Jou bestemming bepaal elke stap van jou reis.

Predikant: 
Ds DM Boersma
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2024-05-26
Teks: 
Filippense 3:17-21
Preek Inhoud: 

Inleiding

Ons het die afgelope weke hemelvaart en Pinksterfees gevier. Jesus het die hoogste heerlikheid ontvang aan die regterhand van die Vader, en hy regeer. Hy het sy Gees in sy gemeente uitgestort en lei ons.
Watter gevolge het dit vir ons lewe op aarde?

Hierdie week word verkiesings gehou. Baie mense is gespanne: sal die regeringsparty eindelik hulle meerderheid verloor en aan die kant geskuif word, sodat die land nog betyds gered kan word van die afgrond waarnatoe dit op pad is? Baie mense wil verandering hê, maar daar is geen ooreenstemming by baie partye oor wat gedoen moet word om die land reg te ruk.
Wat moet christene maak? Vir watter party moet ons stem: ’n christelike party, of ’n party waarvan jy dink dat dit genoeg stemme sal kry om ’n verskil te kan maak? Ek wil nie in ’n preek stemadviese gee nie, maar die groter vraag beantwoord: hoe leef ons vir ons koning Jesus op aarde? Hoe bepaal sy koninkryk en sy terugkeer ons lewe vandag?
Met díe doel wil ek vanaand die evangelie aan julle verkondig vanuit Filippense 3.

Jou bestemming bepaal elke stap van jou reis.

1. Volg Paulus se voorbeeld
2. Leef as burger van die hemelse koninkryk
3. Verwag jou redder uit die hemel.

1. Volg Paulus se voorbeeld (sy eksklusiewe fokus op Jesus)

‘Volg my voorbeeld’, sê Paulus. Die rede wat hy gee, is skokkend:
Want baie wandel as vyande van die kruis van Christus. Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge. (vs. 18-19)

Dit was vir Paulus baie belangrik om die waarskuwing te gee. Hy noem dat hy dit dikwels gesê het en nou ook onder trane sê. Dit weeg dus swaar vir hom, dit lê swaar op sy hart. Daaruit kan ons die gevolgtrekking maak dat dit mense in die kerk is. Dis mense wat as gelowiges bekendstaan, maar vyande van die kruis van Christus is!

• Paulus se voorbeeld: Jesus alleen!

As iemand soos Paulus dit waag om te sê ‘volg my voorbeeld’, moet gelowiges mooi luister. Wat bedoel hy? Ons lees dit in die eerste gedeelte van hs3:
Ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry (v.8)

Om Jesus te ken is alles. Díe kennis is uitnemend. Dit het Paulus se lewe radikaal verander.
Paulus het ontdek dat Jesus genoeg is, dat net Jesus die enigste pad na God toe is. Net sy geregtigheid kan ons red. Paulus praat uit ondervinding: hy het sy lewe lank probeer om deur God aanvaar te word op grond van sy afstamming en sy goeie dade, sy gehoorsaamheid aan die wet. Toe Jesus op die pad na Damaskus hom eers blind gemaak het en vervolgens sy oë geopen het, het hy eindelik begin raaksien hoe verkeerd hy was, dat hy sy redding in die verkeerde rigting gesoek het. Maar hy het Christus leer ken, en nou het hy ’n laser sharp fokus op Jesus gekry. Vir hom is net Jesus, net sy verdienste, Jesus se volmaakte gehoorsaamheid aan die wet, die pad na redding. “Everything else is rubbish!” [Dis hoe pilote van die F-16 oor hulle jagvliegtuig praat. Ek kan hulle passie vir die F-16 verstaan, maar Paulus was hulle voor gewees: net die geregtigheid van Jesus verdien hierdie lofprysing.]

Omdat Paulus Jesus as die enigste redder leer ken het, het hy dit sy doel gemaak om soos Jesus te word. Dit is hoe hy vir ons almal ’n voorbeeld is:
sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. (vs. 10-11)

Om die opstanding te ontvang, is dit nodig om te sterwe, om aan Jesus se dood gelykvormig te word. Hy skaam hom dus nie om vir Christus te ly nie.
Daar is bitter min mense wat bereid is om te ly. Jy doen dit net as die persoon of saak waarvoor jy jou lewe opoffer, meer werd is as jou lewe. Dit is dus die voorbeeld van Paulus: hy het Jesus leer ken en Jesus is nou só kosbaar, so uitnemend, dat hy alles (letterlik alles, sy vryheid en lewe ingesluit!) opoffer om aan Jesus vas te hou en hom nie te verloor nie. Paulus sit in die tronk as hy dit skryf.

