Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus.
Ons leef in ‘n goddelose wêreld. In die wêreld sien ons baie ongeregtigheid wat plaasvind. Oral is daar gevare. Ook in ons land is daar baie gevaar. Nie net in ons land in die algemeen nie, maar ook in ons stad, Pretoria, is daar baie gevare en goddeloosheid.
Misdaadsyfers is hoog, daagliks word mense vermoor, verkrag, word daar gesteel, gelieg en bedrieg. Ja, ook die regering is vol korrupsie en oneerlikheid.
Net in die week gaan staan my broer se kar. Hy bel my en ek gaan help hom. Ek was skaars by hom, toe stop daar 3 sekuriteit maatskappye by ons. Dit voel amper asof ons die kriminele is. Dit kom toe egter uit dat die kar wat my broer ry ‘n gewilde kar is onder kriminele. Daarom hulle vinnige reaksie. Hoe hulle geweet het van die kar wat daar staan weet ons nie, want nie een van ons het hulle laat weet nie. Maar dalk spreek dit tog ook tot ‘n mate van die mens se “vrees”, sodat enige verdagte aktiwiteit aangemeld word.
Dit opsig is nie verkeerd nie. Maar dit het my laat dink waarop ons vertrou vir ons veiligheid. Om onsself veilig te hou, het ons uitgebreide sekuriteit en alarms, honde, lemmetjies draad of elektriese heinings, ens. Die vraag is egter, stel ons ons volle vertroue daarop om ons veilig te hou? Besef ons dat ons in die hand van die Here is. Vertrou ons nog op hom vir ons liggaamlike veiligheid? Laat ons eerlik wees broers en susters, al die sekuriteit wat ons gebruik is menslik. Daar sal tye wees wat dit faal en nie jou beskerm of jou besittings beskerm nie. Nie dat dit verkeerd is om maatreëls in plek te hê vir jou veiligheid nie, maar daarin lê nie jou behoud nie.
Maar dit gaan nie net oor ons liggaamlike behoud nie, maar oor die behoud van ons siele. Waarin stel ons ons vertroue vir die behoud van ons siele? Vir ons verlossing? Is jou vertroue in menslike dinge en werke om jou te verlos, of is jou vertroue in die Here?
Tema: Wie is jou herder? Want jou herder bepaal jou weiveld.
1.Die sluimerende herder en die weiveld van sy skape.
2.Die wakende Herder en die weiveld van sy skape.
Geliefdes, Nineve is steeds onder die vergroot glas. Vir ‘n laaste keer in Nahum word daar geprofeteer oor Nineve. Hierdie keer kry ons ‘n beeld van wat aangaan in die stad. Dit is asof Nahum homself binne die stad bevind en sien wat aangaan.
Dit is nie ‘n mooi prentjie nie gemeente. Bloedstad. Die stad is vol bloed vanweë die ongeregtigheid wat plaasvind. Bedrog, geweld en rowery is aan die orde van die dag (vers 1). Ons het reeds in die vorige preke gesien dat Nineve gestraf word deur die Babiloniese ryk wat die stad vernietig. Ons sien dit weereens raak in hierdie hoofstuk. Wee die bloedstad, want die perde en ruiters is oppad, en ‘n menigte word verslaan. So baie, dat mens nie kan loop sonder om oor ‘n lyk te struikel nie. Dit is die beeld wat ons kry in verse 2 en 3.
Dit vanweë die sonde van die stad. Vanweë die veelheid van die hoererye van die hoer (vers 4). Sy verlei volke en families met haar towerkunste en hoerery. Dit lyk mooi, en met haar skoonheid verlei en betower sy die volke. En juis hieroor kom die oordeel van God oor haar.
Die manier hoe dit vir ons beskryf word is baie grafies (vers 5). As jou klere oor jou kop getrek word dan word met heeltemal ontbloot. Dit is dan wat die HERE doen. Hy ontbloot die skande van Nineve sodat alle nasies haar skande kan raak sien. Die HERE maak van Nineve ‘n rommelhoop (vers 6), en ‘n voorwerp van bespotting. Nasies dryf die spot met haar (vers 7).
