Om in Christus getroos te lewe en te sterwe, is die volgende nodig: Kennis van Sonde, Kennis van Verlossing, Kennis van Dankbaarheid

Predikant: 
Student A van der Meer
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2024-06-02
Teks: 
Heidelbergse Kategismus - Sondag 1
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus. 

Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Hierdie vraag is vir ons wel-bekend. Die antwoord daarop is ook nie onbekend aan ons nie. Op Katkisasie is dit die eerste vraag wat geleer word. Van kleins af word ons kinders ook al geleer oor die troos in lewe en in sterwe. Dink maar aan die bekende liedjie wat die kinders op skool leer. My enigste troos in lewe en dood, is dat ek aan Jesus Christus behoort, met Sy kosbare bloed het hy my vry gekoop, dis my anker, my vaste hoop. 

Maar waarom vra die kategismus hierdie vraag? Want as ons na die vraag kyk, dan word daar geïmpliseer dat daar vir ons troos nodig is. Ons het troos nodig. Waarom? Is ons almal dan hartseer? Loop ons elke dag rond met hartseer oor die lewe? Is daar dan geen vreugde in die lewe nie? Dit is nie die geval nie. Ja, sommige is dalk hartseer oor ‘n geliefde wat oorlede is. Ander dalk weer omdat hulle geboelie word by die skool. Daar is baie redes waarom ons hartseer is. Maar daar is ook baie redes waarom ons bly en opgewonde kan wees. Dalk staan jy op die punt om te trou. Dit is iets om oor opgewonde te wees. Ander is dalk opgewonde oor ‘n nuwe werk wat begin, ‘n vakansie wat voorlê. Ja gemeente, daar is baie redes om opgewonde te wees. Waarom het ons dan troos nodig? 
Ek mag vanaand aan julle die evangelie verkondig onder die volgende tema: 

Tema: Om in Christus getroos te lewe en te sterwe, is die volgende nodig: 
1. Kennis van Sonde
2. Kennis van Verlossing 
3. Kennis van Dankbaarheid

Kennis van Sonde.

Broers en susters, ons loop nie almal heeltyd rond met hartseer gesigte nie. Daar is vreugde in die lewe. Waarom het ons dan nog troos nodig?
Omdat dit nie gaan oor ons gevoelens en omstandighede, of dit goed of sleg gaan nie. Dit gaan oor die toestand van ons harte. Dit is waaroor dit gaan. As ons die toestand van ons harte besef, dan besef ons eers dat ons troos nodig het. As ons besef hoe groot ons sonde en ellende is, dan eers kan ons besef dat ons troos nodig het. Dan besef ons die behoefte wat ons het om getroos te word. 

En dit is waarom die kennis van sonde so belangrik is om getroos te lewe en te sterwe. Ons harte is van nature geneig tot sonde. Ons natuur is verdorwe. Vanweë die sondeval is die hele menslike natuur sondig en aangetas deur die sonde. Maar as ons dit nie eers besef nie, dan het ons nie die begeerte om getroos te word nie. Iemand wat gesond is gaan nie na die dokter vir medisyne nie. Dit is ook wat Jesus sê in Mattheus 9:12. Die Fariseërs sien dat Jesus met die sondaars en tollenaars eet. Dit het nie reg gesit met die Fariseërs nie. Daarom vra hulle ook aan Jesus se dissipels waarom Hy saam met die tollenaars en sondaar eet. Jesus hoor hulle, en antwoord dat die wat gesond is, die geneesheer nie nodig het nie, maar die wat ongesteld is. In die oë van die Fariseërs wat hulle goeie mense. Regverdige mense. Deur hulle vroom lewenstyl dink hulle dat hulle saak reg is voor God. Omdat hulle die wette onderhou, is hulle vry van sonde. Geen kennis van sonde nie, en daarom ook geen begeerte om genees te word nie. Maar die sondaars en tollenaars wat bewus is van hulle sonde, hulle het die geneesheer nodig. Regverdiges word nie geroep nie, maar sondaars tot bekering. Hulle wat besef dat hulle sondig is en verlossing nodig het, hulle kan getroos word omdat hulle besef dat hulle troos nodig het. Die wat in hulle eie oë regverdig is, ervaar nie die begeerte om verlos te word nie, en sal ook nie deel kry aan die troos en verlossing wat daar is in Jesus Christus nie. 