• Wie is die vyande van die kruis?

“Volg my voorbeeld”, sê Paulus, “want baie wandel as vyande van die kruis van Christus.”
Paulus het gewaarsku teen Jode wat invloed op die kerk gekry het, en die wette van Moses weer teruggebring het. ‘Om in Jesus te glo is goed’, sê hulle, maar jy moet wel die wet van Moses gehoorsaam, anders kan jy nie gered word nie. So het hulle christene en christelike voorgangers beïnvloed om die redding deur genade alleen te ontken. Dit is nou nie meer ‘Jesus alleen’ nie, maar ‘Jesus +’: Jesus + die wet.
Daarom is hulle vyande van die kruis van Christus: die kruis wys nl. dat ons bankrot is as ons op ons gehoorsaamheid aan die wet vertrou. Jesus se lyding aan die kruis was nie nodig gewees as ons dade goed genoeg was gewees nie.
Jy sou kon dink dat dit lofwaardig is om die wette van Moses te hou. God het dit tog in die OT beveel, en díe wette is tog heilig, regverdig en goed? Dit kan tog nie verkeerd wees om daardie wette ook te hou nie?
Tog is dit ’n dodelike gevaar.
Daardie christene keer terug na die reëls, en as jy reëls moet volg om by God uit te kom, doen jy nooit genoeg nie. Jy het meer reëls nodig, en die reëls gaan altyd oor beperkings wat jy oplê aan jou liggaam, aan jou begeertes, ens. Dit het niks meer met Gods wil uit te waai nie. Dit bring geen eer aan God nie. Hulle is so besig om noukeurig die reëls te hou, dat hulle fokus net nog op hul lewe hier op aarde en op hul liggaam is.

Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge. (vs. 18-19)

Ook in ons tyd is dit ’n gevaar: dat ons fokus verskuif van Jesus, sy koningskap en sy eer, na mense, reëls, oorlewing. Baie kerke het al verander in motivational training centers waar mense aanwysings kry om hulle lewe aangenamer te maak.
As ons aandag eksklusief na ons lewe op aarde en ons liggaam skuif, het ons geword soos die mense rondom ons: ongelowiges wat net hier en nou leef, wat ook hulle buik (genot) hul god gemaak het, en geen groter doel ken nie.

2. Leef as burger van die hemelse koninkryk

Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus.

• Koloniste

Paulus gebruik ’n heel duidelike illustrasie vir die plek van christene in die wêreld. Die stad Filippi was ’n Romeinse kolonie met spesiale voorregte. Die Romeinse Ryk het ontstaan deur legioene van soldate wat vanuit Rome die hele gebied rondom die Middellandse See verower het. Om die oorwonne lande in bedwang te hou, het hulle Romeinse goewerneurs oor elke provinsie aangestel en plaaslike diversiteit toegelaat. Maar hulle wou ook die kultuur beïnvloed en ’n eenheid daarvan maak. Daarom het hulle afgetrede Romeinse soldate oor die hele ryk laat woon. Daardie soldate het grond besit en was inwoners van die stad Filippi, maar hulle identiteit was in Rome, die hoofstad. Hulle het as koloniste in ’n vreemde gebied gewoon, met die doel om die kultuur te beïnvloed.

Sien jy die ooreenkoms met christene?
Want ons burgerskap is in die hemele, maar ons woon op aarde. Ek woon hier in Suid-Afrika, ek kan ’n huis besit, ’n besigheid opbou, hier in Johannesburg werk en my stem uitbring in die verkiesings, maar ek behoort aan die koninkryk van die hemele. My tuiste is nie hier op aarde nie. My identiteit lê in die hemelse koninkryk. Om goed op aarde te kan funksioneer en om hier nuttig te wees en God te dien, moet ek mooi onthou dat my burgerskap in die hemele is.
Dit is my roeping om my identiteit as burger van Jesus se koninkryk uit te leef in ’n vyandige gebied. Jy en ek bly in die wêreld om sout te wees, om die geur en smaak van die koninkryk van die hemele te versprei.
Ons mag nie aanpas, assimileer nie. Wat sou gebeur as die afgetrede soldate, die koloniste, meer lief geraak het vir die nuwe land as vir hul vaderland, Rome? Dan sou hulle aanpas en nie meer vir die Romeinse ryk nuttig wees nie.

