Inleiding
Uh, oh, die Sinai! Ons is nou in die gedeelte van die boek Exodus wat die wette gee. Baie wette! Dis nie aangenaam nie!
Dit weerspieël baie mense (ook christene) se houding teenoor die Ou Testament: ek hou nie van die OT nie! Dit gaan net oor reëls en wette. Dit beperk my vryheid. Maar ek hou van die NT, daar vind ek Jesus: hy is liefde. Hy gee bevryding!
Herken jy dit?
Dit kan nogals ’n rol speel vir jongmense: as jy jou lewe vergelyk met ander jongmense, voel dit asof hulle alles kan doen wat hulle wil. Maar jy... jy het allerhande reëls by die huis en in die kerk geleer. Dit lyk asof jy nie die dinge mag doen wat almal doen en geniet nie.
Is die christelike geloof dan eintlik nie ’n klomp reëls wat jou lewe aan bande lê?
Dit is nodig om te vra of die indruk van OT en NT reg is.
Gaan die OT oor wette wat jou vryheid beperk? Is dit ’n las wat God op jou skouers lê? En vind jy in die NT dan net vryheid en liefde, maar geen verpligting en reëls nie?
Is dit korrek, of is dit ’n vertekening wat ons moet verwerp?
Kom ons luister na Exodus 19.
Hier wag ’n verrassing vir ons: die twee dinge gaan hand in hand: bevryding lei tot die verpligting om God te dien. Maar dit bring ware vryheid.
Tema: Bevryding verplig tot diens aan God
1. Dit begin met bevryding
2. Luister! - die voorwaarde om in die verbond te leef
3. Ontdek die ware vryheid
1. Dit begin met bevryding
• Oorweldigende ontmoeting met God
Die eerste keer dat die volk God ontmoet. Dit is ’n indrukwekkende gebeurtenis. Dit is selfs angsaanjaend vir Israel. Dit klink asof hulle in die middel van ’n vulkaanuitbarsting staan, so gevaarlik en skokkend is die natuurverskynsel!. Israel ontmoet die almagtige God, die heilige God.
Maar luister na wat God vir hulle sê. Dit is nie angsaanjaend nie. Dit is vriendelike woorde.
• Magtige bevryding
Want hierdie God, wat vir Moses gestuur het, het beloof om die volk te red, en hy het dit reggekry.
Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het. [4]
Toe God vir Moses gestuur het, het hy gesê: (Exodus 3)
Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. 8Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ’n goeie en uitgestrekte land, ’n land wat oorloop van melk en heuning. (…) (Exodus 3,7-8)
Ek weet dat die Egiptiese koning julle nie sal laat gaan nie, selfs nie onder dwang nie. 20Dan sal Ek my hand uitsteek en Egipte teister met die wonderdade wat Ek in hom sal doen. Eers daarna sal die farao julle laat gaan. (vs. 19-20)
Alles wat God beloof het, het hy gedoen. Hulle het dit self gesien.
Nou is dit drie maande later en Israel het by die berg Sinai aangekom. God verwelkom hulle daar met hierdie woorde: ’ek het julle bevry.’
• Ek het julle bevry!
God het ingegryp in die geskiedenis van die Middeooste en Israel se lot verander. Hy maak ’n einde aan die uitbuiting en volkemoord waaronder Israel in Egipte gely het.
God herinner hulle aan die groot bevryding, die uittog. En daarna het hy hulle nogmaals bevry: toe die Egiptenare hulle agtervolg en vasgekeer het by die Rietsee. Israel was bang om weer in hulle hande te val. Toe het God hulle weer gered, en die weermag van Egipte uitgewis.
Wat God aan Egipte gedoen het, sal vir altyd onthou word as die groot oorwinning. Met groot magsvertoon het hy Israel uit hulle slawerny bevry. Aan die uitbuiting deur Egipte het ’n einde gekom. Israel se ondergang is afgewend. Hulle is vry! Die God van Abraham het dit gedoen.
