dit was nie sy plan om sy kinders in een dag te bevry nie.
Hy gaan ‘n pad stap, plaag vir plaag gaan Hy Farao se opstand teen Hom afbreek.
Daarvoor verhard die HERE selfs die hart van Farao, sodat Farao elke keer sy hart sal verhard die oomblik as ‘n plaag opgehou het.
Wat ons in hierdie serie preke al begin sien het, is dat dit nie net ‘n stryd tussen die HERE en Farao was nie.
Dit was ‘n stryd om te wys wie het beheer oor Egipte – die HERE, of die afgode van Egipte.
Plaag vir plaag gaan die afgode van Egipte se koppe rol.
Farao het elke keer gedink, OK, hierdie afgod is oorwin, maar ek het darem nog baie meer ...
Dit het begin met die oorwinning oor die slanggodin.
Aäron se staf het ‘n slang geword, en dit het die slange van die towenaars verslind.
Die towenaars het misluk, hulle het teleurgestel.
Maar Farao bly hardkoppig.
Vir hom was daar te veel op die spel.
Hoe kan hy toestemming gee om hierdie volk van duisende der duisende mense te laat trek?
As slawe het hulle soveel vir sy ekonomie, sy koninkryk beteken.
Farao wou nie dat hulle hulle God gaan dien nie, hulle moes hom dien!
Geen godsdiensvryheid, altans geen vryheid om die ware God te dien nie.
Daar is mos genoeg afgode in Egipte ...
Maar juis dit was die doel van die uittog - die exodus – om die ware God te kan dien.
Ons kyk vandag na die eerste plaag, die boodskap daarin vir Farao, vir Egipte, vir Israel en vir ons.
Tema: Die HERE toon sy almag oor Egipte se lewensaar en sy gode
Moses en Aäron is by die paleis weg sonder enige resultaat.
Maar die HERE se gevegsplan het nog maar begin.
Net toe Moses en Aäron daar weg is, verskyn Hy weer aan hulle.
Julle moet môre weer na Farao gaan.
Julle sal hom aan die kant van die Nyl ontmoet.
Gee hom dan weer die opdrag: Laat my volk trek, want hulle moet vir My kan dien in die woestyn!
En dan openbaar die HERE aan Moses en Aäron watter teken Hy van plan is om te doen.
Die water van die Nylrivier sal bloed word, met alle gevolge van dien.
Hierdie keer nie net ‘n bietjie water wat Moses uit die rivier skep nie, maar die hele rivier, alle kanale en vleilande.
So gesê, so gedaan.
Die volgende oggend ontmoet Moses en Aäron weer vir Farao.
Moses lig sy staf op, hy slaan die Nylrivier terwyl Farao en sy dienaars staan en kyk.
Alle water word rooi, selfs die water in die kanale, vleilande, selfs in alle opgaarplekke – in die hout en klipbakke.
Hulle het nie plastiek JoJo-tanks gehad soos ons nie, dit was van hout en klip.
Visse oorleef nie in bloed nie.
Dieselfde dag het alle lewe in die riviere gevrek, alles het begin stink.
Hierdie was die eerste van die tien plae, tien wondertekens in Egipte.
Die HERE begin nou ‘n pad te stap, nie net met Farao nie, maar met die hele Egipteland.
Die hele land, die hele bevolking, gaan nou geaffekteer word met die HERE se strafgerigte, sy strategie om Farao tot die punt te bring waar die HERE hom wil hê.
Nou is die tien plae nie in willekeurige volgorde nie.
Die tien plae is ook nie net ‘n willekeurige lys van natuurrampe nie.
Vroeër as kind het ek die 10 plae uit my kop moes leer:
Water in bloed, paddas, muskiete, steekvlieë, pes onder die vee, ensovoorts.
Maar ek het nie geweet dat daar ‘n rede agter hierdie volgorde is nie.
En ook nie dat elke spesifieke plaag deur God gekies is met ‘n baie spesifieke doel nie ...
Kom ons kyk vir ‘n oomblik na die volgorde.
Die plae kan in groepe verdeel word.
Dit het te make gehad met die Egiptiese wêreldbeeld.
Basies het die werklikheid vir hulle bestaan uit drie dinge: water, land en lug.
En elkeen van hierdie drie het sy spesifieke gode – afgode – gehad.
Tussen hakies, Egipte het meer as tagtig gode gehad.