In vers 8 word aan Nineve gevra of sy beter is as No-Amon. No-Amon was ‘n stad in Egipte. ‘n Sterk stad, strategies geleë, met baie politieke bande met ander volke om haar te beskerm (vers 9). Menslike sterkte. Maar wat sal dit help. Sy is weggevoer deur Nineve self. Die vraag is eintlik of Nineve beter is as No-Amon. Dit moet eintlik as waarskuwing dien vir Nineve. Ja Nineve sal toevlug soek as die vyand kom (vers 11). Maar die stad sal val en verwoes word (vers 12-17). Ondanks die mag van Nineve sal sy val, waarom? Omdat haar herders slaap!
Dié wat die volk veilig moet hou en die volk moet lei, hulle is aan die slaap. Die volk maak staat op die herders, maar hulle is nie daar nie. En daarom word die volk verstrooi op die berge, en niemand is daar om hulle te versamel nie. Niemand wat in die dreigende gevaar uitgaan om die mense veilig te hou nie.
‘n Goeie herder bring sy skape bymekaar in die kraal of onder ‘n dak as hy weet dit gaan reën, of as daar erge koue en wind oppad is. Maar nie die herders van Assur nie. Hulle slaap. En daarom is die weiveld van die hulle skape ook vernietiging en verstrooiing. Ja verbreking, sonder dat daar herstel sal wees. ‘n Ongeneeslike wond. Geen kans vir herstel nie.
Sien u die lot van die skape wie se herders slaap? Maar kom ons vra weer die vraag van die tema? Wie is JOU herder?
Op wie maak ons staat om ons te beskerm en te verlos? Maak jy op eie kragte staat om jouself te verlos, of dalk in jou goeie werke? Dalk soek ons verlossing by ander mense, rolmodelle wat ons navolg, omdat ons dink dat hulle gered is, en as ons hulle navolg dan sal ons ook gered word? Sit ons ons vertroue dalk in allerlei aardse dinge om ons te red?
Maar ons kan nog verder gaan broers en susters deur te vra wie volg jy nie? Volg ons nog ons eie sondige natuur na, of die sondes van hierdie wêreld. Word ons gelei deur die begeerlikheid van die vlees, sodat ons aan sy begeertes voldoen? Dalk volg jy jou maag, en spandeer jy tyd om verlore te raak in die bevrediging wat voedsel gee.
Die veelheid van die hoerery van die hoer is groot, gemeente. Die wêreld is ‘n meesteres in towerkunste om ons te betower sodat ons daaronder verkoop word. Maar wat is die lot van die wat hierdie dinge navolg?
Dit sien ons reeds raak in Nahum. Daar sal verwoesting en verbreking wees sonder herstel. Maar die lot van die wat die sluimerende herder navolg word nog verder beskryf in Openbaring 18. Die wat gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, hulle sal die grimmigheid en toorn van God drink uit daardie beker, ja hulle dubbel die hoeveelheid drink (Open. 18:6). Hulle sal gepynig word, daar sal plae oor hulle kom: dood, droefheid, en honger, en met vuur sal sy verbrand word. (v7-8). Ja gemeente, die lot van hulle wat ‘n sluimerende herder volg, sal wees in die poel wat brand met vuur en swawel. Dit sal hulle deel wees tot in ewigheid.
Is ons herder sluimerend? Is ons oppad na ‘n ewige doodslaap? Nee, deur die geloof mag ons weet ons herder is nie sluimerend nie. Ons herder leef! Hy waak oor sy kudde.
Dit bring ons dus by die tweede punt.
Die wakende Herder en die weiveld van sy skape.
Teenoor die sluimerende herders van Assirië, staan daar ‘n wakende herder, een wat nie sluimer of slaap nie. Hy is die Bewaarder van Israel. Die HERE is jou bewaarder, hy is die skaduwee aan jou regterhand. So lees ons in Psalm 121. Ja, die Bewaarder van Israel bewaar sy volk, sy kudde teen elke onheil wat daar is. Maar meer nog, Hy bewaar die siele van sy kudde.
Gemeente, die Herder van Israel waak oor sy volk. Ons het dit reeds gesien in die vorige preke. Die HERE verlos sy volk en verwoes die vyand. Sy volk sal nie ten gronde gaan nie. Dit kan nie, omdat die Verlosser uit daardie volk gebore moes word. Die HERE doen sy beloftes gestand, en daarom waak hy ook oor sy kudde.
Die HERE is ‘n wakende herder. Hy is ‘n Herder vir sy kudde. En daarvan skryf Dawid ook in Psalm 23. Die HERE is my herder. En as die HERE die herder is van Dawid, hoe lyk die lot van sy skaap, van sy kudde?