Dit is die begin van alles.
• Op arendsvlerke gedra
Wat is die doel van die bevryding? Dit blyk uit v.4:
en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het. [4]
Na die uittog en die deurtog deur die Rietsee het God hulle gedra en na hom toe gebring.
Ons weet uit hs 16 en 17 dat Israel dadelik na hulle bevryding gemurmureer het, asof God hulle gevange geneem het en sleg behandel het! Aanvanklik was hulle bly met die bevryding, maar in die woestyn kan hulle nie raaksien dat die bevryding goed vir hulle was gewees nie. Hulle verlang selfs terug na die voorspelbaarheid en die sekuriteit van slawerny.
Maar in die verbye 3 maande in die woestyn was God goed vir hulle gewees.
Hy het hulle gedra en na hom toe gebring.
Kyk hoe teder God hulle hanteer (ondanks hulle murmurerings en opstandigheid!): die arendsvlerke is ’n simbool van Gods persoonlike aandag en sorg.
Soos ’n arend sy vlerke gebruik om sy kleintjies op te vang en te dra, so het Hy hulle in die woestyn opgevang en gedra.
Hy het self met hulle saamgegaan. In die wolk en vuurkolom was hy aanwesig en het hy hulle die pad gewys en lig verskaf (Exodus 13,21-22). En ons lees by Paulus:
hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat met hulle saamgegaan het. Die rots was Christus. (1 Korinthiërs 10:4)
Hierdie beeld van die arend haak by mense vas. Vir die liefhebbers van The Lord of the Rings boeke en flieks: arende kom aangevlieg die hobbits te red as hulle deur vyande omring word en nie kan ontsnap nie. En ook Gandalf word deur ’n arend bevry as hy gevangegeneem is. Die arende in daardie verhale is ongetwyfeld geïnspireer deur Exodus 19!
• Die doel ’n vaste verhouding
Daarmee saam sê God nog iets wat baie belangrik is: “ek het julle na My toe gebring” (ook v.4).
Hy het hulle deur die woestyn na hierdie berg gebring om hulle te ontmoet en om ’n verhouding met hulle te begin.
Die was dus nie genoeg dat hulle net vry sou wees nie. Die doel was baie groter: God maak ’n volk van hulle, en hy maak hulle sy volk.
Daarom vind na die eerste groot gebeurtenis (die uittog) nou, in hs 19 en 20, die tweede groot gebeurtenis van die boek Exodus plaas: die verbondssluiting by Sinai. Dis waar God die 10 gebooie gegee het (wat tot vandag bekend is oor die hele wêreld).
Die verbondssluiting beseël die verhouding met sy volk, maak dit meer intens, en gee dit ’n wetlike basis. Die verhouding word vasgelê en Israel kry dus meer sekerheid.[*1]
Let op, ons ontdek iets belangriks hier:
As ons met Westerse oë oor die baie wette lees en dink ‘Ag, dit beperk ons vryheid; ons hou nie daarvan nie. Reëls versmoor my!’
Maar as ons rustig en noukeurig die boek Exodus lees, ontdek ons dat God ’n vaste verhouding met hulle bou nadat hy hulle bevry het. Dinge word dus eintlik net beter vir die volk, wat onder dekades van slawerny gesug het en besig was om uitgemoor te word!
Die afsprake, reëls, wette in hierdie boek maak die verhouding met God (hulle bevryder!) vas en leer hulle wat dit beteken om vry te wees.
• So het Jesus jou en my gered!
As ons dit lees, moet ons wel raaksien dat ons in dieselfde posisie is.
Is dit nie hoe God ons gered het nie?
Elke gelowige wat vandag hier aanwesig is, kan dit sê: ‘God het my bevry!’
God sê dit selfs vir ons kinders, nog voordat hulle in hom begin glo (vanweë die verbond).