Paulus burgerskap in die hemel verander sy lewe op aarde en maak hom bereid om selfs vir Jesus te ly.
Ons is burgers van die koninkryk vd hemele. Ons is ’n kolonie vd hemel op aarde, maar as ons aanpas / assimileer, verdwyn ons soos ’n druppel ink in ’n groot swembad.
Die fokus van ons lewe moet teenoorgesteld wees vd mense rondom ons.
Hulle aandag is op vandag gerig, hulle wil die beste maak van hul lewe op aarde. Mense wat nie vir Christus ken en volg nie, leef vir hulself, vir hul buik. Maar hulle dans op ’n vulkaan.

• Behou die kultuur van die koninkryk!

Wat maak ons, christene, op aarde tussen hemelvaart en die terugkeer van Jesus?
Ons het groot geword in die kultuur van ons land, maar tog is dit vreemd vir ons want ons is burgers van Jesus se koninkryk. Ons leef soos koloniste in ’n vyandige gebied. Daarom moet ons heeltyd weer oriënteer, kalibreer op die koninkryk van die hemele. Daarvoor het Paulus sy voorbeeld aan ons nagelaat.

Of jy ‘n huis bou of koop, of jy geluk soek in ‘n huwelik of ‘n gesin begin, of jy bevrediging vind in jou werk – al hierdie dinge kry betekenis in Gods koninkryk.
Ons geld en besittings moet ons in die lig van Jesus se koninkryk verstaan. Jy kan jy dit net goed gebruik as jy dit aan die koninkryk onderwerp. 

3. Verwag jou redder uit die hemel

• Dink ons oor die hemel?

Waarna sien ons uit?
As ek nadink oor ouer word, wonder ek: is oumense heelwat meer met die hemel besig as jongmense? Hulle is heelwat nader aan die hemel: vir ‘n bejaarde persoon is die grootste deel van sy lewe verby, dan kyk mens tog meer vorentoe as iemand wat nog baie van die lewe hier op aarde verwag en planne maak?
Tog is dit glad nie gewaarborg dat mense se perspektief na die hemel skuif as jy ouer word nie. Liggaamlike klagte, siekte en beperkings kan jou somber of negatief maak, sodat jy net daarop fokus. Baie ouetehuise is nie lekker plekke nie, omdat baie mense kla omdat hulle sukkel.
Daar kan ook ‘n ander rede wees hoekom ons nie met die hemel besig is nie: ons voorstelling van die hemel is nie baie konkreet nie, omdat ons min inligting het hoe dit lyk. Ons kan nog steeds op ‘n positiewe manier vorentoe kyk, maar die gebrek aan inligting kan ons verhinder om baie daaroor te dink en positief te praat.

• Wie verwag ons?

Ek wil graag ons aandag skuif. Ons vra dikwels die verkeerde vrae: waarna sien ons uit? Hoe sal dit lyk? Sal ek my vrou of man, my pa of ma, my kind herken en weer ontmoet? Dikwels hoor jy dat mense wat na aan die dood is, daarna uitsien om geliefdes weer te sien, wat eerder gesterf het.

Die Bybel rig egter nie ons aandag daarop nie.  [Jesus sê selfs dat ons in die hemel nie meer getroud sal wees nie (Mt22,30). Die verhouding tot jou vrou of man in die hemel sal dus verskil van jou huweliksverhouding op aarde.] Luister na v. 20-21:
ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, …

Ons vraag behoort nie te wees: ‘wat kan ons verwag, hoe sal dit lyk?’ nie.
Die vraag is: wie verwag ons?
Ons verwag die Here Jesus Christus as ons Verlosser uit die hemel!
Ons moenie fantaseer oor hoe dinge sal lyk, of ons sokker of golf kan speel en in ‘n fancy motor kan ry of ruimtereise kan maak nie. Ons fokus moet wees op die persoon van ons verlosser.

