Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,
Ons teks, Jesaja 35, is die oorgang na hoofstuk 40 wat die begin is van profesië oor die volk van God se terugkeer uit die Babiloniese ballingskap. Ons teks gaan self ook al oor die terugkeer. By Jesaja gaan die gerig oor die volke, hoofstuk 34, met name Edom, vooraf aan die ewige vreugde, hoofstuk 35:10.
Sion, die land van God se belofte, sal baie ly maar God sal sy verlostes weer daar laat woon. Daarom: Wees sterk, wees nie bevrees nie. Want julle God kom met wraak. Hy kom met goddelike vergelding. Hy self sal kom en julle verlos uit die hand van julle vyande.
Broers en susters, jongmense, kinders, in ons land weet ons goed wat droogte en dors is. Ons is bekend met woestyne soos die Namib in Namibië, ons is bekend met die rooi sandduine van die Kalahari. Die Dorslandtrek na Angola teen die einde van die negentiende eeu herinner ons aan waternood, lyding en dood onder die gloeiende son.
God se volk Israel het versengende hitte en dors in die oneindige woestyn geken. Hulle het die verlossing uit Egipte gesmaak, maar was onvergenoeg in die woestyn waar God hulle self versorg het vir veertig jaar lank. Die woestyn het vir Israel ‘n dreigende betekenis gehad, ‘n plek van dood en verderf waar jou lewe nie kan ontplooi nie. Nou is dit so dat die paradys God se bedoelde skepping vir die mens was om te bewerk en te bewaak. Die woestyn beteken egter vir Israel vrugteloosheid en verval.
Maar in hoofstuk 34:17 en in hoofstuk 35 word aan God se volk terugkeer na Sion beloof. Terugkeer veronderstel eers wegvoering in ballingskap. Teen die agtergrond van hooftuk 35 staan die haat van hulle broedervolk Edom, uit die geslag van Esau, broer van Jakob, om die oorblyfsel van God se volk te vernietig. Edom wou Moses en God se beloftevolk na hulle verlossing deur God uit Egipte, nie deur sy land laat trek nie. Toe koning Agas deur Noord-Israel en Assirie bedreig is, het hy ook Edom teen hom gekry. Toe Jerusalem deur Nebukadneser verower word was dit Edom wat die vlugtelinge gevange sou neem. God self sal Edom straf. Edom sal ‘n wildernis of woestyn word.
God sal die terugkeer van ‘n oorblyfsel van sy volk moontlik maak. Die woestyn sal deur God se geregtigheid ‘n lustige blomtuin wees wat blom sonder ophou. Die toekomstige terugkerendes uit ballingskap se voete sal op ‘n grootpad langs die bloeiende blomme gaan. Ons ken die kortstondige kleurvolle lenteprag in Namakwaland. Maar die tuin van God waar woestyn was, is oorweldigend in durende skoonheid.
Tema: van woestyn tot lustig blommende tuinlandskap: God se geregtigheid vir sy volk!
1. God se geregtigheid is soos ‘n grootpad deur ‘n lustig blommende tuinlandskap
Kores sal as magtige vors van die Persiese Wêreldryk die ballinge van Israel toestemming gee om terug te keer na hulle land. Of liewer die Here sou Kores daartoe beweeg. God se losgekooptes sal terugkeer na Sion, Jerusalem se lieflike naam.
Christus sal eeue na die terugkeer uit ballingskap in Bethlehem in Judea gebore word en deur sy gehoorsaamheid aan God reg doen, sodat God se geregtigheid sonde en dood oorwin en alles verander. God se genade verander sterwende lewe in lewe wat uitbundig blom.
God vergewe ons sonde en maak dit weg. Indien ons sonde nie betaal en vergewe word en weggewerp word nie, bly die paradys vir ons onbereikbaar en kan ons nie in die nuwe Jerusalem ingaan nie.
Ewige vreugde en blydskap oor sy verlossing van hulle sal op God se kinders se hoofde wees. Die verlossing oorskadu hulle nood en ellende. Die paradys met blomme en gras en water en biesies en rietpluime is God se waarborg aan hulle. Jesaja profeteer vreugde en blydskap op die weg van die ballinge wat terugkeer uit Babel. Jesus Christus, die Weg of Grootpad vir ons na die ewige Sion het die profesie verder vervul. Wie hulle nie laat reinig deur Hom nie, is op ‘n dwaalweg, en sal nie hulle bestemming bereik nie. Die onreines mag nie op hierdie pad stap nie. Op God se Weg is die juigende vrygekooptes deur Christus se bloed. Daarom is Hy die Weg van God, die waarheid van God, die lewe.
