Die toorn van God

Predikant: 
Ds J Bruintjes
Gemeente: 
Kaapstad
Datum: 
2025-02-09
Teks: 
Jesaja 9:8-10:20
Preek Inhoud: 

Die toorn van God is deesdae nie ‘n populêre onderwerp of ‘hot topic’ in die kerk nie.  Dis nie ‘n onderwerp op twitter nie en ‘n gesprek oor die toorn van God sal nie baie ‘likes’ op sosiale media kry nie.  Ons verkies om dit te ignoreer en minder belangrik te maak.  Ons is soos volstruise wat hulle koppe in die sand steek.  Dit is wat Israel gedoen het – hulle het probeer om dit te ignoreer eerder as om daarop te reageer!  Dus, God se hand bly steeds uitgestrek na hulle toe (v.11)… maar dit gaan binnekort op hulle neerkom.

God het 'n heilige haat vir alles wat verkeerd is in hierdie wêreld, in die kerk en in ons.  En Hy sal nie rus voordat alle boosheid en sonde uitgeroei is nie.  Prys God dat sy vermoë om ons sonde te oorkom veel groter is as ons vermoë om Hom te weerstaan.  Hierdie begrip van die toorn van God is wat baie al tot bekering gelei het.

Dit was die preek “Sinners in the hands of an angry God” (“Sondaars in die hande van ‘n vertoornde God”) deur die beroemde predikant Jonathan Edwards wat baie in die 18de eeu laat besef het dat hulle 'n Verlosser nodig het!  As jy nie in God se toorn glo nie, dan is daar nie ‘n nut vir evangelisasie en sending nie.

Sonder God se heiligheid, en sy toorn, is die kruis sinneloos, en word alles maar net ‘n lekker ‘goedvoel-storie’.  God se toorn is vreeslik, want sy liefde is volmaak en heilig.  Hy is van nature liefde.  Dit is wie Hy is – en sy woede is die gevolg van sy liefde!  Hy was nie van ewigheid af toornig nie.  Dit was sonde wat sy toorn wakker gemaak het – en solank daardie sonde nie gestraf word nie, bly sy hand steeds uitgestrek.

Daar is verskeie redes waarom ons nie van die toorn hou nie – en deel daarvan is dat die relativisme van kultuur in die kerk ingesypel het.  Dit is vir ons moeilik om dinge boos, lelik en vals te noem.  Ons het ingekoop in hierdie sagte, leë, papperige, flou vriendelikheid wat die mens graag wil hoor.  Hierdie ‘vriendelikheid’ beteken dat jy nie 'n sterk opinie oor enigiets moet hê nie behalwe dit waaroor die wêreld 'n opinie het nie.  Dit vrees die mens en nie God nie.  Ons vergeet om die waarheid met vrymoedigheid te verkondig, om skoonheid in ons hele lewe te wys en om die goedheid van God in ons verhoudings en in die skepping na te streef.

Maar ons durf nie God se toorn weg te steek nie – want as ons dit doen, sien ons ook nie sy goedheid raak nie.  Ons sien nie werklik wat Christus gedoen het nie!  Dan sal ons nie die diepte van sy liefde om ons te red, ken nie.  Dit is goed dat God die bose haat, en alles wat verkeerd is met die wêreld.

Die toorn van God:

  1. Hoekom is God se toorn aan die kom?

  2. God se toorn verlos van die bose!

 

Hoekom God se toorn?

Ons lees vier keer in hierdie gedeelte: “Ondanks dit alles het sy toorn nie bedaar nie, en bly sy hand steeds uitgestrek.” (9:11, 9:16, 9:20, 10:4)

9:7-11: gaan oor ‘n nasionale ramp

9:12-16: politieke ineenstorting

9:18-20: sosiale anargie

10:1-4: morele verdraaiing

Dit word die refrein vir 'n persoon sonder berou wat onwillig is om hom aan die Here se tug te onderwerp.  Dit is ‘n verskriklike refrein!  Om teen God te veg. Dit is die hoogtepunt van trots – en daardie trots veroorsaak ‘n totale blindheid.

Ons sien dit in die eerste gedeelte van vers 7-12.  Israel is sopas deur 'n vreemde nasie geoordeel, maar in plaas daarvan om terug te keer na die Here, wat doen hulle?  Hulle maak staat op hul eie krag, op hul eie vernuf.  Hulle is vol trots en arrogansie!  Jesus sê: “Wie homself verhef, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhef word.” (Matteus 23:12)

In plaas daarvan dat hulle op die tugtiging reageer, sê hulle in 9:9: “Bakstene het geval, maar met gekapte klip sal ons herbou.  Wildevyebome is afgekap, met sederbome sal ons dit vervang.” Eerder as om te sê: “Here red ons!”, dink hulle: “Wonderlik, nou kan ons nóg beter herbou”, sonder om vir ‘n oomblik daaraan te dink hoekom dit alles in die eerste plek vernietig is.