Met die tien plae gaan die HERE sy almag oor hulle toon.
Nou teiken die HERE met die eerste twee plae die eerste element – die water, meer spesifiek, die Nylrivier.
Met die volgende vier plae gaan Hy die gode van die land teiken.
Met die laaste vier plae teiken Hy die gode in die lug.
Terug na die eerste plaag.
Die Nylrivier was die lewensaar vir heel Egipteland.
In ‘n land sonder reën het hierdie rivier dit moontlik gemaak dat mense daar kon bly.
Nie net bly nie, maar ‘n bloeiende beskawing kon opbou.
Elke jaar het die Nyl in vloed afgekom, na die reënseisoen verder op in Afrika.
Saam met die massas water het ook tonne en tonne slik gekom – baie vrugbare grond.
Dit het vir die Nyldelta die mees vrugbare landbougrond verskaf.
Die boere het kanale gegrawe om hulle gewasse nat te lei.
Ook was die Nyl met al sy sytakke die paaie in Egipte.
Dit was maklik om van een plek na ‘n ander te reis, met bote oor die water.
Dit was maklik om jou landbouprodukte tot by die afsetmark te kry, of dit in Egipte was, of selfs oorsee.
Soos ons weet, ‘n goeie infrastruktuur is onontbeerlik vir ‘n bloeiende ekonomie.
Al met al, sonder die Nyl sou Egipte nie gewees het wat dit was nie.
Geen wonder die mense het die Nyl begin aanbid nie.
Nou was daar basies drie gode van die Nyl.
Daar was Osiris, die god van die Nyl.
Daar was Nu, die god van alle lewe in die Nyl.
En dan was daar Hapi, die god van die vloed.
Hy het elke jaar in die vloedseisoen gesorg vir die oorvloed water met vrugbare grond.
Hapi was die vrugbaarheidsgod.
Die jaarlikse seisoenale vloed het nuwe geboorte aan Egipte geskenk.
Dus, God se aanval op die Nylrivier was ‘n direkte aanval op hierdie gode van Egipte, die gode van die Nyl.
Soos daar in Numeri 33 staan: Die HERE het “aan hulle gode strafgerigte voltrek.” (vers 4)
Dit was ook ‘n direkte aanval op die ekonomie van Egipte, op die voortbestaan van Egipte.
Daar, aan die oewer van hierdie heilige rivier, ontmoet Moses en Aäron dus vir Farao.
Hulle kom weer met die opdrag: Laat my volk trek!
Moses staan daar met sy staf, simbool van God se mag.
Hieraan sal Farao weet dat Hy die HERE is – as Moses met die staf die rivier slaan.
En daar en dan het, voor Farao se oë, die rivier rooi gekleur.
Daar is uitleggers wat die geskiedkundigheid van hierdie wonder bevraagteken, trouens van al die wonders.
Sommiges noem die tien plae slegs ‘n simboliese literêre stylfiguur wat die skrywer van Exodus uitgedink het.
Ander probeer die wonders verklaar as natuurverskynsels.
So sou die bloed eintlik net rooi grond gewees het wat die water rooi gekleur het, en wat in ‘n vloed daar aangekom het.
Dit sou die suurstofgehalte van die water geaffekteer het, waardeur die visse gevrek het.
Ander verklaar die verskynsel deur te dink aan ‘n soort rooi alge wat skielik in die rivier begin groei het.
Dan probeer hierdie uitleggers nog steeds wys op die feit dat God hierdie natuurlike prosesse beheer het.
Maar gemeente, as ons eenvoudig lees wat daar staan, dan wil die Exodusskrywer duidelik ‘n ander boodskap oordra.
Moses het dit opgeskryf as ooggetuie vir toekomstige generasies, met die doel dat hulle sou lees wat regtig gebeur het.
As daar in vers 20 staan dat die water in bloed verander het, dui die woord verander nie op ‘n natuurlike proses nie.
En die woord bloed is gewoon die Hebreeuse woord vir bloed, nie vir grond of alge nie.
Die modderige water wat elke seisoen afkom, duur gewoonlik ‘n paar maande, en visse vrek nie daarin nie.
Maar die visse het gevrek omdat hulle nie in bloed kan oorleef nie.
En die mense het bloed geproe, nie grond of alge nie, toe hulle die Nylwater probeer drink het.
Later in die Skrif sien ons dat die Bybelskrywers volledig uitgaan van die feit dat hierdie wonderteken werklik gebeur het.