Gemeente, in hoofstuk 34 lees ons van God se gerig oor Israel se broedervolk Edom. Jesaja se profesie in 35 is in kontras hiermee, 1,2. Want vir God se volk: wat ‘n woestyn en dor land was, word ‘n plek waar pragtige blomme en welige groei die grond bedek. ‘n Plek van vreugde en blydskap oor die heerlikheid van die Here. Die blydskap oor die herstelde lewe wat God gee, gaan voorop. Die woestyn of wildernis, weens Edom, die dor land sal bloei en juig met gejubel. Die land sal verpersoonlik tot lewe kom, en in blydskap uitbreek. Die profesie is gerig op die toekoms. Die profesie dui op die Araba woestyn, suid van die Dooie See en noord van die Golf van Akaba, wat uitloper van die Rooi See is en grens aan die gebied van Edom.
Maar van die HERE kom dat die woestyn of wildernis vir Israel sal uitbreek en juig en bloei soos ‘n narsingplant. Die dorre land waar dood voor die hand liggend is en waar gereken kan word dat God afwesig is, verander in ‘n uitbundige paradys. Want Hy is reddend teenwoordig. Sy genade verander sterwende lewe in lewe wat uitbundig bloei. In plaas van woesterny wees sal die land juig van die veldblommeprag.
Hiermee profeteer Jesaja seën vir God se lydende kerk. God het die reis voorberei vir hulle wat Hom liefhet. Dit is ‘n voorafskadu van die terugkeer van die oorblyfsel van God se volk, en nog verder van die koms van die Here Jesus Christus en uitstorting van sy Gees en nog verder van Christus se wederkoms. Dit is ‘n belofte van vrede en seën, verkry en gegee deur die Here self. In vers 2 is die nadruk op die eerste werkwoord, en deurdat dit gevolg word deur twee werkwoorde uit die eerste vers, wys dit op oorvloed van vreugde en blydskap, die wildernis sal bloei met gejuig en gejubel.
Wat woestyn was sal lustig bloei en juig met groot blydskap, die pragtige plante- en die boomryke berge van die Libanon in die noorde word vir die woestyn in die suide gegee. Die woestyn word net so, ‘n pragtige tuin. Die woestyn kan dit nie self bewerk nie, dit moet gegee word. Dit is God alleen wat dit gee. So is al die ryke seëninge van verlossing geskenke van God se geregtigheid. Saam met die heerlikheid van die begroeide Libanon sal ook die prag van Karmel, die berg wat weswaarts tot by die see strek, en die prag van die Saronvlakte suid van berg Karmel, en grensend aan die see, aan die woestyn gegee word. Die woestyn sal so verander deur Gods Woord, dat dit heerlik sal wees, ‘n lushof van ‘n tuinlandskap. Die “hulle” van vers 2, wys na die woestyn en die dor land wat niemand verwag kan verander nie. Maar nou het hulle die kosbare geskenk ontvang van uitbundige groei soos op Libanon, Karmel en Saron. In die verandering van die woestyn en die dor land, sal hulle die heerlikheid van God sien, die prag van God vir wie Jesaja liefhet en wie se profeet hy is. Dit is die groot verandering wat God bring, en sy heerlikheid wat openbaar word.
In lig van die verandering oor die woestyn en dor land, moedig die profeet van die Here Israel aan tot versterking van die hele volk. Hulle moet die slap hande versterk, en die struikelende kniee vasmaak. Hande moet doen wat voor die hand is, doelgerigte herstel bewerk. Struikelende kniee moet vasgemaak, ondersteun word om regop en vas te bly staan. Vrees neem jou krag weg, en daar was rede vir vrees: vir Juda was daar skynbaar geen toekoms nie as gevolg van hulle verbreking van die Here se verbond. Geen sekerhede meer nie. God se beloftes aan die vaders het vir die volk nikseggend geword. In ‘n tyd van innerlike en uiterlike ongeloof. Terwyl God se beloftes is waar en Sy verbond bly staan. God se seën en verlossing kom vanwee sy troue liefde. Dit is nou juis ‘n tyd om sterk te wees en in die Here en sy troue liefde te roem. God se opdrag is: wees sterk! Wees nie bevrees, vreesagtig nie. Kyk God kom om vir julle op te tree. Hy kom met wraak, met goddelike vergelding, in geregtigheid om so julle te verlos. In ‘n tyd wat dit lyk of die land van hulle afgeneem word.