Jesus is ons redder: hy het ons uit die skuld en mag van die sonde bevry! Dit is die beginpunt vir elke gelowige.
Die uittog is ’n model vir die bevryding wat Jesus aan die kruis gebring het. Die uittog van Israel is die voorbode van die redding van mense uit alle volke.
Wanneer ons Ex 19 lees, en telkens wanneer ons Ex 20,2 hoor (elke Sondag): “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.” — moet ons dink aan ons eie bevryding van die sonde.
In die slawerny in Egipte herken ons ons slawerny onder die sonde wat lei tot die dood. Jesus bevry sondaars uit die hele wêreld as hulle in hom glo.
• Vryheid!
Daar moet ons begin. Ons moenie krities kyk na reëls en wette en dink dat ons vryheid daarmee weggeneem word nie.
Inteendeel, ons was slawe, en Jesus het ons bevry!
God los ook ons nie êrens halfpad nie, asof ons na die bevryding uit die sonde self reg kan kom en sonder hom een of ander tipe vryheid kan geniet en bewaar nie. As hy jou nie dra en na homself toe bring nie, is jy nog steeds verlore: dan val jy vinnig terug in slawerny.
Soos God Israel na hom toe gebring het, bewaar hy elke gelowige by die verlossing wat Christus bewerk het. Hy het sy verbond opgerig met elke gelowige (en hulle kinders). Hy maak ook met jou en my ’n verhouding wat hy vir ewig wil laat aangaan.
Moenie dit vergeet nie. Onthou dat Jesus jou bevry het!
Israel het besef hulle as slawe in ’n uitsiglose posisie was. Slawe in die magtige wêreldryk Egipte het nie ’n kat se kans gehad om te ontsnap nie. God het dit vir hulle gedoen.
Besef jy ook hoe hopeloos jou situasie is as jy Christus nie het nie?
Sonder hom is jy ’n slaaf van die sonde. Sondaars sien nie die gevaar van die sonde raak nie, hulle dink hulle is vry. Satan wil hulle nie laat gaan nie. En God reken die skuld aan elke sondaar toe. Dis drie redes hoekom die situasie van elke sondaar na menslike maatstawwe hopeloos is, meer nog as Israel in Egipte.
Maak seker dat jy Gods sorg raaksien en onthou, sodat jy nie begin en dink dat jy sonder Christus kan bestaan en vry kan wees nie.
2. Luister! - die voorwaarde om in die verbond te leef
Nou is ons in die regte posisie om die volgende verse te verstaan.
Israel staan by die berg Sinai. Hulle is vry. Hulle sal nooit meer slawe van die Egiptenare wees nie!
Vervolgens sê God vir hulle:
5 As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne.
6 En júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees.
Dit is die voorwaarde om in die verbond te leef:
“As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, …”
Luister na my stem. Dit beteken: gehoorsaam my! Dis hoe jy die verbond hou.
Die woord ‘as’ of ‘indien’ is duidelik ’n voorwaarde.
Dis nie die voorwaarde om hulle te red en ’n verbond met hulle te sluit nie – dit het God reeds uit genade gedoen, sonder dat hulle ook maar iets kon of moes doen. Die bevryding is volledig Gods werk. Israel en ons ontvang dit uit genade, deur te glo.
Almal wat deur God gered is en in verbond met hom leef, is onder die verpligting om God te gehoorsaam. Net deur te luister leef jy in die verbond kan jy die voorregte daarvan geniet.
God gee bevryding, hy gee die verbondsverhouding aan ons. Ons is die ontvangers, en God roep ons om te luister in die dubbele beteken van hoor en gehoorsaam.
As jy meer lees in die Ou en Nuwe Testament, ontdek jy dat gehoorsaamheid nie ’n teenoorgestelde van geloof is nie, maar ’n verdere uitleg is van geloof. Wie die bevryding in geloof ontvang het, kan net in die vryheid bly deur te luister na God. Almal wat met ’n ware geloof die bevryding aanvaar, gaan gehoorsaam Jesus volg en dien.