Dit geld ook vir ons. Ons moet ons sonde en ellende ken. Maar hoe maklik is dit nie vir ons om in ons eie oë regverdig te wees nie. Ons is gedoop, ons het belydenis gedoen, ons gaan kerk toe, woon dalk selfs Bybelstudie by. Ja, ons het ons sonde, maar ons het vergewing van sondes ontvang in en deur Jesus Christus. Dit is so gemeente, ons mag vashou aan die verlossingswerk van Jesus Christus, maar dit staan nie los van die kennis van ons sonde en ellende nie. Sonder kennis van sonde, is daar geen kennis of nut van die verlossing nie. 

Maar ons moet besef dat ons van nature sondig is. Die kategismus stel dat ons onder die heerskappy van die duiwel was. Van nature is ons diensknegte van die sonde, soos wat ons gelees het in Romeine 6:17.  Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Omdat ons in die kerk is, beteken nie dat ons nie sondig is nie. Ons almal staan onder die sonde. Sonder daardie besef kan ons nie in die verlossing deel nie. Daardie besef kom egter nie uit ons eie nie. Deur die Woord en deur die Gees kom ons tot kennis van ons sonde. Deur die wet van God is daar kennis van sonde (Sondag 2). 

Die kennis van sonde lei na die behoefte aan troos. Hierdie troos word gevind in die kennis van ons verlossing. Dit is dan ook die tweede punt. 

Kennis van verlossing.

Broers en susters, noudat ons weet waarom ons troos nodig het, kan ons verder gaan met die kategismus en kyk wat ons enigste troos in lewe en in sterwe is. 
Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe, nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.

Hierdie sin is vir gelowiges ‘n geweldige troos, maar vir die wat nie glo nie, is dit ‘n aaklige en teenstrydige sin. In die egoïstiese en self-gesentreerde wêreld waarin ons leef, is daar niks erger vir die mens as om aan iemand anders te behoort nie. Om in diens van iemand anders te wees is vir die wêreld ‘n aaklige gedagte. Die mens wil vry wees van alle mag wat hom kan beheer. Hy wil aan homself behoort. Maar die vraag is of ons wel aan onsself kan behoort. Nee, ons kan nie. Daar is een van twee opsies. Of jy is ‘n dienskneg van die sonde, of jy is ‘n dienskneg van God. Of soos ons gelees het in Romeine 6:16: Julle is diensknegte van hom aan wie julle gehoorsaam is- of van die sonde tot die dood, of van die gehoorsaamheid tot geregtigheid. Ons behoort dus of aan God, of aan die duiwel. Die kennis van sonde het vir ons gewys dat as ons aan die duiwel behoort, ons verlore is. As ons doen wat ons goed dink, dan stap ons op ‘n gewisse en ewige dood af. As elkeen doen wat reg is in sy eie oë, sal dit verwoesting, wanorde, en dood bring. Daarom is dit so ‘n wonderlike en troosvolle gedagte dat ons nie meer aan die heerskappy van die duiwel behoort nie, maar aan Jesus Christus, ons Getroue verlosser.  

En waarom behoort ons aan Hom? Omdat hy ons vrygekoop het met sy kosbare bloed. 1 Petrus 1:18-19 bevestig dit so mooi aan ons. Omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos. 

Die bloed van Jesus Christus het ons vrygekoop van die heerskappy van die sonde en van die duiwel. Ons behoort nie meer aan die duiwel, of aan die koninkryk van die duisternis nie, maar ons is oorgebring na die koninkryk van die lig. Vir die gelowiges is dit ware vryheid. Ons is vry van die slaweband van die sonde, en behoort nou, met liggaam en siel aan Jesus Christus. 