Wees nie angstig, laat julle harte nie beswyk nie. Julle wat in julle harte ongeduldig is met God oor die klaarblyklike vertraging in God se vervulling van sy belofte. Julle dink Hy is te stadig om julle te verlos. Maar nou is dit juis dit wat julle hande en kniee slap gemaak het. Maar julle moet innerlik sterk en vreesloos wees deur almal alleen op God te vertrou. Op sy tyd en wyse sal Hy sy Woord vervul. God kom na julle toe. Dus wees sterk want God kom….. Dit beteken nie Hy is ver weg en moet nog by hulle uitkom nie. Nee, dit is ‘n kragtige manier om te sê God se hulp word benodig en Hy sal help. En Hy kom tot hulp van sy volk. Sy vergelding sal plaasvind. So vertroostend en versterkend lees ons in die brief van Paulus - 2 Thessalonicense 1:3-8: Ons moet God altyd oor julle dank, broeders, soos dit billik is, omdat julle geloof grootliks toeneem en die wederkerige liefde van elkeen van julle almal groter word, sodat ons self in die gemeentes van God oor julle roem vanweë jul volharding en geloof onder al julle vervolginge en die verdrukkinge wat julle verduur— ‘n teken van die regverdige oordeel van God, dat julle die koninkryk van God waardig geag mag word, waarvoor julle ook ly; aangesien dit reg is by God om aan die wat julle verdruk, verdrukking te vergelde, en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie.
Vergelding kom nie van God se volk nie, maar van God. Dit is sy werk van redding wat Hy beslis sal doen. En Hy verlos sy volk nie net van uiterlike vyande nie maar ook van persoonlike vyande. God verlos ons van ons eie sonde, skuld, oordeel en straf. Hierdie is redding van die dood, die volle leer van saligheid van die Evangelie wat God aan ons gee. En God se redding van sy uitverkorenes is afhanklik van die koms van die Messias. In Hom sal God die volkome redding bewerk en sal Hy aan God se geregtigheid voldoen en ewig teenwoordig wees met sy volk. Beide verse 5 en 6 begin met die tydaanduiding “dan”..dit dui op die tyd van die Messias wat sal aanbreek en volkome redding bring.
2. God skenk aan ons genade sodat ons in geregtigheid volhard op sy heilige weg
(5) Wanneer God kom, en sy volk red, sal hulle ‘n totale verandering sien en ervaar. Soos die woestyn eenklaps verander na ‘n onbeskryfbare lushof van ‘n tuin, so sal God se uitverkore oorblyfsel self verander word. Alle dinge word nuut. Oë van die blindes sal sien, die ore van die dowes sal hoor. Dit is beloofde wonderwerke. Dit wys op die Messiaanse werking van die verandering. Die nadruk is dat God omvattende verandering op aarde bring. Soos die woestyn nie langer woestyn sal wees nie, maar deurgans in volle bloei van blommeprag sal wees, so sal die blindes sien en die dowes hoor. Dit wys hoe ver reikend en deurgaans omvattend die verandering is wat die Here bring. So het Jesus die profesie vervul, Luk. 7:22: En Jesus antwoord en sê vir hulle: Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig. Dit is bewys van sy Messiaskap, die bewys dat God sy Woord hou. In sy wondertekens word bewys dat Hy goddelik is, en hierdie vers leer ‘n volkome omkeer, ‘n allesomvattende verandering.
Hierdie totale verandering word nog verder uitgebrei. (6). Die lamme sal spring soos ‘n takbok, hy sal nie maar net loop nie, die tong van die stomme sal jubel, hy sal nie maar net praat nie. So lees ons Hand. 3:8: En hy het opgespring en gestaan en rondgeloop en saam met hulle in die tempel ingegaan terwyl hy rondloop en spring en God prys. Wat is die rede vir hierdie ommekeer? God vergeld sy vyande en bring nuwe lewe vir sy volk. In die wildernis waar geen water was nie, bars dit uit in strome in die Araba waar alleen droogte en dood was. Nou is daar water en lewe in die woestyn. Vreugde van God se volk, blydskap in Hom. Water in die woestyn is ‘n teken van redding. Vir die moë en dorstige reisiger oor die dor brandende woestynsand is daar niks meer verfrissend en verblydend as om water te vind nie.(7) Met God se redding kom daar reën en kom daar waterplassse en waterpoele, en ontspring daar in die dorsland fonteine, breek waters uit die grond, begin die water lek aan die woestynsand totdat daar ‘n watervloed die sand bedek en kom daar strome waar voorheen net woestyn was. Droë dorstige land word omskep in ‘n fonteinlandskap. Die beeld is nie van druppels hier en daar nie, maar van oorvloed wat nie gekeer word nie, fonteine van water. Waar jakkalse vroeer gate gegrawe het en gelê en rus het, en verwoesting aangerig het, kom water nou in hulle lêplekke, en hierdie water bring seën. Riete en biesies spring op, en groen gras, want daar is lewegewende water.