Daar is twee redes hoekom Jesus in die sentrum is: 
-  eerstens gee hy alles wat God beloof het: vernuwing, genesing, vrede, en geluk, ewige vreugde.
-  in die tweede plek, nóg belangriker: hy is self die vervulling van al daardie verlangens en beloftes. 
Vrede, vernuwing, versoening beteken lewe in Christus. Die goeie nuus is nie dat God ons mooi dinge beloof het nie, maar dat Hy homself vir ons gee. Die ewige lewe is nie ‘n oneindige bestaan wat op sigself mooi en lekker is nie, maar die ewige lewe is ongesteurde gemeenskap met God. God IS the gospel. God self is die goeie nuus.

Ons verwag ons redder: ons aandag word getrek na die redding, herstel, en genesing wat hy gee: die transformasie (verandering) van ons liggame.
Ons liggame ly onder die gevolge van die sonde, dit val uit mekaar uit, dit word swakker, die lig in ons oë verdof, die krag in die spiere verswak. 
Soos die barometer wys dat ‘n tornado nader kom en skade aanrig, so wys ons liggame dat die dood nader kom en dis die gevolg van die sonde.

Ons liggame is verganklik en verswak namate die tyd aanstap.
Ons kultuur verheerlik die liggaam, sodat mense met ‘n gaaf en mooi liggaam groot invloed kan hê en baie kanse het om geld te maak (in flieks, op TV, in advertensies en in die fashion industrie). [Dit word selfs só verheerlik dat seksuele luste opgewek en goedgekeur word, en dit word ‘n afgod wat lewens verwoes: dink bv aan pornografie, wat weersinwekkend en aanstootgewend is.]
Baie mense leef, terwyl hulle jonk is, asof hulle liggame altyd so mooi en sterk sal wees. Maar christene weet hoe kortstondig liggaamlike skoonheid en krag is. Paulus praat van ‘die liggaam van ons vernedering / ons nederlaag’.
In die paradys het God vir Adam en Eva skitterende kragtige liggame gegee. In die eerste millennium was die liggame nog so sterk dat mense 1000 jaar oud kon word. Nou is die limiet slegs 120 jaar, en die meeste mense haal nie eers 80 nie. Almal wil oud word, maar niemand wil oud wees nie, vanweë die liggaamlike klagte en gebreke.

• Pessimisties?

Dink net hoe realisties die Bybel is. 
Mense wat dans op ’n vulkaan kan baie pret hê, maar sluit hul oë vir die werklikheid: dat hulle lewe soos wat hulle dit nou geniet, baie vinnig en baie pynlik verby sal wees. Pleks daarvan om te party kan hulle beter spore maak en so ver as moontlik van die vulkaan af wegvlug!
Die mense wat hul buik hulle god maak, kan vandag nog lekker leef en gesonde liggame hê (hoewel hulle nie almal so gesond is nie...), maar die skrif is aan die muur. Die vernederde liggaam gaan hulle inhaal, en dan bly daar niks van hulle optimisme oor nie. Jy sien waartoe dit lei as jy hoor hoe in lande soos Nederland daar ook ’n doodskultuur gegroei het: mense wat terminaal siek is, maar ook mense wat nie meer gelukkig en vervuld voel, kan hul lewe beëindig op die tyd dat dit hulle pas. Dit is hulle reg.
Baie mense vind christene maar pessimisties, maar op die einde van die dag moet ook die mense wat optimisties is en net vir hulself leef, tog die dood onder oë sien. Hulle pret en optimisme was ’n illusie. Wat is nou verstandiger: om te erken dat jy in ’n sterflike liggaam leef, of om te maak asof jou lekker lewe op aarde nooit sal ophou nie, totdat jy in die muur van die dood vasloop?

• Vaste hoop

Maar dit is nog nie al nie!
Die christelike geloof gee ’n vaste hoop vir die toekoms. Die mense wie se buik hul god is, kan nie verder kyk as die dood nie. Hulle het geen hoop tydens en na die dood nie.
Ons perspektief reik verder, verby die dood. Ons het hoop: Jesus sal die sterflike liggame van gelowiges verander en gelykvormig maak aan sy verheerlikte liggaam!
Nadat sy liggaam gefolter en doodgemaak was aan die kruis en in die graf gelê was, het God sy liggaam nuut en vol heerlikheid opgewek, en vir hom ’n geestelike onverwoesbare liggaam gegee. Daardie liggaam kan nie meer deur siekte, pyn, dood, en oordeel geaffekteer, beskadig of vernietig word nie.
Die belofte van Jesus se opstanding is ‘n waarborg van die opstanding van elke gelowige, wat vir ons ‘n liggaam sal gee wat duisende male mooier is as hierdie geskeurde tent waarin ons tans woon.