Ook in die NT vind ons dit terug: Jesus sê vir sy dissipels: “Bly in my! Luister na my stem. Sonder my kan julle niks doen nie.” En: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie.” (Joh14,15)
Elke dissipel van Jesus staan onder die verpligting om hom te volg en te gehoorsaam.
Onthou: ons het in eerdere preke gesien dat Israel heeltyd ongehoorsaam was en eeuelank in afgodery geleef het. Daarom het die vloek van die verbond hulle getref. Daarom is die belofte van die nuwe verbond so mooi en so noodsaaklik: dat God die gehoorsaamheid in die harte van gelowiges sal werk deur sy Heilige Gees. (Jer31,31-33 en Jer32,37-41)
• Pragtige voorregte
(as julle terdeë luister en my verbond hou), sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne.
6 En júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees.
My eiendom
In een sin het God sy eienaarskap oor die skepping bevestig (“want die hele aarde is myne”) én die besonderse plek wat sy volk in sy hart het: “julle is my persoonlike eiendom uit alle volke.”
Die spesiale verhouding met God beteken ook ’n spesiale plek in sy hart. Sy volk is kosbaar vir hom, is ’n skat wat hy mooi oppas (a treasured possession). Uit alle volke het hy Israel gekies.
God verduidelik die spesiale posisie van Israel met nog twee beelde:
koninkryk van priesters
God regeer oor hulle soos ’n koning. Die mense wat aan die koning onderworpe is, is almal priesters.
Priesters staan voor God, leef in sy aanwesigheid. Priesters is op God gerig! Hulle enigste taak is om God te vereer. Net God, geen ander nie.
’n heilige volk
Dit word versterk deur die tweede omskrywing: ’n heilige volk.
Toe God Abraham gekies het, was daar net ’n paar mense, een gesin. Vervolgens het God ook Isak en Jakob in sy verbond opgeneem. Jakob het twaalf seuns gehad, en toe hulle Egipte toe gegaan het, was hulle 70 mense.
Maar nou het hulle ‘n volk geword, so talryk is hulle! God het die volk Israel gekies en afgesonder om uit alle volke sy eie volk te wees.
Dis wat heilig wees beteken: dat God hulle afsonder om net vir hom te leef. Dit het gevolge vir hulle gedrag. God verduidelik dit in Levitikus: “Wees heilig want ek is heilig.” (Levitikus 20,7) en hy gee wette waardeur hulle anders leef. Die bedoeling is dat hulle aan God toegewy is deur dade wat verskil van wat die volke rondom hulle doen [*2].
Kyk hoe die ingrypend hulle situasie verander het: hulle was ’n groep slawe wat uitgebuit en mishandel was, totaal magteloos om te ontsnap – en nou is hulle ’n vrye volk met ’n eervolle taak. Dis ’n verskil soos nag en dag.
God maak van hulle ’n volk, ’n eenheid, en hulle gaan hulle vryheid en vervulling vind in hulle diens aan God.
Hierdie verse wys vir ons wat die bevryding van Israel oplewer en wat die doel daarvan is. Die bevryding uit die slawerny was nog net die begin. Dit het ’n duidelike doel: toegewyd aan God alleen, aanbid en dien hulle hom. Dit is ’n leerproses, wat amptelik by Sinai begin.
Hierdie 3 omskrywings (persoonlike eiendom, koninkryk van priesters, heilige nasie) wys vir ons oortuigend dat die doel van die verlossing veel meer is as politieke en ekonomiese bevryding. Die uittog was nie bedoel om ’n onafhanklike volk te skep nie. Die doel van die bevryding was Gods-diens: Gods volk leef in ’n verhouding met God, is deur hom geliefd, is in alles gerig op Hom en maak sy naam groot. Hierdie diens aan God as priesters is dan natuurlik net moontlik as die volk na God luister en sy wil gehoorsaam!