Soms wil ons net só graag uit lyding, pyn of stryd in ons lewe kom dat ons net voortgaan, sonder om 'n oomblik stil te staan om te dink hoekom die Here dit in die eerste plek doen.  Hulle wou die toekoms tegemoet gaan met hul eie oordeel, eie reaksies, eie hulpbronne, eie beleid en eie krag, sonder om te stop en te leer uit die lesse van die verlede.

Doen ons dit nie ook soms nie?  Ons kyk vooruit en dink oor alles wat gebeur – sonder om te oorweeg wat God wil hê, wat God ons leer.  Watter lesse hierdie kerk uit die verlede moet leer.  Dit is belangrik dat ons nie bloot dink nie: ons sal herbou, ons sal aanhou – sonder om die lesse van God se tugtiging te leer.  Op watter fondament bou ons? Ons s'n of die kruis?

As hulle maar net kon luister na die woorde van Jakobus jare later (Jak. 4:8-10): “Reinig julle hande, sondaars, en suiwer julle harte, dubbelhartiges! Weeklaag en treur en huil! Laat julle lag in droefheid verander, en julle blydskap in somberheid. Verneder julle voor die Here, dan sal Hy julle verhoog.”

Hulle het opgestaan ​​teen die Here, daarom het die Here leërs teen hulle opgerig.  Sirië in die ooste en die Filistyne in die weste (2 Konings 16:6; 2 Kronieke 28:18).  Van alle kante is hulle omring en verteer.  En jy wonder – sal hulle luister?  As ons nie terugkeer nie – “bly sy hand steeds uitgestrek.”

Jesaja 9:12: “Maar die volk het nie teruggekeer na Hom wat hulle geslaan het nie, en die HERE, Heerser oor alle magte, nie geraadpleeg nie.”  Sien jy?  Die HERE van die leërskare slaan ons, sodat ons by Hom kan skuil!  Sodat ons sy verlossing in Christus kan soek.  Bekering laat toorn smelt en barmhartigheid seëvier.  En dit is die volk van God – die uitverkore volk.  Hulle moes gesien het wie se hand dit was wat uitgestrek was.  Die kerk moet die eerste wees wat op die Here se liefdevolle tugtiging reageer en in die skadu van sy vleuels skuiling vind.

Maar in plaas daarvan om die HERE te vra, vertrou hulle op menslike leiers en die profete van hul tyd.  Hulle dink hul politieke leiers sal alles verander.  Dit is elke geslag weer die mens se hoop.  As my politieke party net die mag kry, sal alles reg wees.  Hulle luister na hul gunsteling ‘influencer’ op sosiale media, hul gunsteling ‘podcaster’, of wie hulle ook al volg.  Eerder as om al die geraas af te skakel, en na die Woord te luister, die Skrif oop te maak en te bid en vrede en rus te vind in die God van verlossing.  Hy het dit alreeds gedoen!  Nie politieke leiers nie, of mense wat vir ons sê wat ons gretige ore wil hoor nie.

Daarom bring God verdere oordeel: “Hulle wat hierdie volk moes lei, het misleiers geword, en hulle wat gelei moes word, het verward geraak.” (Jes. 9:15)  Hy neem die krukke van die volk weg sodat hulle op Hom kan steun.  Sy hand is nog steeds uitgestrek. En “oor hulle vaderloses en weduwees ontferm Hy Hom nie.”  SJOE!  Dit is die enigste plek waar dit gesê word.  Hoekom?  Dit word verduidelik in 9:16b: “Hulle is immers almal van God vervreem, en is kwaaddoeners; elke mond verkondig dwaasheid.”

Een ding wat sonde doen: dit verteer.  Alles.  Totdat daar niks in die land oor is nie.  Of dit verteer die persoon sodat die persoon 'n leë dop word.  Dit is deel van die straf van God.

Ons lees in die volgende gedeelte, in 9:17, dit is goddeloosheid wat soos vuur brand, en in vers 20 is dit die toorn van die HERE van die leërskare.  Hoe dan so?  Sonde en hoogmoed veroorsaak dat mense teen mekaar draai.  Sonde en trots maak mense blind vir die hartseer, pyn en vernietiging wat veroorsaak word.  Kyk na die wêreld waarin ons leef.  Die wêreld verteer en verslind homself.  Mense verslind mekaar vir 'n stukkie van die koek, hulle vernietig die skepping en verag God.  In ‘n sekere sin is God se toorn ‘n voltooiing van die verwoesting wat alreeds gesaai word deur die sonde.