Hoe kan ons seker wees daarvan?
In die 40 dae na sy opstanding het Jesus hom aan sy dissipels getoon en soveel tyd met hulle gespandeer dat hulle oortuig was dat Jesus regtig opgestaan het. En hulle het hom baie goed geken, beter as enig iemand in die wêreld. Vyfhonderd mense het selfs teselfdertyd Jesus ontmoet (1Kor15,6) en hulle was nog aan die lewe toe Paulus dit neergeskryf het; mense kon dit nagaan, hy het nie gelieg nie.
Sy opgewekte liggaam was herkenbaar: dit is Jesus! – maar tog anders: verheerlik, onverwoesbaar, geestelik.
En met daardie liggaam het hy na die hemel gegaan. Sy verheerlikte menslike liggaam is tans in die hemel. God het beloof om ons liggame aan sy verheerlikte liggaam gelyk te maak, en sy liggaam in die hemel is die waarborg, die onderpand.

Dit bepaal ons toekoms!
Nie net ons siele is gered en gaan na Christus toe nie. Op die dag van sy wederkoms word alle gestorwe gelowiges met hul liggame verenig en hulle kry ’n liggaam soos die liggaam van Christus. En al die gelowiges wat op daardie dag nog op aarde leef, hulle liggame word in ’n oogwink verander, en hulle ontvan ook die geestelike onverwoesbare liggaam soos Christus s’n.

Dit wys vir ons hoe belangrik ons liggame vir God is. Dit slyt en word out, dit val uit mekaar uit, dit word swak en partykeer onaantreklik, maar Jesus sal dit bevry uit die tronk van sonde en dood. Hy maak dit nuut, skitterend, onverwoesbaar. Dis ‘n geweldige vooruitsig. Hy sal dit doen met “die krag waarmee Hy alles aan Homself kan onderwerp.” Die krag waarmee koning Christus die hele skepping aan hom onderwerp, gebruik hy om jou liggaam mooi en nuut te maak. Sy koninklike mag gebruik hy om jou en my klein en swak liggame te genees en nuut te maak – ons liggame tel dus vir hom, en het ’n belangrike plek in Gods plan. Niks is te klein of te swak of te lelik vir hom nie. Wonderlik! Laat dit jou nie op ’n nuwe, hoopvolle manier na jou huidige liggaam kyk nie?

En met daardie nuwe liggaam sal ons vir ewig saam met Christus leef, tot sy eer leef en hom dien, en in daardie liggaam sal ons God sien en vir ewig sy aanwesigheid en liefde geniet.

Dit is die heerlike perspektief waarmee ons nou, vandag en môre, op aarde mag leef. Ons leef nie in ’n illusie nie, dat ons maak asof ons huidige liggame alles is en nooit broos sal word en sal sterf nie. Nee, christene is realisties. Maar ons is ook nie negatief en moedeloos nie, ons het juis hoop, en dit kry ons van ons Heer Jesus, wat deur sy opstanding ons voorgegaan het in die nuwe lewe, met ’n verheerlikte geestelike onverwoesbare liggaam.

Ons is hemelse koloniste wat op aarde woon en werk en leef.
Ons hart is in die hemel, en ons voete is hier op die grond. Leef as burger van die hemelse koninkryk! 
Leef met die hemel in jou hart, sodat jy op aarde die geur van die hemel kan versprei.
Leef met vreugde en hoop, ook wanneer jy siek is, of jou liggaam swakker word en dinge moeiliker gaan. Jou redder Jesus sit in die hemel met ’n verheerlikte liggaam, en jy sal aan hom gelykvormig word. 

Amen

Liturgie: 

Votum: sing Psalm 121:1
Psalm 119:19
Gebed
Lees Filippense3,1-21 + Kol3,1-7; Ps5,5.6.7.10.11; Preek Fil3,17-21; Ps16,2-5; gebed; geloofsbelydenis lees + Ps22,9; kollekte; Sb50,1.4-7.