Juis dit word aan ons beskryf. Niks sal my ontbreek nie. Niks nie. Die Herder van Israel sorg vir alles. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei hy my heen. Die weiveld van die gelowige is groen. Daar is genoeg voeding om van te leef. Sy honger en dors word gestil omdat daar water van rus is (vers 2).
Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil. Dawid se siel gevoed. Die Here lei hom in wat reg is. En dit alles om die eer van die HERE se naam. Want dit is waaroor dit gaan. Om God te prys, sodat sy Naam geloof mag word.
Selfs al gaan Dawid deur tye van diep angs en nood, dat self die dood blyk naby te wees, dan nog berus Dawid in die HERE, sy Herder. Die vyand val hom aan, hulle wil hom dood maak, maar die HERE lei en vertroos hom. Maar dit eindig nie daar nie, nee daar is verlossing en verheerliking. Ondanks die aanslae van die vyand, word Dawid verhoog. Die tafel word vir hom voorberei voor die aangesig van sy teëstanders. Daar is oorvloed vir Dawid. En hy sal woon in die huis van die HERE tot in lengte van dae.
Vir Dawid was die HERE sy Herder. ‘n Herder wat sorg en wat sy skape beskerm en bewaar en vir hulle sorg. Die weiveld van die skape wat die goeie Herder volg, is goed en mooi. Daar is oorvloed en rus.
Die beeld van herder en skape kom op verskeie ander plekke na vore gemeente. Jesaja praat ook van die HERE wat sy kudde sal laat wei soos ‘n Herder, Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal hy saggies lei (Jesaja 40:11).
Ook in 1 Petrus 2:25 lees ons: Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Opsiener van julle siele.
Gemeente, as Dawid skryf: die HERE is my Herder, dan praat hy van Jahweh, die God van die verbond. Maar as ons na die NT kyk, dan sien ons in Johannes 10 dat Jesus homself die Goeie Herder noem. Christus is die goeie herder. Hy is die Herder van sy kudde. En dit is dan wonderlik om te sien wat Christus vir sy skape doen.
Teenoor die sluimerende herders van die wêreld, staan Christus, die goeie Herder van sy kudde. Hy lê sy lewe af vir die skape (Johannes 10:11). Die huurling vlug weg as die gevaar kom, en laat die skape aan hulle eie lot oor. Hy gee nie om vir die skape nie, omdat dit nie sy eie skape is nie. Maar daarteenoor staan Christus. Hy ken sy skape. Hy ken elkeen van hulle. En daarom lê hy sy lewe af vir sy skape. Hulle behoort aan Hom, en daarom sal hy nie toelaat dat die wolf een van sy skape vang en verskeur nie.
Christus het sy lewe afgelê vir sy skape. Hy het aan die kruis gesterf vir sy skape. Hy het nie soos ‘n huurling gevlug nie, maar hy het die lydings pad gestap vir sy skape.
Broer, suster, wie is jou herder? As die antwoord Christus is, dan is die volgende vraag: volg jy jou herder? Luister jy na sy stem? (Johannes 10:16). Want as jy Christus as jou herder het, dan sal jy sy stem herken en na sy stem luister. Ken u Christus? Luister dan ook na sy stem. Luister na sy Woord, want dit is hoe hy tot ons spreek. Salig is die wat sy gebooie doen. So skryf Johannes in Openbaring 22:14.
Slegs deur Christus is daar toegang tot Sy weiveld. Of soos Christus dit stel in Johannes 10:9, Ek is die deur, as iemand deur my ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.
Maar hoe lyk hierdie weiveld? As ons terug gaan na Psalm 23, dan sien ons dat Dawid van die weiveld praat, en dat hy niks ontbreek nie. Ons kan egter vra, is dit nie te ver gegaan nie? Daar is dan soms so baie nood en bekommernisse in ons lewe. Daar is finansiële tekorte sodat ons nie in al ons behoeftes kan voorsien nie. Ons gaan soms deur ‘n dal van doodskaduwees, hoe kan ons dan se ons ontbreek niks nie?