Asaf skryf in Psalm 78: “Hy het hulle riviere verander in bloed en hulle strome, sodat hulle nie kon drink nie.” (vers 44)
En in Psalm 105 lees ons: “Hy het hulle waters verander in bloed en hulle visse laat sterwe.” (vers 29)
Soos ek genoem het, die Egiptenare was in alles afhanklik van die Nyl – hulle water, hulle voedsel (nie net die landbougewasse nie, vis was ook ‘n stapelvoedsel in Egipte), en verder hulle infrastruktuur, hulle hele ekonomie.
Die rivier was hulle lewensaar, letterlik en figuurlik.
Hulle beskawing was daarop gebou.
Daarsonder sou hulle land maar net woestyn gewees het, soos die eindelose woestyne wat hulle omring het.
Geen wonder die Nyl is vereer en aanbid nie.
Maar, nou kom die verrassing.
Die Egiptiese towenaars kon dieselfde doen!
Hulle het ook water in bloed verander, hoewel, hulle kon dit nie terugverander nie.
Satan kan dinge stukkend maak, maar nie regmaak nie.
Maar, dit was genoeg rede vir Farao om al gou sy besluit te neem.
Hy draai om terug na sy paleis, dit het hom nie getraak nie, sy hart het hy weer verhard.
Tussen hakies, hart dui hier nie soseer op gevoel nie.
In daardie tyd is jou hart veral beskou as die plek waar jy jou besluite neem.
Die niere is as die sentrum van jou gevoel beskou.
Sy hart verhard beteken dus dat Farao volstaan het by sy besluit om nie die volk te laat trek nie.
Sy hart vertrou nog op sy eie afgode.
En daarom sal die HERE voortgaan met sy strafgerigte.
Sy strategie is nog nie voltooi nie.
Na sewe dae gee Hy oplugting, toe Hy die bloed in die Nyl weer terugverander na water.
Trouens, net so ‘n groot wonder!
Maar met Egipte is Hy nog nie klaar nie.
Gemeente, vandag volg die HERE nog steeds sy strategie.
Ook aan die gode van ons tyd, en hulle aanhangers, voltrek die HERE sy strafgerigte.
Mense aanbid nog steeds die oorsake van hulle oorvloed.
Soos dit destyds die Nylrivier was, so is daar vandag ook verskeie dinge wat ons oorvloed, ons welvaart, ons lewensstyl waarborg.
Of dit grond is, toegang tot water, olie of sonkrag, finansiële instellings, mediese instellings, tegnologiese uitvindings, noem maar op.
As God hierdie dinge van ons wegneem, staan ons lewe op sy kop.
So gou stel die mens sy vertroue op aardse dinge – dinge wat deur God geskape is – soos byvoorbeeld die Nylrivier – maar nie hulle vertroue op die Skepper self wat die oorsprong van al hierdie dinge is nie.
Maar God se strategie is inderdaad dat Hy soms dinge van ons af wegvat.
En so wys Hy dat sy Naam steeds groot is oor heel die aarde, so bring Hy mense tot die punt om dit te erken, soos Farao en die Egiptenaars destyds.
Gemeente, laat ons die HERE aanbid en Hom vertrou, van Hom alles verwag vir ons lewe van elke dag.
Laat ons let op sy wondertekens en nie soos Farao ons rug daarop draai nie.
Destyds het God Moses gestuur om sy tekens in Egipte te doen.
Moses was maar net ‘n skaduwee van Christus, wat God ook gestuur het om sy wondertekens te verrig.
In Christus se wonderwerke sien ons veral God se groot genade.
Moses se wondertekens was om plae te bring – eers straf – en daarna weer oplugting nadat die plaag weer opgehef is.
Christus het, toe Hy die eerste keer na die aarde gekom het, nie strawwe gebring nie.
Slegs wonders van genesing, wonders van vermeerdering van voedsel, wonders selfs van lewendmaking.
En die grootste wonderteken was toe Hy self uit die graf opgestaan het met ‘n nuwe verheerlikte liggaam.
Deur al hierdie wonders het Hy sy mag gedemonstreer.
Deur sy tekens het Hy bewys dat Hy die profeet is van Hom wat almagtig is, die Skepper van hemel en aarde.
Toe Johannes die Doper getwyfel het, het Jesus gesê:
“Gaan vertel aan Johannes wat julle hoor en sien: blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig. En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.” (Matt 11:4-6)
Farao het sy rug op Moses se wondertekens gedraai.