3. Ontdek die ware vryheid
God bring sy volk by die berg Sinai en gee hulle ’n eervolle taak. God het die voormalige slawe bevry met die doel om van hulle ’n volk te maak wat aan hom toegewy is.
Nou begin ons duidelikheid kry oor wat bevryding werklik is. As ons na die wêreld luister, kry ons die verkeerde idee van vryheid!
• Dit is werklikheid deur Christus
Wat Exodus 19 oor Israel sê, word vir gelowiges in die NT werklikheid in Christus.
1 Petrus 2 gebruik dieselfde woorde ‘koninkryk van priesters’ en ‘heilige volk’, en Petrus praat dan oor die kerk van Jesus!
Hy gee die kerk ’n aansporing:
Laat julle soos lewende stene opbou, tot ’n geestelike huis, ’n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. [v.5]
Hy maak ’n sterk teenstelling met mense wat aan die woord ongehoorsaam is vir wie Jesus ’n aanstoot is:
Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, [v.9]
Dit beteken dus dat ons nie rondom ons moet kyk en soos bokke ons ore draai na die wêreld, en vir hulle luister nie. Daar gaan jy nie kan leer wat ware vryheid is nie. Draai jou kop na God toe en luister na sy Seun Jesus!
Hy het ons bevry deur sy kosbare bloed, nie om onafhanklik van God, vir onsself te gaan leef nie. Dan sou ons weer in die sonde verstrik raak en weer slawe word. En dan sou ons die doel van ons lewe en van die bevryding misloop: om sy eiendom, sy geliefde volk te wees, priesters wat hom aanbid, en wat sy naam bekend maak in die wêreld.
• Ons posisie en taak
Soos God in die verlede een volk (Israel) uit alle volke uitgekies het om alle volke te seën, so het hy tans die kerk van Jesus uit alle volke uitgekies om die hele wêreld aan Jesus te onderwerp.
As ons “die deugde verkondig van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” beteken dit om die verlossing deur Jesus bekend te maak. So eer ons God, én ontvang almal wat glo, die seën van die verbond met Abraham.
• Bevrediging in jou lewe
Die mense in die wêreld leef steeds onder die slawerny van die sonde; daarom wil hulle net tenminste oorleef, of as hulle dít reggekry het, soek hulle ’n aangename en sinvolle lewe. Hulle dink vryheid beteken om hul eie begeertes te volg en hul eie planne uit te voer (selfverwerkliking).
As jy deur Jesus bevry is en deel geword het van die volk wat na hom luister, ontdek jy dat dit die vervulling van jou diepste begeerte is om vir ewig in die lig van Gods liefde te leef en met vreugde hom as ’n priester te dien.
Bevryding verplig tot diens aan God. Maar dis nie ’n las nie. Dit is ’n kosbare en blye verpligting!
Amen
[*1] “Exodus 19 explicitly makes this connection between Israel’s exodus and their being shaped by the law into a new kind of society, in covenant relationship with God: vs. 4-6.” (Freed to be God’s family: The Book of Exodus, by Mark Glanville, bls. 19.)
[*2] Gehoorsaamheid was die manier hoe Israel ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie sou word: “The Ten Commandments are God’s good gift to Israel, just delivered from bondage in Egypt. Faithfulness to these laws was the means whereby the nation would become a “kingdom of priests and a holy nation” (Exod 19: 6).” The Ten Commandments: Ethics for the Twenty-First Century by Mark Rooker, loc. 135.
Sing: Psalm 66,1.2
Gebed
Lees:
Eksodus 19 & 20: 18-21;
1 Petrus 2: 1-12
Sing: Psalm 86: 5, 8
Woordverkondiging: Eksodus 19: 4-6
Sing: Skrifberyming 25
Gebed
Geloofsbelydenis
Sing: Skrifberyming 24:2
Kollekte
Sing: Skrifberyming 24: 5, 6, 7
Seën