Broers en suster, omdat God met ons is. Dit is al wat nodig is. God is met ons. Ook in die NT sien ons God met ons. Sy geliefde Seun, Jesus Christus, Immanuel. Hy is met ons. Hy het sy lewe vir ons afgelê, en daarom is ons nou sy eiendom. Ons mag aan Jesus Christus behoort, in liggaam en in siel. Daarin lê ons enigste troos. En juis daarom, kan ons bely dat ons niks ontbreek nie, ook al gaan dit soms swaar. Die wat Christus het, het alles wat in hierdie lewe en in die ewige lewe nodig is.
Dan mag ons uitsien na die weiveld wat vir ons toeberei is. ‘n Weiveld van verlossing en ewige lewe. ‘n Nuwe Jerusalem en die heerlikheid daarvan. Ons lees daarvan in Openbaring 21. Dit het die heerlikheid van God, wat self die lig is van die stad, en die wat gered word sal daarin wandel. Dit sal ‘n heilige stad wees, sonder dood, sonder droefheid, sonder moeite. Alles sal nuut wees. En in daardie weiveld sal daar ‘n fontein wees, en daaruit sal voortkom die water van die lewe (Open. 21:2-6). Dit is die weiveld van die wat Christus as Herder het en hom navolg.
Geliefdes, Nahum eindig sy profesie met ‘n vraag. Daar is slegs twee boeke van die hele Bybel wat met ‘n vraag eindig, Jona en Nahum. Altwee boeke is omtrent die selfde lengte, altwee word gevind in die OT, deel van Klein profete, en die mees opmerklike, altwee gaan oor die lot van Nineve.
Jona eindig met die volgende woorde: Maar ek mag Nineve, die groot stad, nie spaar nie waarin meer as honder-en-twintigduisend mense is wat die onderskeid tussen hulle regter-en hulle linkerhand nie weet nie, en baie vee? Hierdie vraag spreek van God se genade en barmhartigheid oor die wat hulle bekeer. God is lankmoedig en genadig.
Nahum eindig met die volgende woorde: Daar is geen herstel vir jou verbreking nie; jou wond is ongeneeslik; almal wat die tyding omtrent jou verneem, slaan hulle hande saam oor jou; want oor wie het jou boosheid nie voortdurend heengegaan nie? God was genadig en lankmoedig oor Nineve, maar dit kom ook tot ‘n einde. Die hardnekkige en goddelose stad het keer hulle rug op God. Hulle boosheid was groot en het voortdurend oor ander gegaan. Die vraag bevestig God se regverdigheid wat oor Nineve gaan kom. Hulle boosheid het oor baie volke gegaan, en daarom sal die Here hulle oordeel.
Sien u die twee uitkomste gemeente: die wat bekeer, en die Goeie herder navolg, hulle ontvang genade van God. Hulle ontvang verlossing, en uiteindelik ontvang hulle die ewige lewe. Maar die wat nie bekeer nie, wie ‘n ander herder navolg, oor hulle kom die oordeel van God. Sy lankmoedigheid eindig op ‘n dag en dan word hulle geoordeel, sonder dat daar herstel sal wees.
Broeders en suster, ons Herder is Jesus Christus. Ons mag aan hom behoort, ons mag deel wees van sy kudde. Laat ons daarom ook ag gee op die woord van Christus.
Broeders ouderlinge, hou as herders toesig oor die kudde van God. Nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde (1 Petrus 5:2,3). Wees waaksaam, en moet nie sluimer nie, sodat die kudde nie verstrooi raak op die berge nie en hulle omkom in die dag van besoeking nie.
Aan die kudde: luister na die herders van die gemeente, omdat hulle deur God aan julle gegee is. Hulle hou toesig oor julle siele. Onderwerp julle aan hulle opsig en tug soos wat julle beloof het by julle belydenis.
Maar bo alles, laat ons ons onderwerp aan Christus, ons Opperherder, soos gehoorsame kinders van God. Laat ons alles van Hom verwag, en volkome om Hom vertrou, vir alles wat ons nodig het, na liggaam en siel, sodat ons saam met Dawid kan bely: die HERE is my Herder, niks sal my ontbreek nie. Dan sal ons kan ingaan na die weiveld van die ewige lewe.
Amen.
Votum en Seëngroet
Sing: Psalm 100:1-4
Wet
Psalm 38: 1, 15.
Gebed
Skriflesing:
Nahum 3
PSALM 23
Sing: Psalm 80:1,5
Teks: Nahum 3: 18
Woord verkondiging
Psalm 23:1-3. (2de Beryming)
Gebed
Kollekte
Psalm 121:1-4
Seën