Hulle vat en vat en vat en word nooit versadig nie, soos ons lees in vers 19: “Hulle verslind aan die regterkant, maar bly honger; hulle vreet aan die linkerkant, maar word nie versadig nie.  Elkeen van hulle bly vreet aan die vleis van sy voorarm.”  Sonde verteer.  En hoe meer dit verslind hoe minder tevrede voel jy.  Ja, dit gee jou dalk tydelike vreugde en plesier – maar dit sal jou op die lange duur leeg laat en jou meer laat begeer.  Hierdie onversadigbare begeerte sal jou verhoudings stadig maar seker vernietig.  Almal draai teen mekaar.  Hulle begin hulself vernietig.  Van die laaste ses konings van Samaria het vyf deur ‘n sluipmoord op die troon gekom.

Dit is hartverskeurend.  Dit is broers en susters wat die ryk verbondsgeskiedenis gedeel het, wat die beloftes van God gedeel het, aan wie sy Woord deur die profete gegee is.  Wat mekaar verslind.  Die enigste ding wat hulle verenig, is vyandskap.  Gemeente, as daar verdeeldheid in die kerk is – God sal genadig wees en sy hand uitstrek tot tugtiging.  Ek weet nie van wie jy hou en van wie jy nie hou nie.  Maar moenie nog 'n dag wag om eenheid in Christus te vind nie.  Moenie vir Satan vastrapplek gee nie.

Galasiërs 5:15-16 sê: “As julle mekaar byt en verslind, pas op dat julle nie deur mekaar verorber word nie!  Maar ek sê: Leef deur die Gees, dan sal julle beslis nie die begeertes van die vlees uitvoer nie.”  O, mag die gees van die lewende God meer en meer saambind!  In die liggaam van Christus is ons gemaak om aan mekaar te behoort en as liggaam van mekaar afhanklik te wees; om my broer of suster te verslind is om myself te verslind.

Maar omdat dit voortgaan, sal die Here sy hand nie terugtrek nie!  Hy gaan voort om ons te tugtig.  Dit sou 'n verskriklike ding wees as Hy hulle aan hul eie lot oorlaat!  Maar wat doen hulle?  In 10:1 word wette gemaak om seker te maak dat die onderdrukking kan voortduur.  En hulle doen dit om “die regte van armes te dwarsboom, om die magteloses van my volk van hulle reg te ontneem, sodat weduwees hulle buit kan word, en hulle die vaderloses kan beroof.” (10:2)

Wette word geskryf in die eiebelang van elite politici.  Wette word nie geskryf ter wille van die mense nie, maar ter wille van die wetgewers!  Ons sien hierdie korrupsie in ons eie land.  Ons weet hoe dit lyk!  En dit vernietig 'n land!  O, geliefdes – dit is nie die pad van die koninkryk van die hemele nie.  Hierdie wette is geskryf om die swakkes te beskerm – om die gebrokene van hart op te hef!  Dit is nie die pad van ons Koning nie!  Dit is ver weg van Salomo se geregtigheid af!  Dit is nie die koninkryk van Jesus Christus nie – wat nie sy eie belang gesoek het nie!  Maar dit vir ons opsy gesit het!

Maar God se waarskuwings is werklik: “Na wie sal julle vlug vir hulp, en waar gaan julle julle rykdom agterlaat?  Niks daarvan nie!  Hulle sal tussen gevangenes die rug buig, en tussen gesneuweldes val.”

Oordeel

Niks anders sal oorbly as om tussen gevangenes die rug te buig en tussen gesneuweldes te val nie. God sal alle middele gebruik om sy wil vir sy volk tot stand te bring.  Hy regeer oor alle dinge ter wille van sy kerk.  En Hy sal alle dinge óf tot oordeel óf tot seën gebruik om te wys dat Hy die verbondsgod is.

Die heelal is tot sy beskikking – sodat die kerk gesuiwer, opgebou en mooi gemaak kan word tot op daardie groot dag!  Koninkryke is maar net gereedskap in sy hand.  Ons sien dit ook hier.  Assirië was God se instrument om oordeel te bring.  Israel het geweier om te luister – weer en weer en weer en weer.  Vier keer.  En toe stuur God Assirië teen hulle!

Maar dit is die probleem.  Die nasie wat God gekies het om die staf in sy hand te wees waarmee Hy sy volk tugtig, was boos.  Hulle was die Nazi’s van die antieke volke.  Hulle het ander baie sleg behandel.