Die Fariseërs en baie saam met hulle het hulle rug gedraai op Christus en sy wondertekens.
Maar God sy dank het daar ook baie vir Hom aanbid in reaksie op die wonders – die Israeliete in Egipte en selfs sommige Egiptenare.
En in Jesus se tyd was daar baie wat Hom gevolg het.
En tot ons tyd toe.
Jesus is HEER, aan Hom is gegee alle mag in hemel en op aarde.
Laat ons buig in aanbidding, laat ons ook elke skepsel oproep om dit te doen!
God gaan nog steeds voort met sy raadsplan, Hy bestuur dinge nog steeds volgens sy strategie.
Sy strafgerigte is nog nie iets van die verlede nie.
Die Bybelboek Openbaring berei ons daarop voor.
Ook in daardie Bybelboek lees ons van plae, sewe plae wat sewe engele uit sewe skale of bakke oor die aarde uitgiet.
Die tweede engel het byvoorbeeld sy plaag oor die see uitgegooi, en dit het bloed geword.
Elke lewende wese in die see het doodgegaan.
Die derde engel het sy plaag op die riviere en waterfonteine uitgegooi, en hulle het ook bloed geword.
Hierdie was strafgerigte van God met ‘n spesifieke rede.
Dit noem die engel as hy uitroep:
“Regverdig, Here, is U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel uitgevoer het; want hulle het die bloed van heiliges en profete vergiet, en U het aan hulle bloed gegee om te drink, want hulle het dit verdien.” (Openb 16:3-6)
Wie sy profete, sy kinders te na kom, hulle sal die gevolge dra!
God se strafgerigte is dus nog nie verby nie.
‘n Waarskuwing, maar net so ‘n groot vertroosting vir wie by Hom skuil.
Soos die HERE destyds sy kinders in Egipte beskerm en bevry het, juis deur die tien plae,
so doen die HERE dit in die nuwe bedeling ook.
Ook vandag, net soos destyds toe die Israeliete bloed en trane gesweet het onder die slawejuk, ook vandag word die bloed van heiliges en profete vergiet.
Heiliges – dis nie sondeloses nie – maar dit verwys na die mense wat die Here dien – dis sy kinders, dis ons wat aan Christus behoort.
Wat hierdie Bybelboek openbaar oor die sewe plae deur die sewe engele – dit is hoopgewend.
Net soos destyds in Egipte, is die plae voorbodes van die bevryding!
Die bevryding is op hande!
Daarom, kinders van die HERE, verwyder die suurdeeg van die sonde uit julle midde, sweer die afgode af, berei julle voor op die bevryding, want dit is op hande!
Vir elkeen wat na Hom toe kom en Hom aanbid, is daar nou nog ‘n kans om onder die plae uit te kom.
God gaan die wêreld in geregtigheid oordeel (Hand 17:31), maar tans is daar nog in Christus Jesus genade.
Soos Farao destyds, gaan daar vandag ook hulle wees wat hulle gaan verhard.
Laat dit ons nie onkant vang nie – die geestelike stryd, die teenstellings duur nog voort.
Soos die apostel Johannes in Openbaring skryf:
“die mense is geskroei met ‘n groot hitte, en hulle het die Naam van God gelaster wat mag het oor hierdie plae, en hulle het hul nie bekeer om Hom heerlikheid te gee nie.” (Openb 16:9)
Die finale oordeel, die wederkoms, staan voor die deur.
Dit gaan bloed bring op aarde, net soos destyds in Egipte.
Die HERE het sy almag getoon oor Egipte se lewensaar en sy gode.
Net so gaan Hy weer doen.
Want Hy is almagtig oor die hele aarde.
Maar die wat gewas is in die bloed van die Paaslam, hoef nie bang te wees nie.
Die plae word hulle bespaar.
Hulle sien juis uit na die bevryding!
Ons skuil agter Christus se bloed.
Sy bloed is vir ons die water van die ewige lewe.
Amen.
Votum
Seën
Ps 93:1-3
Wet
Ps 78:3,4
Gebed
Skriflesing: Exodus 7:14-25 & Openbaring 16:1-7
Ps 78:16
Teks: Exodus 7:14-25
Preek
Sb 31:2,3
Gebed
Kollekte
Ps 105:3,15,16
Seën