In Romeine 8:1 het ons gelees dat daar geen veroordeling is vir die wat in Christus Jesus is nie. In die konteks van hoofstuk 7 sien ons dat Paulus skryf oor die stryd teen die sonde. Alhoewel ons vrygekoop is van die mag en heerskappy van die duiwel, beteken dit nie dat ons sonder sonde is nie. Ons stryd teen die sonde is ‘n voortdurende stryd. Maar, ons is nie meer slawe van die sonde nie. Ons dien nie meer die sonde nie, maar ons dien in die nuwigheid van die Gees.  Ons behoort aan Jesus Christus. En daarom is daar ook nie veroordeling vir ons nie. As ons eendag te sterwe kom, en ons voor die regterstoel van God verskyn, dan gaan ons nie veroordeel word nie. En dit vanweë die verlossingswerk van ons getroue verlosser, Jesus Christus. Daarin lê ook vir ons die troos in ons sterwe. Selfs in ons sterwe, behoort ons aan Christus, en omdat ons aan Hom behoort, sal ons vrygespreek word van die oordeel. 

Christus het op aarde gedoen wat vir ons nie moontlik was om te doen nie. Christus het die wet vervul. Hy het die wet van God volkome nagekom sodat die sonde veroordeel kon word. In ons plek het Christus die oordeel gedra wat ons moes dra. Met sy kosbare bloed het hy vir ons sondes betaal. 

En nie net gedeeltelik nie, maar ten volle. Die offer van Christus aan die kruis was genoegsaam om vir al ons sondes te betaal. Dit is waarlik troos. Vir die wat die diepte van hulle sonde ken, is die kennis van verlossing werklik troos. Hoe groter ons besef van ons sonde, hoe groter is ons besef van ons verlossing, en die troos wat ons daarin vind. 

Dink maar net as ons nie kennis van verlossing gehad het nie, maar wel van ons sonde. Gemeente, ons lewe sou hopeloos en duister wees. Ons sou die wanhopigste mense van almal wees. Besef van sonde, sonder die moontlikheid van verlossing is skrikwekkend. Ons het Romeine 7:24 gelees. Ek, ellendige mens. Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ware kennis van sonde roep om verlossing. Wie sal ons kan verlos. Op ons eie kan ons dit nie doen. Maar dank God vir Jesus Christus. Hy het ons verlos van al ons sonde en van die heerskappy van die sonde. Hy het aarde toe gekom, deur sy hele lewe gely, maar veral aan die einde daarvan, hy het aan die kruis gesterf, is begrawe, maar het ook weer opgestaan uit die dood. Deur sy dood en opstanding het hy die dood oorwin. Daarom, wie in Christus is, is vrygekoop van die heerskappy van die duiwel. Vir al ons sondes is betaal. Ons is vry in en deur Jesus Christus. Daarom is dit werklik so ‘n groot troos om te weet dat ons nie aan onsself, of te wel aan die duiwel nie, maar aan Jesus Christus behoort. ‘n Enigste troos. Omdat dit die enigste manier is waarop ons getroos kan lewe en sterwe. 

Daar is geen ander troos vir ons nie. Ons eie werke of prestasies kan ons nie troos in lewe en in sterwe nie. Die wet is onmagtig om te red. Ons goeie werke kan ons nie red nie, en daarom kan ons ook geen verlossing vind in ons eie werke nie. Die enigste manier waarop ons verlos word en so ook getroos word is in en deur Jesus Christus. Kennis van ons verlossing bied dus ware troos vir die wat kennis dra van die grootheid van hulle ellende. 