Die mense in Jesaja se tyd sou gesê het: “Wag ‘n bietjie! Israel is nie 'n goddelose nasie nie – maar hulle is!  Hoe kan jy sê dat God hulle teen ons stuur!”  Liewe gemeente, God trek niemand voor nie, en oordeel begin by die huishouding van God.  Om in sy verbond te wees beskerm ons nie teen tugtiging nie, maar dit motiveer tot gehoorsaamheid.

Assirië het God nooit erken nie.  Die Here se motief was straf vir sy volk, maar Assirië se motief was wêreldheerskappy, soos vers 7-11 duidelik maak.  Hulle het gedink: “Wat keer ons om Juda ook te kry.” Daardie instrument in God se hand het begin dink hy was die grootste.

Hulle trots het tot die uiterste gegaan, en hulle het die God van Israel gesien as net nog ‘n god van die nasies wat hulle verslaan het.  Die koning van Assirië het gesê (vers 13): “Met die krag van my hand het ek opgetree, en in my wysheid – ja, ek het insig.  Ek verwyder die grense van volke, hulle voorraadkamers plunder ek, en, as die sterke, slaan ek wie op trone sit, neer.”

God sal nooit vrede maak met menslike trots nie!  Vers 15 sê: “Kan 'n byl spog teen die een wat met hom kap; of kan 'n saag hom groot hou teen die een wat met hom saag, asof 'n stok die een swaai wat hom optel, of 'n staf die een optel wat nie hout is nie?”  Hoor jy die ryk ironie?  Amper lagwekkend.  Hulle het vergeet wie God is.  Hulle was net 'n instrument.  'n Byl in die hand.

En hulle het te ver gegaan.  Dit was nog steeds die Verbondsgod waarmee hulle te doen gehad het!  'n Verterende vuur!  In vers 17 lees ons: “Die Lig van Israel sal 'n vuur word, en sy Heilige 'n vlam. Die vlam sal brand en hulle onkruid en doringstruike op een dag verteer.”  Hy sal nie toelaat dat sy volk van die aarde verdwyn nie – en dat die saad vernietig word nie!  Satan sou niks liewer wou gehad het nie!

Vanuit 'n wêreldse perspektief was Israel en Juda niks voor die mag van die Assiriese ryk nie – maar God sou vir sy volk stry, sodat al hulle heerlikheid vernietig sou word!  Ons weet wat in een dag gebeur het toe hierdie leër teen die Heilige van Israel gespog en Jerusalem omsingel het.  Die Here het teen hulle opgestaan en 185 000 van hulle soldate het gesterf.  Assirië sou nooit weer opstaan nie.  Hulle was op die hoogtepunt van hul mag, en Juda was op haar swakste toe God opgetree het.  Hoekom? Omdat dit nie deur mag of krag was nie, maar deur die hand van God!

En hierdeur sou Israel uiteindelik die les leer.  Kyk net na die prag van vers 20 – sien jy God se geduldige liefde in die tugtiging van sy kinders?  Sy toorn teen sonde en sondaars is werklik, want sy liefde vir hulle is volmaak.  Glo jy dit?

Deur geloof in Christus is hierdie toorn weg – maar nie sy tugtiging nie.  Hy het die oordeel gedra sodat dit nie op Jerusalem sou val nie.

Liewe gemeente, om af te sluit: Die God waarmee ons te doen het, is nie ‘n maaksel van karton nie.  Hy is werklik.  Met ware oortuigings.  En ware begeertes.  En Hy het dinge om oor te praat, met jou en met sy volk, as hulle wil luister.  Heiligheid aan hierdie kant van die hemel is 'n pragtige, maar pynlike proses vir sondaars.  Maar dank God dat Hy – die lewende God – ons agtervolg met 'n liefde wat ons nie sal laat gaan nie.  En as ons Hom daartoe dwing, is Hy bereid om die hindernisse wat ons teen sy liefde opgerig het, met sy toorn af te breek.  Trouens, Hy het die hindernis wat tussen Hom en sy volk gestaan ​​het, afgebreek.  Sonde.  Deur dit aan die kruis vas te spyker.  In Jesus het ons die antwoord.  Sonde was ons grootste probleem – Hy het dit verpletter!  En nou woon Hy in ons om ons heilig te maak.

Sy genade sal seëvier!  God sou voortgaan om sy kinders te tugtig, want die uiteindelike oordeel sou val op sy Seun, die ware Israeliet!  En daardie oordeel sou van sy eie volk kom.  Hy is verwerp.  Sodat ons aanvaar kon word.  O, mag ons sy stem hoor.  Dat ons op sy tugtiging sal ag slaan!

Amen.