‘n Woestyn is dor en sonder water, sonder standhoudende water, want die bietjie reenwater wat mag val syfer weg in die sand. Maar ‘n woestyn is ook sonder behoorlike pad of verbinding. So Ps 107:4: Hulle het gedwaal in die woestyn, op woeste paaie; ‘n stad om in te woon het hulle nie gevind nie. Maar nou deur God se verlossing hou die woestyn op om dors te wees, maar daar sal ook ‘n hoofweg wees waaroor God se volk in veiligheid kan reis. Soos in 34:14, 15 is die klem op die woord daar. Dus in daardie plek van verlatenheid sal daar wees wat woestyne nie het nie, ‘n hoofweg. ‘n Weg wat opgebou is, verhoog is bo die grondoppervlak. Dit is geen dowwe enkel voetpaadjie nie. Dit is ‘n voorbereide pad. Dit is geen gewone pad nie, maar ‘n heilige weg. Waarop pelgrims kan opgaan en mekaar aanmoedig na die Heilige stad. Geen onreine of onheilige mag daarop gaan nie. Nie die seremonieel reines mag daarop gaan nie, maar hulle wat rein is omdat hulle leef by die wet van God, die heilige van Israel. Alleen die verlostes, God se uitverkore volk mag op hierdie pad oor die woestyn gaan. Maar nou, hoor ons van God se Woord, nie net die gemeente van Israel nie, maar almal wat deur ons Here Jesus Christus deel is van God se volk van die begin tot die einde. Die stad van heiligheid kan ek alleen bereik as God se verbondskind, ek, deel van sy volk van sy verbond. Vir hulle sal dit wees, gesamentlik en persoonlik, wie die weg bewandel, hulle wat deur God verlos is (want almal op hierdie pad is onwaardig om dit op eie houtjie te doen). Hierdie pad is so duidelik en volkome dat selfs die dwase (die sondaars) op die weg sou kon loop sonder om af te dwaal of te verdwaal. Hiermee wys Jesaja op die volkomenheid van die redding deur die voldoening aan God se geregtigheid, dit is so maklik om dit van God te ontvang, aan die anderkant geen menslike poging of vaardigheid of uitnemendheid kan bydra dat jy dit besit nie. So goed en duidelik sal die pad wees, dat jy nie hoef af te dwaal nie. Maar, indien jy die weg nie ken nie, sal jy maklik afdwaal. Die onreines sal nie daarop hou nie. Maar God laat op die weg van heiligheid sy kinders nooit verdwaal nie. Hulle bereik hulle ewige bestemming vol blydskap.
3. God koop ons los van slawerny en skenk ons ewige vreugde op sy heilige weg
Hoe baie mense in die lewe, ken nie die betekenis en sin van lewe in God nie, hulle ken nie hulle bestemming nie. Hulle weet nie waarheen hulle gaan nie. Geseënd is hulle wat die Weg ken, die grootpad na die heilige stad waar die Heilige van Israel vir ewig regeer in majesteit en heerlikheid. Joh. 14:4-7: En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle. Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken? Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.
Die woestyn was die tuiste van allerlei gevaarlike diere soos leeus wat jou kon verskeur, en reisigers het in angs en bekommernis gereis. Maar hierdie opgehewe, verhoogde pad sal jou voldoende beskerm teen hierdie bedreigings. Dit is die weg van heiligheid en daarom sal die wat daarop reis, in volkome veiligheid en vertroue op God reis. Jy sal daarom geen leed ervaar nie. God se verlostes, hulle wat verlos is sal daarop loop, en hulle alleen. Alle hindernisse word verwyder, en alleen God se verlostes, die geregtige erfgename van die beloftes van God, wat verlos is uit die hand van hulle en God se vyande. Dit verwys natuurlik na terugkeer uit toekomstige ballingskap, maar dit wys vir ons verder op geestelike bevryding, nie net in die terugkeer van die klein oorblyfsel nie, maar verder vervul in die werk van ons Here Jesus Christus. So die profesie van Joh 16:32,33: Kyk, die uur kom en het nou gekom dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie toe, en My alleen sal laat; tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader met My is. Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
Aan die einde van ons teks word die beloftes van herstel en vernuwing saamgevat. Die losgekooptes van die Here wat ver van Sion was sal nou terugkeer in blydskap en danksegging. Die Here het hulle verlos van onderdrukking en gevangenskap. Ons lees: Deut 7:8: Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met ‘n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos. 2 Sam 7:23: En wie is soos u volk, soos Israel, ‘n enige nasie op die aarde, wat God vir Hom as ‘n volk gaan verlos het, en om vir Hom ‘n naam te maak; en om groot dinge te doen vir hulle en vreeslike dinge aan u land voor u volk uit wat U verlos het vir U van Egipte, van die heidene en hulle gode?