Die werk van Christus staan sentraal in hierdie eerste deel van antwoord 1. Maar ons moet nie miskyk dat die Vader ook betrokke is in hierdie troos nie. Dit gaan vir God nie net oor die siel nie, maar ook oor die liggaam. Die liggaam is ‘n werklikheid van wie ons is. Ook die liggaam word verlos en behoort aan God. Dit sien ons ook uit die tweede deel van antwoord 1. Hy bewaar my op so ‘n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Hierdie gedeelte herinner ons aan Romeine 8:28: En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. 

Die omstandighede waarin ons leef kom van God af. Dink maar ons die omstandighede waarin van ons is. Baie mense het operasies gekry, ander sukkel dalk met gesondheid. Dalk is daar finansiële druk wat ervaar word, geliefde wat oorlede is. Ja gemeente oor al hierdie dinge is God in beheer. Wanneer daar beproewings op ons pad kom, dan aanvaar ons dit as dinge wat uit die hand van God kom. Dit is nie altyd maklik nie. Baie maal verg dit baie vertroue en geloof om die omstandighede te aanvaar en sien hoe dit saam werk tot ons saligheid. Dit louter ons, sodat ons verseker kan wees van ons verlossing in Jesus Christus. Ons is nooit slawe van die omstandighede nie. Maar as diensknegte van Christus, kan ons heers oor die omstandighede waarin ons geplaas nie. God gebruik die omstandighede om sy kinders nader aan hom te bring. Om ons tot ‘n diepere kennis van ons sonde, maar ook van ons verlossing te bring. So word ons versterk in ons geloof, en word ons getroos ook in die moeilike omstandighede waarin ons onsself mag bevind. 

Ook weet ons uit 1 Korinthiërs 6:19-20, dat ons liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees. Die liggaam behoort ook aan God. As die liggaam dan aan God behoort, dan mag ons weet dat God ook die liggaam verlos. Nie net ons siele nie, maar ook ons liggaam is verlos deur Jesus Christus. God sal dus nie toelaat dat omstandighede toelaat dat die liggaam verlore gaan nie, al sterf die liggaam ook. Die liggaam sal deur God ook opgewek word, verenig word met sy siel, en ook verheerlik word. 

Broeders en susters, kennis van verlossing gee ons ware troos. Troos omdat ons kennis het van ons sonde. Die verlossing wat daar is in Jesus Christus, en die onderhouding en bewaring van ons lewe deur Christus in die Vader bied vir ons onuitspreeklike troos in lewe en in sterwe. 

Kennis van verlossing noodsaak kennis van dankbaarheid. Dit is dan ook waarna ons gaan kyk in die laaste punt. 

Kennis van dankbaarheid. 

Gemeente, die gepaste reaksie op die verlossing wat ons ontvang in en deur Jesus Christus, is dankbaarheid. Dankbaarheid vir die groot genade wat aan ons bewys is. Maar hierdie dankbaarheid kom ook nie uit ons self uit nie. Alles behalwe. Christus werk in ons, deur die Heilige Gees, dankbaarheid. Die kategismus stel dit soos volg: Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe. 

Van harte gewillig en bereid om vir hom te lewe. Ons leef nie meer vir onsself nie. Ons leef vir Christus. Nie uit dwang nie, maar gewillig en met dankbare harte. ‘n Ware Christen kan nie ondankbaar wees oor die verlossingswerk van Jesus Christus nie. Iemand wat daaroor ondankbaar is, ken nie sy sonde reg en diepgrondig nie, en daarom is daar ook geen dankbaarheid vir die verlossing wat daar is in Jesus Christus nie. ‘n Ware Christen ken die diepte van sy sonde en ellende, maar ken ook die troos, die verlossing wat hy ontvang in Jesus Christus, en daarom is hy ook dankbaar daarvoor. 

Laat ons dankbaar wees vir die verlossing wat ons ontvang het. Maar dan kan ons vra: hoe lyk so ‘n dankbaarheid? Ons het dit gelees in ons teks. Romeine 8:6-9. (Lees dit). Ons het die Gees van God ontvang. Daarom leef ons nie meer in die vlees nie, maar in die Gees. As ons dink aan ‘n dankbare lewe, dan kan ons dink aan die derde deel van die kategismus. Daar gaan dit oor die wet en gebed. Hierdie twee is onmisbare elemente in ons dankbaarheidslewe. ‘n Lewe wat God behaag en wat van dankbaarheid getuig, is ‘n lewe wat in lyn staan met die gebooie van God, en wat deurweef is met gebed. Die werke van die vlees kan God nie behaag nie. Dit is die dood. Maar dit wat die Gees bedink is lewe en vrede. Ons kan dit nog meer konkreet maak en saam lees uit Galasiërs 5:19-25. Gemeente, die vlees en die Gees staan teenoor mekaar. Die wat die werke van die vlees doen soos ons gelees het in vers 19-21, getuig nie van ‘n dankbaarheidslewe nie. Maar ‘n lewe wat gevul is met die vrug van die Gees, spreek van ‘n lewe van dankbaarheid. So hoe lyk ons lewe? Jongmense, sien julle in julle lewe dinge raak wat in vers 19-21 genoem is? Jaloersheid, dronkenskap, onreinheid? Dit is nie vrugte wat pas by verloste kinders van God nie. Laat ons vervul word deur die Gees om ook werke te doen wat by die Gees pas. Bid tot God, sodat die vleeslike begeertes wat nog in ons is nie die oorhand kry nie, maar dat ons deur die werking van die Gees staande kan bly in ons stryd teen die sonde, sodat ons ook ‘n lewe van dankbaarheid kan lewe.  

Ons lewe nie meer vir onsself nie, maar vir Christus. Ons is vrygekoop deur die bloed van Jesus Christus. Ons het die Heilige Gees ontvang, en daarom is ons ook nou kinders van God. Ons is deur God aangeneem as sy kinders. Aangeneem, omdat ons dit nie van nature was nie. Maar deur die wedergeboorte deur die Heilige Gees is ons aangeneem as kinders van God. 

Daarom mag ons ook as kinders van God leef. Dankbare kinders van God. En as ons kinders is, dan is ons ook erfgename van God, en mede-erfgename van Christus- Romeine 8:17. Dit is dan ook wat bedoel word in die Kategismus as daar staan dat ons verseker word deur die Heilige Gees van die ewige lewe. Christus verseker ons deur die Heilige Gees van die ewige lewe. Ons is mede-erfgename van Christus. Erfgename van die ewige lewe. Die Gees as onderpand en seel daarvan. (Efesiërs 1:13-14). Sien u gemeente die troos in lewe en in sterwe? Nie net in hierdie lewe word ons getroos nie, maar ook in ons sterwe is daar troos. Ons het dus ‘n ewige troos in Jesus Christus. Dit is waarlik rede vir dankbaarheid. 

Laat ons daarom ook ‘n lewe van dankbaarheid leef. Laat ons nie meer deur die vlees lewe nie, maar deur die Gees. Laat ons ons harte ondersoek, sodat ons die sonde in ons lewe kan besef en raaksien. Ons almal het nie dieselfde sondes nie, maar ons het sonde. Laat ons die diepte van ons sonde besef. En wanneer ons dit besef, laat ons nie wanhopig word daaroor nie, omdat ons weet dat daar vir al ons sondes betaal is deur die verlossingswerk van Jesus Christus aan die kruis. Hy het ten volle betaal vir al ons sondes. Ook behoort ons nie meer in die koninkryk van die duisternis en in die heerskappy van die duiwel nie, maar behoort ons nou in en aan die koninkryk van God. 

Ons is kinders van God. Ingeplant in die wingerdstok van Christus. Laat ons daarom ook vrugte dra, vrugte wat pas by kinders wat verlos is van hulle sonde. Laat ons nie gelykvormig word aan hierdie wêreld nie, maar laat ons ons liggaam stel as ‘n lewende, heilige, en aan God welgevallige offer- dit is ons redelike godsdiens. 

Amen.

Liturgie: 

Heidelbergse Kategismus - Sondag 1