Die losgekooptes sal teruggaan na Sion, terugkeer van ‘n land waar hulle gevange gehou is in ballingskap. “Loskoop” – losgekooptes Jes. 35:10, is ‘n ander woord as verlostes in vers 9, die losgekooptes van die Here is die vir wie die Here ‘n som betaal het. ‘n Duur prys deur Jesus Christus ons Middelaar en Saligmaker. Jesaja het die opkoms van ‘n vyand en die wegvoer van die volk geprofeteer. Verlossing van daardie vyand sal uitloop op die volk se terugkeer na die land van belofte. Maar dit is hier nie alleen ‘n profesie van terugkeer, na Palestina nie. Dit is wel grondliggend, maar die eintlike saak hier is ‘n terugkeer na God in Jesus Christus,’n geestelike terugkeer tot God op grond van sy geregtigheid in Jesus Christus. Die saak waarom dit gaan is die redding van wat vuil en onheilig is. ‘n Pad wat lei tot ewige lewe met en ewige vreugde in God. Dit is die weg van die aartsvaders, die verlossing uit Egipte, die wet van God, die profete, en die weg van Christus en die Apostels. Die Skrifte, die openbaring van God se weg in Christus, is die weg waarop God se volk moet gaan. Dit is die weg waarop ek en jy moet volhard. Die gelowiges sal jubel terwyl hulle optrek na Sion. Die ingang tot die Heilige Stad word vir hulle geopen. Hulle is nie deel van wat vuil is van sonde nie, maar hulle is deel van die losgekooptes van die Heer. Ewige vreugde sal soos ‘n kroon op hulle hoofde wees. So gaan Psalm 8:6 deur Jesus Christus se ampswerk vir ons in vervulling: U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel.
Die wyse waarop die spesifieke woorde van 35:10 mekaar volg, toon ‘n beeld van oorvloedige vreugde en blydskap wat die losgekooptes van die Here geniet. Daar is vir ons geen vreugde in onderdanigheid en gebondenheid aan sonde en dood nie. Kommer en gesug wat ons metgeselle in verdrukking was, wyk nie net effens nie maar vlug van ons weg. Hierdie metgeselle kan nie teenwoordig wees in ons lewens nie, waar vreugde en blydskap van God woon. Hierdie is ‘n pragtige ryk belofte aan die Here se volk toe, en ons vandag. Die toekoms van God se verlostes in die ewige Sion van God lê voor ons. Jesaja beweeg na die piek van die Nuwe Testament. Dit gaan om die hart van die saak: die werk van die dienskneg van die Here, die Messias om aan God reg te doen. Hy is God se geskenk van die Weg en die waarheid en die lewe aan ons. Agter al die prag en heerlikheid en blydskap vir ons is die plaasvervangende lyding en dood van ons Here Jesus Christus om ons te verlos vir die ewige lewe met God. Ons is verseël deur sy Heilige Gees om as mense van die Weg in vertroue op ons Vader in die hemel te leef na Christus toe.
Amen.
Verwelkoming
Afkondigings
Votum
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en aarde gemaak het.
Groet
Gemeente genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus. Amen
Psalm 113:1,2,3
Lees van die Wet: Deuteronomium. 5
Psalm 31:1,15,17
Gebed om vergifnis, seën van die Here op die erediens
Skriflesing: Jesaja 34, Johannes 14:1-7
Psalm 107:1,16,17
Teks: Jesaja 35
Preek
Amenlied: Psalm 9:7,10,14
Dankgebed
Kollekte opgeneem
Slotsang staande: Psalm 85:1,4
God se seën: Die Here sal u seën en u behoed, die Here sal sy aangesig oor u laat skyn en u genadig wees, die Here sal sy aangesig oor u verhef en aan u vrede gee. Sing AMEN